RIGTERS 1

1 Juda begin die land inneem

Ná Josua dood is, het die Israeliete vir die Here gevra: “Watter stam moet die leiding neem in die gevegte teen die Kanaäniete?”

2 Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan. Ek gee hom beheer oor die land.”

3 Juda se leiers sê toe vir hulle volksgenote van die Simeonstam: “Kom veg saam met ons teen die Kanaäniete wat op die grond bly wat met die lot vir ons aangewys is. Ons sal julle weer help om vir julle grond te gaan veg.” Die Simeoniete is toe saam met hulle.

4 Juda het toe gaan veg. Die Here het gesorg dat Juda die oorwinning oor die Kanaäniete en die Feresiete behaal. Hulle het in Besek 10 000 man doodgemaak.

5 Hulle het daar op koning Adoni-Besek afgekom en ’n geveg met hom aangeknoop. Hulle het die Kanaäniete en die Feresiete verpletter.

6 Adoni-Besek het op die vlug geslaan. Hulle het hom egter agternagesit, hom gevang en sy duime en sy groottone afgesny.

7 Toe sê Adoni-Besek: “Ek het al 70 konings se duime en groottone afgesny en hulle aan my onderwerp.God het my nou terugbetaal vir wat ek gedoen het.” Hulle het Adoni-Besek na Jerusalem toe laat gaan. Daar het hy gesterf.

8 Juda het teen Jerusalem gaan veg en die stad ingeneem. Hulle het die inwoners doodgemaak en toe die stad aan die brand gesteek.

9 Daarna het hulle gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die heuwels, in die Negevwoestyn en op die kusvlakte gewoon het.

10 Juda het opgeruk teen die Kanaäniete wat in Hebron bly. Hebron se naam was vroeër Kirjat-Arba. Daar het hulle die oorhand gekry oor Sesai, Agiman en Talmai.

11 Van hier af het Juda met die mense wat in Debir woon, gaan veg. Debir se naam was vroeër Kirjat-Sefer.

12 Daar het Kaleb beloof: “Die man wat Kirjat-Sefer aanval en inneem, kan met my dogter Aksa trou.”

13 Otniël was die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. Hy het dit ingeneem. Kaleb het hom met sy dogter Aksa laat trou.

14 Nadat sy met hom getrou het, het sy Otniël aangehits om vir haar pa meer grond te vra. Toe sy by hom kom en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat is dit?”

15 Sy sê vir hom: “Seën my tog asseblief nog meer. U het vir my grond in die droë Negevwoestyn gegee. Gee tog vir my ook plek wat water het.” Kaleb het toe vir haar plekke met fonteine in sowel die hoër as die laerliggende dele gegee.

16 Die Keniete was afstammelinge van Moses se skoonpa. Hulle het saam met die mense van Juda uit die Palmstad na die Judawoestyn toe getrek. Hulle het by die mense van die land daar in die woestyn naby Arad gaan bly.

17 Juda en Simeon het saam teen die Kanaäniete wat in Sefat bly, gaan veg. Hulle het die stad totaal verwoes en dit Gorma genoem.

Dele wat die stamme nie kon

inneem nie

18 Juda het ook nog Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede aangeval.

19 Die Here was by Juda. Hulle het die heuwelgebiede ingeneem. Hulle kon egter nie die inwoners van die vlakte oorrompel nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad.

20 Kaleb het Hebron gekry, soos Moses bepaal het, en het die drie groepe Enakiete daar uit Hebron verdryf.

21 Die Jebusiete het in Jerusalem gewoon. Die Benjaminiete kon hulle nie verdryf nie. Hulle woon tot vandag toe nog steeds saam met die Benjaminiete in Jerusalem.

22 Die mense van Josef het teen Bet-El opgeruk. Die Here was by hulle.

23 Hulle het mense uitgestuur om Bet-El te gaan verken. Bet-El se naam was vroeër Lus.

24 Die verkenners het ’n man uit die stad sien kom. Hulle sê toe vir hom: “Wys ons waar ons in die stad kan inkom. Ons sal jou goed beloon.”

25 Hy het vir hulle ’n plek gewys. Die mense van Josef het almal in die stad doodgemaak. Hulle het egter hierdie man en sy familie laat vrykom.

26 Die man is toe na die gebied van die Hetiete toe. Hy het vir hom daar ’n stad gebou, wat hy Lus genoem het. Dit is vandag nog daardie stad se naam.

27 Die mense van Manasse het dit nie reggekry om die inwoners van Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met hulle omringende klein dorpies te verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om daar te bly.

28 Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle wel die Kanaäniete verplig om vir hulle te werk. Hulle het dit egter nooit reggekry om hulle van daar af te verdryf nie.

29 Die Efraimiete kon dit ook nooit regkry om die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, uit te dryf nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd tussen hulle in Geser.

30 Sebulon kon ook nie die Kanaäniete wat in Kitron en Nahalal gebly het daar wegkry nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd by Sebulon, maar moes dwangarbeid doen.

31 Aser het nooit die mense in Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob daar weggekry nie.

32 Eintlik was dit Aser wat tussen die Kanaäniete, die inwoners van die land, gaan bly het. Hulle het nie daarin geslaag om hulle te verdryf nie.

33 Naftali kon ook nooit die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hulle het tussen die Kanaäniete gaan bly. Hulle het wel die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat gedwing om vir hulle te werk.

34 Die Amoriete het Dan na die heuwels toe verjaag. Hulle het die Daniete nie toegelaat om af te kom na die laagtes toe nie.

35 Die Amoriete was vasberade om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon. Toe die Josefstam egter later die oorhand kry, het hulle die Amoriete verplig om vir hulle dwangarbeid te doen.

36 Die grens van die Amoriete het by Skerpioenpas begin en oor Sela na boontoe geloop.

RIGTERS 2

Die Here stuur sy boodskapper

na Bokim

1 Die Here se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie,

2 maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak?

3 Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.”

4 Ná die engel van die Here die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars.

5 Hulle het daarom die plek Bokim genoem. Hulle het daar offers vir die Here gebring.

Israel verlaat die Here

6 Nadat Josua die volk weggestuur het, is elkeen na sy grond toe om dit in besit te gaan neem.

7 Terwyl Josua nog geleef het, het die volk die Here bly dien. Terwyl dié leiers oor was wat langer as Josua geleef het, het hulle nog die Here gedien. Hierdie mense het nog al die groot dade beleef wat die Here vir Israel gedoen het.

8 Josua, die seun van Nun en dienaar van die Here, is dood op 110 jaar.

9 Hy is op sy grond begrawe in Timnat-Geres, in die heuwels van Efraim, noord van Gaäsberg.

10 Daardie geslag het uitgesterf. Ná hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook niks geweet van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.

11 Die Israeliete het toe iets gedoen wat vir die Here baie sleg was. Hulle het die Baäls begin aanbid.

12 Hulle het hulle rug gedraai op die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipte gered het. Hulle het agter die vreemde gode van die volke rondom hulle aangegaan. Die Israeliete het voor hierdie gode begin kniel. Dit het die Here kwaad gemaak.

13 Hulle het die Here net so gelos en die Baäls en die Astartes begin aanbid.

14 Die Here was woedend vir Israel. Hy het hulle uitgelewer aan rowers wat Israel geplunder het. Die Here het hulle in die hand van al hulle vyande rondom hulle oorgelewer. Die Israeliete kon geen teenstand bied teen hulle vyande nie.

15 Elke keer wanneer hulle uitgegaan het om te gaan veg, was die hand van die Here teen hulle. Dit is soos Hy hulle voorheen gewaarsku het en vir hulle belowe het. Die Israeliete was uiters moedeloos.

16 Die Here het egter leiers na vore laat kom om die volk te red van die mense wat hulle beroof het.

17 Maar die volk was nie gehoorsaam aan hulle leiers nie. Hulle het agter ander gode aangegaan en hulle aanbid. Hulle het gou afgewyk van die koers wat hulle voorouers ingeslaan het, naamlik om die Here se gebooie te volg. Hulle het nie dieselfde koers gevolg nie.

18 Wanneer die Here vir hulle ’n leier gegee het, was Hy saam met daardie leier en het Hy die volk gered van hulle vyande so lank as wat die leier geleef het. Die Here was jammer vir sy volk wanneer hulle gekla het oor die mense wat hulle laat swaarkry en hulle onderdruk het.

19 Sodra die leier egter sterf, het hulle maar weer teruggeval op die ou weë en het hulle net nog erger tekere gegaan as die mense voor hulle. Hulle het agter vreemde gode aangeloop om hulle te aanbid en voor hulle te buig. Hulle het nie van hulle verkeerde dade afgesien of hulle eiewilligheid gelos nie.

20 Die Here het dan weer woedend geword en vir Homself gesê: “Hierdie volk verbreek die verbond wat Ek met hulle voorouers gemaak het. Hulle luister nie na My nie.

21 Daarom gaan Ek nie langer die nasies wat oorgebly het ná Josua se dood uitdryf nie.

22 Ek gaan Israel met hierdie nasies toets om te kyk of hulle agter die Here aangaan soos hulle voorouers, of nie.”

23 Daarom het die Here hierdie nasies net so gelos en hulle nie verdryf nie. Dit is hoekom Hy hulle destyds ook nie in Josua se mag oorgegee het nie.

RIGTERS 3

Die nasies wat in Kanaän

oorgebly het

1 Die Here het hierdie nasies langer daar laat bly. Die Here wou die Israeliete wat nie aan die oorloë teen die Kanaäniete deelgeneem het nie, hiermee toets.

2 Hy wou die geslag Israeliete wat nog geen ervaring van oorlog gehad het nie, leer hoe om oorlog te maak.

3 Die nasies wat die Here laat aanbly het, was die Filistyne onder aanvoering van hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat by Libanonberg vanaf Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat gewoon het.

4 Die Here het hulle almal daar laat bly om deur hulle agter te kom of die Israeliete bereid is om te luister na die gebooie van die Here wat Hy deur Moses vir hulle voorouers gegee het.

5 Die Israeliete het tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon.

6 Die Israeliete het met hulle begin ondertrou en hulle gode aanbid.

7 Wat die Israeliete gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hulle het die Here hulle God uit hulle gedagtes geskuif en eerder die beelde van die Baäls en die gewyde pale van Asjera aanbid.

8 Die Here was woedend vir die Israeliete. Hy het hulle aan koning Kusan-Risatajim van Aram-Naharajim uitgelewer. Hulle was agt jaar lank sy onderdane.

Otniël lei Israel

9 Die Israeliete het die Here begin smeek om hulle te help. Hy het toe vir hulle iemand gestuur om hulle te bevry. Sy naam was Otniël, die seun van Kaleb se jonger broer Kenas.

10 Die Gees van die Here was in hom. Hy het Israel begin lei. Otniël het oorlog teen die Aramese koning Kusan-Risatajim gaan maak. Die Here het Otniël die oorhand laat kry en hy het Kusan-Risatajim verslaan.

11 Daar was toe 40 jaar lank vrede in die land. Otniël, die seun van Kenas, is later dood.

Ehud reken af met Eglon

12 Die Israeliete het toe weer dinge begin doen wat verkeerd is vir die Here. Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle gegee omdat hulle verkeerd gemaak het.

13 Eglon het saam met die Ammoniete en die Amalekiete Israel aangeval en Jerigo verower.

14 Die Israeliete was agtien jaar lank onderdane van Eglon, die Moabitiese koning.

15 Hulle het weer by die Here begin pleit om hulle te verlos. Hy het Ehud, die seun van Gera, gestuur om hulle te bevry. Hy was ’n Benjaminiet. Ehud was links. Die Israeliete het hom met hulle belasting na koning Eglon van Moab gestuur.

16 Ehud het vir hom ’n dolk gemaak van ’n halwe meter lank wat aan albei kante skerp was. Hy het dit onder sy klere weggesteek en dit aan sy regterkant vasgegespe.

17 Hy het die belasting by koning Eglon van Moab afgelewer. Eglon was ’n baie vet man.

18 Nadat Ehud die belasting afgegee het, het die koning die mense wat dit gedra het, weggestuur.

19 Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “U Edele, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.”

Eglon sê toe vir hom: “Net ’n oomblik.” Hy het al sy amptenare wat om hom was, uitgestuur.

20 Ehud het nadergestaan aan die koning waar hy in sy private koel bovertrek gesit het. Ehud het vir hom gesê: “Ek het vir u ’n boodskap van God.” Die koning het van sy troon af opgestaan.

21 Ehud het toe met sy linkerhand die dolk van sy regterheup af uitgepluk en dit in Eglon se maag ingedryf.

22 Ehud kon dit nie weer uitkry nie. Die koning was so vet dat die handvatsel in sy maag weggeraak het. Die koning het homself vuilgemaak.

23 Ehud het die deure van binne gesluit en by ’n syportaal uitgesluip.

24 Nadat hy weg is, het Eglon se amptenare teruggekom. Hulle het gesien dat die deure van die vertrek gesluit is. Hulle het vir mekaar gesê: Die koning is seker besig om die toilet te gebruik.

25 Hulle het baie lank gewag. Toe die koning nie die deure van sy bovertrek oopmaak nie, het hulle ’n sleutel gekry en dit oopgesluit. Daar kry hulle hulle koning dood op die vloer.

26 Omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug.

27 Toe hy die heuwels van Efraim bereik, het hy op die ramshoring geblaas om hulle op te roep vir oorlog. Die Israeliete het uit die heuwels agter hom aan gekom.

28 “Volg my,” het hy vir hulle gesê. “Die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag.” Hulle het hom gevolg. Hulle het beheer oorgeneem oor die Jordaandriwwe na Moab toe sodat niemand daar kon deurgaan nie.

29 Hulle het die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle sterk en goeie soldate doodgemaak. Niemand kon wegkom nie.

30 Moab is daardie dag aan Israel onderwerp. Daar was 80 jaar lank vrede in die land.

Samgar bevry Israel

31 Ná Ehud het Samgar, die seun van Anat, gekom. Hy het 600 Filistyne met ’n drywerstok doodgeslaan en Israel bevry.

RIGTERS 4

Debora en Barak

1 Ná Ehud se dood het die Israeliete weer begin doen wat verkeerd is vir die Here.

2 Die Here het hulle uitgelewer aan die mag van Jabin. Hy was die Kanaänitiese koning in Hasor. Die aanvoerder van sy leër was Sisera van Garoset-Gojim.

3 Hy het 900 ysterstrydwaens onder sy bevel gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank swaar onderdruk. Maar Israel het by die Here gepleit om hulle hiervan te bevry.

4 Debora was ’n vroulike profeet. Sy was die vrou van Lappidot. Sy was op daardie stadium die leier van die Israeliete.

5 Sy het onder die Deborapalm in die heuwels van Efraim, tussen Rama en Bet-El, gewoon. Die Israeliete het vir regsake na haar toe gekom.

6 Sy het Barak, die seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, het ’n opdrag vir jou: ‘Trek met 10 000 man uit Naftali en Sebulon saam op na Taborberg toe.

7 Ek sal vir Sisera, die aanvoerder van Jabin se leër, met sy oorlogwaens en sy weermag laat optrek na die Kisonspruit toe. Ek sal hulle in jou mag oorgee.’”

8 Barak antwoord haar: “Ek sal net gaan as jy saam met my gaan.”

9 “Goed,” het sy vir hom gesê. “Ek sal wel saam met jou gaan, maar omdat dit jou voorwaarde is, sal jy geen eer vir die veldtog kry nie. Die Here sal Sisera deur ’n vrou oorwin.” Debora het klaargemaak en sy is saam met Barak na Kedes toe.

10 Barak het Sebulon en Naftali by Kedes bymekaargebring vir die oorlog. Barak het 10 000 manskappe gelei. Debora was saam met hulle.

11 Geber was ’n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af. Hy het sy tente by die eikeboom van Saänannim naby Kedes opgeslaan.

12 Sisera het berig gekry dat Barak, die seun van Abinoam, op Taborberg saamgetrek het.

13 Sisera het toe sy 900 strydwaens en al sy manskappe bymekaargekry en van Garoset-Gojim af na Kisonspruit toe begin marsjeer.

14 Debora beveel toe vir Barak: “Maak jou reg. Die Here gaan vandag Sisera aan jou uitlewer. Die Here sal voor jou uit marsjeer.” Barak het toe sy 10 000 man van Tabor af gelei om te gaan veg.

15 Die Here het Sisera en sy oorlogwaens en al sy manskappe holderstebolder voor Barak laat vlug. Sisera het van sy wa af gespring en te voet verder gevlug.

16 Barak het die oorlogwaens en hulle bemanning agtervolg tot by Garoset-Gojim. Al Sisera se soldate is doodgemaak. Nie een van hulle het die geveg oorleef nie.

17 Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber die Keniet. Daar was ’n goeie vriendskapsverhouding tussen koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet.

18 Jael het uitgekom om Sisera te ontvang. Sy het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer! Kom na my toe. Moenie bang wees nie!” Hy gaan toe in haar tent in. Sy het hom onder ’n deken weggesteek.

19 “Gee tog vir my ’n bietjie water om te drink,” het hy vir haar gevra. “Ek is dors.” Sy het hom toe melk uit die melksak laat drink. Sy het hom weer onder die deken toegemaak.

20 Hy sê toe vir haar: “Staan by die ingang van die tent. As hier iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk ’n man by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!’”

21 Sisera was moeg en het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe een van die tentpenne gevat en met ’n hamer in haar hand stilletjies na Sisera gesluip. Sy het die tentpen dwarsdeur sy slaap gedryf tot in die grond sodat hy gesterf het.

22 Barak was op soek na Sisera. Jael het uitgekom na hom toe. Sy sê toe vir hom: “Kom hier, ek sal jou wys waar is die man na wie jy soek.” Barak het agter haar aan gegaan. Hy kry toe vir Sisera wat dood daar lê met ’n tentpen deur sy slaap.

23 God het op daardie dag vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder.

24 Die Israeliete het al sterker en sterker teen Jabin geword en hom uiteindelik vernietig.

RIGTERS 5

Die Lied van Debora

1 Debora en Barak, die seun van Abinoam, het daardie dag ’n lied gesing:

2 “Prys die Here!

Israel se leiers het opgetree,

die volk het hulle kom aanmeld

vir oorlog.

3 “Luister, konings,

spits julle ore, regeerders!

Ek sing vir die Here,

ek prys die Here,

die God van Israel,

met my lied.

4 “Here, toe U opgetrek het

en deur die veld van Edom

marsjeer het,

het die aarde gebewe,

reën het uit die lug gestort,

wolke het strome water gegiet.

5 Die berge het ineengekrimp

voor die Here,

Sinai voor die teenwoordigheid

van die Here, God van Israel.

6 “In die dae van Samgar,

die seun van Anat,

in die dae van Jael,

het die hoofpaaie stil geword,

reisigers het afgedraai

op die kronkelpaadjies.

7 Israel se platteland

het ontvolk geraak,

dit het agteruitgegaan

totdat ek, Debora,

na vore gekom het,

’n moeder wat in Israel

opgestaan het.

8 Die volk het nuwe gode

vir hulle gekies,

daar het toe oorlog

in die stadspoorte losgebreek.

Geen spies of skild was te sien

onder Israel

se 40 000 soldate nie.

9 “My hart bloei

vir die leiers van Israel,

vir die vrywilligers van die volk.

Prys die Here.

10 “Julle wat op mooi donkies ry,

wat op versierde saalsakke sit,

julle wat op reis is,

dink ’n bietjie na!

11 “By die drinkbakke

sing hulle daaroor,

hulle praat oor die oorwinning

wat die Here behaal het,

oor sy oorwinning

vir die mense van Israel.

“Die volk van die Here

het afgegaan

na die poorte van die stad:

12 ‘Kom, Debora, kom!

Word wakker, word wakker!

Kom sing ’n lied!

Kom, Barak,

kom neem hulle gevange,

vat jou gevangenes weg,

seun van Abinoam!’

13 “Hulle wat oor was,

het van Tabor af

teen die magtiges opgetrek,

die volk van die Here

het uitgetrek

teen magtige soldate.

14 Party van hulle

was van Efraim,

selfs van waar die Amalekiete

voorheen gewoon het;

Benjamin, hulle het

agter jou opgeruk.

Uit jou volk van Makir

het leiers

van die berg afgekom,

uit Sebulon het mense gekom

wat die heersersepter dra.

15 Die leiers van Issaskar

was saam met Debora.

Issaskar het Barak gevolg.

Hulle is te voet die vallei in.

By Ruben se groep

was daar huiwering.

16 Waarom het jy

by die krale gebly,

geluister hoe die herders

vir hulle skape fluit?

Onder Ruben se groep

was daar onsekerheid.

17 Gilead het bly sit

oorkant die Jordaan.

Dan, waarom het jy

by die skepe gebly?

Aser het op die seestrand bly sit,

hy het nie van die hawens af

beweeg nie.

18 Sebulon was nie bang

om te sterf nie,

ook nie Naftali

op die gevegsfront nie.

19 “Konings het kom veg.

Die konings van Kanaän

het by Taänak kom veg,

by die fonteine van Megiddo,

sonder om silwer buit te maak.

20 “Die sterre het van bo

uit die lug geveg,

hulle het van bo uit hulle bane

teen Sisera geveg.

21 Die Kisonspruit

het die vyand weggesleur,

Kison, die rivier uit die oertyd.

“Marsjeer aan, wees dapper!

22 “Die hoewe van die perde

het geklap op die grond.

Sisera se dapper manne

het op ’n jaaggalop

weggestorm.

23 “‘Meros is vervloek!’

sê die engel van die Here.

Dié wat in Meros bly,

is vir altyd vervloek.

Hulle het die Here

nie kom help nie.

Hulle het Hom nie kom help

om teen die kragtige soldate

te veg nie.

24 “Van al die vroue

moet Jael,

die vrou van Geber die Keniet,

geseën word.

Sy moet meer geseën word

as al die vroue

wat in tente bly.

25 Sisera het vir water gevra.

Sy het vir hom melk gegee.

In ’n pragtige houer

het sy dikmelk gegee.

26 In haar linkerhand

het sy die tentpen gevat,

in haar regterhand

die dryfhamer.

Sy het vir Sisera deurboor,

sy kop verbrysel,

hom pap geslaan

en sy slape deurboor.

27 Hy het ineengestort, geval,

en by haar voete gelê.

Hy het geval,

en waar hy by haar voete

inmekaargestort het,

het hy morsdood bly lê.

28 “Sisera se ma

het uit die venster

ondertoe gekyk.

Sy het by die hortjies

staan en sug.

Sy het gevra:

‘Waarom vat sy oorlogswa

so lank om terug te kom?

Hoekom bly die gedreun

van sy wiele weg?’

29 Een van haar wyse prinsesse

antwoord haar.

Sy herhaal haar woorde:

30 ‘Hulle verdeel die groot buit

wat hulle verower het.

Vir elke soldaat

’n meisie of twee.

Gekleurde klere

as buit vir Sisera,

gekleurde borduurwerk

as buit,

gekleurde borduurwerk

vir my nek as buit.’

31 “Mag al u vyande, Here,

tot niet gaan soos Sisera.

Mag almal wat vir U lief is,

wees soos die son

wat in sy volle glorie opkom.”

Daarna was daar 40 jaar lank vrede in die land.

RIGTERS 6

Die Here stuur Gideon

1 Die Israeliete het weer begin doen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het hulle sewe jaar lank aan die Midianiete onderwerp.

2 Die Midianiete het die Israeliete so hard behandel dat hulle die berge in gevlug het. Daar het hulle vir hulle skuilplekke in grotte en ontoeganklike plekke teen die Midianiete gebou.

3 Sodra hulle iets geplant het, het die Midianiete, Amalekiete en die ander mense uit die ooste op hulle toegesak en hulle aangeval.

4 Hulle het daar kom kamp opslaan en alles wat in die grond was, vernietig, selfs so ver as tot by Gasa. Hulle het nie ’n ding agtergelaat waarvan Israel kon lewe nie, selfs nie eers ’n skaap of ’n bees of ’n donkie nie.

5 Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop.

6 As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die Here om hulp begin smeek.

7 Toe die Israeliete vanweë die Midianiete so by die Here begin soebat om hulle te help,

8 het Hy ’n profeet na hulle gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, vir julle sê: ‘Ek het julle uit Egipte laat trek. Ek het julle bevry van die slawerny in Egipte.

9 Ek het julle gered uit die hand van Egipte en hulle wat julle onderdruk het. Ek het hulle voor julle uit verdryf en Ek het hulle land vir julle gegee.

10 Ek het vir julle gesê: Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie. Maar julle wou nie na My luister nie.’”

11 Die Engel van die Here het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip.

12 Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

13 “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die Here het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die Here sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.”

14 Die Here het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.”

15 Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.”

16 “Ek is dan saam met jou!” het die Here vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.”

17 Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, Here, wat met my praat!

18 Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.”

Die Here sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”

19 Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit.

20 God se Engel sê toe vir Gideon: “Vat die vleis en die brood en sit dit op hierdie rots neer. Gooi die sous daaroor uit.” Gideon het so gemaak.

21 Die Engel van die Here het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die Here het toe verdwyn.

22 Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die Here was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige Here, ek het dan die Engel van die Here in die oë gekyk!”

23 “Dit is alles in orde,” het die Here vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”

24 Gideon het net daar ’n altaar vir die Here gebou. Hy het dit genoem “Die Here is Vrede”. Die altaar is nog al die tyd daar in Ofra van die Abiësriete.

25 Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af.

26 Kom bou dan ’n stewige altaar vir die Here jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.”

27 Gideon het tien mans uit sy wer-kers gevat en gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen.

28 Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar.

29 Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het.

30 “Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.”

31 Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.”

32 Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het.

33 Kort daarna het al die magte van Midian, Amalek en die ander mense uit die ooste ’n alliansie teen Israel gevorm. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en gaan kamp opslaan in die Jisreëlvlakte.

34 Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het op die ramshoring die oproep vir oorlog geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg.

35 Hy het boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur. Hy het hulle ook opgeroep om hom te volg. Hulle het almal by hom aangesluit.

36 Gideon het vir God gesê: “As dit regtig so is soos U gesê het dat U die Israeliete deur my gaan bevry, wys dit tog vir my.

37 Ek sal vannag ’n stuk wol op die dorsvloer los. As daar dou op die wol kom, maar die grond rondom bly droog, sal ek weet dat U my wil gebruik om die Israeliete te bevry.”

38 Dit het so gebeur. Gideon het die volgende môre vroeg opgestaan. Hy het die wol uitgedruk en ’n hele bak vol water daaruit gewring.

39 Toe sê hy vir God: “Moenie ongeduldig met my word nie. Kan ek nog net een keer vra. Laat die wol hierdie keer droog wees, terwyl die grond rondom vol dou is.”

40 God het dit daardie nag net so laat gebeur. Die wol was droog, maar die grond rondom was vol dou.

RIGTERS 7

Israel oorwin die Midianiete

1 Jerubbaäl, dit is nou Gideon, en al sy manskappe by hom is vroeg die oggend op, en het gaan kamp opslaan by En-Garod. Die Midianiete se kamp was op die vlakte naby die Moré-koppie, noord van hulle.

2 Toe sê die Here vir Gideon: “Jy het te veel soldate by jou. As Ek die Midianiete met soveel manskappe aan jou oorgee, sal die Israeliete teenoor My beweer dat hulle hulleself met hulle eie mag bevry het.

3 Sê vir die manskappe elkeen wat bang is om te gaan veg, mag van die Gileadberg af wegdraai en teruggaan huis toe.”

Toe het 22 000 man teruggegaan. Daar het 10 000 oorgebly.

4 Toe sê die Here vir Gideon: “Hulle is nog steeds te veel. Vat hulle af na die water toe. Ek sal daar vir jou uitsoek watter saam met jou moet gaan en watter nie.”

5 Gideon is toe met die manskappe af na die water toe. Daar het die Here vir hom gesê: “Sit dié wat die water uit hulle hand soos ’n hond met hulle tonge opslurp, eenkant. Skei hulle van dié wat op hulle knieë gaan om die water te drink.”

6 Daar was 300 wat die water met hulle hand geskep het om te drink. Al die ander het afgebuk om te drink.

7 Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle met hierdie 300 man wat die water uit hulle hand gedrink het, bevry. Ek sal Midian aan jou onderwerp. Al die ander manskappe kan teruggaan na hulle huise toe.”

8 Gideon het hulle proviand en die ramshorings wat hulle by hulle gehad het, gevat en hulle teruggestuur. Hy het net die 300 by hom oorgehou.

Die Midianitiese kamp was onder op die vlakte.

9 Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Staan op en gaan af na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle oor aan jou.

10 As jy bang is om hulle te gaan aanval, moet jy en jou helper Pura eers na hulle kamp toe gaan.

11 Luister wat hulle vir mekaar sê. Jy sal dan baie moed kry.”

Gideon en sy helper Pura is toe af na die kant van die Midianiete se kamp.

12 Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat op die vlakte toegesak het, was so baie soos sprinkane. Hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos sandkorrels op die strand.

13 Gideon het toe nader gesluip. In die kamp was ’n man juis besig om vir sy makker te vertel wat hy gedroom het. “Ek het gedroom,” het hy vertel, “daar kom ’n ronde garsbrood na die kamp van Midian aangerol. Die brood het ’n tent getref, dit omgestamp en dit inmekaar laat tuimel.”

14 Sy maat het geantwoord: “Dis niks anders as die swaard van die Israeliet Gideon, die seun van Joas, nie. God gee Midian en almal in sy kamp in sy mag oor.”

15 Toe Gideon van die droom hoor en wat dit beteken, het hy die Here gedank. Hy het teruggegaan na die Israeliete se kamp. Hy het sy manskappe opgeroep: “Staan op! Die Here gee die Midianiete oor aan julle.”

16 Gideon het die 300 manskappe in drie afdelings verdeel. Hy het vir elke manskap ’n ramshoring in die hand gegee en ook ’n leë erdepot met ’n fakkel daarin.

17 Toe sê hy vir sy manskappe: “Kyk mooi wat ek doen. Wanneer ek by die kamp kom, moet julle presies maak soos ek.

18 Wanneer ek en almal by my op die ramshorings blaas, moet julle aan die ander kant van die kamp ook op julle ramshorings begin blaas. Skreeu dan: ‘Vir die Here en vir Gideon!’”

19 Gideon en die 100 manskappe by hom het tot op die kant van die kamp gegaan. Dit was net na middernag. Die wagte vir die middelste nagwag het toe pas omgeruil. Hulle het toe op die ramshorings geblaas en die erdepotte stukkend geslaan.

20 Al drie afdelings het op hulle ramshorings geblaas en die erdepotte gebreek. Hulle het die fakkels in hulle linkerhand gehou en die ramshorings in hulle regterhand. Hulle het begin skreeu: “’n Swaard vir die Here en vir Gideon!”

21 Elkeen was op sy pos reg rondom die kamp. Hulle het gesien hoe die hele kamp vervaard rondskarrel en paniekerig skreeu.

22 Toe die 300 Israeliete op hulle ramshorings blaas, het die Here veroorsaak dat die mense in die kamp mekaar aanval. Hulle het uit die kamp gevlug tot so ver as Bet-Sitta na Sereda se kant toe en tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat.

23 Gideon het elke man uit Naftali, Aser en die hele Manasse opgeroep. Hulle het die Midianiete agtervolg.

24 Gideon het boodskappers uitgestuur na die heuwels van Efraim toe om te sê: “Kom af en val Midian aan. Sny hulle af by die driwwe van die Jordaan en by Bet-Bara.”

Hy het al die manskappe van Efraim opgeroep. Hulle het die driwwe by die Jordaan en Bet-Bara beset.

25 Hulle het Oreb en Seëb, die aanvoerders van die Midianiete, gevang. Die Israeliete het Oreb by die Orebrots en Seëb in die Seëbparskuip doodgemaak. Hulle het die Midianiete verder agtervolg. Ná die tyd het hulle die koppe van Oreb en Seëb na Gideon toe gebring duskant die Jordaan.

RIGTERS 8

Gideon agtervolg Sebag en

Salmunna

1 Die Efraimiete het vir Gideon gevra: “Hoekom het jy so met ons gemaak? Hoekom het jy ons nie ook opgeroep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle het verskriklik met Gideon baklei.

2 Hy het vir hulle gesê: “Hoe is ek nou beter daaraan toe as julle? Was die finale oes van Efraim nie beter as die oes van Abiëser nie?

3 God het die aanvoerders van die Midianiete, Oreb en Seëb, aan julle oorgegee. Ek kon nie dieselfde doen as julle nie.” Toe hulle dit hoor, het hulle bedaar.

4 Gideon het die Jordaan oorgesteek met sy 300 manskappe. Alhoewel hulle uitgeput was, het hulle volgehou met die agtervolging.

5 Toe hulle by Sukkot kom, het hy die inwoners gevra: “Gee tog asseblief vir my soldate kos. Hulle is uitgeput. Ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.”

6 Die leiers van Sukkot het vir hom gesê: “Vang eers vir Sebag en Salmunna, dan sal ons vir jou en jou soldate kos gee.”

7 Gideon het toe vir hulle gesê: “Nadat die Here Sebag en Salmunna aan my oorgegee het, gaan ek julle met haakdorings en steekdorings uit die woestyn kom pynig.”

8 Hy is van daar af verder na Pniël toe. Hy het ook by hulle vir kos gevra. Hy het daar dieselfde antwoord as in Sukkot gekry.

9 Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, gaan ek hierdie toring van julle platstoot.”

10 Sebag en Salmunna was op daardie stadium in Karkor met hulle leër van ongeveer 15 000 man. Dit was al die soldate wat oorgebly het van die magte van die mense uit die ooste. Daar is al 120 000 van hulle manskappe dood.

11 Gideon het toe met die karavaanroete oos van Nobag en Jogboha verbygegaan en die leër van die Midianiete onverhoeds aangeval.

12 Sebag en Salmunna het gevlug. Gideon is agter hulle aan en het die twee Midianitiese konings gevang. Hulle leër het paniekbevange geword.

13 Gideon, die seun van Joas, het toe met die Gerespas van die geveg af teruggekom.

14 Hy het ’n seun uit Sukkot gevang. Hy het hom die name van die 77 leiers van Sukkot laat neerskryf.

15 Gideon het toe by die mense van Sukkot gekom en vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna. Julle het mos vol leedvermaak vir my gesê: ‘Vang eers vir Sebag en Salmunna voor ons vir jou moeë manne kos gee.’”

16 Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle met die haakdorings en steekdorings uit die woestyn ’n les of twee geleer.

17 Hy het ook die toring van Pniël afgebreek en die mans van die stad doodgemaak.

18 Gideon vra toe vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mans gelyk vir wie julle by Tabor doodgemaak het?”

Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk. Almal het gelyk of hulle koningskinders is.”

19 “Hulle was my eie bloedbroers,” het Gideon vir hulle gesê. “So waar as die Here leef, ek sou julle laat bly leef het as julle hulle nie vermoor het nie.”

20 Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was.

21 Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat.

Israel raak weer afvallig

22 Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.”

23 Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die Here self is julle koning.”

24 Gideon het egter gesê: “Daar is tog een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle asseblief vir my ’n oorring gee uit die buit wat hy gemaak het.” Die vyand het goue oorringe gedra, want hulle was Ismaeliete.

25 “Ons gee dit met graagte vir jou,” het hulle geantwoord. Hulle het ’n mantel oopgegooi. Elkeen het uit sy buit ’n oorring daarin gegooi.

26 Die goue oorringe wat Gideon gekry het, het negentien en ’n half kilogram geweeg. Dit het nie die halfmaantjies, hangertjies, klere van die Midianitiese konings en die kettinkies rondom die kamele se nekke ingesluit nie.

27 Van die goud het Gideon ’n efodbeeld gemaak. Hy het dit opgesit in sy tuisdorp Ofra. Die hele Israel het afvallig geword, want hulle het die beeld daar kom aanbid. Dit het vir Gideon en sy mense ’n valstrik geword.

28 So is die Midianiete aan Israel onderwerp. Hulle het nooit weer herstel nie. In Gideon se tyd was daar vir 40 jaar lank vrede in die land.

29 Jerubbaäl, die seun van Joas, het ná die oorlog teen Midian teruggegaan na sy huis toe.

30 Hy het 70 seuns by sy baie vroue gehad.

31 Sy byvrou in Sigem het ook vir hom ’n seun gegee. Sy naam was Abimelek.

32 Gideon, die seun van Joas, het ’n hoë ouderdom behaal. Hy is dood en in Ofra in die graf van sy pa, Joas die Abiësriet, begrawe.

33 Gideon was skaars dood of die Israeliete het weer na die Baäls toe teruggegaan. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak.

34 Hulle het die Here hulle God, wat hulle uit die mag van al hulle vyande rondom hulle gered het, net so gelos.

35 Hulle het nie lojaal gebly aan die gesin van Jerubbaäl – dit is nou Gideon – nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

RIGTERS 9

Abimelek word leier in Sigem

1 Jerubbaäl se seun Abimelek het een keer sy ma se familie in Sigem gaan besoek. Hy sê toe vir sy ma se mense:

2 “Kom ons vind uit by die mense van Sigem of hulle verkies om deur al 70 seuns van Jerubbaäl regeer te word, of liewer deur net een persoon. Onthou ’n bietjie dat ek van dieselfde vleis en bloed is as julle.”

3 Sy ma se familie het toe die keuse aan die mense van Sigem gestel. Hulle het op Abimelek besluit. Hulle het gesê: “Hy is mos een van ons.”

4 Hulle het vir hom sowat een kilogram silwer uit Baäl-Berit se tempel gegee. Abimelek het vir hom daarmee ’n klomp roekelose niksnutte gehuur om hom te volg.

5 Hy is met hulle terug na sy pa se huis in Ofra. Daar het hy al 70 sy pa se seuns op een klip laat vermoor. Jerubbaäl se jongste seun, Jotam, het egter weggekruip en die moord oorleef.

6 Die mense van Sigem en Millo het bymekaargekom en vir Abimelek koning gemaak by die groot eikeboom langs die klippilaar van Sigem.

7 Jotam het hiervan gehoor. Hy het toe op die top van Gerisimberg gaan staan. Van daar af het hy vir hulle geskreeu: “Luister na my, mense van Sigem, dat God na julle kan luister.

8 “Eendag het die bome besluit om vir hulle ’n koning te salf. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Regeer oor ons!’

9 Maar die olyfboom het vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om die olyfolie te gee waarmee God en mens vereer word, net om oor die bome te regeer?’

10 “Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom word jy koning oor ons!’

11 Maar die vyeboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my mooi soet vrugte te gee net om oor die bome te regeer?’

12 “Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom word jy koning oor ons!’

13 Ook die wingerdstok het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my wyn te gee wat God en mense se harte bly maak net om oor die bome te regeer?’

14 “Laaste vra al die bome toe vir die doringbos: ‘Kom jy, kom wees jy koning oor ons.’

15 En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my regtig wil salf as koning oor julle, moet julle in my skaduwee kom staan. As julle dit nie wil nie doen nie, sal daar vuur uit my dorings kom en die sederbome van die Libanon verteer.’

16 “Dink ’n bietjie na of julle eerbaar en in goeie trou opgetree het toe julle vir Abimelek koning gemaak het. Het julle reg gemaak met Jerubbaäl en sy nageslag? Het julle hom die eer gegee wat hom toekom?

17 My pa het ter wille van julle gaan oorlog maak. Hy het sy lewe vir julle gewaag. Hy het julle van die Midianiete bevry.

18 Julle het vandag met sy nageslag swaarde gekruis. Julle het sy 70 seuns almal op een klip doodgemaak. Mense van Sigem, julle het sy slavin se seun Abimelek koning gaan maak, net omdat hy julle familie is.

19 As julle vandag eerbaar en opreg teenoor Jerubbaäl en sy huis opgetree het, mag julle dan bly wees oor Abimelek en mag hy vreugde in julle vind.

20 As dit nie die geval is nie, mag daar dan ’n vuur uit Abimelek kom wat die mense van Sigem en die mense van Millo verteer. Mag daar dan ook ’n vuur uit die mense van Sigem en die mense van Millo kom wat Abimelek verteer.”

21 Jotam het toe gevlug en in Beër gaan bly. Hy was bang vir sy broer Abimelek.

22 Abimelek het drie jaar lank oor Israel regeer.

Jotam se woorde word waar

23 God het struweling tussen Abimelek en die mense van Sigem laat kom. Hulle het teen Abimelek in verset gekom.

24 God het Abimelek vergeld vir die geweld wat hy sy broers, die 70 seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God het die mense van Sigem gestraf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25 Die mense van Sigem het hinderlae vir Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Abimelek het hiervan gehoor.

26 Gaäl, die seun van Ebed, het saam met sy familie na Sigem toe getrek. Hulle het die vertroue van die mense van Sigem gewen.

27 Op ’n keer het hy en sy mense uitgegaan in die veld. Hulle het druiwe gepluk en dit gepars om fees te hou. Hulle het in hulle god se tempel ingegaan en begin eet en drink. Hulle het Abimelek begin slegsê.

28 Ebed se seun Gaäl het gevra: “En wie is Abimelek nogal? Kom hy van Sigem dat ons na hom moet luister? Hy is maar net Jerubbaäl se seun. Sy generaal is maar net Sebul. Ons moet eerder na Sigem se ware afstammelinge in Gamor luister. Waarom moet ons ons aan Abimelek onderwerp?

29 As ek hier in beheer was, sou ek Abimelek weggejaag het.”

Gaäl het vir Abimelek uitgedaag: “Kry jou leër bymekaar en kom veg teen my!”

30 Sebul, die stad se aanvoerder, het gehoor wat Gaäl, die seun van Ebed, kwytgeraak het. Hy was woedend.

31 Hy het boodskappers na Abimelek in Torma gestuur om vir hom te sê: “Gaäl, die seun van Ebed, en sy familie het in Sigem kom bly. Hulle is besig om die stad teen jou aan te hits.

32 Jy en die mense saam met jou moet vannag kom en in die veld gaan wegkruip.

33 As die son môre-oggend opkom, moet jy die stad bestorm. Wanneer hy en die mense by hom met jou kom veg, kan jy met Gaäl maak wat jy wil.”

34 Abimelek het gedurende die nag op vier plekke rondom Sigem gaan wegkruip.

35 Gaäl, die seun van Ebed, het uitgekom en by die stadspoort gaan staan. Abimelek en sy manne het uit hulle wegkruipplek gekom.

36 Gaäl het die mense gesien. Hy het vir Sebul gesê: “Kyk, daar is mense wat besig is om van bo van die heuwels af te kom.”

Sebul sê toe vir hom: “Dis die skaduwees van die heuwels wat vir jou soos mense lyk.”

37 Gaäl het toe weer vir hom gesê: “Nee, kyk mooi, daar is mense wat van die hoogste punt van die land af kom. ’n Ander groep is aan die kom uit die koers van die waarsêersboom.”

38 Toe sê Sebul vir hom: “Waar is jou groot mond nou? Jy het mos gesê: ‘Wie is Abimelek dan dat ons na hom moet luister?’ Hulle wat daar aankom, is mos die mense oor wie jy soveel te sê gehad het. Trek nou uit en gaan veg teen hom!”

39 Gaäl, met die mense uit Sigem agter hom, het uitgetrek om teen Abimelek te gaan veg.

40 Abimelek het egter vir Gaäl laat terugval en hy het vir Abimelek gevlug. Baie mense is doodgemaak en het rondom die stadspoort gelê.

41 Abimelek is terug na Aruma. Sebul het vir Gaäl en sy mense uit Sigem verdryf. Hulle kon nie langer daar woon nie.

42 Die mense van Sigem het toe die volgende oggend uitgetrek om te gaan veg. Abimelek het daarvan gehoor.

43 Hy het sy manskappe in drie groepe verdeel en in die veld gaan wegkruip. Toe hulle die mense uit die stad sien kom, het hulle uit hulle skuilplekke opgespring en die mense aangeval.

44 Die groep by Abimelek het op die poort afgestorm en in die ingang van die stad gaan stelling inneem. Die ander twee groepe het die mense in die oop veld aangeval.

45 Abimelek het daardie hele dag deur teen die stad geveg voor hy dit kon inneem. Hy het almal in die stad doodgemaak, dit met die grond gelyk gemaak en sout oor alles gestrooi.

46 Toe die inwoners van Migdol-Sigem hoor wat gebeur het, het hulle in die tempel van El-Berit gaan skuil.

47 Iemand het vir Abimelek kom vertel dat al die inwoners van Migdol-Sigem daar in die tempel skuil.

48 Abimelek het toe met sy manskappe teen Salmonberg uitgeklim. Daar het hy ’n byl gevat en ’n boomtak afgekap. Hy het dit op sy skouer getel. Hy sê toe vir sy mense: “Julle het gesien wat ek gedoen het. Maak gou en doen dieselfde!”

49 Elkeen van hulle het toe ook ’n tak afgekap. Hulle het vir Abimelek gevolg en die takke teen die mure van die tempel gaan opstapel. Hulle het dit aan die brand gesteek. Almal in Migdol-Sigem het doodgebrand. Daar was omtrent 1 000 mans en vroue.

50 Abimelek is daarna Tebes toe. Hy het dit beleër en die stad ingeneem.

51 Daar was ’n hoë toring in die middel van die stad. Al die mans en die vroue van Tebes het daarnatoe gevlug. Hulle het hulleself daarin toegesluit en opgeklim na die dak van die toring.

52 Abimelek wou die toring bestorm. Hy het nadergegaan na die ingang van die toring om dit aan die brand te steek.

53 ’n Vrou het van bo af ’n maalklip afgegooi. Dit het hom op die kop getref en sy skedel vergruis.

54 Hy roep toe dringend na sy wapendraer en sê vir hom: “Trek uit jou swaard! Maak my dood. Moenie toelaat dat hulle kan sê: ‘’n Vrou het hom doodgemaak’ nie!” Sy wapendraer het hom toe met sy swaard doodgemaak.

55 Toe die Israeliete sien dat Abimelek dood is, het elkeen teruggegaan na sy huis toe.

56 So het God die misdaad wat Abimelek teen sy pa begaan het om sy 70 broers te vermoor, gestraf.

57 God het die kwaad van die mense van Sigem op hulle eie koppe laat afkom. Die vloek van Jerubbaäl se seun Jotam het hulle getref.

RIGTERS 10

Tola

1 Ná Abimelek was Tola Israel se rigter. Hy was die seun van Puwwa, die seun van Dodo, uit die stam Issaskar. Hy het in Samir in die heuwels van Efraim gebly.

2 Hy het Israel 23 jaar lank gelei. Hy is dood en is in Samir begrawe.

Jaïr

3 Ná hom het Jaïr uit Gilead Israel 22 jaar lank gelei.

4 Sy 30 seuns het elkeen op ’n donkie gery. Hulle het 30 dorpe in Gilead gehad. Dit word vandag nog die tentdorpe van Jaïr genoem.

5 Toe Jaïr sterf, is hy in Kamon begrawe.

Die Ammoniete verdruk Israel

6 Die Israeliete het maar weer begin doen wat verkeerd is vir die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes vereer en voor die gode van die Arameërs, die Sidoniërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne gebuig. Hulle het hulle rug op die Here gedraai. Hulle het Hom nie meer aanbid nie.

7 Toe het die Here woedend geword vir die Israeliete. Hy het hulle aan die Filistyne en die Ammoniete uitgelewer.

8 Hulle het die Israeliete wat oos van die Jordaan bly, in die gebied van die Amoriete in Gilead, agtien jaar lank onderdruk en hulle mishandel.

9 Die Ammoniete het ook die Jordaan oorgesteek om teen Juda, Benjamin en Efraim te gaan oorlog maak. Israel was in groot moeilikheid.

10 Die Israeliete het by die Here gepleit. Hulle het gebid: “Ons het teen U gesondig. Ons was nie getrou aan ons God nie. Ons het die Baäls aanbid.”

11 Die Here het die Israeliete geantwoord: “Ek het julle bevry toe die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne,

12 die mense van Sidon, Amalek en Maon julle verdruk het. Julle het tot My gebid en Ek het julle uit hulle mag gered.

13 Maar julle het My nou al weer laat staan om ander gode te gaan aanbid. Ek gaan julle nie weer red nie.

14 Gaan kerm nou by die gode wat julle vir julleself gekies het. Laat hulle julle uit die moeilikheid red!”

15 Maar die Israeliete het gesoebat by die Here: “Ons het gesondig! Maak met ons soos U wil. Red ons tog net vandag!”

16 Hulle het ontslae geraak van die ander gode en net die Here aanbid. Hy was jammer vir hulle omdat hulle so swaargekry het.

17 Die Ammoniete het saamgetrek om oorlog te maak. Hulle het kamp opgeslaan in Gilead. Die Israeliete het ook bymekaargekom en hulle reggemaak vir oorlog. Hulle het by Mispa kamp opgeslaan.

18 Die aanvoerders by Gilead het met mekaar ooreengekom: “Die een wat die oorlog teen die Ammoniete begin, sal die leier wees van almal wat in Gilead bly.”