SAGARIA 11

1 Maak oop jou deure,

Libanon,

sodat vuur jou sederbome

kan verbrand.

2 Huil, sipresbome,

want die sederboom het geval,

die grootste en die mooiste

van almal.

Huil, eikebome van Basan,

as jy toekyk hoe digte bosse

afgekap word.

3 Luister na die gehuil

van die herders,

want hulle rykdom is weg.

Luister na die gebrul

van jong leeus,

want hulle pragtige bosse

langs die Jordaanvallei

is verwoes.

Goeie en slegte herders

4 Dit is wat die Here my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape.

5 Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die Here, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie.

6 Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die Here. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.”

7 Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem.

8 In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword.

9 Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!”

10 Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek.

11 Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die Here deur my handelinge met hulle gepraat het.

12 Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink dit is reg, gee my my regmatige loon, maar net as julle wil.” Hulle het toe 30 stukke silwer as my loon afgetel.

13 Die Here het toe vir my gesê: “Gooi dit vir die pottebakker!” Dit was die buitengewone prys waarmee hulle my geëvalueer het! Ek het toe die 30 muntstukke geneem en dit in die tempel van die Here vir die pottebakker gegooi.

14 Toe breek ek my ander herderskierie, “Eenheid”, om daarmee te wys dat die verbond van eenheid tussen Juda en Israel verbreek was.

15 Die Here het vir my gesê: “Gaan weer en maak soos ’n nikswerd herder.

16 Dit sal wys hoe Ek vir die nasie ’n herder sal gee wat nie omgee vir skape wat vergaan nie, wat nie die lammers gaan soek, of die beseerde skape versorg, of die gesonde skape kos gee nie. Inteendeel, hierdie herder sal die vleis van die vetste skaap eet en die ander se kloue afruk.

17 “So ’n nikswerd herder

wat sy trop verlaat,

sal verseker veroordeel word!

Mag die swaard sy arm afkap

en sy regteroog deurboor!

Sy arm sal onbruikbaar word

en sy regteroog

heeltemal blind!”

SAGARIA 12

Die toekomstige verlossing vir

Jerusalem

1 Hierdie boodskap wat gaan oor die lot van Israel kom van die Here: “So sê die Here wat die hemelkoepel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het en wat die gees in mense gevorm het.

2 Ek sal Jerusalem en Juda maak soos ’n bedwelmende drank. Jerusalem sal beleër word, en al die dorpe van Juda.

3 Op daardie dag sal Ek Jerusalem ’n swaar klip maak, ’n las vir al die nasies. Nie een van die nasies wat probeer om die klip op te tel, sal ongedeerd daarvan afkom nie.

4 “Op daardie dag, sê die Here, sal Ek elke perd laat skrik en elke ruiter sal waansinnig raak. Ek sal waghou oor die volk van Juda, maar Ek sal die perde van die vyand verblind.

5 Die stamme van Juda sal by hulleself sê: ‘Die inwoners van Jerusalem vind hulle krag in die Here, die Almagtige, hulle God.’

6 “Op daardie dag sal Ek die stamme van Juda maak soos ’n vuur onder ’n hoop hout, of soos ’n brandende fakkel tussen afgesnyde graan. Hulle sal al die naburige nasies na alle kante toe verbrand, terwyl Jerusalem veilig sal wees.

7 Die Here sal die oorwinning eers aan die res van Juda gee, nog voor Jerusalem, sodat die inwoners van Jerusalem en die koninklike lyn van Dawid nie groter eer as die res van Juda ontvang nie.

8 “Op dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Die swakste onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid! Die koninklike afstammelinge sal soos God wees, soos die engel van die Here wat voor hulle uitgaan.

9 “My plan is om al die nasies wat teen Jerusalem saamtrek, te vernietig.

10 “Dan sal Ek ’n gees van genade en smeekgebede uitgiet op die familie van Dawid en die inwoners van Jerusalem. Hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste seun. Hulle sal oor hom rou soos ’n mens rou oor ’n eersgebore seun wat gesterf het.

11 Die hartseer en rou op dié dag in Jerusalem sal wees soos die gehuil van Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte.

12 “Die hele Israel sal treur, elke familie afsonderlik, met die mans en vroue in verskillende groepe. Die familie van Dawid sal saam met die familie van Natan treur,

13 die familie van Levi en die familie van Simi.

14 Elkeen van die families wat oorleef het, sal afsonderlik treur met die mans en vroue apart van mekaar.”

SAGARIA 13

’n Fontein van reiniging

1 “Op daardie dag sal daar ’n oop fontein vir die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem wees, ’n fontein om hulle skoon te maak van al hulle sonde en vuilheid.

2 “Daardie dag, sê die Here, die Almagtige, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei. Selfs die name van die afgode gaan nie meer onthou word nie. Ek gaan ook die vals profete en die onrein geeste wat hulle inspireer, verwyder.

3 As iemand weer begin profeteer, sal sy eie pa en ma vir hom sê: ‘Jy mag nie lewe nie, want jy het leuens in die Naam van die Here geprofeteer.’ Dan sal sy eie pa en ma hom doodsteek.

4 “Op daardie dag sal niemand spog met sy gawe van profesie nie. Niemand sal profeteklere dra met die doel om ander te bedrieg nie.

5 Hy sal sê: ‘Ek is nie ’n profeet nie; ek is ’n boer. Ek het my bestaan uit die grond gemaak vandat ek nog baie jonk was.’

6 “As iemand dan vra: ‘Wat is daardie wonde aan jou hande?’ sal hy sê: ‘Ek het die wonde gekry by die huis van my vriende!’”

Die verstrooiing van die skape

7 “Swaard, word wakker

teen my skaapwagter,

teen die man

wat so naby aan My is,

sê die Here, die Almagtige.

Tref die skaapwagter

sodat die skape

verstrooi kan word

en Ek teen die lammers

kan optree.

8 Twee derdes van die inwoners

van die land

sal afgesny word en omkom,

sê die Here.

Een derde sal oorbly in die land.

9 Ek sal daardie groep

deur vuur laat gaan

en hulle suiwer,

net soos silwer en goud

deur vuur gesuiwer word.

Hulle sal my Naam aanroep

en Ek sal hulle antwoord.

Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’

en hulle sal sê:

‘Die Here is ons God.’”

SAGARIA 14

Die Here sal oor die aarde

regeer

1 Kyk, die Dag van die Here kom wanneer al jou besittings reg voor jou geplunder gaan word.

2 Op daardie dag sal Ek al die nasies bymekaarmaak om teen Jerusalem oorlog te maak. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue sal verkrag word. Die helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan en die ander helfte sal oorleef tussen die ruïnes van die stad.

3 Dan sal die Here oorlog voer teen daardie nasies, net soos Hy in die verlede gedoen het.

4 Op daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, aan die oostekant van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en so sal ’n vallei wat van oos na wes loop, gevorm word, want die een helfte van die berg sal noord skuif en die ander helfte van die berg sal suid skuif.

5 Julle sal deur hierdie vallei vlug, want dit sal tot by Asal strek. Ja, julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges saam met Hom.

6 Op daardie dag sal daar geen lig wees nie, ook nie koue of ryp nie.

7 Tog sal dit aanhoudend dag wees! Net die Here weet hoe dit kan gebeur! Daar sal geen normale dag of nag wees nie, want teen die aand se kant sal dit steeds lig wees.

8 Op daardie dag sal daar lewegewende water uit Jerusalem vloei, een deel in die rigting van die Dooie See en ’n ander deel na die Middellandse See, somer en winter sal dit so wees.

9 Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Op daardie dag sal daar een Here wees en net sy Naam sal aanbid word.

10 Die hele land van Geba af tot by Rimmon, suid van Jerusalem, sal een groot plein word, maar Jerusalem sal gelig word tot sy oorspronklike posisie en sal bewoon word vanaf die Benjaminpoort tot by die plek waar die ou poort was, dan tot by die Hoekpoort, en van die Gananelpoort af tot by die koning se wynperse.

11 Jerusalem sal bewoon word, ’n veilige plek en wat nooit weer vervloek of verwoes sal word nie.

12 Die Here gaan al die nasies wat teen Jerusalem veg, met ’n plaag tref. Hulle sal soos wandelende lyke word terwyl hulle vleis wegvrot. Hulle oë sal wegkrimp in hulle oogkasse en hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.

13 Op daardie dag sal hulle paniekbevange raak. Die Here sal hulle tref met ’n groot verwarring. Hulle sal mekaar te lyf gaan.

14 Juda sal ook in Jerusalem veg. Die rykdom van al die naburige volke sal bymekaargemaak word, groot hoeveelhede goud en silwer en klere.

15 Dieselfde plaag sal ook die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere in die vyand se kampe tref.

16 Uiteindelik sal die vyande van Jerusalem wat die plaag oorleef het, elke jaar optrek na Jerusalem toe om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid en om die Huttefees te vier.

17 Enige nasie iewers in die wêreld wat weier om na Jerusalem te kom om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid, sal nie reën kry nie.

18 As die volk van Egipte weier om die fees by te woon, sal die Here hulle straf met dieselfde plaag waarmee Hy ander nasies wat geweier het om te kom, tref.

19 Egipte en die ander nasies sal almal gestraf word as hulle nie die Huttefees vier nie.

20 Op daardie dag sal daar selfs op die klokke van die perde se tuie geskryf staan: Heilig vir die Here. Die potte in die tempel van die Here sal net so heilig wees as die bakke wat langs die altaar gebruik word.

21 Elke pot in Jerusalem en Juda sal heilig vir die Here, die Almagtige, wees. Enigiemand wat kom offer, sal vry wees om enige pot te gebruik waarin hulle offers kan kook. Op daardie dag sal daar nie meer handelaars in die tempel van die Here, die Almagtige, wees nie.