PSALMS 61

Lei my na die rots

1 Vir die koorleier: Met snarespel.

’n Dawidspsalm.

2 O God,

luister na my roepstem

en hoor my gebed!

3 Vanaf die einde van die aarde

roep ek tot U om hulp,

want ek is moedeloos.

Lei my na die rots hoër as ek.

4 Waarlik, U is vir my ’n skuilplek,

’n sterk vesting

buite bereik van my vyande.

5 Laat my vir altyd

in u woning bly,

en onder die beskerming

van u vleuels skuil!

Sela

6 Want U het my geloftes gehoor,

o God.

U vervul die begeerte van hulle

wat u Naam dien.

7 Voeg dae

by die lewe van die koning;

laat sy lewensjare

van geslag tot geslag wees!

8 Mag hy vir altyd

voor God regeer.

Mag u goedheid en waarheid

hom bewaar.

9 Dan sal ek u Naam altyd besing

en dag na dag

my geloftes betaal.

PSALMS 62

God is my hoop en redding

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Jedutun”. ’n Psalm van Dawid.

2 Net by God kan ek rustig wag,

van Hom kom my verlossing.

3 Net Hy is my rots

en my redding,

my vesting

waar ek baie stewig staan.

4 Hoe lank sal julle

’n mens aanval?

Hulle almal probeer

om my dood te maak.

Ek is reeds soos ’n bouvallige muur,

of ’n vervalle heining.

5 Hulle wil my

my ereplek ontneem.

Hulle geniet dit

om leuens te vertel.

Met hulle mond seën hulle my,

maar in hulle harte

vervloek hulle my.

Sela

6 Ek wil rustig op God wag,

want van Hom

kom al my hoop.

7 Net Hy is my rots

en my redding,

my vesting

waar ek stewig staan.

8 God is my redding

en my krag;

God is my sterke rots

en my toevlug.

9 Vertrou op Hom te alle tye,

my volk,

stort jou hart uit voor Hom,

want God is ons toevlug.

Sela

10 Sekerlik is mense

net ’n asempie,

en die mensdom onbetroubaar.

Op die weegskaal

weeg hulle niks.

Saam is hulle ligter

as ’n windjie.

11 Moenie vertrou op afpersing

of valslik trots wees op rowery nie.

En as jou rykdom vermeerder,

moenie dat jou lewe

daarom draai nie.

12 God het duidelik gepraat,

ek het dit telkens gehoor:

die mag behoort aan God,

13 en ook die trou

behoort aan U, Here.

U beloon elkeen

volgens sy dade.

PSALMS 63

U liefde is beter as die lewe

1 ’n Psalm van Dawid, met verwysing na

sy verblyf in die Judawoestyn.

2 O God, U is my God,

ek soek na U,

ek smag na U;

my hele liggaam verlang na U

soos ’n dor land

sonder water.

3 Ek het U inderdaad

in die heiligdom gesien

en u krag en heerlikheid

aanskou.

4 U troue liefde

is beter as die lewe;

daarom prys ek U!

5 Daarom wil ek U prys

so lank as wat ek lewe,

en in u Naam my hande ophef.

6 U versadig my

meer as die rykste kos.

Met vreugdeliedere

sal ek U loof.

7 As ek op my bed lê

en aan U dink,

oor U nadink in die nag,

8 onthou ek hoe U my gehelp het.

Dan wil ek sing

in die skaduwee van u vleuels.

9 Ek is aan U verbind,

u regterhand hou my staande.

10 Mag hulle wat my lewe soek,

omkom en in die dieptes

van die aarde wegsink.

11 Mag hulle oorgegee word

aan die swaard

en kos word

vir die jakkalse.

12 Maar die koning sal bly wees

in God.

Almal wat op God vertrou,

sal Hom prys,

terwyl leuenaars

stilgemaak sal word.

PSALMS 64

God sien alle

kwaadstokery

1 Vir die koorleier: ’n Psalm van Dawid.

2 O God,

luister tog na my klag.

Beskerm my teen die dreiging

van my vyande.

3 Beskut my teen sameswerings

van kwaadwillige mense,

teen die kwaadstokery

van hulle wat onreg doen.

4 Hulle wat hulle tong

skerp maak soos swaarde,

soos pyle

met bitter woorde skiet,

5 om uit hinderlae

op die onskuldige te skiet,

om onverwags op hom te skiet

sonder om bang te wees.

6 Hulle spoor mekaar aan

tot bose dade;

in die geheim

beplan hulle lokvalle.

Hulle vra:

“Wie sal dit ooit raaksien?”

7 Hulle beplan misdaad, en sê:

“Ons het ’n volmaakte plan!”

Die mens se gedagtes

en bedoelings

is inderdaad baie duister.

8 Maar God tref hulle met ’n pyl,

en skielik is hulle gewond.

9 Hulle eie woorde

laat hulle struikel.

Elkeen wat dit sien,

skud die kop.

10 Dan sal almal,

vervul met ontsag,

getuig oor die dade van God

en iets van sy werke verstaan.

11 Die regverdiges sal bly wees

in die Here,

en skuiling soek by Hom.

Al die opregtes van hart

sal Hom prys.

PSALMS 65

U is die hoorder van gebed

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

’n Lied.

2 O God, lof kom U toe in Sion.

Ons geloftes sal ons betaal.

3 O Hoorder van gebed,

na U toe sal alle mense kom.

4 Wanneer sondige dade

my oorweldig,

vergewe dan tog

my opstandigheid.

5 Geseënd is dié

vir wie U uitkies,

hulle wat U laat naderkom

en in u tempel laat woon.

Mag ons oorlaai word

met die goedheid van u huis,

in u heilige tempel.

6 God ons verlosser,

U antwoord ons

met magtige dade

en in geregtigheid.

Tot aan die einde van die aarde

en vanaf die verste seë

hoop mense op U.

7 Deur u krag

is die berge gevorm;

Uself is met mag omgord.

8 U bedaar die gedruis

van die see,

die dreuning van die golwe,

en die rumoer van die nasies.

9 Mense in afgeleë plekke

kry ontsag vir u wonders.

Van waar die son opkom

tot waar dit ondergaan,

laat U hulle sing van vreugde.

10 U versorg die aarde,

en laat dit reën,

U maak dit ryk en vrugbaar.

Die riviere van God is vol water;

U verskaf graan

soos U bepaal het.

11 U vul die leivore met water,

en deurweek die kluite;

U laat hulle sag word van reën

en laat alles welig groei.

12 U kroon die jaar

met u goeie gawes;

in u spore volg daar oorvloed.

13 Die woestyn word ’n weiland,

die heuwels is oordek

met vreugde.

14 Die weivelde wemel

van kleinvee,

en die valleie

is oordek met graan.

Hulle juig en sing van vreugde!

PSALMS 66

Ek wil vertel wat God

gedoen het

1 Vir die koorleier: ’n Lied. ’n Psalm.

Almal op aarde,

juig tot eer van God!

2 Sing tot eer van sy Naam!

Gee Hom eer en lof.

3 Sê vir God:

“Hoe ontsagwekkend is u werke!

U vyande kruip

voor u groot mag.

4 Almal op die aarde

sal U aanbid;

hulle moet sing tot u eer

en lofsing tot eer van u Naam.”

Sela

5 Kom en kyk

wat God gedoen het,

sy magtige dade

met die mensdom!

6 Die see het Hy verander

in ’n droë pad,

droogvoets het hulle

deur die rivier gegaan.

Kom, laat ons jubel oor Hom,

7 Hy wat vir altyd

deur sy groot mag regeer.

Sy oë is gerig op die nasies.

Laat geen opstandeling

homself verhef nie.

Sela

8 Alle volke, prys ons God

en laat sy lof weerklink.

9 Ons lewe, dié hou Hy in stand,

ons voete

laat Hy nie struikel nie.

10 U het ons beproef, o God,

soos silwer ons gesuiwer.

11 U het ons met ’n net gevang,

’n sware las op ons geplaas.

12 U het mense oor ons laat ry,

ons deur vuur en vloed

laat gaan,

en tog gebring

waar daar oorvloed is.

13 Met brandoffers

kom ek na u tempel;

geloftes aan U wil ek betaal,

14 geloftes met eie lippe

en mond gesê

toe ek diep in moeilikheid was.

15 As brandoffer bring ek

die vetste van my vee,

as wierook

die beste van my ramme.

Ook bulle en skape sal ek offer.

Sela

16 Kom en luister,

dienaars van God,

ek sal vertel wat Hy

vir my gedoen het.

17 Ek het na Hom om hulp geroep,

Hom geprys terwyl ek praat.

18 As ek kwaad in my hart

bedink het,

sou die Here

nie na my luister nie.

19 Maar God het tog geluister;

Hy het my gebed verhoor.

20 Loof God wat my gebed

nie verwerp het nie

en sy troue liefde

nie aan my onttrek het nie.

PSALMS 67

God sal ons seën

1 Vir die koorleier: Met snarespel.

’n Psalm. ’n Lied.

2 Mag God ons genadig wees

en ons seën.

Mag sy goedheid oor ons skyn

Sela

3 sodat u werke bekend kan word

oor die aarde,

u reddende krag

onder al die nasies.

4 Mag die volke U prys, o God,

mag al die nasies U loof.

5 Laat die nasies bly wees

en sing van vreugde,

want met billikheid

regeer U die volke

en lei U die nasies op die aarde.

Sela

6 Mag die volke U prys, o God.

Mag al die volke U loof.

7 Die aarde het oeste gelewer.

God, ons God, sal ons seën.

8 God sal ons seën,

en mense oor die hele aarde

sal Hom dien.

PSALMS 68

Toon u mag, o Here

1 Vir die koorleier: Van Dawid.

’n Lied.

2 God sal opstaan

en sy vyande verstrooi.

Laat dié wat Hom haat,

voor Hom vlug.

3 Soos wind rook wegblaas,

so blaas U hulle weg.

Soos was in vuur smelt,

só vergaan goddeloses

voor God.

4 Maar die vromes

sal verheug wees,

hulle sal bly wees voor God,

hulle sal jubel

van vreugde.

5 Sing tot God, lofsing sy Naam!

Huldig Hom

wat ry op die wolke.

Sy Naam is Here –

jubel voor Hom!

6 ’n Vader vir wese,

’n beskermer van weduwees;

dít is God

in sy heilige woning.

7 God gee aan die eensame

’n tuiste;

dié wat gevange is,

lei Hy na vryheid,

maar opstandelinge woon

in ’n verlate woestyn.

8 O God, toe U u volk

uitgelei het,

toe U deur die woestyn

getrek het,

Sela

9 het die aarde gebewe

en die hemele het laat reën

voor U,

die God van Sinai,

voor God, die God van Israel.

10 O God,

U het oorvloedige reëns gestuur

om u uitgedorde erfdeel

te verkwik.

11 Daar het u volk

hulle gaan vestig.

In u goedheid het U, o God,

ook vir die armes voorsien.

12 Die Here het bekendgemaak:

“’n Menigte vroue bring

die goeie nuus.

13 Konings en leërs het gevlug.”

Hulle het gevlug,

en vroue het tuis

die buit verdeel.

14 Waar julle eers

by skaapkrale gewoon het,

is julle nou oordek

met silwer en goud

soos ’n duif hom toemaak

met sy vlerke.

15 Toe die Almagtige

die konings verstrooi,

het ’n sneeustorm

op Salmonsberg gewoed.

16 Basanberg is ’n godeberg,

’n berg met hoë spitse

is Basanberg.

17 Berg met hoë spitse,

hoekom kyk jy met afguns

na die berg wat God

as woning gekies het,

daar waar die Here

vir altyd sal woon?

18 Met derduisende skitterende

strydwaens van God

het die Here vanaf Sinaiberg

na sy heiligdom toe gekom.

19 Toe U opgegaan het

na die hoogte,

het U krygsgevangenes

weggevoer.

Mense het vir U

geskenke gegee,

selfs dié wat teen U

in opstand was.

Nou sal die Here God

onder ons kom woon.

20 Prys die Here

wat ons dag na dag

in sy arms dra.

Hy is die God

van ons verlossing.

Sela

21 God is vir ons

die God wat verlos!

Die oppermagtige Here het beheer

oor die dood.

22 Immers, God self verpletter

die koppe van sy vyande,

die koppe van hulle

wat in sonde volhard.

23 Die Here sê:

“Ek sal my vyande bring

uit Basan;

Ek sal hulle bring

uit die dieptes van die see.

24 Julle sal hulle bloed

van julle voete afwas,

en die bloed van julle vyande

sal julle honde oplek!”

25 U feesoptog is in sig,

o God,

die optog van my God en Koning

is op pad

na sy heiligdom.

26 Vooraan is die sangers,

agter hulle, die musikante.

Saam met hulle is jong meisies

wat op tamboeryne speel.

27 Prys God

in die vergaderings;

prys die Here,

die bron van Israel.

28 Kyk, Benjamin, die jongste,

is die aanvoerder.

Dan volg die baie heersers

van Juda

en die heersers van Sebulon

en Naftali.

29 Toon u mag, o God.

Toon u krag, o God,

soos U dit voorheen

vir ons gedoen het.

30 Ter wille van u tempel

in Jerusalem

sal konings vir U

geskenke bring.

31 Bestraf vir Egipte,

die ondier

tussen die riete,

wat soos troppe bulle

tussen kalwers

ander vertrap

ter wille van geld.

Verstrooi die nasies

wat hulle

verheug in oorlog.

32 Uit Egipte

kom kosbare geskenke;

met uitgestrekte hande

bid Kus tot God.

33 Koninkryke van die aarde,

sing tot eer van God.

Sing lofsange

tot eer van die Here,

Sela

34 sing tot eer van Hom

wat deur die oeroue hemel ry

terwyl sy magtige stem

weerklink.

35 Verkondig God se mag,

sy majesteit oor Israel,

sy mag oor die wolke.

36 God wek ontsag

in sy heiligdom.

Hy is die God van Israel.

Vir sy volk gee Hy

mag en sterkte.

Laat God verheerlik word.

PSALMS 69

Trek my op uit die modder

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Lelies”. Van Dawid.

2 Red my, o God!

Die vloedwaters

is reeds tot by my keel.

3 Dieper en dieper

sink ek in modder,

met geen plek om te staan nie.

In diep waters het ek beland,

en die stroom oorweldig my.

4 Ek is uitgeput

van roep om hulp.

My keel is hees en my oë dof,

terwyl ek wag

dat God my help.

5 Hulle wat my haat

sonder oorsaak

is meer as die hare op my kop.

Talryk is hulle

wat my wil vernietig,

en dit sonder oorsaak.

My vyande is leuenaars

wat eis dat ek teruggee

dit wat ek nie gesteel het nie.

6 O God, U weet

hoe dwaas ek is;

ek kan my skuld

nie vir U wegsteek nie.

7 Moenie dat hulle

wat op U vertrou,

deur my beskaam word nie,

oppermagtige Here, die Almagtige.

Moenie dat hulle wat U dien

deur my verneder word nie,

o God van Israel.

8 Om u ontwil

moet ek veragting verduur,

is ek tot skande gemaak.

9 Vir my broers

het ek ’n onbekende geword,

’n vreemdeling

vir die seuns van my moeder.

10 ’n Ywer vir u huis

brand in my,

die beledigings teen U gemik,

tref ook vir my.

11 Wanneer ek huil terwyl ek vas,

moet ek hulle beledigings

verduur.

12 Wanneer ek rouklere aantrek,

skeer hulle met my die gek.

13 Dié wat sit in die stadspoort

skinder van my,

en die dronkaards

maak liedjies oor my.

14 Wat my betref,

ek bid tot U,

Here;

antwoord my op u bestemde tyd,

o God.

In die grootheid

van u troue liefde,

antwoord my

met u troue redding!

15 Trek my op uit die modder

sodat ek

nie dieper wegsink nie!

Red my van my haters

en uit die diep waters.

16 Moenie dat die watervloed

my oorweldig,

of die diep waters

my insluk,

of die graf bokant my

toegaan nie.

17 Antwoord my, Here,

want u genade is goed;

verhoor my

in u groot barmhartigheid.

18 Moenie u gesig

vir u dienaar wegdraai nie;

antwoord my gou,

want ek is in nood!

19 Kom na my toe

en red my lewe.

Bevry my tog

van al my vyande.

20 U ken die beledigings,

die vernedering

en die skande;

U het al my vyande gesien.

21 Hulle beledigings

het my gebreek,

en ek is radeloos.

Ek het gesoek

vir meegevoel,

maar tevergeefs;

vir ’n bemoediger,

maar daar was niemand.

22 In plaas van kos

gee hulle my gif;

hulle gee asyn

om my dors te les.

23 Laat die feesmaal

op hulle tafel

’n strik word.

Laat hulle welvaart

hulle ondergang wees.

24 Laat hulle oë blind word,

en hulle liggame al swakker.

25 Stort u woede uit op hulle;

laat u brandende toorn

hulle verteer.

26 Mag hulle wonings leeg staan

en hulle tente verlate.

27 Hulle vervolg die een

wat U reeds getref het

en vertel van die pyn

van dié wat U deurboor het.

28 Stapel hulle sonde op

sodat hulle nie sal deel

in u vryspraak nie.

29 Wis uit hulle name

uit die Boek van die Lewe

sodat hulle nie as regverdiges

opgeteken sal word nie.

30 Ek is ellendig en in pyn.

Laat u redding, o God,

my beveilig.

31 Ek sal God se Naam

loof met sang,

Hom met danksegging

verheerlik.

32 Die Here verkies dit bo bulle

en bo ’n volmaakte offerdier.

33 Die verdruktes sal dit sien

en bly wees.

Laat almal wat God dien,

weer moed skep,

34 want die Here

hoor dié in nood,

en vergeet nie sy mense

wat in aanhouding is nie.

35 Laat hemel en aarde Hom prys,

die see en alles

wat daarin beweeg.

36 Want God sal Sion red

en die stede van Juda herbou.

Sy volk sal daar woon

en die land besit.

37 Die nageslag van sy dienaars

sal dit erf;

en hulle wat sy Naam liefhet,

sal daar woon.

PSALMS 70

U is my redder, Here

1 Vir die koorleier: Van Dawid.

’n Herinnering.

2 Red my tog, o God!

Kom gou, Here, en help my.

3 Laat almal wat my lewe soek,

in die skande kom

en verward raak.

Laat hulle wat my ondergang

begeer,

op die vlug slaan

en beskaamd staan.

4 Laat hulle vlug

as beloning vir hulle skande,

hulle wat sê: “Aha! Ons het hom!”

5 Maar mag almal wat U soek,

vol vreugde

en blydskap wees.

Mag hulle

wat u verlossing liefhet,

gedurig sê: “Die Here is groot!”

6 Ek is arm en behoeftig.

Kom gou na my toe, o God.

U is my hulp en my redder.

Here,

moet tog nie

langer wag nie!