Die regverdige Regter
1 Vir die koorleier: Op die wysie van
“Die dood van die seun”.
’n Dawidspsalm.
2 Here, ek sal U prys
met my hele hart.
Ek sal vertel
van al u wonderlike dade.
3 Ek sal juig in die vreugde
wat U gee.
Ek sal u Naam prys,
o Allerhoogste.
4 Wanneer my vyande omdraai
en vlug,
sal hulle voor U struikel
en vernietig word.
5 Want U het in my guns beslis;
U het op u troon as regter
regverdig geoordeel.
6 U het die nasies berispe
en die goddeloses vernietig;
U het hulle name
vir altyd uitgevee.
7 Die vyande se ondergang
het gekom;
hulle stede is puinhope vir altyd.
Niemand kan hulle meer
onthou nie.
8 Maar die Here regeer vir altyd,
sy troon het Hy
vir regspraak ingerig.
9 Hy sal die wêreld
met regverdigheid oordeel,
en in billikheid
oor die volke regspreek.
10 Die Here is ’n skuilplek
vir die onderdrukte,
’n toevlug
in tye van moeilikheid.
11 Dié wat u Naam bely,
vertrou op U,
want niemand wat U soek,
laat U in die steek nie, Here.
12 Sing lofliedere vir die Here
wat op Sion woon,
vertel van sy dade
onder die volke.
13 Want Hy
wat bloedvergieting wreek,
gee om vir hulpelose mense.
Hulle wat tot Hom roep in nood,
dié vergeet Hy nie.
14 Here, wees my genadig.
Kyk na die ellende
wat haters my aangedoen het!
Ruk my uit die poorte
van die dood
15 sodat ek u dade
bekend kan maak,
U kan prys
in die poorte van Sion,
en kan jubel
omdat U my gered het.
16 Die nasies het geval
in die gat wat hulle gegrawe het.
Hulle voete
is in hulle eie net gevang.
17 Die Here is bekend
vir sy regverdige oordeel.
Die goddeloses is gevang
met hulle eie handewerk.
Higgajon Sela
18 Die goddeloses
is op pad na die graf
soos al die nasies
wat God vergeet.
19 Want die behoeftiges
word nie vir altyd vergeet nie,
en die hoop van die armes
sal nie vir altyd
vernietig word nie.
20 Staan tog op, Here!
Moenie dat mense U teëstaan nie!
Laat die nasies
voor U teregstaan.
21 Here, laat hulle bewe van angs
en besef
hulle is maar net mense.
Sela