PSALMS 91

Op God kan ek vertrou

1 Hy wat woon in die skuilplek

van die Allerhoogste,

sal rus in die skadu

van die Almagtige.

2 Ek sal vir die Here sê:

“U is my toevlug

en my vesting,

my God op wie ek vertrou.”

3 Verseker sal Hy jou red

uit die strik

van die voëlvanger,

en van die plaag

wat vernietig.

4 Hy sal jou oordek met sy vlerke,

en onder sy vleuels

sal jy skuil;

sy trou sal jou beskerm

soos ’n skild.

5 Jy sal nie bang wees

vir die skrik van die nag,

of die pyle van die dag;

6 vir die plaag

wat in die donker kom,

of die ramp

wat teen die middag

verwoes nie.

7 Al sou duisend langs jou val,

of tienduisend om jou sterf,

naby jou sal dit nie kom nie.

8 Net met jou oë

sal jy dit aanskou,

en die straf van die goddelose

sien.

9 As die Here jou toevlug is,

as die Allerhoogste

jou skuilplek is,

10 sal geen kwaad jou tref,

en geen ramp

naby jou tent kom nie.

11 Want Hy sal sy engele beveel

om jou te beskerm

oral waar jy gaan.

12 Hulle sal jou op die hande dra

sodat jy nie jou voet

teen ’n klip stamp nie.

13 Op die leeu en die adder

sal jy trap,

die jong leeu

en die slang vertrap.

14 “Omdat hy My liefhet,

sal Ek hom verlos;

omdat hy my Naam ken,

sal Ek hom beskerm.

15 Hy sal roep,

en Ek sal antwoord;

in nood sal Ek by hom wees.

Ek sal hom red

en in eer herstel.

16 Ek sal hom ’n lang lewe gee,

en hy sal my verlossing sien.”

PSALMS 92

God maak my sterk

1 ’n Psalm. ’n Lied vir die Sabbatdag.

2 Dit is goed

om die Here te dank,

om u Naam te loof,

Allerhoogste;

3 om soggens u goedheid

aan te kondig,

en in die aand u getrouheid,

4 met snaarinstrumente,

met die harp en die begeleiding

met die lier.

5 U groot dade maak my bly,

Here!

Ek juig oor u handewerk.

6 Hoe groot is u werke, Here!

Hoe diep is u gedagtes!

7 Net ’n onkundige

sal dit nie weet nie!

Net ’n dwaas

sal dit nie verstaan nie!

8 Die goddeloses floreer

soos onkruid,

en boosdoeners woeker

met sukses;

tog sal hulle vir goed

vernietig word.

9 Maar U is hoog verhewe.

U, Here, bestaan vir ewig.

10 Maar u vyande, Here,

u vyande sal sekerlik vergaan.

Alle boosdoeners

sal verstrooi word.

11 U maak my sterk

soos ’n buffel.

U salf my met vars olie.

12 Ek sal die einde

van my vyande sien.

Ek sal hoor sonder om te vrees

wanneer boosdoeners

teen my opstaan.

13 Maar regverdiges sal blom

soos ’n palmboom,

en welig groei

soos ’n seder van die Libanon.

14 Geplant in die Here se huis,

groei hulle weelderig

in die voorhowe van ons God.

15 Al is hulle oud,

sal hulle steeds vrugte dra;

hulle is vars en lewenskragtig.

16 Hulle sal sê:

“Die Here is regverdig.

Hy is my rots.

By Hom is daar geen onreg nie.”

PSALMS 93

Die mag van die Here is bo

alles

1 Die Here is Koning!

Hy is met majesteit beklee.

Inderdaad,

die Here beklee Homself;

Hy omgord Homself

met krag.

Die wêreld is stewig gevestig;

dit kan nie wankel nie.

2 U troon is gevestig

van altyd af.

U bestaan

van ewigheid af.

3 Die riviere het hulle verhef,

Here.

Die riviere het hulle stem verhef.

Die riviere verhef hulle

met gedruis.

4 Maar bo die gedreun

van baie waters,

bo die geraas van die golwe

van die see,

bo alles is die mag van die Here!

5 U bepalings is onveranderlik.

Heiligheid versier u woning,

Here,

tot in lengte van dae.

PSALMS 94

Die Regter van die hele

aarde

1 God wat onreg oordeel, Here,

God van oordeel,

vertoon tog Uself!

2 Kom, Regter van die aarde!

Vergeld die hoogmoediges

volgens wat hulle verdien.

3 Hoe lank, Here,

sal die goddeloses,

hoe lank sal die goddeloses

seëvier?

4 Hulle borrel oor

met astrante woorde;

al die boosdoeners

spog daarmee.

5 Hulle vertrap u volk,

Here,

en verdruk dié

wat aan U behoort.

6 Weduwees en vreemdelinge

bring hulle om die lewe,

en weeskinders maak hulle dood.

7 Hulle sê:

“Die Here sien dit nie;

die God van Jakob

bemerk dit nie.”

8 Dink weer, julle onnoseles!

Wanneer word julle wys,

dwase?

9 Is Hy wat die ore gemaak het,

doof?

Is Hy wat die oë gevorm het,

blind?

10 Sou Hy wat die nasies straf,

dan nie straf nie?

Sou Hy wat onderrig,

aan kennis ontbreek?

11 Die Here ken mense

se gedagtes,

Hy weet dat dit niks werd is nie.

12 Geseënd is hulle

vir wie U vermaan, Here,

vir wie U uit u gebooie onderrig.

13 U gee hom verligting

in moeilike tye,

maar vir die goddelose

wag ’n graf.

14 Die Here sal sy volk

sekerlik nie verlaat nie,

en sy erfdeel

nie laat vaar nie.

15 Regspraak sal kom

vir die regverdiges

en al die opregtes

sal dit soek.

16 Wie beskerm my

teen goddeloses?

Wie staan my by

teen boosdoeners?

17 As die Here

my nie gehelp het nie,

was die stilte van die graf my lot.

18 Toe ek sê: “My voet gly!”

het u trou my ondersteun,

Here.

19 Wanneer twyfel my oorweldig,

het u troos my verbly.

20 Kan ’n bose regeerder

aan U verbind wees,

iemand wie se wette

ellende bring?

21 Hulle span saam

teen regverdiges,

veroordeel onskuldiges

tot die dood.

22 Maar die Here is my toevlug;

my God is ’n rots

waar ek kan skuil.

23 Hy sal hulle sondes vergeld,

hulle vernietig

oor hulle boosheid.

Die Here ons God

sal hulle uitwis.

PSALMS 95

Kniel voor die groot God

1 Kom, laat ons sing

tot eer van die Here!

Laat ons juig

oor die rots van ons redding!

2 Laat ons met lofsange

voor Hom kom,

Hom met lofliedere besing,

3 want die Here is ’n groot God,

die groot Koning

bo alle gode.

4 Die dieptes van die aarde

is in sy hand,

selfs die toppe van die berge

is Syne.

5 Die see is Syne;

Hy het dit gemaak.

Sy hande het die droë grond

gevorm.

6 Kom, laat ons aanbid

en neerbuig,

en kniel voor die Here

ons Maker,

7 Hy is ons God en ons is sy volk,

die skape onder sy sorg.

Ag, dat julle vandag

na Hom sal luister!

8 Moenie julle harte verhard

soos destyds by Meriba,

soos by Massa

in die woestyn nie.

9 Daar het julle voorouers

My beproef,

My getoets,

al het hulle my werke gesien.

10 40 jaar lank

het Ek ’n afkeer gehad

aan hierdie geslag,

en Ek het gesê:

“Dis ’n volk wat ontrou bly.

Hulle ken nie my paaie nie.”

11 In my toorn

het Ek ’n eed afgelê:

“Hulle sal my rusplek

nie binnegaan nie.”

PSALMS 96

Die Here is Koning en

Regter

1 Sing vir die Here ’n nuwe lied!

Sing vir die Here,

almal op aarde!

2 Sing vir die Here,

loof sy Naam!

Verkondig sy verlossing

dag na dag.

3 Vertel die nasies

van sy heerlikheid,

aan al die volke

van sy wonderdade.

4 Groot is die Here;

lof kom Hom toe!

Hý moet gedien word

bo alle gode.

5 Die gode van die volke is niks,

die Here

het die hemele gemaak!

6 Heerlikheid en majesteit

is voor Hom;

krag en glans is in sy heiligdom.

7 Erken die Here,

geslagte van die aarde,

erken die Here

vir sy heerlikheid en mag.

8 Erken die Here

vir die roem van sy Naam!

Bring offers vir Hom

en kom na sy voorhowe.

9 Aanbid die Here

in sy heilige glans.

Laat die hele aarde

voor Hom bewe.

10 Vertel aan die nasies:

“Die Here regeer!

Die wêreld staan vas

en sal nie wankel nie.”

Sy oordeel oor volke

is regverdig.

11 Laat die hemele verheug wees,

laat die aarde bly wees.

Laat die see druis

en ook alles daarin.

12 Laat die velde jubel

en alles daarop!

Laat die bome van die bos juig

13 voor die Here.

Want die Here kom!

Hy kom

om die aarde te oordeel.

Hy sal die wêreld oordeel

met regverdigheid,

en die nasies

met sy betroubaarheid.

PSALMS 97

Die grootheid van die Here

1 Die Here regeer!

Laat die aarde juig.

Laat die talle eilande bly wees.

2 Wolke en duisternis

omring Hom.

Reg en geregtigheid

is die grondslag van sy troon.

3 Vuur gaan voor Hom uit

en al sy teenstanders verbrand.

4 Sy weerligte verlig die wêreld.

Die aarde sien dit en bewe.

5 Berge smelt

soos was voor die Here,

voor die Here

van die hele wêreld.

6 Die hemele verkondig

sy geregtigheid;

elke volk sien sy heerlikheid.

7 Almal wat beelde vereer,

is tot skande gebring,

almal wat roem

op hulle nietige afgode;

want alle gode

moet voor Hom buig.

8 Sion het dit gehoor en is bly,

en die stede van Juda juig

oor u oordele, Here!

9 Want U, Here,

is hoog verhewe

bo die hele aarde;

U is verhewe

ver bo alle gode.

10 Julle wat die Here liefhet,

haat dan wat boos is!

Hy beskerm die lewe

van sy getroues,

Hy red hulle

uit die mag

van goddeloses.

11 Oor regverdiges

skyn daar lig,

en daar is blydskap vir hulle

wat opreg is.

12 Regverdiges,

wees bly in die Here,

en prys sy heilige Naam!

PSALMS 98

Sing ’n nuwe lied

’n Psalm.

1 Sing vir die Here ’n nuwe lied,

want Hy het wonders

gedoen.

Hy het verlossing bewerk

met sy krag

en Goddelike mag.

2 Die Here het sy redding

aangekondig.

Voor die oë van die nasies

het Hy sy regverdigheid

getoon.

3 Hy het sy liefde en trou

teenoor die huis van Israel

onthou.

Ons God se redding was sigbaar

tot aan die uithoeke

van die aarde.

4 Laat die hele aarde

die Here loof.

Breek uit in sang,

sing van vreugde!

5 Bring lof aan die Here

met die lier,

met lier en met sang,

6 met trompette en ramshoring.

Juig tot eer van die Here,

die Koning.

7 Die see en alles daarin

moet druis,

die wêreld en almal

wat daarin woon.

8 Die riviere

moet hande klap,

die berge

moet jubel

9 voor die Here.

Want Hy kom

om die aarde te oordeel.

Hy sal die wêreld

regverdig oordeel,

en die volke met billikheid.

PSALMS 99

Verheerlik die Here, ons

Koning

1 Die Here is koning!

Laat die nasies bewe!

Hy sit op die gerubs!

Laat die hele aarde bewe!

2 Groot is die Here in Sion,

hoog verhewe

bokant al die volke.

3 Hulle moet u Naam verheerlik;

dis groot en ontsagwekkend.

Heilig is Hy!

4 U is die magtige koning

wat die reg liefhet.

U het opregtheid gevestig,

en reg en geregtigheid

in Jakob.

5 Loof die Here ons God!

Aanbid Hom by sy voete,

want Hy is heilig!

6 Moses en Aäron

was onder sy priesters,

Samuel het sy Naam

aangeroep.

Hulle het die Here

om hulp geroep

en Hy het hulle gebed verhoor.

7 In ’n wolkkolom

het Hy gepraat,

en sy bevele en voorskrifte

wat Hy gegee het,

het hulle gehoorsaam.

8 Here ons God,

U het hulle geantwoord.

U was vir hulle ’n God

wat vergewe,

maar ook Een

wat hulle oortredings straf.

9 Loof die Here ons God!

Dien Hom

op sy heilige berg,

want die Here ons God is heilig!

PSALMS 100

blydskap

1 ’n Dankpsalm.

Almal op aarde,

juig tot eer van die Here!

2 Dien die Here met blydskap.

Kom voor Hom

en sing met vreugde.

3 Erken dat die Here God is!

Hy het ons gemaak,

en ons is Syne,

sy volk, die skape

van sy weiveld.

4 Gaan sy poorte in

met dankliedere,

sy hofsaal met lofgesange.

Dank Hom

en prys sy Naam.

5 Want die Here is goed.

Sy troue liefde hou aan

vir altyd,

sy trou is van geslag tot geslag.