PREDIKER 1

1 Wat hier volg, is die woorde van die Prediker. Hy was ’n seun van Dawid en het in Jerusalem as koning regeer.

Alles is sinloos

2 “Alles is sinloos,”

sê die Prediker.

“Alles is sinloos,

absoluut sinloos!”

3 Watter voordeel kry mense

vir al hulle harde werk,

hulle inspanning onder die son?

4 Die een geslag

volg op die ander,

maar die aarde verander nooit nie.

5 Die son kom op en

gaan weer onder;

hy haas hom terug

na waar hy opkom.

6 Die wind waai na die suide

en draai na die noorde.

Dit dwarrel om en om,

en gaan weer

in sy sirkelgang.

7 Die riviere vloei in die see,

maar die see word nooit vol nie.

Die water gaan weer terug

na die riviere toe,

en keer terug na die see.

8 Al die dinge

maak ’n mens moeg,

’n mens kan dit

nie eers opnoem nie,

die oog word nie versadig

van wat hy sien nie,

die oor word nie vol

van wat hy hoor nie.

9 Niks wat gebeur, is nuut nie.

Wat gedoen is,

sal weer gedoen word.

Daar is niks nuuts

onder die son nie.

10 Na wat kan jy wys en sê:

“Dit is nuut”?

Nee, dit was lankal daar,

lank voor ons tyd!

11 Dinge van voorheen

word nie onthou nie.

In die toekoms

sal die geslagte wat kom nie onthou

wat nou gebeur nie.

Wysheid is nutteloos

12 Ek, die Prediker,

was koning oor Israel

in Jerusalem.

13 Ek het my daarop toegespits

om alles wat onder die son

gedoen word, te verstaan

en met wysheid te deurdink.

Ek het gevind

dis ’n moeilike taak

wat God vir die mens gegee het

om hom daarmee besig te hou.

14 Ek het al die dade gesien

wat onder die son

gedoen word,

en kyk, alles was sinloos,

’n gejaag na wind!

15 Wat krom is,

kan nie reguit gemaak word nie.

Wat weg is,

kan nie getel word nie.

16 Ek het vir myself gesê:

“Ek is verstandiger

as al die konings

wat voor my

oor Jerusalem regeer het.

Ek het meer insig en kennis

as enigeen van hulle verkry.”

17 Ek het my daarop toegespits

om kennis en insig

van domheid en dwaasheid

te onderskei.

Maar ek het besef: Ook dít

is net ’n gejaag na wind.

18 Want hoe groter jou insig is,

hoe meer verdriet het jy.

Soos kennis vermeerder,

so word jou smart meer.

PREDIKER 2

1 Ek het vir myself gesê:

“Kom ek beproef plesier,

en geniet die lewe!”

Maar ook dit was sinloos!

2 Ek het gesê: “Om te lag is dwaasheid,

en watter vreugde bring dit?”

3 Ek het gewonder wat sal gebeur

as ek my liggaam

met wyn verkwik,

terwyl my verstand

my met wysheid begelei,

as ek dwaasheid vir ’n tyd omarm

tot ek vasgestel het

wat die beste is

waarmee ’n mens

hom sy lewe lank

onder die hemel besig kan hou.

4 Ek het toe ook groot projekte

aangepak.

Ek het huise vir myself gebou

en groot wingerde

vir myself aangelê.

5 Ek het vir myself

tuine en parke uitgelê

en verskillende vrugtebome

daarin geplant.

6 Ek het damme vir myself gebou

om die tuine vol jong bome

nat te lei.

7 Ek het slawe en slavinne

aangekoop.

Ander is as slawe

in my huis gebore.

Ek het groot troppe beeste

en kleinvee besit,

meer as enigeen wat voor my

in Jerusalem geleef het.

8 Ek het baie silwer en goud

vir myself bymekaargemaak,

asook ’n skat van konings

en provinsies.

Ek het sangers en sangeresse

aangestel,

en die dinge bekom waarmee mense

die lewe geniet,

naamlik een meisie na die ander.

9 Ek het ver uitgestyg

bo almal voor my

in Jerusalem,

en my wysheid

het my baie gehelp.

10 Alles wat my oë begeer het,

het ek my nie ontsê nie.

Ek het my nie teruggehou

van enige plesier nie.

Ek het genot gevind

in my harde werk.

Dit was my beloning

vir al my inspanning.

11 Ek het daarna egter nagedink

oor alles wat ek bereik het,

oor al die moeite

wat ek gedoen het.

Ek het besef

hoe sinloos dit alles is.

Dis niks anders as ’n gejaag

na wind nie.

Daar is geen voordeel

onder die son nie.

Die wyses en dwases

12 Ek het toe besluit

om wysheid en dwaasheid

teen mekaar op te weeg.

Wat anders kan ’n koning

se opvolger bereik

as wat reeds bereik is?

13 Ek het wel gesien

dat wysheid meer waarde het

as dwaasheid,

net soos lig beter is as donkerte.

14 Want wyse mense

kan sien waar hulle gaan,

terwyl die dwaas

in die donker loop.

Maar tog het ek besef

dieselfde lot tref sowel wyses

as dwase.

15 “As my lot dieselfde is

as dié van dwase,

wat is die sin om wys te wees?”

het ek my afgevra.

Ek het besef

dit is ook alles sinloos.

16 Want die wyse mens

en die dwaas

gaan albei dood,

en niemand onthou hulle nie.

In die toekoms

word albei vergeet!

Harde werk is sinloos

17 Ek was nie meer lus

om te lewe nie,

want wat onder die son

gedoen word,

het my teleurgestel.

Alles is sinloos

en ’n blote gejaag na wind.

18 Ek was moeg vir alles

waarvoor ek in hierdie wêreld

hard gewerk het,

want ek moet dit alles nalaat

aan die een wat ná my kom.

19 En wie sal weet of hy ’n wyse

of dwaas gaan wees?

En tog sal hy beheer uitoefen

oor alles

wat ek met moeite en wysheid

onder die son

tot stand gebring het.

Dit alles is dus sinloos!

20 Ek het dus opgehou

om myself tot wanhoop te dryf

oor alles waarmee ek

met soveel moeite onder die son

my besig gehou het.

21 Want ’n mens

wat met wysheid

en bekwaamheid

gewerk het,

moet sy besittings

oorgee aan iemand

wat nie daarvoor gewerk het nie.

Dis alles sinloos en vrugteloos!

22 Wat kry die mens

vir al sy harde werk

waarmee hy hom

met soveel ywer

onder die son vermoei?

23 Sy hele lewe is vol

pyn en leed.

En alles wat hy onderneem,

is verdriet.

Selfs in die nag

kry hy nie rus nie.

Ook dit is alles sinloos.

24 Daar is vir die mens niks goeds

behalwe dat hy kan eet

en drink

en ten spyte van sy arbeid

nog die goeie kan geniet nie.

Ek het besef dit is ’n gawe

wat uit God se hand kom.

25 Want wie kan sonder Hom

enigiets eet of geniet?

26 God gee wysheid,

kennis en blydskap

vir die mens wat Hom vreugde bring.

Maar van die dwaas eis Hy

om rykdom op te gaar

en bymekaar te maak,

net om dit te gee aan iemand

met wie God tevrede is.

Dit is ook sinloos,

’n blote gejaag na wind!

PREDIKER 3

’n Tyd vir alles

1 Daar is ’n vaste tyd vir alles,

elke ding onder die son

het sy tyd:

2 ’n Tyd om gebore te word

en ’n tyd om te sterf.

’n Tyd om te plant

en ’n tyd om uit te ruk

wat geplant is.

3 ’n Tyd om dood te maak

en ’n tyd om gesond te maak.

’n Tyd om af te breek

en ’n tyd om op te bou.

4 ’n Tyd om te huil

en ’n tyd om te lag.

’n Tyd om te treur

en ’n tyd

om van vreugde te dans.

5 ’n Tyd om jou saad te saai

en ’n tyd

om jou saad terug te hou.

’n Tyd om te omhels

en ’n tyd om weg te bly

van omhelsing.

6 ’n Tyd om te soek

en ’n tyd om te verloor.

’n Tyd om op te pas

en ’n tyd om weg te gooi.

7 ’n Tyd om te skeur

en ’n tyd om vas te werk.

’n Tyd om stil te bly

en ’n tyd om te praat.

8 ’n Tyd om lief te hê

en ’n tyd om te haat.

’n Tyd vir oorlog

en ’n tyd vir vrede.

9 Watter voordeel is daar

vir die een wat iets doen

wat hom vermoei?

10 Ek het nagedink oor die taak

waarmee God die mens belas.

11 Hy het alles mooi gemaak,

Hy het aan die mens

’n visie gegee

van die ewigheid.

Tog kan mense nie

die volle omvang

van God se werk,

van begin tot end,

verstaan nie.

12 Ek het besef daar is vir mense

niks beter nie

as om vrolik te wees

en tydens sy lewe

die goeie te geniet.

13 Mense moet eet en drink

en onder al hul moeite

nog die goeie kan geniet.

Dit is geskenke van God.

14 Ek weet alles wat God doen,

is vir ewig.

Niemand kan daar iets byvoeg

of daar iets van wegneem nie.

God doen dit sodat die mens

Hom sal eer.

15 Wat is, was reeds.

Wat nog sal wees,

was ook alreeds,

God soek dít op

wat alreeds verby is.

Die lewe is onregverdig

16 Ek het nog iets

onder die son opgemerk:

In die plek waar reg moet wees,

was daar onreg.

In die plek waar daar

geregtigheid moes wees,

was daar boosheid.

17 Toe het ek by myself gedink:

“God spreek reg

oor die regverdige en goddelose,

want daar is ’n tyd vir elke saak,

ook vir alles

wat gedoen word.”

Almal is van stof

18 Ek het besef

God laat mense toe

om in hulle boosheid

te volhard,

want Hy toets hulle.

So kan hulle insien

dat hulle niks beter is

as diere nie.

19 Die mens se lot

is dieselfde

as die dier s’n.

Die een gaan dood,

nes die ander.

Hulle deel dieselfde asem.

Die mens het geen voordeel

bo diere nie,

want alles is sinloos.

20 Almal gaan na dieselfde plek.

Hulle kom uit die stof

en hulle word weer stof.

21 Wie weet of die asem

van die mens

boontoe gaan

en diere se asem

afgaan na die aarde toe?

22 Ja, ek het agtergekom dat daar

niks beter is nie

as dat mense gelukkig is

in hulle werk.

Dit kom die mens toe.

Wie kan hom laat weet

wat ná hom sal gebeur?

PREDIKER 4

Is die lewe die moeite werd?

1 Ek het weer al die verdrukking

gesien

wat onder die son gedoen word.

Die verdruktes huil,

maar niemand vertroos hulle nie.

Ja, daar is niemand wat help nie,

en hulle verdrukkers

was baie sterk.

2 Daarom het ek gedink

mense wat reeds dood is,

is gelukkiger as dié wat nog lewe.

3 Die gelukkigste van almal

is mense wat nog nie

gebore is

en nie die onreg gesien het

wat onder die son

gedoen word nie.

4 Ek het toe opgemerk

dat die meeste mense

se moeitevolle arbeid

gemotiveer word

deur afguns

op ander mense.

En dis ook alles sinloos,

’n blote gejaag na wind.

5 Dwase is te lui om te werk

en gaan dood van die honger.

6 Tog is ’n hand vol met rus

beter as twee hande

vol met moeite

en ’n gejaag na wind.

7 Ek het nog iets gesien

wat sinloos is onder die son:

8 Daar is iemand

wat heeltemal alleen is,

boonop sonder seun of broer.

Tog is daar geen einde

aan al sy moeite nie

en word sy oë nie versadig

met rykdom nie.

Hy moet later sê:

“Vir wat werk ek so hard

en ontsê ek my alle plesier?”

Dit alles is sinloos

en ’n slegte taak.

Twee is beter as een

9 Twee is beter as een.

Saam bereik hulle meer

in hulle werk.

10 As een mens val,

kan sy vriend hom ophelp.

Maar as een val wat alleen is,

is daar niemand om hom

op te help nie.

11 As twee langs mekaar slaap,

word hulle warm.

Maar hoe kan een wat alleen is,

warm word?

12 Iemand kan die een aanval,

maar die twee kan weerstand bied.

’n Driedubbele tou

breek nie maklik nie.

Politieke mag is sinloos

13 Dis beter

om ’n jongmens te wees

wat arm en verstandig is,

as om ’n koning te wees

wat oud en dwaas is

en van niemand

raad aanvaar nie.

14 Die jong man kom dalk

uit die tronk

en word koning,

al was hy arm gebore

in die koninkryk

van sy voorganger.

15 Maar tog het ek gesien

dat almal wat lewe onder die son

die jong man volg,

hy wat die koning se plek

ingeneem het.

16 Daar was nie ’n einde

aan al die mense

oor wie hy regeer het nie.

Tog sal die nageslag

nie met vreugde

aan hom dink nie.

Ook dit is alles sinloos,

’n blote gejaag na wind.

Om eerbied vir God te hê

17 Wees baie versigtig

wanneer jy ingaan

by die huis van God.

Gaan eerder nader om te luister

as om jou offer te bring

soos dwase dit sou doen.

Want dwase begryp nie

dat hulle kwaad doen nie.

PREDIKER 5

1 Moenie te gou praat nie.

Moenie oorhaastig

iets aan God belowe nie.

Onthou: God is in die hemel

en jy is op die aarde.

Laat jou woorde min wees.

2 Baie aktiwiteit

gee jou rustelose drome.

Net so kom dwaasheid

van te veel woorde.

3 As jy iets aan God belowe het,

moenie versuim om dit te doen nie.

Hy het nie tyd vir dwase nie.

Doen wat jy beloof het.

4 Dis baie beter om niks te belowe nie

as om iets te belowe

wat jy nie doen nie.

5 Moenie dat jou mond

jou na sonde lei nie.

Moenie jouself verontskuldig

by die verteenwoordiger

van die tempel deur te sê:

“My belofte was ’n fout!” nie.

Hoekom wil jy God kwaad maak

met wat jy sê

sodat Hy die werk van jou hande

vernietig?

6 Want soos daar baie drome is

wat sinloos is,

so is daar ook baie woorde.

Maar jy moet ontsag hê vir God.

Rykdom is sinloos

7 Moenie verbaas wees as jy sien

arm mense word verdruk

en hulle regte

word in die land misken nie.

Alle amptenare is onder gesag

van iemand bo hulle.

En oor hulle is daar ook weer

’n hoër gesag.

8 En onder alles is die voordeel

vir ’n land dit:

dat ’n koning aan die landbou

diensbaar word.

9 Mense wat geld liefhet,

kry nooit genoeg daarvan nie.

Mense wat van rykdom hou,

is nooit tevrede

met hulle inkomste nie.

Ook dit is sinloos.

10 Hoe meer jy besit,

hoe meer word die eters

wat jou help om dit te spandeer.

Al voordeel wat jou rykdom

vir jou inhou,

is om te sien

hoe dit deur jou vingers glip.

11 Mense wat hard werk,

slaap goed,

maak nie saak of hulle baie

of min eet nie.

Maar die skatte van ryk mense

laat hulle nie toe

om rustig te slaap nie.

12 Daar is ook nog ’n ander

ernstige probleem

wat ek gesien het:

Party mense gaar besittings op

tot hulle eie ellende.

13 Net een ongelukkige transaksie,

en hy verloor die rykdom.

As hy die vader van ’n seun is,

het hy niks om vir sy seun

na te laat nie.

14 ’n Mens kom kaal

die wêreld in,

so gaan hy ook die wêreld uit.

Daar is niks wat hy kan saamvat

vir al sy moeite nie.

15 Dis ook onregverdig:

Soos mense gekom het,

so gaan hulle.

Wat help dit dat hy hom

vir wind afgesloof het?

16 Lewenslank lewe hulle in die duister,

in smart, ellende en bitterheid.

17 Maar ek het darem

ook iets goeds opgemerk:

Dit is goed dat mense

lekker eet en wyn drink

en hulle werk geniet,

wat hulle ook al

onder die son doen,

gedurende die tydjie wat

God hulle laat lewe.

Dit is hulle deel op aarde.

18 En as God aan mense

rykdom en besittings gee,

en die vermoë om dit te geniet,

is dit ook ’n geskenk uit sy hand

dat ’n mens jou werk geniet

en jou deel in die lewe aanvaar.

19 Hulle kry min tyd

om na te dink oor hulle lewe,

want God maak

hulle dae vol blydskap.

PREDIKER 6

1 Ek het onder die son

’n verkeerde ding gesien

wat swaar op ’n mens druk:

2 God gee aan mense rykdom,

besittings en eer.

Hy gee hulle alles

wat hulle ooit nodig kan hê.

Maar God laat hulle nie toe

om dit te geniet nie.

’n Vreemdeling sal dit geniet.

Ook dít is sinloos,

soos verterende kwaad!

3 ’n Man kan honderd kinders hê

en baie oud word,

maar maak nie saak hoe lank

hy lewe nie,

as hy nie sy welvaart kan geniet

en ’n goeie begrafnis kry nie,

dan is ’n doodgebore baba

beter daaraan toe as hy.

4 So ’n baba

kom op ’n sinlose manier,

gaan weer weg in donkerheid

en sy naam word

deur duisternis bedek.

5 Alhoewel hy nooit

die son sien nie

en niks daarvan weet nie,

is hy tog beter daaraan toe

as daardie ander persoon.

6 Hy kan dalk

twee maal duisend jaar lewe,

maar die goeie van die lewe

sal hy nie geniet nie.

Gaan al twee nie

na dieselfde plek toe nie?

7 Al die mens se moeite

is vir sy mond,

maar hy kry nooit genoeg nie.

8 Watter voordeel

het die man van wysheid

bo die dwaas?

Watter voordele het die arme

wat weet

hoe hy hom moet gedra

tussen mense wat nog lewe?

9 Wat ’n mens se oë kan sien,

is beter

as ’n swerwende begeerte.

Ook dit is dus sinloos,

’n blote gejaag na wind.

Die toekoms, bepaald en

onseker

10 Wat ook al gebeur het,

is vooraf bepaal.

Dis bekend wat

die mens is.

Hy kan nie ’n regstryd voer

met die Een

wat sterker is as hy nie.

11 Hoe meer woorde,

hoe meer is alles sinloos.

Wat baat dit enige mens?

12 Wie weet wat goed is

vir die mens in die lewe,

in die klompie sinlose dae

wat hy soos ’n skaduwee

deurbring?

Wie kan vir ’n mens sê

wat ná hom

onder die son sal gebeur?

PREDIKER 7

Wysheid vir die lewe

1 ’n Goeie naam

is beter as goeie reukolie,

die dag van sterwe

beter as die geboortedag.

2 Dis beter om na ’n huis te gaan

waar gerou word.

Die dood is elkeen se bestemming.

En elkeen wat nog lewe,

kan dit ter harte neem.

3 Droefheid is beter

as om te lag;

’n droewige gebeurtenis

laat ’n mens dikwels goed nadink.

4 Die gemoed van die wyse

voel tuis

waar daar gerou word.

Die dwase se gemoed voel tuis

waar daar plesier is.

5 Dis beter om ag te slaan

op die kritiek

van iemand wat wys is,

as om te luister

na die lied van dwase mense.

6 Soos die geknetter

van doringtakke onder ’n pot,

so klink die gelag

van ’n dwaas.

Dit alles is sinloos.

7 Afpersing maak ’n verstandige

’n dwaas.

’n Omkoopgeskenk vernietig

goeie oordeel.

8 ’n Taak wat voltooi is,

is beter as die begin.

Geduld is beter as hoogmoed.

9 Moenie gou kwaad word nie;

ergernis hoort by dwase.

10 Moenie sê:

“Waarom was die ou dae

beter as die huidige?” nie.

Dit is nie uit wysheid

dat jy daaroor vra nie.

11 Wysheid is net so goed

as ’n erfdeel;

dit help hulle

wat nog die son sien.

12 Wysheid beskerm jou

soos geld beskerming bied.

Maar die voordeel van kennis

is dat wysheid

die lewe van hom wat dit besit,

beskerm.

13 Kyk hoe God te werk gaan:

Wie kan iets reguit maak

wat Hy krom gemaak het?

14 Geniet die dag van voorspoed.

Maar wanneer teëspoed kom,

onthou, God gee die een

sowel as die ander

sodat die mens nie sal weet

wat met hom sal gebeur nie.

Beperkings van menslike

wysheid

15 In my lewe van sinloosheid

het ek alles gesien:

Die regverdige gaan dood,

al doen hy wat reg is;

’n bose mens geniet ’n lang lewe,

al doen hy verkeerd.

16 Moenie te regverdig lewe nie.

Moenie aanspraak maak

op meer wysheid

as wat jy het nie.

Hoekom wil jy jouself vernietig?

17 Moet ook nie te goddeloos

lewe nie.

Moenie ’n dwaas wees nie!

Hoekom moet jy voortydig

doodgaan?

18 Dit is goed om een vas te hou

en die ander nie te los nie.

Hy wat vir God respekteer,

ontkom aan albei.

19 Wysheid versterk ’n wyse

met meer mag

as wat tien belangrike leiers

in ’n stad het.

20 Want daar is niemand op aarde

wat regverdig is nie,

niemand wat net goeddoen

en nooit sondig nie.

21 Moenie jou steur aan alles

wat mense sê nie.

Dalk hoor jy hoe jou werknemer

jou verwens!

22 Jy onthou immers hoe dikwels

jy self ander verwens het.

23 Ek het dit alles

met die hulp van wysheid

getoets.

Ek wou regtig wys wees,

maar kon dit nie regkry nie.

24 Wat wysheid ook al is,

dit lê buite bereik

en baie diep.

Wie kan dit vind?

25 Ek het alles moontlik probeer

om te wete te kom,

na te vors en te ondersoek

wat wysheid en insig is,

en om die dwaasheid

van goddeloosheid te verstaan,

en dwaasheid as malligheid te ken.

26 Wat ek wel gevind het,

is dat ’n vrou wat verlei,

bitterder is as die dood.

Haar hart

is ’n gevaarlike vangnet.

Haar hande is boeie.

Wie voor God goed is,

vermy haar,

maar die sondaar

word deur haar gevang.

27 “Dis wat ek geleer het,”

sê die Prediker,

“toe ek een en een

bymekaargetel het

om die regte insig te kry.

28 Wat ek nog altyd gesoek het,

het ek nie gevind nie.

Ek het wel een man

uit duisend gevind.

Maar só ’n vrou

het ek nie

onder al dié gevind nie.

29 Die één ding

wat ek wel gevind het, is dit:

God het die mense goed

en opreg gemaak,

maar hulle het allerlei slimmighede

gesoek.”

PREDIKER 8

1 Wie is soos die wyse mens?

Wie kan verduidelik

hoekom dinge gebeur?

Wysheid laat jou gesig blink,

dit versag ’n kwaai gesig.

Gehoorsaam die koning

2 Doen wat die koning jou beveel.

Jy het God immers belowe

dat jy dit sal doen.

3 Moenie haastig weggaan

van die koning af nie.

Moenie by ’n slegte saak

staan nie,

want hy doen

wat hy goedvind.

4 Die koning se woord is wet.

Wie kan vir hom vra:

“Wat doen u?”

5 Wie doen wat hy sê,

kom niks oor nie.

Wyse mense weet wanneer

en hoe om op te tree.

6 Want elke ding

het sy tyd en plek,

ook as die mens se ellende

swaar op hom lê.

7 Niemand weet wat die toekoms

regtig inhou nie.

Wie sal dan vir ’n mens kan vertel

wat gaan gebeur?

8 Niemand het die mag

om die wind te beheer nie.

Net so kan mense nie bepaal

wanneer hulle doodgaan nie.

In die oorlog word niemand

verskoon nie.

Net so sal boosheid

nie die een red

wat dit beoefen nie.

Slegte en goeie mense

9 Ek het dit alles gesien.

Ek het aandag gegee

aan alles wat onder die son

gedoen word.

Daar is ’n tyd wanneer een mens

tot die nadeel van ’n ander

mag uitoefen oor die ander.

10 Ek het gesien slegte mense

kom nader en gaan in,

terwyl dié wat reg gehandel het,

moet uitgaan

uit die heilige plek

en in die stad vergeet word.

Ook dit is sinloos.

11 As ’n misdaad nie dadelik

gestraf word nie,

is mense se harte vol planne

om verkeerd te doen,

12 want ’n sondaar

kan honderd keer

kwaad doen

en nogtans lank leef,

alhoewel ek weet:

Met die vromes

wat vir God ontsag het,

sal dit goed gaan.

13 Maar die goddelose

wat nie ontsag het

vir God nie,

sal nie voorspoedig wees nie.

Hy sal nie sy dae verleng

soos ’n skaduwee nie.

14 Daar is nog iets sinloos

wat op aarde gebeur:

Goeie mense beleef

wat slegte mense verdien.

En slegte mense kry

wat goeie mense verdien.

Ook dit is sinloos,

sê ek!

15 Daarom raai ek mense aan

om die lewe te geniet.

Vir die mens is daar niks goeds

onder die son nie,

behalwe om te eet en te drink

en vrolik te wees,

en dat vreugde hom begelei

onder al sy geswoeg

tydens die lengte van sy lewe

wat God hom onder die son gee.

16 Toe ek my daarop toegelê het

om vas te stel wat wysheid is

en te begryp wat op die aarde

gedoen word

sonder dat mense dag of nag

tot rus kom,

17 het ek al die werk van God

gesien, en verstaan

dat die mens nie in staat is

om wat onder die son gebeur

te verstaan nie.

Hoe hy hom ook al inspan

en soek,

hy kan dit nie verstaan nie,

al sê die wyse hy weet.

PREDIKER 9

Die dood haal almal in

1 Ek het oor dit alles nagedink

en probeer verstaan

hoe dit is

dat dié wat reg doen,

en dié wat wysheid het,

en dit wat hulle doen,

onder God se beheer is.

Maar niemand weet

of daar vir hom liefde

of haat wag nie.

2 Dieselfde lot

wag vir alle mense,

dié wat regverdig is of goddeloos,

goed of sleg,

rein of onrein,

dié wat offer

en dié wat nie offer nie.

Goeie mense en sondaars

kry dieselfde behandeling.

Soos dit gaan met dié wat ’n eed aflê,

so gaan dit ook met dié

wat nie ’n eed aflê nie.

3 Die slegste ding

van alles wat onder die son gebeur,

is dat dieselfde lot almal tref.

Ook dat die hart van die mens

vol boosheid is.

Die dwaasheid bly by hom

sy lewe lank.

Daarna gaan hy

na dié wat reeds dood is.

4 Net mense wat leef,

het enige hoop.

Selfs ’n hond wat lewe,

is meer werd as ’n leeu

wat dood is.

5 Dié wat lewe, weet ten minste

dat hulle sal doodgaan.

Maar dooies weet niks.

Daar wag vir hulle

geen beloning meer nie,

en niemand onthou hulle nie.

6 Dit is dan klaar met hulle liefde,

hulle haat en hulle hartstog.

Hulle sal nooit weer deel hê

aan wat onder die son

gebeur nie.

7 Daarom, eet jou brood

met blydskap.

Drink jou wyn

met ’n hart vol vreugde.

Want God het lankal reeds

dit goedgekeur wat jy doen.

8 Dra wit klere,

moenie ophou om olyfolie

op jou kop te gooi nie.

9 Leef gelukkig saam met die vrou

wat jy liefhet,

solank die sinlose lewe aanhou

wat God

jou onder die son gegee het.

Dit kom jou toe in die lewe,

onder al jou geswoeg

onder die son.

10 Doen met toewyding

alles wat jou hand vind

om te doen,

want in die graf

waarheen jy op pad is,

is daar nie werk of insig,

kennis of wysheid nie.

11 Ek het nog iets

onder die son gesien:

Die vinnigste

wen nie die resies nie.

Die sterkstes

wen nie die geveg nie.

Ook dié met wysheid

is nie dié wat kos het nie.

Dis nie verstandiges

wat ryk word,

of dié met kennis

met wie dit goed gaan nie.

Alles word bepaal

deur tyd en gebeurtenisse.

12 Niemand kan voorspel

wanneer sy tyd aanbreek nie.

Dis soos visse wat gevang word

in ’n net,

soos voëls gevang word

in ’n wip,

so word die mens gevang

in tye van teëspoed

as dit onverwags op hom toesak.

Nog oor wysheid en dwaasheid

13 Ek het ook hierdie wysheid

onder die son gesien,

en dit was vir my merkwaardig:

14 Daar was ’n dorpie

met min mense.

’n Groot koning het

die dorpie beleër

en groot beleëringstellasies

daarteen gebou.

15 Daar was ’n arm man

wat baie wys was.

Hy het die stad

met sy wysheid gered.

Maar agterna het niemand

die arm man onthou nie.

16 Toe het ek besef:

Wysheid is beter as krag,

maar die wysheid

van die arme

word geminag,

en niemand luister

na wat hy sê nie.

17 Tog word die rustige woorde

van die wyse

beter gehoor

as die harde geskreeu

van ’n koning

wat oor dwase regeer.

18 Wysheid is meer werd

as oorlogswapens.

Maar een persoon wat fouteer,

kan baie wat goed is, bederf.

PREDIKER 10

1 Dooie vlieë

laat selfs parfuum sleg ruik.

So weeg ’n bietjie dwaasheid

baie meer as wysheid en eer.

2 Die harte van wyse mense

laat hulle doen wat reg is.

Maar dwase mense se harte

laat hulle verkeerd doen.

3 Jy kan dwase mense uitken

net aan die manier

waarop hulle in die straat stap.

4 As die koning vir jou kwaad is,

moenie jou pos verlaat nie.

Rustigheid voorkom groter foute.

5 Ek het iets slegs op aarde gesien:

Regeerders begaan ’n groot fout

6 as hulle groot gesag

aan dwase mense toevertrou

terwyl rykes nie geëer word nie.

7 Ek het slawe sien perd ry

terwyl prinse soos slawe

moes loop.

8 As jy ’n gat grawe,

val jy dalk self daarin.

En as jy ’n muur afbreek,

pik ’n slang jou dalk.

9 As jy klippe kap,

kan jy beseer word.

En as jy hout kap,

kan dit gevaarlik wees.

10 As die byl stomp is

en jy dit nie slyp nie,

moet jy meer krag gebruik.

Vaardigheid help jou

om sukses te behaal.

11 Dit help niks as die slang pik

vóór jy hom besweer het nie,

en dan help die besweerder

ook nie.

12 Dis lekker om te luister

na wyse woorde.

Dwase se gepraat

lei egter net tot vernietiging.

13 Dwase grond hulle gedagtes

op dwaasheid.

Daarom is hulle gevolgtrekkings

louter onsin.

14 Dwase praat sonder ophou,

maar niemand weet

wat sal gebeur nie,

en niemand kan vir hom sê

wat ná hom sal kom nie.

15 ’n Dwaas se werk

maak hom moeg.

Hy weet nie eers

hoe om by sy stad

te kom nie.

16 Rampe is die lot van die land

waar ’n slaaf koning is

en sy amptenare vroegdag

begin feesvier.

17 Gelukkig is die land

wie se koning ’n edelman is

en wie se amptenare

op die regte tyd feesvier

met selfbeheersing,

en nie

met dronkenskap nie.

18 Luiheid laat balke insak;

slap hande laat die dak lek.

19 ’n Fees is daar om te lag.

Wyn laat mense gelukkig voel,

maar geld betaal vir alles.

20 Moenie sleg praat

van die koning nie,

nie eens in jou gedagtes nie.

En moenie ryk mense vloek nie,

nie eens

in jou slaapkamer nie.

Die voëls kan oorvertel wat jy sê,

hulle wat vlerke het,

kan jou woorde oordra.