LUKAS 9

Jesus stuur sy apostels uit

1 Eendag het Jesus sy twaalf apostels bymekaargeroep en hulle mag en gesag oor duiwels gegee asook om alle siektes te genees.

2 Toe het Hy hulle uitgestuur om almal te gaan vertel van die koningsheerskappy van God, en om siekes te genees.

3 “Moenie eers ’n kierie saamvat nie,” het Hy gesê, “of ’n reissak of kos of geld nie; nie eers bo-klere nie.

4 Wanneer julle in ’n dorp kom, bly dan in die eerste die beste huis.

5 As die mense van die dorp by julle aankoms nie julle boodskap aanvaar nie, skud dan die stof van julle voete af by julle vertrek. Dit is ’n teken dat julle daardie dorp aan sy eie lot oorlaat.”

6 So het hulle dan na die dorpies vertrek, die Goeie Nuus verkondig en die siekes gesond gemaak.

Jesus se wonders veroorsaak

onsekerheid by Herodes

7 Toe Herodes Antipas hoor van Jesus se wonders, was hy bekommerd en in die war, want sommige mense het gesê: “Johannes die Doper het uit die dood opgestaan.”

8 Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

9 “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry.

Jesus gee kos vir meer as

vyfduisend mense

10 Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida.

11 Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak.

12 Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.”

13 Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.”

“Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?”

14 Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar.

“Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord.

15 Toe het al die mense gaan sit.

16 Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee.

17 Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel.

Petrus bely dat Jesus die

Messias is

18 Eendag ná Jesus alleen in gebed was, het Hy na sy dissipels gekom en gevra: “Wie sê die mense is Ek?”

19 “Wel,” het hulle geantwoord, “sommige sê Johannes die Doper, sommige sê Elia, en ander sê U is een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

20 Toe vra Hy vir hulle: “Wie, sê julle, is Ek?”

Petrus het geantwoord: “U is die Messias wat deur God gestuur is!”

21 Jesus het hulle gewaarsku om dit vir niemand te vertel nie.

22 “Want Ek, die Seun van die Mens, moet baie dinge ly,” het Hy gesê. “Ek sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Ek sal doodgemaak word, maar drie dae later sal Ek uit die dood opgewek word.”

Om Jesus te volg

23 Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie-ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg.

24 As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar.

25 Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen?

26 As iemand skaam is vir My of my boodskap, sal Ek, die Seun van die Mens, My vir hom skaam wanneer Ek terugkeer in my heerlikheid, en die heerlikheid van my Vader en die heilige engele.

27 En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”

Die verheerliking van die Seun

van God

28 Omtrent agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n berg toe saamgeneem om te gaan bid.

29 En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword.

30 Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat.

31 Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf.

32 Petrus en die ander was baie vaak en het aan die slaap geraak. Hulle het wakker geskrik en Jesus se hemelse glans gesien en die twee mans wat by Hom staan.

33 Terwyl Moses en Elia aanstaltes begin maak om te vertrek, sê Petrus, sonder om te besef wat hy sê: “Here, dis wonderlik! Ons sal drie hutte bou – een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

34 Maar terwyl hy nog praat, kom daar ’n wolk en omvou hulle, en vrees het hulle beetgepak toe Moses en Elia in die wolk ingaan.

35 ’n Stem kom toe uit die wolk en sê: “Dit is my Seun, my Uitverkore Een. Luister na Hom.”

36 Toe die stem weggesterf het, was Jesus alleen daar. Hulle het vir niemand vertel wat hulle gesien het voor lank daarna nie.

Jesus maak ’n duiwelbesete

seun gesond

37 Die volgende dag, nadat hulle van die berg afgekom het, het ’n groot skare mense Jesus tegemoetgegaan.

38 ’n Man uit die skare het na Hom geroep: “Leermeester, kyk asseblief na my seun, hy is my enigste kind.

39 ’n Onrein gees hou aan om hom te pak en dan skree hy skielik. Dit laat hom stuiptrekkings en skuim om die mond kry. Die gees verniel en beseer hom altyd. Dit laat hom omtrent nooit los nie.

40 Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”

41 “Julle ontaarde en ongelowige mense!” het Jesus gesê. “Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring hom hier.”

42 Terwyl die seun vorentoe kom, het die gees hom platgeslaan en hom hewige stuiptrekkings laat kry. Maar Jesus het die onrein gees bestraf en die seun gesond gemaak. Toe het Hy hom aan sy pa teruggegee.

43 Die mense was verslae toe hulle hierdie wonderbaarlike uiting van God se krag sien.

Jesus praat oor die komende

verraad

Terwyl almal verbaas was oor al die wonderlike dinge wat Hy doen, het Jesus vir sy dissipels gesê:

44 “Luister na My en onthou wat Ek sê. Ek, die Seun van die Mens, gaan uitgelewer word aan die mag van mense.”

45 Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie. Die belang van wat Hy gesê het, was vir hulle verborge. Daarom het hulle nie begryp nie en was huiwerig om Hom daaroor uit te vra.

Die belangrikste in die

koninkryk van God

46 Toe het daar ’n argument onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste sou wees.

47 Maar Jesus het hulle gedagtes geken. Daarom het Hy ’n klein kindjie langs Hom laat staan.

48 Toe sê Hy vir hulle: “Enigiemand wat ’n klein kindjie soos hierdie namens My ontvang, ontvang My, en enigiemand wat My ontvang, ontvang my Vader wat My gestuur het. Wie die geringste onder julle is, hy is die belangrikste.”

Wie vír en wie téén die dissipels

is

49 Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf. Ons wou hom keer omdat hy nie deel van ons groep is nie.”

50 Maar Jesus het geantwoord: “Los hom. Enigiemand wat nie teen julle is nie, is vir julle.”

Die Samaritane wil niks met

Jesus te doen hê nie

51 Toe die tyd naderkom vir Jesus se terugkeer hemel toe, het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin.

52 Hy het boodskappers vooruit gestuur na ’n Samaritaanse dorpie om vir sy koms gereed te maak.

53 Maar die mense van die dorpie wou niks met Jesus te doen hê nie omdat Hy van plan was om Jerusalem toe te gaan.

54 Toe Jakobus en Johannes dit hoor, het hulle vir Jesus gesê: “Here, moet ons vuur uit die hemel laat kom om hulle te verbrand?”

55 Maar Jesus het omgedraai en hulle tereggewys.

56 Hulle het toe na ’n ander dorpie toe gegaan.

Navolging van Jesus is nie

goedkoop nie

57 Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal U volg, maak nie saak waar U gaan nie.”

58 Maar Jesus het geantwoord: “Jakkalse het gate om in te bly, en voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het nie eers ’n plek om my kop neer te lê nie.”

59 Hy het vir ’n ander persoon gesê: “Kom, wees my dissipel.”

Die man het ingestem, maar gesê: “Here, laat ek net eers huis toe gaan en my pa begrawe.”

60 Jesus het geantwoord: “Laat dié wat geestelik dood is, omsien na hulle eie dooies. Jou plig is om die begin van die koningsheerskappy van God te gaan verkondig.”

61 ’n Ander een het gesê: “Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.”

62 Maar Jesus het vir hom gesê: “Enigiemand wat die hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

LUKAS 10

Jesus stuur twee en sewentig

ander dissipels uit

1 Die Here het nou 72 ander dissipels gekies en hulle in pare vooruit gestuur na al die dorpe en plekkies wat Hy wou besoek.

2 Dít was sy instruksies aan hulle: “Die oes is só groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur.

3 Gaan nou, en onthou dat Ek julle soos lammers tussen wolwe instuur.

4 Moenie enige geld saamvat nie, of ’n reissak of selfs ’n ekstra paar sandale nie. En moenie enigiemand langs die pad groet nie.

5 “Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit.

6 As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom.

7 Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon.

8 “As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word.

9 Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’

10 Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê:

11 ‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’

12 Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp.

13 “Ellende wag vir julle, Gorasin en Betsaida! Want as die wonders wat Ek in julle gedoen het in die bose Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle inwoners lankal in sakke geklee gewees het, met as op hulle koppe as teken van hulle berou. En hulle sou tot inkeer gekom het.

14 Ja, Tirus en Sidon sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as julle.

15 En julle, mense van Kapernaum,

sal julle tot die hemel verhoog

word?

Nee, julle sal afdaal

tot in die doderyk.”

16 Toe sê Hy vir die dissipels: “Enigeen wat julle boodskap ontvang, ontvang My ook. En enigeen wat julle verwerp, verwerp My. En enigeen wat My verwerp, verwerp God wat My gestuur het.”

17 Toe die 72 dissipels terugkom, het hulle met vreugde gesê: “Here, selfs die duiwels gehoorsaam ons wanneer ons u Naam gebruik!”

18 “Ja,” het Hy hulle vertel. “Ek het Satan uit die hemel sien val soos ’n weerligstraal!

19 En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand, en julle kan oor slange en skerpioene loop en hulle vermorsel. Niks sal julle beseer nie.

20 Maar moenie bly wees net omdat bose geeste julle gehoorsaam nie; wees bly omdat julle name opgeteken is as burgers van die hemel.”

Jesus se dissipels is hoogs

bevoorregte mense

21 Toe is Jesus vervul met die blydskap van die Heilige Gees en het gesê: “O Vader, Here van hemel en aarde, dankie dat U die waarheid verberg het vir dié wat in hulle eie oë so wys en slim is, en dit aan die kindertjies bekendgemaak het. Ja, Vader, dit het U behaag om dit só te doen.

22 “My Vader het My gesag oor alles gegee. Niemand ken werklik die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken werklik die Vader nie, behalwe die Seun en hulle aan wie die Seun Hom wil openbaar.”

23 Toe hulle alleen was, het Hy na die dissipels gedraai en gesê: “Hoe bevoorreg is julle om te sien wat julle sien!

24 Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar hulle kon nie.”

’n Samaritaan word die

voorbeeld van naasteliefde

25 Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”

26 Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?”

27 Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’”

28 “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!”

29 Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?”

30 En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort.

31 “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan.

32 “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan.

33 “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry.

34 Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.

35 Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’

36 “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.

37 Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.”

Maria se prioriteite reg

38 Toe Jesus en sy dissipels hulle reis na Jerusalem voortsit, het hulle in ’n dorpie gekom waar ’n vrou, Marta, hulle in haar huis verwelkom het.

39 Haar suster, Maria, het aan die Here se voete gesit en luister na wat Hy hulle leer.

40 Maar Marta was bekommerd oor die groot ete wat sy besig was om voor te berei. Sy kom toe na Jesus en sê: “Here, lyk dit darem nie vir U onregverdig dat my suster net hier sit terwyl ek al die werk doen nie? Sê sy moet my kom help.”

41 Maar die Here het geantwoord: “Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge!

42 Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”

LUKAS 11

Jesus se riglyne vir gebed

1 Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.”

2 Hy het geantwoord: “Dit is hoe julle moet bid:

‘Vader, laat u Naam geheilig word.

Laat u koningsheerskappy

begin.

3 Gee ons die porsie brood

wat ons vir elke dag nodig het.

4 En vergewe ons ons sondes,

net soos ons dié

wat teen ons gesondig het,

vergewe.

En bring ons nie

in die versoeking nie.’”

5 Toe, om hulle meer van gebed te leer, het Hy hierdie voorbeeld gebruik: “Gestel jy gaan in die middel van die nag na ’n vriend se huis om drie brode te leen en jy sê vir hom:

6 ‘’n Vriend van my het pas aangekom vir ’n besoek, en ek het niks vir hom om te eet nie,’

7 en hy sou uit sy slaapkamer antwoord: ‘Moet my nie pla nie. Die deur is gesluit vir die nag, en ons is almal in die bed. Ek kan jou nie nou help nie.’

8 Nee, Ek sê vir julle, al sou hy dit nie as vriend doen nie, as jy net lank genoeg aanhou klop, sal hy vanweë jou onbeskaamdheid opstaan en vir jou gee wat jy nodig het.

9 “En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word.

10 Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop.

11 “Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang?

12 Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie!

13 As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Satan teenoor die Een wat

sterker is

14 Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom,

15 maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan, die prins van bose geeste!”

16 Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom.

17 Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem.

18 Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan?

19 En as Ek deur die prins van bose geeste mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het.

20 Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom.

21 Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig –

22 totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel.

23 “Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”

’n Onrein gees keer terug

24 “Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’

25 Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon.

26 Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.”

Wie werklik geseënd is

27 Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!”

28 Hy het geantwoord: “Maar nog meer geseënd is almal wat die woord van God hoor en dit uitleef.”

Die teken van Jona

29 Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ’n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.

30 Wat met hom gebeur het, was ’n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ’n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het.

31 “Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister.

32 Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.”

Jou oog is die lamp vir jou

liggaam

33 “Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom.

34 Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis.

35 Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie.

36 As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”

Jesus striem die Joodse

godsdiensleiers

37 Toe Jesus klaar gepraat het, het een van die Fariseërs Hom na sy huis genooi vir ’n ete. Hy het dus ingegaan en sy plek aan tafel ingeneem.

38 Sy gasheer was verbaas om te sien dat Hy plaasneem sonder om eers die seremoniële reiniging volgens Joodse gebruik na te kom.

39 Toe het die Here vir hom gesê: “Julle, Fariseërs, is so versigtig om die buitekant van die koppie en bord skoon te maak, maar binne-in is julle nog smerig – vol inhaligheid en gemeenheid!

40 Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie?

41 Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees.

42 “Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat.

43 “Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop!

44 Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”

45 “Leermeester,” sê ’n wetskenner, “U beledig óns ook met wat U nou gesê het.”

46 “Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ’n vinger om die las te verlig nie.

47 “Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het.

48 So bevestig julle dat julle die dade van julle voorouers goedkeur. Húlle het immers die profete doodgemaak, maar júlle bou hulle grafte op.

49 “Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’

50 “En julle van hierdie geslag sal verantwoordelik gehou word vir al God se profete van die skepping van die wêreld af –

51 van die moord van Abel af tot die moord van Sagaria wat tussen die altaar en die heiligdom vermoor is. Ja, dit sal sekerlik teen julle gehou word.

52 “Ellende wag vir julle, wetskenners! Want julle verberg die sleutel tot kennis vir die mense. Julle gaan self nie die koninkryk binne nie, en julle verhinder ander om in te gaan.”

53 Toe Jesus uit die huis uitgaan, het die wetskenners en Fariseërs baie vyandig begin raak en Hom met vrae bestook oor ’n klomp goed

54 in ’n poging om Hom te betrap op iets wat Hy verkeerd sê.

LUKAS 12

Waarskuwing teen die invloed

van die Fariseërs

1 Intussen het die skares aangegroei tot duisende wat rondgemaal en mekaar vertrap het.

Jesus het Hom eerstens tot sy dissipels gerig en hulle gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid.

2 Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word.

3 Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!”

Wie eintlik gevrees moet word

4 “Ek sê vir julle, my vriende, moenie bang wees vir dié wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net die liggaam doodmaak; hulle kan niks meer aan julle doen nie.

5 Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.

6 “Wat kos vyf mossies? ’n Paar sent? Tog vergeet God nie één van hulle nie.

7 Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.”

Erken die Seun van die Mens

openlik

8 “En Ek verseker julle hiervan: As enigiemand My openlik hier op aarde erken, sal Ek, die Seun van die Mens, daardie persoon openlik voor God se engele erken.

9 Maar as enigiemand My hier op aarde verloën, sal Ek dié persoon voor God se engele verloën.

10 Nietemin sal dié wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê, vergewe word, maar enigeen wat teen die Heilige Gees laster, sal nooit vergewe word nie.

11 “En wanneer julle in die sinagoges en voor heersers en owerhede verhoor word, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie,

12 want die Heilige Gees sal julle leer wat nodig is om te sê terwyl julle daar staan.”

Ware lewe word nie gemeet aan

besittings nie

13 Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.”

14 Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?”

15 Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.”

16 Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het.

17 Hy het toe by homself gewonder: ‘Wat moet ek doen? Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.’

18 Hy het toe gesê: ‘Ek weet! Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg.

19 En ek sal terugsit en vir myself sê: Jou gelukkige kêrel! Jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê. Ontspan nou! Eet, drink en wees vrolik!’

20 “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’

21 “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.”

Orden jou lewe volgens God se

prioriteite

22 Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie.

23 Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere.

24 Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls!

25 Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie!

26 En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge?

27 “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie.

28 As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof!

29 “En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie. Moenie bekommerd wees nie.

30 Hierdie dinge domineer die gedagtes van die nasies van hierdie wêreld. Maar julle Vader ken alreeds julle behoeftes.

31 Beywer julle allereers vir sy koningsheerskappy en Hy sal vir julle hierdie dinge nog daarby gee.

32 “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee.

33 “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie.

34 “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.”

Die Seun van die Mens kan

enige tyd kom

35 “Wees geklee vir diens en goed voorberei,

36 asof julle wag vir julle meester om terug te kom van die bruilofsfees af. Dan sal julle gereed wees om die deur oop te maak sodra hy kom en klop.

37 Hy sal hulle wat gereed is en vir sy terugkoms sit en wag baie spesiaal behandel. Ek verseker julle, hy self sal hulle laat aansit, ’n voorskoot aantrek en hulle bedien terwyl hulle sit en eet!

38 Hy kan in die middel van die nag kom of net voor dagbreek. Maar wanneer hy ook al kom, hy sal sy dienaars wat gereed is baie spesiaal behandel.

39 “Weet dit: ’n Huiseienaar wat geweet het presies hoe laat ’n inbreker sou kom, sou nie toelaat dat by die huis ingebreek word nie.

40 Julle moet altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die Mens, sal kom wanneer dit die minste verwag word.”

41 Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?”

42 En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed.

43 As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees.

44 Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit.

45 Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank –

46 wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues.

47 Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie.

48 “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.”

Jesus se koms bring ook stryd

en verdeeldheid

49 “Ek het gekom om vuur op die aarde te bring en Ek wens dat my taak al afgehandel was!

50 Daar lê ’n vreeslike doop vir My voor, en Ek is onder ’n swaar las totdat dit volvoer is.

51 Dink julle Ek het gekom om vrede op aarde te bring? Nee, Ek het gekom om stryd en verdeeldheid te bring!

52 Van nou af sal gesinne oor My verdeeld wees, drie teen twee, en twee teen drie.

53 Daar sal verdeeldheid wees

tussen pa en seun,

en seun en pa;

tussen ma en dogter,

en dogter en ma;

tussen skoonma en skoondogter,

en skoondogter en skoonma.”

54 Toe het Jesus na die skare gedraai en gesê: “Wanneer julle wolke sien saampak in die weste, sê julle: ‘Hier kom ’n reënbui.’ En julle is reg.

55 Wanneer die suidewind waai, sê julle: ‘Vandag sal skroeiwarm wees.’ En dit is so.

56 Julle skynheiliges! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te vertolk, maar julle kan nie die huidige tyd vertolk nie.

57 “Hoekom kan julle nie self besluit wat is reg nie?

58 As julle saam met julle teenparty op pad hof toe is, doen moeite om ’n ooreenkoms te bereik voordat julle saak voor die regter kom, of julle kan gevonnis word en aan die polisie oorhandig word en in die tronk gestop word.

59 En as dit gebeur, sal julle nie vrykom voordat julle die laaste sent betaal het nie.”

LUKAS 13

Kom tot inkeer of dra die

gevolge

1 Omtrent hierdie tyd is Jesus meegedeel dat Pilatus ’n aantal mense van Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het by die tempel in Jerusalem.

2 “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het?

3 Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom.

4 En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem?

5 Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.”

Die onvrugbare vyeboom kry ’n

laaste kans

6 Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ’n vyeboom in sy tuin geplant en telkens gekom om te kyk of daar al vye aan was, maar hy was altyd teleurgesteld.

7 Uiteindelik het hy vir sy tuinier gesê: ‘Kyk, ek kom soek nou al drie jaar lank vrugte aan hierdie boom en kry niks nie. Haal hom uit! Hoekom moet hy die grond nog langer uitput?’

8 “Die tuinier het geantwoord: ‘Meneer, gee hom nog een kans. Los hom nog ’n jaar, en ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting.

9 As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’”

’n Kromgetrekte vrou kan weer

regop staan

10 Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het,

11 het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie.

12 Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!”

13 Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie!

14 Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het. “Daar is ses dae van die week om te werk,” het hy vir die skare gesê. “Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.”

15 Maar die Here antwoord hom: “Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie?

16 Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?”

17 Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.

Die kleinste saadjie is tot groot

dinge in staat

18 Toe het Jesus gesê: “Hoe lyk die koningsheerskappy van God? Hoe kan Ek dit illustreer?

19 “Dit is soos ’n klein mosterdsaadjie wat in ’n tuin geplant is; dit groei en word ’n boom, en die voëls kom en vind skuiling in sy takke.”

’n Bietjie suurdeeg kan baie

meel insuur

20 Hy het ook gevra: “Soos wat is die koningsheerskappy van God nog?

21 Dis soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik om brood te bak. Alhoewel sy ’n groot klomp meel gebruik, het die suurdeeg elke deel van die deeg deurtrek.”

Die deur na die koninkryk is

smal

22 Jesus het deur die dorpe en kleiner plekkies beweeg en terselfdertyd mense geleer terwyl Hy steeds na Jerusalem reis.

23 Iemand het Hom gevra: “Here, sal net ’n paar mense verlos word?”

Hy het geantwoord:

24 “Die deur na die koninkryk van God is nou. Werk hard om in te gaan, want baie sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.

25 Wanneer die eienaar die deur gesluit het, sal julle buite staan en aan die deur klop en smeek: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’

26 Julle sal sê: ‘Maar ons het dan saam met U geëet en gedrink, en U het in ons strate onderrig.’

27 En Hy sal antwoord: ‘Ek sê vir julle, Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg, julle almal wat kwaad doen.’

28 “En daar sal groot gehuil en gekners van tande wees, want julle sal vir Abraham, Isak, Jakob en al die profete in die koninkryk van God sien, maar julle sal uitgegooi word.

29 Dan sal mense van oral oor die wêreld kom om hulle feesplekke in te neem in die koninkryk van God.

30 En onthou: party wat nou verag word, sal dan grootliks vereer word; en party wat nou grootliks vereer word, sal dan verag word.”

Jesus treur oor sy geliefde

Jerusalem

31 ’n Paar minute later het sommige Fariseërs vir Hom gesê: “Gee pad hier as jy wil lewe, want Herodes Antipas wil jou doodmaak!”

32 Jesus het geantwoord: “Gaan sê vir daardie jakkals dat Ek sal aanhou om vandag en môre duiwels uit te dryf en genesingswonders te doen, en op die derde dag sal Ek my doel bereik.

33 Ja, vandag, môre, en die volgende dag moet Ek voortgaan op my reis. Want dit sal ondenkbaar wees dat ’n profeet van God op ’n ander plek as in Jerusalem doodgemaak word!

34 “O Jerusalem, Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm, maar julle wou My nie toelaat nie.

35 En kyk, nou word julle huis vir julle leeg agtergelaat. En julle sal My nie weer sien nie totdat julle sal sê: ‘Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here!’”

LUKAS 14

Wat doen jy as jou seun of bees

in ’n put val?

1 Een Sabbatdag het Jesus vir ’n ete-uitnodiging by die huis van ’n leier van die Fariseërs aangekom. Die mense het Hom fyn dopgehou,

2 want daar was ’n man wie se arms en bene geswel was.

3 Jesus vra toe die Fariseërs en wetskenners: “Wel, is dit volgens wet toelaatbaar om mense op die Sabbatdag gesond te maak, of nie?”

4 Toe hulle stilbly, het Jesus die siek man aangeraak, hom genees en huis toe gestuur.

5 Toe het Hy na hulle gedraai en gevra: “Wie van julle werk nie op die Sabbat nie? As jou seun of bees in ’n put val, sal jy hom nie dadelik daar uithaal nie?”

6 Weer kon hulle geen antwoord hierop gee nie.

Hoogmoedigheid pas nie in by

Jesus se vereistes nie

7 Toe Jesus sien dat almal wat na die ete genooi was, naby die kop van die tafel probeer sit, het Hy hulle hierdie raad gegee:

8 “As julle na ’n bruilof genooi word, moenie altyd die beste plek uitsoek nie. Wat as daar iemand belangriker as jy ook genooi is?

9 Die gasheer sal sê: ‘Laat hierdie persoon asseblief hier sit.’ Dan sal jy met ’n rooi gesig opnuut moet plek soek – aan die end van die tafel!

10 “Maak liewer so – sit aan die end van die tafel. Dan, wanneer die gasheer jou sien, sal hy kom en sê: ‘Vriend, ons het ’n beter plek as dit vir jou!’ Dan sal jy voor al die ander gaste vereer word;

11 want die hoogmoediges sal verneder word, maar die nederiges sal vereer word.”

12 Toe draai Hy na sy gasheer. “Wanneer jy ’n middag- of aandete gee,” het Hy gesê, “moenie jou vriende, broers, familie en ryk bure nooi nie. Want hulle sal jou beloon deur jou terug te nooi.

13 Nooi liewer die armes, kreupeles, verlamdes en blindes.

14 Jy sal geseënd wees, want by die opstanding van die godvresendes sal God jou beloon omdat jy hulle wat jou nie kon beloon nie, genooi het.”

Die groot feesmaal en so baie

verskonings

15 Toe hy dit hoor, het ’n man wat saam met Jesus aan tafel was, uitgeroep: “Wat ’n voorreg sal dit wees om deel te hê aan die feesmaal in die koninkryk van God!”

16 Maar Jesus het hom geantwoord: “’n Man het ’n groot feesmaal voorberei en baie uitnodigings uitgestuur.

17 Toe alles gereed was, het hy ’n slaaf rondgestuur om die gaste te laat weet dat hulle maar kan kom.

18 Maar hulle het almal begin verskoning maak. Een het gesê hy het pas ’n stuk grond gekoop en wou daarna gaan kyk. Hy vra dus om verskoon te word.

19 ’n Ander een het gesê hy het nou net vyf paar osse gekoop en wil hulle gaan probeer.

20 ’n Ander een was pas getroud, en het gesê hy kon nie kom nie.

21 “Die slaaf het toe teruggekom en aan sy baas vertel wat hulle gesê het. Die baas het kwaad geword en sê toe: ‘Gaan gou in die strate en stegies van die stad en nooi die armes, die kreupeles, die verlamdes en blindes.’

22 Nadat die slaaf dit gedoen het, het hy gerapporteer: ‘Daar is plek vir nog meer.’

23 Sy baas sê toe: ‘Gaan uit op die paaie en lanings en dring aan by enigiemand wat jy teëkom om te kom sodat my huis vol kan word.

24 Want ek sê vir julle, niemand van dié wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie.’”

Om ’n dissipel te wees kos

opofferings en beplanning

25 Groot skares het Jesus gevolg. Hy het omgedraai en vir hulle gesê:

26 “As iemand na My toe kom, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters, en ook nie jou eie lewe gering ag nie. Anders kan jy nie my dissipel wees nie.

27 En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.

28 “Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie. Want wie sal met die oprigting van ’n gebou begin sonder om eers kwotasies te kry en te sien of daar genoeg geld is om die rekeninge te betaal?

29 Anders kan jy dalk net die fondament voltooi voordat die geld opraak. En dan sal almal mos vir jou lag!

30 Dan sal hulle sê: ‘Daardie kêrel het mooi begin bou, maar sy geld was op nog lank voordat hy klaar was.’

31 “Of watter koning sal ooit droom om oorlog toe te gaan voordat hy saam met sy raadgewers gaan sit en beplan het of hy met sy 10 000 man sterk genoeg is om die aankomende 20 000 soldate te verslaan?

32 As hy nie kan nie, sal hy, terwyl die vyand nog ver is, ’n afvaardiging stuur om vredesvoorstelle te maak.

33 Só kan niemand my dissipel word sonder om alles vir My prys te gee nie.

34 “Sout is goed om smaak te gee. Maar as dit sy smaak verloor het, hoe kry ’n mens dit weer sout?

35 Smaaklose sout is selfs nie goed vir die grond of vir bemesting nie. Dit word weggegooi. Enigeen wat gewillig is om te hoor, moet luister en verstaan!”

LUKAS 15

Blydskap oor een teruggevinde

verlore skaap

1 Tollenaars en ander sondaars het dikwels na Jesus se onderrig kom luister.

2 Fariseërs en wetskenners het beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het – en selfs saam met hulle geëet het!

3 Jesus het toe hierdie gelykenis vertel:

4 “As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie?

5 En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra.

6 Wanneer jy tuis is, sal jy jou vriende en bure roep om saam bly te wees omdat jy jou verlore skaap gevind het.

7 Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!”

Blydskap oor een teruggevinde

verlore muntstuk

8 “Of veronderstel ’n vrou het tien waardevolle silwermuntstukke en verloor een daarvan. Sal sy nie ’n lamp opsteek en die huis van hoek tot kant uitvee totdat sy dit kry nie?

9 En wanneer sy dit kry, roep sy haar vriende en bure om saam bly te wees omdat sy haar muntstuk gevind het.

10 Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”

Blydskap oor ’n verlore seun

wat terugkeer

11 Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad.

12 Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel.

13 “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe.

14 Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly.

15 Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas.

16 Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie.

17 “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan!

18 Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa;

19 ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’

20 “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen.

21 Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’

22 “Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete.

23 En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier,

24 want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.

25 “Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis,

26 en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan.

27 ‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’

28 “Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat,

29 maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie.

30 Maar toe hierdie seun van Pa terugkom nadat hy Pa se geld op prostitute gemors het, vier Pa fees en slag die beste kalf wat ons het.’

31 “Sy pa het vir hom gesê: ‘Kyk, Seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune.

32 Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’”

LUKAS 16

Leer by wêreldlinge hoe om vir

die ewigheid voor te berei

1 Jesus het hierdie verhaal aan sy dissipels vertel: “’n Ryk man het ’n bestuurder in diens gehad om sy sake te behartig, maar gou het ’n gerug die rondte gedoen dat die bestuurder sy baas se besittings verkwis.

2 Sy werkgewer roep hom toe in en sê: ‘Wat hoor ek van jou? Stel jou verslag op, want jy gaan ontslaan word.’

3 “Die bestuurder het by homself gedink: ‘Wat nou? Dis klaarpraat met my hier; ek het nie die krag om te gaan slote grawe nie en ek is te trots om te gaan bedel.

4 Ek het die oplossing! Dit gaan vir my boonop nog baie vriende besorg wat na my sal omsien as ek hier padgee!’

5 “Hy het toe elke persoon wat aan sy werkgewer geld geskuld het, ingeroep om die situasie te bespreek. Hy het vir die eerste een gevra: ‘Hoeveel skuld jy hom?’

6 Die man het geantwoord: ‘Ek skuld hom 100 vate olyfolie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Skeur op daardie skuldbrief en teken ’n ander een vir 50.’

7 “‘En hoeveel skuld jy my werkgewer?’ het hy vir die volgende persoon gevra. ‘100 sakke koring,’ was die antwoord. ‘Hier,’ het die bestuurder gesê, ‘vat jou skuldbrief en vervang dit met een vir 80 sakke.’

8 “Die ryk man moes tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was. En dit is waar dat die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense.

9 Ek sê vir julle, gebruik julle wêreldse bronne tot voordeel van ander, en maak só vriende. Op dié manier sal julle vrygewigheid vir julle ’n beloning in die hemel verseker.”

Wees getrou in alles wat God

aan jou toevertrou

10 “As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie.

11 En as julle onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel?

12 En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?

13 “Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”

God se koningsheerskappy

maak die wet nie ongeldig nie

14 Die Fariseërs wat baie lief was vir hulle geld het natuurlik hiermee gespot.

15 Hy sê toe vir hulle: “Julle wil graag in die openbaar goed voorkom, maar God ken julle bose harte. Wat hierdie wêreld vereer, is ’n gruwel in die oë van God.

16 “Totdat Johannes die Doper begin preek het, was die wette van Moses en die profete julle riglyn. Maar van toe af word die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy verkondig en gretige skares trek op.

17 Dit beteken egter nie dat die wet sy geldigheid verloor het nie. Dit bly van krag tot in sy fynste besonderheid. Dit is sterker en meer blywend as hemel en aarde.

18 “Enigiemand wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, maak hom skuldig aan huweliksverbreking, en enigeen wat ’n geskeide vrou trou, maak hom ook skuldig aan huweliksverbreking.”

’n Ryk man word ontnugter

19 Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het.

20 Voor sy deur het ’n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê.

21 Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek.

22 Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.

23 Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.

24 “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’

25 “Maar Abraham het vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig.

26 En buitendien is daar ’n groot kloof wat ons skei. Enigeen wat van hier na julle wil oorgaan, word op die rand gestuit, en niemand van daar af kan na ons toe oorkom nie.’

27 “Toe sê die ryk man: ‘Asseblief, vader Abraham, stuur hom na my pa se huis toe.

28 Want ek het vyf broers, en ek wil hê hy moet hulle waarsku teen hierdie plek van pyniging sodat hulle nie hier beland wanneer hulle sterf nie.’

29 “Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het Moses en die profete om hulle te waarsku. Jou broers kan hulle geskrifte enige tyd lees wanneer hulle wil.’

30 “Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’

31 “Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”

LUKAS 17

Jesus praat oor vergifnis, geloof

en onbaatsugtige diens

1 Jesus het aan sy dissipels gesê: “Dit is onmoontlik dat dinge wat mense laat struikel, nie oor julle pad kom nie. Groot ellende wag egter op hulle deur wie dit veroorsaak word.

2 Dit is voordeliger vir sulke persone as ’n maalklip om hulle nek vasgemaak en hulle in die see gegooi word, as dat hulle vir een van hierdie geringes ’n struikelblok sou wees.

3 “Gee ag op julleself. As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg, en as hy tot inkeer kom, vergewe hom.

4 Ook as hy sewe keer op ’n dag teenoor jou oortree, maar ook sewe keer na jou toe kom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5 Die apostels het toe vir die Here gesê: “Help ons. Ons het meer geloof nodig.”

6 Die Here het gereageer: “Al sou julle maar net ’n geloof só klein soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see’ – hy sou julle gehoorsaam!

7 “As een van julle ’n slaaf het wat besig is om te ploeg of om diere te versorg, sal hy aan hom, wanneer hy van die land af kom, sê: ‘Kom eet gou saam’?

8 Nooit nie! Hy sal aan hom sê: ‘Maak iets gaar vir aandete. Bind jou klere vas en bedien my terwyl ek eet en drink. Eers daarna gaan jy self eet en drink.’

9 ’n Slaaf wat sy opdragte uitgevoer het, ontvang mos nie dank nie!

10 Net só is dit ook die geval met julle: As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: ‘Ons is net nikswerd slawe. Ons het bloot uitgevoer wat ons moes doen.’”

Jesus genees tien mans met

ernstige velsiektes

11 Dit het gebeur terwyl Jesus deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea op reis was na Jerusalem toe.

12 Toe Hy aan die buitewyke van ’n sekere dorpie kom, het tien mans met ernstige velsiektes Hom tegemoetgekom, maar op ’n afstand bly staan.

13 Hulle het hard na Hom geroep: “Jesus, Meneer, ontferm u tog oor ons!”

14 Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.

15 Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof.

16 Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan.

17 Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?

18 Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?”

19 Aan hierdie man het Hy gesê: “Staan op, gaan. Jou geloof het jou gered.”

God se koningsheerskappy

begin nie met sigbare

20 Toe Jesus deur die Fariseërs uitgevra is oor wanneer die koningsheerskappy van God dan begin, het Hy hulle geantwoord: “Die koningsheerskappy van God begin nie met sigbare voor-tekens nie.

21 Hulle sal nie sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle.”

22 Jesus het aan sy dissipels gesê: “Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle sal begeer om tog net één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie.

23 Hulle sal egter aan julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie.

24 Soos ’n weerligstraal flits en die hemel van die een kant na die ander kant verlig, só sal Ek, die Seun van die Mens, op daardie dag van My verskyn.

25 Eers moet Ek egter baie lyding verduur en deur die mense van hierdie geslag verwerp word.

26 “Net soos dit gebeur het gedurende die tyd van Noag, só sal dit ook gaan gedurende die tyd voor my koms as die Seun van die Mens:

27 Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

28 Dit het ook net so gebeur gedurende die dae van Lot: Hulle het geëet, gedrink, gesmous, geplant en gebou.

29 Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig.

30 Dit sal net so gebeur op die dag wanneer Ek as die Seun van die Mens bekendgemaak word.

31 “Op daardie dag moet dié wat op die dakstoep sit terwyl hulle besittings nog in die huis is, nie afklim om dit saam te vat nie. Net so moet dié wat op die land is, nie terugdraai na die besittings agter hulle nie.

32 Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het.

33 Almal wat hulle daarop instel om hulle lewe te beveilig, sal dit verloor, maar hulle wat dit verloor, sal dit behou.

34 “Ek verduidelik dit aan julle: Gedurende daardie nag sal daar twee mense op een bed wees; die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

35 Daar sal twee vroue wees wat koring maal; die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.”

37 Hulle vra Jesus toe: “Waar sal dit gebeur, Here?” Hy het geantwoord: “Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”

LUKAS 18

Hou áán totdat die regter

luister!

1 Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om aan te toon dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

2 Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat God nie geëer en sy medemens nie gerespekteer het nie.

3 Daar was ook ’n weduwee in daardie stad wat aangehou het om hom te vra: ‘Laat aan my reg geskied in my saak teen my opponent.’

4 “Vir ’n tyd lank was hy onwillig, maar hy het naderhand vir homself gesê: ‘Al eer ek God nie en respekteer ek ook nie my medemens nie –

5 omdat hierdie weduwee my so onophoudelik teister, sal ek haar saak behartig, anders sal sy my nog heeltemal gedaan maak.’”

6 Toe sê die Here: “Luister net wat sê die onregverdige regter.

7 Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Hom roep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets?

8 Ek sê vir julle: Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook! Nietemin, sal Ek, die Seun van die Mens, wanneer Ek kom, geloof op aarde vind?”

’n Fariseër en ’n tollenaar bid in

die tempel

9 Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel met die oog op sommige mense wat oortuig is dat hulle saak voor God reg is, maar die ander mense verag het:

10 “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar.

11 Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar.

12 Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien!’

13 “Die tollenaar het op ’n afstand bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’

14 “Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word.”

Aanvaar die koninkryk van God

soos ’n kindjie

15 Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry.

16 Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God.

17 Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.”

Gee alles prys en volg Jesus om

aan God se koninkryk deel te

18 Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

19 Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God.

20 Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.”

21 Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.”

22 Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.”

23 Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk.

24 Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie!

25 Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry.”

26 Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie is dan in staat om verlos te word?”

27 Jesus het gereageer: “Dié dinge wat by mense onmoontlik is, is juis by God moontlik.”

28 Petrus sê toe daarop: “Kyk, ons het ons eie besittings prysgegee en U gevolg.”

29 Jesus het geantwoord: “Ek verseker julle, daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God hulle huis of vrou of broers of ouers of kinders prysgegee het,

30 wat nie soveel keer meer in hierdie tyd ontvang nie, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

Jesus praat weer oor sy

komende dood

31 Jesus het die twaalf eenkant geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat deur die profete opgeteken is oor die Seun van die Mens sal volledig vervul word.

32 Hy sal uitgelewer word aan die nie-Jode en bespot, beledig en ook op gespoeg word.

33 En nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak. Op die derde dag sal Hy egter weer opstaan.”

34 Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Hierdie verduideliking was vir hulle verberg en hulle het nie begryp wat Hy sê nie.

Die blinde van Jerigo kan weer

sien!

35 Jesus het in die omgewing van Jerigo aangekom. ’n Blinde man het langs die pad gesit en bedel.

36 Toe hy die skare hoor wat verbyloop, het hy probeer uitvind wat aan die gang is.

37 Hulle het hom toe vertel dat Jesus van Nasaret besig is om verby te loop.

38 Die blinde het hard uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!”

39 Die mense wat vooruit geloop het, het hom bestraf om hom stil te kry, maar hy het eerder nog harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!”

40 Jesus het gaan staan en opdrag gegee dat die man na Hom toe gebring moes word. Soos hy naderbeweeg, vra Jesus vir hom:

41 “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

Sy antwoord was: “Here, dat ek net weer kan sien!”

42 Jesus het hom geantwoord: “Sien weer! Jou geloof het jou gered.”

43 Eensklaps het die man weer gesien; hy het Jesus gevolg en God geloof. Die hele volk wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.