ROMEINE 11

’n Klein groepie het oorgebly

1 My volgende vraag sou wees: Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie? Natuurlik nie! Ek is mos ook ’n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin.

2 Nee, God het nie sy volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie. Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie? Hoe hy hom teen Israel op God beroep het:

3 “Here, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

4 En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.”

5 So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het.

6 En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie.

7 Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard.

8 Soos die Skrif tereg sê:

“God het ’n innerlike verdwasing

oor hulle laat kom:

hulle oë sien nie wat hulle

behoort te sien nie;

hulle ore hoor nie

wat hulle behoort te hoor nie.

So is dit tot vandag toe.”

9 En Dawid het hieroor die volgende gesê:

“Mag hulle feesmaaltye vir hulle

’n gevaarlike valstrik word,

’n struikelblok en ’n straf.

10 Laat hulle oë verblind word,

sodat hulle nie kan sien nie

en hulle rûe deurentyd

kromtrek.”

11 Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak.

12 As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem!

13 Ek sê al hierdie dinge veral vir dié van julle wat uit die nie-Joodse nasies afkomstig is. As apostel onder die nie-Joodse nasies gee ek my allerbeste vir my bediening

14 in die hoop dat ek my eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle verlos sal word.

15 Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood beteken!

16 As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.

17 Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot.

18 Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.

19 Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.”

20 Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God.

21 Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie.

22 Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word.

23 En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen.

24 Want as God bereid was om julle, wat van nature takke van die wilde olyf was, af te sny en julle op die mak olyf oor te ent – wat ’n baie ongewone ding was om te doen – hoeveel eerder sal Hy nie die Jode wil terug-ent op die boom waar hulle hoort nie!

Daar is hoop vir Israel

25 Ek wil graag aan julle ’n geheim vertel, broers en susters, wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oë word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir ’n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die nie-Joodse nasies onder die koningsheerskappy van God gekom het.

26 En so sal die hele Israel verlos word. Daar staan mos in die Skrif:

“’n Redder sal uit Jerusalem kom,

en Hy sal Israel se

goddeloosheid

van hom verwyder.

27 En dan sal Ek hierdie verbond

met hulle sluit

wanneer Ek hulle sondes

wegneem.”

28 Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee

29 en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas.

30 Voorheen was julle aan God ongehoorsaam, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die Jode het julle in die huidige tyd ontferming ontvang.

31 Net so sal die ongehoorsaamheid van sommige van julle aan God se ontferming weer daartoe lei dat die Jode opnuut ontferming sal ontvang.

32 God sluit alle nasies in die ongehoorsaamheid in sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

33 Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.

34 Wie van ons kan regtig verstaan

hoe God dink?

Of wie sou as sy raadgewer

kon optree?

35 Of wie sou ooit aan Hom

’n guns kon bewys

vir wie Hy dit sou moes vergoed?

36 Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

ROMEINE 12

Wat dit van ons vra om ons as

lewende offers aan God toe te wy

1 Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak.

2 Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.

3 Namens Hom wat my in sy genade tot sy apostel gemaak het, sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het.

4 Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het.

5 Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig.

6 Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings.

7 As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig.

8 As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.

9 Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is.

10 As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.

11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.

12 Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie.

13 As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie.

14 As mense julle oor julle geloof vervolg, moenie ’n vloek oor hulle uitspreek nie, maar vra God om hulle te seën.

15 As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle.

16 Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.

17 Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense.

18 Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

19 Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif:

“Dit is mý reg om te straf;

Ek sal vergeld,

sê die Here.”

20 Doen eerder wat die Skrif sê:

“As jou vyande honger is,

gee aan hulle iets om te eet.

As hulle dors is, les hulle dors.

Deur dit te doen, sal julle

hulle bloedrooi van skaamte

maak.”

21 Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom.

ROMEINE 13

Wees aan die regering

gehoorsaam

1 Julle moet die owerheid gehoorsaam, want God het dit daar geplaas. Geen owerheid bestaan buite God se toedoen nie.

2 Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ’n oordeel oor hulleself.

3 Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel. As jy op goeie voet met die owerhede wil wees, handel dan volgens die wet en jy sal selfs van hulle lof ontvang!

4 Die owerheid is immers ’n dienaar van God om jou beste belange te bevorder. Maar as jy jou met die verkeerde besig hou, sal jy vanselfsprekend benoud wees, want die owerheid besit nie verniet die mag om te straf nie. Die owerheid is immers ook hierin God se dienaar dat hy die straf aan die kwaaddoener moet voltrek.

5 Om saam te vat: wees aan die regering gehoorsaam en wel om twee redes: nie net om straf te vermy nie, maar ook ter wille van ’n skoon gewete.

6 Daarom moet julle ook julle belasting betaal. Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer.

7 Kom dan julle verpligtings teenoor almal na: betaal belasting aan dié wat dit van julle vra, tolgeld en alle soortgelyke heffings aan dié wat dít van julle vereis; en respekteer en eer almal aan wie julle dit verskuldig is.

Beoefen liefde en wees

waaksaam

8 Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

9 Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

11 Julle moet hierdie dinge doen omdat julle besef dat die tyd besig is om uit te loop. Dit is dringend tyd om wakker te word, want die tyd van ons finale verlossing is nou al weer ’n hele ent nader as toe ons gelowig geword het.

12 Die nag is byna verby, die dag is so te sê hier. Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit wat in die donker tuishoort, en ons trek die wapenrusting aan wat pas by ’n lewe in die lig.

13 Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie.

14 Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.

ROMEINE 14

Hoe ons moet optree wanneer

ons van mekaar verskil

1 Julle moet medegelowiges met ’n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings.

2 Een persoon sal byvoorbeeld glo ’n mens kan maar alles eet. Maar ’n ander een, met ’n meer sensitiewe geloof, eet weer net groente.

3 Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom.

4 Wie gee jou die reg om oor iemand anders se huiswerker te oordeel? Dit is vir elkeen se eienaar om te besluit of hy die toets slaag of nie. Hy sál egter slaag, want die Here is magtig om hom te láát slaag.

5 Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband.

6 Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. Dié wat alles eet, doen dit ook vir die Here, want hulle dank God daarvoor. En dié wat net sekere soorte kos eet, doen dit vir die Here, want ook hulle dank God daarvoor.

7 Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe.

8 As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom.

9 Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.

10 Jy dan, waarom veroordeel jy jou medegelowige? En jy weer, waarom sien jy neer op jou medegelowige? Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn.

11 Die Skrif sê mos:

“So seker as Ek lewe,”

verklaar die Here,

“elke knie sal voor My buig,

en elke tong sal bely

dat Ek God is.”

12 Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.

13 Daarom, kom ons neem ons voor om so op te tree dat ons nie ons medegelowiges sal laat struikel of dinge vir hulle moeilik maak nie.

14 Op grond van my verhouding met Jesus die Here is ek absoluut oortuig daarvan dat ’n mens enige soort kos kan eet. Dis nie op sigself onrein nie. Maar as iemand dit as onrein beskou – nou ja, dan is dit vir daardie persoon verkeerd.

15 En as jy jou medegelowige ontstel deur wat jy eet, dan handel jy nie meer volgens die reël van die liefde nie. Jy moet tog nie deur wat jy eet iemand se lewe verwoes nie. Onthou, Christus het vir daardie medegelowige gesterf!

16 Sorg dan dat daar nie sleg gepraat word oor iets waarvan julle weet dat dit op sigself goed is nie.

17 As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk.

18 As jy Christus met hierdie gesindheid dien, maak jy God gelukkig en die mense rondom jou sal jou respekteer.

19 Kom ons strewe dus na harmonie onder mekaar en na dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder.

20 Moenie langer toelaat dat die Here se werk afgebreek word en dit oor kos nie. Onthou, ’n mens kan alles eet, maar dit is sleg as jy deur iets wat jy eet ’n medegelowige laat struikel.

21 ’n Mens behoort nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets anders te doen wat ’n medegelowige laat struikel nie.

22 Jy is dalk persoonlik daarvan oortuig dat jy niks verkeerds doen nie, maar hou dit liewer tussen jou en God. Gelukkig is jy as jy nie jouself hoef te verwyt oor wat jy weet op sigself reg is nie.

23 Maar as jy twyfel en tog eet, staan jy veroordeel omdat jy nie volgens jou geloofsoortuiging handel nie. Alles wat jy nie uit volle geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

ROMEINE 15

Stel ander se belange voorop

1 Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfels en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie.

2 Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou.

3 Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.”

4 Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou.

5 Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges.

6 Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.

7 Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het. So sal julle God verheerlik.

8 Dink daaraan dat Christus vir die Jode ’n dienskneg geword het om te bewys dat God getrou bly aan die beloftes wat Hy aan hulle voorouers gemaak het.

9 Hy het ook gekom sodat die nie-Joodse nasies God kan verheerlik op grond van sy ontferming teenoor hulle. Dit is soos die Skrif sê:

“Ek sal U loof

onder die nie-Joodse nasies,

ek sal tot eer van u Naam

’n lofpsalm sing.”

10 Op ’n ander plek staan:

“Juig, nie-Joodse nasies,

tesame met die Here se volk.”

11 En weer:

“Prys die Here, alle nie-Joodse

nasies!

Loof Hom, alle volke!”

12 En Jesaja sê op sy beurt:

“Die erfgenaam van Dawid se troon

sal na vore kom

en Hy sal die heerskappy

oor die nie-Joodse nasies

oorneem.

Op Hóm sal die nie-Joodse nasies

hulle hoop vestig.”

13 Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

Paulus verduidelik waarom hy

hierdie brief skryf

14 My broers en susters, ek is self deeglik bewus van julle goeie kwaliteite. Julle is trouens self so goed op hoogte van dinge dat julle mekaar sou kon onderrig.

15 Ek was vrymoedig genoeg om sekere punte te beklemtoon alhoewel ek besef het dat dit eintlik net nodig was om julle geheue op te skerp. Ek het dit gedoen as iemand wat deur God se genade

16 ’n evangeliedienaar van Christus Jesus onder die nie-Joodse nasies is. Soos ’n priester in die heiligdom bedien ek die Goeie Nuus aan julle, en so word julle ’n offer aan God met ’n lieflike geur, ’n offer wat Hy verwelkom en wat deur die Heilige Gees aan Hom gewy is.

17 Deur Christus Jesus is dit my trots dat ek hierdie offer vir God mag aanbied.

18 Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld,

19 deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum.

20 Dit was egter vir my ’n saak van eer om die Goeie Nuus net te bring waar Christus se Naam nog nie vermeld is nie – eerder as om voort te bou op die fondament wat iemand anders reeds gelê het.

21 Ek het die riglyn van die Skrif gevolg:

“Dié vir wie nog nooit van Hom

vertel is nie, sal sien;

en dié wat nog nooit van Hom

gehoor het nie, sal verstaan.”

22 Om die waarheid te sê, juis dít is die rede waarom my besoek aan julle so herhaaldelik vertraag is.

Paulus se reisplanne

23 Maar noudat ek my werk in hierdie gebiede voltooi het, en na al die baie jare wat ek gretig daarna uitgesien het om julle te besoek, wil ek dit doen

24 terwyl ek na Spanje onderweg is. Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien. Nadat ek my eers vir ’n tydjie aan die samesyn met julle verlustig het, kan julle my dan verder na Spanje toe stuur.

25 Maar voor my koms na julle toe, moet ek nou eers Jerusalem toe om ’n geskenk aan die gelowiges daar te gaan aflewer.

26 Julle sien, die gelowiges in Griekeland het op die goeie gedagte gekom om geld in te samel vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem.

27 Hulle het dit gedoen onder die besef dat hulle so baie aan daardie gelowiges verskuldig is. Omdat die Joodse gelowiges bereid was om soveel geestelike seëninge met die nie-Joodse nasies te deel, is die minste wat hulle kan doen om die Joodse gelowiges met materiële dinge te help.

28 As ek dit dan afgehandel het en alles rondom hierdie insameling veilig afgerond het, wil ek by julle langs na Spanje toe reis.

29 As ek na julle toe kom – dit weet ek vir seker – sal Christus vir my ’n ryke seën gee om vir julle te bring.

30 Broers en susters, in die Naam van ons Here Jesus Christus en omdat die Heilige Gees ons in liefde saambind, smeek ek julle dringend:

31 Worstel saam met my op julle knieë voor God dat Hy my sal red uit die hande van die ongelowige Jode in Jerusalem en dat die gelowiges daar positief sal wees oor die kollekte wat ek vir hulle bring.

32 Dan sal ek, as God wil, vol blydskap na julle toe kom om julle teenwoordigheid te geniet en uit te rus.

33 Mag God, wat aan ons sy vrede gee, met julle almal wees. Amen.

ROMEINE 16

Paulus groet sy medegelowiges

in Rome

1 Ons suster Febe sal julle binnekort besoek. Ek beveel haar sterk by julle aan. Sy doen dienswerk in die gemeente van Kengreë.

2 Ontvang haar by julle op ’n manier wat by Christene pas. Wees vir haar beskikbaar en help haar in alles wat sy dalk nodig kry. Sy is ’n staatmaker wat al baie gelowiges ondersteun het – ook vir my.

3 Groete vir Priscilla en Akwila. Hulle was my medewerkers in Christus Jesus se diens.

4 Wat meer is, hulle het hulle lewens vir my op die spel geplaas. Dis nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die nie-Joodse nasies.

5 Groete ook aan die gemeente wat in hulle huis bymekaarkom.

Groete vir my geliefde vriend Epenetus. Hy was die heel eerste persoon in die Romeinse provinsie Asië wat tot die Christelike geloof gekom het.

6 Groete vir Maria wat so hard in julle belang gewerk het.

7 Groete ook vir Andronikus en Junia, my mede-Jode, wat saam met my in die tronk was. Hulle is hoogaangeskrewe by die apostels, en was reeds voor my Christene.

8 Gee ook my groete aan Ampliatus, my geliefde Christenvriend.

9 Groete ook vir Urbanus, ons medewerker in diens van Christus en my geliefde vriend Stagis.

10 Groete aan Apelles, beproefde Christen wat hy is. Groete aan die lede van die huis van Aristobulus.

11 Groete ook vir Herodion, my mede-Jood. Groete aan die Christene uit die huis van Narsissus.

12 Groete aan Trifena en Trifosa, ywerige werkers vir die Here, en aan ons geliefde vriendin Persis wat so hard vir die Here gewerk het.

13 Groete vir Rufus, uitverkorene van die Here, en sy ma wat ook vir my ’n ma was.

14 Dra ook my groete oor aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en die broers en susters daar by hulle.

15 My groete ook aan Filologus en Julia, Nereus en sy suster, asook aan Olimpas en al die ander Christene wat daar by hulle is.

16 Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

Finale opdragte

17 Nog ’n laaste beroep op julle, broers en susters. Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe deur dinge te verkondig wat bots met dit wat julle geleer het. Vermy hulle.

18 Sulke mense dien nie vir Christus ons Here nie, maar hulle eie persoonlike belange. Deur hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle naïewe mense.

19 Almal weet egter van julle gehoorsaamheid aan die Goeie Nuus. Ek verheug my oor julle en ek wil graag hê dat julle duidelik sal besef wat goed is en dat julle nie slim sal wees wat die verkeerde betref nie.

20 Die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

21 Timoteus, my medewerker, en Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote, stuur vir julle groete.

22 Ek, Tertius, wat hierdie brief neergeskryf het, stuur vir julle Christengroete.

23 Gaius sê ook vir julle groete. Hy is my gasheer en hy stel ook sy huis vir die hele gemeente beskikbaar. Erastus, die stadstesourier, stuur vir julle sy groete; ook ons broer Kwartus.

25 God is magtig om julle te laat vasstaan volgens die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus wat ek verkondig en ook volgens die plan wat God nou bekendgestel het. Hierdie plan het eeue lank geheim gebly,

26 maar is nou onthul. Soos deur die profete voorspel en in opdrag van die ewige God, is dit aan alle volke bekendgemaak sodat hulle kan glo en die Goeie Nuus kan gehoorsaam.

27 Aan dié God wat enkel en alleen die ware wysheid is, kom die heerlikheid toe, deur Jesus Christus, vir altyd en altyd. Amen.