OPENBARING 21

Die nuwe hemel en die nuwe

aarde

1 Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie.

2 Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is.

3 Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.

4 Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”

5 Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.”

6 Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water.

7 Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.

8 “Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.”

9 Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou wat vol was met die laaste sewe plae, nadergestaan en aan my gesê: “Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”

10 Hy het my toe in die Gees na ’n groot en hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel afgekom het, aan my gewys.

11 Die stad was gevul met die heerlikheid van God. Dit het gestraal, net soos ’n baie kosbare steen, soos ’n kristalhelder jaspis.

12 Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel.

13 Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie.

14 Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan.

15 Die engel wat met my in gesprek was, het ’n goue liniaal vasgehou. Die doel was om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.

16 Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – 12 000stadia.

17 Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el hoog. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.)

18 Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas.

19 Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

20 die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis.

21 Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas.

22 Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel.

23 Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar.

24 Die nasies sal in die stad se lig lewe en die konings van die aarde bring hulle luister daarheen.

25 Die poorte van die stad sal bedags nooit gesluit word nie, en daar sal nie meer nag wees nie.

26 Die nasies sal hulle luister en eerbetoon na die stad toe bring.

27 Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die Boekrol van die Lam.

OPENBARING 22

Die rivier met lewegewende

water

1 Toe het die engel aan my die rivier met lewegewende water gewys. Dit is helder soos kristal en vloei vanaf die troon van God en van die Lam.

2 Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Dit dra twaalf keer per jaar vrug; elke maand dra hy sy vrugte. En die blare van dié boom gee genesing aan die nasies.

3 Geen vervloeking van enigiets sal langer meer bestaan nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad staan en sy diensknegte sal Hom dien.

4 Hulle sal Hom vol in die oë kyk, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.

5 Daar sal ook geen behoefte aan die lig van ’n kandelaar of van die son wees nie omdat die Here God vir hulle lig sal gee, en hulle sal vir altyd as konings regeer.

Die Here Jesus se terugkeer is

seker

6 Die engel het toe aan my gesê: “Hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar. Die Here God wat sy Gees aan die profete gegee het, het sy engel gestuur om aan sy diensknegte te wys wat binnekort moet gebeur.”

7 Jesus sê toe:

“Kyk, Ek kom gou!

Geseënd is elkeen

wat die profetiese woorde

in hierdie boekrol gehoorsaam.”

8 Ek, Johannes, het hierdie dinge gehoor en gesien. En toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval voor die voete van die engel wat al hierdie dinge aan my uitgewys het.

9 Maar hy sê aan my: “Oppas, moenie! Ek is maar net ’n mededienskneg van jou en van jou medegelowiges, naamlik die profete, en van dié wat die woorde van hierdie boekrol gehoorsaam. Aanbid God!”

10 Hy het toe aan my ’n opdrag gegee: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boekrol verseël nie, want die eindtyd is naby.

11 “Wie aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie reg optree, moet voortgaan om reg te doen, en wie aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly.”

12 Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.

13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

14 Geseënd is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad.

15 Al die onreines bly buite – die towenaars, dié wat seksuele sondes doen, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en lieg.

16 “Ek, Jesus, het my engel gestuur om al die dinge aan julle in die gemeentes te verkondig. Ek is die Wortel, die Nakomeling van Dawid, die helder Môrester.”

17 Die Gees en die bruid sê toe:

“Kom!”

En elkeen wat dit hoor,

moet sê:

“Kom!”

En elkeen wat dors het,

moet kom;

elkeen wat smag

na die lewegewende water,

moet kom haal, verniet!

18 Ek getuig plegtig teenoor elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boekrol hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom as straf die plae byvoeg waarvan in hierdie boekrol geskryf is,

19 en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boekrol wegneem, sal God sy deel wegneem aan die boom van die lewe en aan die heilige stad waarvan in hierdie boekrol geskryf is.

20 Hy wat hierdie dinge getuig, sê:

“Ja, Ek kom gou!”

Amen! Kom, Here Jesus!

21 Mag die genade van die Here Jesus met julle almal wees.