JOHANNES 15

Die voorwaarde vir vrug dra

1 “Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier.

2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra.

3 Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.

4 Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.

5 “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

6 Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand.

7 As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

8 Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is.

9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly.

10 As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het.

11 Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.

12 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.

13 Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.

14 Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

15 Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.

16 Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

17 Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.”

Die wêreld haat gelowiges

18 “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het.

19 As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.

20 “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Aangesien hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Aangesien hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

21 Hulle sal al daardie dinge aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het nie ken nie.

22 As Ek nie gekom het en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuld gehad het nie, maar nou het hulle nie ’n verskoning vir hulle sonde nie.

23 Die een wat My haat, haat ook die Vader.

24 As Ek nie onder hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie. Maar nou het hulle dit reeds gesien en tog het hulle My en my Vader gehaat.

25 “Die uitspraak wat in hulle wet opgeskryf is, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

26 “Wanneer die Raadgewer kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader af uitgaan, sal Hy oor My in die openbaar getuienis aflê.

27 Julle moet ook aanhou getuig omdat julle reg van die begin af saam met My is.”

JOHANNES 16

1 “Ek het hierdie dinge nou vir julle uitgespel sodat julle nie struikel nie.

2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink hy bewys ’n besondere guns aan God.

3 Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie.

4 Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.”

Jesus se weggaan is tot die

dissipels se voordeel

5 “Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie.

6 Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig.

7 Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur.

8 En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is.

9 Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie;

10 van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie;

11 van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is.

12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie.

13 Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel.

14 Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel.

15 Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”

Blywende blydskap maak die

tydelike hartseer draaglik

16 “Nog net ’n kort tydjie, en julle sien My nie meer nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien.”

17 Sommige van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog net ’n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’?

18 Hierdie ‘kort tydjie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit tog? Ons verstaan nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.

19 Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’?

20 Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander.

21 ’n Vrou het pyn wanneer sy geboorte skenk omdat haar tyd gekom het. Wanneer die baba egter gebore is, onthou sy nie meer die swaarkry nie vanweë die groot blydskap dat daar ’n mens in die wêreld gekom het.

22 Julle ondervind ook nou hartseer. As Ek julle egter weer sien, sal julle harte oorloop van blydskap, en niemand sal dié blydskap weer van julle af wegneem nie.

23 En op daardie dag sal julle My niks meer uitvra nie. Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra in my Naam, sal Hy aan julle gee.

24 Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees.

25 “Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig.

26 Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie,

27 want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het.

28 Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.”

29 Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak.

30 Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.”

31 Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou?

32 Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is.

33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

JOHANNES 17

Jesus praat innig met sy Vader

1 Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik.

2 U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee.

3 En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

4 Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen.

5 Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

6 “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer.

7 Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom,

8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het.

9 Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is.

10 Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik.

11 Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees.

12 Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word.

13 “Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind.

14 Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.

15 Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar.

16 Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.

17 Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid.

18 Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.

19 En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees.

20 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo.

21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

22 En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.

23 Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet.

24 “Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25 “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het.

26 Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”

JOHANNES 18

Jesus word gearresteer

1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en sy dissipels het die tuin toe binnegegaan.

2 Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het.

3 Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die Olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens.

4 Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: “Wie soek julle eintlik?”

5 Hulle het Hom geantwoord: “Jesus van Nasaret.”

“Dit is Ek,” antwoord Jesus.

Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan.

6 En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.

7 Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?”

“Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.

8 Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.”

9 Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.”

10 Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus.

11 Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?”

Jesus verskyn voor Annas

12 Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei.

13 Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was.

14 Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf.

Petrus verloën Jesus die eerste

keer

15 Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan.

16 Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring.

17 Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?”

“Ek is nie!” antwoord Petrus.

18 Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak.

Die hoofpriester ondervra Jesus

19 Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense.

20 Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21 Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22 Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?”

23 Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?”

24 Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur.

Petrus verloën Jesus ’n tweede

en derde keer

25 Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê:

“Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?”

Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26 Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?”

27 Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai.

Jesus verskyn voor Pilatus

28 Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier.

29 Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?”

30 Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31 Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.”

Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.”

32 Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf.

33 Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?”

34 Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?”

35 “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?”

36 Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.”

37 “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”

38 Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie.

39 Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?”

40 Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.

JOHANNES 19

Jesus word onskuldig bevind, en

tog veroordeel

1 Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel.

2 En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek,

3 op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan.

4 Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.”

5 Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!”

6 Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle.

7 Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.”

8 Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword,

9 sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie.

10 Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?”

11 Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”

12 Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!”

13 Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees ‘Gabbata’.

14 Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle Koning!”

15 Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”

Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?”

Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.”

16 Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.

Jesus word gekruisig

17 Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”.

18 Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel.

19 Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”

20 Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks.

21 Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die Koning van die Jode.’”

22 Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

23 Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef.

24 Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:

“Hulle het my bo-klere

onder mekaar verdeel

en oor my onderkleed

het hulle die lot gewerp.”

Tot sover dan wat die soldate gedoen het.

25 Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.

26 Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.”

27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.

Jesus blaas sy laaste asem uit

28 Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29 ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.

30 Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

31 Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word.

32 Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was.

33 Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie.

34 Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.

35 Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom.

36 Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

37 Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”

Jesus se liggaam in ’n nuwe graf

neergelê

38 Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal.

39 Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring.

40 Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei.

41 Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie.

42 Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.

JOHANNES 20

Jesus het werklik opgestaan!

1 Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is.

2 Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

3 Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop.

4 Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom.

5 Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie.

6 Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê,

7 én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol.

8 Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.

9 Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10 Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.

Jesus verskyn eerste aan Maria

Magdalena

11 Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk.

12 Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant.

13 Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie.

15 Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”

Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”

16 Jesus sê vir haar: “Maria!”

Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

17 Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.”

18 Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!”

Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Jesus wys aan sy dissipels sy

hande en sy sy

19 Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20 Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien.

21 “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees!

23 Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”

Tomas wil eers self sien en voel

voordat hy sal glo

24 Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie.

25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.”

26 Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!”

27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!”

28 Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!”

29 Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.”

Die doel met die Evangelie

volgens Johannes

30 Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie.

31 Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.

JOHANNES 21

Jesus verskyn aan sewe dissipels

1 Daarna het Jesus weer aan sy dissipels by die Meer van Tiberias verskyn. Dit het só gebeur.

2 Die volgende dissipels was daar saam: Simon Petrus en Tomas (wat ook Didimus genoem is), Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander.

3 Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” Hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het in die skuit gaan klim, en het daardie nag niks gevang nie.

4 Net ná dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar sy dissipels was nie daarvan bewus dat dit Hý is nie.

5 Hy vra toe vir hulle: “Kinders, het julle nie iets om te eet nie?”

Hulle antwoord vir Jesus was net: “Nee.”

6 Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.” Hulle het die net toe uitgegooi, en kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis.

7 Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring.

8 Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep.

9 Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle:

10 “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.”

11 Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie.

12 Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is.

13 Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis.

14 Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.

Petrus ontvang ’n lewensopdrag

15 Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?”

Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.”

Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.”

16 Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”

“Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus.

Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.”

17 ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?”

Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”

Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape.

18 Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.”

19 Dit het Jesus gesê om te sinspeel op die soort dood waarmee Petrus God sou verheerlik.

Nadat Hy dit gesê het, sê Jesus vir Petrus: “Volg My as my dissipel!”

20 Toe Petrus omdraai, sien hy dat die lieflingdissipel Jesus volg. Dit is hy wat by die paasete tot baie na aan Jesus se bors oorgeleun en gevra het: “Here, wie is die een wat U gaan uitlewer?”

21 Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: “Wat van hom, Here?”

22 Jesus reageer daarop: “As Ek wil hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat het dit met jou te doen? Volg jý My!”

23 Hierdie gerug het toe onder die gelowiges rondgegaan dat daardie dissipel nie sal sterf nie. Jesus het egter nie vir Petrus gesê dat daardie dissipel nie sal sterf nie, maar eintlik net: “As Ek wou hê dat hy moet bly leef totdat Ek terugkeer, wat gaan dit jou aan?”

24 Hierdie dissipel is die een wat oor al hierdie dinge getuig en dit neergeskryf het, en ons is oortuig dat sy getuienis betroubaar is.

25 Daar bestaan nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. As hulle egter een vir een opgeskryf moes word, dink ek sou die wêreld nie plek hê vir al die boeke wat geskryf word nie.

HANDELINGE 1

1 Jesus belowe die Heilige Gees

aan sy dissipels

Beste Teofilus

In my eerste boek het ek jou vertel van alles wat Jesus begin doen en leer het

2 tot op die dag toe Hy opgeneem is.

Voor sy hemelvaart het Hy deur die Heilige Gees aan die mans wat Hy as apostels uitgekies het, opdragte gegee.

3 In die loop van 40 dae na sy lydenstyd het Hy by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn, en op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het telkens met hulle oor die koningsheerskappy van God gepraat.

4 ’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: “Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het:

5 Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6 Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het die apostels Jesus aanhou vra: “Here, is dit nou die tyd dat U Israel weer ’n onafhanklike volk met ’n eie koning gaan maak?”

7 “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie.

8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Jesus word in die hemel

opgeneem

9 Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.

10 Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.

11 Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Mattias word as Judas se

opvolger verkies

12 Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.

13 Hulle is toe na die bovertrek toe waar hulle tuisgegaan het. Die volgende persone was daar: Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Filippus, Tomas, Bartolomeus, Matteus, Jakobus (seun van Alfeus), Simon die Yweraar, en Judas (seun van Jakobus).

14 Hulle het almal saam aanhou bid. Maria, Jesus se ma, ander vroue en Jesus se broers was ook by.

15 In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van sowat 120 gelowiges. Petrus het tussen hulle opgestaan en gesê:

16 “Medegelowiges, dit was nodig dat die Skrif oor Judas vervul moes word – dié man wat die tempelpolisie wat Jesus wou arresteer, na Hom toe gelei het. Die Heilige Gees het dit al lankal voorspel toe Hy deur Dawid daaroor gepraat het.

17 Judas was inderdaad een van ons, en hy is ook saam met ons gekies vir hierdie bediening.”

18 (Met die omkoopgeld wat Judas vir sy verraad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en sy middellyf het oopgebars. Al sy ingewande het uitgepeul.

19 Die nuus oor sy dood het vinnig onder die inwoners van Jerusalem versprei. Hulle het daardie plek toe Akeldama genoem, ’n Aramese woord wat “Bloedgrond” beteken.)

20 Petrus het voortgegaan: “Dis presies soos dit in die Psalmboek geskryf staan:

‘Laat sy woonplek verlate word;

laat niemand daar bly nie.’

“En op ’n ander plek:

‘Laat iemand anders

sy toesigverantwoordelikheid

oorneem.’

21 “Daarom moet ons nou iemand anders kies. Dit moet een van die mans wees wat die hele tyd toe die Here Jesus by ons was, ook saam met ons was –

22 van die tyd toe Jesus heel aan die begin deur Johannes gedoop is, tot op die dag toe Hy van ons in die hemel opgeneem is. Die een wat gekies word, sal saam met ons ’n getuie wees van Jesus se opstanding.”

23 Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias.

24 Hulle bid toe saam dat die regte een verkies word. “Here,” het hulle gebid, “U ken elke hart. Wys ons watter een U gekies het

25 om as apostel te dien in die plek van Judas wat ons in die steek gelaat het en na die plek toe is waar hy hoort.”

26 Hulle het toe geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.

HANDELINGE 2

Die Heilige Gees op Pinksterdag

op die dissipelkring uitgestort

1 Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam.

2 Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was.

3 Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.

4 Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.

5 Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon.

6 Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het.

7 Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs,

8 en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat!

9 Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië,

10 Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome –

11 Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!”

12 Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra.

13 Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê.

Petrus se preek op Pinksterdag

14 Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister!

15 Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend al dronk nie.

16 Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het:

17 ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:

Ek sal my Gees uitstort op elke

mens.

Julle seuns en dogters

sal die woord van God

verkondig;

julle jongmense sal gesigte sien,

en julle oumense sal drome

droom.

18 Ja, op die mans en vroue

wat in my diens staan,

sal Ek in daardie dae

my Gees uitstort

en hulle sal my woord verkondig.

19 En Ek sal wonders gee

bo in die hemelruim

en wondertekens onder op die

aarde –

bloed en vuur en rookwolke.

20 Die son sal ’n donker kol word,

en die maan ’n bloedkol,

voordat die groot en heerlike

Dag van die Here kom.

21 Elkeen wat die Naam

van die Here aanroep,

sal verlos word.’

22 “Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het.

23 Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor.

24 God het Hom egter van die smarte van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie.

25 “Koning Dawid het die volgende van Hom gesê:

‘Ek het die Here altyd by my gesien.

Niks en niemand

sal my laat wankel nie,

want Hy is hier reg by my.

26 Dis hoekom my hart bly is,

en my tong jubel!

Ja, nog meer:

omdat ek hoop het,

leef ek rustig.

27 Ek weet U sal my gees

nie in Hades agterlaat nie

of toelaat dat u Heilige

in die graf vergaan nie.

28 U het my die paaie geleer

wat na die lewe lei,

U sal my bly maak

met u teenwoordigheid.’

29 “Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons.

30 “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit.

31 Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat:

Hy sal nie in Hades

agtergelaat word nie,

sy liggaam sal nie in die graf

vergaan nie.

32 “Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan.

33 Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor.

34 Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

35 totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

36 “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die eerste Pinksteroes word

ingebring

37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

38 Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

40 Petrus het nog lank aanhou getuig en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!”

41 Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000.

Die eerste gemeente in

Jerusalem – ’n besielende

42 Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede.

43 Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind.

44 Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel.

45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet.

47 Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.

HANDELINGE 3

’n Verlamde man beleef by

Mooipoort sy mooiste dag

1 Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd.

2 Net tóé word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel.

3 Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ’n bydrae by hulle vra.

4 Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: “Kyk na ons!”

5 Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ’n bydrae gaan kry.

6 Maar Petrus sê: “Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7 Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword.

8 Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in.

9 Die hele volk het gesien hoe hy loop en gehoor hoe hy God prys.

10 Toe hulle hom eien en besef dat dit hý is wat voor die tempel by Mooipoort gesit en bedel het, was hulle heeltemal verstom.

11 Hulle het van verwondering by die Pilaargang van Salomo saamgedrom terwyl die man gesorg het dat hy bý Petrus en Johannes bly.

Petrus lewer ’n preek in die

Pilaargang van Salomo

12 Toe Petrus dit agterkom, het hy soos volg op die mense gereageer: “Geagte Israeliete, wat is so besonders hieraan? Wat kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsdienstigheid veroorsaak het dat hierdie man kan rondstap?

13 “Dis die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders wat met hierdie daad Goddelike eer aan Jesus, sy Dienaar, gee. Dis hierdie selfde Jesus vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het, al was Pilatus se uitspraak dat Hy vrygelaat moes word.

14 Julle het hierdie heilige en opregte man verwerp, en eerder geëis dat ’n moordenaar vir julle vrygelaat word.

15 Julle het die Bron van lewe doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek! Van Hóm is óns getuies!

16 “Die Naam van Jesus het hierdie man se bene weer sterk gemaak – en julle weet hoe verlam hy was.

“Geloof in die Naam van Jesus het hom heeltemal gesond laat word, hier reg voor julle oë.

17 “Volksgenote, ek weet dat wat julle aan Jesus gedoen het, in onkunde gebeur het, en dieselfde geld van julle leiers.

18 “God was egter besig om te laat gebeur wat al die profete vroeër oor die Messias aangekondig het – dat Hy sou ly.

19 Kom tot inkeer en maak reg met God sodat Hy julle sondes sal uitwis.

20 Dan sal die teenwoordigheid van die Here tye van oplewing tot gevolg hê, en Hy sal Jesus julle Messias weer na julle toe stuur.

21 Hy moet in die hemel bly totdat die tyd aangebreek het wanneer God alles nuut maak, soos God dit lank gelede deur sy heilige profete belowe het.

22 “Moses het gesê: ‘Die Here julle God sal ’n Profeet soos ek uit julle volk vir julle laat voortkom. Luister mooi na alles wat Hy vir julle sê.’

23 Moses het ook nog verder gesê: ‘Elkeen wat nie na daardie Profeet luister nie, sal van die volk van God afgesny en vernietig word.’

24 “Van Samuel af het elke profeet gepraat oor wat vandag gebeur.

25 Júlle is die kinders van daardie profete, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. God het mos vir Abraham gesê: ‘In jou nageslag sal al die families van die aarde geseën word.’

26 Toe God sy Dienaar in die wêreld laat kom het, het Hy Hom heel eerste na julle, Israeliete, toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deurdat julle almal van julle verkeerde paaie af omdraai.”