DANIËL 12

Die einde van die tyd

1 “In daardie tyd sal Migael, die groot leier, optree. Hy beskerm mos jou volk. Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word.

2 Baie wat reeds in die graf is, sal dan uit die dood opstaan. Party sal vir altyd lewe en ander sal eindelose skande en veragting ervaar.

3 Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel. Hulle wat baie mense lei om regverdig te word, sal vir ewig en altyd soos sterre skyn.

4 Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou en die boek verseël tot aan die einde van die tyd. Baie sal hiernatoe en daarnatoe gaan om meer te wete te kom.”

5 Ek, Daniël, het toe gekyk en daar was twee ander mans wat daar staan, een aan elke kant van die rivier.

6 Een van hulle het vir die man met fyn linneklere aan en wat bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal dit duur voordat hierdie skrikwekkende dinge in vervulling gaan?”

7 Ek het gehoor hoe die man met die linneklere aan daar bokant die water sy hand in die lug opsteek en ’n eed aflê by Hom wat vir altyd lewe: “Dit sal ’n tyd, tye en ’n halwe tyd wees. Hierdie dinge sal gebeur wanneer die heilige volk se mag finaal vernietig is.”

8 Ek het gehoor wat hy sê, maar ek het dit glad nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, wat sal die einde van al hierdie dinge wees?”

9 Hy sê toe: “Daniël, gaan nou maar. Hierdie woorde is gesluit en verseël tot in die eindtyd.

10 Baie sal gesuiwer en gereinig word en deur hierdie dinge gelouter word. Dié wat kwaad doen, sal aanhou om kwaad te doen. Nie een van die kwaaddoeners sal enigiets verstaan nie, maar hulle wat verstandig is, sal wel verstaan.

11 “Van die tyd af dat die gereelde offer afgeskaf is en die gruwelike ding wat verwoesting aanrig, opgerig is, sal 1 290 dae verloop.

12 Gelukkig is hulle wat bly wag totdat 1 335 dae verby is.

13 “En wat jou aanbetref, Daniël, jy sal gaan rus in die graf, maar jy sal weer opstaan aan die einde en jy sal kry wat vir jou as erfdeel bepaal is.”

HOSEA 1

1 Die Here het die volgende boodskap aan Hosea seun van Beëri gegee. Dit was toe Ussia, Jotam, Agas en Hiskia na mekaar konings van Juda was en Jerobeam seun van Joas koning van Israel was.

Hosea se vrou en kinders

2 Toe die Here begin het om met Israel deur Hosea te praat, het Hy vir hom gesê: “Gaan trou met ’n losbandige vrou, iemand wat mettertyd buite-egtelike kinders sal hê. Dit sal ’n sigbare beeld wees van hoe die land teenoor My, die Here, egbreuk pleeg deur ander gode te dien.”

3 Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim getrou. Sy het swanger geword en vir Hosea ’n seun in die wêreld gebring.

4 Toe sê die Here: “Noem die seun Jisreël, want Ek is op die punt om koning Jehu se koningshuis te straf as vergelding vir die moorde wat hy by Jisreël gepleeg het. Trouens, Ek gaan ’n einde maak aan die koningshuis van Israel.

5 Dan sal Ek sy militêre mag in die Jisreëlvlakte vernietig.”

6 Kort daarna het Gomer weer verwag en ’n dogter is gebore. Toe sê die Here vir Hosea: “Noem haar Lo-Rugama (‘Geen-ontferming’), want Ek sal My nie langer ontferm oor die volk Israel en hulle vergewe nie.

7 Maar Ek sal aan die mense van Juda ontferming betoon as die Here hulle God. Ek self sal hulle bevry van hulle vyande sonder die hulp van wapens of militêre magte.”

8 Nadat Gomer vir Lo-Rugama gespeen het, het sy weer swanger geword en ’n seun is gebore.

9 Toe sê die Here: “Noem hom Lo-Ammi (‘Nie-my-volk-nie’), want Israel is nie meer my volk nie en Ek is nie meer hulle Verbondsgod nie.

10 “Tog sal daar ’n tyd aanbreek dat Israel voorspoedig sal wees en ’n groot nasie sal word. Dan sal hulle wees soos die sand aan die see – te veel om getel te word. In plaas daarvan dat aan hulle gesê is ‘Julle is Nie-my-volk-nie’, sal gesê word ‘Julle is kinders van die lewende God’.

11 Dan sal die inwoners van Juda en Israel verenig onder een leier, en hulle sal saam na die land toe terugkeer. Dit sal ’n besondere dag wees, die groot dag van Jisreël, wanneer God weer sy mense in sy land sal plant.

12 Daardie dag sal julle julle broers noem Ammi (‘My volk’) en julle susters Rugama (‘Hulle wat ontferming ontvang het’).”

HOSEA 2

Stappe teen die ontroue vrou

1 “Maar nou, kla julle ma aan. Sy is nie meer my vrou nie en Ek is nie meer haar man nie. Sê vir haar om ontslae te raak van haar grimering en suggestiewe klere en op te hou om soos ’n prostituut op te tree.

2 Anders sal Ek haar kaal uittrek soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar maak soos ’n woestyn, soos ’n dor land sodat sy sterf van die dors.

3 Ek sal ook nie haar kinders liefhê soos my eie nie, want hulle is nie my kinders nie. Hulle is deur ander mans verwek.

4 Want hulle ma is ’n skaamtelose prostituut en het op ’n skandelike manier swanger geword. Sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aan gaan, hulle wat vir my kos en drank, klere van wol en vlas, en olie gee.’

5 “Daarom sal Ek haar pad met doringtakke ontoeganklik maak, dit met ’n klipmuur toebou sodat sy nie haar paaie kry nie.

6 Wanneer sy agter haar minnaars aan loop, sal sy hulle nie kan inhaal nie. Sy sal na hulle soek, maar hulle nie kry nie. Dan sal sy dink: ‘Ek moet maar na my man toe teruggaan, want by hom het dit beter met my gegaan as nou.’

7 Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het wat sy het nie: koring, wyn en olie – selfs die goud en silwer wat sy vir die afgod Baäl geoffer het!

8 “Daarom sal Ek my koring en my wyn wat Ek elke oestyd vir haar gegee het, terugneem. Ek sal my wol en my vlas wegneem, dit wat Ek vir haar gegee het om daarmee haar naaktheid toe te maak.

9 Ek sal haar in die openbaar kaal uittrek terwyl haar minnaars toekyk. Nie een van hulle sal haar uit my hand kan red nie.

10 Ek sal ’n einde maak aan haar jaarlikse feeste, haar Nuwemaanfeeste en haar Sabbatsfeeste – trouens al haar vasgestelde feeste.

11 Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet.

12 Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die Here.

Die liefde van die Here vir sy

ontroue vrou Israel

13 “Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen. Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge vir haar sê.

14 Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee. Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop. Daar sal sy weer Myne word soos lank gelede toe sy nog jonk was en Ek haar uit slawerny in Egipte bevry het.

15 “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy My noem ‘my man’ en nie meer ‘my meester’ nie.

16 Israel, Ek sal sorg dat jy jou Baälbeelde sal vergeet. Jy sal selfs hulle name nie meer noem nie.

17 Dan sal Ek ’n ooreenkoms maak met die wilde diere en die voëls en die diere wat op die grond kruip, en Ek sal oorloë en al die oorlogswapens, swaard en boog, uit die land wegneem, alles sodat jy onbevrees in vrede en veiligheid kan lewe.

18 Ek sal jou my vrou maak vir altyd. Ek sal jou aan My vasbind deur regverdigheid en geregtigheid, getroue liefde en deernis.

19 Ek sal getrou aan jou bly en jou Myne maak, en jy sal uiteindelik vir My ken as die Here.

20 “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek antwoord en die hemel sal die aarde antwoord sodat dit reën.

21 Dan sal die grond antwoord met koring en wyn en olie, en ’n koor sal weerklink: Jisreël (dis God wat saai)!

22 “Dan sal Ek Israel vir Myself plant. Ek sal ontferming betoon aan hulle wat Ek genoem het ‘Geen-ontferming’. En vir hulle wat Ek genoem het: ‘Nie-my-volk-nie’, sal Ek dan sê: ‘Julle is my volk.’ Dan sal hulle antwoord: ‘U is ons God!’”

HOSEA 3

Hosea se vrou losgekoop

1 Toe het die Here vir my gesê: “Gaan haal jou vrou. Bring haar terug na jou toe en bemin haar al het sy ’n verhouding met iemand anders en al pleeg sy owerspel. Want die Here het steeds vir Israel lief al het hulle ander gode verkies en uitsoekgawes aan hulle geoffer.”

2 Ek het haar toe gekoop vir vyftien stukke silwer en 100 kilogram gars.

3 Toe sê ek vir haar: “Jy moet vir baie dae in my huis bly en nie by ander mans rondslaap nie. In hierdie tyd mag jy met niemand seksuele omgang hê nie, selfs nie met my nie.”

4 Net so sal Israel vir ’n lang tyd sonder koning en leiers, sonder offers en aanbiddingsvoorwerpe, sonder efod of selfs afgodsbeelde wees.

5 Daarna sal die volk terugkeer na die Here hulle God en na hulle koning, die afstammeling van Dawid. Hulle sal met bewing en ontsag na die Here toe kom. In die laaste dae sal hulle sy goeie gawes ontvang.

HOSEA 4

Die Here se regsaak teen Israel

1 Volk van Israel, luister na die woord van die Here! Die Here het ’n regsaak teen die inwoners van die land. Hy sê: “Daar is geen getrouheid, goedheid of ’n intieme verhouding met God in julle land nie.

2 Julle vloek en lieg, maak dood en steel, en pleeg egbreuk. Oral is daar geweld en bloedvergieting.

3 Dis waarom die hele land verskrompel en kwyn van dors saam met al die inwoners, wilde diere en voëls. Selfs die visse beswyk.

4 “Moenie julle vinger na iemand anders toe wys nie. Moenie die skuld op iemand anders pak nie! Die klag wat Ek lê, is teen jóú, o priester!

5 Daarom sal jy helder oordag struikel, en die profeet saam met jou in die nag. Boonop sal Ek jou ma vernietig, o Israel.

6 My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die voorskrifte van jou God vergeet het, sal Ek jou kinders vergeet.

7 Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal hulle aansien in skande verander.

8 “Die priesters verryk hulleself wanneer die mense hulle sonde-offers na hulle toe bring. Daarom is die priesters bly wanneer die mense sondig!

9 Soos dit met die priesters gaan, so sal dit ook met die mense gaan: omdat die priesters sondig, sondig die mense ook. Daarom sal Ek sowel priesters as mense vergeld vir hulle bose dade.

10 Hulle sal eet, maar nog honger bly. Hulle sal egbreuk pleeg, maar geen kinders hê nie omdat hulle die Here verlaat het om ander gode te dien.

11 “Prostitusie, wyn en drank het my volk se denkvermoë verdof.

12 Hulle vra ’n stuk hout om raad! Hulle dink ’n stok kan hulle adviseer! ’n Gees van losbandigheid, ’n hunkering na die afgode het hulle dwaas gemaak. Hulle het soos prostitute opgetree deur ander gode te dien.

13 Hulle bring offers aan die afgode op die bergtoppe. Hulle bring wierookoffers op die heuwels en offer in die koel skadu van eike, populiere en ander groen bome.

“Dis waarom julle dogters prostitute geword het, en julle skoondogters egbreuk pleeg.

14 Sal Ek nie julle dogters straf omdat hulle prostitute is en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie? Sekerlik sal Ek dit doen, want julle mans doen dieselfde deur met tempelprostitute te sondig. O dwase mense! So bewerk mense sonder verstand hulle eie ondergang.

15 “As Israel soos ’n prostituut is, mag Juda nie ook skuldig word nie! O Juda, moenie die heiligdomme by Gilgal en Bet-Awen besoek om daar te aanbid nie. Moenie daar in die Naam van die Here ’n eed neem nie.

16 Israel is so hardnekkig soos ’n koppige koei. Moet die Here hulle dan onbeskermd laat wei soos ’n lam in die veld?

17 Efraim se hart lê by die afgode. Laat hom met rus!

18 Wanneer die manne van Israel klaar gedrink het, gaan soek hulle prostitute. Hulle passie vir skande is groter as dié vir eer.

19 Daarom sal ’n rukwind hulle wegwaai. Hulle sal in die skande kom oor hulle offers.”

HOSEA 5

Die regsaak teen al die leiers

1 “Luister hier, julle priesters! Gee aandag, leiers van Israel! Hoor hier, lede van die koningshuis! Hierdie oordeel is oor julle: Julle is gedoem! Want julle het in Mispa ’n strik gestel en in Tabor ’n vangnet gespan waardeur die volk tot afgodery verlei is.

2 In Sittim het julle ’n diep vanggat gegrawe. Maar wees gewaarsku! Ek gaan met julle almal afreken oor julle dade.

3 Ek ken jou, Efraim! Israel kan nie vir My wegkruip nie! Jy het my verlaat soos ’n prostituut haar man los. Jy is onrein.

4 Julle optrede verhinder julle om terug te kom na julle God toe. ’n Gees van ontug is in julle midde soos met ’n prostituut. Daarom ken julle nie die Here nie.

5 “Die verwaandheid van Israel getuig teen hom. Israel en Efraim sal onder die vrag van skuld struikel. Ook Juda sal saam met hulle val.

6 Dan sal hulle uiteindelik met hulle kleinvee en grootvee kom om dit aan die Here te offer. Maar dit sal te laat wees! Hulle sal Hom nie kry nie, want Hy het Hom aan hulle onttrek. Hulle is nou alleen.

7 Hulle was ontrou aan die Here deur kinders te verwek wat nie Syne is nie. Nou sal hulle elke maand saam met hulle landerye verslind word.

8 “Blaas die ramshoring in Gibea, die trompet in Rama! Maak alarm in Bet-Awen! Benjamin is agter jou aan!

9 Een ding is seker, stamme van Israel: Wanneer jou dag van afrekening kom, sal jy verwoes word.

10 “Die leiers van Juda het Israel soos diewe van hulle grond beroof. Daarom sal Ek my toorn soos ’n watervloed oor hulle uitgiet.

11 Efraim is verdruk; in die oordeel is hy verpletter omdat hy volgehou het om nikswerd afgode te dien.

12 “Ek is vir Efraim soos ’n gewas en vir Juda soos ’n verrotting.

13 Toe Israel besef hy is siek en Juda sy sweer sien, het Israel hulp gaan soek by Assirië. Hy het iemand na die groot koning gestuur. Maar hy kan julle nie gesond maak of die sweer genees nie.

14 Ek is soos ’n leeu wat Israel en Juda uitmekaarskeur. Ek sal hulle wegdra, en daar sal niemand wees wat hulle kan red nie.

15 Dan sal Ek terugkeer na my plek toe totdat hulle hulle skuld bely en na My opsien vir hulp. Sodra hulle moeilikheid het, dán sal hulle My soek.”

HOSEA 6

’n Oproep tot berou

1 “Kom, laat ons teruggaan na die Here toe! Hy het ons verskeur; Hy sal ons weer genees. Hy het ons geslaan; Hy sal ons wonde weer verbind.

2 Hy sal ons na twee dae laat aansterk en op die derde dag weer laat opstaan sodat ons in sy teenwoordigheid kan lewe.

3 Kom, laat ons die Here ken! Laat ons ons inspan om ons aan Hom toe te wy! Dan sal Hy ons antwoord. Dis so seker as die aanbreek van die nuwe dag of die koms van die reën, die lentereëns wat die grond deurweek.

4 “O Israel en Juda, wat moet Ek met julle doen?” vra die Here. “Want julle liefde is soos ’n môrewolkie wat gou verdwyn, soos dou wat wegraak voor die son.

5 Ek het my profete gestuur om julle in stukke te kap. Ek het julle met my woorde getref, gedreig met die dood. My oordeel sal julle tref so seker as die dag breek.

6 Ek soek troue liefde en nie offers nie; toewyding aan God en nie brandoffers nie.

7 “Maar soos Adam die verbond met My verbreek het, so was julle ontrou aan My.

8 Gilead is ’n stad vol bose mense wat ’n bloedspoor laat.

9 Soos ’n rowerbende wat in ’n hinderlaag lê en wag vir slagoffers, so vermoor priesterbendes die reisigers op die pad na Sigem. Hulle begaan allerlei booshede.

10 Ja, Ek het ’n afskuwelike ding in die koningshuis van Israel gesien: Deur agter ander gode aan te gaan, het Efraim se godsdienstige owerspel my volk onrein gemaak!

11 “Juda, ’n tyd van afrekening wag ook vir jou.”

HOSEA 7

Israel se liefde vir boosheid

1 “Ek wou die voorspoed van my volk herstel. Ek wou Israel genees, maar sy sonde en die oortreding van Samaria kom aan die lig. Hulle lieg vir mekaar, diewe breek in en bendes roof op straat.

2 Hulle besef nie dat Ek bewus is van al hulle bose dade nie. Nou het hulle dade hulle ingehaal en Ek sien dit alles!

3 “Hulle maak die koning bly met al hulle boosheid en die leiers met hulle leuens.

4 Hulle is almal egbrekers, soos ’n gloeiende oond wat aanhou smeul nadat die bakker opgehou het om dit te stook. Hy doen dit sodat hy die deeg kan knie, en wag dan dat dit moet rys.

5 Tydens die fees van die koning het hulle die leiers dronk gemaak met wyn. Die koning kuier saam met spotters.

6 Hulle kom nader terwyl hulle harte smeul soos ’n oond. Dwarsdeur die nag smeul hulle sameswering en in die oggend vlam dit op.

7 Hulle was almal soos ’n oond wat brand en maak hulle regeerders dood. Al hulle konings het tot ’n val gekom, die een na die ander. Tog is daar nie een van hulle wat na My roep vir hulp nie.

8 “Israel vermeng met die nasies en word net soos hulle. Efraim is soos ’n roosterkoek wat nie omgedraai is nie en halfgebak en waardeloos geword het!

9 Vreemdes het sy kragte getap, maar hy kom dit nie eens agter nie. Hy het oud en swak geword, maar hy besef dit nie.

10 Israel se verwaandheid getuig teen hom, tog draai hy nie om, terug na die Here sy God toe nie. Hy probeer nie eens om Hom te soek nie.

11 “Die mense van Israel het geword soos ’n dwase, onnosele duif. Hulle roep nou vir Egipte, netnou vlieg hulle na Assirië toe.

12 Wanneer hulle daarheen vlieg, sal Ek my vangnet oor hulle gooi en hulle neertrek soos voëls in die lug. Ek sal hulle straf wanneer hulle in swerms bymekaarkom.

13 “Hoe tragies is dit vir hulle wat van My af wegvlug! Hulle sal omkom, want hulle het teen My in opstand gekom. Ek wou hulle bevry, maar hulle het vir My leuens vertel.

14 Hulle roep nie na My met ’n opregte hart nie. In plaas daarvan lê hulle op hulle beddens en kerm. Hulle sny hulleself stukkend voor hulle afgode as hulle bid vir gesaaides en wingerde. Hulle het teen My gerebelleer.

15 “Ek het hulle opgelei en hulle arms sterk gemaak. Tog beplan hulle bose dinge teen My.

16 Hulle soek hulp, maar nie by die Allerhoogste nie. Hulle is soos ’n slap boog. Hulle leiers sal deur die swaard doodgemaak word weens hulle astrante woorde teenoor My. Dan sal Egipte vir hulle lag.”

HOSEA 8

Israel oes die stormwind

1 “Maak alarm! Die vyand is soos ’n arend wat draai oor die huis van die Here. Hulle het my verbond verbreek en teen my voorskrifte in opstand gekom.

2 Nou pleit Israel by My: ‘Help ons, want ons ken U, ons God!

3 Maar dit is te laat! Die volk Israel het die goeie dinge verwerp; nou sal sy vyande op hom jag maak.

4 Hulle het konings en amptenare aangestel, maar dit was sonder my goedkeuring. Hulle het vir hulleself afgode van silwer en goud gemaak, maar dit was tot hulle eie vernietiging.

5 “Samaria, Ek verwerp hierdie kalf, hierdie afgodsbeeld van julle. My woede het teen julle ontvlam. Hoe lank nog sal hulle onrein bly?

6 Julle kalf kom uit Israel – ’n ambagsman het dit gemaak! Dis nie ’n god nie! Daarom sal daar net splinters van die kalf van Samaria oorbly.

7 “Hulle het wind gesaai en sal ’n storm oes.” As die koring nie are maak nie, sal daar geen meel wees nie. En as daar enigsins koring is, sal vreemdelinge dit insluk.

8 Israel is reeds ingesluk. Onder die nasies is hulle soos ’n voorwerp wat niemand meer wil hê nie.

9 Israel het na Assirië toe gegaan net soos ’n eensame wildedonkie wat na ’n maat soek, en het vir homself minnaars gaan koop.

10 Maar al het hy bondgenote onder baie lande gehuur, sal Ek hulle nou bymekaarmaak. Dan sal hulle swaarkry onder die las van die magtige koning.

11 “Israel het baie altare gebou om sonde-offers daarop te bring, maar juis hierdie altare het die plekke geword waar sonde gepleeg word!

12 Al sou Ek ook ’n menigte van my gebooie aan hom gee, sal dit vir hom iets vreemds wees.

13 Hulle hou daarvan om offers vir My te bring en die vleis daarvan te eet, maar Ek verwerp hulle offers. Ek sal hulle sondes onthou en hulle tot verantwoording roep: hulle sal na Egipte toe teruggaan.

14 “Want Israel het sy Maker vergeet en paleise gebou. Juda het versterkte stede opgerig. Daarom stuur Ek ’n vuur in hulle stede wat hulle vestings sal vernietig.”

HOSEA 9

Hosea kondig Israel se straf aan

1 Israel, moenie jou verheug soos ander volke doen nie. Jy was ontrou aan jou God. Jy het die loon van ’n prostituut gesoek deur op elke dorsvloer offers aan ander gode te bring.

2 Daarom sal die dorsvloer en die parskuip te min oplewer om julle te voed en die wynoes sal misluk.

3 Julle mag nie langer in hierdie land van die Here bly woon nie. Israel sal weggeneem word na Egipte toe en in Assirië sal julle leef van kos wat seremonieel onrein is.

4 Daar sal julle nie wyn as ’n offer vir die Here uitgiet nie en niks van julle offers sal Hom aanstaan nie. Sulke offers sal net so onrein wees soos kos uit ’n huis waar daar gerou word: elkeen wat dit eet, sal ook onrein wees. Julle mag dit self eet, maar dit mag nie in die huis van die Here gebring word nie.

5 Wat sal julle dan op feesdae doen, op die feesdae in die teenwoordigheid van die Here?

6 Selfs as hulle die verwoesting van die Assiriërs ontvlug het, sal hulle in Egipte versamel en in Memfis begrawe word. Doringstruike sal hulle skatte van silwer toegroei en onkruid hulle blyplekke.

7 Die oomblik van Israel se straf het aangebreek. Die dag van vergelding is hier. Israel sal dit deeglik besef. “Die profeet is ’n dwaas!” skree die mense. “Die man van die Gees is van sy kop af!” spot hulle. Dis omdat jou sonde so baie en jou vyandigheid so groot is teenoor hulle wat God dien.

8 My God het die profeet as wagter oor Efraim gestuur, maar oral waar hy gaan, stel hulle valstrikke voor hom. Selfs in die huis van sy God is daar vyandigheid.

9 Hulle dade is net so bedorwe soos destyds by Gibea. God sal dit onthou. Hy sal hulle sekerlik daaroor straf.

10 “Israel, toe Ek jou die eerste keer teëgekom het,” sê die Here, “was dit soos om druiwe in die woestyn te kry. Toe Ek jou voorgeslagte gesien het, was dit soos om die eerste ryp vye van die seisoen te sien. Maar toe hulle by Baäl-Peor kom, het hulle My verlaat en hulle aan daardie skandelike afgod verbind. Hulle het gou net so veragtelik geword soos die afgod wat hulle gedien het.

11 Soos ’n voël wegvlieg, so sal die aansien van Israel verdwyn: daar sal geen kinders, geen swangerskap en geen bevrugting wees nie.

12 Selfs as julle kinders tog bly lewe en grootword, sal Ek hulle van julle wegneem sonder dat een oorbly. Ellende wag vir hulle wanneer Ek wegdraai en hulle alleen agterlaat!

13 Israel was vir My soos Tirus, geplant in ’n weiland. Maar nou sal Israel hulle kinders uitbring om doodgemaak te word.”

14 Gee vir hulle, Here – wat sal U vir hulle gee? Gee vir hulle baarmoeders wat nie geboorte gee nie en borste sonder melk!

15 Die Here sê: “Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Daar het Ek hulle begin haat oor hulle bose dade. Ek sal hulle uit my huis verdryf. Ek sal hulle nie meer liefhê nie, want al hulle leiers is in opstand teen My.

16 Israel is getref. Sy wortels het verdroog; hy sal nie meer vrugte dra nie. En al bring hulle kinders in die wêreld, sal Ek hulle kinders wat hulle so liefhet, laat omkom.”

17 My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Hulle sal swerwelinge wees onder die nasies.