SPREUKE 11

1 Die Here haat ’n skaal

wat nie reg weeg nie.

’n Akkurate lesing

dra sy goedkeuring weg.

2 Verwaandheid

bring vernedering.

Nederigheid bring wysheid.

3 Die opregtheid

van eerlike mense

wys vir hulle die koers.

Die valsheid

van onbetroubare mense

bring hulle ondergang.

4 Rykdom gaan niks help

op die dag van oordeel nie.

Om reg te lewe

sal jou red van die dood.

5 Die gehoorsaamheid

van die opregte

maak sy pad gelyk.

Die goddelose

sal deur sy goddeloosheid

inmekaarstort.

6 Die betroubaarheid

van eerlike mense

sal hulle red.

Onbetroubare mense

se eie gierigheid

sal hulle inhaal.

7 ’n Slegte mens gaan dood

saam met alles

wat hy begeer het.

Sy verwagtings

was net op sy eie mag gebou.

8 God bevry die regverdige

uit sy nood;

Hy laat goddeloses

in daardie nood verval.

9 Goddeloses vernietig mense

met hulle woorde.

Dié wat reg lewe, word

deur hulle kennis gered.

10 ’n Stad juig oor die voorspoed

van die regverdiges.

Dit jubel as goddelose mense

te gronde gaan.

11 As opregte mense ’n stad prys,

bring dit voorspoed

vir die stad.

Die woorde van goddeloses

laat dit agteruitgaan.

12 Om neerhalend

van ander te praat,

getuig van dwaasheid.

’n Verstandige mens

sal eerder stilbly.

13 ’n Geskinder lap geheime uit;

betroubare mense

bewaar geheime.

14 Sonder goeie leiding

stort ’n volk in duie;

dit is veilig

om baie raadgewers te hê.

15 Dit is gevaarlik

om vir ’n vreemdeling borg te staan;

dit is veiliger om daarvoor nee te sê.

16 ’n Deugsame vrou

verdien agting.

Gewelddadiges jaag na rykdom.

17 ’n Mens wat vrygewig is,

baat self daarby.

’n Wrede mens

vernietig homself.

18 Goddeloses word skynbaar

gou ryk,

maar dit hou nie.

Die regverdige

sal ’n beloning kry

wat vir altyd hou.

19 Lewe wag vir hulle

wat regverdig is.

Die dood wag vir hulle

wat agter kwaad aan is.

20 Die Here het ’n afsku

aan agterbakse mense.

Hy is lief vir mense

wat onberispelik lewe.

21 Slegte mense

sal baie beslis nie loskom nie.

Die nageslag

van die regverdiges

sal vrygespreek word.

22 ’n Mooi vrou

sonder gesonde oordeel

is soos ’n goue ring

in ’n vark se snoet.

23 Die regverdiges wens altyd

vir die regte dinge.

Waarvoor die goddeloses wag,

bring net straf.

24 Mense wat graag uitdeel,

ontvang altyd meer.

Daar is ander wat suinig is

en hulle word arm.

25 Mense wat

’n ander iets gun,

het self altyd oorvloed.

Hulle wat ander se dors les,

is self altyd verkwik.

26 Mense vervloek

selfsugtige mense

wat weier om koring te verkoop.

Hulle seën iemand

wat bereid is om te verkoop.

27 ’n Persoon geniet aanvaarding

as hy die goeie nastreef.

Kwaad haal die een in

wat daarop uit is.

28 Iemand wat staatmaak

op rykdom,

kom juis tot ’n val.

Iemand wat reg doen,

floreer

soos groen blare aan ’n boom.

29 Die een

wat in sy huis

ongelukkigheid bring,

sal naderhand die wind erf.

’n Onverstandige mens

word die slaaf

van iemand met wysheid.

30 Iemand wat reg optree,

is soos ’n vrugbare boom.

’n Mens wat wys is,

red ander se lewens.

31 As die regverdige

hier op aarde

kry wat hom toekom,

sal ook die goddelose

en die sondaar beslis

kry wat hy verdien.

SPREUKE 12

1 Iemand wat bereid is

om reggehelp te word,

leer graag.

Dit is dom as iemand

hom nie wil laat teregwys nie.

2 Die Here hou van ’n mens

wat goeddoen.

Hy het nie tyd

vir ’n slinkse mens nie.

3 Iemand wat verkeerd lewe,

het nie vastigheid nie.

Iemand wat regverdig lewe,

is stewig geanker.

4 ’n Goeie vrou

is haar man se trots.

Een wat skande maak,

is soos kanker in sy bene.

5 Die planne van die regverdiges

is reg.

Die raad van goddeloses

is vol bedrog.

6 Wat goddelose mense sê,

is ’n lokval vir ander.

Opregte mense se woorde

red hulleself.

7 Goddeloses kom tot ’n val

en dit is verby met hulle.

Die nageslag van regverdiges

bly voortbestaan.

8 Mense bewonder iemand

wat verstandige dinge sê.

Hulle verag iemand

wat verdraaide idees het.

9 Dit is beter

om onbelangrik te wees

en ’n slaaf te hê,

as om vol van jouself te wees

en nie eers kos te hê

om te eet nie.

10 Die regverdige

gee om vir sy diere,

maar ’n goddelose mens

is altyd baie wreed met hulle.

11 Wie sy grond bewerk,

het volop om te eet.

Wie met nuttelose dinge besig is,

het nie verstand nie.

12 Die goddelose soek veiligheid

in verkeerde dade.

Die regverdiges

is goed gevestig.

13 ’n Slegte mens se woorde

is ’n strik vir homself.

Iemand wat reg lewe,

ontduik moeilikheid.

14 Met jou woorde

kan jy baie goeie dinge kry.

Die werk van hulle hande

gee hulle ook baie voorregte.

15 Vir ’n dwaas

is net sy eie pad die regte een.

Iemand wat wys is,

luister na ander se raad.

16 ’n Dwaas is opvlieënd;

’n verstandige persoon bly kalm

wanneer hy beledig word.

17 Die regverdige mens

getuig die waarheid;

’n getuie wat lieg, pleeg bedrog.

18 Daar is mense wat dinge sal sê

wat seermaak.

’n Wyse mens se woorde

bring eerder genesing.

19 Die waarheid hou vir altyd;

die leuen kom gou aan die lig.

20 Daar is bedrog in die harte

van hulle wat kwaad bedink.

Daar is vreugde in die harte

van hulle wat vrede beplan.

21 Die regverdige spring

probleme vry.

Die goddeloses se lewe

is vol rampe.

22 Die Here verafsku mense

wat hulle woord breek.

Hy hou van mense

wat by hulle woord staan.

23 ’n Verstandige mens bly stil

oor sy kennis.

Dwase basuin hulle onkunde uit.

24 Dié wat pligsgetrou werk,

word leiers;

lui mense word slawe.

25 Bekommernis rem ’n mens af;

bemoedigende woorde

maak hom bly.

26 Die regverdige

kyk mooi waar hy loop;

maar die pad van goddeloses

is ’n dwaalweg.

27 Die luiaard

verroer nie ’n vinger

om self kos te maak nie.

’n Hardwerkende mens

gaan uit sy pad

om kosbare besittings

te versamel.

28 Die pad van die regverdige

loop na die lewe;

dit is nie ’n pad

wat na die dood toe lei nie.

SPREUKE 13

1 ’n Wyse seun laat sy pa toe

om hom reg te help.

Een wat met alles spot,

steur hom nie eens

aan dreigemente nie.

2 Wat ’n mens sê,

kan goeie dinge vir jou bring.

Hulle wat afvallig is,

soek net na geweld.

3 Iemand wat op sy woorde let,

bewaar sy lewe.

’n Eindelose gepratery

kan alles ruïneer.

4 Luiaards begeer baie dinge,

maar hulle kry dit nie.

Mense wat hard werk,

kry alles

wat hulle begeer.

5 Regverdige mense haat leuens.

Goddelose mense

bring skade en skande

oor hulleself.

6 Geregtigheid bewaar dié

wat onberispelik lewe.

Goddeloosheid

vernietig die sondaar.

7 Sommige mense gee voor

hulle is ryk,

maar hulle het eintlik niks nie.

Ander maak of hulle arm is,

maar intussen besit hulle baie.

8 Die ryk man het geld

om homself mee los te koop.

Die arm man

kan nooit

afgedreig word nie.

9 Die lewe van die regverdiges

is vol vreugde.

Die lewenslig van goddeloses

word uitgedoof.

10 Selfvoldaanheid

lei altyd tot rusies.

Hulle wat na ander luister,

het wysheid.

11 Rykdom wat maklik kom,

verdwyn net so maklik.

Wie bietjie vir bietjie

bymekaarmaak,

het naderhand baie.

12 Verwagtings

wat nie realiseer nie,

lei tot mismoedigheid.

’n Begeerte wat vervul word,

is soos ’n boom wat lewe gee.

13 Hy wat hom nie steur

aan raad nie,

soek na moeilikheid.

Hy wat hom aan die reëls steur,

sal die goeie vrugte daarvan pluk.

14 Die raad wat wyse mense gee,

is soos ’n fontein

met water wat lewe gee;

as jy dit volg,

ontsnap jy die lokvalle

van die dood.

15 Mense het respek vir iemand

wat goeie insig het.

’n Onbetroubare mens

loop ’n pad van vernietiging.

16 ’n Verstandige mens

dink voor hy iets doen.

Dwase mense

verkondig hulle dwaasheid

aan die wêreld.

17 ’n Onbetroubare boodskapper

kry moeilikheid.

’n Gesant wat jy kan vertrou,

bring voorspoed.

18 Hy wat hom

nie wil laat reghelp nie,

beland in armoede

en vernedering.

Hy wat ’n teregwysing

ter harte neem,

ontvang eer.

19 Begeertes wat vervul word,

bring vreugde;

dwase mense het ’n afkeer daaraan

om kwaad te vermy.

20 Hy wat met wyse mense meng,

verkry self ook wysheid.

Meng jou met dwase

en jy word self soos hulle.

21 Teëspoed lê op die hakke

van die sondaars.

Die regverdiges

word met voorspoed beloon.

22 ’n Goeie mens

laat iets na vir kleinkinders.

’n Sondaar se besittings

beland by die regverdiges.

23 Wanneer armes se grond

bewerk is,

gee dit genoeg kos vir hulle;

maar deur onreg

word die kos

van hulle af weggevat.

24 Hy wat sy seun

nie dissipline leer nie,

het hom nie regtig lief nie.

As hy hom liefhet,

sal hy hom dissiplineer.

25 Die regverdige mens

het oorgenoeg om te eet.

Goddelose mense

bly altyd honger.

SPREUKE 14

1 ’n Verstandige vrou

bevorder die belange

van haar huis.

’n Dwase vrou

is self verantwoordelik

vir die agteruitgang

van haar huis.

2 Die persoon wat opreg lewe,

het respek vir die Here.

Die een wat draaie loop,

het nie eerbied vir Hom nie.

3 Die verwaande se woorde

sny ’n lat vir homself.

Die woorde van wyse mense

beskerm hulle.

4 As daar nie vee is nie,

is die voerkrip wel skoon;

maar sonder ’n sterk os

is daar ook nie ’n oes nie.

5 ’n Betroubare getuie lieg nie.

’n Vals getuie

loop oor van leuens.

6 Al soek ’n spotter na wysheid,

sal hy dit nooit kry nie.

’n Verstandige mens

versamel maklik kennis.

7 Vermy ’n dwase mens.

By hom

sal jy niks kan leer nie.

8 Die wysheid

van ’n verstandige mens

leer hom om sy lewe te verstaan.

Die dwaasheid

van ’n dwase mens

mislei hom.

9 Dwase spot oor skuldoffers.

Dié wat opreg lewe,

ervaar versoening.

10 Net ’n mens self verstaan

die bitterheid in sy hart.

Niemand anders

kan sy vreugde

voluit deel nie.

11 Die goddelose se nageslag

sterf almal uit.

Die opregtes

het ’n groot nageslag.

12 Dit lyk dalk vir iemand

of hy die regte ding doen;

agterna kom dit uit

dat dit na die dood gelei het.

13 Lag kan hartseer wegsteek;

as die vrolikheid verby is,

bly die verdriet nog agter.

14 ’n Onbetroubare mens

kry sy verdiende loon.

’n Goeie mens

pluk die vrugte

van sy goedheid.

15 ’n Dwaas

glo alles wat hy hoor.

’n Verstandige mens

oorweeg elke tree wat hy gee.

16 ’n Wyse persoon is versigtig,

hy vermy die kwaad.

’n Dom mens is oorverseker

en gaan maar net aan

sonder om te dink.

17 Iemand wat kort van draad is,

doen dom dinge.

Almal haat ’n agterbakse mens.

18 ’n Dom mens ly

onder sy eie dwaasheid.

Verstandige mense

word met kennis bekroon.

19 Slegte mense

moet buig voor goeie mense,

en goddelose mense

by die deur van regverdiges.

20 ’n Arm mens word verstoot,

selfs deur sy buurman.

’n Ryk man

het baie mooiweersvriende.

21 Dit is sonde

om jou buurman te verag.

Geseënd is hulle

wat die behoeftiges help.

22 Iemand wat kwaad wil doen,

verloor sy rigting.

Iemand wat goeddoen,

sal die liefde en lojaliteit

van ander geniet.

23 Inspanning bring voorspoed;

’n nuttelose gesit en praat

bring gebrek.

24 Wyse mense

word met rykdom bekroon.

Dwaasheid van dwase mense

lei tot nog meer dwaasheid.

25 ’n Eerbare getuie red lewens,

’n vals getuie

steek ander in die rug.

26 Hy wat ontsag het

vir die Here,

geniet sekuriteit;

sy kinders

vind vastigheid by hom.

27 Ontsag vir die Here

is ’n bron van lewe;

dit beskerm jou

teen die strikke van die dood.

28 ’n Koning se aansien groei

volgens die getal

van sy onderdane;

as die bevolking krimp,

gaan hy te gronde.

29 ’n Geduldige mens het baie insig.

Iemand wat kort van draad is,

stal sy dwaasheid uit.

30 Innerlike kalmte

bevorder die gesondheid.

Jaloesie vreet ’n mens op.

31 Iemand wat ’n arm mens

verdruk,

beledig die Een

wat hom gemaak het.

Hy wat hom oor ’n arme ontferm,

eer God.

32 Die goddelose kom tot ’n val

deur sy eie boosheid.

Die regverdige het ’n toevlug

wanneer hy doodgaan.

33 Wysheid vloei voort

uit ’n verstandige hart,

ook as iemand tussen dwase beweeg,

kom dit na vore.

34 Regverdigheid

maak ’n volk sterk.

Sonde bring skande oor ’n volk.

35 ’n Koning het vreugde

in bedrewe amptenare.

Hy word kwaad

vir een wat skande maak.

SPREUKE 15

1 ’n Vriendelike antwoord

kalmeer die gemoedere,

’n dwars antwoord

laat woede opspring.

2 Die woorde van wyse mense

maak kennis aanloklik.

Dwase mense borrel oor

van dwase dinge.

3 Die Here sien oral wat gebeur.

Sowel slegte as goeie mense

hou Hy dop.

4 Vriendelike woorde bring lewe,

bedrieglike woorde

vernietig mense.

5 ’n Dwaas praat smalend

oor wat sy pa hom leer,

iemand wat hom laat reghelp,

is verstandig.

6 In die huis van regverdiges

is daar skatte.

Wat die goddelose inbring,

bring vir hom moeilikheid.

7 Wyse mense versprei kennis

met wat hulle sê.

Dwase mense

kan dit nie doen nie.

8 Die Here verafsku die offers

van goddelose mense.

Hy is bly oor die gebede

van opregtes.

9 Die Here verafsku die manier

waarop goddelose mense leef.

Hy het die mense lief

wat volgens sy wil lewe.

10 Wie die regte pad verlaat,

sal swaar gestraf word.

Hy wat berisping haat,

sal sterf.

11 Die Here weet

wat gebeur in die doderyk

en in die onderaardse dieptes.

Hoeveel te meer weet Hy

wat aangaan

in mense se harte.

12 ’n Spotter hou nie van die persoon

wat hom teregwys nie.

Hy vra nie raad by ’n wyse nie.

13 Blydskap

laat ’n mens se gesig straal.

Hartseer

maak ’n mens terneergedruk.

14 ’n Verstandige mens

soek ernstig na kennis.

’n Dwase mens

teer op dwaasheid.

15 Vir die bedrukte mens

bring elke dag net probleme.

Vir die blymoedige mens

is die hele lewe ’n fees.

16 Dit is baie beter om min te hê

en ook respek vir die Here,

as om groot rykdom te besit

met die onrus daarmee saam.

17 Liewer net ’n skeppie groente

saam met iemand

vir wie jy lief is,

as ’n lekker stuk beesvleis

en haat daarmee saam.

18 ’n Humeurige mens

sit twis aan die gang.

’n Verdraagsame mens

sit ’n stryery stop.

19 ’n Luiaard se pad

is met dorings besaai.

’n Opregte mens se pad is gelyk.

20 ’n Verstandige seun

maak sy pa bly.

’n Dwase seun

het geen respek vir sy ma nie.

21 Iemand sonder verstand

put vreugde uit sy dwaasheid.

Iemand met insig

bly op die regte pad.

22 Sonder beplanning

loop planne skeef.

Sukses is afhanklik

van baie raadgewers.

23 Daar is vreugde daarin

om die regte antwoord te hê.

Wat is beter as die regte woord

op die regte tyd?

24 Die lewenspad

van ’n verstandige mens

loop boontoe.

Dit stuur weg van die doderyk

daar onder.

25 Die Here vernietig

die hoogmoedige se huis.

Hy beskerm die grondgebied

van die weduwee.

26 Die Here verafsku

slegte planne.

Hy hou van skoon gedagtes.

27 ’n Gierigaard

bring ongeluk oor sy huis.

Wie omkoopgeskenke weier,

sal lewe.

28 ’n Regverdige mens

dink eers voor hy antwoord.

By goddelose mense se monde

borrel daar slegte dinge uit.

29 Die Here luister nie

na goddelose mense nie.

Hy verhoor die gebed

van die regverdige mens.

30 Oë wat blink, bring vreugde.

Goeie nuus bring gesondheid.

31 Wie na kritiek luister,

sal lewe.

Jy sal tuis wees

tussen mense met wysheid.

32 Wie goedbedoelde raad

ignoreer,

doen skade aan homself.

Iemand wat hom laat reghelp,

ontwikkel sy insig.

33 Om respek vir die Here te hê,

leer ’n mens wysheid.

Nederigheid kom eerste,

daarna volg eer.

SPREUKE 16

1 Mense kan planne maak,

maar die finale besluit

kom van die Here af.

2 Alles wat hy doen,

kan vir die mens reg lyk.

Die Here weet egter

waarom hy dit alles doen.

3 Alles wat jy doen,

moet jy opdra aan die Here,

dan sal jou planne slaag.

4 Die Here het alles gemaak

vir ’n bepaalde doel,

ook die goddelose

vir die dag van straf.

5 Die Here verafsku

elke verwaande mens.

Maar wees verseker,

hulle sal nie ongestraf bly nie.

6 Liefde en lojaliteit

bring versoening

vir oortredings.

Kwaad word vermy

wanneer daar respek is

vir die Here.

7 As die Here gelukkig is

met die manier

waarop iemand lewe,

sal Hy selfs sy vyande

in vrede met hom laat lewe.

8 Dis beter om arm te wees

en regverdig,

as om ryk en oneerlik te wees.

9 ’n Mens beplan sy koers,

maar die Here bepaal

sy bestemming.

10 As die koning praat,

is dit met Goddelike gesag.

Sy uitsprake mag nooit

onregverdig wees nie.

11 Die Here vereis eerlikheid

en billikheid in die handel.

Hy bepaal die maatstawwe daarvoor.

12 Die koning verafsku misdade.

Sy regering berus

op regverdigheid.

13 Die koning is tevrede

wanneer mense eerlik praat.

Hy stel dit op prys

as mense die waarheid praat.

14 Die koning se woede

is ’n draer van die dood.

’n Wyse mens probeer

sy woede afkoel.

15 As die koning glimlag,

is daar lewe.

Sy goedgesindheid is soos wolke

wat lentereëns bring.

16 Om wysheid te bekom,

is beter as goud,

en insig is beter as silwer.

17 Die regverdige se pad

stuur weg van die kwaad.

Iemand wat daardie pad volg,

beveilig sy lewe.

18 Hoogmoed lei tot ondergang.

Hooghartigheid

kom net voor die val.

19 Eerder nederig lewe

saam met armes

as om buit te deel

met hoogmoediges.

20 Hy wat na onderrig luister,

sal voorspoed geniet.

Dit gaan goed met elkeen

wat op die Here vertrou.

21 Iemand wat wys is,

word ’n verstandige genoem.

As hy welsprekend is,

kan hy ook ander leer.

22 Vir iemand met insig

is dit die bron van sy lewe.

Om dwase tereg te wys

is dwaasheid.

23 ’n Mens wat wys is,

sê verstandige dinge.

Hy kan ander mense onderrig.

24 Mooi woorde is soos heuning;

dit is goed vir die gees

en bevorderlik vir die lewe.

25 Dit kan lyk

of ’n mens reg lewe.

Agterna gesien

is dit die pad na die dood.

26 ’n Werker se honger

motiveer hom om te werk,

sy behoefte aan kos dryf hom.

27 ’n Nikswerd mens

stook kwaad,

wat hy sê,

is soos ’n vernietigende vuur.

28 Iemand wat leuens verkoop,

sit rusie aan die gang.

Iemand wat skinder,

bring verwydering

tussen vriende.

29 Iemand wat geweld voorstaan,

mislei sy naaste

en lei hom op ’n verkeerde pad.

30 Iemand wat met sy oog knik,

is besig

om slinkse planne uit te dink.

Hy pers sy lippe opmekaar,

so vasberade is hy

oor sy boosheid.

31 Grys hare

is soos ’n pragtige kroon,

’n mens kry dit by persone

wat reg lewe.

32 Dis beter om geduldig te wees

as dapper.

Selfbeheersing is beter

as om ’n stad in te neem.

33 Mense kan lootjies trek,

maar die Here sal bepaal

wat die uitkoms sal wees.

SPREUKE 17

1 Dit is beter om in vrede

droë brood te eet

as om by ’n fees te sit

in ’n huis waar daar gestry word.

2 ’n Verstandige slaaf kan heers

oor ’n seun wat skande maak.

Hy sal saam met die broers

hulle pa se goed erf.

3 Silwer word in vuur gesuiwer

en goud in ’n oond.

Maar die Here

toets die hart van ’n mens.

4 Moeilikheidmakers luister graag

na kwaadwillige woorde.

Leuenaars gee aandag

aan bedrieglike idees.

5 Iemand wat ’n arm mens spot,

beledig sy Maker.

Iemand wat lekker kry

oor ’n ander se ongeluk,

sal self nie daarvan vrykom nie.

6 Kleinkinders is vir grootouers

soos ’n koning se kroon.

Pa’s is vir hulle seuns ’n trots.

7 Welsprekendheid

pas nie by ’n dwaas nie.

Nog minder pas leuens

by ’n man van aansien.

8 Omkoopgeskenke

sluit deure oop

vir dié wat dit gee,

dit maak hom suksesvol

oral waar hy gaan.

9 Iemand wat stilbly oor onreg

teenoor hom,

bevorder liefde tussen mense.

Om gedurig daaroor te praat,

dryf vriende uitmekaar.

10 Een teregwysing

bereik meer

by ’n verstandige mens

as 100 houe

oor die rug van ’n dwaas.

11 Hulle wat daarop uit is

om kwaad te doen,

veroorsaak rebellie.

Hulle sal

genadeloos gestraf word.

12 Dis beter om ’n beer teë te kom

wat van kleintjies beroof is,

as om ’n dwaas

met sy sotheid te konfronteer.

13 As jy goed met kwaad vergeld,

sal kwaad nooit

uit jou huis verdwyn nie.

14 Om rusie aan die gang te sit,

is soos om ’n sluis oop te trek.

Staak liewer die stryery

voor die vloed jou tref.

15 Die Here verafsku twee dinge:

iemand wat die skuldige

onskuldig verklaar;

en iemand wat onskuldige mense

skuldig verklaar.

16 Dit het geen nut

om vir ’n dwaas geld te gee

om wysheid te koop nie.

Hy het geen behoefte

aan wysheid nie.

17 Op ’n vriend se lojaliteit

kan jy altyd reken.

Jou broer is gebore

om jou te help

wanneer daar probleme is.

18 Iemand wat borg staan,

het nie verstand nie.

Net só ’n persoon sal instaan

vir die skuld van sy naaste.

19 Iemand wat bakleierig is,

hou van sonde.

Iemand wat arrogant is,

soek sy eie ondergang.

20 ’n Huigelagtige mens

sal nie voorspoed hê nie.

Hy wat die waarheid verdraai,

stort homself in die ongeluk.

21 Die pa van ’n dwaas

ervaar baie hartseer.

Daar is geen vreugde vir ’n pa

as sy seun ’n dwaas is nie.

22 ’n Vrolike mens

is soos goeie medisyne.

’n Neerslagtige mens

tap jou krag.

23 ’n Goddelose mens

aanvaar omkoopgeskenke

en verdraai so die reg.

24 ’n Verstandige mens

hou wysheid goed in die oog.

’n Dwase mens se gedagtes

dwaal doelloos rond.

25 ’n Onverstandige seun

is vir sy pa ’n ergernis.

Vir sy ma is hy ’n bitter verdriet.

26 Dis verkeerd om ’n onskuldige

’n boete op te lê,

of om ’n persoon van aansien

te straf

omdat hy eerlik is.

27 Iemand wat kennis het,

praat nie baie nie.

Iemand met insig

bly kalm.

28 Wanneer ’n dwaas stilbly,

kan dit lyk of hy wys is;

en as hy sy mond toehou,

lyk hy soos iemand met insig.

SPREUKE 18

1 ’n Mens

wat hom eenkant hou,

lewe net vir homself.

Hy het ’n afkeer

aan gesonde oordeel.

2 ’n Dwaas

het geen erg aan insig nie.

Hy stel net daarin belang

om sy eie opinie bekend te maak.

3 Waar goddeloosheid sy voet

by die deur inkry,

kom minagting

daarmee saam.

Saam met die belediging

kom ook die skande.

4 ’n Man se woorde

kan diep waters wees,

’n borrelende fontein

waaruit wysheid vloei.

5 Dit is verkeerd vir ’n regter

om partydig te wees

vir die skuldige,

deur teen die onskuldige

uitspraak te lewer.

6 ’n Dwase mens

praat hom alewig

in ’n rusie in;

hy soek vir ’n pak slae

met wat hy sê.

7 ’n Dwaas se mond

is sy ondergang.

Met sy woorde

stel hy vir homself

’n noodlottige strik.

8 Skinderstories

is so soet soos lekkernye,

dit sink tot diep in jou gemoed.

9 Iemand wat lui is in sy werk,

is die tweelingbroer

van die verwoester.

10 Die Naam van die Here

is soos ’n veilige fort.

Die regverdige gaan skuil daar

en word beskerm.

11 Die ryk man

beskou sy rykdom

as ’n ondeurdringbare vesting.

In sy verbeelding is dit ’n hoë muur

waaragter hy beskerm word.

12 Op selfverheffing

volg ineenstorting.

Op nederigheid

volg eer.

13 Iemand wat ’n antwoord gee

voor hy die vraag gehoor het,

is dwaas.

Skande wag vir hom.

14 Innerlike sterkte dra ’n mens

deur sy liggaamlike siekte.

Hoe kan iemand egter uithou

as hy moed verloor het?

15 ’n Mens met insig

kry steeds meer kennis.

Wyse mense

hou altyd hulle ore oop

vir nog meer kennis.

16 ’n Geskenk

maak ander se harte

oop vir jou.

Dit maak belangrike mense

toeganklik vir jou.

17 Hy wat eerste praat

in ’n regsaak,

lyk altyd onskuldig.

Eers by kruisondervraging

kom die waarheid uit.

18 Rusies kan besleg word

deur die lot te werp.

Dit kan beslissings vel

tussen twee sterk teenstanders.

19 ’n Verontregte broer

is meer ontoeganklik

as ’n gewapende stad;

’n rusie is soos die balk

wat deure toesluit.

20 Deur die regte woorde te gebruik

kan ’n mens sy honger stil.

Hy kan genoeg kry om te eet

met wat hy sê.

21 Die tong het mag oor dood

en oor lewe.

Hulle wat lief is om te praat,

moet saamleef

met die gevolge

van hulle woorde.

22 Iemand wat ’n goeie vrou kry,

het geluk gevind.

Hy geniet die goedheid

van die Here.

23 ’n Arm mens vra mooi.

’n Ryk mens

gee kortaf antwoorde.

24 Vriende kan mekaar verwoes.

Daar kan ook ’n vriend wees

wat nader aan jou is

as jou eie broer.

SPREUKE 19

1 Dit is beter

om arm

en eerlik te lewe

as om met leuens te lewe

en ’n dwaas te wees.

2 Geesdrif sonder kennis

help niks.

Oorhaastigheid

stuur jou

in die verkeerde koers.

3 ’n Mens se eie dwaasheid

ontwrig jou lewe,

dan verkwalik jy nog

die Here daarvoor.

4 Rykdom

bring baie mooiweersvriende.

’n Arm mens

het geen vriende nie.

5 ’n Vals getuie

bly nie sonder straf nie.

’n Leuenaar

sal die oordeel nie vryspring nie.

6 Almal probeer

om gewild te wees

by ’n belangrike man.

Almal is vriende met die man

wat geskenke uitdeel.

7 As ’n arm man se broers

niks met hom te doen wil hê nie,

hoeveel te meer sal sy naaste

hulle nie aan hom steur nie?

Hy smeek verniet by hulle.

Hulle is weg.

8 Iemand wat vir homself omgee,

kry wysheid in die hande.

Iemand wat insig vashou,

geniet voorspoed.

9 ’n Vals getuie kom nie vry nie.

Iemand wat leuens rondstrooi,

gaan tot niet.

10 Weelde pas nie by ’n dwaas nie.

’n Slaaf

behoort nog minder te regeer

oor belangrike mense.

11 ’n Verstandige mens

hou sy humeur in bedwang.

Hy stel sy eer daarin

om ander se oortredings

oor te sien.

12 As ’n koning kwaad word,

is dit soos ’n leeu wat brul.

Sy goeie gesindheid

is soos dou op die gras.

13 ’n Dwase seun

is ’n ramp vir sy pa.

’n Vrou wat bly neul,

is soos water

wat van die dak af drup.

14 Van sy pa kan iemand

’n huis of rykdom erf,

’n verstandige vrou

kry jy net by die Here.

15 Luiheid laat jou diep slaap.

’n Lui mens ly honger.

16 Iemand wat vashou

aan die gebod van die Here,

sal sy lewe behou.

Iemand wat dit verag,

gaan dood.

17 Om na ’n arm mens om te sien,

is ’n lening aan die Here.

Hy sal jou daarvoor vergoed.

18 Voed jou seun streng op,

dan is daar ’n toekoms.

Moenie jou te buite gaan

en hom skade aandoen nie.

19 ’n Humeurige mens

betaal self die prys daarvoor.

As jy hom eers een keer oorsien,

moet jy dit elke keer herhaal.

20 Luister na raad.

Wees bereid

om tereggewys te word

sodat jy die res van jou lewe daardeur

wysheid kan hê.

21 ’n Mens kan hoeveel planne maak,

maar op die ou einde gebeur

wat die Here besluit het.

22 ’n Mens se lojaliteit

is prysenswaardig.

Dit is beter om arm te bly

as om te bedrieg.

23 Iemand wat respek het vir die Here

se lewe is veilig.

Hy kan rustig slaap.

Geen ramp sal hom tref nie.

24 ’n Luiaard steek sy hand

in die skottel,

maar hy is te lui

om dit na sy mond te bring.

25 As jy iemand wat spot,

bestraf,

leer jy dié wat nog onervare is.

Wanneer jy

’n verstandige teregwys,

word hy nog verstandiger.

26 ’n Seun wat sy pa aanrand

en sy ma uit die huis jaag,

is ’n veragtelike

en skandelike mens.

27 My kind,

wanneer jy ophou

om te luister na teregwysing,

draai jy jou rug

op verstandige raad.

28 ’n Nuttelose getuie

maak van ’n hofsaak

’n bespotting.

Goddelose mense

verorber kwaad.

29 Straf is opgeskryf vir mense

wat ander belaglik maak,

en slae wag vir die dwase.

SPREUKE 20

1 Wyn maak jou tong los.

Sterk drank

maak jou lawaaierig.

Hy wat hom aan drank vergryp,

is nie verstandig nie.

2 ’n Koning wek net soveel vrees

as ’n leeu wat brul.

Jy stel jou lewe in gevaar

as jy hom kwaad maak.

3 Dit is eerbaarder

om op te hou met ’n rusie;

dis net dwase wat rusie soek.

4 ’n Luiaard ploeg nie

wanneer dit saaityd is nie.

Wanneer hy oestyd na iets soek,

is daar niks om te oes nie.

5 Wat ’n mens dink,

is onpeilbare diep waters,

maar verstandiges

sal voordeel daaruit trek.

6 Baie mense sal voorgee

dat hulle lojale vriende is,

maar waar is daar iemand

wat regtig betroubaar is?

7 Hy wat opreg en eerlik leef,

se kinders is baie gelukkig.

8 Wanneer die koning

op sy troon sit

om oor ’n saak te besluit,

moet hy uitsorteer wat reg

en wat verkeerd is.

9 Wie is daar wat kan sê:

“Ek het my hart gesuiwer,

ek het my gereinig

van al my sonde”?

10 Die Here het nie tyd

vir dubbele standaarde

en vals mate nie.

11 Selfs ’n jongmens

word beoordeel

volgens wat hy doen;

aan sy optrede word bepaal

of dit suiwer en opreg is.

12 Die oor wat hoor,

die oog wat sien –

die Here het al twee gemaak.

13 Moenie lief wees vir slaap nie;

jy kan in armoede verval.

Wees wakker,

en jy sal genoeg hê om te eet.

14 Die koper sê:

“Nikswerd!

Dis niks werd nie!”

Wanneer hy weggaan,

spog hy met sy winskopie.

15 Woorde wat uit kennis kom,

is kosbaarder as baie goud

en edelstene.

16 Vat klere as ’n pand

van iemand wat borg staan

vir ’n buitelander,

kry by hom ’n waarborg

wanneer hy instaan

vir ’n vreemde se skuld.

17 Kos wat gesteel is,

proe aanvanklik lekker.

Agterna word dit klippies

in jou mond.

18 Planne slaag

wat op goeie raad gebaseer is.

Kry eers raad

voor jy oorlog maak.

19 Iemand wat loop en skinder,

lap geheime uit.

Bly weg van iemand

wat alte maklik praat.

20 Wie sy pa en ma vervloek,

se lewe eindig onverwags

soos ’n lamp wat doodgaan

in pikdonker.

21 Besittings oneerlik verkry,

maak jou op die lang duur

nie gelukkig nie.

22 Moenie sê:

“Ek sal my wreek op die kwaad

wat aan my gedoen is” nie.

Wag eerder op die Here.

Hy sal jou saak hanteer.

23 Die Here verafsku

twee stelle maatstawwe.

’n Skaal wat nie reg weeg nie,

aanvaar Hy nie.

24 Die Here bepaal ’n mens se lewe.

Hoe kan ’n mens verstaan

wat met hom moet gebeur?

25 Jy stel vir jouself ’n strik

as jy ewe maklik

iets aan die Here belowe

en eers agterna besef

wat jy belowe het.

26 ’n Wyse koning

sorteer die skuldiges uit

en laat dan sy straf oor hulle gaan.

27 Die soeklig van die Here

val op die mens se lewe.

Hy bring die diepste motiewe

aan die lig.

28 Liefde en lojaliteit

hou wag oor ’n koning.

Sy troon word versterk

deur liefde.

29 Jong manne se mooiheid

lê in hulle krag.

Dit is hulle grysheid

wat oumense mooi maak.

30 ’n Pak slae suiwer die kwaad.

Straf maak die binnekant skoon.