Here, maak my ’n nuwe
mens
1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm,
2 toe die profeet Natan na hom toe
gekom het oor sy owerspel met Batseba.
3 Wees my genadig, o God,
volgens u troue liefde.
Wis tog my sonde uit,
op grond van u barmhartigheid.
4 Was my skoon van my skuld.
Reinig my van my sonde.
5 Want ek ken my oortredings
en my sonde
is gedurig voor my.
6 Teen U, U alleen,
het ek gesondig;
ek het gedoen
wat vir U verkeerd is.
Daarom is u uitspraak reg
en u oordeel regverdig.
7 Want ek is as sondaar gebore,
en was dit toe my ma
swanger geword het.
8 Maar U verwag waarheid
in die hart.
U leer my om wysheid te besit.
9 Neem weg my sonde met hisop
sodat ek skoon kan wees,
was my
dat ek witter as sneeu kan wees.
10 Gee my tog weer
blydskap en vreugde;
U het my stukkend gebreek,
laat my weer
vol vreugde wees.
11 Moenie let op my sondes nie,
en wis al my oortredings uit.
12 Skep vir my ’n rein hart,
o God.
Gee my ’n nuwe,
standvastige gees.
13 Moenie my verban
wég van u teenwoordigheid nie,
en moenie u Heilige Gees
van my af wegneem nie.
14 Gee my tog weer die vreugde
van u redding
en maak my gewillig
om U te gehoorsaam.
15 Dan sal ek oortreders
u weë leer,
sodat sondaars
hulle tot U sal bekeer.
16 Verlos my
van bloedvergieting,
God, my Redder-God.
Dan sal ek voluit sing
van u regverdigheid.
17 Help my om te praat, Here,
sodat ek u lof kan verkondig.
18 U verlang nie offers nie,
anders sou ek dit bring.
Selfs brandoffers
wil U nie hê nie.
19 Die offer wat U wil hê, o God,
is ’n gebroke gees.
’n Gebroke en berouvolle hart
sal U nie verwerp nie, o God.
20 Wees genadig oor Sion,
volgens u goedheid;
herbou tog die mure
van Jerusalem.
21 Dan sal
die voorgeskrewe offers
vir U aanneemlik wees,
brandoffers, ja, offers
wat heeltemal verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle
op u altaar offer.