OPENBARING 1

1 Die openbaring van God deur

Jesus Christus

Dit is ’n openbaring wat van Jesus Christus af kom. God het dit aan Hom gegee om aan sy diensknegte bekend te maak wat binnekort moet gebeur. Hy het dit toe aan sy dienskneg Johannes gegee deur sy engel na hom toe te stuur.

2 Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het.

3 Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.

Johannes se brief aan die sewe

gemeentes in die provinsie Asië

4 Hierdie brief kom van Johannes en is gerig aan die sewe gemeentes wat in die provinsie Asië geleë is. Genade en vrede aan julle, van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is;

5 en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het en wat heers oor die konings van die aarde.

Aan Hom wat ons liefhet

en ons deur sy bloed

van ons sondes verlos het,

6 en ons laat deel in sy koninklike

regering,

aan Hom wat ons priesters vir God,

sy Vader gemaak het,

aan Hom behoort

die heerlikheid en die krag

vir ewig en altyd. Amen.

7 Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!

8 “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Johannes ontvang ’n visioen van

die verheerlikte Christus

9 Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding. Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het.

10 Op die Dag van die Here was ek in die greep van die Gees en het reg agter my ’n harde stem, soos ’n trompet, hoor

11 sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12 Ek het toe omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Nadat ek omgedraai het, het ek sewe goue kandelare gesien

13 en in die middel van die kandelare Iemand soos die Seun van die Mens. Hy het ’n kleed aangehad wat tot op sy voete gehang het en ’n goue band was om sy bors vasgemaak.

14 Sy kop en sy hare was wit soos wol, so wit soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam.

15 Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ’n smeltoond gloei en sy stem soos die geluid van baie waterstrome.

16 In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.

17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ’n lyk. Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees, Ek is die Eerste en die Laaste,

18 en die Lewende. Ek was dood en kyk, nou leef Ek vir altyd en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.

19 Skryf op wat jy gesien het: wat nou besig is om te gebeur en wat hierna gaan gebeur.

20 En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

OPENBARING 2

Aan die gemeente in Efese wat

sy eerste liefde versaak het

1 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Efese: Só sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe kandelare rondstap:

2 Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie. Jy het toe uitgevind dat hulle eintlik leuenaars is.

3 Verder volhard jy en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word.

4 Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het.

5 Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het. Anders kom Ek na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy staanplek af verwyder, as jy nie tot inkeer kom nie.

6 Maar daar is tog iets wat jy bly handhaaf het: Jy haat wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook haat.

7 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.

Aan die gemeente in Smirna wat

steeds geestelik ryk is

8 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Smirna: Só sê Hy wat die Eerste en die Laaste is, wat dood was, en weer lewe:

9 Ek ken jou swaarkry en jou armoede, maar tog is jy ryk. Ek weet ook van die leuentaal van dié wat sê dat hulle Jode is en dit nie regtig is nie, maar eintlik deel is van die sinagoge van Satan.

10 Hou op om bang te wees vir wat jy nog gaan ly. Kyk, die duiwel gaan sommige uit julle geledere in die tronk sit om julle regtig te toets. Julle sal ook swaarkry, vir tien dae lank. Wees net getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die kroon van die lewe gee.

11 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Elkeen wat aanhou oorwin, sal nié deur die tweede dood getref word nie.

Aan die gemeente in Pergamum

wat steeds lojaal en getrou bly

12 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:

13 Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is.

14 Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg.

15 Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree.

16 Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond.

17 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het.

Aan die gemeente in Tiatira wat

moet vashou aan Christus

18 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper:

19 Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen.

20 Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet.

21 Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes.

22 Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie.

23 Ek sal haar kinders doodmaak en al die gemeentes sal kennis neem dat dit Ek is wat gedagtes en bedoelings deursoek. Ek sal ook aan julle elkeen gee wat julle volgens julle handel en wandel verdien.

24 Vir julle ander in Tiatira wat nie deel het aan daardie leer nie en nie van die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, ’n studie gemaak het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie,

25 behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom.

26 Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak,

sal Ek bevoegdheid gee oor die

nasies.

27 Hy sal die nasies met ’n ysterstaf

beheer

en hulle soos kleipotte

stukkend breek.

28 Net soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek vir hom die môrester gee.

29 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

OPENBARING 3

Aan die gemeente in Sardis wat

dringend moet wakker word

1 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Sardis: Só sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre vashou:

Ek ken jou handel en wandel. Ek weet ook dat jy daarvoor bekend is dat jy lewe, maar jy is dood.

2 Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is. Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie.

3 Probeer onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het; gehoorsaam dit en kom tot inkeer. As jy nie wakker word nie, sal Ek skielik op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet presies wanneer Ek op jou afkom nie.

4 Maar jy het tog ’n klompie persone in Sardis wat nie hulle klere vuilgemaak het nie. Dit is hulle wat vir altyd saam met My in wit klere sal leef omdat hulle dit werd is.

5 Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is.

6 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan die gemeente in Filadelfia

wat volhard en aan die getuienis

7 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare –

Hy wat die sleutel van Dawid hou

en deure oopsluit, en niemand kan

dit toesluit nie;

en Hy sluit en niemand kan

dit weer oopmaak nie:

8 Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie.

9 Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

10 Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

11 Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

12 Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.

13 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Aan die gemeente in Laodisea

wat louwarm geword het

14 Skryf aan die voorganger van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die getroue en betroubare getuie, die oorsprong van God se skepping:

15 Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm.

16 Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

17 Jy sê: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en kaal.

18 Ek gee jou daarom die raad om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk kan word; en koop vir jou wit klere om aan te trek sodat die skande van jou naaktheid nie algemeen sigbaar word nie; en koop ook oogsalf om aan jou oë te smeer sodat jy kan sien.

19 Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer!

20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet.

21 Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

22 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

OPENBARING 4

God die Skepper word in die

hemel aanbid

1 Hierna het ek gekyk, en werklikwaar, ’n deur is oopgemaak in die hemel, en ’n stem wat ek vantevore al hard soos ’n trompet met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.”

2 Onmiddellik was ek in die greep van die Gees. Ek het ’n troon in die hemel sien staan met Iemand wat daarop sit.

3 En die Een wat sit, se voorkoms was net soos jaspis en karneool, terwyl daar ’n reënboog met die glans van smarag om die troon gehang het.

4 Rondom die troon was daar 24 trone en op die trone het 24 ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, met goue krone op hulle koppe.

5 Van die troon se kant af het daar weerligstrale, rammelings en donderslae gekom. Reg voor die troon het sewe vlammende fakkels gebrand; dit is die sewe Geeste van God.

6 Vlak voor die troon het dit gelyk soos ’n spieëlgladde see, soos kristal.

In die middel en rondom die troon het daar vier lewende wesens gestaan, met oë aan die voor- en agterkant.

7 Die eerste lewende wese het soos ’n leeu gelyk, die tweede soos ’n bul, die derde het ’n gesig soos dié van ’n mens gehad, en die vierde het gelyk soos ’n vlieënde arend.

8 Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke gehad wat rondom en aan die binnekant vol oë was. Hulle het dag en nag, sonder enige ruspouse, aanhou sê:

“Heilig, heilig, heilig

is die Here God

die Almagtige,

Hy wat was en wat is

en wat kom.”

9 Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, Hy wat vir altyd lewe,

10 val die 24 ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê:

11 “U is waardig, Here ons God,

om die heerlikheid

en die eer

en die mag te ontvang

omdat U alle dinge geskape het;

deur u wil is alles

wat bestaan, geskape.”

OPENBARING 5

Die Lam is waardig om die

boekrol se seëls oop te breek

1 Ek het toe in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boekrol gesien, vol geskryf aan die binne- én die buitekant, en deur sewe seëls deeglik verseël.

2 Ek het ook ’n sterk engel gesien wat met ’n kragtige stem uitroep: “Wie is waardig genoeg om die boekrol oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”

3 Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie.

4 Ek het toe bitterlik gehuil omdat niemand gekry is wat waardig genoeg is om die boekrol oop te maak om daarin te kyk nie.

5 Toe sê een van die ouderlinge egter vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, het oorwin en kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.”

6 Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde.

7 Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.

8 Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges.

9 Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde:

“U is waardig genoeg

om die boekrol te neem

en sy seëls te breek

omdat U geslag is

en met u bloed

mense vir God vrygekoop het,

uit elke geslag en taalgroep,

volk en nasie.

10 U het hulle vir ons

tot konings en priesters

gemaak.”

11 Toe het ek gekyk en ek het die stemme gehoor van baie engele wat rondom die troon gestaan het, asook van die lewende wesens en ouderlinge. Hulle getal was tienduisende, eintlik miljoene der miljoene.

12 Hulle het in ’n magtige koor gesing:

“Die Lam wat geslag is,

is waardig genoeg

om die mag en rykdom,

die wysheid en sterkte,

die eer, heerlikheid

en lofprysing te ontvang.”

13 Die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê:

“Aan Hom wat op die troon sit

en aan die Lam,

kom toe die lofprysing

en die eerbetoning,

die heerlikheid

en die krag

vir altyd en altyd.”

14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het neergeval en Hom begin aanbid.

OPENBARING 6

Die Lam maak die boekrol oop

1 Terwyl ek gekyk het, het die Lam een van die sewe seëls oopgebreek; en ek het een van die vier lewende wesens met ’n geluid soos ’n donderslag hoor sê: “Kom!”

2 Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n wit perd voor my! Sy ruiter het ’n boog vasgehou, en aan hom is ’n kroon gegee. Hy het as oorwinnaar uitgegaan met die doel om verder te gaan oorwin.

3 Toe die Lam die tweede seël oopgebreek het, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!”

4 ’n Ander perd het uitgegaan, ’n rooie. Sy ruiter is toegelaat om die vrede van die aardbol weg te neem sodat sy inwoners mekaar uitmoor. Aan hom is ook ’n groot swaard gegee.

5 En toe die Lam die derde seël oopbreek, het ek gehoor dat die derde lewende wese sê: “Kom!” En ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n swart perd voor my! Sy ruiter het ’n weegskaal in sy hand vasgehou.

6 Ek het toe ’n geluid soos ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “’n Skep koring vir ’n dag se loon en drie skeppe gars vir ’n dag se loon. Moet tog nie die olyfolie en die wyn skade aandoen nie.”

7 Toe die Lam die vierde seël oopbreek, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!”

8 Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg. Aan hom is die mag gegee om ’n kwart van die aarde se mense dood te maak deur die swaard, hongersnood, ’n dodelike epidemie en deur die wilde diere van die aarde.

9 Toe die Lam die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van hulle wat doodgemartel is oor die boodskap van God en die getuienis wat hulle gelewer het.

10 Hulle het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Hoe lank, o heilige en betroubare Heer, gaan U nog wag voordat U die oordeel voltrek en ons bloed op die bewoners van die aarde wreek?”

11 Aan elkeen van hulle is toe ’n lang wit kleed gegee, en hulle is aangesê om nog ’n klein rukkie te rus, tot die tyd aanbreek dat hulle medediensknegte en medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemartel gaan word, voltallig is.

12 Ek het gekyk toe die Lam die sesde seël oopbreek. Daar was ’n groot aardbewing; die son het swart geword soos ’n harige sak, en die hele maan het so rooi soos bloed geword.

13 Die sterre van die hemelruim het op die aarde geval, net soos ’n vyeboom sy groen navye afgooi wanneer dit deur ’n stormwind getref word.

14 Die hemelkoepel is weggeneem soos wanneer ’n boekrol opgerol word, en elke berg en eiland het uit hulle plek verskuif.

15 Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse.

16 Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!”

17 Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?

OPENBARING 7

God laat die 144 000 op hulle

voorkoppe merk

1 Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde teruggehou sodat geen wind op die land of op die see of teen enige boom waai nie.

2 Ek het ook ’n ander engel sien naderbeweeg van die kant waar die son opkom, terwyl hy ’n seël van die lewende God vashou. Hy het met ’n kragtige stem geroep na die vier engele wat toegelaat is om die land en see skade aan te doen, en

3 gesê: “Moenie skade doen aan die land of die see of die bome nie, totdat ons die diensknegte van God met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk het.”

4 Ek het toe gehoor wat die getal is van dié wat met ’n seël op hulle voorkoppe gemerk is: daar was 144 000 gemerktes, afkomstig uit al die stamme van Israel:

5 Uit die stam van Juda was daar 12 000 wat met die seël op hulle voorkoppe gemerk is; uit die stam Ruben 12 000; uit die stam Gad 12 000;

6 uit die stam Aser 12 000; uit die stam Naftali 12 000; uit die stam Manasse 12 000;

7 uit die stam Simeon 12 000; uit die stam Levi 12 000; uit die stam Issaskar 12 000;

8 uit die stam Sebulon 12 000; uit die stam Josef 12 000, en uit die stam Benjamin was daar 12 000 wat met ’n seël gemerk is.

Die skare verlostes met wit klere

9 Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ’n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie. Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taalgroep, en het voor die troon en voor die Lam gaan staan. Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande.

10 Met ’n kragtige stem het hulle uitgeroep:

“Ons verlossing is te danke aan

God

wat op die troon sit en aan die

Lam!”

11 Al die engele het ook rondom die troon gaan staan, asook die ouderlinge en die vier lewende wesens. Hulle het toe op hulle gesigte neergeval voor die troon en God aanbid

12 en gesê:

“Amen, die lofprysing

en die heerlikheid,

die wysheid, die dank

en die eerbetoning,

die mag en die sterkte

behoort aan ons God vir altyd.

Amen!”

13 Een van die ouderlinge reageer toe en vra my: “Hierdie mense wat wit klere aanhet, wie is hulle en waarvandaan kom hulle?”

14 Ek het aan hom gesê: “Meneer, u is die een wat weet.”

Daarop sê hy vir my: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere wit gewas in die bloed van die Lam.

15 Daarom staan hulle

voor die troon van God

en dien hulle Hom dag en nag

in sy tempel;

en Hy wat op die troon sit,

sal sy tentwoning oor hulle span.

16 Hulle sal nie meer honger

of dors word nie;

die son sal nie op hulle

neerskroei nie

en ook nie ’n hittegloed nie.

17 Die Lam wat in die middel

by die troon staan,

sal hulle soos ’n herder lei

en hulle na die waterfonteine

van die lewe bring;

en God sal elke traan van hulle

oë afdroog.”

OPENBARING 8

Die groot stilte voor die finale

drama

1 Toe die Lam die sewende seël oopbreek, het daar stilte in die hemel neergedaal, ongeveer ’n halfuur lank.

2 Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee.

3 ’n Ander engel het nadergekom en by die altaar gaan staan. Hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Baie reukwerk is aan hom gegee om dit te meng met die gebede van almal wat aan God toegewy is, en om dit te offer op die goue altaar wat voor die troon staan.

4 Die rookwolk van die reukwerk wat deur die engel geoffer is, is gemeng met die gebede van hulle wat aan God toegewy is, en het opgestyg voor God.

5 Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en dit op die aarde uitgegooi. Donderslae, rammelinge, weerligstrale en ’n aardbewing het toe daarop gevolg.

Vier trompette met

vernietigende gevolge

6 Die sewe engele wat die sewe trompette vasgehou het, het hulle klaargemaak om daarop te blaas.

7 Die eerste engel het op sy trompet geblaas en hael en vuur vermeng met bloed is op die aarde gestort. ’n Derde van die aarde is verskroei. ’n Derde van die bome is verskroei en al die groen gras is verbrand.

8 Die tweede engel het op sy trompet geblaas en iets soos ’n hoë berg wat aan die brand is, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword.

9 ’n Derde van die diere wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe is vernietig.

10 Toe het die derde engel op sy trompet geblaas, en ’n reuse ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval.

11 Die ster word genoem Bitterheid. ’n Derde van die varswater het bitter geword, en ’n menigte mense het doodgegaan van die water omdat dit so bitter gemaak was.

12 Die vierde engel het op sy trompet geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref sodat ’n derde van hulle verduister is. ’n Derde van die dag het geen lig gehad nie, en só ook die nag.

13 Toe het ek gekyk en ’n besondere arend, wat hoog in die lugruim vlieg, met ’n skril stem hoor uitskreeu: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik sal dit nie vir die bewoners van die aarde wees as die oorblywende engele binnekort op hulle trompette blaas nie!”

OPENBARING 9

Sprinkane sak soos skerpioene

op die goddeloses toe

1 Daarna het die vyfde engel op sy trompet geblaas. Ek het gekyk hoe ’n ster van die hemel af op die aarde val, en die sleutel van die tonnel na die bodemlose put is aan hom gegee.

2 Hy het toe die tonnel na die bodemlose put oopgesluit. Daar het rook uit die tonnel opgedwarrel, soos die rook uit ’n groot smeltoond. Die son en die lugruim is deur die rook van die tonnel verduister.

3 Uit die rook het sprinkane oor die aarde heen geswerm. Hulle is toegelaat om dieselfde vermoë te hê as skerpioene.

4 Hulle is aangesê om nie die gras op die aarde, of enige plant of boom te beskadig nie, maar net die mense leed aan te doen wat nie die seëlmerk van God op hulle voorkoppe het nie.

5 Hulle is uitdruklik aangesê om nie die mense dood te maak nie, maar om hulle wel vyf maande lank te folter. Hulle foltering was soos die brandpyn wanneer ’n skerpioen jou steek.

6 Gedurende daardie dae sal die mense dit verkies om liewer dood te gaan, maar dit sal nie met hulle gebeur nie. Hulle sal begeer om dood te gaan, maar die dood sal hulle ontwyk.

7 Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir oorlog. Op hulle koppe was iets soos goue krone, en hulle gesigte het gelyk soos dié van mense.

8 Hulle het lang hare soos dié van vroue gehad, en hulle tande was soos dié van leeus.

9 Hulle het borsplate aangehad soos ysterharnasse, en die geluid van hulle vlerke het geklink soos die gedreun van baie perdestrydwaens wat opruk oorlog toe.

10 Hulle het sterte met angels net soos dié van skerpioene gehad, en in hulle sterte was hulle vermoë om die mense vyf maande lank leed aan te doen.

11 Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion.

12 Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna.

Miljoene perde rig

onberekenbare skade aan

13 Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God.

14 Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.”

15 Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak.

16 Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.

17 Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: Hulle het vuurrooi en hemelsblou en swaelgeel borsplate aangehad. Die perde se koppe was soos dié van leeus en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael gestoom.

18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke gestoom het, is ’n derde van die mense doodgemaak.

19 Die perde se vermoë om skade aan te rig, lê in hulle bekke, maar ook in hulle sterte, want hulle sterte het koppe net soos slange waarmee hulle die skade aanrig.

20 Die oorblywende mense wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie tot inkeer gekom wat hulle dade betref nie. Hulle het eenvoudig aangehou om die bose geeste te aanbid, asook die afgode van goud, silwer, brons, klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.

21 Hulle het hulle ook nie bekeer van hulle moorde of hulle toordery, seksuele sondes of stelery nie.

OPENBARING 10

Johannes moet die klein boekrol

gaan eet

1 Toe het ek ’n ander kragtige engel gesien wat van die hemel af neergedaal het. Hy was omring deur ’n wolk, met ’n reënboog bokant sy kop. Sy gesig was soos die son, en sy voete soos twee vuurkolomme.

2 In sy hand het hy ’n oopgerolde boekrolletjie vasgehou. Hy het gaan staan, met sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die aarde.

3 Toe het hy met ’n kragtige stem uitgeskreeu soos ’n leeu wat brul. Nadat hy so uitgeskreeu het, het sewe donderslae hulle eie dreunings laat weergalm.

4 En toe die sewe donderslae weergalm het, was ek op die punt om dit op te skryf, maar ek het ’n stem van die hemel se kant af hoor sê: “Hou geheim wat die sewe donderslae weergalm het, en moenie dit opskryf nie.”

5 Die engel wat ek op die see en die land sien staan het,

het sy regterhand in die rigting

van die hemel opgelig

6 en ’n eed gesweer by Hom

wat vir altyd lewe,

wat die hemel en sy inhoud, die land en sy inhoud, die see en sy inhoud, geskep het. Hy het onder eed gesweer: “Daar is nie meer tyd oor nie.

7 In daardie tyd wanneer die sewende engel sy trompet sal blaas, sal God se verborge bedoeling verwerklik word, soos Hy dit as goeie boodskap aan sy diensknegte, die profete, bekendgemaak het.”

8 Die stem wat ek van die hemel se kant af gehoor het, het toe weer met my gepraat deur vir my te sê: “Gaan haal die oopgerolde boekrolletjie wat in die hand is van die engel wat op die see en land staan.”

9 Ek het toe na die engel toe gegaan en hom gevra om die boekrolletjie vir my te gee. Sy reaksie was: “Neem dit en eet dit op. Dit sal bitter wees in jou maag alhoewel dit so soet soos heuning sal smaak in jou mond.”

10 Ek het toe die boekrolletjie uit die hand van die engel geneem en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, was dit bitter in my maag.

11 Hulle sê toe vir my: “Jy moet nog eers God se wil oor volke, nasies, taalgroepe en baie heersers gaan verkondig.”