SPREUKE 1

1 Die doel van wysheid

Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.

2 Die doel van hierdie spreuke

is om mense wysheid te leer

en hulle te onderrig.

Dit sal hulle help

om wyse woorde te verstaan.

3 Deur hierdie woorde

sal hulle dissipline leer

en weet hoe om regverdig,

reg en billik op te tree.

4 Iemand wat nog onervare is,

sal verstandig word.

Die spreuke sal jongmense

kennis gee

en onderskeidingsvermoë.

5 Laat selfs hulle wat wys is,

luister na die spreuke

sodat hulle tot dieper insig kan kom.

Wie reeds die nodige kennis het,

kan die lewenskuns aanleer

6 om die spreuke en sinspelings,

die woorde en raaisels

van wyse mense te begryp.

7 Kennis begin met eerbied

vir die Here,

net dwase verag wysheid

en dissipline.

Kry wysheid in die hande

8 My seun, luister

na wat jou pa jou leer.

Moenie wat jou ma vir jou sê

in die wind slaan nie.

9 Wat jy by hulle leer,

sal jou lewe

met goedheid kroon

en ’n versiering wees

om jou nek.

10 My seun, as goddelose mense

jou wil ompraat,

moenie na hulle luister nie.

11 Hulle sal miskien vir jou sê:

“Kom saam met ons!

Kom ons gaan lê iemand voor

en vermoor hom.

Kom ons oorval iemand,

al het hy niks

aan ons gedoen nie.

12 Ons wil hulle

lewendig laat verdwyn,

net soos in ’n graf,

soos gesonde mense

wat in die dood wegsink.

13 Ons wil baie waardevolle dinge

bekom,

ons huise vol maak

met alles wat ons buit.

14 Word een van ons!

Dan deel ons in die buit.”

15 My seun, met hulle

moet jy nie saamgaan nie.

Bly ver van die pad

waarop hulle loop.

16 Hulle loop agter kwaad aan.

Hulle kan skaars wag

om iemand te vermoor.

17 Wanneer ’n voël sien

daar is vir hom ’n wip gestel,

dan vlieg hy mos weg.

18 Maar hierdie mense

stel vir hulleself ’n hinderlaag op.

Hulle soek self na hulle dood.

19 So gaan dit met elkeen

wat met geweld ryk wil word:

sulke rykdom verwoes die lewe

van die een wat dit verkry.

Wysheid se uitnodiging

20 Wysheid staan

en roep op die straat.

Op die stadspleine roep sy hardop.

21 Sy roep by die plekke

waar mense bymekaarkom.

Sy praat by die ingange

van die stadspoorte.

Haar boodskap is:

22 “Hoe lank

gaan julle domkoppe

nog bly klou

aan julle domheid?

Hoe lank gaan die spotters

aanhou met hulle gepratery?

Hoe lank gaan die swape

kennis bly verwerp?

23 “As julle reageer

op my berisping,

sal ek my gees

op julle uitstort.

Ek sal my woorde

aan julle bekendmaak.

24 Ek het na julle geroep,

maar julle wou nie luister nie.

Ek het my hand uitgesteek

na julle,

maar julle het dit nie gevat nie.

25 My raad het julle

geïgnoreer.

Julle wou nie toelaat

dat julle reggehelp word nie.

26 Daarom gaan ek lag

wanneer ongeluk julle tref.

Ek gaan met julle spot

wanneer angs julle oorval.

27 Ek gaan vir julle lag

wanneer angs

soos ’n storm oor julle losbreek,

wanneer benoudheid julle tref

soos ’n stormwind

en julle in swaarmoedigheid

verval.

28 Dan sal hulle

na my begin roep om hulp,

maar ek sal my nie

daaraan steur nie.

Hulle sal desperaat na my soek,

maar hulle sal my nie vind nie.

29 Van my kennis

wou hulle mos niks weet nie.

Respek vir die Here

wou hulle mos nie betoon nie.

30 Hulle het my raad geïgnoreer.

Omdat ek hulle wou reghelp,

het hulle my mos verag.

31 Hulle sal moet sluk

aan die gevolge

van hulle optrede.

Hulle sal maar moet saamleef

met die gevolge

van hulle eie dade.

32 “Dwase draai van my af weg

na die dood toe.

Die gekke se dwaling

kos hulle die dood.

Deur hulle selfvoldaanheid

word die dwase vernietig.

33 Elkeen wat na my luister,

sal veilig wees.

Vir rampe

hoef hy nie bang te wees nie.”

SPREUKE 2

Die wins van wysheid

1 My seun,

luister mooi na wat ek vir jou sê.

Bewaar wat ek vir jou leer.

2 Spits jou ore

vir die wysheid.

Span jou in

om dit te verstaan.

3 Roep na insig.

Roep hardop vir begrip.

4 Soek daarna

soos jy na silwer sou soek.

Spoor dit op

soos ’n versteekte skat.

5 Dan sal jy weet wat dit beteken

om respek te hê vir die Here.

Jy sal leer om God te ken.

6 Dit is tog die Here

wat wysheid gee.

Sy woorde gee kennis en insig.

7 Hy laat hulle wat reg leef,

sukses behaal.

Hy is ’n skild vir hulle

wat hulle pad suiwer hou.

8 Hy beskerm hulle

wat ’n reguit pad loop.

Hy bewaak die pad

van sy getroue dienaars.

9 As jy aanvaar wat ek vir jou sê,

sal jy insig hê

in wat regverdig,

reg en billik is.

Jy sal op die goeie pad bly.

10 Wysheid sal jou denke bepaal.

Jy sal lief wees vir kennis.

11 Oordeelkundigheid

sal jou beskerm,

verstandigheid

sal na jou omsien.

12 Dit sal jou weerhou

van ’n verkeerde lewenswyse.

Dit sal jou weghou van mense

wat besig is

met verkeerde dinge.

13 Hulle is die mense wat afdwaal

van die regte paaie

om op donker paaie

te gaan loop.

14 Hulle hou daarvan

om te doen wat sleg is.

Hulle juig

oor verkeerde dinge.

15 Hulle loop kronkelpaaie,

slaan ’n verkeerde koers in.

16 Die wysheid sal jou weghou

uit die kloue van ’n slegte vrou.

Dit sal jou spaar

van die verleidelike woorde van ’n

vreemde vrou.

17 Sy het haar man gelos

en vergeet van haar belofte

aan haar God.

18 Haar huis

is die kortpad na die dood.

Haar weg eindig

tussen die dooies.

19 Mense wat agter haar aangaan,

kom nooit weer terug nie;

hulle kom nooit weer

op die paaie van die lewe nie.

20 Loop jy liewer op die pad

van goeie mense.

Hou by die paaie

van die regverdiges.

21 Die opregtes

sal in die land bly woon.

Hulle wat eerbaar is,

sal ongesteurd daar kan bly.

22 Goddeloses sal verwyder word

uit die land.

Bedrieërs sal uitgeroei word.

SPREUKE 3

Vertrou op die Here

1 My seun, moenie vergeet

wat ek jou geleer het nie.

Hou vas aan my opdragte.

2 Dit sal jou lank laat lewe

en jou ’n voorspoedige lewe gee.

3 Moenie dat jy tekort skiet

aan liefde en getrouheid nie.

Koester dit soos iets waardevols

wat jy om jou nek dra.

Skryf dit op die tafel van jou hart.

4 Jy sal guns en ’n goeie naam verkry

by God

en by mense.

5 Vertrou op die Here

met alles wat jy het.

Moenie staatmaak

op jou eie insigte nie.

6 Vra na die wil van God

in alles wat jy doen.

Hy sal die regte pad vir jou wys.

7 Moenie jou eie wysheid oorskat nie.

Hou eerder die Here voor oë

en vermy wat sleg is.

8 Dit sal jou liggaam gesond hou,

jou lewe verkwik.

9 Vereer die Here

met alles wat jy besit.

Gee vir Hom

die beste van jou oes.

10 Hy sal jou opgaarplekke

vol maak.

Jou parskuipe sal oorloop

van al die wyn.

11 My seun,

moenie dit verontagsaam

wanneer die Here

jou reghelp nie.

Moenie jou verset

wanneer Hy jou teregwys nie.

12 Die Here bestraf immers

hulle wat Hy liefhet

net soos ’n pa

sy seun teregwys.

13 Die mens wat wysheid kry,

is gelukkig.

Dit gaan goed met die mens

wat insig kry.

14 Wysheid het meer voordele

as geld.

Haar beloning

is meer werd as goud.

15 Wysheid het meer waarde

as edelstene.

Niks wat jy ooit kan begeer,

vergelyk daarmee nie.

16 Met die een hand

gee wysheid ’n lang lewe.

Met die ander hand

rykdom en eer.

17 Wysheid

maak ’n mens gelukkig.

Wie dit volg, beleef vrede.

18 Vir dié wat daaraan vashou,

is dit ’n boom van die lewe.

Hulle wat daarop steun,

is geseënd.

19 Die Here het die aarde

met wysheid

op sy plek neergesit,

met insig die hemel oopgespan.

20 Deur sy kennis het

water uit die diep fonteine geborrel

en het daar reën uit die wolke geval.

21 My seun,

moenie takt en oorleg

uit die oog verloor nie.

Hou altyd daaraan vas.

22 Dit sal jou lewe verryk

en eer en agting vir jou bring.

23 Jou pad sal veilig wees.

Jy sal nie struikel nie.

24 Jy sal kan gaan slaap

sonder om bang te wees.

Jy sal rustig kan bly slaap.

25 Jy hoef nie bang te wees

dat teëspoed

jou skielik sal tref nie.

Die rampe

vir slegte mense bedoel,

sal nie oor jou kom nie.

26 Die Here is jou beskermer.

Hy sal sorg dat jy nie

in ’n strik trap nie.

27 Moenie wag om

goed te doen

vir iemand wat dit nodig het nie,

veral as dit vir jou moontlik is

om dit te doen.

28 Moenie vir jou buurman sê:

“Gaan nou weg

en kom môre weer,

dan sal ek jou help,”

terwyl jy dit nou al

kon gedoen het nie.

29 Moenie ’n plan beraam

teen iemand

wat vol vertroue

by jou woon nie.

30 Moenie sommer rusie soek

met iemand

wat jou nie kwaad

aangedoen het nie.

31 Moenie jaloers wees

op iemand

wat geweld gebruik nie.

Moenie ook maak soos hy nie.

32 Die Here het ’n afkeer

aan skelms,

maar neem mense wat reg lewe,

in sy vertroue.

33 Die vloek van die Here

rus op die huis

van die goddelose,

maar hulle wat opreg lewe,

seën Hy.

34 Hy dryf die spot met mense

wat ander spot.

Hy is goed vir hulle

wat nederig is.

35 Wyse mense word vereer.

Dwase mense

kom in die skande.

SPREUKE 4

’n Pa gee raad

1 Kinders, luister na my!

Gee aandag

aan julle pa se vermaning.

Slaan ag daarop

sodat julle insig kan kry.

2 Die opvoeding wat ek julle gee,

is van hoë gehalte.

Moenie my onderrig

ignoreer nie.

3 Ek was self ook ’n kind

van my pa,

die enigste oogappel

van my ma.

4 My pa het toe ook vir my gesê:

“Hou vas aan wat ek jou leer.

Hou by my voorskrifte

dat jy kan lewe.

5 Soek na wysheid

en goeie oordeel.

Moenie my woorde vergeet nie.

Moenie dit laat los nie.

6 Moet nooit afstand doen

van die wysheid nie.

Dit sal jou beskerm.

As jy wysheid liefhet,

sal dit jou beveilig.

7 Die verstandigste ding

om te doen,

is om eers wysheid te bekom.

Wy jou daaraan toe

om veral onderskeidingsvermoë

te verkry.

8 Stel wysheid voorop,

dan sal dit vir jou aansien gee.

Stel dit hoog op prys

en dit sal aan jou eer gee.

9 Dit sal jou kroon met voorspoed.

Dit sal vir jou ’n pragtige kroon

gee.”

10 My seun, luister na my!

Neem my woorde ernstig op.

Dit sal jou lank laat lewe.

11 Ek sal jou leer

hoe wysheid werk.

Ek sal jou

op die regte pad lei.

12 As jy op jou lewenspad loop,

sal daar nie struikelblokke

op jou pad wees nie.

As jy hardloop,

sal jy nie oor iets val nie.

13 Hou vas aan die reëls

wat ek jou leer.

Moet dit nie laat los nie.

Bewaar dit,

want dit verryk jou lewe.

Die kwaaddoeners

14 Moenie dieselfde pad loop

as goddelose mense nie.

Bly weg van die pad

van boosdoeners.

15 Los hulle pad uit,

moenie daarop gaan nie.

Draai daarvan weg

en kies

’n ander koers.

16 Hulle kan nie gaan slaap

as hulle nie kwaad

gedoen het nie.

Hulle kan nie

tot ruste kom

as hulle nie iemand anders

ook laat struikel het nie.

17 Misdaad is hulle kos.

Geweld is hulle drank.

18 Die pad van die regverdiges

is soos die lig met dagbreek.

Dit word al helderder

totdat die volle dag aanbreek.

19 Die pad van die goddeloses

is soos stikdonker.

Hulle weet nie eers

waaroor hulle

gestruikel het nie.

Hou vas aan wat ek jou leer

20 My seun, luister baie goed

na wat ek vir jou sê.

Spits jou ore vir my woorde!

21 Moet dit nooit

uit die oog verloor nie.

Hou dit altyd

in gedagte.

22 My woorde beteken lewe

vir dié wat daarna luister;

gesondheid vir die hele liggaam.

23 Bo alles, wees versigtig

met wat in jou hart aangaan.

Wat jy dink,

bepaal alles wat jy doen.

24 Moenie lelike dinge sê nie.

Bly ver weg

van lawwe praatjies.

25 Kyk reguit vorentoe;

bly gefokus

op wat voor jou is.

26 Merk jou pad

vir jou duidelik af,

dan sal jy seker wees

waarheen jy gaan.

27 Moenie links of regs

van jou koers afwyk nie.

Bly weg van wat verkeerd is.

SPREUKE 5

Die gevaarlike vrou

1 My seun,

slaan ag op my wysheid.

Dink goed na oor my raad.

2 Dan sal jy self

ook goeie oordeel

aan die dag kan lê.

Jy sal met gesag kan praat.

3 Die onsedelike vrou

kom met soet woordjies.

Haar tong is gladder as olie.

4 Die einde daarvan

is egter so bitter soos gif.

Sy is so gevaarlik

soos ’n tweesnydende swaard.

5 Haar pad lei na die dood.

Elke tree saam met haar

is ’n tree nader aan die graf.

6 Sy gee niks om

of jy reg lewe nie.

Sy loop met jou ’n koers

wat sy self nie eers weet

waarheen dit gaan nie.

7 My seuns, luister na my.

Moenie afdwaal

van my woorde nie.

8 Bly ver weg van hierdie vrou.

Kom nie naby haar huis se deur nie.

9 Jy gaan jou lewenskrag

aan ander afstaan.

Jy gaan jou beste jare

op ’n hartelose mens vermors.

10 Buitelanders

sal die voordeel

van jou besittings geniet.

Jou swaar verdiende inkomste

sal in die huis

van vreemdes beland.

11 Jy gaan teen die einde van jou lewe

lê en kreun

wanneer jou liggaam

verteer word.

12 Jy gaan jouself verwyt:

“Ek wou nie luister

na vermaning

en my steur

aan teregwysing nie.

13 Waarom het ek

nie liewer geluister

na wat my leermeesters

gesê het nie?

Waarom het ek

nie my ore oopgemaak

toe hulle my geleer het nie?

14 Amper het ek geheel en al

in slegtigheid verval,

voor die oë

van die hele samelewing.”

15 Drink die water uit jou eie put.

Drink by jou eie fontein.

16 Moet jou fonteine

in die strate uitloop?

Moet jou water

die pleine oorstroom?

17 Hou jou water vir jouself.

Deel dit nie met vreemdelinge nie.

18 Laat jou eie fontein

vir jou tot seën wees.

Geniet jou eie jong vrou.

19 Sy is die bokkie wat jy liefhet.

Laat haar borste

vir jou vreugde gee.

Laat haar liefkosings

jou die hele tyd oorweldig.

20 My seun,

waarom sou jy meegevoer raak

deur ’n slegte vrou?

Waarom sou jy liefde

by ’n vreemde vrou gaan soek?

21 Die Here sien alles

wat ’n mens doen.

Hy weeg elke tree wat jy gee.

22 Die goddelose mens

se eie sondes

maak van hom ’n gevangene.

Dit draai hom vas

in sy eie sonde.

23 Hy kon homself nie beheer nie;

daarom gaan hy sterf.

Hy verdwaal

omdat hy dwase dinge doen.

SPREUKE 6

Die gevaar van ’n skuldbrief

1 My seun, as jy borg staan

vir jou vriend

of instaan vir die skuld

van ’n vreemdeling;

2 as jy gevang is deur wat jy sê,

vir jouself ’n strik gestel het

deur jou woorde,

3 dan moet jy gou iets daaraan doen,

my seun!

Jy het beland in die mag

van jou vriend.

Gaan probeer jouself loskry.

Gaan dring nederig by hom aan

om dit nietig te verklaar.

4 Moenie nog slaap nie.

Moenie dit los

vir ’n ander dag nie.

5 Red jou uit sy mag

soos ’n wildsbok

wat die jagter afskud.

Kom daaruit soos ’n voëltjie

wat ontsnap

uit die net van ’n voëlvanger.

Om betyds op te tree

6 Jou luiaard,

gaan leer by die mier.

Kyk wat hy doen.

Leer wat wysheid is by hom.

7 Hy het nie ’n leier,

of ’n opsigter, of iemand

wat agter hom staan nie.

8 Hy kry reeds in die somer

sy kosvoorraad reg.

In die oestyd maak hy kos bymekaar.

9 Jou luiaard, hoe lank

gaan jy nog lê en slaap?

Wanneer gaan jy eendag opstaan

uit jou slaap?

10 Nog ’n bietjie verder slaap,

nog ’n bietjie lê en sluimer,

nog ’n bietjie hande gevou lê

om uit te rus.

11 Skielik oorval die armoede jou

soos ’n struikrower.

’n Tekort aan kos oorrompel jou

soos ’n gewapende dief.

Die nuttelose mens

12 ’n Nikswerd mens

en ’n mens vol onreg

verkoop altyd leuens.

13 Hy knipoog vir sy maats,

hy beduie met sy voet,

hy gee met die vingers tekens

van sy planne.

14 Hy kom altyd

met ’n skelmstreek.

Hy maak moeilikheid

so ver hy gaan.

15 Maar so ’n mens

se ondergang

kom baie skielik.

Hy stort in duie

en niks kan hom dan red nie.

Wat die Here haat

16 Daar is ses dinge

wat die Here haat,

nee, eintlik sewe dinge

waarvan Hy ’n afsku het:

17 oë vol hoogmoed,

’n tong wat lieg,

hande wat onskuldiges doodmaak,

18 ’n hart wat slegte planne beraam,

voete wat agter kwaad aanloop,

19 ’n vals getuie

wat leuens verkoop,

en iemand

wat rusie veroorsaak

tussen broers.

Wysheid beskerm jou

20 My seun,

gehoorsaam wat jou pa jou leer.

Moenie reëls wat jou ma

vir jou gee,

ignoreer nie.

21 Bewaar dit altyd in jou hart.

Dra dit om jou nek.

22 Waarheen jy ook al op pad is,

dit sal vir jou die koers aandui.

Dit sal jou beskerm

wanneer jy slaap.

Dit sal jou wys wat jy moet doen

sodra jy wakker word.

23 My opdragte

is soos ’n lamp vir jou.

My reëls is vir jou ’n lig.

Vir die een

wat hom laat dissiplineer,

is dit die pad na die lewe.

Die gevaarlike vrou

24 Hierdie reëls

sal jou beskerm

teen die onsedelike vrou,

teen die vreemde vrou

wat jou wil verlei

met haar gladde tong.

25 Moenie opgewonde raak

omdat sy mooi is nie.

Moenie dat sy jou vang

met die gefladder

van haar wimpers nie.

26 ’n Prostituut

kan jy vir ’n stukkie brood

in die hande kry.

Owerspel

met ’n ander man se vrou

kan jou egter jou hele lewe kos.

27 Kan jy kole vuur

in ’n voorskoot dra

sonder dat jou klere

aan die brand raak?

28 Kan jy op brandende kole loop

en nie jou voete skroei nie?

29 Net so is dit met iemand

wat by ’n ander man se vrou

gaan slaap.

Niemand wat met haar lol,

sal ongedeerd

daarvan afkom nie.

30 ’n Dief kan verskoon word

wanneer hy steel,

want hy was honger.

31 As hy betrap word,

moet hy sewe maal meer

teruggee,

selfs al kos dit hom

alles wat hy besit.

32 Maar die man

wat owerspel pleeg,

is heeltemal dwaas.

Iemand wat dit doen,

verwoes sy hele lewe.

33 Hy sal slae verduur

en verneder word.

Niks sal ooit weer

sy skande kan uitwis nie.

34 Die verontwaardiging

wat die vrou se man ervaar,

sal brand soos vuur.

Daar sal geen einde

aan sy wraak wees nie.

35 Hy sal geen vergoeding

aanvaar nie.

Geen geskenk, hoe groot ook al,

is vir hom genoeg nie.

SPREUKE 7

Wysheid woon by jou

1 Bly altyd by wat ek vir jou sê,

my seun.

Koester wat ek vir jou voorskryf

in jou binneste.

2 Bly daarby sodat jy kan lewe.

Laat dit wat ek vir jou leer

vir jou so kosbaar wees

soos die appel van jou oog.

3 Sit dit aan jou vingers

soos ’n ring.

Skryf dit uit

op die tafel van jou hart.

4 Sê vir die wysheid:

“Jy is my suster.”

Maak insig ’n lid van jou familie.

5 Dit sal jou weghou

van die onsedelike vrou af.

Dit sal jou beskerm

teen die vreemde vrou

met haar verleidelike praatjies.

’n Verhaal van verleiding

6 Ek was eendag by die venster

van my huis,

ek het deur die gordyn staan en kyk.

7 Ek sien toe jongmense op straat

wat nog baie moet leer.

Tussen hulle was ’n jong man

wat nie van beter

geweet het nie.

8 Hy het met die straat afgekom

en naby die hoek

van hierdie vrou se huis

verbygegaan.

9 Dit was so teen skemeraand,

die donker het begin toesak.

10 Die vrou,

aangetrek soos ’n prostituut,

het na hom toe geloop.

Sy het slim planne gehad.

11 Sy was luidrugtig en uitdagend

en kon nie by die huis bly nie.

12 Dán was sy in die strate

en dán weer

op die stad se plein,

by elke hoek

het sy gestaan en rondloer.

13 Sy het by die jong man gekom

en hom omhels.

Ewe skaamteloos sê sy vir hom:

14 “My maaltydoffers

het ek vandag gebring,

en my geloftes betaal.

15 Ek het nou na jou toe gekom.

Ek het na jou gesoek

en hier het ek jou nou gekry.

16 Ek het my bed oorgetrek

met beddegoed

van bont Egiptiese linne.

17 Ek het my bed geurig gemaak

met mirre, aalwyn en kaneel.

18 Kom ons verlustig ons

in liefdeslus,

dwarsdeur die nag

tot môre-oggend.

19 My man is nie by die huis nie.

Hy is weg op ’n lang reis.

20 Hy is weg

met ’n beursie vol geld.

Eers met volmaan

sal hy weer terugkom.”

21 So oorreed sy die jong man

met haar mooipraatjies.

Sy verlei hom

met haar gladde tong.

22 Hy loop dadelik agter haar aan.

Hy was soos ’n bees

wat na die slagpale gelei word.

Hy was soos ’n wildsbok

wat in die slagyster trap

23 en ’n pyl kloof sy hart.

Hy was soos ’n voël

wat blindelings

in ’n vangnet vasvlieg.

Hy het nie geweet

dat sy lewe verby is nie.

24 Luister na my, my seuns.

Slaan ag op wat ek sê.

25 Moenie julle ophou

met so ’n vrou nie.

Bly uit haar pad uit.

26 Baie is al op haar kerfstok.

Sy het al talle sterk mans

so laat ondergaan.

27 Haar huis

is die kortpad na die doderyk,

die voorportaal

van die dood.

SPREUKE 8

Wysheid se oproep

1 Wysheid self staan en roep.

Insig laat haar stem hoor.

2 Sy staan by die hoë plekke

langs die pad.

Sy staan daar

waar die paaie mekaar kruis.

3 Sy staan

by die ingang van die stad.

Sy roep uit by die poorte:

4 “Ek roep na julle almal.

Ek roep hardop na alle mense:

5 Julle wat nog ervaring kortkom,

moet verstandig word.

Dié wat dwaas optree,

moet insig ontwikkel.

6 Luister na my.

Ek het iets belangriks om te sê.

Elke woord uit my mond

is opreg.

7 Ek praat die volle waarheid.

Vir bedrog het ek nie tyd nie.

8 Alles wat ek sê, is reg.

Daar is niks daarin

wat krom of verdraai is nie.

9 Hulle wat insig het,

weet dat ek reguit praat.

Hulle wat na kennis soek,

weet wat ek sê, is reg.

10 Aanvaar eerder wat ek julle leer,

dit is meer werd as silwer.

My kennis is meer werd as goud.

11 Wysheid is baie meer werd

as edelstene.

Daar is niks wat jy kan begeer

wat teen wysheid

kan opweeg nie.”

Wat Wysheid doen in die wêreld

12 “Ek, Wysheid, maak my tuis

by dié wat verstand het.

Ek weet waar om kennis

en onderskeidingsvermoë te bekom.

13 Hulle wat respek het

vir die Here,

haat dit wat verkeerd is.

Daarom haat ek hoogmoed

en hovaardigheid,

’n verkeerde lewe,

en slinkse woorde.

14 Ek besit raad en goeie oordeel.

Ek het insig en sterkte.

15 Konings regeer met my hulp.

Deur my maak regeerders

die regte wette.

16 Leiers neem deur my hulp leiding.

Deur my maak

vooraanstaande mense

die regte uitsprake.

17 Ek het hulle lief

wat my liefhet.

Hulle wat na my soek,

sal my kry.

18 Ek het rykdom en eer,

uitsonderlike skatte

en geregtigheid.

19 Wat ek gee,

is beter as die suiwerste goud.

My beloning is beter

as die suiwerste silwer.

20 Ek loop die pad

van reg en geregtigheid.

21 Ek maak húlle ryk

wat my liefhet.

Hulle pakkamers

maak ek propvol.”

Wysheid was lankal al daar

22 “Die Here

het my heel eerste gemaak.

Ek was al daar

voor Hy die res gemaak het.

23 Ek is voor die tyd al gevorm,

heel aan die begin,

voor die aarde daar was.

24 Ek is gebore

toe die diep waters

nog nie eers daar was nie,

toe die fonteine

nog nie water gegee het nie.

25 Ek het reeds gekom

voor die berge gevestig is

en daar heuwels was.

26 Ek was daar

voor die Here die aarde

met sy vlaktes gemaak het,

voor Hy selfs die eerste grond

van die aarde gemaak het.

27 Ek was al daar

toe Hy die hemelkoepel

op sy plek geplaas het,

toe Hy die horison oor die see

afgemerk het.

28 Ek was al daar

toe Hy die wolke

daarbo gesit het

en die fonteine

onder die diep waters

laat uitborrel het.

29 Ek was alreeds daar

toe Hy die see se grens

bepaal het sodat dit nie

die grens kan oorsteek

wat Hy daarvoor gestel het nie.

Ek was daar

toe Hy die fondamente

van die aarde afgemerk het.

30 Soos ’n boumeester

was ek elke dag langs Hom.

Ek was elke dag sy vreugde.

Die hele tyd

het ek dit by Hom geniet.

31 Ek het my verlustig in die wêreld

wat Hy gemaak het.

Die mense wat Hy gemaak het,

het my vreugde gegee.”

Dit gaan goed met die mens wat

aan Wysheid vashou

32 “My kinders, luister na my.

Hulle wat op my pad bly,

sal geseënd wees.

33 Luister wat ek julle leer

sodat julle wys kan wees.

Moenie dit ignoreer nie.

34 Dit sal goed gaan

met elke mens

wat na my luister,

wat elke dag na my huis toe kom

en buite by my deur

vir my staan en wag.

35 Hy wat my kry,

kry die lewe self.

Hy geniet die guns

van die Here.

36 Hy wat my nie wil vind nie,

doen skade aan homself.

Hy wat my haat,

is lief vir die dood.”

SPREUKE 9

Wysheid se uitnodiging

1 Wysheid het vir haar ’n huis gebou,

sy het sewe klippilare gekap.

2 Sy het ’n feestelike ete gemaak.

Sy het die wyn geskink

en haar tafel gedek.

3 Sy het toe haar bediendes

na hoë plekke

van die stad gestuur

om van daar mense uit te nooi:

4 “Almal wat nog moet leer,

kom eet by my!”

Dié wat nog onkundig is,

het sy genooi:

5 “Kom eet die kos

wat ek gemaak het.

Kom drink van die wyn

wat ek ingeskink het!

6 Laat staan julle onkunde,

sodat julle kan lewe!

Kom, begin met insig lewe!”

Kies maar self

7 Hy wat ’n spotter wil reghelp,

sal afgejak word.

Hy wat ’n goddelose mens

op die regte pad wil help,

sal seerkry.

8 Moenie hom wat spot,

teregwys nie.

Hy sal jou daarvoor haat.

Wys iemand tereg wat wys is,

en hy sal lief wees vir jou.

9 Gee jou raad vir ’n wyse mens,

en hy sal groter wysheid kry.

Onderrig ’n regverdige,

en sy kennis sal vermeerder.

10 Wysheid begin daar

waar daar ontsag

vir die Here is.

Hy wat die heilige God ken,

het werklik insig.

11 Wysheid verleng jou lewe,

gee jou meer lewensjare.

12 As jy wysheid kry,

geniet jy self

die voordeel daarvan.

As jy dit verafsku,

dra jy self die verantwoordelikheid.

Dwaasheid se uitnodiging

13 Dwaasheid

is soos ’n luidrugtige vrou,

stadig van begrip en sonder kennis.

14 Sy sit by haar voordeur,

op hoë plekke

wat uitkyk oor die stad.

15 Sy roep na elkeen

wat verbykom

en op die regte pad loop.

16 Vir dié wat nog moet leer,

sê sy: “Draai af hiernatoe.”

Vir dié wat nog kennis kortkom,

sê sy:

17 “Water is soeter as dit gesteel is.

Kos wat skelm geëet word,

is baie lekker!”

18 Hulle wat na haar toe gaan,

besef nie dat die dooies

daar bly nie.

Hulle wat haar uitnodiging aanvaar,

is al klaar in die doderyk.

SPREUKE 10

Die spreuke van Salomo

1 Die spreuke van Salomo.

’n Kind wat verstandig is,

maak sy pa bly.

’n Seun wat dwaas is,

maak sy ma hartseer.

2 Goed wat onwettig verkry is,

bring geen blywende

voordeel nie.

Om reg te lewe,

red ’n mens van die dood.

3 Die Here laat regverdiges

nie honger ly nie.

Hy vervul nie die begeerte

van die goddelose nie.

4 Mense wat lui is, word gou arm.

Hulle wat fluks is, word ryk.

5 Die verstandige mens

samel sy oes in

in die somer.

Hy wat in die oestyd slaap,

bring skande oor homself.

6 Die regverdige word oorlaai

met seëninge.

Die slegte bedoelings

van goddeloses

steek hulle weg agter woorde.

7 Dié wat reg lewe,

sal lank onthou word.

Hulle wat verkeerd gelewe het,

sal gou vergeet word.

8 ’n Mens met verstand

aanvaar bevele.

Hulle wat onsin babbel,

bereik niks.

9 Die een wat opreg lewe,

lewe in veiligheid.

Die een wat kronkelpaaie loop,

kom tot ’n val.

10 Hy wat skelmstreke uitdink,

veroorsaak moeilikheid.

Hy wat aanhou onsin praat,

kom self tot ’n val.

11 Die woorde van die regverdige

is soos ’n fontein van lewe.

Die woorde van goddeloses

steek geweld weg.

12 Haat bring rusie.

Liefde bedek

wat verkeerd gedoen is.

13 Iemand wat insig het,

sê dinge wat verstandig is.

Die een wat onverstandig is,

kry slae.

14 Wyse mense

versamel kennis.

Dwase se gebabbel

bring spoedig teëspoed.

15 Die ryke se eiendom

gee vir hom beskerming.

Armoede is die arm mens

se ondergang.

16 Wat die regverdige verdien,

gebruik hy om van te lewe.

Wat die goddelose verdien,

verkwis hy op oortredings.

17 Mense wat hulle laat reghelp,

is op die pad na die lewe.

Hulle wat teregwysing verwerp,

laat ander verdwaal.

18 Wie sy haat

agter woorde wegsteek,

is ’n leuenaar.

Hy wat skinderstories versprei,

is ’n dwaas.

19 Meer woorde

bring nie minder sonde nie.

Hy wat sy woorde tel,

is verstandig.

20 Die woorde van die regverdige

is soos gekeurde silwer.

Die gedagtes van die goddelose

is min werd.

21 Die regverdiges bring lewe

deur hulle woorde.

Die dwase vernietig hulleself

weens ’n gebrek

aan gesonde verstand.

22 Dit is die Here se seën

wat rykdom bring.

Hy gee nie hartseer

daarmee saam nie.

23 Dit is vir die dwaas lekker

om verkeerd op te tree.

Mense met insig

geniet die wysheid.

24 Goddelose mense

kom die dinge oor

waarvoor hulle bang is.

Die regverdige kry

waarvoor hy gehoop het.

25 Wanneer teëspoed kom

soos ’n stormwind,

is goddeloses daarmee heen,

maar die regverdiges

bly stewig staan.

26 ’n Lui mens is ’n aanstoot

vir dié wat hom werk gee.

Hy is soos asyn tussen die tande,

of soos rook in die oë.

27 Hy wat ontsag het

vir die Here,

maak sy lewe langer;

die goddelose

se lewe word kortgeknip.

28 Die regverdiges

kan vreugde verwag,

maar goddeloses

het geen hoop nie.

29 Wat die Here laat gebeur,

versterk dié wat reg lewe.

Dit vernietig egter hulle

wat kwaad doen.

30 Die regverdige

sal nooit wankel nie.

Die goddeloses

sal nie in die land

bly woon nie.

31 Uit die mond van regverdiges

kom wysheid.

’n Tong wat kwaad saai,

sal afgesny word.

32 Die regverdige weet

wat die gepaste dinge is

om te sê.

Wat die goddeloses sê,

bring moeilikheid.