NUMERI 31

Wraak op die Midianiete

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Die Israeliete moet wraak neem op die Midianiete omdat hulle julle verlei het. Daarna sal jy sterf.”

3 Moses het toe vir die volk gesê: “Kry van julle manskappe reg om oorlog te gaan maak teen die Midianiete. Hulle moet in die Naam van die Here gaan wraak neem op die Midianiete.

4 Uit elke stam van Israel moet julle 1 000 man uitstuur om te gaan veg.”

5 Hulle het toe uit elke stam 1 000 man opgekommandeer, dus was daar 12 000 man wat reg was om in die oorlog te gaan veg.

6 Moses het hulle uitgestuur om te gaan veg, 1 000 man uit elke stam, met Pinehas, die seun van die priester Eleasar, as hoofaanvoerder. Hy het gewyde voorwerpe uit die tabernakel en die trompette by hom gehad waarmee die oorlogsein gegee moes word.

7 Hulle het gaan oorlog maak teen die Midianiete soos die Here vir Moses gesê het. Hulle het al die mans doodgemaak.

8 Die vyf Midianitiese konings Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba is in die geveg dood. Die Israeliete het ook vir Bileam, die seun van Beor, doodgemaak.

9 Hulle het die Midianitiese vroue met hulle kinders gevange geneem. Hulle het ook al hulle beeste, vee en eiendom buitgemaak.

10 Hulle het al die stede waar die Midianiete gewoon het en die gehuggies waar hulle oorgebly het, met vuur verbrand.

11 Die Israeliete het almal wat hulle gevange geneem het, en alles wat hulle onder die mense en diere geplunder het, saam met hulle gevat.

12 Hulle het dit vir Moses en die priester Eleasar en die gemeenskap van Israel gebring waar hulle kamp opgeslaan het op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo.

13 Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die gemeenskap het hulle buite die kamp gaan ontmoet.

Moses se opdragte aan dié wat

teruggekom het

14 Moses was kwaad vir die aanvoerders van die leër wat van die veldslag af teruggekom het.

15 Moses het vir hulle gevra: “Waarom het julle al die vroue laat bly leef?

16 Dit is hulle wat Bileam se raad gevolg het en veroorsaak het dat die Israeliete by Peor aan die Here ontrou was. Hulle is die oorsaak dat die plaag van die Here oor ons gekom het!

17 Maak nou al die seuntjies dood en ook elke vrou wat al by ’n man geslaap het.

18 Laat elke vrou bly leef wat nog ’n maagd is. Julle mag hulle vir julle as vroue vat.

19 Elkeen van julle wat iemand doodgemaak het, of aan ’n lyk gevat het, moet sewe dae lank buite die kamp bly. Julle moet julleself en die mense wat julle gevange geneem het op die derde en die sewende dag reinig.

20 Was al julle klere en reinig alles wat van leer, bokhaar of hout gemaak is.”

21 Die priester Eleasar het toe vir die mans wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here vir Moses gegee het, is:

22 Enigiets wat van goud, silwer, brons, yster, tin, of lood gemaak is,

23 alles wat nie met vuur vernietig kan word nie, moet julle in vuur reinig. Daarna moet dit met reinigingswater skoongemaak word. Alles wat in die vuur kan verbrand, hoef net met reinigingswater skoongemaak te word.

24 Julle moet julle klere op die sewende dag was. Julle sal dan rein wees. Daarna mag julle terugkeer na die kamp toe.”

Verdeling van die buit

25 Die Here het vir Moses gesê:

26 “Jy en die priester Eleasar en die leiers van die stamme moet ’n opname maak van al die mense wat julle gevange geneem het en van al die diere wat julle buitgemaak het.

27 Jy moet dit dan verdeel tussen hulle wat gaan oorlog maak het en die res van die mense.

28 Staan aan die Here sy deel af van die gevangenes, die beeste, die donkies en die vee wat die oorlog opgelewer het. My deel is een uit elke 500.

29 Die gedeelte wat jy by hulle vat, moet jy aan die priester Eleasar gee as ’n offergawe aan die Here.

30 Vat uit die volk se deel een uit elke 50 van die mense, die beeste, die donkies, die kleinvee en die ander diere wat gevange geneem is. Gee dit vir die Leviete wat by die tabernakel werk.”

31 Moses en die priester Eleasar het gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

32 Die buit wat die mans wat gaan veg het, gemaak het, was 675 000 skape,

33 72 000 beeste,

34 61 000 donkies,

35 en 32 000 meisies wat nog nie ’n man gehad het nie.

36 Die deel van die soldate wat gaan veg het, was 337 500 skape

37 waarvan hulle 675 vir die Here gegee het,

38 36 000 beeste waarvan 72 die Here s’n was,

39 30 500 donkies waarvan 61 vir die Here gegaan het,

40 en 16 000 meisies waarvan 32 die Here se deel was.

41 Moses het alles wat hulle vir die Here afgestaan het, vir die priester Eleasar gegee soos die Here vir hom gesê het.

42 Die deel vir die res van die Israeliete wat Moses by die soldate gevat het, was

43 337 500 skape,

44 36 000 beeste,

45 30 500 donkies en

46 16 000 meisies.

47 Uit die deel wat die mense gekry het, het Moses een uit elke 50 persone en diere gevat en dit vir die Leviete gegee wat by die tabernakel van die Here gewerk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het.

Die aanvoerders van die leër

rapporteer aan Moses

48 Die aanvoerders van die leër, het toe na Moses gekom.

49 Hulle het vir Moses gesê: “Meneer, ons het die mans getel wat onder ons bevel was. Ons vermis nie een van ons manskappe nie.

50 Ons bring vir die Here ’n offer van al die goue goed wat ons gekry het: armringe en armbande, seëlringe, oorringe en halskettings. Dit moet vir ons versoening bring by die Here.”

51 Moses en die priester Eleasar het al die goue voorwerpe van hulle ontvang.

52 Al die goue goed wat die aanvoerders vir die Here kom offer het, het amper 200 kilogram geweeg.

53 Die manskappe wat gaan veg het, het hulle oorlogsbuit vir hulleself gehou.

54 Moses en die priester Eleasar het die goud by die aanvoerders gekry en dit na die tabernakel gebring. Dit sou die Here altyd aan Israel laat dink.

NUMERI 32

Die belofte van die stamme van

Ruben, Gad en die halwe stam

1 Die stamme van Ruben en Gad het groot troppe vee gehad. Hulle het gesien dat die streke by Jaser en Gilead goeie weidingsgebied was vir hulle vee.

2 Die mense van Gad en Ruben het toe na Moses, die priester Eleasar en die leiers gekom en vir hulle gesê:

3 “Die Here het die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon

4 vir die volk van Israel verower. Dit is goeie veewêreld. Ons het baie vee.

5 As julle saamstem,” het hulle gesê, “gee dan eerder vir ons hierdie gebied as grond in plaas daarvan dat ons deurtrek en grond aan die oorkant van die Jordaan gaan beset.”

6 Moses sê toe vir die Gadiete en Rubeniete: “Moet julle broers dan gaan oorlog maak en julle bly ewe rustig hier?

7 Waarom wil julle die ander Israeliete terughou om oor te trek na die land wat die Here vir hulle sal gee?

8 Dit is presies wat julle voorouers gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan bekyk.

9 Nadat hulle deur die Eskolspruit gegaan het en die land verken het, het hulle die Israeliete probeer terughou om nie na die land toe te gaan wat die Here vir hulle sou gee nie.

10 Die Here het toe baie kwaad geword vir hulle en gesweer

11 dat niemand bo twintig jaar oud wat uit Egipte getrek het, die land sou sien wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Hulle was nie getrou aan die Here nie.

12 Net Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua, die seun van Nun, sou die land sien. Hulle was getrou aan die Here.

13 Die Here was so kwaad vir Israel dat Hy hulle 40 jaar lank deur die woestyn laat rondtrek het, totdat daardie hele geslag wat teen Hom oortree het, uitgesterf het.

14 Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel.

15 As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”

16 Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne.

17 Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het.

18 Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.

19 Ons wil nie saam grond aan die ander kant van die Jordaan hê nie. Ons wil eerder grond hier aan die oostekant van die Jordaan hê.”

20 Toe sê Moses vir hulle: “As julle julle woord hou en saam voor die Here optrek om te gaan veg

21 en gewapend deur die Jordaan trek totdat die Here sy vyande uitgewis het,

22 en die land aan die Here onderwerp is, dan eers kan julle terugkom. Julle sal dan vrygestel wees van julle plig teenoor die Here en teenoor Israel. Dit sal eers dan die land wees wat die Here vir julle gee.

23 As julle egter nie doen wat julle beloof het nie, doen julle sonde teen die Here. Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom.

24 Gaan bou nou die veilige plekke vir julle gesinne en die krale vir julle vee. Onthou net om te doen wat julle beloof het.”

25 Die mense van Gad en Ruben het vir Moses gesê: “Ons is u dienaars. Ons sal doen wat u vir ons gesê het.

26 Ons vroue en kinders, ons vee en ons beeste sal hier in die dorpe van Gilead agterbly.

27 U dienaars sal almal gewapend optrek om vir die Here te gaan veg soos u gesê het.”

28 Moses het toe ’n opdrag vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel gegee.

29 Moses het vir hulle gesê: “Wanneer al die gewapende mans van Gad en Ruben saam met julle deur die Jordaan getrek het om vir die Here te gaan oorlog maak en die land aan julle onderwerp is, moet julle die gebied van Gilead vir hulle gee as hulle eiendom.

30 As hulle gewapende manne nie saam met julle optrek nie, moet hulle tussen julle in Kanaän grond kry.”

31 Die mense van Gad en Ruben het toe weer gesê: “Ons sal presies alles doen wat die Here vir u dienaars gesê het.

32 Ons sal ten volle gewapen voor die Here optrek na die land Kanaän toe. Ons grond sal egter hier aan die duskant van die Jordaan wees.”

33 Moses het toe die gebied van Sihon, die koning van die Amoriete, en die gebied van Og, die koning van Basan, die hele streek met al sy stede en die dorpe daar rondom, vir die stamme Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, gegee.

34 Die mense van Gad het toe Dibon, Atarot, Aroër,

35 Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36 Bet-Nimra en Bet-Haram gebou. Dit was almal versterkte blyplekke met krale vir hulle vee.

37 Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim,

38 Nebo, Baäl-Meon, en Sibma. Hulle het sommige van die plekke wat hulle herbou het se name verander.

39 Die nageslag van Makir, die seun van Manasse, het teen Gilead gaan oorlog maak. Hulle het dit verower en die Amoriete wat daarin gebly het, daar uitgedryf.

40 Moses het Gilead vir die nageslag van Makir, die seun van Manasse, gegee. Hulle het daarin gaan woon.

41 Jaïr, ook een van Manasse se nageslag, het die tentdorpe aangeval. Hulle het hulle verower, en hulle name verander na die tentdorpe van Jaïr.

42 Nobag het Kenat en die dorpies rondom aangeval en verower. Hy het die plek Nobag, na homself, vernoem.

NUMERI 33

Israel se reis

1 Moses het die roete wat die Israeliete gevolg het nadat hulle uit Egipte weg is onder sy en Aäron se leiding

2 opgeteken. Hier volg van waar tot waar die Here hulle laat trek het:

3 Hulle is uit Rameses weg die oggend na die eerste Paasfees, die vyftiende van die eerste maand. Terwyl die Egiptenaars staan en kyk het, is hulle triomfantlik daar weg.

4 Die Egiptenaars was besig om hulle eersgeborenes te begrawe wat die Here die vorige nag om die lewe gebring het. Die Here het sy oordeel oor hulle gode voltrek.

5 Nadat hulle van Rameses weggetrek het, het hulle by Sukkot kamp opgeslaan.

6 Hulle is van Sukkot af weg en het kamp opgeslaan by Etam aan die rand van die woestyn.

7 Hulle het Etam verlaat, en is toe terug na Pi-Hagirot, teenoor Baäl-Sefon. Hulle het kamp opgeslaan by Migdol.

8 Hulle is van Pi-Hagirot weg en het deur die Rietsee na die woestyn toe getrek. Hulle het drie dae lank deur die Etamwoestyn getrek en toe by Mara kamp opgeslaan.

9 Hulle het Mara verlaat en by Elim aangekom met sy twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

10 Van Elim af het hulle teruggedraai en langs die Rietsee kamp opgeslaan.

11 Van die Rietsee af is hulle na die Sinwoestyn, waar hulle kamp opgeslaan het.

12 Hulle is van die Sinwoestyn af weg en het by Dofka kamp opgeslaan.

13 Hulle het Dofka verlaat en by Alus kamp opgeslaan.

14 Hulle is van Alus af weg en het by Refidim kamp opgeslaan. Daar was nie genoeg drinkwater vir die volk nie.

15 Hulle het Refidim verlaat en in die Sinaiwoestyn gaan kamp opslaan.

16 Hulle het uit die Sinaiwoestyn weggetrek en by Kibrot-Taäwa kamp gemaak.

17 Hulle het Kibrot-Taäwa verlaat en by Gaserot kamp opgeslaan.

18 Hulle is van Gaserot af weg en het by Ritma kamp opgeslaan.

19 Hulle het Ritma verlaat en by Rimmon-Peres kamp opgeslaan.

20 Hulle is van Rimmon-Peres af weg en het by Libna kamp opgeslaan.

21 Hulle het Libna verlaat en by Rissa kamp opgeslaan.

22 Ná hulle by Rissa weg is, het hulle by Kehelata kamp opgeslaan.

23 Hulle het Kehelata verlaat en by Har-Sefer kamp opgeslaan.

24 Van Har-Sefer is hulle weg en het by Garada kamp opgeslaan.

25 Hulle het Garada verlaat en by Makhelot kamp opgeslaan.

26 Hulle het Makhelot verlaat en by Tagat kamp opgeslaan.

27 Van Tagat af is hulle weg en het by Terag kamp opgeslaan.

28 Hulle het Terag verlaat en by Mitka kamp opgeslaan.

29 Ná hulle van Mitka af weg is, het hulle by Gasmona kamp opgeslaan.

30 Hulle het Gasmona verlaat en by Moserot kamp opgeslaan.

31 Hulle het Moserot agtergelaat en by Bene-Jaäkan kamp opgeslaan.

32 Hulle het Bene-Jaäkan verlaat en by Gor-Gidgad kamp opgeslaan.

33 Hulle het Gor-Gidgad agtergelaat en by Jotbata kamp opgeslaan.

34 Hulle het Jotbata verlaat en by Abrona kamp opgeslaan.

35 Ná hulle van Abrona weg is, het hulle by Esjon-Geber kamp opgeslaan.

36 Hulle het Esjon-Geber verlaat en by Kades in die Sinwoestyn kamp opgeslaan.

37 Ná hulle Kades verlaat het, het hulle by Horberg op die grens van Edom kamp opgeslaan.

38 Die Here het die priester Aäron beveel om teen Horberg uit te klim. Hy is daar dood in die middel van die somer, in die veertigste jaar ná Israel uit Egipte weg is.

39 Aäron was 123 jaar oud toe hy op Horberg dood is.

40 Die Kanaänitiese koning van Arad het in die Negevwoestyn in Kanaän gebly. Hy het gehoor dat die Israeliete aan die kom is.

41 Die Israeliete het intussen Horberg verlaat en by Salmona kamp opgeslaan.

42 Hulle is van Salmona af weg en het by Punon kamp opgeslaan.

43 Van Punon af is hulle na Obot waar hulle kamp opgeslaan het.

44 Hulle het Obot verlaat en by Ije-Abarim op die grens van Moab kamp opgeslaan.

45 Hulle is van Ije-Abarim af weg en het by Dibon-Gad kamp opgeslaan.

46 Hulle het Dibon-Gad verlaat en by Almon-Diblatajim kamp opgeslaan.

47 Van Almon-Diblatajim het hulle by die Abarimberge reg teenoor Nebo kamp opgeslaan.

48 Hulle het die Abarimberge verlaat en op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo kamp opgeslaan.

49 Daar in die Moabsvlakte aan die kant van die Jordaan het hulle oral gekamp vanaf Bet-Jesimot tot by Abel-Sittim.

Roei die inwoners van Kanaän

uit

50 Daar op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo het die Here vir Moses gesê:

51 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: As julle die Jordaan oorsteek, is julle in die land Kanaän.

52 Julle moet almal wat daar woon uit die land verdryf. Vernietig al die afgodsbeelde wat hulle vir hulle uitgekerf en gegiet het. Verwoes al hulle offerhoogtes.

53 Neem die land in besit en gaan woon daar. Ek gee die land sodat julle dit kan besit.

54 Verdeel die land volgens die grootte van elke stam deur die lot te werp. Gee meer grond vir ’n groter groep, en minder vir ’n kleiner groep. Soos die lot dit uitwys, moet elkeen sy deel kry. So sal elke stam sy eie grond hê.

55 Die inwoners van die land wat julle nie uitdryf nie, sal soos splinters in julle oë en soos dorings in julle sye wees. Hulle sal met julle baklei omdat julle in die land woon.

56 Ek sal dan met julle maak wat Ek met hulle wou maak!”

NUMERI 34

Die grense van die land

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee hierdie opdrag vir die Israeliete: Ek gee Kanaän vir jou as erfdeel. Wanneer julle in die land gekom het, moet dit die volgende grense hê:

3 In die suide loop die grens in die Negevgebied van die Sinwoestyn af tot by die grens met Edom. Dit begin oos van die Dooie See.

4 Dit draai dan suid van Skerpioenpas weg en loop deur tot by Sin. Daarvandaan gaan dit suid van Kades-Barnea af, deur Gasar-Addar en verby tot by Asmon.

5 Daar draai dit weg en loop met die Egiptespruit langs tot by die Middellandse See.

6 “Die kuslyn van die Middellandse See is julle westelike grens.

7 “Die noordelike grens begin by die Middellandse See en loop oos tot by Horberg.

8 Van daar af loop dit verby Lebo-Hamat en dan aan deur Sedad,

9 verby Sifron tot by Gasar-Enan. Dit is julle noordelike grens.

10 “Julle grens aan die ooste loop in ’n lyn van Gasar-Enan tot by Sefam.

11 Van Sefam loop dit na Ribla, oos van Ajin. Van daar af loop dit al met die oostelike oewer van die See van Galilea.

12 Van daar af gaan dit al langs die Jordaanrivier af tot by die Dooie See. Dit is die grense van julle land.”

Die verdeling van die land

13 Moses het vir die Israeliete gesê: “Dit is die land wat julle deur die lot onder mekaar moet verdeel. Die Here het beveel dat dit tussen die res van die nege en ’n halwe stamme verdeel moet word.

14 Die mense van die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam het reeds hulle grond gekry.

15 Hierdie twee en ’n halwe stamme het grond gekry aan die oostekant van die Jordaan teenoor Jerigo.”

16 Die Here het verder vir Moses gesê:

17 “Die priester Eleasar en Josua, die seun van Nun, moet die land onder julle verdeel.

18 Laat een man uit elke stam hulle help om die land te verdeel.

19 Die stam en sy leier is: Kaleb seun van Jefunne vir die stam Juda;

20 Samuel seun van Ammihud vir die stam Simeon;

21 Elidad seun van Kislon vir die stam Benjamin;

22 Bukki, seun van Jogli vir die stam Dan;

23 Ganniël, seun van Efod vir die stam Manasse, seun van Josef;

24 Kemuel, seun van Siftan vir die stam Efraim, die seun van Josef;

25 Elisafan, seun van Parnak vir die stam Sebulon;

26 Paltiël, seun van Assan vir die stam Issaskar;

27 Agihud, seun van Selomi vir die stam Aser;

28 Pedael, seun van Ammihud vir die stam Naftali.”

29 Dit is die leiers wat die Here aangewys het om te help met die verdeling van Kanaän onder die Israeliete.

NUMERI 35

Blyplek vir die Leviete

1 Terwyl hulle nog op die Moabsvlakte langs die Jordaan reg teenoor Jerigo gestaan het, het die Here vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om van hulle grond vir die Leviete te gee sodat hulle dorpe kan hê om in te bly. Hulle moet ook die veld rondom die dorpe vir hulle gee.

3 Die Leviete sal dan hulle eie blyplekke hê. Die veld rondom sal weiplek wees vir hulle beeste, kleinvee en hulle ander diere.

4 Die weiveld wat julle vir die Leviete gee, moet tot ten minste 450 meter ver buite die muur van die dorp gaan.

5 Meet van die buitekant van die dorp 900 meter af in al die rigtings – oos, suid, wes en noord – met die dorp reg in die middel. Dit sal die groter gebied rondom die dorp wees.

6 “Van die dorpe wat julle vir die Leviete gee, moet ses dorpe aangewys word waarheen iemand kan vlug wat ’n ander mens doodgemaak het. Behalwe hierdie ses moet julle ook nog 42 ander dorpe vir die Leviete gee.

7 In totaal moet julle dus 48 dorpe met hulle oop gebied rondom vir die Leviete gee.

8 “Die dorpe wat julle vir hulle afstaan, moet uit die Israeliete se eie grondgebied kom. Die groter stamme moet meer dorpe afstaan en die kleiner stamme minder. Elke stam moet aan die Leviete blyplek gee in verhouding tot die grond wat hy gekry het.”

Plekke om heen te vlug

9 Die Here het toe vir Moses gesê:

10 “Sê vir die Israeliete: Wanneer julle deur die Jordaan getrek het en in Kanaän by,

11 moet julle bepaalde dorpe aanwys waar iemand wat ’n ander mens sonder opset doodgemaak het asiel kan gaan kry.

12 Die persoon sal hier beskerming teen die wraak van die vermoorde se familie kry. Die persoon mag nie tereggestel word voordat hy voor die regters verskyn het nie.

13 Julle moet op ses plekke besluit.

14 Drie van hulle moet oos van die Jordaan wees en drie aan die westekant in Kanaän.

15 Hierdie ses plekke moet beskerming gee vir Israeliete, vreemdelinge en enigiemand wat tydelik tussen julle woon. Enigeen wat ’n ander een per ongeluk doodgemaak het, kan daarheen vlug.”

Reëls vir iemand wat ’n ander

doodmaak

16 “As iemand ’n ander een met ’n stuk yster slaan en hy gaan dood, het hy moord gepleeg. Die moordenaar moet beslis tereggestel word.

17 As iemand ’n ander een met ’n groot klip in sy hand doodgemaak het, is dit moord. Hy moet beslis doodgemaak word.

18 As hy hom met ’n stuk hout doodgeslaan het, is dit moord. Hy moet tereggestel word.

19 Die slagoffer se naaste familielid moet sy dood wreek. Hy moet die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

20 As iemand ’n ander doelbewus stamp of hom voorlê en met iets gooi, en die persoon gaan dood,

21 of hom moedswillig met die vuis slaan sodat hy sterf, moet hy tereggestel word. Hy is skuldig aan moord. ’n Naaste familielid van die slagoffer moet sy dood wreek en die moordenaar doodmaak waar hy hom ook al kry.

22 “As iemand egter sonder opset en sonder dat hy dit vooraf beplan het, iemand anders omstamp sodat hy sterf, of hom per ongeluk met iets raak gooi sonder dat hy dit bedoel het,

23 of as iemand sonder dat hy mooi kyk iemand teen wie hy niks het nie met ’n klip raak gooi dat hy daarvan doodgaan,

24 moet die regters in die saak tussen die aangeklaagde en die naaste familielede uitspraak lewer volgens hierdie riglyne.

25 Die regters moet die beskuldigde beskerm teen die familie wat wil wraak neem. Hulle moet hom terugstuur na die plek van asiel waarheen hy gevlug het. Hy moet daar bly totdat die hoëpriester, wat vir sy amp met olie gesalf is, die dag doodgaan.

26 “As die persoon wat die ander doodgemaak het, die gebied verlaat van die plek waarheen hy vir asiel gevlug het,

27 en die familielid wat die dood moet wreek, loop hom raak buite die gebied waar hy vrywaring geniet, mag die familielid hom doodmaak. Hy sal nie skuldig wees aan moord nie.

28 Die man wat die ander se dood veroorsaak het, moet in die plek van asiel bly totdat die hoëpriester sterf. Hy kan eers nadat die hoëpriester dood is, teruggaan na sy eie grond waar hy vandaan kom.

29 “Hierdie riglyne staan vas vir julle en vir julle nageslag, waar julle julle ook al bevind.

30 “Enige persoon wat skuldig bevind word dat hy iemand anders doodgemaak het, moet tereggestel word. Hy mag egter nooit op grond van slegs een getuie tereggestel word nie.

31 “Julle mag nooit ’n afkoopboete aanvaar vir ’n moordenaar wat skuldig bevind is nie. Hy moet beslis doodgemaak word.

32 Julle mag ook nie afkoopgeld aanvaar vir iemand wat na ’n plek van asiel gevlug het sodat hy kan terugkom na sy plek van herkoms voordat die hoëpriester dood is nie.

33 Julle moenie die land besoedel waarin julle woon nie. Moord besoedel die land. Die moord wat gepleeg is, kan ook nie anders versoen word as deur die teregstelling van hom wat die moord gepleeg het nie.

34 Julle moenie die land waarin julle woon onrein maak nie. Ék bly ook daar. Ek is die Here wat tussen die Israeliete bly.”

NUMERI 36

Erfreg en grondbesit

1 Uit die groep van Gilead, die seun van Makir, seun van Manasse uit die Josefstam, het familieleiers gekom en met Moses en met die ander familieleiers kom praat.

2 Hulle het gesê: “Meneer, die Here het u beveel om die land deur loting tussen die Israeliete te verdeel. Die Here het u ook beveel om ons broer Selofgad se grond vir sy dogters te gee.

3 As een van hulle nou met ’n man uit een van die ander Israelitiese stamme trou, sal hulle grond deel word van daardie stam waarin hulle trou. Dit sal ons grond laat minder word.

4 Wanneer die Hersteljaar vir die Israeliete aanbreek, sal die grond wat hulle geërf het, permanent deel word van die eiendom van die stam aan wie hulle dan behoort. Ons stam is dan daardie grond vir altyd kwyt.”

5 Moses het toe die volgende opdrag van die Here aan die Israeliete gegee: “Wat die mense van die Josefstam sê, is korrek.

6 Wat die saak van die dogters van Selofgad betref, bepaal die Here dat hulle vry is om met enigiemand te trou, mits dit uit dieselfde stam is.

7 Die grond van die Israeliete mag nie van een stam na ’n ander verwissel nie. Elke stam van die Israeliete moet die grond behou wat hulle gekry het.

8 Al die dogters wat grond erf in een van die Israelitiese stamme, mag net binne haar eie stam trou. Die Israeliete moet die grond behou wat hulle gekry het.

9 Grond mag nie van een stam na ’n ander stam oorgaan nie. Elke stam van Israel moet sy eie grond behou.”

10 Die dogters van Selofgad het gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

11 Magla, Tirsa, Gogla, Milka en Noa, het almal met neefs aan hulle vaderskant getrou.

12 Hulle het binne die stam van Manasse, die seun van Josef, getrou. Hulle grond het deel gebly van die grond van hulle pa se stam.

13 Dit is al die opdragte en die voorskrifte wat die Here deur Moses vir die Israeliete gegee het toe hulle op die Moabsvlakte, langs die Jordaan reg teenoor Jerigo gebly het.