SAGARIA 1

1 Keer terug na die Here

Gedurende die middel van herfs, in die tweede jaar van koning Darius se regering, het die Here hierdie boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gegee.

2 “Ek, die Here, was baie kwaad vir julle voorgeslagte.

3 Sê daarom vir die volk: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Draai om na My toe en Ek sal na julle toe omdraai, sê die Here, die Almagtige.’

4 “Moenie soos julle voorgeslagte wees wat nie wou luister nie toe die profete van vroeër vir hulle gesê het: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Draai om van julle verkeerde pad en hou op met al julle slegte dade.’

5 “Julle voorgeslagte en hulle profete is nou lankal reeds dood.

6 Al die dinge wat Ek deur my dienaars die profete gesê het, het met julle voorgeslagte gebeur, net soos Ek gesê het dit sou gebeur. As gevolg hiervan het hulle tot bekering gekom en gesê: ‘Ons het van die Here, die Almagtige, ontvang wat ons verdien het. Hy het gedoen wat Hy gesê het Hy sal doen.’”

Die eerste visioen: perderuiters

oor die aarde

7 Op 15 Februarie van die tweede jaar van koning Darius se regering, het die Here nog ’n boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gestuur. Sagaria het gesê:

8 In ’n visioen gedurende die nag het ek ’n man op ’n rooibruin perd sien sit. Hy was tussen mirtebome in ’n laagte. Agter hom was daar rooibruin, bruin en wit perde.

9 Ek het toe die engel wat met my gepraat het, gevra: “Meneer, wat beteken al hierdie perde?”

“Ek sal jou wys,” het die engel geantwoord.

10 Die man wat daar tussen die mirtebome gestaan het, het verduidelik: “Die Here het hulle uitgestuur om die hele aarde te patrolleer.”

11 Die ruiters het toe verslag gedoen aan die engel van die Here wat tussen die mirtebome gestaan het: “Ons het die aarde deurkruis en die hele aarde is rustig en stil.”

12 Toe die engel van die Here dit hoor, het hy hierdie gebed gebid: “O Here, die Almagtige, vir 70 jaar is U nou reeds kwaad vir Jerusalem en die dorpe van Juda. Hoe lank nog voordat U hulle weer genadig sal wees?”

13 Die Here het toe vriendelike en vertroostende woorde gehad vir die engel wat met my gepraat het.

14 Die engel het vir my gesê: “Laat hierdie boodskap weerklink sodat almal dit kan hoor: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het nog steeds ’n brandende liefde vir Jerusalem en Sion.

15 Maar Ek is woedend kwaad vir die ander nasies wat vrede en sekuriteit geniet. Ek was nie so kwaad vir my volk nie, dit is die heidennasies wat die ramp aangehelp het.’

16 “Daarom, dit is wat die Here sê: ‘Ek keer in genade weer terug na Jerusalem toe. My tempel sal herbou word, sê die Here, die Almagtige, en planne sal gemaak word vir die heropbou van Jerusalem.’

17 Sê dit ook: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Die stede van Israel sal weer met voorspoed oorstroom word en die Here sal weer vir Sion vertroos en Hy sal Jerusalem weer kies as sy eie.’”

Die tweede visioen: vier horings

en vier ystersmede

18 Ek het opgekyk en vier horings gesien.

19 “Wat is dit?” het ek aan die engel wat met my gepraat het, gevra. Hy het geantwoord: “Hierdie horings verteenwoordig die wêreldmagte wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”

20 Die Here het my toe vier ystersmede gewys.

21 “Wat kom hierdie manne doen?” het ek gevra. Die engel het geantwoord: “Die ystersmede kom om die vier horings wat Juda verstrooi en verneder het, te verskrik. Hulle sal die vier horings neergooi en tot ’n val bring.”

SAGARIA 2

Die derde visioen: die man met

die maatlyn

1 Toe ek weer sien, was daar ’n man met ’n maatlyn in sy hand.

2 “Waarheen is u op pad?” het ek gevra. Hy het geantwoord: “Ek gaan Jerusalem opmeet om te kyk wat sy lengte en breedte is.”

3 Die engel by my het gegaan om ’n tweede engel wat na hom toe kom, te ontmoet.

4 Die ander engel het gesê: “Maak gou en sê vir daardie jong man: ‘Jerusalem sal eendag so vol mense wees dat daar nie genoeg plek vir almal sal wees nie! Baie sal met hulle diere buite die stadsmure leef en tog veilig wees.

5 Ek sal self ’n muur van vuur rondom Jerusalem wees, sê die Here. Ek sal die heerlikheid binne die stad wees!’”

Die ballinge word teruggeroep

6 Die Here sê: “Kom weg! Vlug uit die noorde! Ek het julle oor die hele aarde verstrooi.

7 Kom weg! Vlug na Jerusalem, julle wat in Babilon in ballingskap was!”

8 Na ’n tyd van eer het die Here, die Almagtige, my na die nasies wat jou verdruk het, gestuur. Hy het gesê: “Enigiemand wat julle seermaak, beseer my kosbaarste besitting.

9 Ek sal my vuis oplig om hulle te vernietig en hulle eie slawe sal hulle plunder.” Dan sal julle weet dat die Here, die Almagtige, my gestuur het.

10 Die Here sê: “Sing en juig, o Jerusalem, want Ek kom tussen julle woon.

11 Baie nasies sal hulle op daardie dag by die Here aansluit en hulle sal ook my volk wees. Ek sal tussen julle woon en julle sal weet dat die Here, die Almagtige, my na julle toe gestuur het.

12 Die land van Juda sal die Here se erfdeel wees in die heilige land en Hy sal Jerusalem weer as sy eie stad kies.

13 Wees stil voor die Here, mensdom, want Hy kom uit sy heilige woning.”

SAGARIA 3

Die vierde visioen: die hoëpriester Jesua

1 Die engel het Jesua, die hoëpriester, vir my gewys. Hy het voor die engel van die Here gestaan. Die Satan het regs van die engel gestaan, besig om Jesua van baie dinge aan te kla.

2 Die Here het vir die Satan gesê: “Ek, die Here, verwerp jou aanklagte, Satan. Die Here wat Jerusalem gekies het, bestraf jou. Hierdie man is soos ’n brandende stuk hout wat uit die vuur gered is.”

3 Jesua het vuil klere aangehad soos hy daar voor die engel gestaan het.

4 Die engel het vir die ander wat daar staan, gesê: “Trek sy vuil klere uit.” Vir Jesua het hy gesê: “Sien jy, ek het jou sonde van jou af weggeneem en ek trek nou vir jou feesklere aan.”

5 Toe sê ek: “Kan hy ook ’n skoon tulband op sy kop kry?” Hulle het toe ’n skoon priesterlike tulband op sy kop gesit en nuwe klere vir hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar staan.

6 Daarna het die engel van die Here baie plegtig met Jesua gepraat en gesê:

7 “Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: As jy gehoorsaam is aan my wil en my vereistes nakom, sal jy gesag hê oor my tempel en sy binnehowe. Jy sal toegang tot My hê, saam met die ander wat hier staan.

8 Luister na My, Jesua, die hoëpriester, en al jou ander priesters. Julle is die simbole van goeie dinge wat kom. Binnekort gaan Ek my dienaar, die Loot, bring.

9 Kyk na die juweel wat Ek voor Jesua neersit, ’n enkele steen met sewe fasette. Ek sal iets daarin graveer, sê die Here, die Almagtige, en Ek sal die sonde van hierdie land op een enkele dag wegneem.

10 Op daardie dag, sê die Here, die Almagtige, sal elkeen van julle julle bure oornooi na julle huise toe om te deel in julle vrede en voorspoed.”

SAGARIA 4

Die vyfde visioen: ’n

lampstaander en twee olyfbome

1 Die engel wat met my gepraat het, het teruggekom na my toe. Hy het my wakker gemaak asof ek aan die slaap was.

2 Hy het vir my gevra: “Wat sien jy nou?” Ek het geantwoord: “Ek sien ’n lampstaander van soliede goud met ’n oliebak bo-op. Rondom die oliebak is daar sewe lampe, elkeen met sewe tuite en lamppitte.

3 “Ek sien twee olyfbome, een aan elke kant van die oliebak.”

4 Ek het toe vir die engel gevra: “Wat beteken dit, Meneer?”

5 “Weet jy nie?” het die engel gevra.

“Nee, Meneer,” het ek geantwoord.

6 Hy het toe vir my gesê: “Dit is wat die Here vir Serubbabel sê: Nie met mag of krag nie, maar deur my Gees, sê die Here, die Almagtige.

7 “Wie is jy, grote berg? Voor Serubbabel word jy sommer ’n gelyk pad! Hy sal die laaste klip van die tempel lê en die mense sal uitroep: ‘Genade, genade oor hom!’”

8 Die woord van die Here het weer na my toe gekom:

9 “Serubbabel het die fondament van die tempel gelê, en hy sal dit klaarmaak. Dan sal julle weet dat die Here, die Almagtige, my gestuur het.

10 Wie minag die dag van oënskynlik klein dingetjies? Mense sal bly wees wanneer hulle die skietlood in Serubbabel se hand sien. Hierdie sewe lampe is die oë van die Here wat die hele aarde deursoek.”

11 Ek het toe vir die engel gevra: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?

12 Wat beteken die twee olyftakke wat goue olie deur twee goue pype laat stroom?”

13 “Weet jy nie?” het hy gevra.

“Nee, Meneer,” het ek geantwoord.

14 Toe sê hy vir my: “Hulle verteenwoordig die twee gesalfdes wat by die Here van die hele aarde staan.”

SAGARIA 5

Die sesde visioen: die vlieënde

boekrol

1 Ek het weer opgekyk en ’n boekrol wat deur die lug vlieg, gesien.

2 “Wat sien jy?” het die engel gevra. “Ek sien ’n boekrol wat vlieg,” het ek geantwoord. “Dit is omtrent nege meter lank en vier en ’n half meter breed.”

3 Hy het toe vir my gesê: “Die boekrol bevat die vloek wat oor die hele land uitgaan. Die een kant sê dat almal wat steel, uit die land verdryf sal word. Die ander kant sê dat almal wat vals sweer, uit die land verdryf sal word.

4 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek stuur hierdie vloek tot binne-in die huis van elke dief en tot binne-in die huis van elkeen wat in my Naam vals sweer. My vloek sal in daardie huis bly totdat dit heeltemal vernietig is – selfs sy houtwerk en klippe.”

Die sewende visioen: die vrou in

’n mandjie

5 Die engel wat met my praat, het vorentoe gekom en gesê: “Kyk op! Daar is iets wat in die lug verskyn.”

6 “Wat is dit?” het ek gevra. Hy het geantwoord: “Dit is ’n mandjie om graan mee te weeg en dit is vol van die sonde van die mense oor die hele land.”

7 Toe die swaar deksel van die mandjie opgelig word, sit daar ’n vrou binne-in.

8 Die engel het gesê: “Haar naam is Goddeloosheid!” Hy het haar toe weer in die mandjie teruggedruk en die swaar deksel toegemaak.

9 Ek het opgekyk en twee vroue met vlerke wat in die wind sweef, na ons toe sien aankom. Hulle het vlerke soos ’n ooievaar gehad en het die mandjie opgetel en daarmee die lug in gevlieg.

10 “Waarheen vat hulle die mandjie?” het ek die engel gevra.

11 Hy het geantwoord: “Na Babilonië toe, om daar vir die mandjie ’n tempel te bou. Wanneer die tempel gereed is, sal die mandjie daar op sy voetstuk neergesit word.”

SAGARIA 6

Die agtste visioen: vier

strydwaens

1 Ek het weer opgekyk en vier strydwaens tussen twee koperberge sien uitkom.

2 Die eerste strydwa is deur rooibruin perde getrek, die tweede strydwa deur swart perde,

3 die derde een deur wit perde en die vierde een deur bont perde.

4 “Wat beteken dit, Meneer?” het ek vir die engel wat met my praat, gevra.

5 Hy het geantwoord: “Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan van waar hulle voor die Here van die aarde staan.

6 Die strydwa met die swart perde gaan noord; die strydwa met die wit perde gaan wes en die strydwa met die bont perde gaan suid.”

7 Die sterk perde was gretig om weg te trek en die aarde kruis en dwars te patrolleer. Eers toe Hy sê: “Gaan en deurkruis die aarde,” het hulle dit gedoen.

8 Die Here het my geroep en gesê: “Dié wat noord gaan, laat die woede van my Gees daar bedaar.”

Jesua word gekroon

9 Ek het nog ’n boodskap van die Here ontvang:

10 “Geldai, Tobija en Jedaja sal geskenke van silwer en goud van die Jode in Babilon bring. Wanneer hulle aankom, moet jy hulle by die huis van Josia, die seun van Sefanja, ontmoet.

11 Aanvaar hulle geskenke en maak ’n kroon van silwer en goud. Sit die kroon dan op die kop van Jesua, die seun van Josadak, die hoëpriester.

12 Vertel hom dat die Here, die Almagtige, sê: Hier is die man met die naam Loot. Hy sal uitspruit van waar hy is en die tempel van die Here bou.

13 Hy sal die Here se tempel bou en met eer beklee word. Van sy troon af sal hy as koning heers. Hy sal ook vanaf sy troon as priester dien en daar sal vrede en harmonie tussen hulle twee wees.

14 “Die kroon moet in die tempel bly as ’n gedagtenis aan die vrygewigheid van die mense wat dit gegee het, Geldai, Tobija en die seun van Sefanja.”

15 Mense sal van ver lande af kom om die tempel van die Here te herbou. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat my boodskappe van die Here, die Almagtige, af kom. Al hierdie dinge gebeur as julle nougeset gehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God.

SAGARIA 7

’n Oproep tot geregtigheid en

genade

1 Op 7 Desember in die vierde jaar van koning Darius se regering, het daar nog ’n boodskap van die Here aan Sagaria gekom.

2 Die mense van Bet-El het vir Sar-Eser en Regem-Melek en sy manne gestuur om die Here om genade te smeek.

3 Hulle moes die volgende vraag aan die profete en die priesters by die tempel van die Here, die Almagtige, vra: “Moet ons voortgaan om in die vyfde maand te huil en te vas soos ons nou al vir baie jare doen?”

4 Die Here, die Almagtige, het hierdie boodskap aan my gegee:

5 “Sê vir die hele volk en vir al die priesters: ‘Toe julle in die 70 jaar van ballingskap in die somer en herfs gevas en gehuil het, het julle regtig ter wille van My gevas?

6 “‘Nou nog dink julle nie aan My by julle heilige feeste nie, maar net aan julleself.

7 Is dit nie dieselfde boodskap wat die Here jare gelede deur sy profete verkondig het toe Jerusalem en die dorpe van Juda vol mense was en die Suide en die Laeveld bewoon was nie?’”

8 Hierdie boodskap het ook van die Here na Sagaria gekom:

9 “Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Oordeel regverdig en eerlik in regsake, wees liefdevol en simpatiek met mekaar.

10 Moenie die weduwees, die weeskinders, die vreemdelinge en die armes verdruk nie. Moenie bose planne teen mekaar beplan nie.

11 “Julle voorouers wou nie na hierdie boodskap luister nie. Hulle het hardkoppig weggedraai en hulle vingers in hulle ore gedruk om nie te hoor nie.

12 Hulle het hulle harte so hard soos klip gemaak sodat hulle nie die voorskrifte of die boodskappe wat die Here, die Almagtige, deur sy Gees aan hulle deur die profete van vroeër gestuur het, gehoor het nie. Daarom was die Here, die Almagtige, so kwaad vir hulle.

13 “Omdat hulle nie geluister het toe Ek hulle geroep het nie, sal Ek nie luister wanneer hulle na My roep nie, sê die Here, die Almagtige.

14 Ek sal hulle met ’n stormwind verstrooi onder ver nasies waar hulle as vreemdelinge sal leef. Hulle land het so verlate geword dat niemand eers daardeur reis nie. Die land wat so mooi was, het ’n woestyn geword.”

SAGARIA 8

Beloftes van seën vir Jerusalem

1 Daar was nog ’n boodskap van die Here, die Almagtige, aan my.

2 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “My liefde vir Sion is baie sterk. Ek is passievol oor Jerusalem.”

3 So sê die Here: “Ek keer terug na Sion, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, die berg van die Here, die Almagtige, sal genoem word Heilige Berg.”

4 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ou mans en vroue sal weer op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie omdat hulle so oud is.

5 Die strate van die stad sal weer vol seuns en dogters wees wat daar speel.”

6 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Al hierdie dinge lyk dalk vandag vir julle, ’n klein en mismoedige oorblyfsel van God se volk, onmoontlik. Maar dink julle dit is onmoontlik vir My, die Here, die Almagtige?”

7 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Julle kan daarvan seker wees dat Ek my volk gaan red van die nasies in die ooste en die weste.

8 Ek gaan hulle weer tuis laat kom en veilig in Jerusalem laat woon. Hulle sal my volk wees en Ek sal in trou en regverdigheid hulle God wees.”

9 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Wees sterk! Julle het gehoor wat die profete destyds oor die bou van die tempel van die Here, die Almagtige, gesê het, die dag dat die fondamente gelê is.

10 Voor die werk aan die tempel begin het, was daar nie werk nie en ook nie lone nie, nie vir mense nie en ook nie vir diere nie. Geen reisiger was veilig teen vyande nie omdat daar van alle kante vyande was. Ek het al die mense teen mekaar laat draai.

11 Nou sal Ek die oorblyfsel van my volk nie behandel soos wat Ek hulle vroeër behandel het nie,” sê die Here, die Almagtige.

12 “Ek saai die saad van vrede en voorspoed onder julle. Die wingerde sal swaar dra aan druiwe. Die aarde sal sy opbrengs lewer en die hemel sal dou lewer. Ek sal weer ’n keer die oorblyfsel van Juda en Israel die erfgename van hierdie seëninge maak.

13 Juda en Israel het onder die nasies simbole geword van wat dit beteken om vervloek te wees. Maar nie langer nie! Nou sal Ek julle red en julle ’n simbool en ’n bron van seën maak. Moenie bang of mismoedig wees nie. Wees sterk!”

14 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Ek het nie van plan verander toe julle voorouers My kwaad gemaak en Ek besluit het om hulle te straf nie,” sê die Here, die Almagtige.

15 “Net so sal Ek ook nie my besluit om Jerusalem en die volk van Juda te seën, verander nie. Moenie bang wees nie!

16 “Dit is wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Maak seker dat die regspraak in julle howe regverdig is en tot vrede lei.

17 Moenie bose planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Hou op om vals te sweer. Ek haat al hierdie soort dinge,” sê die Here.

18 Hier is nog ’n boodskap van die Here, die Almagtige, wat tot my gekom het.

19 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Die tradisionele tye van vas en rou wat julle vroeg somer, in die middel van die somer, in herfs en winter gehou het, kom nou tot ’n einde. Dit word nou feeste van vrolikheid en vreugde vir die volk van Juda. Julle moet waarheid en vrede liefhê.”

20 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “Mense van ander nasies en stede van die wêreld sal na Jerusalem toe kom.

21 Mense van een stad sal aan die mense van ’n ander stad sê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe en vra daar vir die Here om ons te seën en om die Here, die Almagtige, te soek. Ek gaan om dit te doen!’

22 Mense van baie nasies, selfs groot nasies, sal Jerusalem toe kom om die Here, die Almagtige, te soek en om te vra dat die Here hulle sal seën.”

23 Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: “In daardie tyd sal tien mense uit al die nasies en tale van die wêreld een Judeër aan sy kleed gryp en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.’”

SAGARIA 9

Oordeel oor die vyande van

Israel

1 Dit is die boodskap van die Here teen die land Gadrak en die stad Damaskus, want die oë van alle mense, ook die volk van Israel, is op die Here.

2 Oordeel is seker vir Hamat,

naby Damaskus,

en vir die stede van Tirus

en Sidon

ook al is hulle ook hoe slim.

3 Tirus het ’n sterk vesting gebou,

soveel goud en silwer

bymekaargemaak

dat dit so algemeen sal wees

soos stof in strate!

4 Maar nou sal die Here

Tirus se besittings wegstroop

en sy vesting in die see gooi.

Tirus sal aan die brand gesteek

en tot op die grond

afgebrand word.

5 Askelon sal dit sien en skrik.

Gasa sal bewe van angs

en so ook Ekron,

want hulle hoop

sal daarmee heen wees.

Gasa sal sonder koning wees

en Askelon sal verlate wees.

6 Vreemdelinge

sal die stad Asdod inneem,

en die trots van die Filistyne

sal vernietig word,

sê die Here.

7 Hulle sal nie langer

vleis eet met bloed daarin nie,

hulle sal ook nie

ander verbode kos eet nie.

Al die Filistyne wat oorleef,

sal ons God aanbid

en aanvaar word

as ’n nuwe stam in Juda.

Ekron sal word soos

die Jebusiete.

8 Ek sal my tempel bewaak

en beskerm

teen invallende leërs.

Ek sal hulle bewegings dophou

sodat geen buitelandse

onderdrukker

ooit weer my volk se land

sal binneval nie.

Sion se koning kom

9 Wees baie bly, dogter van Sion!

Juig hardop,

dogter van Jerusalem!

Kyk, jou koning kom na jou toe.

Hy is regverdig

en ’n oorwinnaar,

maar tog is hy nederig.

Hy ry op ’n donkie,

die vul van ’n donkie.

10 Die strydwaens van Efraim

sal Ek vernietig,

en ook die oorlogsperde

in Jerusalem.

Al die wapens vir oorlog

sal Ek vernietig.

Jou koning sal vir die nasies

vrede bring.

Sy ryk sal strek van see tot see,

van die Eufraatrivier af

tot aan die uithoeke van die aarde.

11 Wat jou betref,

my verbond met jou

is met bloed beseël.

Ek sal jou gevangenes red

uit ’n waterlose put.

12 Keer terug na die vesting toe,

gevangenes vol hoop!

Ek belowe dat Ek julle

dubbel sal vergoed

vir al julle swaarkry.

13 Juda is my boog

en Israel is my pyl!

Sion is my swaard

en Ek is soos ’n soldaat,

Ek sal dit

teen Griekeland gebruik.

14 Bokant sy volk

sal die Here verskyn,

sy pyle sal vlieg soos weerlig.

Die oppermagtige Here

sal die trompet blaas.

Hy sal teen sy vyande uittrek

soos ’n stormwind uit die woestyn.

15 Die Here, die Almagtige,

sal sy volk beskerm

en hulle sal hulle vyande

met slingervelle oorwin.

Hulle sal oorlogskrete skree

asof hulle dronk is van wyn

terwyl die bloed

van hulle vyande vloei.

Hulle sal vol wees van bloed

soos ’n bak by offers,

soos die hoeke van die altaar.

16 Wanneer daardie dag kom,

sal die Here hulle God

sy volk red,

net soos ’n skaapwagter

sy skape red.

Hulle sal in die land glinster

soos juwele in ’n kroon.

17 Hoe wonderlik en mooi

sal hulle nie wees nie!

Jong mans en meisies sal floreer

op die oorvloed van koring

en jong wyn.

SAGARIA 10

Die Here sal sy volk herstel

1 Vra die Here

vir reën in die lente

en Hy sal dit gee.

Hy maak onweerswolke

wat stortreën laat val

sodat elke veld lowergroen word.

2 Wat die huisgode sê,

is valse raad,

waarsêers

voorspel net leuens,

die uitlêers van drome

verkondig net leë troos.

My volk dwaal

soos verlore skape

sonder ’n herder

wat hulle beskerm en lei.

3 “My woede brand

teen julle herders

en Ek sal hierdie leiers straf.

Die Here, die Almagtige,

het aangekom

om sy kudde te versorg.

Hy gaan hulle sterk maak

soos ’n trotse oorlogsperd.

4 Uit Juda sal die hoeksteen,

die tentpen, die oorlogsboog

en al die heersers kom.

5 Hulle sal in ’n geveg

soos dapper soldate wees

wat hulle vyande

met hulle voete

in die modder sal vertrap.

Omdat die Here by hulle is

in die geveg

sal hulle die perderuiters

van die vyand oorwin.

6 “Ek sal Juda sterk maak

en Israel red.

Ek sal hulle herstel

omdat Ek hulle liefhet.

Dit sal wees

asof Ek hulle nooit

verwerp het nie,

want Ek is die Here hulle God

wat hulle gebede verhoor.

7 Israel sal soos dapper helde wees,

hulle harte sal gelukkig wees

asof hulle wyn gedrink het.

Hulle kinders sal alles sien

en ook bly wees;

hulle harte sal juig in die Here.

8 Wanneer Ek vir hulle fluit,

sal hulle aangehardloop kom

omdat Ek hulle verlos het.

Uit die min wat oorgebly het,

sal hulle bevolking groei

soos wat dit vroeër was.

9 Hoewel Ek hulle verstrooi het

soos saad tussen die nasies,

sal hulle My bly onthou

in veraf lande.

Met hulle kinders

sal hulle oorleef

en weer terugkom huis toe,

na Israel toe.

10 Ek sal hulle terugbring

uit Egipte en uit Assirië

en hulle hervestig in Gilead

en Libanon.

Daar sal nie genoeg plek

vir almal wees nie!

11 Hulle sal veilig trek

deur die see van nood

omdat die golwe van die see

teruggehou sal word.

Die water van die Nylrivier

sal droog word.

Die trots van Assirië

sal vernietig word

en die heerskappy van Egipte

sal tot ’n einde kom.

12 Ek sal my volk sterk maak

in my krag

en hulle sal in my Naam lewe,

sê die Here.”