SEFANJA 1

1 Sefanja was die seun van Kusi, wat weer die seun van Gedalja was. Gedalja was die seun van Amarja, en hy was weer die seun van Hiskia.

Die Here het boodskappe vir Sefanja gegee toe Josia, die seun van Amon, koning van Juda was.

Oordeel kom vir Juda

2 Die Here sê:

“Ek gaan alles op aarde wegneem:

3 mens en dier,

die voëls van die hemel

en die visse in die see.

Ek laat die goddeloses struikel

en vee hulle van die aarde af.

Ek, die Here, sê so!

4 Juda en die inwoners van Jerusalem

gaan Ek straf.

Ek gaan elke greintjie wat oor is

van die Baälaanbidding vernietig:

die bestaan van die afgodspriesters

en hulle priesterskap;

5 die mense wat op hulle dakke gaan

en buig om die sterre te aanbid;

die mense wat belowe om trou te wees

aan die Here,

maar terselfdertyd trou bewys

aan Molek.

6 Ek gaan ook die mense vernietig

wat My altyd aanbid het,

maar dit nou nie meer doen nie.

Hulle stel nie meer in die Here belang

of raadpleeg Hom nie.”

7 Wees stil in die teenwoordigheid

van die oppermagtige Here,

want die Here se oordeelsdag is naby.

Die Here berei ’n offerfees voor,

sy gaste het Hy reeds voorberei.

8 Die Here sê:

“Op die dag van die offerfees

sal Ek die leiers en die prinse straf.

Ek sal ook die mense straf

wat heidense gewoontes navolg.

9 Op dié dag sal Ek die mense straf

wat deelneem aan

heidense praktyke.

Dit sluit mense in wat ander bedrieg

en geweld aandoen

sodat die huise van hulle meesters

vol gemaak word met buit.”

10 Die Here sê ook:

“Op dié dag sal hulpkrete opgaan

by die Vispoort

wat tot by die nuwer deel van die stad

sal weerklink.

Harde knalslae

sal vanuit die heuwels opklink.

11 Inwoners van die markplek, huil!

Want almal sal sterf

wat daar koop en verkoop.

12 In dié tyd sal Ek in Jerusalem

al die donker hoekies

met lampe deursoek na hulle

wat so selftevrede in sonde lewe.

Ek sal hulle straf!

Hulle dink mos:

‘Die Here doen niks nie,

nie goed of sleg nie.’

13 Maar die vyand

sal juis hierdie mense

se besittings plunder

en hulle huise verwoes.

Hulle sal nie die voorreg geniet

om hulle nuwe huise te bewoon nie.

Hulle sal ook nie drink

van die wyn

van die wingerde

wat hulle aangeplant het nie.

14 “Die verskriklike Dag van die Here

is naby.

Die dag sal in ’n oogwink aanbreek.

Bitter uitroepe sal opklink,

dapper mans sal huil.

15 Dan sal Hy sy woede uitstort:

’n Tyd van swaarkry en angs.

’n Tyd van verwoesting

en vernietiging.

Dis ’n donker, uitsiglose tyd,

soos ’n swaar bewolkte dag,

16 ’n tyd van trompetgeskal

en oorlogskrete wat weerklink

oor versterkte stede

en vestingtorings.

17 “Ek bring benoudheid oor julle.

Julle sal loop soos blindes

wat pad soek

omdat julle teen My, die Here,

gesondig het.

Julle bloed sal uitgegiet word

soos stof,

julle ingewande soos mis.”

18 Die dag wanneer die Here

sy woede wys,

sal julle silwer en goud

van geen nut vir julle wees nie.

Die vuur van sy ywer

sal die hele land verteer.

Hy maak ’n skielike einde

aan alle mense op die aarde!

SEFANJA 2

Keer terug na die Here toe

1 Reël ’n byeenkoms en vergader,

skaamtelose nasie!

2 Doen dit terwyl julle nog kan,

voordat die oordeel begin

en julle soos kaf sal wegwaai.

Doen dit nou,

voordat die brandende woede

van die Here oor julle ontvlam.

Doen dit

voordat sy verskriklike oordeelsdag

vir julle aanbreek.

3 Soek die Here,

alle nederiges in die land,

en doen wat Hy van julle verwag.

Soek wat reg is

en wees nederig.

Miskien sal Hy julle beskerm

wanneer die oordeelsdag aanbreek.

Straf vir Filistynse stede

4 Gasa sal verlate lê

en Askelon sal verwoes word.

Laatmiddag sal Asdod se inwoners

uitgedryf wees

en Ekron se inwoners uitgeroei wees.

5 Dit sal ellendig gaan

met hulle wat van Kreta af kom,

met hulle wat woon

langs die kus by die see.

Dit is die Here se boodskap vir julle:

“Kanaän, land van die Filistyne,

Ek sal jou vernietig,

en geen inwoners sal meer oorbly nie.

6 Die kusgebied sal ’n weiveld wees,

’n kampplek vir herders,

en ’n skuiling vir skape.”

7 Dit sal ook ’n weiplek wees

vir die oorblyfsel van Juda.

In die aand sal die huise van Askelon

hulle rusplekke wees.

Die Here hulle God sal vir hulle sorg

en hulle weer

voorspoedig maak.

Straf vir Moab en Ammon

8 “Ek het gehoor hoe Moab

verkleinerend praat,

en hoe die Ammoniete

die spot dryf.

Hulle het my volk verneder

en hulle grondgebied bedreig.

9 “Daarom,” sê die Here,

die Almagtige,

die God van Israel,

“sowaar as wat Ek lewe,

Moab sal word soos Sodom

en Ammon soos Gomorra.

Hulle lande sal vol onkruid

en soutpanne wees,

’n woesteny vir altyd.

Dié van my volk wat oorleef het,

sal hulle beroof.

Die oorblyfsel van my volk

sal hulle land inneem.”

10 Dit is wat hulle kry

in ruil vir hulle verwaandheid,

want hulle het my volk verkleineer

en beledig,

sê die Here, die Almagtige.

11 Vir hulle sal die Here

’n verskrikking wees,

want al die gode in die land

vernietig Hy.

Mense uit alle dele van die wêreld,

elkeen in hulle eie land,

sal voor Hom neerbuig

en Hom aanbid.

Straf vir die Kussiete en Assirië

12 “Kussiete,” sê die Here, “ook julle

sal Ek doodmaak met my swaard.”

13 Hy sal die lande in die noorde tref:

Assirië sal Hy vernietig

en Nineve ’n verlate plek maak,

dor soos die woestyn.

14 Skape sal daar lê,

en diere van allerlei soorte.

Uile van verskeie spesies

sal slaap op die murasies.

Deur die oop vensters

sal hulle geroep weergalm.

Bourommel sal die ingange versper

en die sederhout sal ontbloot word.

15 Dit is die lot van hierdie stad

wat so sorgvry woon.

“Nêrens in die wêreld,”

het die stad geroem en gesê,

“is daar ’n stad soos hierdie een nie!”

Maar kyk, dit het

’n puinhoop geword,

’n lêplek vir wilde diere!

Verbygangers sal fluit van verbasing,

hulle hande in ongeloof saamslaan.

SEFANJA 3

Jerusalem se sonde en herstel

1 Wee die eiesinnige Jerusalem,

besoedelde stad van verdrukking.

2 Hulle is ongehoorsaam

en wil nie reggehelp word nie.

Hulle vertrou nie op die Here nie,

en aanbid nie hulle God nie.

3 Die stadsleiers is soos brullende leeus

wat jag maak op hulle prooi.

Die regters is wolwe

wat snags aas soek

en teen die môre niks oorlaat nie.

4 Die profete is verwaande leuenaars

wat net hulle eie voordeel soek.

Die priesters verontreinig die tempel

en oortree God se voorskrifte.

5 Maar die Here bly nog in die stad.

Hy doen geen onreg nie.

Dag vir dag is sy uitsprake regverdig,

elke nuwe dag sonder uitsondering.

Maar niemand sien dit raak nie,

en goddeloses

ken geen skaamte nie.

6 “Ek het baie nasies uitgeroei,

hulle verdedigingsmure vernietig.

Ek het hulle strate so beskadig

dat hulle onbegaanbaar is.

Ek het hulle stede só verwoes

dat geen inwoners oor is nie.

Hulle is heeltemal verlate.

7 Ek het gedink:

‘Nou sal hulle My eer en respekteer!

Hulle sal my voorskrifte

nou seker met erns beskou.

Dan sou dit nie nodig wees

om die stad weer te tref nie.’

Maar die teendeel is waar.

Hoe swaar Ek hulle ook al straf,

met ywer gaan hulle voort

om sondige dinge te doen.”

8 Maar nou sê die Here:

“Wees geduldig,

want die tyd breek aan vir My

om met regspraak te begin.

Ek sal die nasies versamel

en koninkryke bymekaarmaak.

My toorn en brandende woede

sal Ek oor hulle uitstort.

Die hele aarde sal verteer word

deur die vuur van my woede.

9 “Dan sal Ek die volke

’n suiwer taal gee

sodat hulle almal die Here aanroep

en Hom saam aanbid.

10 Selfs my volk wat verstrooi is

tot oorkant die riviere van Etiopië

sal kom om vir My offers te bring.

11 Dan hoef julle nie langer

skaam te wees

vir wat julle gedoen het

toe julle teen My

in opstand gekom het nie.

Ek sal ontslae raak van hoogmoediges

en arrogante mense onder julle.

Julle sal nie meer vol verwaandheid

op my tempelberg aanbid nie.

12 Ek sal eenvoudiges en behoeftiges

onder julle laat oorbly.

Hulle sal op die Here vertrou.

13 Die mense van Israel wat oorbly,

sal nie verkeerde dinge doen nie.

Hulle sal nie leuens vertel nie

en mekaar ook nie bedrieg nie.

Hulle sal soos skape rustig wei

en gaan lê om te slaap

sonder om vir iemand bang te wees.”

14 Sing, Jerusalem!

Skree hard, o Israel!

Wees bly en juig met oorgawe,

dogter van Jerusalem!

15 Die Here sal julle nie meer straf nie.

Hy sal julle vyande verdryf.

Die Here is Koning van Israel.

Hy is by julle.

Julle hoef nie meer enige rampe

te vrees nie.

16 Daardie dag sal vir Jerusalem

gesê word:

“Moenie bang wees nie, Sion!

Moenie moedeloos word nie.

17 Die Here jou God is by julle.

Hy is ’n magtige Verlosser.

Hy is buitengewoon bly oor julle.

Sy liefde sal julle rustig maak.

Met uitroepe van vreugde

sal Hy oor julle jubel.”

18 “Dié wat treur, maak Ek bymekaar,

ver van die plek van ontmoeting.

Dit is hulle wat uit jou voortkom

en swaar dra aan die skande.

19 Ek sal in dié tyd afreken met almal

wat julle onderdruk het,

Ek sal die hulpelose mense help.

Ek sal die verstrooides terugbring.

Dié wat verneder is in ander lande,

hulle naam sal Ek in eer herstel.

20 Op die regte tyd

sal Ek julle bymekaarmaak

en julle terugbring huis toe.

Ek sal sorg dat volke van die wêreld

julle weer ag

en met respek behandel.

Julle sal met julle eie oë sien

hoe Ek julle lot verander,

sê die Here!”