PSALMS 131

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

My hart is nie hoogmoedig nie,

Here;

en my oë is nie trots nie.

Ek bemoei my nie

met wat vir my te groot

of te moeilik is nie.

2 Maar ek het kalmte en rus gekry,

soos ’n kindjie by sy moeder rus,

so is my gemoed.

3 Israel, hoop op die Here,

nou en vir altyd.

PSALMS 132

1 ’n Pelgrimslied.

Here, onthou tog vir Dawid

en alles wat hy

deurgemaak het.

2 Hy het ’n eed

voor die Here afgelê,

’n gelofte gemaak

aan die Magtige van Jakob:

3 “Ek sal nie huis toe gaan

en na my bed toe gaan nie.

4 Ek sal my oë nie laat slaap

of laat sluimer nie

5 tot ek ’n plek gekry het

vir die Here,

’n heiligdom

vir die Magtige van Jakob.”

6 Ons het gehoor

die ark is in Efrata,

en dit gekry

in die velde van Jaär.

7 Kom ons gaan sy woning binne;

laat ons laag voor Hom buig.

8 Kom na u rusplek toe, Here,

U en die ark,

die teken van u mag.

9 Laat u priesters geklee word

met regverdigheid;

mag u troue dienaars

sing van vreugde.

10 Ter wille van u dienaar Dawid,

moet tog nie u gesalfde

verwerp nie.

11 Die Here

het vir Dawid gesweer,

en dit staan vas.

Hy sal daarvan nie afwyk nie:

“Een van jou afstammelinge

sal Ek op jou troon laat sit.

12 As jou seuns luister

na my verbond

en die eise navolg

wat Ek hulle leer,

sal ook húlle seuns

vir altyd regeer.”

13 Want die Here het Sion gekies,

dit as sy woning begeer:

14 “Dit is my rusplek vir altyd.

Hier sal Ek woon,

want die plek het Ek begeer.

15 Ek sal die stad oorvloedig seën

met voedsel

en haar armes

van kos voorsien.

16 Haar priesters klee Ek

met redding;

haar getroues sal sing

van vreugde.

17 Hier vestig Ek

die mag van Dawid,

en ’n nageslag vir my gesalfde.

18 Ek klee sy vyande met skaamte,

maar sý kroon

sal bly skitter.”

PSALMS 133

1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.

Hoe goed, hoe mooi is dit

as broers eensgesind

saamwoon!

2 Dit is soos kosbare olie

op die kop

wat afloop op die baard,

op die baard van Aäron,

tot op die soom van sy kleed.

3 Dit is soos

die dou van Hermonberg

wat neersak op die berge van Sion.

Want daar gee die Here sy seën:

’n baie lang lewe.

PSALMS 134

1 ’n Pelgrimslied.

Prys die Here,

alle dienaars van die Here.

Julle wat snags diens doen

in die huis van die Here,

2 hef op julle hande

in die heiligdom

en prys die Here.

3 Mag die Here julle seën uit Sion,

Hy wat hemel en aarde

gemaak het.

PSALMS 135

1 Prys die Here!

Prys die Naam van die Here!

Prys Hom,

dienaars van die Here,

2 julle wat diens doen

in die Here se huis,

in die voorhowe

van die huis van ons God.

3 Prys die Here,

want die Here is goed;

sing tot eer van sy heerlike Naam.

4 Die Here het Jakob

vir Hom gekies,

vir Israel as sy besondere besitting.

5 Ek weet die Here is groot,

ons Here is groter

as alle gode.

6 Die Here doen wat Hy wil,

in die hemel en op die aarde,

op die see

en in die diepste oseane.

7 Hy laat wolke

oor die aarde saampak.

Hy maak weerlig vir die reën

en bring die wind

uit sy stoorkamers.

8 Egipte se eerstelinge

het Hy getref,

mense sowel as diere.

9 Oor Egipte

het Hy wonders

en tekens gestuur,

oor die farao en al sy mense.

10 Hy het groot nasies verslaan

en magtige konings

doodgemaak:

11 Sihon, koning van die Amoriete,

Og, koning van Basan,

en al die koninkryke van Kanaän.

12 Hulle land

het Hy as erfdeel

aan Israel gegee,

as erfdeel vir sy volk Israel.

13 U Naam, Here,

duur vir altyd;

U word onthou, Here,

van geslag tot geslag.

14 Die Here sal reg verskaf

aan sy volk

en Hom ontferm oor sy dienaars.

15 Die afgode van die nasies

is voorwerpe van silwer

en goud,

die werk van mensehande.

16 Hulle het monde,

maar is stom.

Hulle het oë,

maar kan nie sien nie.

17 Hulle het ore,

maar kan nie hoor nie,

in hulle monde

is geen asem nie.

18 Hulle makers is net soos hulle,

so ook almal

wat op hulle vertrou.

19 Israel, loof die Here!

Priesters, nageslag van Aäron,

loof die Here!

20 Leviete, loof die Here!

Julle wat Hom dien,

loof die Here!

21 Loof die Here in Sion,

Hy wat woon in Jerusalem.

Prys die Here!

PSALMS 136

nie

1 Prys die Here, want Hy is goed!

Aan sy liefde is geen einde nie.

2 Prys die God van die gode.

Aan sy liefde is geen einde nie.

3 Prys die Heer van die here.

Aan sy liefde is geen einde nie.

4 Hy wat alleen

magtige dade doen.

Aan sy liefde is geen einde nie.

5 Hy wat die hemele

met insig gemaak het.

Aan sy liefde is geen einde nie.

6 Hy wat die aarde

oor die waters uitgesprei het.

Aan sy liefde is geen einde nie.

7 Hy het die groot ligte gemaak,

Aan sy liefde is geen einde nie.

8 die son

om te heers oor die dag,

Aan sy liefde is geen einde nie.

9 die maan en die sterre

om te heers oor die nag.

Aan sy liefde is geen einde nie.

10 Die eerstelinge van Egipte

het Hy getref

Aan sy liefde is geen einde nie.

11 en Israel onder hulle uitgelei

Aan sy liefde is geen einde nie.

12 met ’n sterk hand

en uitgestrekte arm.

Aan sy liefde is geen einde nie.

13 Hy het die Rietsee oopgekloof

Aan sy liefde is geen einde nie.

14 en Israel veilig laat deurtrek,

Aan sy liefde is geen einde nie.

15 maar Farao en sy leër

in die Rietsee gegooi.

Aan sy liefde is geen einde nie.

16 Hy het sy volk

deur die woestyn gelei.

Aan sy liefde is geen einde nie.

17 Hy het magtige konings

uitgeroei,

Aan sy liefde is geen einde nie.

18 en magtige konings

doodgemaak:

Aan sy liefde is geen einde nie.

19 Sihon, die koning van die Amoriete,

Aan sy liefde is geen einde nie.

20 en Og, die koning van Basan.

Aan sy liefde is geen einde nie.

21 Hy het hulle land

as ’n erfdeel gegee,

Aan sy liefde is geen einde nie.

22 ’n erfdeel vir Israel,

sy dienaar.

Aan sy liefde is geen einde nie.

23 Hy het aan ons gedink

toe ons moedeloos was

Aan sy liefde is geen einde nie.

24 en ons gered van ons vyande.

Aan sy liefde is geen einde nie.

25 Hy gee kos aan al wat lewe.

Aan sy liefde is geen einde nie.

26 Loof die God van die hemel!

Aan sy liefde is geen einde nie.

PSALMS 137

1 By die riviere van Babel

het ons gesit en gehuil

wanneer ons aan Sion dink.

2 Ons het ons liere

daar aan die wilgerbome

opgehang.

3 Dié wat ons weggevoer het,

het ons gevra

om ’n lied te sing.

Ons verdrukkers het gesê

ons moet

’n vreugdelied sing:

“Sing vir ons ’n Sionslied!”

4 Maar hoe kan ons

in ’n vreemde land

’n lied van die Here sing?

5 As ek jou vergeet,

Jerusalem,

laat my regterhand

dan uitdroog.

6 As ek nie meer aan jou dink nie,

as Jerusalem

nie my grootste vreugde is nie,

mag my tong kleef

aan my verhemelte.

7 Onthou tog die Edomiete,

Here,

en wat hulle gedoen het

toe Jerusalem ingeneem is.

Hulle het geskreeu:

“Slaan plat! Slaan plat

tot op die fondamente!”

8 Babel, jy is gedoem

tot verwoesting.

Geseënd is die een wat jou

vergeld

vir wat jy aan ons gedoen het.

9 Geseënd is hý

wat jou babatjies neem

en hulle teen ’n klip

verpletter!

PSALMS 138

bereik

1 Van Dawid.

Ek loof U met my hele hart,

Here.

Voor die gode sing ek u lof

2 wanneer ek buig

na u heilige tempel.

Ek wil u Naam loof

op grond van u liefde en trou,

want U het u Naam en u woord

bo alle dinge verheerlik.

3 Wanneer ek roep,

antwoord U my;

U bemoedig my en gee my krag.

4 Here,

al die konings van die aarde

sal U dank

wanneer hulle u woorde hoor.

5 Hulle sal sing van die werke

van die Here,

want groot is die heerlikheid

van die Here.

6 Al is die Here hoog verhewe,

gee Hy om vir die nederiges,

maar die trotsaards ken Hy

van ver af.

7 As ellende op my toesak,

sal U my bewaar

van die woede van my vyande.

U steek u hand uit

en red my deur u krag.

8 Here,

U sal u doel met my bereik,

want u troue liefde, Here,

ken geen einde nie.

Moenie die werke van u hande

laat vaar nie.

PSALMS 139

1 Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm.

Here, U deursoek my

en ken my.

2 U weet of ek sit

en of ek opstaan,

U ken my gedagtes van ver af.

3 Of ek op pad is,

en of ek gaan lê,

elke oomblik

weet U waar ek is.

4 Selfs voordat ek praat, Here,

weet U al presies wat ek gaan sê.

5 U sluit my in van voor

en van agter.

U hand van seën is op my.

6 Dié kennis

laat my in verwondering,

dit is vir my te hoog

om te begryp!

7 Waarheen sou ek kon gaan

om u Gees te ontwyk?

Of waarheen sou ek kon uitwyk

om u teenwoordigheid

te ontvlug?

8 Gaan ek op na die hemel toe,

is U daar;

gaan lê ek in die doderyk,

dan is U ook daar!

9 Vlieg ek met die daeraad

na die ooste,

of gaan woon ek

in die verre weste,

10 selfs daar sal u hand my lei,

en u regterhand my ondersteun.

11 Sou ek sê:

“Mag duisternis my oorweldig

en die lig

nag word rondom my,”

12 dan is die nag vir U

nie donker nie,

maar is so helder soos dag,

want duisternis

is vir U soos lig.

13 U self het my diepste wese

gemaak,

my in die moederskoot gevorm.

14 Ek loof U omdat U my

so besonder wonderlik

gemaak het.

U werke is wonderbaar,

ek weet dit alte goed!

15 My bene was vir U sigbaar

toe ek stilletjies gevorm is

in die dieptes

van die moederskoot.

16 U het my gesien

voor ek gebore is.

In u boek is alles opgeteken;

elke dag is bepaal

voordat een van hulle daar was.

17 Kosbaar is u gedagtes vir my,

o God!

Hoe onmeetlik is die totaal!

18 As ek dit sou moes tel,

sou hulle meer wees

as sandkorrels!

Wanneer ek daarmee klaar is,

sal ek nog steeds by U wees.

19 As U net die goddeloses

sal uitroei, o God!

Gaan weg van my,

julle moordenaars!

20 Hulle smee bose planne

teen U,

u vyande misbruik u Naam.

21 Moet ek hulle nie haat

wat vir U haat nie, Here?

Moet ek nie ’n afkeer hê

van dié wat teen U

in opstand kom nie?

22 Ja, ek haat hulle

met ’n volkome haat,

want u vyande

is my vyande.

23 Deursoek my, o God,

en ken my hart;

toets my en ken my onrustige gemoed.

24 Kyk of daar enige sondige neiging

by my is,

en lei my op die ewige pad.

PSALMS 140

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

2 Red my van bose mense, Here,

beskerm my van gewelddadiges

3 wat in hulle harte

boosheid beplan

en die hele dag

vyandskap aanhits.

4 Hulle tonge is giftig

soos ’n slang;

hulle woorde venynig

soos adders.

Sela

5 Here, hou my uit die hande

van goddeloses.

Bewaar my

van gewelddadige mense

wat saamspan

om my te laat val.

6 Trotsaards het vir my

’n strik gestel;

’n net van toue

het hulle gespan,

en op die pad

vir my wippe gestel.

Sela

7 Ek het vir die Here gesê:

U is my God!

Luister tog, Here,

na my gebed om genade!

8 Oppermagtige Here,

my sterke redder,

U bewaar my

op die dag van die veldslag.

9 Here, moenie toegee

aan begeertes

van bose mense nie.

Moenie toelaat dat hulle planne

suksesvol is nie.

Sela

10 Mag die leiers

wat my omsingel,

oorspoel word met die boosheid

waarvan hulle praat.

11 Laat gloeiende kole

op hulle val,

laat vuur op hulle val.

Uit modderputte

sal hulle nie kan kom nie.

12 Moenie toelaat dat lasteraars

hulle in ons land vestig nie.

Laat mense van geweld

keer op keer

met rampe getref word.

13 Maar ek weet

die Here behartig die regsaak

van die hulpeloses

en die regte van die armes.

14 Die regverdiges

sal u Naam prys,

en in u teenwoordigheid

sal die opregtes lewe.