PREDIKER 11

Vrygewigheid en fluksheid

1 Gooi jou brood op die water,

want na ’n lang tyd

kry jy dit terug.

2 Sit jou besittings

op sewe of agt plekke.

Jy weet immers nie

watter rampe

die land kan tref nie.

3 As wolke vol water is,

val daar reën op die aarde.

Of ’n boom nou suid val

of noord,

dit bly lê waar dit geval het.

4 As jy heeldag na die wind kyk,

sal jy nooit saai nie.

En as jy na die wolke kyk,

sal jy nooit oes nie.

5 Net so min as wat jy

die pad van die wind ken,

of weet hoe die liggaam lyk

in die skoot

van ’n swanger vrou,

net so min verstaan jy

die werk van God

wat vir alles verantwoordelik is.

6 Saai jou saad vroegoggend,

maar moenie ophou

as dit aand word nie.

Jy weet nie watter een

suksesvol sal wees,

en of al twee saam

’n goeie oes sal lewer nie.

Raad vir oud en jonk

7 Lig is soet,

en dis goed vir die oë

om die son te sien.

8 Ongeag hoe lank jy lewe,

geniet elke oomblik daarvan.

Maar onthou die donker dae,

want hulle sal baie wees.

Tog is alles wat kom, sinloos.

9 Jong man, geniet jou lewe

terwyl jy jonk is,

vind vreugde in jou jeug

en wat jy ook al sien.

Doen wat jy graag wil doen,

maar onthou net:

God sal van jou

rekenskap eis.

10 Vermy bekommernis,

dit sal jou liggaam

gesond hou.

Ook die jeug en jonkheid

is sinloos.

PREDIKER 12

1 Onthou jou Skepper

terwyl jy jonk is,

later kom daar moeilike tye

waarvan jy sal sê:

“Ek geniet dit nie.”

2 Dan sal die son, die daglig,

die maan en die sterre

donker word,

die tyd wanneer dit weer bewolk word

ná die reën.

3 Dit is die tyd wanneer die wagters

van die huis sal bewe,

die sterk manne waggel

en die malers ophou maal

omdat hulle min geword het,

die tyd wanneer dit donker word

vir dié wat deur die vensters kyk,

4 wanneer die deure na die straat toe

toegemaak word,

die geluid van die meul dof word,

die tyd wanneer ’n mens opstaan

as die voëls begin sing

al hoor hy geen lied meer nie.

5 Dit is die tyd wanneer hy bang is

vir ’n hoogte

en vir alles op die pad skrik,

die tyd wanneer die amandelboom

in bloei staan,

die sprinkaan homself

moeisaam voortsleep.

Dis die tyd

wanneer ’n mens se begeertes

nie meer opgewek kan word nie.

Dis die tyd

wanneer die mens

na sy ewige woning gaan,

en dié wat treur

op die straat rondgaan.

6 Dis die tyd

wanneer die silwer draad

van jou lewe

afgebreek word

en die goue kruik versplinter,

die kruik by die fontein

stukkend breek

en die wiel by die put

stukkend val.

7 Dan sal die stof teruggaan

na die aarde toe

soos dit was

en die gees terugkeer na God

wat dit gegee het.

8 “Alles is sinloos,”

sê die Prediker,

“alles is absoluut sinloos.”

Laaste opmerkings

9 Die Prediker was nie net

baie wys nie,

maar het ook kennis

aan die volk gegee.

Hy het nagedink, nagevors

en spreuke gemaak.

10 Die Prediker het

die regte woorde probeer kies,

en die waarheid

getrou neergeskryf.

11 Die woorde van wyse mense

is soos skerp stokke,

versamelde spreuke

soos spykers wat ingeslaan is.

Dit is deur een Herder gegee.

12 Wees verder versigtig, my kind:

Aan die skryf van baie boeke

kom daar geen einde nie.

En deur baie te studeer,

ooreis jy jou liggaam.

13 Na alles wat jy gehoor het,

is dit die finale slotsom:

Wees eerbiedig teenoor God

en gehoorsaam sy gebooie.

Dit word van alle mense gevra.

14 Want God gaan elke daad

beoordeel,

ook wat jy in die geheim

gedoen het,

of dit goed is of kwaad.