2 KRONIEKE 15

Asa se godsdienstige

hervorming

1 Toe het die Gees van God op Asarja seun van Oded gekom.

2 Hy het koning Asa tegemoetgegaan. “Luister na my, Asa!” het hy geroep. “Luister, al die manne van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle bly so lank as wat julle by Hom bly; wanneer julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.

3 Vir ’n lang tyd was Israel sonder die ware God, sonder ’n priester om hulle te onderrig, en sonder die gebooie van God.

4 Wanneer hulle in nood was en hulle teruggedraai het na die Here die God van Israel en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind.

5 In daardie tye was dit nie veilig om te reis nie, want oral was daar groot onrus vir die inwoners van die land.

6 Volk het teen volk geveg, en stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.

7 En nou, manne van Juda, wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word.”

8 Toe Asa hierdie boodskap hoor van die profeet, die seun van Oded, het hy moed geskep en al die afgodsbeelde in die land van Juda en Benjamin en in die dorpe wat hy in die Efraimsberge verower het, verwyder. Hy het die altaar van die Here wat by die ingang tot die tempel van die Here was, herstel.

9 Daarna het Asa die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die inwoners van Efraim, Manasse en Simeon wat onder hulle kom woon het. Baie van hulle het gedurende Asa se regering na Juda toe verhuis omdat hulle gesien het dat die Here sy God met hom was.

10 Hulle het almal in die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa by Jerusalem bymekaargekom.

11 Op daardie dag het hulle sommige van die diere wat in die oorlog gebuit was aan die Here geoffer. Dit was 700 beeste en 7 000 kleinvee.

12 Toe het hulle met hart en siel ’n verbond met die Here die God van hulle voorouers gesluit.

13 Hulle het besluit dat enigiemand wat weier om die Here die God van Israel te dien, doodgemaak moet word, sou dit jonk of oud, man of vrou wees.

14 Hulle het die eed van trou aan die Here met trompetgeskal en die klank van ramshorings bekendgemaak.

15 Almal was bly oor die verbond, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Hulle het gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.

16 Koning Asa het selfs vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder onttroon omdat sy ’n walglike Asjerapaal gemaak het. Hy het die paal afgekap, dit fyngemaal en dit in die Kedronvallei verbrand.

17 Hoewel die heidense hoogtes nie heeltemal uit Israel verwyder is nie, was Asa sy lewe lank getrou aan die Here.

18 Hy het die silwer en goud en die gereedskap wat hy en sy pa gewy het, in die tempel van God gebring.

19 Daar was geen oorlog tot in die 35ste jaar van sy regering nie.

2 KRONIEKE 16

Die laaste jare van Asa se

regering

1 In die 36ste jaar van Asa se bewind het koning Baesa van Israel Juda binnegeval. Hy het die stad Rama versterk om te verhoed dat enigiemand die koninkryk van Asa kon binnegaan of verlaat.

2 Asa het gereageer deur silwer en goud uit die skatkamers van die tempel van die Here en die koninklike paleis te vat. Dit het hy na koning Ben-Hadad van Aram in Damaskus gestuur met die volgende boodskap:

3 “Kom ons hernu die verdrag tussen jou pa en my pa. Kyk, ek stuur vir jou ’n geskenk van silwer en goud. Breek jou verdrag met koning Baesa van Israel sodat hy my met rus kan laat.”

4 Ben-Hadad het ingestem tot koning Asa se versoek en Israel aangeval. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower.

5 Toe Baesa van Israel hoor wat aangaan, het hy afgesien van sy planne om Rama te versterk.

6 Koning Asa het die hele Juda aangesê om die boustene en timmerhout wat Baesa gebruik het om Rama te versterk, weg te dra. Asa het dit gebruik om die dorpe Geba en Mispa te bou.

7 In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda gegaan en gesê: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God, het jy die kans verloor om die leër van die koning van Aram te verwoes.

8 Onthou jy dan nie wat gebeur het met die Kussiete en Libiërs en hulle groot leërmag met baie strydwaens en ruiters nie? Toe het jy op die Here vertrou en Hy het hulle aan jou oorgegee.

9 Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ’n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê.”

10 Asa het kwaad geword vir die siener Ganani. Hy was so woedend dat hy hom in die tronk gegooi het. In hierdie tyd het Asa begin om sommige van sy onderdane te verdruk.

Opsomming van Asa se regering

11 Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind, van begin tot die einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Juda en Israel.

12 In die 39ste jaar van sy regering het Asa ’n ernstige siekte aan sy voete opgedoen. Maar selfs in sy siekte het hy nie hulp by die Here gesoek nie, maar by sy dokters.

13 In die 41ste jaar van sy regering het hy gesterf.

14 Hy is begrawe in die grafkelder wat hy in die Dawidstad laat uitkap het. Hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat met balsem en allerlei geurige kruie bedek was. Tydens sy begrafnis het hulle tot sy eer ’n groot vuur aangesteek.

2 KRONIEKE 17

Josafat regeer in Juda

1 Asa se seun Josafat het hom opgevolg. Hy het Juda versterk teen enige aanval van Israel.

2 In al die versterkte stede van Juda het hy soldate geplaas. Hy het ook wagposte beman in Juda en in die dorpe van Efraim wat sy pa, Asa, verower het.

3 Die Here was met Josafat omdat hy die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg het en nie die beelde van Baäl aanbid het nie.

4 Hy het sy pa se God gedien en die Here se gebooie gehoorsaam in teenstelling met die praktyke in die koninkryk van Israel.

5 Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir hom geskenke gebring sodat hy baie ryk geword het en groot aansien geniet het.

6 Hy was toegewyd aan die wil van die Here. Hy het ook die heidense hoogtes afgebreek en die Asjerapale vernietig.

7 In die derde jaar van sy bewind het Josafat sy amptenare gestuur om in al die dorpe van Juda onderrig te gee. Hierdie amptenare het die volgende persone ingesluit: Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga.

8 Hy het ook die volgende Leviete uitgestuur: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle.

9 Hulle het afskrifte van die boek van die gebooie van die Here saamgeneem. Hulle het rondgegaan by al die dorpe van Juda en die volk onderrig.

10 Vrees vir die Here het oor al die omliggende koninkryke gekom sodat nie een van hulle oorlog teen Josafat verklaar het nie.

11 Sommige van die Filistyne het vir hom geskenke van silwer as belasting gebring. Die Arabiere het 7 700 ramme en 7 700 bokramme gebring.

12 Josafat het al magtiger geword en het vestings en voorraadstede oral in Juda gebou

13 en in elke dorp van Juda baie voorrade gehad, en het ’n leër van geharde soldate in Jerusalem geplaas.

14 Sy leër is volgens families saamgestel.

Uit Juda was daar 300 000 manskappe, georganiseer in eenhede, en onder die bevel van Adna.

15 Joganan het 280 000 manskappe aangevoer.

16 Dan was daar Amasja seun van Sikri wat vrywillig vir die Here diens gedoen het en 200 000 man onder sy bevel gehad het.

17 Uit Benjamin was daar 200 000 manskappe, toegerus met pyl en boog en skilde. Hulle was onder bevel van Eljada, ’n veteraan.

18 Die volgende bevelvoerder was Josabad met 180 000 gewapende manne onder hom.

19 Dit was die soldate wat in Jerusalem gestasioneer was om tot diens van die koning te wees, benewens dié wat Josafat in die versterkte stede in die hele Juda geplaas het.

2 KRONIEKE 18

Josafat en Agab

1 Josafat het baie rykdom besit en het groot agting geniet. Hy het gereël dat sy seun trou met ’n familielid van koning Agab.

2 Etlike jare later het hy Agab in Samaria besoek. Agab het baie skape en beeste vir Josafat en sy gevolg geslag. Hy het toe vir Josafat probeer oorhaal om saam met hom Ramot-Gilead aan te val.

3 “Sal jy saam met my teen Ramot-Gilead optrek?” vra Agab, koning van Israel.

Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek en jy is mos broers en my soldate is onder jou bevel. Ons sal jou sekerlik bystaan in die geveg.

4 Maar laat ons net eers vasstel wat die Here daaroor sê.”

5 Koning Agab het sy profete laat kom. Daar was 400 van hulle. Agab vra hulle toe: “Moet ons oorlog maak teen Ramot-Gilead of nie?”

Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, want God sal vir u die oorwinning gee!”

6 Maar Josafat vra: “Is hier nie ook ’n profeet van die Here nie, dat ons dieselfde vraag vir hom kan vra.”

7 Koning Agab antwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here se raad kan vra, maar ek haat hom. Hy voorspel altyd net slegte nuus vir my! Sy naam is Miga seun van Jimla.”

“Jy moenie so praat nie,” sê Josafat. “Laat ons hoor wat hy sê.”

8 Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gou! Gaan roep vir Miga seun van Jimla.”

Miga profeteer teen Agab

9 Koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, elkeen in sy koninklike kleed, het op hulle trone by die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al Agab se profete het daar voor hulle bly profeteer.

10 Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het horings van yster gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot hulle vernietig is!”

11 Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” het hulle gesê. “Gaan na Ramot-Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad oor aan die koning.”

12 Intussen het die boodskapper wat gestuur is om Miga te gaan haal, vir hom gesê: “Kyk, al die profete belowe ’n oorwinning vir die koning. Maak seker dat jy met hulle saamstem en gee goeie nuus.”

13 Maar Miga antwoord: “So seker as wat die Here lewe, ek sal net sê wat my God sê.”

14 Toe Miga voor die koning verskyn, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot-Gilead optrek of nie?”

Miga antwoord hom: “Gaan gerus! Die stad sal aan u oorgelewer word!”

15 Maar die koning het skerp gereageer: “Hoeveel keer moet ek jou beveel om onder eed niks anders as die waarheid in die Naam van die Here te sê nie?”

16 Miga sê toe vir hom:

“Ek het in ’n visioen gesien

dat Israel verstrooi is

op die berge,

soos skape sonder ’n herder.

Die Here sê:

‘Hulle leier is doodgemaak.

Laat elkeen in vrede

na sy huis toe gaan.’”

17 “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

18 Miga het voortgegaan: “Luister na wat die Here sê! Ek het die Here sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant.

19 En die Here het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle,

20 tot ’n gees na die Here kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’

“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here.

21 “Die gees antwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oorhaal om leuens te vertel.’

“‘Jy sal suksesvol wees,’ sê die Here. ‘Gaan en doen dit!’

22 “Só het die Here ’n leuengees in die monde van u profete gegee, want die Here het bepaal dat ’n ramp u sal tref.”

23 Sedekia seun van Kenaäna gaan toe na Miga en slaan hom deur die gesig: “Wanneer het die Gees van die Here my verlaat om met jou te praat?” vra hy.

24 Miga antwoord hom: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

25 Koning Agab het toe beveel: “Vat Miga en neem hom na Amon, die stadsbevelvoerder en na my seun Joas.

26 Gee hulle hierdie opdrag van die koning: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom net brood en water totdat ek veilig terugkeer van die oorlog!”

27 Maar Miga het geantwoord: “As u veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie!” Hy voeg toe by vir die omstanders: “Neem kennis van wat ek gesê het.”

Die dood van Agab

28 Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle leërs teen Ramot-Gilead gelei.

29 Koning Agab het vir Josafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek myself vermom sodat niemand my sal herken nie. Maar jy moet jou koninklike kleed dra.” Agab het homself vermom en hulle het begin veg.

30 Die koning van Aram het die aanvoerders van die strydwaens beveel: “Val net die koning van Israel aan, nie al die ander soldate nie!”

31 Toe die Aramese aanvoerders van die strydwaens vir Josafat in sy koninklike kleed sien, roep hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het hulle aanval op hom gerig. Maar Josafat het tot die Here geroep om hom te red, en God het hom gehelp deur die aanval van hom af weg te keer.

32 Toe die aanvoerders van die strydwaens besef dat hy nie die koning van Israel was nie, het hulle hom nie verder agtervolg nie.

33 ’n Aramese soldaat het egter blindweg ’n pyl na die soldate van Israel afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref. “Draai om en kry my hier uit!” roep Agab vir die drywer van sy strydwa. “Ek is ernstig gewond!”

34 Die geveg het egter die hele dag gewoed en Agab het homself in die strydwa gestut en tot die aand toe teen die Arameërs geveg. Net toe die son sak, het hy gesterf.

2 KRONIEKE 19

Josafat stel regters aan

1 Toe Josafat van Juda veilig tuiskom in Jerusalem,

2 het Jehu die siener, seun van Ganani, hom tegemoetgegaan en vir koning Josafat gevra: “Hoekom help u die goddelose en betoon u liefde aan ’n hater van die Here? Wat u gedoen het, het die toorn van die Here teen u laat ontvlam.

3 Maar u het ook goeie dinge gedoen, want u het die Asjerapale dwarsdeur die land vernietig en u het u daarop toegespits om God te dien.”

4 Josafat het in Jerusalem gewoon, maar het weer tussen sy mense rondgegaan. Hy het van Berseba tot by die Efraimsberge gereis en die mense aangemoedig om hulle tot die Here die God van hulle voorouers te bekeer.

5 Hy het in al die versterkte stede oor die hele land van Juda regters aangestel

6 en aan hulle bepaalde opdragte gegee: “Dink versigtig voordat julle oordele uitspreek. Onthou dat julle nie regspreek om mense te bevredig nie, maar om die Here te bevredig. Hy sal by julle wees wanneer julle uitspraak lewer.

7 Vrees die Here en oordeel met versigtigheid, want die Here ons God verdra nie verdraaide regspraak, partydigheid of die aanvaarding van omkoopgeld nie.”

8 Josafat het sommige van die Leviete en priesters en stamhoofde in Israel aangestel om op te tree as regters in Jerusalem met die oog op sowel die godsdienstige as die burgerlike geskille.

9 Dit was die opdragte aan hulle: “Julle moet altyd optree in eerbied vir die Here, met opregtheid en met onpartydigheid.

10 Wanneer ’n saak van ’n medeburger uit ’n afgeleë dorp voor jou gebring word, sou dit ’n moordsaak of ’n oortreding van God se gebooie, bevele, voorskrifte en bepalings wees, moet jy hulle waarsku om nie teen die Here te sondig sodat sy toorn nie oor julle en julle broers kom nie. As julle so optree, sal julle nie skuldig wees aan ’n misdaad teen die Here nie.

11 “Die hoëpriester Amarja sal die hoogste gesag oor julle wees in alle sake van die Here. Sebadja seun van Ismael, ’n leier in Juda, sal die hoogste gesag wees in alle sake van die koning. Die Leviete sal julle bystaan om seker te maak dat reg sal geskied. Tree op met moed wanneer julle julle pligte nakom, want die Here is aan die kant van hulle wat reg doen.”

2 KRONIEKE 20

Oorlog teen Moab, Ammon en

Edom

1 Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar.

2 Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3 Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die Here raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas.

4 Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die Here se hulp te soek.

5 Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die Here.

6 Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie.

7 Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?

8 U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou.

9 Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’

10 “Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie.

11 Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf.

12 Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

13 Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het,

14 het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15 Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16 Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

17 Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”

18 Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid.

19 Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.

20 Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.”

21 Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid:

“Loof die Here,

want sy troue liefde

duur vir altyd.”

22 Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.

23 Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.

24 Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie.

25 Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel.

26 Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.

27 Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die Here die oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28 Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die Here met die klank van harpe, liere en trompette.

29 Toe die omringende koninkryke hoor dat die Here self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom.

30 Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.

Opsomming van Josafat se

regering

31 Josafat het oor die land Juda geheers. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba dogter van Silgi.

32 Josafat was ’n goeie koning wat die voorbeeld van sy pa Asa gevolg het. Hy het volgehou om te doen wat reg was vir die Here.

33 Gedurende sy bewind het hy egter nagelaat om al die heidense hoogtes te verwyder. Die volk het hulleself ook nie ten volle aan die God van hulle voorouers verbind nie.

34 Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind is opgeteken inDie verhale van Jehu, seun van Gananiwat ingesluit is inDie boek van die konings van Israel.

35 Maar teen die einde van sy lewe het koning Josafat ’n verdrag gesluit met koning Ahasia van Israel, wat ’n baie goddelose man was.

36 Hulle het saam ’n vloot handelskepe in Esjon-Geber gebou om na Tarsis toe te vaar.

37 Eliëser seun van Dodawa uit Maresa het teen Josafat geprofeteer. Hy het gesê: “Omdat jy ’n verdrag met koning Ahasia aangegaan het, sal die Here jou werk vernietig.” Die skepe het vergaan en kon nie na Tarsis vaar nie.

2 KRONIEKE 21

Joram se bewind in Juda

1 Toe Josafat sterf, is hy in die Dawidstad by sy voorouers begrawe. Sy seun Joram het hom opgevolg.

2 Joram se broers, seuns van koning Josafat van Juda, was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja.

3 Hulle pa het waardevolle geskenke van silwer en goud, kosbare voorwerpe en ook versterkte stede in Juda aan elkeen van hulle gegee. Hy het die koningskap aan Joram gegee, want hy was die oudste.

4 Nadat Joram as koning gevestig was, het hy al sy broers en sommige van die ander leiers van Israel doodgemaak.

5 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.

6 Maar Joram het die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en was net so goddeloos soos koning Agab, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat baie verkeerd was vir die Here.

7 Maar die Here wou nie Dawid se koningshuis vernietig nie. Hy het immers ’n verbond met Dawid gesluit en belowe dat sy nageslag vir altyd op sy troon sou sit.

8 Gedurende Joram se regering het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en vir hulleself ’n koning gekroon.

9 Joram het Edom met sy volle leër en al sy strydwaens aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel, maar hy kon gedurende die nag ontsnap.

10 Tot vandag toe is Edom onafhanklik. Die dorp Libna het in hierdie tyd in opstand gekom teen die gesag van Joram. Dit was omdat hy die Here die God van sy voorouers verlaat het.

11 Hy het ook heidense hoogtes in die berge van Juda gebou, die inwoners van Jerusalem tot ontrouheid verlei en Juda op die verkeerde pad laat loop.

12 Elia die profeet het toe die volgende brief aan Joram gestuur:

Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa Josafat of jou oupa, koning Asa van Juda, gevolg nie.

13 Jy het net so goddeloos geword soos die konings van Israel. Jy het die inwoners van Jerusalem en Juda tot ontrouheid verlei, net soos koning Agab in Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers, lede van jou vader se familie, manne wat beter was as jy, doodgemaak.

14 Nou is die Here op die punt om jou en jou volk, jou kinders en jou vroue met ’n swaar slag te tref.

15 Jy sal getref word deur ’n ernstige siekte op te doen, ’n siekte wat jou inwendig sal aantas sodat jou ingewande sal uitkom.

16 Die Here het toe die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete gewoon het, aangehits om Joram aan te val.

17 Hulle het teen Juda opgetrek, sy versterkings afgebreek, en alles wat van waarde is in die koninklike paleis, insluitend sy seuns en vroue, weggevoer. Net sy jongste seun Ahasia is gespaar.

18 Hierna het die Here Joram met ’n ongeneeslike siekte van die ingewande getref.

19 Na die verloop van twee jaar het die siekte veroorsaak dat sy ingewande uitgekom het en hy ’n pynlike dood gesterf het. Sy volk het nie vir hom ’n vuur aangesteek soos hulle vir sy voorvaders gedoen het nie.

20 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar in Jerusalem geheers. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.

2 KRONIEKE 22

Ahasia regeer in Juda

1 Die inwoners van Jerusalem het toe Ahasia, die jongste seun van Joram, tot koning gekroon. Die plunderende bende Arabiere het al die ouer seuns doodgemaak. Ahasia, die jongste seun van Joram, het as koning oor Juda regeer.

2 Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van Omri.

3 Ahasia het ook die goddelose voorbeeld van die koningshuis van Agab gevolg, want sy ma het hom aangemoedig om verkeerde dinge te doen.

4 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos die koningshuis van Agab gedoen het. Na die dood van sy pa het Agab se familie sy raadgewers geword. Hulle het hom tot ondergang gelei.

5 Onder invloed van hulle raad het koning Ahasia ’n verdrag met koning Joram, seun van Agab van Israel, gesluit. Hulle het uitgetrek teen koning Gasael van Aram in Ramot-Gilead, maar die Arameërs het Joram in die geveg gewond.

6 Joram het na Jisreël teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael, die koning van Aram, te Rama. Koning Ahasia van Juda het ook na Jisreël gegaan om hom te besoek.

7 Dit was ’n fout, want die Here het besluit om Ahasia te straf. Ahasia en Joram het Jehu seun van Nimsi tegemoetgegaan. Die Here het bepaal dat Jehu die koningshuis van Agab tot niet moes maak.

8 Terwyl Jehu besig was om oordeel oor Agab se koningshuis te voltrek, het hy afgekom op leiers van Juda en die seuns van Ahasia se bloedverwante wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle doodgemaak.

9 Jehu het Ahasia laat soek en hom gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hy het hom ook doodgemaak.

Ahasia het ’n behoorlike begrafnis gekry, want daar is gesê: “Hy was die kleinkind van Josafat, ’n man wat die Here met sy hele hart gedien het.” Daar was geen oorlewende lid van Ahasia se familie wat in staat was om die koninkryk te regeer nie.

Atalia regeer in Juda

10 Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy die res van Juda se koningshuis uitgeroei.

11 Maar Jehoseba die dogter van koning Joram, het Ahasia se klein seuntjie Joas stilletjies weggevat tussen die ander seuns wat doodgemaak sou word. Sy het Joas en sy oppasser in ’n slaapkamer weggesteek. Jehoseba was die dogter van koning Joram en was getroud met Jojada die priester, en was die suster van Ahasia. Sy het die kind weggesteek sodat Atalia hom nie kon doodmaak nie.

12 Joas is ses jaar lank in die tempel van God weggesteek terwyl Atalia oor die land regeer het.

2 KRONIEKE 23

Opstand teen Atalia

1 In die sewende jaar van Atalia se regering het Jojada die priester besluit om op te tree. Hy het moed geskep en ’n ooreenkoms met vyf leërowerstes aangegaan: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja en Elisafat seun van Sikri.

2 Hierdie manne het deur die hele Juda gegaan en die Leviete en familiehoofde in die dorpe bymekaargemaak. Hulle het opdrag gekry om na Jerusalem toe te kom.

3 Hulle het almal by die tempel van God bymekaargekom en ’n verbond met Joas, die jong koning, gesluit.

Jojada het vir hulle gesê: “Die tyd het aangebreek dat die koning se seun moet regeer! Die Here het belowe dat ’n afstammeling van Dawid ons koning sou wees.

4 Julle moet soos volg optree: Wanneer die priesters en die Leviete op die Sabbat aan diens kom, moet een derde van hulle as deurwagte dien.

5 Nog een derde moet na die koninklike paleis gaan en die oorblywende derde na die Fondamentpoort. Almal wat oor is, moet in die voorhof van die Here se tempel bly.

6 Onthou dat net die priesters en Leviete aan diens die tempel van die Here mag binnegaan, want hulle is daarvoor afgesonder. Die res van die mense moet die Here se voorskrifte gehoorsaam en buite bly.

7 Leviete, julle vorm die lyfwag van die koning. Hou julle wapens gereed. Enige ongemagtigde persoon wat die tempel binnegaan, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”

8 Die Leviete en die hele Juda het presies so gedoen soos Jojada die priester beveel het. Elke bevelvoerder het sy manskappe geneem, dié wat op die Sabbat diens moes doen, asook dié wie se verpligtings voltooi was. Jojada die priester het nie toegelaat dat enigiemand huis toe gaan nadat hulle werkskof geëindig het nie.

9 Daarna het Jojada die bevelhebbers oor 100 voorsien van spiese en groot en klein skilde wat voorheen aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God bewaar is.

10 Hy het die wagte rondom die koning geplaas, gereed met hulle wapens. Hulle het ’n ry gevorm van die suidekant van die tempel af, om na die noordekant, en rondom die altaar.

11 Toe bring Jojada en sy seuns vir Joas, die koning se seun, en sit die kroon op sy kop. Hulle het ’n afskrif van God se gebooie aan hom gegee en hom tot koning verklaar. Daarna het hulle hom gesalf. Almal het uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

Die dood van Atalia

12 Toe Atalia hoor hoe mense hardloop en die koning toejuig, het sy gou na die mense by die tempel van die Here gegaan.

13 Sy het die pasgekroonde koning gesien wat op sy plek van gesag by die pilaar, by die ingang na die tempel gestaan het. Die leiers en trompetblasers was rondom hom, en mense van oral in die land het gejuig en op trompette geblaas. Sangers met musiekinstrumente het die lofliedere gelei. Toe Atalia dit alles sien, het sy haar klere in wanhoop geskeur en geskreeu: “Verraad! Verraad!”

14 Jojada die priester beveel toe die leiers wat in bevel was van die soldate: “Neem haar uit die tempel en maak enigeen met die swaard dood wat probeer om haar te red. Moet haar nie hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

15 Hulle het haar gevang en haar tot buite die Perdepoort by die paleis gevat. Daar het hulle haar doodgemaak.

Jojada se godsdienstige

hervormings

16 Daarna het Jojada ’n verbond gemaak tussen hom, die koning en die volk dat hulle ’n volk sal wees wat die Here dien.

17 Al die mense het na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het die altare vernietig en die afgodsbeelde verpletter. Hulle het ook Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.

18 Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer aan die Levitiese priesters toevertrou, volgens die voorskrifte van Dawid. Hulle moes ook brandoffers vir die Here bring soos voorgeskryf deur Moses, met gejuig en sang soos Dawid bepaal het.

19 Hy het ook poortwagters by die tempel van die Here aangewys om te sorg dat niemand kon binnegaan wat seremonieel onrein is nie.

20 Toe het die bevelvoerders oor honderd, die hooggeplaastes, die volksleiers en al die burgers van die land die koning begelei uit die tempel van die Here. Hulle het deur die boonste poort na die paleis gegaan en die koning op die koninklike troon laat sit.

21 Al die burgers van die land het gejuig en dit was rustig in die stad omdat Atalia dood was.

2 KRONIEKE 24

Joas herstel die tempel

1 Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het en hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba.

2 So lank as wat Jojada die priester geleef het, het Joas gedoen wat reg was vir die Here.

3 Jojada het twee vroue vir Joas gekies. Hy het seuns en dogters gehad.

4 Met verloop van tyd het Joas besluit om die tempel van die Here te herstel.

5 Hy het die priesters en Leviete opgeroep en die volgende opdrag gegee: “Gaan dadelik na al die dorpe van Juda en samel die vereiste jaarlikse bydrae van die hele Israel in sodat ons die tempel van julle God kan herstel. Moenie versuim nie!” Die Leviete het egter nie dadelik gegaan nie.

6 Die koning roep toe vir Jojada die hoëpriester en vra hom: “Hoekom het jy nie geëis dat die Leviete uitgaan en die tempelbelasting in die dorpe van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die dienaar van die Here, het hierdie belasting gehef op die gemeente van Israel om die tent van die getuienis te onderhou.”

7 Die volgelinge van die goddelose Atalia het destyds by die tempel van God ingebreek. Hulle het al die gewyde voorwerpe in die tempel van die Here vir die Baäldiens gebruik.

8 Joas het nou opdrag gegee dat ’n kis gemaak word en by die ingang na die tempel van die Here gesit moet word.

9 Hy het toe ’n bevel deur die hele Juda en Jerusalem gestuur dat die volk die belasting moes bring wat Moses, dienaar van God, in die woestyn van die Israeliete vereis het.

10 Dit het byval gevind by die leiers en die volk. Hulle het met blydskap die geld gebring en die kis daarmee vol gemaak.

11 Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is.

12 Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.

13 Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk.

14 Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die Here te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die Here gebring.

15 Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was.

16 Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel.

Jojada se hervormings word

omgekeer

17 Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister.

18 Hulle het toe besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand.

19 Die Here het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

20 Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die Here verlaat, en nou het Hy julle verlaat!”

21 Toe het die leiers saamgesweer om Sagaria dood te maak. Op bevel van koning Joas het hulle hom in die voorhof van die tempel gestenig.

22 Koning Joas het nie gedink aan die goedheid wat Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun doodgemaak. Sagaria se laaste woorde toe hy sterf, was: “Mag die Here sien wat julle doen en julle straf!”

Die einde van Joas se regering

23 Met die wisseling van die jaar het die Aramese leër teen Joas opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegeval en al die leiers van die volk doodgemaak. Daarna het hulle al die buit na hulle koning in Damaskus gestuur.

24 Hoewel die Arameërs met min soldate opgetrek het, het die Here hulle gehelp om die baie groter leër van Juda te verslaan. Die volk het die Here die God van hulle voorouers verlaat. Daarom is die oordeel oor Joas voltrek.

25 Die Arameërs het teruggetrek en Joas ernstig gewond agtergelaat. Sy eie offisiere het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van Jojada die priester laat doodmaak het. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.

26 Die moordenaars was Sabad seun van ’n Ammonitiese vrou met die naam Simat, en Josabad, seun van ’n Moabitiese vrou met die naam Somer.

27 Die volledige vertelling oor die seuns van Joas, die profesieë oor hom, en die verslag oor die herstel van die tempel van God is geskryf in dieKommentaar op die boek Konings. Toe hy sterf, het sy seun Amasia hom opgevolg.