Maak my gesond
1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.
2 Geseënd is die mens
wat omgee vir die armes.
In tye van nood
sal die Here hom red.
3 Die Here sal hom beskerm
en hom die lewe laat behou.
Hy gee aan hom voorspoed
in die land
en lewer hom nie oor
in die mag
van sy vyande nie.
4 Die Here sorg vir hom
as hy siek is
en laat hom opstaan
uit sy siekbed.
5 Ek het gesê:
“Here, wees my genadig.
Maak my gesond,
want ek het teen U gesondig.”
6 My vyande praat kwaad van my.
Hulle sê:
“Wanneer sal hy sterf
en vergete wees?”
7 As hulle my besoek,
is hulle skynheilig:
In hulle harte versamel hulle
slegte gedagtes;
dan gaan hulle uit
en vertel dit.
8 Almal wat my haat,
fluister saam oor my
en beplan net die ergste vir my:
9 “’n Dodelike siekte
het hom getref.
Waar hy nou lê,
sal hy nooit
opstaan nie!”
10 My beste vriend
wat ek vertrou het,
wat saam met my geëet het,
selfs hy het sy rug
op my gedraai.
11 Here, wees my genadig.
Maak my weer gesond
sodat ek hulle kan vergeld!
12 Ek weet dat U my liefhet,
want my vyand seëvier nie
oor my nie.
13 U hou my staande
omdat ek onskuldig is.
U laat my
altyd naby U bly.
14 Prys die Here,
die God van Israel,
van altyd af
en tot in die oneindigheid.
Amen, ja, amen!