Alef
1 Geseënd is hulle
wat opreg lewe,
wat leef volgens die gebooie
van die Here.
2 Geseënd is hulle
wat sy waarskuwings
gehoorsaam,
Hom met volle oorgawe dien,
3 nie onreg pleeg nie
en op sy paaie wandel.
4 U het ons opdrag gegee
om u bevele noukeurig
te onderhou.
5 Mag my optrede voortdurend
weerspieël dat ek
u voorskrifte wil nakom.
6 Dan sal ek nie tot skande kom
as ek maar net my oë
op al u gebooie hou nie.
7 Wanneer ek
u regverdige bepalings
bestudeer,
wil ek U dank
met ’n opregte hart.
8 U voorskrifte sal ek nakom;
moet my net nie verlaat nie!
Bet
9 Hoe kan ’n jongmens
’n skoon lewe lei?
Deur sy lewe in te rig
volgens u woord.
10 Met my hele hart soek ek U;
moenie dat ek afdwaal
van u gebooie nie.
11 Ek het u woord
in my hart gebêre
sodat ek nie teen U
sou sondig nie.
12 Geseënd is U, o Here;
leer my u voorskrifte.
13 Die bepalings van u mond
het ek met my lippe
bekendgemaak.
14 In u voorwaardes
het ek my verlustig
soos ’n mens bly is oor rykdom.
15 Ek wil oor u bevele nadink
en let op u weë.
16 Ek sal my verbly
in u voorskrifte
en u woord
nie vergeet nie.
Gimel
17 Wees goed vir u dienaar
sodat ek mag lewe
en u woord gehoorsaam.
18 Maak oop my oë
sodat ek die wonders
kan sien
wat opgeskryf is in u gebooie.
19 Al is ek net ’n vreemdeling
op aarde,
moenie u gebooie
van my weghou nie.
20 Ek word voortdurend verteer
deur ’n begeerte
na u bepalings.
21 U bestraf trotsaards
en vervloektes
wat afdwaal van u gebooie.
22 Weer smaad en belediging
van my,
want ek gehoorsaam
u waarskuwings.
23 Al sit en praat heersers saam
teen my,
sal ek u voorskrifte oordink.
24 U waarskuwings
is beslis my vreugde;
dit gee my goeie raad.
Dalet
25 Ek lê in die stof,
op pad na die graf;
laat my herlewe
volgens u woord.
26 My optrede
het ek bekendgemaak,
en U het geantwoord.
Leer my nou u voorskrifte.
27 Leer my verstaan
die betekenis van u bevele,
sodat ek u wonders
kan oordink.
28 Ek huil van droefheid;
versterk my
soos U in u woord beloof.
29 Bewaar my
van leuenagtige weë;
leer my in genade
u gebooie.
30 Ek het die betroubare pad
gekies;
ek lewe volgens u bepalings.
31 Ek hou vas aan u voorwaardes,
Here.
Moenie dat ek
in skande kom nie!
32 Ek sal die pad van u gebooie
navolg,
want U sal my begrip verbreed.
He
33 Leer my, Here,
hoe om u voorskrifte
uit te voer
sodat ek hulle
tot die einde toe kan nakom.
34 Gee vir my insig
dat ek kan leef
volgens u gebooie,
en dit van harte gehoorsaam.
35 Laat my wandel
volgens u gebooie,
want dis waarin ek vreugde vind.
36 Laat my verlang
na wat U vereis;
verhoed dat ek
materialisties word.
37 Weerhou my
van waardelose dinge;
laat my lewe
volgens u voorskrifte.
38 Bevestig opnuut aan my
u belofte,
wat bedoel is vir hulle
wat U dien.
39 Neem weg die smaad
wat ek vrees,
want u bepalings is goed.
40 Ek verlang van harte
na u bevele.
Laat my lewe
deur u geregtigheid.
Waw
41 Here, laat u troue liefde
my oordek,
die redding
wat U my belowe het.
42 Dan kan ek my spotters
antwoord,
want ek vertrou op u woord.
43 Laat ek tog
altyd die waarheid praat,
want ek hoop
op u geregtigheid.
44 Ek sal u gebooie gehoorsaam
so lank as wat ek lewe.
45 Ek sal in vryheid kan lewe,
want ek soek u bevele.
46 Voor konings sal ek praat
oor u verordeninge,
sonder om skaam te wees.
47 Ek verlustig my in u gebooie
wat ek baie liefhet.
48 Met eerbied
lig ek my hande op
vir u gebooie wat ek liefhet.
Ek dink na oor u voorskrifte.
Sajin
49 Onthou die beloftes
aan u dienaar,
want U het my laat hoop.
50 U belofte laat my weer lewe,
dit vertroos my
in al my ellende.
51 Die hoogmoediges
minag my op groot skaal;
tog wyk ek nie af
van u gebooie nie.
52 Ek onthou u bepalings
van ouds;
dit vertroos my, Here.
53 Ek is baie ontsteld
oor die goddeloses,
hulle wat u gebooie verwerp.
54 U voorskrifte is vir my ’n lied
tydens my aardse
vreemdelingskap.
55 In die nag dink ek aan U,
Here,
en sal u gebooie gehoorsaam.
56 Dit is soos ek gedoen het,
want ek het u bepalings
gehoorsaam.
Get
57 Here, ek behoort aan U!
Ek sê ek wil u woord
gehoorsaam.
58 Met my hele hart soek ek U.
Wees genadig
soos U beloof het.
59 Ek het my lewenspad oordink
en het teruggedraai
om volgens u voorwaardes
te lewe.
60 Ek wil gou maak
en sonder versuim
u gebooie gehoorsaam.
61 Bande van bose mense
verstrik my,
maar ek vergeet nie u gebooie nie.
62 Middernag staan ek op
om U te dank
vir u regverdige bepalings.
63 Ek is ’n vriend vir almal
wat U dien,
vir elkeen wat u bevele
gehoorsaam.
64 Here, die aarde is vol
van u trou;
leer my tog u voorskrifte.
Tet
65 U het aan my goedgedoen,
Here,
net soos U belowe het.
66 Leer my goeie oordeel
en kennis,
want ek vertrou op u gebooie.
67 Voor ek gely het,
het ek telkens afgedwaal,
maar nou leef ek
volgens u woord.
68 U is goed en doen net
wat goed is;
leer my u voorskrifte.
69 Verwaande mense
het leuens oor my verkondig,
maar ek sal u bevele
met my hele hart uitleef.
70 Hulle harte is afgestomp
en koud,
maar ek verlustig my
in u gebooie.
71 Die lyding was goed vir my,
want toe het ek u voorskrifte geleer.
72 Die gebooie uit u mond
is vir my meer waardevol
as baie goud en silwer.
Jod
73 U hande
het my gemaak, my gevorm.
Gee my tog insig
om u gebooie te verstaan.
74 U dienaars sal my sien
en bly wees,
want op u woord hoop ek.
75 Ek weet, Here,
u bepalings is reg;
op grond van u trou bestraf U my.
76 Laat u troue liefde
my nou vertroos
soos U aan u dienaar beloof het.
77 Laat u medelye my oordek
sodat ek kan lewe,
want u gebooie
is my vreugde.
78 Laat die verwaandes
in skande kom
omdat hulle my vals beskuldig;
maar ek sal u bevele oordink.
79 Laat u dienaars terugkom
na my toe,
hulle wat u voorskrifte ken.
80 Mag ek onberispelik wees
in die uitleef van u gebooie;
dan hoef ek nooit
beskaam te wees nie.
Kaf
81 Ek verlang na u redding;
ek vertrou op u woord.
82 Ek ooreis my oë om te sien
wanneer u beloftes
waar word, en vra:
“Wanneer sal U my vertroos?”
83 Ek het verskrompel
soos ’n wynsak in rook,
maar ek vergeet nie
u voorskrifte nie.
84 Hoe lank moet u dienaar wag?
Wanneer straf U
my agtervolgers?
85 Hierdie verwaande mense
wat nie leef
volgens u gebooie nie,
het vir my vanggate gegrawe.
86 Al u gebooie is betroubaar.
Help my,
want hulle vervolg
my sonder rede.
87 Hulle het my byna
van die aarde af laat verdwyn,
maar ek het geweier
om af te sien van u bevele.
88 Op grond van u troue liefde,
spaar tog my lewe
sodat ek kan voortgaan
om u waarskuwings
te gehoorsaam.
Lamed
89 U woord, Here, is vir altyd,
dit staan vas in die hemel.
90 U trou is vir geslag na geslag,
U het die aarde gevestig,
en dit staan nog vas.
91 U bepalings
is vandag nog waar,
want al hierdie dinge is u dienaars.
92 As u gebooie
nie vir my vreugde was nie,
sou ek gesterf het
van ellende.
93 Ek sal u bevele
nooit vergeet nie,
want daardeur
gee U my die lewe.
94 Ek behoort aan U;
red my tog!
Want ek vra na u bevele.
95 Bose mense wag my in
om my dood te maak,
maar ek neem u waarskuwings
in ag.
96 Selfs volmaaktheid
het sy perke,
maar u gebooie
ken geen grense nie.
Mem
97 Hoe lief het ek u gebooie!
Ek oordink dit die hele dag.
98 U gebooie gee my meer insig
as wat my vyande het,
want dit is gedurig by my.
99 Ek het meer insig
as my leermeesters,
want ek oordink
u waarskuwings.
100 Ek het meer begrip
as ouer mense,
want ek lewe volgens u bevele.
101 Verkeerde paaie het ek vermy,
sodat ek u woord
kan gehoorsaam.
102 Ek het nie afgewyk
van u bepalings nie,
want U het my dit geleer.
103 Hoe aangenaam is u woorde
vir my;
dis soeter as heuning
in my mond.
104 Deur u bevele kry ek insig;
daarom haat ek
elke valse pad.
Nun
105 U woord is ’n lamp
vir my voete
en ’n lig op my pad.
106 Ek het reeds belowe,
en ek bevestig:
u regverdige bepalings
sal ek gehoorsaam.
107 Ek het baie swaargekry,
Here.
Vernuwe my lewe
volgens u woord.
108 Here, aanvaar die offers
van my mond,
en leer my u bepalings.
109 My lewe
is gedurig in die weegskaal,
maar u gebooie
sal ek nie vergeet nie.
110 Die goddeloses
stel vir my ’n strik;
tog sal ek van u bevele
nie afdwaal nie.
111 U verbondsbepalings is my erfdeel
vir altyd;
dit is die vreugde van my hart.
112 Ek wil leef
volgens u voorskrifte,
vir altyd, tot die einde toe.
Samek
113 Ek haat besluitelose mense,
maar u gebooie het ek lief.
114 U is my toevlug
en beskermer;
ek vertrou op u woord.
115 Gaan weg van my,
kwaaddoeners,
want ek gehoorsaam
die gebooie van my God.
116 Hou my staande
soos U beloof het
sodat ek kan lewe.
Laat my nie beskaam wees
in my hoop nie.
117 Ondersteun my
en ek sal gered word;
ek sal u voorskrifte
altyd eerbiedig.
118 U verwerp almal
wat van u voorskrifte afwyk.
Hulle ontrou lei tot selfbedrog.
119 Al die bose mense
van die aarde
is soos skuim wat U afskep;
daarom het ek u waarskuwings
lief.
120 Ek bewe van vrees vir U;
ek vrees u oordeel.
Ajin
121 Moenie my oorlaat
aan die genade
van my vyande nie,
ek het gedoen wat reg
en regverdig is.
122 Beloof tog
dat dit goed sal gaan
met u dienaar.
Moenie dat verwaande mense
my verdruk nie.
123 Ek ooreis my oë
om u redding te sien
en u woord van geregtigheid.
124 Behandel u dienaar
volgens u troue liefde,
en leer my u voorskrifte.
125 Ek is u dienaar;
gee my die vermoë
om te onderskei
sodat ek u voorwaardes
kan verstaan.
126 Dis tyd dat U optree, Here,
want hulle het u gebooie
oortree.
127 Daarom is ek lief
vir u opdragte,
meer as goud,
selfs die fynste goud.
128 Omdat elkeen van u bevele
reg is,
haat ek elke verkeerde pad.
Pe
129 U voorwaardes is wonderlik;
daarom gehoorsaam ek hulle.
130 Begrip van u woord bring lig;
dit gee insig
aan die eenvoudige.
131 My mond is oop
en ek snak na asem,
want ek verlang
na u gebooie.
132 Kyk tog na my in u genade,
soos U doen vir almal
wat u Naam liefhet.
133 Rig my treë
deur u woord
sodat boosheid
my nie oorval nie.
134 Red my
van menslike verdrukking
sodat ek u bevele
kan gehoorsaam.
135 Laat u guns
oor u dienaar skyn;
leer my al u voorskrifte.
136 Trane vloei in strome
oor my wange
omdat mense u gebooie minag.
Sade
137 Here, U is regverdig,
en u oordele is reg.
138 U vereistes is regverdig;
dit is baie betroubaar.
139 My ontsteltenis oorweldig my,
want my vyande
verontagsaam u woorde.
140 U beloftes is deeglik beproef;
u dienaar het dit lief.
141 Al is ek gering en verag,
ek misken nie u bevele nie.
142 U regverdigheid
duur vir altyd,
en u gebooie is betroubaar.
143 Angs en benoudheid
sak op my toe,
maar u gebooie is my vreugde.
144 U vereistes is altyd regverdig;
gee my insig
sodat ek kan lewe.
Kof
145 Ek roep tot U
met my hele hart;
antwoord my tog, Here!
U voorskrifte
sal ek gehoorsaam.
146 Ek roep na U:
Red my,
en ek sal u vereistes
gehoorsaam.
147 Voor dagbreek
roep ek om hulp,
en plaas my hoop op u woord.
148 Die hele nag lê ek wakker
om u woord te oordink.
149 Luister na my roepstem,
Here,
op grond van u troue liefde.
Laat my lewe
op grond van u regverdigheid.
150 Sluwe vervolgers
kom al nader,
maar lewe ver van u gebooie af.
151 Maar U is naby, Here,
en al u gebooie is betroubaar.
152 Van lankal af het ek geweet
dat u eise nooit verander nie.
Res
153 Kyk tog na my lyding en red my;
u gebooie
het ek tog nie vergeet nie.
154 Behartig tog my saak
en bevry my!
Laat ek lewe soos U beloof het.
155 Bose mense
is ver van redding,
want hulle steur hulle nie
aan u voorskrifte nie.
156 Groot is u barmhartigheid,
Here!
Hou my lewe in stand
volgens u bepalings.
157 My vervolgers en vyande
is talryk;
tog wyk ek nie af van u eise nie.
158 Ek kyk met afkeer
na die ontroues,
want hulle misken u woord.
159 Sien raak dat ek u bevele liefhet,
Here.
Laat my lewe
op grond van u liefde.
160 Alles wat U sê, is betroubaar;
u regverdige bepalings is vir altyd.
Sin
161 Heersers vervolg my
sonder oorsaak,
maar al wat ek vrees,
is u woord.
162 Ek verheug my
in u woord
soos iemand
wat ’n groot skat ontdek.
163 Alle valsheid haat
en verafsku ek,
maar u gebooie het ek lief.
164 Ek loof U sewe keer per dag
omdat al u bepalings
regverdig is.
165 Hulle wat u gebooie liefhet,
het groot sekuriteit
en niks sal hulle laat struikel nie.
166 Ek sien uit na u redding,
Here;
daarom voer ek u gebooie uit.
167 Ek het u eise gehoorsaam,
en het dit baie lief.
168 Ek gehoorsaam u bevele
en eise,
want U weet van alles
wat ek doen.
Taw
169 Here, luister na my geroep;
gee vir my insig
soos U beloof het.
170 Luister tog
na my smeekgebed;
red my soos U beloof het.
171 Laat my lippe uitbreek
met lof,
want U het my
u voorskrifte geleer.
172 Laat my tong sing
oor u woord,
want u bepalings is regverdig.
173 Mag U gereed wees
om my te help,
want u bevele
het ek eerste gestel.
174 Here, ek het verlang
na u redding,
en u gebooie is my vreugde.
175 Laat my lewe
sodat ek U kan prys,
en mag u bepalings
my ondersteun.
176 Soos ’n verlore skaap
het ek gedwaal;
kom en soek my tog,
want u gebooie
het ek nie vergeet nie.