RUT 1

1 Elimelek en sy gesin gaan na

Moab

In die tyd toe die rigters in Israel opgetree het, het ’n man uit Betlehem in Juda uit die land weggetrek omdat daar ’n swaar hongersnood in die land was. Hy en sy vrou en twee seuns het in die land Moab gaan woon.

2 Die man se naam was Elimelek en sy vrou was Naomi. Hulle twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was Efratiete uit Betlehem in die land Juda. Hulle het in Moab aangekom. Terwyl hulle daar gewoon het,

3 is Elimelek dood en het Naomi met haar twee seuns agtergebly.

4 Albei seuns het met Moabitiese vroue getrou. Die een se naam was Orpa en die ander een s’n was Rut. Hulle het ongeveer tien jaar lank daar gebly.

5 In hierdie tyd is Maglon en Kiljon ook dood. Naomi het alleen agtergebly, sonder ’n man en sonder seuns.

Rut gaan saam met Naomi

6 Naomi het daar in Moab gehoor dat die Here sy volk in Juda met goeie oeste geseën het. Toe het Naomi en haar twee skoondogters klaargemaak om uit Moab na Juda toe terug te trek.

7 Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe.

8 Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die Here julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het.

9 Mag die Here weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.”

Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars.

10 Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.”

11 Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie.

12 Nee, my dogters, gaan eerder terug na julle ouerhuise toe, want ek is te oud om weer te trou. Selfs al sou dit moontlik wees en ek vanaand by ’n man slaap en geboorte gee aan kinders,

13 sal julle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle tot dan toe ongetroud kan bly? Natuurlik nie, my dogters! Dit is vir my baie swaarder as vir julle, want die Here het baie swaarkry oor my laat kom.”

14 Die skoondogters het weer begin huil. Orpa het van haar skoonma afskeid geneem, maar Rut wou nie gaan nie.

15 “Kyk,” sê Naomi vir haar, “jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense en na haar gode toe. Gaan jy nou ook maar saam met haar terug.”

16 Maar Rut antwoord: “Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie.

Waarheen u ook al gaan,

sal ek gaan.

Waar u gaan woon,

sal ek ook woon.

Ma se mense

is ook my mense.

U God is ook my God.

17 Waar u doodgaan,

sal ek ook doodgaan

en daar begrawe word.

Mag die Here dit so laat gebeur. Net die dood ons sal skei.”

18 Naomi het besef dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan. Daarom het sy opgehou om haar te probeer oorreed.

Die vroue kom in Betlehem aan

19 Die twee het toe hulle reis voortgesit na Betlehem toe. Toe hulle in Betlehem aankom, was daar ’n opskudding in die dorp oor hulle aankoms. “Is dit dan nie Naomi nie?” het die vroue gevra.

20 “Moet my nie meer Naomi noem nie,” sê sy vir hulle. “Noem my nou liewer Mara, want die Almagtige het my lewe bitter gemaak.

21 Ek het vol hier weggegaan, maar die Here het my leeg laat terugkom. Hoekom sal julle my nog Naomi noem as die Here teen my gedraai het en die Almagtige soveel ellende oor my laat kom het?”

22 So het Naomi uit Moab teruggekom met haar skoondogter Rut, die jong Moabitiese vrou, by haar. Dit was met die begin van die garsoes dat hulle in Betlehem aangekom het.

RUT 2

Rut beland op Boas se landerye

1 In Betlehem was daar ’n welgestelde, invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimelek.

2 Eendag vra Rut, die Moabitiese vrou, vir Naomi: “Mag ek gaan are optel op die landerye by iemand wat my sal toelaat om dit te doen?”

Naomi antwoord haar: “Dis goed so, my dogter, gaan gerus.”

3 Rut is na die landerye toe om agter die snyers te gaan are optel. Dit gebeur toe dat sy op die landerye van Boas, die bloedverwant van haar skoonpa, beland.

4 Boas kom toe juis van Betlehem af en groet sy werknemers: “Die Here is met julle!” het hy gesê.

“Mag die Here u seën!” antwoord die snyers.

5 Toe vra Boas vir sy voorman: “Wie is daardie jong vrou?”

6 Die voorman antwoord hom: “Sy is die jong vrou uit Moab wat saam met Naomi teruggekom het.

7 Sy het vir my gevra of sy die are agter die snyers mag optel. Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir die kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gaan rus het.”

Boas nooi Rut uit om by sy land

te bly

8 Toe loop Boas na haar toe en sê vir Rut: “Luister, my dogter: Bly net hier by ons en tel hier are op. Moenie na ander landerye toe gaan nie. Bly gerus by die vroue wat vir my werk.

9 Kyk op watter deel van die landerye hulle oes en gaan saam met hulle. Ek het die werksmense opdrag gegee om jou nie lastig te val nie. As jy dors word, gaan drink gerus van die water in die houers wat my werkers vir hulle uit die put geskep het.”

10 Rut het diep voor hom gebuig en hom gevra: “Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ’n buitelander is?”

11 Boas antwoord haar: “Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy ná die dood van jou man aan jou skoonma betoon het. Ek het gehoor dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het om hier tussen vreemde mense te kom woon.

12 Mag die Here, die God van Israel, onder wie se vlerke jy kom skuiling soek het, jou ten volle beloon.”

13 “U laat my goed voel, Meneer,” antwoord sy. “U het my bemoedig deur so vriendelik met my te praat al is ek nie eers een van u slavinne nie.”

14 Teen etenstyd laat roep Boas haar: “Kom hiernatoe en eet van ons brood en doop dit in die suur wyn.”

Sy het toe saam met die werkers gaan sit. Boas het vir haar geroosterde koring gegee – meer as wat sy kon eet.

15 Toe Rut weg is om weer te gaan are optel, sê Boas vir sy werkers: “Julle moet haar toelaat om are tussen die gerwe op te tel sonder dat sy gepla word.

16 Trek ook van die are uit die gerwe uit en laat dit met opset op die grond val sodat sy dit kan optel. Moenie haar keer om dit op te tel nie.”

17 Rut het die hele dag lank are opgetel en toe sy dit die aand uitslaan, was dit omtrent ’n halwe mandjie vol.

18 Sy het dit opgetel en saamgeneem dorp toe. Haar skoonma het gesien hoe baie sy opgetel het. Rut het ook van die kos wat oorgebly het, vir haar gegee.

Rut doen verslag aan Naomi

19 “Waar het jy vandag are opgetel?” vra Naomi haar toe. “Mag die Here die een seën wat jou gehelp het!”

Rut vertel toe vir haar skoonma van die man op wie se landerye sy gewerk het. Sy sê verder: “Die man op wie se landerye ek vandag gewerk het se naam is Boas.”

20 “Mag hy geseënd wees deur die Here wat nie opgehou het om getrou te wees aan dié wat lewe en dié wat dood is nie!” sê Naomi vir haar skoondogter. Sy voeg by: “Daardie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.”

21 Rut vertel toe verder: “Boas het boonop vir my gesê om weer terug te kom en by sy werkers te bly totdat die hele oes ingesamel is.”

22 “Dis wonderlik!” roep Naomi uit. “Maak soos hy vir jou sê. Bly by sy werkers vir die duur van die oestyd. Daar sal jy veilig wees, maar op ’n ander land kan jy dalk gemolesteer word.”

23 So het Rut saam met die werkers tot die einde van die garsoes en die graanoes gebly en op Boas se landerye are opgetel. Sy het steeds by haar skoonma gewoon.

RUT 3

Naomi stuur Rut na die

dorsvloer

1 Naomi het vir haar skoondogter Rut gesê: “My dogter, dis tyd dat ek vir jou ’n vaste woonplek kry sodat jy in die toekoms versorg sal wees.

2 Jy was mos saam met Boas se diensmeisies. Boas is ’n naby bloedverwant van ons. Kyk, hy gaan vannag gars op die dorsvloer dors.

3 Gaan bad, sit reuk-water aan en trek mooi klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voordat hy klaar geëet en gedrink het nie.

4 Let mooi op waar hy gaan slaap. Gaan dan soontoe, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om dan te doen.”

5 “Ek sal presies so maak soos Ma vir my sê,” antwoord Rut.

6 Sy het dié nag na die dorsvloer toe gegaan en gemaak soos haar skoonma gesê het.

’n Vrou by sy voete

7 Nadat Boas klaar geëet het, was hy baie vrolik. Hy het langs die hoop graan gaan lê om te slaap. Rut het stilletjies nadergekom, sy voete oopgemaak en daar gaan lê.

8 Omtrent middernag skrik Boas wakker en draai om. Groot was sy verbasing toe hy agterkom dat ’n vrou daar by sy voete lê.

9 “Wie is jy?” vra hy.

“Ek is Rut, u diensmeisie,” antwoord sy. “Ontferm u tog oor my, want u is my losser.”

10 “Die Here seën jou, my dogter!” sê hy. “Jou lojaliteit en getrouheid aan jou skoonma is nou nog meer as voorheen. Jy het nie agter enige jong mans, ryk of arm, aangeloop nie.

11 Wees verseker: Jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, my dogter. Ek sal doen wat nodig is, want almal in die dorp weet jy is ’n eerbare vrou.

12 Daar is egter één probleem. Dit is so dat ek een van die lossers is, maar daar is ’n ander man wat nader verwant aan jou is as ek.

13 Bly vannag hier. Môre-oggend sal ek met hom praat. As hy gewillig is om vir jou as losser op te tree, sal hy dit doen. Maar as hy nie gewillig is nie, dan sal ek so waar as die Here leef met jou trou. Bly nou lê tot môre-oggend.”

14 Rut het by Boas se voete bly lê tot die oggend toe. Voordat dit lig genoeg was dat mense mekaar kon herken, het sy opgestaan. Boas het vir haar gesê: “Niemand moet weet dat hier ’n vrou by die dorsvloer was nie.”

15 Boas het ook vir haar gesê: “Bring die mantel wat jy aan het en hou dit oop.” Hy meet toe ses mate gars vir haar daarin af en help haar om dit op haar rug te tel. Daarna is Boas dorp toe.

Wag en kyk wat gebeur

16 Toe Rut by haar skoonma aankom, vra Naomi: “Wat het gebeur, my dogter?”

Rut vertel toe vir Naomi alles wat Boas gedoen het.

17 Sy voeg by: “Hy het my selfs ses mate gars gegee en gesê: ‘Jy kan nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’”

18 Naomi sê toe vir haar: “My dogter, wees maar geduldig totdat ons hoor wat verder gebeur. Die man sal nie rus voordat hy die saak vandag nog opgelos het nie.”

RUT 4

’n Transaksie by die poort

1 Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit en wag. Toe die losser van wie hy gepraat het, daar verbykom, roep Boas hom. “Kom hiernatoe, vriend. Ek wil met jou praat.” Hy het by hom gaan sit.

2 Toe roep Boas tien van die leiers van die dorp nader en vra hulle om as getuies op te tree.

3 Boas sê vir die losser: “Naomi wat uit Moab teruggekom het, wil die landerye wat aan ons bloedverwant Elimelek behoort het, verkoop.

4 Ek het gedink ek moet met jou hieroor praat sodat jy as losser kan optree as jy wil. As jy die landerye wil hê, moet jy hier in die teenwoordigheid van hierdie getuies verklaar dat jy as losser sal optree. Maar as jy dit nie wil doen nie, moet jy my dadelik sê, want ek is die volgende losser ná jou.”

Die man antwoord hom: “Dis goed. Ek sal as losser optree.”

5 Toe sê Boas vir hom: “Hou net in gedagte dat wanneer jy die landerye van Naomi loskoop, jy ook met Rut, die Moabitiese weduwee, sal moet trou. Op hierdie manier sal sy kinders kan hê wat haar man se naam kan voortsit en die landerye in die familie hou.”

6 “In so ’n geval wil ek nie as losser optree nie,” antwoord die naaste losser, “want dit kan my eie erfporsie in gevaar stel. Jy kan gerus as losser optree, want ek wil nie.”

7 Destyds was dit die gebruik in Israel by die lossingproses of die oordrag van eiendomsregte dat die transaksie soos volg bevestig word: Die een wat sy regte aan iemand anders oordra, moet ook sy skoen uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het die transaksie bekragtig.

8 Die ander losser trek toe sy skoen uit en sê vir Boas: “Jy kan dit koop.”

9 Toe sê Boas vir die leiers en die mense om hulle: “Julle is getuie dat ek vandag Elimelek, Kiljon en Maglon se eiendom by Naomi loskoop.

10 “Saam met die landerye verkry ek ook vir Rut, die Moabitiese weduwee van Maglon, as my vrou. Op hierdie manier sal die grond in die naam van die familie bly. So sal die naam van die gestorwene nie onder sy broers en uit die poort van sy woonplek uitgewis word nie. Julle is vandag almal getuie daarvan.”

11 Toe sê die leiers en almal wat daar staan: “Ons is getuie. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, maak soos Ragel en Lea, van wie die hele volk afgestam het. Mag jy aansien in Efrata en beroemdheid in Betlehem verwerf.

12 “Mag die Here deur hierdie vrou vir jou afstammelinge gee wat sal wees soos ons stamvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”

Die afstammelinge van Boas

13 Boas het toe met Rut getrou. Sy het sy vrou geword. Hy het by haar geslaap en die Here het haar laat swanger word. Sy het geboorte gegee aan ’n seun.

14 Toe sê die vroue van die dorp vir Naomi: “Prys die Here wat vandag vir jou ’n losser gegee het. Mag hy beroemd word in Israel.

15 Mag hierdie kind vir jou vreugde bring en vir jou sorg in jou ouderdom. Want hy is die seun van jou skoondogter wat vir jou so lief is en wat vir jou meer beteken as sewe seuns!”

16 Naomi het die seuntjie op haar skoot getel en hom as haar eie kind beskou.

17 Die buurvroue het hom Obed genoem. Hulle het gesê: “Daar is ’n seun vir Naomi gebore.” Hy het die pa geword van Isai en die oupa van Dawid.

Die volledige geslagslys van

Dawid

18 Hier volg nou die stamboom van Peres: Peres was die vader van Gesron.

19 Gesron was die vader van Ram. Ram was die vader van Amminadab.

20 Amminadab was die vader van Nagson. Nagson was die vader van Salmon.

21 Salmon was die vader van Boas. Boas was die vader van Obed.

22 Obed was die vader van Isai. Isai was die vader van Dawid.