TITUS 1

1 Paulus skryf aan sy geloofskind

Titus en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek is gestuur om dié wat God gekies het, tot geloof te lei en om hulle die waarheid te leer wat hulle wys hoe om godvrugtig te lewe.

2 Hierdie waarheid gee aan hulle die vooruitsig op die ewige lewe wat God aan hulle beloof het nog voor die wêreld geskep is – en Hy kan nie lieg nie.

3 En nou, op die regte tyd, het Hy hierdie boodskap bekendgemaak, en ons verkondig dit aan almal. Dit is deur die opdrag van God ons Verlosser dat ek vertrou word om hierdie werk vir Hom te doen.

4 Hierdie brief word gerig aan Titus, my ware kind in die geloof wat ons met mekaar deel. Mag die genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser met jou wees.

Advies aan Titus en die

gemeente op Kreta

5 Ek het jou op die eiland Kreta agtergelaat om ons werk daar af te rond en om ouderlinge in elke dorp aan te stel soos ek jou beveel het.

6 ’n Ouderling moet gerespekteer wees vir sy goeie lewe. Hy moet getrou wees aan sy vrou, en sy kinders moet gelowiges wees wat nie wild of opstandig is nie.

7 As bestuurder van God se huishouding moet ’n ouderling ’n onberispelike lewe lei. Hy moenie arrogant of humeurig wees nie; hy moet hom ook nie aan drank vergryp of gewelddadig of geldgierig wees nie.

8 Hy moet gasvry wees en alles wat goed is, liefhê. Hy moet met wysheid lewe en regverdig wees. Hy moet ’n toegewyde en gedissiplineerde lewe lei.

9 Hy moet ’n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is; dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is.

10 Want daar is baie wat opstandig is teen die regte onderrig; hulle is praatjiesmakers en mislei mense. Dit is veral waar van dié uit die Jodedom.

11 Hulle moet tot swye gebring word. Deur hulle verkeerde leer laat hulle hele gesinne van die waarheid afwyk – en dit vir skaamtelose winsbejag.

12 Een van hulle eie mense, ’n profeet uit Kreta, het van hulle gesê: “Die Kretensers is almal leuenaars; hulle is wilde diere en lui vrate.”

13 Dit is waar. Berispe hulle dus so streng moontlik om hulle weer gesond in die geloof te maak.

14 Hulle moet ophou om na Joodse mites en na die opdragte van mense te luister wat hulle rug op die waarheid gedraai het.

15 Enigiets is rein vir dié wie se harte rein is. Maar niks is rein vir hulle wat korrup en ongelowig is nie, want hulle gedagtes en gewetens is besoedel.

16 Sulke mense gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. Hulle is verwerplik en rebels, ware deugniete wat tot niks goeds in staat is nie.

TITUS 2

Bevorder die gesonde leer en ’n

leefstyl wat daarby pas

1 Maar jý moet die soort leefstyl bevorder wat die gesonde leer weerspieël.

2 Leer die ouer mans om selfbeheersing te beoefen, om respek te verdien, en om verstandig te lewe. Hulle moet ’n gesonde geloof hê en vervul wees met liefde en geduld.

3 Net so moet jy ook die bejaarde vroue onderrig om só te leef soos dit iemand betaam wat aan die Here toegewy is. Hulle moet nie rondloop en skinder nie, ook nie aan wyn verslaaf wees nie. Hulle moet liewer goeie dinge vir ander leer.

4 Hierdie bejaarde vroue moet die jong vroue leer om hulle mans en kinders lief te hê

5 en om met selfbeheersing en rein te leef, om goeie tuisteskeppers te wees wat onderdanig is aan hulle eie mans. Dan sal die boodskap van God nie belaster word nie.

6 Net só moet jy die jonger mans aanmoedig om met selfbeheersing te lewe

7 in alles. Jy moet ’n goeie voorbeeld stel, suiwerheid in die leer handhaaf,

8 met gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal die teenstanders beskaamd staan omdat hulle dan niks slegs oor ons te sê het nie.

9 Die slawe moet in alle opsigte aan hulle eie eienaars onderdanig wees en hulle tevrede hou. Hulle moet nie teëstribbel of

10 steel nie, maar toon dat hulle goed en ten volle betroubaar is. Op só ’n manier sal hulle in alles wat hulle aanpak, die onderrig oor ons Verlosser aantreklik maak.

11 Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword.

12 Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef.

13 Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word.

14 Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.

15 Oor hierdie dinge moet jy praat. Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys. Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.

TITUS 3

1 Herinner die mense om hulle aan die regeerders en gesagsinstansies te onderwerp. Hulle moet aan hulle gehoorsaam wees, altyd gereed om te doen wat goed is.

2 Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie bakleierig wees nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd saggeaard teenoor almal optree.

3 Eens op ’n tyd was ons ook dwaas en ongehoorsaam. Ons was verlei en verslaaf aan baie begeertes en allerlei bose plesiere. Ons het ons lewens deurgebring in boosheid en jaloesie. Ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4 Toe het die goedheid

van God ons Verlosser

en sy liefde vir mense verskyn.

5 Hy het ons verlos,

nie op grond van wat ons gedoen het

vir ons vryspraak nie,

maar slegs op grond

van sy eie ontferming.

Dit het Hy vermag

deur die reiniging

van die weergeboorte

en deur die Heilige Gees

wat ons vernuwe.

6 Hy het die Gees ryklik

op ons uitgestort

op grond van wat Jesus Christus

ons Verlosser gedoen het.

7 Só is ons vrygespreek

deur sy genade,

en het ons erfgename geword

van die ewige lewe

waarop ons hoop.

8 Hierdie boodskap is betroubaar. Daarom wil ek hê jy moet hierdie dinge met groot beslistheid handhaaf sodat hulle wat op God vertrou, hulle op goeie werke kan toespits, dit wil sê werke wat goed en voordelig vir mense is.

Paulus groet met ’n paar

praktiese wenke

9 Moet tog nie betrokke raak in dwase twisgesprekke en geslagsregisters of in twiste en struwelinge oor die wet nie, want dit is onproduktief en tevergeefs.

10 Vermy ’n skeurmaker wat na een of twee vermanings nog daarmee voortgaan

11 omdat jy weet dat sulke persone die spoor byster is. Deur hulle eie sonde veroordeel hulle hulleself.

12 Wanneer ek Artemas of Tigikus na jou toe stuur, moet jy jou bes doen om my in Nikopolis te ontmoet, want ek het besluit om daar te oorwinter.

13 Doen jou bes om Senas, die regsgeleerde, en Apollos met hulle reis te help sodat hulle niks kortkom nie.

14 Ons mense moet leer om nie onproduktief te leef nie. Hulle moet uitmunt in goeie dade om in ander se behoeftes te voorsien.

15 Almal hier by my stuur groete. Dra ons groete oor aan al die gelowiges wat liefde teenoor ons koester.

Mag die genade van God met julle almal wees.