ROMEINE 1

1 Paulus skryf aan die Romeinse

gelowiges en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy het my geroep om sy apostel te wees. Ek is afgesonder om God se Goeie Nuus te verkondig.

2 Hierdie Goeie Nuus het Hy reeds lank gelede deur sy profete in die Skrif beloof.

3 –

4 Dit gaan oor sy Seun, Jesus Christus. Wat sy menslikheid betref, is Hy uit die nageslag van Dawid gebore. Wat sy heilige Goddelikheid betref – sy opstanding uit die dood het kragdadig bevestig dat Hy die Seun van God is. Wat meer is, Hy is ook ons Here!

5 Dit is hierdie Here wat aan my die onverdiende voorreg gegee het om sy apostel te wees en die Goeie Nuus aan al die nie-Joodse nasies te bring sodat hulle kan glo en God kan gehoorsaam, en Hy op hierdie manier verheerlik kan word.

6 Julle maak ook deel uit van daardie nie-Joodse nasies – julle almal wat geroep is om aan Jesus Christus te behoort.

7 Ek skryf aan julle almal in Rome – julle vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om sý mense te wees.

Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Paulus se gebed

8 Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof.

9 Dié God wat ek met hart en siel dien deurdat ek hierdie Goeie Nuus omtrent sy Seun uitdra, is my getuie dat julle dag en nag in my gedagtes is.

10 Elke keer smeek ek dat God, as dit sy wil is, tog nou uiteindelik vir my die pad sal oopmaak om by julle uit te kom.

11 Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk.

12 Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof.

Paulus se toekomsbeplanning

en die brieftema: God spreek

13 Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het.

14 Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie.

15 Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig.

16 Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.

17 Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

Hoe God die sonde van die nie-

Jode straf

18 Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.

19 In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.

20 Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.

21 Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan.

22 Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate

23 dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.

24 Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen.

25 Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!

26 Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.

27 Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.

28 Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.

29 Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.

30 Hulle steek kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers;

31 jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense.

32 Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.

ROMEINE 2

God oordeel almal regverdig

1 Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging.

2 Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is.

3 Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring?

4 God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?

5 Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter,

6 almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het.

7 Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee.

8 Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf.

9 Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

10 Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aanhou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood.

11 God trek immers niemand voor nie.

12 Want almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan. En almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet veroordeel word.

13 Want dit is nie die blote aanhoor van die wet wat mense vrymaak van God se oordeel nie; dit is hulle wat God se wet gehoorsaam wat God se vryspraak ontvang.

14 Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet.

15 Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek.

16 So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.

Ook die Jood staan skuldig voor

die wet

17 Jy dra die naam van ’n Jood. Jy vertrou daarop dat jy oor die wet van God beskik en jy spog daarmee dat jy ’n spesiale verhouding met God het.

18 Ja, jy weet wat God van jou verwag; jy kan goed tussen reg en verkeerd onderskei omdat jy wetsonderrig ontvang het.

19 Jy beskou jouself as ’n gids vir die blindes, ’n ligbaken vir mense wat in die donker verkeer – sonder God.

20 Jy dink jy kan die onkundiges onderrig en die beginners touwys maak omdat die wet vir jou die beliggaming van alle kennis en waarheid is.

21 Hoe is dit dan dat jy wat vir ander leermeester speel, nie jou eie lesse ernstig opneem nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie ook self nie?

22 Jy wat sê dat ’n mens nie egbreuk mag pleeg nie, maak jy jou nie ook daaraan skuldig nie? Jy wat die afgode verafsku, doen jy nie ook mee aan die berowing van die tempels van die nie-Jode nie?

23 Ja, jy wat jou op God se wet beroem – jy beroof God van sy eer deurdat jy self sy wet oortree!

24 Geen wonder nie dat die Skrif sê: “Julle veroorsaak dat God se Naam onder die nie-Joodse nasies sleggemaak word.”

25 Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie.

26 En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie?

27 Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek!

28 Jy is nie ’n ware Jood bloot omdat jy in die openbaar as ’n Jood bekend staan of omdat jy uitwendig besny is nie.

29 Inteendeel, die ware Jood is dié een wat dit in sy binneste is. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie; nee, dit is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. Só ’n persoon ontvang lof – nie van mense nie, maar van God.

ROMEINE 3

God bly altyd betroubaar

1 Beteken dit dan enigiets besonders om ’n Jood te wees? Of hou die besnydenis enige voordeel in?

2 Inderdaad! Dit hou baie voordele in. Die belangrikste is die feit dat God sy openbaring aan die Jode toevertrou het.

3 Wat sê dit vir ons? Impliseer die feit dat party Jode ontrou geword het dan nie dat God se getrouheid aan sy beloftes ook daarmee heen is nie?

4 Beslis nie! Al sou elke mens ’n leuenaar wees – God se waaragtigheid staan steeds vas. Soos die Skrif sê:

“U sal reg bewys word

in wat U sê,

en U sal u regsaak wen.”

5 “Maar,” kan party sê, “dan dien ons ongeregtigheid tog ’n goeie doel, want as God ons ten spyte van ons sondes vryspreek, sal dit vir die mense wys hoe wonderlik goed Hy is. En dan sou God mos onregverdig wees as Hy die sonde wel straf!” Ja, so sou mense nogal geneig wees om te redeneer.

6 Maar dit is natuurlik ondenkbaar! As God onregverdig was, hoe sou Hy ooit as die regter van die hele wêreld kon kwalifiseer?

7 Party sal egter nog bly sê: “Maar hoe kan God my nog steeds as ’n sondaar veroordeel as my oneerlikheid juis sý waaragtigheid oorvloedig laat blyk en tot sy verheerliking dien?”

8 Volgens hierdie absurde redenasie sou ons moes sê: “Kom ons doen die slegte sodat die goeie daaruit kan voortkom!” Dié wat sulke onsin verkondig, verdien tereg God se oordeel – en tog belaster sommige mense my deur te beweer dis presies wat ek preek!

Dis duidelik dat alle mense

sondaars is

9 Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer.

10 Dit is soos die Skrif sê:

“Niemand is goed nie –

selfs nie een nie.

11 Daar is nie een wat

verstandig is nie;

niemand wat ernstig

na God soek nie.

12 Almal het hulle rug op God gekeer;

almal het sleg geword.

Daar is niemand

wat die goeie doen nie –

selfs nie een nie.”

13 “Hulle keel is soos

’n geopende graf.

Met hulle tonge

pleeg hulle bedrog.”

“Die gif van dodelike slange

drup van hulle lippe.”

14 “Hulle monde is vol vervloeking

en bitterheid.”

15 “Hulle is haastig

om moord te pleeg.

16 Oral waar hulle gaan,

laat hulle verwoesting

en ellende agter.

17 Hulle weet nie waar

ware vrede lê nie.”

18 “Eerbied vir God speel by hulle

geen rol nie.”

19 Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God.

20 Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde.

God spreek ons vry op grond

van Christus se dood

21 Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig:

22 God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.

23 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.

24 Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

25 –

26 Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.

27 Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof.

28 Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie.

29 Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode.

30 Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode.

31 As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.

ROMEINE 4

Ook Abraham is vrygespreek

deur die geloof

1 Abraham is ons aardse voorvader. Hoe pas hy in hierdie prentjie van vryspraak deur die geloof?

2 Was dit op grond van sy goeie werke dat God hom vrygespreek het? As dit inderdaad so was, sou hy dalk goeie rede gehad het om te spog. Maar vanuit God se oogpunt het hy absoluut niks gehad om oor te spog nie.

3 Die Skrif verklaar mos: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

4 Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding.

5 Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo.

6 Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word:

7 “Gelukkig is daardie mense

wie se oortredings

nie gestraf word nie

en wie se sondes uitgewis word.

8 Gelukkig is die mens

vir wie die Here die sonde

glad nie meer toereken nie!”

9 Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo.

10 Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is!

11 Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is.

12 En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is.

13 Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo.

14 As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor.

15 Wetsgehoorsaamheid bring juis straf mee – die enigste manier om wetsverbreking te voorkom is om geen wet te hê nie!

16 Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo.

17 Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.

18 Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.”

19 En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie.

20 Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee.

21 Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het.

22 Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het!

23 Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie.

24 Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het.

25 Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

ROMEINE 5

Die wonderlike voorreg om

gelowiges te wees

1 As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het.

2 Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee.

3 Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard.

4 Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting.

5 En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

6 Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf.

7 ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf.

8 God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.

9 Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie!

10 Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie!

11 Bo alles kan ons nou ook jubel in God omdat Jesus Christus ons Here ons bevoorreg het om nou God se vriende te wees.

Adam en Christus word

vergelyk

12 Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig.

13 Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie.

14 Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie.

Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom.

15 Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles!

16 En die resultaat van God se genadegeskenk verskil radikaal van die resultaat van die een mens, Adam, se sonde. Want hierdie een mens se sonde het gelei tot veroordeling, maar ons ontvang die genadegeskenk van God se vryspraak, al staan ons skuldig aan ’n menigte oortredings.

17 Die oortreding van hierdie een mens, Adam, het veroorsaak dat die dood oor ons regeer, maar deur die een mens, Jesus Christus, word vir ons nog veel meer gegee: Almal wat God se oorvloedige genadegeskenk van vryspraak ontvang, sal koninklik oor die sonde en die dood triomfeer.

18 Ja, Adam se een oortreding het God se veroordeling oor almal gebring, maar net so het Christus se een daad van gehoorsaamheid vryspraak en lewe vir almal gebring.

19 Omdat een persoon aan God ongehoorsaam was, het baie mense sondaars geword. Net so sal baie deur die gehoorsaamheid van hierdie één, ánder Mens tot regverdiges verklaar word.

20 God se wet is gegee sodat alle mense kon sien hoe groot en baie hulle oortredings is. Maar hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword.

21 Die gevolg hiervan is dat net soos die sonde oor almal regeer het en die dood oor hulle gebring het, God se genade nou regeer. Dit laat ons nou as regverdiges voor God staan, en loop uit op die ewige lewe wat ons deur Jesus Christus ons Here sal ontvang.

ROMEINE 6

Ons is dood vir die sonde en

moet nou vir God lewe

1 Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?

2 Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!

3 Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?

4 Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.

5 Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe.

6 Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.

7 Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.

8 Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.

9 Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie.

10 Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God.

11 Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.

12 Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.

13 Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

14 Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade.

15 Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie!

16 Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe.

17 Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is.

18 Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God.

19 Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en ’n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en ’n lewe lei wat aan God toegewy is.

20 Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie.

21 En wat was die resultaat? Julle skaam julle nou daaroor, want wat julle destyds gedoen het, eindig in die ewige dood.

22 Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan ’n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe!

23 Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!

ROMEINE 7

Bevry van die wet behoort ons

aan Christus

1 En nou, broers en susters – ek praat immers met mense wat die wet ken – julle weet tog dat die wet net van toepassing is op mense solank hulle lewe.

2 Byvoorbeeld: As ’n vrou met ’n man trou, bind die wet haar aan haar eggenoot vir so lank as wat hy lewe. Maar as hy te sterwe kom, is die huwelikswet nie meer op haar van toepassing nie.

3 As sy dus, terwyl haar man nog lewe, met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vrygestel van die huwelikswet en pleeg sy nie egbreuk as sy hertrou nie.

4 My punt, my broers en susters, is die volgende: Julle staan ook nie langer onder die mag van die wet nie. Die wet het tog beheer oor julle verloor toe julle saam met Christus gesterf het. En nou behoort julle aan Iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is sodat julle goeie vrug vir God kan voortbring.

5 Toe ons nog in die mag van ons sondige natuur was, was die sondige drifte wat deur die wet aangewakker is, oral in ons liggame werksaam en die resultaat daarvan was die dood.

6 Maar nou is ons vrygestel van die binding van die wet omdat ons saam met Christus gesterf het. Daarom kan ons God nou dien met die nuutheid wat die Gees bring, nie op die ou manier van gehoorsaamheid aan die letter van die wet nie.

Die wet maak ons van sonde bewus

7 Suggereer ek daarmee dat die wet van Moses sondig is? Hoegenaamd nie! Inteendeel, dit was juis die wet wat my van sonde bewus gemaak het. Ek sou byvoorbeeld nooit besef het wat sondige begeerte is as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”

8 Sonde is deur hierdie gebod gestimuleer en het allerlei sondige begeertes in my aan die gang gesit. Sonder die wet sou die sonde nie daardie vermoë gehad het nie.

9 Ek het destyds heel goed gevoel toe ek nog nie verstaan het wat die wet van my verwag nie. Maar toe die betekenis van die gebod tot my deurdring, het die sonde vir my ’n lewende werklikheid geword,

10 en ek self het die doodsvonnis ontvang. Dit het geblyk dat juis die gebod wat veronderstel was om vir my die lewe te bring, vir my die dood beteken.

11 Want die sonde wat deur die gebod aangewakker is, het my verlei en so my doodsvonnis meegebring.

12 Nietemin, die wet op sigself is heilig en sy inhoud is heilig en reg en goed.

13 Hoe is dit dan nou moontlik? Het dit wat goed is, naamlik die wet van Moses, dan vir my die dood gebring? Glad nie! Dis die sónde wat dit gedoen het, met die gevolg dat sy ware aard duidelik geword het. Sonde het dit wat goed is, misbruik om my dood te bewerk. So het die gebod nog soveel duideliker gemaak hoe verskriklik die sonde werklik is.

Worsteling met die sonde

14 Die wet is dus goed. Dit het ’n diep geestelike karakter. Die probleem lê nie by die wet nie, maar by myself omdat ek aan my sondige natuur gebind is. Ek is ’n slaaf wat aan die sonde verkoop is.

15 Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek.

16 As ek doen wat ek nie wil doen nie en my gewete kla my daaroor aan, erken ek self dat die wet goed is.

17 Maar nou is dit nie meer ek wat die verkeerde doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.

18 Ek weet dat ek – ten minste wat my ou, sondige natuur betref – nie oor die vermoë beskik om die goeie te doen nie. Want die begeerte tot die goeie is daar, maar ek kry dit nie uitgevoer nie.

19 Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek.

20 As ek dan doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar eerder die sonde wat in my woon.

21 Ek ervaar dus die volgende lewenswet: As ek die goeie wil doen, is die kwaad byderhand.

22 Ek verheug my immers in my diepste wese in die wet van God.

23 Tog vind ek ’n ander wet in my binneste wat oorlog maak teen die wet van my gees en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat nog in my is.

24 Arme ek! Wie sal my uit hierdie doodstoestand red?

25 Die antwoord hierop is: Jesus Christus ons Here, en daarvoor dank ek God!

Die saak staan dus so: Met my gees wil ek die wet van God gehoorsaam, maar as gevolg van my sondige natuur gehoorsaam ek die wet van die sonde.

ROMEINE 8

Ons beleef die wonder van

bevryding

1 Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.

2 Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.

3 Die wet van Moses kon ons as gevolg van ons sondige natuur nie verlos nie. Daarom het God sy eie Seun met ’n menslike natuur soos ons sondige menslike natuur na ons toe gestuur om as offer vir ons sonde te dien. Daarmee het Hy afgereken met die sonde in ons menslike bestaan,

4 sodat ons kan voldoen aan die vereiste van die wet – ons wat nou nie meer volgens ons sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees.

5 Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak.

6 As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.

7 Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard.

8 Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie.

9 Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie!

10 As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is.

11 Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon.

12 Daarom dan, my broers en susters, is dit noodsaaklik dat ons die druk van ons sondige natuur sal weerstaan en nie daarvolgens sal lewe nie.

13 Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet. Maar as julle deur die Gees die werke van julle sondige natuur doodmaak, sal julle werklik lewe.

14 Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.

15 Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.

16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.

17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Daar wag ’n heerlike toekoms

18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.

19 Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.

20-21 Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders.

22 Ons weet immers dat die ganse skepping nog steeds aan die kreun is soos iemand met geboortepyne.

23 Wat meer is, ons wat die Gees as voorsmaak en waarborg van ons toekomstige heerlikheid ontvang het, kreun ook in ons binneste in ons smagting om van ons verganklike liggame verlos te word.

24 Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. Want as jy iets reeds het, hoef jy nie meer daarna uit te sien nie.

25 Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.

26 Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid. Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.

27 Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree.

28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

29 Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.

30 Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.

Niks kan ons van Christus se

liefde skei nie

31 Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?

32 As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie?

33 Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek.

34 Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit.

35 Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry?

36 Selfs die Skrif verklaar tog:

“Om u ontwil bedreig die dood

ons die hele dag

en word ons as slagskape

beskou.”

37 Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.

38 Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie.

39 Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie.

ROMEINE 9

God het Israel self uitgekies

1 Voor Christus verklaar ek plegtig – ek vertel nie ’n leuen nie – en my gewete, bekragtig deur die Heilige Gees, bevestig dat wat ek nou gaan sê die waarheid is:

2 Ek beleef ’n ontsaglike hartseer, ja, ek dra ’n permanente pyn in my om

3 oor my broers en susters, my volksgenote. Ek sou selfs ter wille van hulle deur God vervloek wou wees – afgesny van Christus – as dit hulle kon red.

4 Hulle is tog Israeliete, bevoorreg tot kindskap. God het sy heerlikheid aan hulle bekendgemaak. Hy het verbonde met hulle gesluit en sy wet vir hulle gegee. Hulle is bevoorreg om Hom te aanbid en Hy het wonderlike beloftes aan hulle gemaak.

5 Hulle het eerbiedwaardige voorvaders gehad en uit hulle is Christus as mens gebore – Hy wat tegelyk God bo alles is en aan wie die lofprysing vir altyd en altyd toekom! Amen.

6 Dit impliseer egter nie dat God se beloftes aan die Jode nou ongeldig geword het nie. Ons moet in gedagte hou dat nie almal wat uit ’n Israelitiese familie gebore word, ware Israeliete is nie.

7 Die blote feit dat mense afstammelinge van Abraham is, maak hulle nog nie ware kinders van Abraham nie. Want die Skrif sê: “Isak is die seun uit wie jou nageslag sal kom.”

8 Dit beteken dat Abraham se fisiese kinders nie noodwendig ook almal Gód se kinders is nie, maar dit is die kinders van die belofte wat Abraham se ware nageslag is.

9 Want God het soos volg belowe: “Volgende jaar sal Ek terugkom, en dan sal Sara ’n seun hê.” Hierdie seun was ons voorvader Isak.

10 Dis nie al nie. Rebekka was ook net een keer swanger. Sy het ’n tweeling by ons voorvader Isak gehad.

11 Nog voordat hulle gebore is, ja, nog voordat hulle enigiets goeds of slegs gedoen het, het God reeds vir haar ’n boodskap gehad – wat bewys dat God volgens sy eie plan kies,

12 nie volgens ons dade nie. Die boodskap aan haar was: “Die oudste kind sal die jongste een dien.”

13 In die woorde van die Skrif: “Ek het vir Jakob liewer gehad as vir Esau.”

14 Wat moet ons hierop sê? Dat God onbillik is? Beslis nie!

15 Hy sê tog vir Moses:

“Ek sal My ontferm

oor wie Ek My wil ontferm,

en Ek sal barmhartigheid betoon

teenoor wie Ek dit wil doen.”

16 Dit hang dus nie van ons af of ons God se belofte ontvang nie. Ons kan dit nie toe-eien deur dit te begeer of ons daarvoor in te span nie. Dit hang af van God se ontferming.

17 Die Skrif verklaar mos dat God vir Farao gesê het: “Ek het jou juis hiervoor aangehits – Ek wil deur jou optrede my krag bekendmaak sodat my Naam oor die hele wêreld geroem sal word.”

18 Dit is dus duidelik – God ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil.

19 Jy sou nou kon vra: “Hoe kan God mense nog blameer as hulle nie luister nie? Hulle het tog maar net gedoen waartoe God hulle verplig het. Hulle kan tog nie teen sy besluit ingaan nie.”

20 O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”

21 As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie?

22 Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak.

23 Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang.

24 Ons is hierdie voorwerpe – ons vir wie Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Joodse nasies.

25 Oor laasgenoemde sê God in die boek Hosea tereg:

“Hulle wat nie my volk was nie,

sal Ek nou mý volk noem.

En Ek sal haar liefhê

wat nie voorheen

my geliefde was nie.”

26 En:

“Dáár waar vir hulle gesê is:

‘Julle is nie my volk nie,’

juis daar sal hulle kinders

van die lewende God

genoem word.”

27 Maar wat Israel betref, roep Jesaja uit:

“Al was die Israeliete so baie

soos die sand op die seestrand,

sal net ’n handjievol oorblywendes

verlos word.

28 Want die Here gaan sy saak hier

op aarde

eens en vir altyd finaliseer.”

29 Jesaja het trouens al vroeër verklaar:

“As die Here, die Almagtige,

nie ’n paar van ons

laat oorbly het nie,

sou ons volledig uitgewis gewees het

net soos Sodom en Gomorra.”

Die Jode het hulle eie pad bo

God s’n gekies

30 As ons hieroor nadink, wat is ons slotsom? Dit is dat nie-Joodse nasies die vryspraak deur die geloof verkry het, al het hulle hulle nie daarvoor beywer nie.

31 Terselfdertyd het Israel, wat so hard probeer het om deur nakoming van die wet God se goedkeuring te verkry, nie daarin geslaag nie.

32 Hoekom nie? Juis omdat hulle dit op grond van hulle werke probeer verkry het en nie deur die geloof nie. Dit was die klip waaroor hulle gestruikel het.

33 God het hulle in die Skrif juis hierteen gewaarsku met die woorde:

“Let goed op! Ek sit in Jerusalem

’n klip waaroor mense kan

struikel,

’n rots wat hulle kan laat

val.

Maar enigeen wat in Hom glo,

sal nie beskaamd staan nie.”

ROMEINE 10

1 Broers en susters, die intense verlange van my hart en my gebed tot God is dat my volk verlos sal word.

2 Ek kan getuig hoeveel hulle hulle vir God beywer, maar hierdie ywer is sonder die regte insig.

3 Want hulle ignoreer die vryspraak van God en hulle streef daarna om self hulle saak met God reg te maak. Hulle is nie bereid om God se vryspraak te aanvaar nie.

4 Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word.

God se verlossing is daar vir almal

5 Moses skryf soos volg omtrent die moontlikheid om jou saak met God reg te maak: “Wie die vereistes van die wet nakom, sal daardeur lewe.”

6 Maar die vryspraak wat ’n mens kry deurdat jy glo, se boodskap is: “Jy hoef nie in jou hart te wonder: ‘Wie sal na die hemel opklim’ – dit wil sê om Christus na die aarde toe te bring om jou te help, of:

7 ‘Wie sal na die plek van die dooies onder die aarde afdaal’ – dit wil sê om Christus uit die dood terug te bring nie.

8 Nee, die verlossing wat joune word deurdat jy glo – en dit is juis hierdie boodskap wat ons verkondig – is sommer hier by jou. Om die waarheid te sê, die Skrifwoord lui:

‘Die boodskap is hier by jou,

op jou lippe en in jou hart.’”

9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.

10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos.

11 Soos die Skrif sê: “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”

12 Inderdaad! Dit maak geen verskil of jy ’n Jood of ’n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here en Hy deel sy rykdomme uit aan almal wat Hom aanroep.

13 Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word”.

14 Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?

15 En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: “Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!”

16 Maar tog is dit nie elkeen wat die Goeie Nuus verwelkom nie. Jesaja vra tereg: “Here, wie het ons boodskap geglo?”

17 Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus.

18 Maar wat nou van die Jode? Het hulle die boodskap dalk nie gehoor nie? Hulle het dit definitief gehoor:

“Die boodskappers se stem

het oor die hele wêreld uitgegaan;

hulle woorde tot by

die uithoeke van die aarde.”

19 Of sou Israel dit dalk nie verstaan het nie? Tog wel, want God het alreeds deur Moses gesê:

“Ek sal julle jaloers maak

op mense wat eintlik

geen volk is nie;

Ek sal julle kwaad maak oor ’n

volk

wat nie julle kennis het nie.”

20 Jesaja gaan selfs verder. Dáár sê God:

“Ek is gevind deur mense

wat nie na My gesoek het nie;

Ek het Myself bekendgemaak

aan mense wat nie

na My gevra het nie.”

21 Maar wat Israel betref, sê God: “Die hele dag deur het Ek my arms na hulle toe uitgesteek; maar hulle het steeds volhard in hulle ongehoorsaamheid en het steeds bly teëstribbel.”