RIGTERS 12

Jefta en die Efraimiete

1 Die Efraimiete het bymekaargekom om oorlog te maak. Hulle het deur die Jordaan na Safon getrek. Daar het hulle vir Jefta gevra: “Hoekom het jy teen die Ammoniete gaan veg sonder om ons saam met jou te neem? Ons sal jou saam met jou huis afbrand.”

2 Jefta het hulle geantwoord: “Daar was ’n groot stryd tussen ons en die Ammoniete. Ek het julle opgeroep, maar julle het my nie kom help nie.

3 Toe ek sien ek gaan nie hulp kry nie, het ek dit maar gewaag en teen die Ammoniete gaan veg. Die Here het hulle in my hand gegee. Hoekom wil julle nou teen my kom veg?”

4 Maar die Efraimiete sê: “Julle mense van Gilead het uit Efraim en Manasse gedros!”

Jefta het toe die mense van Gilead bymekaargemaak en teen die Efraimiete geveg.

5 Hulle het die Efraimiete by die Jordaandriwwe voorgelê. Wanneer iemand deur die Jordaan wou teruggaan, het hulle vir hom gevra: “Is jy ’n Efraimiet?” Wanneer hy sê: “Nee!”,

6 sê hulle vir hom: “Sê ’n bietjie: ‘Sjibbolet.’” Wanneer hy “Sibbolet” sê, het hulle hom gegryp en daar by die Jordaandrif doodgemaak. Die Efraimiete kon nie die woord reg uitspreek nie. So is 42 000 man van Efraim dood.

7 Jefta het Israel ses jaar lank gelei. Jefta die Gileadiet het gesterf en hy is begrawe in een van die stede in Gilead.

Ander leiers

8 Ná hom het Ibsan uit Betlehem as leier van die Israeliete opgetree.

9 Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad. Hy het sy dogters met mans buite sy stam laat trou. Hy het ook sy seuns met 30 vroue van buite sy stam laat trou. Hy het Israel vir sewe jaar lank gelei.

10 Toe Ibsan sterf, is hy in Betlehem begrawe.

11 Hy is gevolg deur Elon uit Sebulon. Hy was tien jaar lank die leier van Israel.

12 Toe Elon uit Sebulon sterf, is hy begrawe in Ajalon in die Sebulongebied.

13 Ná hom het Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, leier van Israel geword.

14 Hy het 40 seuns en 30 kleinseuns gehad. Hulle het op 70 donkies gery. Hy was agt jaar lank leier in Israel.

15 Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, het gesterf. Hulle het hom in Piraton in die Efraimgebied by die Amalekheuwels begrawe.

RIGTERS 13

Simson word gebore

1 Die Israeliete het weer voor die Here kwaad gedoen. Hy het hulle vir 40 jaar lank aan die Filistyne onderwerp.

2 Daar was ’n man in Sora met die naam Manoag. Hy was uit die stam van Dan. Sy vrou kon nie kinders hê nie.

3 Die engel van die Here het by haar gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie tot dusver kinders kry nie, maar jy sal binnekort verwag en ’n seun hê.

4 Wees versigtig. Moenie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie.

5 Jy gaan binnekort geboorte gee aan ’n seun. Jou seun se hare mag nooit geskeer word nie. Hy sal van geboorte af ’n nasireër van God wees. Hy sal die Israeliete uit die hand van die Filistyne bevry.”

6 Die vrou het vir haar man gaan vertel: “Daar het ’n man van God na my toe gekom. Dit was vreeslik. Hy het gelyk of hy ’n engel van God kan wees. Ek het nie vir hom gevra waar hy vandaan kom nie. Hy het ook nie vir my gesê wie hy is nie.

7 Hy het vir my gesê: ‘Kyk, jy gaan verwag en ’n seun hê. Jy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. Die seun sal van sy geboorte tot sy dood aan God gewy wees.’”

8 Manoag het toe tot die Here gebid: “Here, laat asseblief tog die man van God wat U na ons gestuur het, weer na ons toe kom. Laat hy vir ons meer kom sê oor wat ons moet doen met die kind wat gebore gaan word.”

9 God het Manoag se gebed verhoor. God se engel het weer na die vrou toe gekom. Sy was op daardie oomblik in die veld. Haar man, Manoag, was toe nie by haar nie.

10 Sy hardloop toe gou terug na haar man toe en sê vir hom: “Die man wat nou die dag by my was, het nou weer gekom.”

11 Manoag het saam met sy vrou teruggehardloop. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat met my vrou gepraat het?”

Die man het geantwoord: “Dit was ek, ja.”

12 Manoag het vir hom gevra: “Wanneer jou belofte waar word, hoe moet die kind lewe en wat moet hy doen?”

13 Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Sorg dat jou vrou alles doen wat Ek vir haar gesê het.

14 Sy mag nie iets eet wat van druiwe af kom nie. Sy mag nie wyn of sterk drank drink nie. Sy mag niks eet wat onrein is nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”

15 Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag ’n bietjie hier. Ek wil vir jou ’n bokkie gaan gaarmaak om te eet.”

16 “Ek sal hier wag,” sê die Engel van die Here vir Manoag. “Maar Ek sal niks eet nie. Jy kan wel ’n brandoffer gereedmaak en dit vir die Here bring.”

Manoag het nie agtergekom dat dit die Engel van die Here was nie.

17 Manoag vra toe vir die Engel: “Wie is jy? Wanneer dit gebeur soos jy gesê het, wil ons graag jou naam vereer.”

18 Hy het vir Manoag geantwoord: “Hoekom wil jy weet wie Ek is? Dit is te groot vir jou.”

19 Manoag het toe ’n bokkie gereed gekry en dit saam met ’n graanoffer op ’n klip vir die Here geoffer. Terwyl Manoag en sy vrou so staan en kyk, het iets wonderliks gebeur.

20 Toe die vlamme uit die altaar opskiet die lug in, het die Engel van die Here in die vlamme opgestyg. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle vooroor met hulle gesigte teen die grond neergeval.

21 Manoag en sy vrou kon die Engel nie meer sien nie. Manoag het toe besef dat dit eintlik die Engel van die Here was.

22 Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan sekerlik nie bly leef nie. Ons het dan vir God gesien.”

23 Sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie ons brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ook nie aan ons verskyn het en ons al hierdie wonderlike dinge vertel het nie.”

24 Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën.

25 Die Gees van die Here het in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, in hom begin werk.

RIGTERS 14

Simson se eerste huwelik

1 Simson het afgegaan na Timna toe. Hy het daar ’n Filistynse meisie gesien.

2 Toe hy teruggaan, het hy sy ouers van haar vertel: “Ek het in Timna ’n Filistynse meisie gesien. Gaan kry haar dat ek met haar kan trou.”

3 Sy ouers vra toe vir hom: “Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense Filistyne ’n vrou vat?”

Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my. Ek wil haar hê.”

4 Sy ouers het nie agtergekom dat dit eintlik van die Here af gekom het nie. Die Filistyne het op daardie stadium oor Israel geheers. God het na ’n geleentheid gesoek om iets aan die Filistyne te doen.

5 Toe Simson en sy ouers op pad was na Timna toe, het ’n jong leeu hom naby die wingerde van Timna aangeval.

6 Die Gees van die Here het in hom gekom. Hy het met sy kaal hande die leeu se kake uitmekaargeskeur, soos ’n mens ’n bokkie verskeur. Simson het niks daarvan vir sy ouers gesê nie.

7 Hy het in Timna gekom en met die vrou gaan praat. Hy het baie van haar gehou.

8 Toe hy later weer vir die troue terugkom na Timna toe, het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ’n Swerm bye was besig om daarin heuning te maak.

9 Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan loop en eet. Hy het ook vir sy ouers daarvan gegee. Hulle het ook daarvan geëet, maar nie geweet dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie.

10 Sy pa is na die vrou se huis toe om reëlings te tref. Soos dit destyds die gewoonte was onder die jong mans, het Simson ’n onthaal gehou.

11 Toe hulle hom sien, het haar ouers30 Filistynse jong mans na die fees uitgenooi.

12 Simson het vir hulle gesê: “Ek wil julle graag ’n raaisel vra. As julle binne die sewe dae van die fees vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir julle 30 hemde en 30 stelle klere gee.

13 As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere.”

Hulle stem toe in: “Goed, laat ons jou raaisel hoor.”

14 Simson sê toe vir hulle:

“Uit een wat eet,

kom daar iets om te eet.

Uit een wat sterk is,

kom daar iets wat soet is.”

Teen die derde dag kon hulle nog nie sê wat dit beteken nie.

15 Op die vierde dag sê hulle vir Simson se vrou: “Oorreed jou man om die oplossing van die raaisel vir ons te gee. Anders sal ons jou doodmaak en jou pa se huis met vuur verbrand. Het jy ons uitgenooi om ons te verarm?”

16 Simson se vrou het by hom gaan neul: “Jy het my nie regtig lief nie. Jy haat my. Jy het dan vir my mense ’n raaisel gegee en nie eers vir my gesê wat dit beteken nie!”

Simson het vir haar gesê: “Ek het dit nie eers vir my eie ouers vertel nie. Hoekom sou ek dit vir jou gee?”

17 Elke keer as hy by haar kom, het sy begin neul. So het dit die res van die tyd van die fees gegaan. Op die sewende dag het hy vir haar die oplossing gegee, want sy wou hom nie met rus laat nie. Sy het toe die oplossing vir haar mense gegee.

18 Net voor sononder op die sewende dag het die mense van die stad vir Simson die antwoord kom gee:

“Wat is daar

wat soeter is as heuning?

En wat is daar

wat sterker is as ’n leeu?”

Simson sê toe vir hulle: “As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle nooit die antwoord op my raaisel kon kry nie!”

19 Die Gees van die Here het in Simson gekom. Hy het afgegaan na Askelon en 30 van hulle mans doodgeslaan. Hy het hulle besittings afgevat en daaruit 30 stelle klere gevat vir die mans wat die raaisel uitgelê het. Hy was briesend. Hy is toe terug na sy pa se huis toe.

20 Simson se strooijonker het toe met die vrou getrou.

RIGTERS 15

’n Donkie se kakebeen

1 Dit was die tyd toe die koring geoes is. Simson het ’n bokkie gevat om vir sy vrou te gee. Hy het vir homself gesê: “Ek wil by my vrou gaan slaap.”

Haar pa wou hom nie laat ingaan nie.

2 “Ek het dan gedink jy haat haar,” het haar pa gesê. “Ek het jou strooijonker met haar laat trou. Maar haar jonger sussie is mooier as sy. Jy kan haar maar in haar suster se plek kry.”

3 Simson sê toe vir hulle: “Ek is hierdie keer onskuldig vir wat ek nou met die Filistyne gaan aanvang.”

4 Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Tussen elke twee sterte het hy ’n fakkel vasgemaak.

5 Hy het die fakkels toe aan die brand gesteek en die jakkalse in die graan van die Filistyne ingejaag. Hy het die gerwe en die miedens, alles laat afbrand. Hy het ook die wingerde en die olyfboorde vernietig.

6 “Wie het dit gedoen?” het die Filistyne gevra. “Dit was Simson, die skoonseun van die man uit Timna. Hy het Simson se vrou vir sy strooijonker gegee,” het hulle gesê. Die Filistyne het toe gekom en haar en haar pa laat doodbrand.

7 Simson het wraak gesweer: “Omdat julle dit gedoen het, gaan ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.”

8 Hy het hulle met geweld aangeval en ’n geweldige slagting onder hulle aangerig. Hy het daarna in ’n skeur by die rots van Etam gaan woon.

9 Die Filistyne wou wraak neem en het in Juda kamp opgeslaan. Hulle het Legi geplunder.

10 Die mense van Juda wou toe weet: “Waarom kom maak julle oorlog met ons?”

Die Filistyne het geantwoord: “Ons wil Simson vang. Ons wil hom terugbetaal vir wat hy aan ons gedoen het.”

11 Uit Juda is toe 3 000 man af na die skeur by Etam. Hulle vra vir Simson: “Onthou jy dan nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?”

Hy het hulle geantwoord: “Ek doen maar net met die Filistyne wat hulle aan my gedoen het.”

12 Die mense van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom vang om jou aan die Filistyne uit te lewer.”

“Goed,” het Simson vir hulle gesê. “Beloof my net dat julle my nie sal doodmaak nie.”

13 Hulle het hom belowe: “Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons gaan jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons sal jou regtig nie doodmaak nie.”

Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgemaak en hom weggeneem van die skeur af.

14 Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne gejuig en op hom afgestorm. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak. Hy het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraadjies was wat wegbrand. Die toue waarmee hy geboei was, het van sy hande afgeval.

15 Hy het die vars kakebeen van ’n donkie van die grond af opgeraap en daarmee het hy 1 000 Filistyne doodgeslaan.

16 Hy sê toe:

“Met ’n donkie se kakebeen

het ek hulle opgestapel,

met die kakebeen van ’n donkie

1 000 man doodgeslaan.”

17 Nadat hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggesmyt. Hulle het die plek toe Kakebeenshoogte genoem.

18 Simson het toe baie dors geword. Hy het na die Here geroep: “U het vir u dienskneg hierdie groot oorwinning gegee. Moet ek nou van dors doodgaan en in die mag van heidene val?”

19 Toe het God water uit ’n holte by Legi laat borrel. Simson het gedrink en sy krag het teruggekom. Hy het die fontein in Legi “Roepersfontein” genoem. Dit is vandag nog sy naam.

20 In die twintig jaar wat die Filistyne oor hulle geheers het, was Simson die leier van Israel.

RIGTERS 16

Simson word gevange geneem

1 Simson het op ’n keer Gasa toe gegaan. Hy het daar ’n prostituut ontmoet en by haar gaan slaap.

2 Die mense van Gasa het gehoor dat Simson daar was. Hulle het toe saamgekom en by die ingang van die stad die hele nag deur vir hom gesit en wag. Hulle het deur die nag nie ’n geluid gemaak nie. Hulle het met mekaar afgespreek: “Wanneer dit lig word, gaan ons hom doodmaak.”

3 Simson het bly lê tot middernag en toe opgestaan. Hy het die deure van die stadspoort met kosyne en al uitgeruk en dit op sy skouers tot bo-op die kruin van die berg teenoor Hebron gedra.

4 ’n Ruk later het Simson op ’n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila.

5 Die leiers van die Filistyne het met haar gaan onderhandel: “Pols hom dat jy kan uitvind hoekom hy so sterk is. Vind uit hoe hy oorweldig en vasgebind kan word. Ons sal elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.”

6 Delila het toe vir Simson gevra: “Vertel my ’n bietjie waar jou groot krag vandaan kom. Hoe kan ’n mens die oorhand oor jou kry?”

7 Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog het nie, sal ek soos enige ander mens wees.”

8 Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe vars boogsnare gebring wat nog klam was. Sy het Simson daarmee vasgebind.

9 Daar het mans in een van die kamers van haar huis weggekruip. Sy sê toe vir hom: “Simson, die Filistyne het jou kom vang!” Hy het die boogsnare gebreek soos toue wat in ’n vlam brand. Niemand het geweet waar sy krag vandaan kom nie.

10 Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy speel met my. Jy het gelieg. Sê tog nou vir my waarmee kan ’n mens jou vasbind.”

11 Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak soos enige ander mens wees as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.”

12 Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!”

Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was.

13 Delila het vir Simson gevra: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee kan jy bedwing word.”

Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”

14 Terwyl hy slaap, het sy so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel geruk.

15 Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.”

16 So het sy dagin en daguit by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan.

17 Toe het hy sy hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “My hare is nog nooit geskeer nie. Ek is van my geboorte af as nasireër aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn. Ek sal dan magteloos wees en soos enige ander mens.”

18 Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring.

19 Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Sy het ’n man nadergeroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer. Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word. Sy krag het verdwyn.

20 Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.

21 Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal.

22 Maar daar het sy afgeskeerde hare weer begin groei.

Simson dood 3 000 mans en

vroue

23 Die leiers van die Filistyne het saamgekom om in die tempel ’n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.”

24 Toe die mense hom sien, het hulle hulle god begin loof en gesê: “Ons god het ons vyand wat ons land so verwoes het en so baie van ons doodgemaak het, in ons mag gegee!”

25 Toe die Filistyne begin dronk word, het hulle gesê: “Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat pret hê.” Hulle het Simson uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak. Hulle het hom tussen die twee hoofpilare van die tempel laat staan.

26 Hy het vir die seun wat hom aan die hand gelei het, gevra: “Laat my by die pilare van die tempel staan dat ek daarteen kan leun.”

27 Die tempel was propvol mans en vroue. Al die leiers van die Filistyne was daar. Op die dak van die tempel was daar ook omtrent 3 000 mans en vroue wat kom kyk het hoe Simson hulle gaan vermaak.

28 Simson bid toe tot die Here: “Oppermagtige Here, dink tog aan my! God, maak my tog net hierdie een keer so sterk dat ek my op die Filistyne kan wreek vir my oë!”

29 Simson het met sy hande teen die twee hoofpilare gedruk waarop die gebou rus. Hy het met sy regterhand en sy linkerhand elkeen teen ’n pilaar gedruk.

30 Toe bid hy: “Laat my saam met die Filistyne sterf!”

Hy het met al sy krag teen die pilare gedruk en die tempel het inmekaargestort op die leiers van die Filistyne en al die mense wat daarin was. Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as deur sy hele lewe.

31 Sy broers en sy hele familie het afgekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom saam teruggeneem en hom tussen Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf begrawe.

Simson was twintig jaar lank Israel se leier.

RIGTERS 17

Miga se huistempel

1 ’n Man met die naam Miga het in die heuwelgebied van Efraim gewoon.

2 Hy het vir sy ma gesê: “Ma het die persoon vervloek wat die dertien kilogram silwer van Ma gesteel het. Dit is ek wat dit gevat het.”

Sy ma sê toe vir hom: “My seun, mag die Here jou seën omdat jy dit erken het.”

3 Hy het die dertien kilogram silwer na sy ma toe teruggebring. Sy sê toe: “Ek wy hierdie silwer aan die Here. Ter wille van my seun laat ek daarvan ’n beeld giet. So gee ek dit weer vir jou terug, my seun.”

4 Nadat hy die silwer vir sy ma teruggegee het, het sy sowat twee en ’n half kilogram daarvan gevat en vir ’n silwersmid gegee om daarvan ’n beeld te maak om te aanbid.

Dit is toe in Miga se huis gesit.

5 Miga het ’n heiligdom by sy huis ingerig. Daarvoor het hy ’n efodbeeld en afgodsbeeldjies gemaak en een van sy seuns as priester aangestel.

6 Israel het nog nie in daardie tyd ’n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos hy wou.

7 Daar was ’n jong man in Betlehem in Juda. Hy het aan die Judastam behoort. Hy was ook ’n Leviet. Hy het tydelik in Betlehem gebly.

8 Hy is van daar af weg om elders blyplek te soek. Op pad het hy in die heuwelgebied van Efraim by die huis van Miga uitgekom.

9 “Van waar af is jy?” het Miga vir hom gevra.

“Ek is ’n Leviet. Ek kom van Betlehem in Juda. Ek is op soek na blyplek,” het hy geantwoord.

10 “Kom bly dan by my,” het Miga vir hom gesê. “Jy kan my raadgewer en my priester wees. Ek sal vir jou kos en klere en veertien gram silwer ’n jaar gee.”

11 Die Leviet het daarmee ingestem. Hy het soos een van Miga se eie seuns geword.

12 Miga het die Leviet as priester gewy. Hy het sy persoonlike priester geword en in Miga se huis gebly.

13 Toe sê Miga: “Ek is daarvan oortuig dat die Here vir my goed sal wees omdat ek in my huis ’n Leviet as priester het.”

RIGTERS 18

Miga en die Daniete

1 Israel het nog nie ’n koning gehad nie. Die stam Dan was op soek na grond om op te woon. Hulle het in daardie stadium nog steeds nie hulle eie grond gehad nie.

2 Die mense van Dan het vyf sterk mans uit hulle stam gekies. Hulle het die mans van Sora en Estaol af uitgestuur om vir hulle na grond te gaan soek. Hulle opdrag was: “Gaan verken die land.”

Hulle het toe in die heuwels van Efraim by Miga se huis uitgekom. Daar het hulle die nag oorgebly.

3 Hulle het in Miga se huis die stem van die Leviet herken. Hulle het hom eenkant toe geroep en vir hom gevra: “Hoe het jy hier uitgekom? Wat maak jy hier? Wat hou jou hier?”

4 Hy vertel hulle toe dat hy ’n ooreenkoms het met Miga: “Hy het my gehuur. Ek is sy priester.”

5 Hulle het toe vir hom gesê: “Vind uit by God of ons reis voorspoedig gaan wees.”

6 “Wees gerus,” het die priester vir hulle gesê. “Die Here gaan saam met julle op julle reis.”

7 Die vyf mans het toe vertrek. Hulle het in Lajis aangekom. Hulle het gesien dat die inwoners, net soos die mense in Sidon, rustig daar bly. Hulle was rustig en vreedsaam. Hulle land was vrugbaar en hulle het niks kortgekom nie. Hulle was ver van Sidon af en het geen bondgenote naby gehad nie.

8 Hulle is toe terug na Sora en Estaol. Hulle stamgenote het hulle toe uitgevra: “Het julle iets gesien?”

9 Toe antwoord hulle: “Kom ons trek soontoe. Ons het die land gaan bekyk. Dit is baie mooi daar. Julle moenie nog sit en wag om die land te gaan inneem nie.

10 Julle sal afkom op mense wat houtgerus daar bly. God gee vir julle ’n oop en vrugbare stuk grond. Dit is ’n plek waar daar nie ’n gebrek aan enigiets is nie.”

11 Van die Daniete het 600 geoefende soldate toe uit Sora en Estaol vertrek.

12 Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan wes van Kirjat-Jearim in Juda. Dit word vandag nog Magane-Dan genoem.

13 Van daar het hulle deur die heuwels van Efraim getrek en by Miga se huis uitgekom.

14 Die vyf mans wat Lajis gaan verken het, het vir hulle makkers gesê: “Weet julle dat hier ’n huistempel is met ’n skouerkleed, afgodsbeeldjies en ’n godsbeeld? Julle weet wat om te doen.”

15 Hulle het daar afgedraai na Miga se huis toe waar die Leviet gebly het. Hulle het hom vriendelik gegroet.

16 Die 600 gewapende soldate het buite by die deur gaan staan.

17 Die vyf mans wat die land gaan verken het, het in die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die skouerkleed gevat. Die priester het by die deur gestaan.

18 Toe hy sien wat die vyf mans doen, het die priester vir hulle gevra: “Wat maak julle?”

19 “Bly stil,” het hulle vir hom gesê. “Hou jou mond! Kom saam met ons dat jy ons raadgewer en priester kan wees. Wat is vir jou beter: om een man se priester te wees of om ’n priester te wees vir al die mense van ’n stam in Israel?”

20 Die priester was heeltemal inskiklik om saam met hulle te gaan. Hy het die skouerkleed, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld saamgevat.

21 Hulle het toe weer ingedraai in die pad en verder gereis. Hulle het hulle kinders en hulle vee en besittings op die voorpunt gesit.

22 Toe hulle al ’n ent weg is van Miga se huis af, het Miga sy bure bymekaargemaak en die Daniete agternagesit.

23 Toe hulle naby kom, het hulle na die Daniete geroep. Die mense van Dan het omgedraai en vir Miga gevra: “Wat is dit nou met jou dat jy mense teen ons bymekaargemaak het?”

24 Miga sê toe vir hulle: “Hoe kan julle nog vra wat is dit met my? Julle het my afgode wat ek vir my gemaak het en my priester saam met julle gevat. Ek het niks oor nie.”

25 Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier op ons kom staan en skreeu nie! Hier is mans met kort humeure. Netnou val hulle jou en jou mense aan en maak julle dood.”

26 Die mense van Dan het toe verder getrek. Miga het gesien dat hulle vir hom te veel is om aan te val. Hy het toe maar omgedraai huis toe.

27 So het die mense van Dan die beelde gevat wat Miga gemaak het, en ook sy priester.

Hulle het by Lajis uitgekom, by mense wat rustig en houtgerus daar woon. Die Daniete het hulle egter almal doodgemaak en die stad met vuur afgebrand.

28 Daar was niemand om hulle te red nie. Hulle was ver van Sidon af. Niemand het met hulle ’n aanvalsverdrag gehad om hulle te kom help nie. Dit was op die vlakte by Bet-Regob.

Die mense van Dan het die stad weer herbou en daarin gaan woon.

29 Hulle het die stad herdoop na Dan, hulle stamvader, een van die seuns van Israel. Die plek se naam was egter vroeër Lajis.

30 Die mense van Dan het die afgodsbeeld vir hulle daar opgerig. Jonatan, die seun van Gersom, ’n afstammeling van Moses, en sy nageslag was die priesters vir die stam Dan. Dit het so gebly totdat Dan in ballingskap weggevoer is.

31 So lank as wat God se heiligdom in Silo was, het Dan hulle eie afgodsbeeld aanbid wat Miga gemaak het.

RIGTERS 19

’n Leviet en sy byvrou

1 Israel het nog steeds nie ’n koning gehad nie. ’n Leviet het tydelik in ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim gebly. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda geneem.

2 Sy was nie getrou aan hom nie en het van hom af weggeloop. Sy het teruggegaan na haar pa se huis in Betlehem in Juda. Sy het vier maande lank daar gebly.

3 Haar man het toe ’n helper en ’n paar donkies gevat en agter haar aangegaan om haar te gaan ompraat om terug te kom. Sy het hom in haar pa se huis ingenooi. Haar pa was bly om hom te sien.

4 Sy skoonpa het hom oorreed om daar oor te bly. Hy het drie dae daar oornag, geëet en gedrink.

5 Op die vierde dag het hy vroeg opgestaan en reggemaak om te vertrek. Die meisie se pa het vir sy skoonseun gesê: “Eet eers ’n bietjie en daarna kan jy vertrek.”

6 Die twee het gaan sit en saam geëet en gedrink. Die meisie se pa sê toe vir die man: “Bly asseblief nog ’n nag oor en geniet dit hier.”

7 Die man was reg om te gaan, maar toe sy skoonpa so by hom aandring, het hy toegegee en nog ’n nag gebly.

8 Op die vyfde dag het hy vroeg opgestaan en klaargemaak om te gaan. Die meisie se pa sê toe: “Eet eers ’n bietjie, dan kan jy vanmiddag gaan.” Die twee het toe weer saam geëet.

9 Toe die man en sy byvrou en sy helper daardie middag gereed was om te vertrek, het die meisie se pa vir hom gesê: “Die skaduwees het al lank geword. Slaap eers vannag hier en dan kan jy môre vroeg opstaan vir die reis huis toe.”

10 Die man was nie bereid om nog ’n nag daar te bly nie. Hy het reggemaak en vertrek. Met sy opgesaalde donkies en sy byvrou het hy vertrek in die rigting van Jebus, dit is Jerusalem.

11 Dit was al laat toe hulle teenoor Jebus kom. Sy helper sê toe vir hom: “Kom ons draai af na die stad toe en gaan slaap daar.”

12 “Nee,” sê hy vir hom. “Ons kan nie afdraai na ’n vreemde stad waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan aan tot by Gibea.

13 Ons stoot aan om in Gibea of in Rama te gaan slaap.”

14 Hulle het deurgedruk. Die son was besig om onder te gaan toe hulle by Gibea in Benjamin aankom.

15 Hulle het afgedraai om in Gibea te gaan slaap. Hulle het op die stadsplein gaan afpak omdat niemand hulle genooi het om in sy huis te oornag nie.

16 ’n Ou man het daardie aand van sy werk in die veld af teruggekom. Hy was oorspronklik van die heuwelgebied van Efraim, maar het vir ’n tyd lank in Gibea, in die gebied van Benjamin, gebly.

17 Toe die ou man die reisigers op die stadsplein sien sit, vra hy hulle: “Van waar af kom julle en waarheen is julle op pad?”

18 Die Leviet antwoord die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda na ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim. Ek kom van daar af, maar ek het na die huis van die Here in Betlehem in Juda gegaan. Maar hier is niemand wat ons na hulle huis genooi het nie.

19 Ons het alles wat ons nodig het. Hier is voer vir die donkies, en genoeg kos en wyn vir ons almal.”

20 “Dis goed so,” sê die ou man vir hulle. “Sê maar as jy iets nodig het. Moet tog net nie vannag hier op die plein slaap nie.”

21 Die ou man het hulle saamgeneem na sy huis toe. Hulle het vir die donkies voer gegee. Hulle het ook eers hulle voete gewas, en toe saam geëet en gedrink.

22 Toe dit al gesellig begin gaan het, het ’n klomp skurke van die stad die huis omsingel. Hulle het teen die deur gehamer en vir die ou man aan wie die huis behoort het, geskreeu: “Bring uit daardie man wat in jou huis ingekom het. Ons wil seks met hom hê.”

23 Die ou man wie se huis dit was, het uitgegaan en met hulle gaan praat: “Nee tog, vriende. Moenie so iets leliks doen nie. Hierdie man is my gas wat by my tuis is. Moenie so iets skandeliks aanvang nie.

24 My dogter is nog ’n maagd. Ek sal haar en die man se byvrou vir julle bring. Maak met hulle wat julle wil, maar moenie so iets viesliks met hierdie man doen nie.”

25 Die mans wou nie na hom luister nie. Die Leviet gryp toe sy byvrou en stoot haar uit op straat. Hulle het haar dwarsdeur die nag verkrag tot die volgende oggend toe. Eers toe dit begin lig word, het hulle haar gelos.

26 Die vrou het met dagbreek teruggekom by die huis waarin haar man was. Sy het by die deur bly lê tot dit helder lig was.

27 Toe haar man die oggend opstaan om verder te reis en die huis se deur oopmaak, lê sy byvrou daar in die deur met haar hande op die drumpel.

28 Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan aangaan.”

Sy het hom nie geantwoord nie. Hy het haar op ’n donkie getel en is met haar verder na sy huis toe.

29 Terug by die huis het hy ’n mes gevat en sy byvrou se liggaam in twaalf stukke opgesny. Hy het een stuk na elke stam in Israel gestuur.

30 Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur sedert Israel uit Egipte weg is tot nou toe nie. Ons moet ernstig hieroor nadink. Kom laat ons koppe bymekaarsit om iets hieraan te doen.”

RIGTERS 20

Vergelding teen Gibea

1 Al die Israeliete, van Dan tot by Berseba en uit die streek van Gilead, het in Mispa vir ’n groot vergadering voor die Here bymekaargekom.

2 Die leiers van die hele volk en van elke stam van Israel het vir die vergadering van die volk van God bymekaargekom. Daar was 400 000 gewapende soldate bymekaar.

3 Die Benjaminiete het ook gehoor dat die ander Israeliete by Mispa saamgetrek het.

Die Israeliete het begin praat oor hierdie lelike ding wat gebeur het.

4 Die Leviet, die vermoorde vrou se man, vertel toe: “Ek en my vrou het in Gibea van Benjamin gekom om die nag daar oor te bly.

5 Daardie nag het mense van Gibea die huis waarin ek was, omsingel. Hulle wou my doodmaak. Hulle het my byvrou verkrag totdat sy dood is.

6 Ek het my byvrou se liggaam opgesny en dit deur die hele gebied van Israel rondgestuur. Die mense van Gibea het ’n afskuwelike en sinnelose ding in Israel gedoen.

7 Die hele gemeenskap van Israel moet nou koppe bymekaarsit en besluit wat om hieraan te doen.”

8 Die hele volk het saamgestaan en soos uit een mond verklaar: “Niemand mag teruggaan huis toe nie.

9 Ons sal lootjies trek om te bepaal wie Gibea eerste moet aanval.

10 Een tiende uit elke stam van Israel sal kos by die volk gaan haal vir die soldate. Al die ander sal wraak neem op Gibea in Benjamin vir die skandelike ding wat hulle in Israel gedoen het.”

11 Al die Israeliete was dit eens en het bymekaargekom om Gibea aan te val.

12 Die Israeliete het mense na al die families in Benjamin gestuur om vir hulle te sê: “Daar het ’n skrikwekkende ding by julle gebeur.

13 Oorhandig daardie skurke van Gibea aan ons sodat ons hulle kan teregstel en so die kwaad in Israel kan uitroei.”

Die mense van Benjamin was nie bereid om na hulle volksgenote te luister nie.

14 Die Benjaminiete het uit al hulle stede by Gibea bymekaargekom om teen die ander Israeliete oorlog te maak.

15 Daar het op daardie dag 26 000 gewapende soldate uit die stede van Benjamin bymekaargekom. Hulle het aangesluit by die 700 soldate wat in Gibea gebly het.

16 Onder hulle was daar 700 uitgesoekte soldate wat almal links was. Hulle kon haarfyn met ’n klip uit ’n slingervel korrel sonder om een keer te mis.

17 Aan Israel se kant, met uitsluiting van Benjamin, was daar 400 000 gewapende soldate.

18 Die Israeliete is eers na Bet-El toe. Daar het die Israeliete vir God gevra: “Watter stam moet die geveg teen Benjamin lei?”

Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.”

19 Die Israeliete het die volgende oggend opgetrek en regoor Gibea kamp opgeslaan.

20 Die Israeliete het teenoor Gibea stelling ingeneem om teen die Benjaminiete te veg.

21 Die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag 22 000 Israeliete doodgemaak.

22 Die Israeliete het hulle moed bymekaargeskraap en die volgende dag weer op dieselfde plek stelling gaan inneem as die eerste dag.

23 Dit was nadat hulle die vorige aand by die Here gaan kla het en Hom gevra het: “Moet ons weer teen ons volksgenote, die Benjaminiete, gaan veg?”

Die Here het toe geantwoord: “Trek op en gaan veg teen hulle!”

24 Op die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval.

25 Die Benjaminiete het weer uit Gibea uitgestorm en hierdie keer 18 000 bedrewe soldate van Israel doodgemaak.

26 Die hele Israel het toe met sy leër na Bet-El toe gegaan en daar voor die Here gesit en huil en tot die aand toe gevas. Hulle het brandoffers en maaltydoffers vir die Here gebring.

27 Hulle het by die Here raad gevra. Die ark van die verbond met God was destyds by hulle in Bet-El.

28 Pinehas, die seun van Eleasar en kleinseun van Aäron, was destyds hulle priester. Hy het vir die Here gevra: “Moet ons aangaan met die geveg teen ons volksgenote, die Benjaminiete, of moet ons daarmee ophou?”

Die antwoord van die Here was: “Trek weer op! Môre gaan Ek hulle in julle mag oorgee.”

29 Die Israeliete het toe ’n hinderlaag rondom Gibea opgestel.

30 Die Israeliete het weer op die derde dag teen Benjamin geveg. Hulle het op dieselfde plek teenoor Gibea gaan stelling inneem as die vorige kere.

31 Die Benjaminiete het weer uitgestorm om hulle aan te val. Hulle is egter van hulle stad af weggelok. Hulle het soos die vorige kere weer van die Israeliete begin doodmaak. Omtrent 30 Israeliete is in die veld en langs die paaie op pad na Bet-El en Gibea doodgemaak.

32 Die Benjaminiete het geskreeu: “Ons gaan hulle weer verslaan soos die vorige kere.” Die Israeliete het egter met mekaar afgespreek om terug te val en hulle van die stad weg te lok na die grootpad toe.

33 Toe die Israeliete by Baäl-Tamar kom, het hulle in hulle spore omgedraai en reggemaak om terug te veg. Die Israeliete wat wes van Gibea in die hinderlaag gelê het, het uit hulle wegkruipplekke opgespring.

34 10 000 geharde soldate van die Israeliete het Gibea van voor af aangeval. Die geveg was so hewig dat die Benjaminiete nie bewus was van die ramp wat op hulle gewag het nie.

35 Die Here het Israel teen Benjamin gehelp. Op daardie dag het die Israeliete 25 100 geharde soldate van Benjamin doodgemaak.

36 Die Benjaminiete het toe besef dat hulle verslaan is.

Die Israeliete het teruggeval net om die Israeliete wat in die hinderlaag opgestel was, meer ruimte te gee om te veg.

37 Die manskappe in die hinderlaag het vinnig van alkante in Gibea ingestorm en die inwoners voor die voet doodgemaak.

38 Die Israeliete het met die manskappe in die hinderlaag afgespreek dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad sou opstuur.

39 Dit was ’n sein vir die Israeliete om om te draai en terug te veg.

Die Benjaminiete het teen daardie tyd al sowat 30 mans van Israel doodgemaak. Die Benjaminiete het gedink dat hulle weer soos die vorige kere die Israeliete sal verslaan.

40 Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die hele stad het reeds in ligte laaie gestaan.

41 Toe die Israeliete hulle begin aanval, het die Benjaminiete paniekerig geword, want hulle het besef dat ’n katastrofe hulle getref het.

42 Hulle het omgevlieg om met die pad na die woestyn voor die Israeliete te vlug. Hulle kon egter nie die geveg afskud nie. Dié wat die stad vernietig het, was ook op hulle hakke.

43 Die Israeliete wat hulle agtervolg het, het hulle omsingel en genadeloos afgemaai. Hulle is tot oos van Gibea uitgewis.

44 In daardie veldslag is 18 000 dapper mans van Benjamin dood.

45 Die ander het deur die woestyn na die Rimmonrots gevlug. Langs die pad soontoe het die Israeliete nog 5 000 van hulle doodgemaak. Hulle het op die Benjaminiete se hakke gebly tot by Gidom en nog 2 000 van hulle om die lewe gebring.

46 In totaal is 25 000 dapper mans van Benjamin daardie dag dood.

47 Net 600 man het daarin geslaag om tot by die Rimmonrots te vlug. Daar moes hulle vier maande lank bly.

48 Die manskappe van Israel het teruggegaan na die gebied van Benjamin. Hulle het alles, mens en dier, in elke stad doodgemaak. Hulle het alles waarop hulle afgekom het, verbrand.

RIGTERS 21

Vroue vir die Benjaminiete

1 Die Israeliete het ’n eed afgelê by Mispa: “Ons sal nooit ’n Benjaminiet met enigeen van ons dogters laat trou nie.”

2 Hulle het na Bet-El toe gegaan en die hele dag lank daar voor God hardop staan en huil.

3 “Here, God van Israel,” het hulle uitgeroep. “Waarom het dit gebeur dat ons een van ons stamme moes verloor?”

4 Hulle het die volgende môre vroeg opgestaan en daar ’n altaar gebou waarop hulle brandoffers en maaltydoffers gebring het.

5 Die Israeliete vra toe vir mekaar: “Watter een van die stamme was nie daar toe ons in Mispa by die Here bymekaargekom het nie?” Hulle het destyds ’n plegtige eed afgelê dat die stam wat nie na die Here in Mispa kom nie, uitgeroei sal word.

6 Die Israeliete was baie jammer vir hulle volksgenote uit Benjamin. Hulle het gesê: “Een van die stamme van Israel is vandag afgesny.

7 Wat kan ons doen dat hulle wat van Benjamin oorgebly het, weer vroue kan kry? Ons het ’n eed voor die Here afgelê dat ons nooit ons dogters met een van hulle sal laat trou nie.”

8 Hulle vra toe weer: “Is daar enige van die stamme van Israel wat nie opgedaag het by die byeenkoms vir die Here in Mispa nie?” Hulle vind toe uit dat daar niemand uit Jabes-Gilead na die byeenkoms toe gekom het nie.

9 Hulle het weer almal getel wat daar was en daar was werklik niemand uit Jabes-Gilead nie.

10 Die vergadering het toe van daar af 12 000 soldate gestuur met die bevel: “Gaan daarnatoe en gaan maak almal dood wat in Jabes-Gilead bly, ook die vroue en die kinders.

11 Wis elke man en elke vrou, wat al by ’n man geslaap het, heeltemal uit.”

12 Hulle het tussen die inwoners van Jabes-Gilead 400 meisies gekry wat nog nooit met ’n man geslagsgemeenskap gehad het nie. Die soldate het hulle saamgebring na die kamp by Silo in Kanaän.

13 Die vergadering stuur toe ’n vredesending na die Benjaminiete wat by die Rimmonrots weggekruip het.

14 Die Benjaminiete het teruggegaan na hulle huise toe. Hulle het die meisies uit Jabes-Gilead wie se lewens gespaar is, gekry om mee te trou. Daar was egter nie genoeg vroue vir almal nie.

15 Die volk het Benjamin jammer gekry omdat die Here hierdie oop kol tussen die stamme van Israel gelaat het.

16 Toe vra die leiers van die vergadering: “Waar kan ons nog vroue kry vir die ander Benjaminiete? Die vroue van Benjamin is almal uitgewis.”

17 Hulle het gesê: “Daar moet tog erfgename wees vir die Benjaminiete wat oorleef het. ’n Stam kan mos nie net so uit Israel verdwyn nie.

18 Ons kan nie ons dogters met hulle laat trou nie, want die Israeliete het ’n eed afgelê dat elkeen vervloek is wat vir ’n Benjaminiet ’n vrou gee.”

19 “Maar wag,” sê hulle. “Daar is mos elke jaar ’n fees vir die Here in Silo.” Silo is tussen Bet-El en Lebona. Dit is noord van Bet-El, oos van die grootpad wat van Bet-El af na Sigem toe opgaan en suid van Lebona.

20 Hulle het vir die Benjaminiete wat nog nie vroue gekry het nie, laat weet: “Gaan kruip weg in die wingerde.

21 Let mooi op. Sodra julle sien dat die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom ’n vrou uit die meisies van Silo gaan vang. Gaan dan met hulle terug na julle huise in die gebied van Benjamin.

22 Wanneer hulle pa’s of broers by ons kom beswaar maak, sal ons vir hulle sê: ‘Julle moet tog verstaan. Ons kon nie genoeg vroue vir hulle in die hande kry toe ons teen Jabes-Gilead gaan oorlog maak het nie. Julle het nie die eed gebreek nie, want julle het nie doelbewus julle dogters vir hulle gegee nie.’”

23 Die Benjaminiete het toe so gemaak. Toe die meisies uitkom om te dans, het hulle vir hulle genoeg vroue gegryp. Die Benjaminiete is met hulle weg na hulle eie grond toe. Hulle het hulle stede weer opgebou en daarin gaan woon.

24 Die vergadering van die Israeliete het toe ook uitmekaargegaan volgens hulle stamme en families. Elkeen is van daar af terug na sy grond toe.

25 In daardie tyd het Israel nog nie ’n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos dit vir hom reg was.