LUKAS 19

Jesus gaan tuis by Saggeus

1 Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap.

2 En daar was iemand met die naam Saggeus; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man.

3 Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was.

4 Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan.

5 Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeus gesê: “Saggeus, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.”

6 Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang.

7 Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!”

8 Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9 Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is.

10 Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.”

Tien slawe ontvang muntstukke

om mee te woeker

11 Nadat die mense na Jesus geluister het, het Jesus self voortgegaan om ’n volgende gelykenis vir hulle te vertel. Die aanleiding was dat Jesus naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die koningsheerskappy van God skielik, ja, enige oomblik sou begin.

12 Jesus het gesê: “’n Sekere man van hoë afkoms het na ’n afgeleë landgebied vertrek om ’n koningskap te bekom en dan weer terug te kom.

13 Hy het sy tien slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Gaan doen besigheid daarmee totdat ek kom.’

14 Sy landgenote het hom egter gehaat en ’n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning oor ons hê nie.’

15 “By sy terugkoms, nadat hy die koningskap ontvang het, het hy hierdie slawe aan wie hy die geld gegee het, geroep met die doel om agter te kom watter wins hulle gemaak het.

16 Die eerste het aangetree en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het ’n wins van tien muntstukke opgelewer.’

17 Sy reaksie was: ‘Knap gedaan, goeie slaaf; omdat jy in die geringste getrou was, kry jy nou beheer oor tien stede.’

18 “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’

19 Aan hierdie slaaf sê hy toe: ‘Jy kry beheer oor vyf stede.’

20 “Nog een het gekom en gesê: ‘Meneer, kyk, hier is u muntstuk. Ek het dit in ’n doek gaan wegsteek.

21 Ek was bang vir u omdat u ’n hardvogtige besigheidsman is. U eis wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.’

22 “Hy sê vir hom: ‘Uit jou eie mond oordeel ek jou nou. Jy is ’n slegte slaaf! Jy was deeglik daarvan bewus dat ek ’n hardvogtige man is wat opvra wat ek nie belê het nie, en oes waar ek nie gesaai het nie.

23 Waarom het jy nie dan maar my geld in ’n bank belê nie? Dan sou ek dit met rente by my terugkeer kon getrek het.’

24 “Hy het toe aan die omstanders die opdrag gegee: ‘Vat die muntstuk van hom af weg, en gee dit aan die een wat die tien muntstukke het.’

25 Hulle antwoord hom: ‘Meneer, hy het dan alreeds tien muntstukke.’

26 “Ek sê vir julle: ‘Aan elkeen wat het, sal gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook weggevat word wat hy besit.

27 En daardie mense wat teen my vyandig was, wat nie wou hê dat ek koning oor hulle moet wees nie, bring hulle hier en maak hulle hier voor my oë dood.’”

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

28 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy voor die ander uit gegaan, op pad na Jerusalem toe.

29 Toe Hy naby Betfage en Betanië kom, teen die Olyfberg, het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur met die opdrag:

30 “Gaan na die dorpie daar oorkant; by die ingang sal julle ’n donkie kry wat vasgemaak is, waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hier.

31 As enigiemand vir julle vra: ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só sê: ‘Die Here het hom nodig.’”

32 Die twee dissipels wat deur Jesus gestuur is, gaan kry toe alles net soos Hy vir hulle gesê het.

33 Terwyl hulle besig is om die donkie los te maak, sê sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkie los?”

34 Hulle antwoord: “Die Here het hom nodig.”

35 Hulle het die donkie na Jesus toe gebring. Hulle het hulle bo-klere op die donkie oopgesprei, en Jesus laat opklim.

36 Terwyl Jesus vorentoe beweeg, het die mense hulle bo-klere op die pad oopgesprei.

37 Toe Hy naderkom, reeds op die afdraand van die Olyfberg, het die groot skare dissipels God uit volle bors begin loof en prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.

38 Hulle het gesing:

“Geseënd is Hy wat kom

in die Naam van die Here,

die Koning!

Vrede in die hemel

en heerlikheid

in die hoogste hemele!”

39 Sommige van die Fariseërs uit die skare het vir Jesus gesê: “Leermeester, bestraf jou dissipels!”

40 Jesus het gereageer: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

Jesus huil oor Jerusalem

41 Toe Hy naderkom en die stad voor Hom sien, het Jesus oor die stad begin huil.

42 Hy het verder gesê: “As jy op hierdie oomblik maar net wou insien watter dinge vir jou vrede bring! Maar nou is dit weggesteek vir jou oë.

43 Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante beleër.

44 Hulle sal jou met die grond gelykmaak en jou inwoners uitwis. En hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly nie omdat jy die beslissende tyd van God se genadige besoek aan jou verwerp het.”

Jesus maak die tempel skoon

45 Jesus het die tempelgebied ingegaan en die smouse begin uitjaag.

46 Hy sê vir hulle: “Daar staan geskryf:

‘My huis moet ’n huis van

gebed wees,’

maar julle het dit ’n grot

vir rowers gemaak.”

47 Jesus was dag na dag in die tempel besig om onderrig te gee. Die priesterhoofde en die skrifkenners en ook die ander volksleiers het ’n rede gesoek om Hom om die lewe te bring.

48 Hulle het egter niks gekry wat hulle in werking kon stel nie omdat die hele volk aan sy lippe gehang het.

LUKAS 20

Jesus se gesag uitgedaag

1 Op een van die dae, terwyl Jesus besig was om mense in die tempel te onderrig en die Goeie Nuus te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifkenners saam met die familiehoofde nadergestaan en

2 vir Jesus gevra: “Sê vir ons met watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het jou hierdie gesag gegee?”

3 Sy reaksie was: “Ook Ek het ’n vraag vir julle.

4 Sê My, die doop van Johannes – was dit uit die hemel afkomstig of was dit ’n bloot menslike saak?”

5 Hulle het dit toe onder mekaar bespreek: “As ons sê dat dit uit die hemel kom, sal Hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

6 En as ons sou sê: ‘Dit was ’n bloot menslike saak,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is vas oortuig dat Johannes ’n profeet is.”

7 Hulle antwoord was dat hulle nie weet waarvandaan dit kom nie.

8 Jesus het toe aan hulle gesê: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Gelykenis van die slegte

druiweboere

9 Hierna het Jesus vir die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan boere verhuur het. Daarna het hy vir ’n lang tyd weggegaan.

10 Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag.

11 Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook afgeransel, hom beledig en met leë hande teruggejaag.

12 Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag.

13 “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat staan my nou te doen? Ek sal my lieflingseun stuur. Hopelik sal hulle hom met respek behandel.’

14 “Toe die boere hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê: ‘Hierdie man is die erfgenaam. Laat ons hom doodmaak sodat die erfenis ons s’n kan wees.’

15 Hulle het hom toe uit die wingerd gejaag en vermoor.

“Wat moet die eienaar van die wingerd dan met hulle doen?

16 Hy sal opdaag en daardie boere doodmaak en die wingerd aan ander mense gee.”

Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit mag nooit gebeur nie!”

17 Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat is die betekenis van hierdie Skrifwoord dan?

‘Juis daardie klip wat die bouers

afgekeur het,

het die hoekklip

van die gebou geword.’

18 “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal vergruis word.”

19 Die skrifkenners en die priesterhoofde wou Hom daar en dan arresteer, maar hulle was bang vir die volk. Hulle het in elk geval besef dat hierdie gelykenis teen hulle gemik was.

Behoort mense belasting te

betaal?

20 Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer.

21 Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop.

22 Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?”

23 Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle:

24 “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?”

Hulle antwoord: “Die keiser s’n.”

25 Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.”

26 Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly.

Die Sadduseërs stel ’n

strikvraag oor die opstanding

27 Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus:

28 “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’

29 Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf.

30 Ook die tweede

31 en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf.

32 Laastens het ook die vrou gesterf.

33 Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?”

34 Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee,

35 maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie.

36 Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is.

37 Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’.

38 Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.”

39 Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.”

40 Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.

Jesus stel ook ’n strikvraag: Is

die Messias die Seun van

41 Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle dan beweer dat die Messias die seun van Dawid is?

42 Dawid sê self in die boek van die Psalms:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

43 totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

44 “Dawid noem Hom dan ‘Here’; hoe kan Hy sy seun wees?”

Jesus waarsku teen die

skrifkenners

45 Terwyl die hele volk aandagtig na Jesus luister, sê Hy aan sy dissipels:

46 “Lig loop vir die skrifkenners. Hulle wil graag op en af loop met hulle ampsklere aan. Hulle is ook lief daarvoor om op die markplekke met respek gegroet te word en om die voorste sitplekke in die sinagoges, asook die ereplekke by die etes in te neem.

47 Hulle verorber die huise van die weduwees en huigel met lang gebede. Hulle sal ’n swaarder straf ontvang.”

LUKAS 21

’n Brandarm weduwee se

kosbare gawe

1 Jesus het opgekyk en sy oog laat gaan oor hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi.

2 Hy sien toe ook hoe ’n arm weduwee twee muntstukkies ingooi,

3 en Hy sê: “Ek verseker julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as hulle almal.

4 Hulle almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy as lewensonderhoud gehad het.”

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam!

5 Terwyl sommige druk in gesprek was oor die tempel, oor die mooi klipblokke en gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê:

6 “Hierdie dinge wat julle sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op ’n ander een sal oorbly nie. Alles sal gesloop word.”

7 Hulle vra toe vir Jesus: “Leermeester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan gebeur?”

8 In reaksie daarop het Jesus gesê: “Pas op sodat julle nie mislei word nie, want baie sal na vore tree en maak of hulle namens My optree en sê: ‘Ek is die een,’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie!

9 Wanneer julle ook al hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie, want hierdie dinge moet eers gebeur, maar die einde volg nie onmiddellik nie.”

10 Daarop het Hy aan hulle gesê: “Nasie sal teen nasie optrek en koninkryk teen koninkryk.

11 Daar sal hewige aardbewings wees, en van plek tot plek sal daar hongersnood en epidemies wees. Daar sal vreesaanjaende dinge voorkom en magtige tekens van die hemel af.

12 “Nog voordat al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle arresteer en vervolg. Hulle sal julle aan die sinagoges en tronke oorlewer; hulle sal julle voor konings en goewerneurs sleep omdat julle in my Naam optree.

13 Dit sal aan julle ’n geleentheid gee om te getuig.

14 “Neem julle nou reeds voor om julle nie te bekommer oor julle verdediging nie,

15 want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie.

16 Julle sal uitgelewer word deur ouers, broers, familie en vriende, en hulle sal sommige van julle doodmaak.

17 Julle sal ook deur almal gehaat word omdat julle in my Naam optree.

18 Maar selfs nie ’n haar op julle kop sal verlore gaan nie.

19 Deur julle volharding sal julle julle lewe behou.”

Jesus se profesie-preek: die

verwoesting van Jerusalem

20 “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle kennis neem dat sy vernietiging aangebreek het.

21 Dan moet die mense wat in Judea is, na die berge toe vlug, en die mense wat in die middel van die stad self is, moet dit ontruim, en die mense wat op die platteland is, moet nie Jerusalem binnegaan nie.

22 Daardie dae is dae van vergelding sodat wat geskryf staan in vervulling moet gaan.

23 Groot ellende wag op die verwagtende vroue en ook op dié wat nog borsvoed gedurende daardie dae, want daar sal groot benoudheid in die land heers en God se toorn sal op hierdie volk rus.

24 Sommige sal deur die skerpkant van die swaard omkom en ander sal as gevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal vertrap word deur die vreemde nasies totdat die tyd van die nasies verby is.”

Jesus se profesie-preek: die

koms van die Seun van die

25 “Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref. En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe.

26 Mense word flou van vrees en van die voorbodes oor wat nog vir die wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word.

27 En dan sal hulle vir My, die Seun van die Mens, sien kom op ’n wolk met krag en groot heerlikheid.

28 Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”

Jesus se profesie-preek: die

gelykenis van die vyeboom

29 Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome.

30 Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is.

31 Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.

32 Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie.

33 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.”

Jesus se profesie-preek: oproep

om waaksaam te bly

34 “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds

35 soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom.

36 Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.”

37 Bedags was Jesus besig om in die tempel onderrig te gee en snags het Hy uitgegaan en op die Olyfberg gaan oornag.

38 En soggens vroeg het die hele volk na Hom kom luister in die tempel.

LUKAS 22

Judas onderneem om Jesus uit

te lewer

1 Die Fees van die Ongesuurde Brood, wat ook Pasga genoem word, was baie naby.

2 Die priesterhoofde en die skrifkenners het steeds bly soek na ’n onopvallende manier om van Jesus ontslae te raak, want hulle was bang vir die volk.

3 Satan het in Judas ingevaar wat Iskariot genoem is, een van die twaalf.

4 Hy het toe weggegaan om te onderhandel met die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer.

5 Hulle was opgewonde en het ooreengekom om geld aan hom te gee.

6 Judas het ten volle ingestem en na ’n gunstige geleentheid gesoek om Jesus uit te lewer waar die skares nie teenwoordig is nie.

Die laaste paasmaaltyd genuttig

7 Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek.

8 Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê: “Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.”

9 Hulle vra toe vir Jesus: “Waar verkies U dat ons dit voorberei?”

10 Hy antwoord hulle: “Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan,

11 en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’

12 Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.”

13 Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry.

14 Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom.

15 Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly.

16 Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.”

17 Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar.

18 Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.”

19 Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.”

20 Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word.

21 “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel.

22 Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!”

23 Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen.

Die belangrikste in die

koninkryk van God

24 Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

25 Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners.

26 “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien.

27 Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien.

28 Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het.

29 “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle

30 sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.”

Selfs die rots Petrus gaan voor

die aanslag van Satan swig

31 “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif,

32 maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.”

33 Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.”

34 Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.”

35 Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?”

Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!”

36 Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop.

37 Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.”

38 Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.”

Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.”

Jesus worstel in gebed met sy Vader

39 Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg.

40 Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”

41 Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid:

42 “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!”

43 Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk.

44 Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup.

45 Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer.

46 Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.”

Judas se verraderlike soen sit

die finale proses aan die gang

47 Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet.

48 Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?”

49 Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?”

50 Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap.

51 Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak.

52 Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower?

53 Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”

Petrus verloën sy Leermeester,

soos Jesus voorspel het

54 Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg.

55 In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56 ’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.”

57 Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!”

58 ’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.”

Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!”

59 Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.”

60 Petrus het geantwoord: “Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!” Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai.

61 Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.”

62 En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.

Soldate dryf die spot met Jesus

63 Die soldate wat Jesus bewaak het, het Hom gekoggel en geslaan.

64 Hulle het Hom geblinddoek en aanhou sê: “Profeteer wie dit is wat jou geslaan het!”

65 Hulle het Hom bly laster deur baie ander dinge teen Hom kwyt te raak.

Jesus word deur die Joodse Raad

skuldig bevind

66 Toe die nuwe dag breek, het die volksleiers, dit is die priesterhoofde en skrifkenners, saamgekom en hulle het Jesus voor hulle Raad gebring.

67 Hulle sê toe: “As jy die Messias is, sê dit vir ons.”

Hy het hulle geantwoord: “As Ek dit vir julle sou sê, sal julle My glad nie glo nie.

68 Al sou Ek ook ’n vraag stel, sal julle glad nie antwoord nie.

69 Maar van nou af sal Ek, die Seun van die Mens, aan die regterhand van die sterke God sit.”

70 Toe vra hulle almal: “Is jy dan die Seun van God?”

Hy antwoord hulle: “Dit is soos julle sê – Ek is.”

71 Die reaksie was: “Waarom het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos nou self uit sy eie mond gehoor!”

LUKAS 23

Pilatus bevind Jesus onskuldig,

maar die Joodse leiers dring aan

1 Die hele vergadering het opgestaan en Jesus voor Pilatus gebring.

2 Hulle het die klag teen Hom begin voorlê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk opsweep; hy verbied hulle om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy beweer dat hy self die Messias, die Koning is.”

3 Pilatus het Hom toe gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”

Jesus het hom geantwoord: “Dit is soos u sê.”

4 Daarop het Pilatus aan die priesterhoofde en die skare gesê: “Ek vind niks krimineels aan hierdie man nie.”

5 Hulle het opgesweep geraak en aanhou roep: “Hy hits deur sy onderrig die volk deur die hele Judea aan. Hy het in Galilea begin en nou is hy ook hier.”

6 Toe Pilatus dit hoor, het hy probeer uitvind of die man dan ’n Galileër is.

7 Nadat hy hom daarvan vergewis het dat Jesus wel uit dié gebied afkomstig is wat onder Herodes se beheer val, het hy Jesus na Herodes toe gestuur, wat juis gedurende daardie tyd in Jerusalem was.

8 Herodes was baie opgewonde om Jesus te sien. Hy het al vir ’n lang tyd die begeerte gehad om Jesus te sien omdat hy al soveel van Hom gehoor het. Hy het ook gehoop om te sien hoe Jesus die een of ander wonderteken verrig.

9 Hy het Jesus vraag op vraag gevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.

10 Die priesterhoofde en die skrifkenners het daar gestaan en Jesus heftig beskuldig.

11 Herodes, saam met sy soldate, het Jesus met veragting bespot. Hy het Hom ’n blink kleed aangetrek en Jesus teruggestuur na Pilatus toe.

12 Op daardie dag het Herodes en Pilatus mekaar se vriende geword, want vroeër was hulle vyande.

13 Daarna het Pilatus die priesterhoofde en die volksleiers bymekaargeroep

14 en aan hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as iemand wat die volk opgesweep het om te rebelleer. Ek het hom voor julle oë ondervra en ek het geen gronde gekry vir die aanklag waarvan julle hom beskuldig nie.

15 Herodes het ook nie gronde gekry nie, want hy het hom teruggestuur na ons toe. Let ook daarop, Jesus het niks gedoen wat die doodstraf verdien nie.

16 Nadat ek hom laat gésel het, sal ek hom vrylaat.”

18 Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: “Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!”

19 (Barabbas was in die tronk gegooi oor ’n oproer in die stad en oor ’n moord.)

20 Pilatus het weer met hulle gaan redeneer omdat hy Jesus wou vrylaat,

21 maar hulle het dit bly uitkreet: “Kruisig, kruisig hom!”

22 Vir die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het hierdie man gedoen? Ek het in hom geen gronde vir die doodstraf gekry nie. Ek sal hom laat gésel en dan vrylaat.”

23 Die mense het egter met oorverdowende stemme aanhou roep en eis dat Jesus gekruisig moes word. Hulle geskree het die oorhand gekry.

24 Pilatus het daarop besluit dat hulle versoek uitgevoer moes word.

25 Hy het die man wat as gevolg van ’n opstand en moord in die tronk gegooi was, vrygelaat soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy volgens hulle wens uitgelewer.

Jesus gekruisig

26 Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra.

27 ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het.

28 Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders

29 omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’

30 Dan sal mense aan die berge sê:

‘Val op ons!’

en aan die heuwels:

‘Bedek ons!’

31 “As hulle hierdie dinge aan ’n groen boom doen, wat sal dan met die droë gebeur?”

32 Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word.

33 Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.

34 Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

35 Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!”

36 Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied

37 en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.”

38 Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.”

39 Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!”

40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!

41 Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”

42 Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”

43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus van Nasaret, die Seun van

God, sterf

44 Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe.

45 Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur.

46 Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas.

47 Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.”

48 Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan.

49 Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou.

Jesus word begrawe

50 Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man.

51 Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God.

52 Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra.

53 Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie.

54 Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat.

55 Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word.

56 Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei.

Op die Sabbat het hulle gerus volgens die gebod in die wet.

LUKAS 24

Hy is nie meer in die graf nie;

Hy is opgewek!

1 Douvoordag op die Sondagoggend het die vroue na die graf toe gegaan met die aromatiese olie wat hulle voorberei het.

2 Daar aangekom, kry hulle die steen weggerol van die ingang van die grotgraf af.

3 Hulle het ingegaan, maar nie die liggaam van die Here Jesus daar gekry nie.

4 Hulle was heeltemal uit die veld geslaan daaroor.

Skielik staan daar tussen hulle twee mans met helder blink klere aan.

5 Die vroue was verskrik en het hulle gesigte afgebuig grond toe. Die mans sê vir hulle: “Waarom soek julle die lewende tussen die lyke?

6 Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek. Onthou julle hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het:

7 ‘Die Seun van die Mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan’?”

8 Hulle het toe sy woorde onthou,

9 en teruggedraai van die graf af en al hierdie dinge aan die elf en al die ander vertel.

10 Die vroue was Maria Magdalena, Johanna, Maria, die ma van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle. Hulle het hierdie dinge aan die apostels gaan vertel,

11 maar vir laasgenoemdes het hierdie dinge soos kletspraatjies geklink en hulle het die vroue nie geglo nie.

12 Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy buk om in te loer, sien hy net die linnedoeke. Verbaas oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Saam met die opgestane Here

op pad na Emmaus

13 En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem.

14 Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het.

15 Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop.

16 Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken.

17 Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?”

Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan.

18 Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.”

19 Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?”

Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk.

20 Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word.

21 Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het.

22 Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf,

23 maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe.

24 Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.”

25 Toe sê Jesus vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo!

26 Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?”

27 Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer.

28 Toe hulle naderkom aan die dorpie waarheen hulle op pad was, het Jesus voorgegee dat Hy verder wil reis.

29 Maar hulle het by Hom aangedring: “Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.” Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly.

30 Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee.

31 Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn.

32 Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?”

33 Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle,

34 wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!”

35 Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood.

Jesus verskyn aan die dissipels

36 Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

37 Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien.

38 Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op?

39 Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.”

40 Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41 Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?”

42 Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis.

43 Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet.

44 Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek nog saam met julle was, het Ek aan julle verduidelik dat alles wat in die wet van Moses en in die profete en die psalms oor My geskryf is, vervul moet word.”

45 Toe het Hy hulle verstand geopen om die Skrifte te verstaan.

46 Daarop het Hy gesê: “Só staan dit opgeteken: ‘Die Messias moet ly en op die derde dag opstaan uit die dood.’

47-48 En op grond van sy Naam moet bekering tot vergifnis van sondes aan al die nasies verkondig word. Julle moet by Jerusalem begin en van hierdie dinge getuig.

49 “En kyk, Ek sal die belofte van my Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.”

Jesus vaar op na die hemel

50 Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën.

51 Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.

52 Hulle het toe neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle met groot vreugde teruggegaan na Jerusalem toe.

53 Daar het hulle al hulle tyd in die tempel deurgebring en God geloof.

JOHANNES 1

1 Die Woord … self God!

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.

Die Woord was by God,

en die Woord was self God.

2 Hy was reeds in die begin

by God.

3 Alles het deur Hom ontstaan,

en sonder Hom het nie een ding

wat bestaan,

ontstaan nie.

4 In Hom was daar lewe,

en dié lewe het gedien as die lig

vir die mense.

5 Die lig skyn in die duisternis,

ja – die duisternis het dit nie

uitgedoof nie!

6 Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes.

7 Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo.

8 Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.

9 Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld.

10 Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie.

11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.

12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

13 Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

15 Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”

16 Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

17 Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18 Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.

Johannes die Doper: ’n stem wat

roep in die woestyn

19 Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”

20 Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”

21 En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”

“Nee, ek is nie,” sê Johannes.

“Is jy dan die profeet?”

“Beslis nie!” het hy geantwoord.

22 Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”

23 Sy reaksie was:

“Ek is ’n stem

wat roep

in die woestyn:

‘Maak die pad van die Here

reguit.’”

Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.

24 Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.

25 Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”

26 Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie.

27 Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

28 Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God uitgewys

29 Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

30 Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’

31 Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”

32 Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit.

33 Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’

34 Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”

Twee dissipels van Johannes die

Doper word Jesus se eerste

35 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels.

36 Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!”

37 Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg.

38 Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?”

Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit ‘leermeester’ – “waar gaan U tuis?”

39 Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.

40 Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.

41 Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”

42 Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’vertaal word) genoem word.”

43 Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg my!”

44 Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp.

45 Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.”

46 Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi.

47 Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.”

48 Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?”

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.”

49 Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50 Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51 Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”

JOHANNES 2

Jesus verander water in wyn by

’n bruilof

1 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana, in die Galilea-gebied. Jesus se ma het dit bygewoon

2 en Hy en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi.

3 Toe die wyn opraak, sê Jesus se ma vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4 Jesus se reaksie was: “Wat het dit met My en jou te doen, Vrou? My tyd het nog nie gekom nie.”

5 Sy ma sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle gaan doen.”

6 Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Elkeen het ongeveer 100 liter gehou.

7 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!”

Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.

8 Toe sê Jesus ook nog vir hulle: “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen.

9 Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het wel geweet.)

10 Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom: “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor, en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte; jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11 Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.

12 Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.

Jesus maak die tempel skoon

13 Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.

14 In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels.

15 Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16 En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!”

17 Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.”

18 Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?”

19 Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.”

20 Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?”

21 Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat.

22 Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het.

23 Terwyl Jesus tydens die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het baie mense in Hom begin glo toe hulle die wondertekens sien wat Hy gedoen het.

24 Jesus self het egter nie op hulle staatgemaak nie omdat Hy alle mense ken.

25 Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom oor die mens sou inlig nie, want Hy het self kennis gedra van wat in ’n mens aangaan.

JOHANNES 3

Nikodemus besoek Jesus in die

nag

1 Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode.

2 Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.”

3 Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4 Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?”

5 Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.

6 Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees.

7 Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie.

8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9 Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?”

10 Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie?

11 Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie.

12 As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel?

13 Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens.

14 Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word

15 sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.

16 “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

19 Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.

20 Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.

21 Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”

Johannes die Doper getuig dat

hy nie self die Messias is nie

22 Hierna het Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek. Hy het daar saam met die dissipels oorgebly en mense gedoop.

23 Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop.

24 Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie.

25 Daar het toe ’n meningsverskil oor reinigingsgebruike ontstaan tussen Johannes se dissipels en ’n Joodse man.

26 Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, die man wat aan die oorkant van die Jordaanrivier saam met u was, oor wie u getuig het, Hy doop ook en almal stroom na Hom toe.”

27 Johannes het daarop reageer: “’n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie.

28 Julle self is my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Messias nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’

29 Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap.

30 Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem.

31 “Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit.

32 Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie.

33 Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur verseël dat God regtig God is.

34 Hóm het God gestuur om die woorde van God mee te deel, want God gee Hom sy Gees sonder om dit af te meet.

35 Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee.

36 Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.”

JOHANNES 4

Jesus in gesprek met ’n

Samaritaanse vrou

1 Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes.

2 (Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.)

3 Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek.

4 Hy moes deur Samaria reis.

5 Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.

6 Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7 ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.”

8 Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop.

9 Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie.

10 Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11 Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water?

12 Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.”

13 Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word.

14 Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.”

15 Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.”

16 Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.”

17 Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.”

Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’

18 Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”

19 Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is.

20 Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.”

21 Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

22 Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode.

23 Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.

24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

25 Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.”

26 Toe sê Jesus vir haar: “Ék is hy – Ek wat nou met jou praat!”

27 Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie.

28 Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:

29 “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?”

30 Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom.

31 Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.”

32 Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.”

33 Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?”

34 Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.

35 Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.

36 Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.

37 In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’

38 Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”

Baie Samaritane glo in Jesus

39 Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40 Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly.

41 Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo.

42 Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”

Jesus maak die seun van ’n

koninklike amptenaar gesond

43 Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek.

44 Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie.

45 Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees.

46 Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was.

47 Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend.

48 Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.”

49 Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.”

50 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek.

51 Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef.

52 Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.”

53 Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo.

54 Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.