NUMERI 21

Die oorlog teen Arad

1 Die Kanaänitiese koning van Arad het in die Negevwoestyn gewoon. Hy het gehoor dat die Israeliete in aantog was met die pad wat na Atarim loop. Hy het teen Israel geveg en van hulle mense gevange geneem.

2 Die Israeliete het toe ’n gelofte aan God gedoen: “As U ons help om hierdie volk te oorwin, sal ons hulle stede uitwis.

3 Die Here het Israel se gebed verhoor. Hulle het die stede met die grond gelyk gemaak en die plek Gorma genoem.

Die bronsslang

4 Hulle is van Gorma af weg met die pad na die Rietsee toe om by Edom verby te kom. Langs die pad het hulle ongeduldig begin word.

5 Die volk het teenoor die Here en Moses begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!”

6 Die Here het toe giftige slange onder die volk gestuur. Hulle het die volk gepik. Baie uit Israel is daarvan dood.

7 Hulle het na Moses toe gekom en by hom bely: “Ons het ’n fout gemaak met wat ons teen jou en die Here gesê het. Bid tog vir die Here dat Hy die giftige slange van ons af sal wegvat.” Moses het toe namens die volk tot God gebid.

8 Die Here het vir Moses gesê: “Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.

9 Moses het toe ’n slang van brons gemaak en dit bo-op ’n paal gesit. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en hy het bly leef.

Die reis na Moab

10 Die Israeliete het toe verder getrek tot by Obot en daar kamp opgeslaan.

11 Van daar het hulle versit na Ije-Abarim in die woestyn, oos van Moab.

12 Hulle is van daar af weg en het by die Seredspruit gekampeer.

13 Van daar af het hulle verskuif na die Arnonrivier, wat uit die gebied van die Amoriete vloei. Die Arnon vorm die grens tussen die gebied van die Moabiete en die Amoriete.

14 InDie boek van die oorloë van die Herestaan daar geskryf:

“By die dorp Waheb

in die gebied van Sufa

en die spruit van Arnon,

15 en die vallei by die spruite

wat strek tot by die nedersetting

van Ar by die grens met Moab.”

16 Van daar af is hulle na Beër toe. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Roep die volk bymekaar dat Ek vir hulle water kan gee.”

17 Daar het Israel hierdie lied gesing:

“Borrel op, put!

Ons sal daaroor sing.

18 Put wat deur vorste

oopgegrawe is.

Wat die leiers van die volk

oopgemaak het,

met septers en staf.”

Hulle het toe uit die woestyn na Mattana toe vertrek.

19 Van daar is hulle na Nagaliël en toe na Bamot toe.

20 Daarvandaan het hulle vertrek na die vallei in die gebied van Moab onder die piek van Pisga, wat op die droë gebied van Jesimon afkyk.

Oorlog teen Sihon van Gesbon

21 Die Israeliete het boodskappers na Sihon, die koning van die Amoriete, gestuur:

22 “Laat ons deur jou land trek. Ons sal nie afdraai na die veld, of na jou wingerde toe nie. Ons sal nie water uit jou putte drink nie. Ons sal reguit hou met die Hoofweg van die Konings totdat ons deur jou gebied is.”

23 Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het sy hele volk bymekaargekry en uitgetrek om Israel in die woestyn aan te val. Hy het by Jahas aangekom en daar teen Israel geveg.

24 Die Israeliete het hom egter in die geveg verslaan. Hulle het sy land by hom afgevat vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit teenaan die Ammoniete. Die Ammoniete het hulle gebied verdedig.

25 Die Israeliete het al die stede van die Amoriete ingeneem. Hulle het in Gesbon en die dorpe rondom gaan woon.

26 Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het met ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele land tot by die Arnonrivier van hom afgeneem.

27 Dis hoekom hulle oor hom gedig het:

“Kom na Gesbon

en herbou die stad.

Herstel die stad van Sihon.

28 ’n Vuur het uit Gesbon gegaan,

’n vlam uit die stad van Sihon.

Dit het Ar in Moab verteer

en dié wat in beheer is

van die Arnon.

29 Dis verby met jou Moab.

Jy sal tot niet gaan,

volk van Kemos.

Hy gee sy seuns prys

as vlugtelinge.

Sy dogters word gevangenes

van Sihon,

die koning van die Amoriete.

30 Ons het op hulle losgetrek.

Van Gesbon tot by Dibon

is hy verwoes.

Ons het hulle uitgevee

tot by Nofag en Medeba.”

31 Die Israeliete het toe in die gebied van die Amoriete gaan woon.

32 Moses het mense uitgestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het dit saam met sy omringende dorpies ingeneem en die Amoriete verjaag wat daar gebly het.

33 Hulle het omgedraai en in die rigting van Basan begin marsjeer. Og, die koning van Basan, het teen hulle uitgetrek om by Edreï teen hulle te veg.

34 Die Here het toe vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee vir jou die oorwinning oor hom en sy volk. Ek gee sy land vir jou. Jy sal met hom maak soos jy met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon gebly het, gemaak het.”

35 Hulle het toe vir hom en sy seuns en sy volk verslaan totdat daar nie een oorgebly het nie. Hulle het sy land oorgeneem.

NUMERI 22

Balak laat Bileam haal

1 Die Israeliete het weggetrek en in die vlakte van Moab gaan kamp opslaan. Dit is oos van die Jordaan, reg teenoor Jerigo.

2 Balak, die seun van Sippor, was koning van die Moabiete. Hy het gehoor wat die Israeliete alles met die Amoriete gedoen het.

3 Toe hy sien hoe baie Israeliete daar is, het hy en sy volk vir hulle bang geword.

4 Balak, koning van die Moabiete, het vir die leiers van die Midianiete gesê: “Hulle sal alles rondom ons verteer soos ’n bees die gras in die veld wegvreet.”

5 Hy het boodskappers na Bileam, die seun van Beor, gestuur. Bileam het by Petor langs die Eufraatrivier gebly in die land waarvandaan Balak kom. Hy het hom laat roep: “’n Volk het uit Egipte getrek. Hulle maak die hele aarde vol. Hulle het hulle reg teenoor my kom vestig.

6 Kom tog en vervloek hierdie volk vir my. Hulle is sterker as ek. Miskien kan ek hulle dan oorwin en uit die land verdryf. Ek weet as jy iemand seën, is hulle geseën en as jy hulle vervloek, is hulle vervloek.”

7 Die leiers van Moab en die leiers van Midian is toe daar weg met geld vir ’n voorspelling. Hulle het by Bileam gekom en Balak se woorde aan hom oorgedra.

8 Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor. Ek sal vir julle môre sê wat die Here sê.” Hulle het toe by hom oornag.

9 Daardie nag het die Here na Bileam gekom. Hy het hom gevra: “Wie is hierdie mans hier by jou?”

10 Hy het vir Hom gesê: “Sippor se seun, Balak, die koning van Moab, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:

11 ‘’n Volk het uit Egipte getrek. Hulle is die land vol. Hulle het hulle reg teenoor my kom vestig. Kom tog en vervloek hierdie volk vir my. Miskien kan ek hulle dan oorwin en uit die land verdryf.’”

12 “Moenie saam met hulle gaan nie,” het God vir Bileam gesê. “Jy mag die volk nie vervloek nie. Ek het hulle geseën.”

13 Vroeg die volgende oggend het Bileam opgestaan en vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe. Die Here het vir my gesê ek mag nie saam met julle gaan nie.”

14 Hulle is terug Moab toe en het vir Balak gesê: “Bileam weier om saam met ons te kom.”

15 Balak het toe weer probeer. Hy het hierdie keer belangriker amptenare as die eerste keer na Bileam toe gestuur.

16 Hulle is na Bileam toe en het vir hom gesê: “So sê Balak, die seun van Sippor: ‘Moenie dat iets jou terughou om na my toe te kom nie.

17 Ek sal jou deeglik vergoed. Ek sal vir jou gee net wat jy vra. Kom tog nou en kom vervloek hierdie volk vir my.’”

18 Bileam het Balak se amptenare geantwoord: “Selfs al gee Balak vir my sy hele paleis vol silwer en goud, kan ek niks meer of minder doen as wat die Here my God vir my beveel het nie.

19 Julle moet ook ’n nag hier oorbly. Laat ek hoor of die Here nie nog iets verder het om vir my te sê nie.”

20 Daardie nag het die Here na Bileam toe gekom en vir hom gesê: “Hierdie mans het jou kom ontbied. Gaan dan nou saam met hulle. Jy mag egter net doen wat Ek vir jou sê.”

Bileam se donkie

21 Bileam het die volgende oggend opgestaan, sy donkie ingespan en saam met die amptenare van Moab gegaan.

22 Die Here het kwaad geword omdat hy gegaan het. Die Here het ’n engel gestuur om hom langs die pad voor te keer. Bileam het op sy donkie gery. Daar was twee bediendes saam met hom.

23 Bileam se donkie het die engel van die Here voor hom in die pad sien staan met ’n swaard in sy hand. Die donkie het uit die pad weggedraai en deur die veld gaan loop. Bileam het die donkie geslaan om hom na die pad toe terug te dwing.

24 Die engel het toe in ’n smal opening tussen twee wingerdmure gaan staan.

25 Toe die donkie die engel van die Here sien staan, het hy teenaan die muur probeer verbyskuur. Bileam se voet is teen die muur vasgedruk. Bileam het hom toe weer geslaan.

26 Die engel van die Here het toe op ’n ander plek gaan staan waar dit so nou is dat daar nie plek is om links of regs verby te gaan nie.

27 Toe die donkie weer die engel van die Here sien staan, het dit onder Bileam gaan lê. Bileam was woedend. Hy het die donkie met ’n stok geslaan.

28 Die Here het toe die donkie laat praat. “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” vra die donkie vir Bileam.

29 Bileam sê vir die donkie: “Jy maak my belaglik. As ek ’n swaard gehad het, het ek jou nou doodgemaak.”

30 “Ek is dan jou donkie waarop jy nog altyd gery het,” sê die donkie. “Is dit hoe ek altyd met jou maak?”

“Nee,” sê Bileam.

31 Toe het die Here Bileam se oë laat oopgaan. Hy sien toe die engel van die Here in die pad staan met die swaard in sy hand. Hy het toe vooroor op die grond geval.

32 “Hoekom het jy die donkie nou al drie keer geslaan?” vra die engel van die Here vir hom. “Ek het gekom om jou voor te keer, want jy is op die verkeerde pad.

33 Die donkie het my gesien en drie keer al probeer wegdraai. Drie keer kon ek jou al doodgemaak het en die donkie laat bly leef het.”

Die engel laat Bileam tog gaan

34 Bileam bely toe voor die engel van die Here: “Ek het ’n fout gemaak. Ek het nie gesien u staan voor my in die pad nie. As dit vir u verkeerd is dat ek gaan, sal ek liewer omdraai.”

35 Die engel van die Here sê vir Bileam: “Gaan tog nou saam met die mans. Maar net wat ek vir jou voorsê, mag jy ook sê.” Bileam het toe saam met die amptenare gegaan.

36 Toe Balak hoor dat Bileam op pad is, het hy gegaan om hom te ontmoet by ’n Moabitiese stad op die grens van sy gebied, in die omgewing van die Arnonrivier.

37 Balak het vir Bileam gevra: “Ek het jou dan dringend ontbied om na my toe te kom. Hoekom het jy nie dadelik gekom nie? Glo jy dan nie dat ek jou kan beloon nie?”

38 Bileam sê vir Balak: “Ek het dan nou gekom. Ek kan net sê wat God my laat sê.”

39 Bileam is toe saam met Balak na Kirjat-Gusot toe.

40 Balak het beeste en skape geslag. Hy het vir Bileam en die amptenare wat by hom was daarvandaan gestuur.

Bileam se eerste uitspraak

41 Die volgende oggend het Balak vir Bileam saam met hom na Bamot-Baäl gevat. Van daar af kon hy sien tot waar die volk staan.

NUMERI 23

1 Bileam het vir Balak gesê: “Bou vir my sewe altare op hierdie plek. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om te offer.

2 Balak het gemaak soos Bileam gevra het. Hy en Bileam het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.

3 Bileam sê toe vir Balak: “Bly hier staan by die offers wat jy gebring het. Laat ek gaan kyk of die Here my nie miskien wil ontmoet nie. Ek sal vir jou kom sê wat Hy my laat sien het en aan my geopenbaar het.”

Bileam het toe op ’n kaal koppie geklim.

4 God het Bileam daar ontmoet. Hy het vir God gesê: “Ek het sewe altare gebou en op elkeen ’n bul en ’n ram geoffer.”

5 Die Here het toe vir Bileam gesê wat hy vir Balak moet sê. Hy het gesê: “Gaan terug na Balak toe en gee vir hom hierdie boodskap.”

6 Toe hy by Balak terugkom, het die koning en al die amptenare van Moab by die brandoffers gestaan.

7 Hy het die boodskap oorgedra:

“Van Aram af het Balak

my laat kom.

Die koning van Moab

het my laat kom

vanaf die berge in die ooste.

Hy het gesê: Kom!

Kom vervloek Jakob vir my!

Kom kondig

Israel se ondergang aan!

8 Hoe kan ek hulle vervloek

vir wie God

nie vervloek het nie?

Hoe kan ek ondergang voorspel

vir hulle vir wie die Here

dit nie gedoen het nie?

9 Ek sien hulle

van bo van die kranse af.

Bo van die heuwels af

hou ek hulle dop.

Ek sien ’n volk wat op hulle eie is,

wat by die nasies

nie getel word nie.

10 Wie kan Jakob

se nageslag tel?

Wie kan selfs ’n kwart van Israel tel?

Mag ek as ’n regverdige sterf.

Mag my dae soos hulle s’n eindig.”

11 Balak vra toe vir Bileam: “Wat maak jy met my? Ek het jou gebring om my vyand te vervloek, maar jy staan en seën hulle!”

12 Bileam het geantwoord: “Ek kan net dit sê wat God my meegedeel het.”

Bileam se tweede uitspraak

vanaf Pisgaberg

13 Balak sê toe vir hom: “Kom saam met my na ’n ander plek toe. Jy sal van daar af ’n deel van die Israeliete kan sien. Vervloek hulle vir my van daar af.”

14 Hy het hom na die top van die Pisgaberg in die vlakte van Sofim toe gevat. Daar het hy sewe altare gebou. Op elkeen het hy ’n bul en ’n ram geoffer.

15 Bileam sê toe vir Balak: “Staan net so hier by jou brandoffers. Ek sal die Here daar anderkant ontmoet.”

16 Die Here het Bileam ontmoet. Hy het vir hom nog ’n boodskap gegee. Hy het vir hom gesê: “Gaan terug na Balak en gee vir hom hierdie boodskap.”

17 Hy is toe terug na Balak toe. Hy het saam met sy amptenare by sy brandoffer gestaan. “Wat sê die Here?” het Balak vir hom gevra.

18 Hy het toe die boodskap gebring:

“Staan op, Balak! Luister!

Hoor mooi wat ek vir jou sê,

seun van Sippor!

19 God is nie ’n mens

dat Hy sal lieg nie.

Hy is nie ’n mens

wat ‘ekskuus’ sal sê nie.

Het Hy al ooit iets gesê

wat Hy nie gedoen het nie?

Het Hy iets belowe

wat Hy nie nagekom het nie?

20 Ek het die opdrag gekry

om te seën.

Hy het geseën

en ek kan dit nie omdraai nie.

21 Hy het vir Jakob

nie teëspoed in gedagte nie.

Hy het nie moeilikheid

in die vooruitsig vir Israel nie.

Die Here sy God is by hulle.

Hy is koning oor hulle.

22 Hy het hulle uit Egipte bevry.

Hy is vir Israel

soos die brute krag

van ’n bees.

23 Geen voorspelling

kan iets doen aan Jakob nie.

Geen waarsêery het

krag teen Israel nie.

Van Jakob sal gesê word:

‘Watter wonderlike dinge

het God vir Israel gedoen.’

24 Die volk staan op en rek hom uit

soos ’n leeu.

Hy gaan nie lê

voor hy sy prooi

opgevreet het nie,

voor hy die bloed gedrink het

van die een

wat hy gevang het nie.”

Bileam se derde uitspraak vanaf

Peorberg

25 Balak sê toe vir Bileam: “As jy hulle nie gaan vervloek nie, mag jy hulle ook nie seën nie!”

26 Bileam het Balak geantwoord: “Het ek dan nie vir jou gesê dat ek alles moet doen wat die Here vir my sê nie?”

27 Balak sê vir Bileam: “Kom laat ek jou na nog ’n ander plek toe vat. Miskien is dit reg vir God om hulle van daar af te vervloek.”

28 Balak het Bileam toe na die piek van Peorberg gevat wat oor die woestyn uitkyk.

29 Bileam het weer vir Balak gesê: “Bou vir my hier sewe altare. Jy moet sewe bulle en sewe ramme voorberei om daarop te offer.”

30 Hy het gemaak soos Bileam vir hom gesê het. Hy het die beeste en ramme op die altare geoffer.

NUMERI 24

1 Bileam het toe begin insien dat die Here eerder vir Israel wil seën. Hy het nie aangegaan om soos gewoonlik na voorspellings te soek nie. Hy het na die woestyn toe gedraai.

2 Daar het hy gesien hoe Israel volgens hulle stamme staan. Die Gees van God het toe oor hom gekom.

3 Hy het die volgende boodskap gebring:

“So sê Bileam,

die seun van Beor.

Sy oë het oopgegaan.

4 Hy het God se woorde gehoor.

Hy het ’n gesig

van die Allerhoogste gesien.

Hy val neer op die grond

met sy oë wawyd oop.

5 Hoe pragtig is jou tente, Jakob!

Hoe mooi is die plek

waar jy bly Israel!

6 Dit is uitgestrek soos ’n vallei,

soos ’n tuin langs ’n stroom,

soos aalwyne

wat die Here geplant het,

soos sederbome langs die water.

7 Water vloei uit sy houers,

sy nageslag

is by oorvloedige waters.

Sy koning is beroemder as Agag.

Sy koninkryk gaan

van krag tot krag.

8 God het hom uit Egipte bevry

met die krag van ’n bul.

Nasies wat vyandig is teen hom,

dié verslind hy.

Hy vergruis hulle bene

en skiet sy pyle op hulle af.

9 Hy buk en gaan lê

soos ’n leeumannetjie.

Hy is soos ’n leeu;

niemand kan hom

teenstaan nie.

Elkeen wat jou seën, is geseënd.

Elkeen wat jou vervloek,

is vervloek.”

10 Balak het toe woedend geword vir Bileam. Hy het sy hande teen mekaar geklap en vir hom geskreeu: “Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek. Dit is nou al drie maal dat jy hulle geseën het.

11 Maak dat jy wegkom na jou huis toe! Ek het wel gesê ek sal jou beloon, maar die Here het nou jou beloning weggevat!”

12 Bileam het vir Balak gesê: “Onthou jy nie dat ek vir die boodskappers wat jy gestuur het, gesê het:

13 ‘Al gee Balak vir my sy paleis vol silwer en goud, ek kan nie enigiets anders sê as wat die Here vir my gee nie, of dit nou goed of kwaad is.’”

Bileam se vierde uitspraak

14 “Ek gaan nou terug na my mense toe. Maar laat ek jou ’n bietjie inlig oor wat hierdie volk in die toekoms met jou volk gaan doen.”

15 Hy het toe die volgende boodskap gebring:

“So sê Bileam,

die seun van Beor,

’n man wie se oë

oopgegaan het.

16 Hy hoor die woorde van God

en weet

wat die Allerhoogste besluit het.

Hy sien die visioene

wat die Almagtige vir hom gee.

Hy val op die grond neer

met sy oë wawyd oop.

17 Ek sien iets,

maar dis nie onmiddellik nie.

Ek sien hom,

maar hy is nog nie naby nie.

’n Ster kom uit Jakob.

’n Septer kom uit Israel.

Hy verpletter Moab se voorkop.

Hy verwoes sy opstandige

nageslag.

18 Edom sal oorwin word.

Seïr sal oorlogsbuit word

vir sy vyande.

Israel sal met mag oorwin.

19 Uit Jakob

sal ’n heerser opstaan.

Hy sal hulle

wat oorbly in die stad, vernietig.”

Bileam se ander uitsprake

20 Bileam het na Amalek gekyk en hierdie boodskap oor hom gebring:

“Amalek was die grootste

onder die volke.

Sy einde is

om vernietig te word.”

21 Hy het na die Keniete gekyk en die volgende boodskap gebring:

“Jou blyplek is veilig.

Jou skuiling

is tussen die rotse.

22 Kain sal egter verwoes word

wanneer die Assiriërs kom

om jou gevange te neem.”

23 Bileam het nog een boodskap gehad:

“Wie sal kan bly leef

wanneer God

dit alles laat gebeur?

24 Skepe sal van Siprus af kom,

en sal Assirië en Eber

onderwerp.

Teen die einde

sal hulle self verwoes word.”

25 Bileam het toe huis toe gegaan. Balak het sy eie koers ingeslaan.

NUMERI 25

Die gevolge van afgodsdiens vir

Baäl-Peor

1 Terwyl Israel by Sittim gebly het, het die volk hulleself besoedel. Hulle het by Moabitiese vroue geslaap.

2 Hierdie vroue het die volk uitgenooi om saam met hulle offers vir hulle gode te bring. Die volk het saam met hulle geëet en die gode van Moab aanbid.

3 Hulle het begin om vir Baäl-Peor te aanbid. Die Here was baie kwaad vir Israel.

4 Die Here het vir Moses opdrag gegee: “Kry al die leiers van die volk bymekaar. Hang hulle in die helder dag by die tabernakel op sodat die Here se woede kan bedaar.”

5 Moses het die stamhoofde van Israel aangesê om elke persoon wat Baäl-Peor begin aanbid het, dood te maak.

6 Terwyl Moses en die gemeenskap nog so by die ingang van die tabernakel gestaan en huil het, het ’n man uit Israel openlik daar aangekom met ’n vrou uit Midian.

7 Toe die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, dit sien, het hy tussen die mense opgespring en ’n spies gegryp.

8 Hy het die man agternagesit na sy tent toe. Hy het die spies dwarsdeur die Israeliet en deur die vrou se maag gegooi. Dit het die plaag wat oor Israel gekom het, laat ophou.

9 Daar het 24 000 mense aan die plaag gesterf.

10 Die Here sê toe vir Moses:

11 “Die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, het my woede van die Israeliete af weggevat toe hy my eer onder hulle beskerm het. Dit het verhoed dat Ek die Israeliete ter wille van my Naam voor die voet uitgewis het.

12 Sê vir hom dat Ek ’n onvernietigbare vredesverbond met hom sluit.

13 Volgens hierdie ooreenkoms sal hy en sy nageslag vir altyd my priesters wees. Omdat hy sy God se eer beskerm het, het hy versoening gebring vir die Israeliete.”

14 Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, se naam was Simri, die seun van Salu. Hy was een van die leiers uit die stam van Simeon.

15 Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, se naam was Kosbi, die dogter van Sur, een van die leiers van die Midianiete.

16 Die Here het toe vir Moses gesê:

17 “Val die Midianiete aan en roei hulle uit

18 oor die optrede van Kosbi, die dogter van die Midianitiese leier. Dis sy wat doodgemaak is toe die plaag oor Peor julle getref het. Die Midianiete het julle mislei en onder valse voorwendsels oorreed om Baäl-Peor te aanbid.”

NUMERI 26

’n Tweede sensus

1 Die Here het toe vir Moses en die priester Eleasar, seun van Aäron, gesê:

2 “Tel almal bo twintig jaar in die gemeenskap van Israel volgens hulle families om te bepaal hoeveel van hulle oorlog kan maak.”

3 Hulle was op die vlakte van Moab, langs die Jordaan, reg teenoor Jerigo. Moses en die priester Eleasar het toe opdrag gegee:

4 “Tel almal ouer as twintig jaar wat oorlog toe kan gaan, soos die Here vir Moses gesê het.”

Hier is die getalle van die Israeliete wat uit Egipte weg is:

Stam van Ruben

5 Die Rubenfamilies wat afgestam het van Ruben, oudste seun van Jakob, was: Die Ganokgroep vernoem na Ganok, die Palluïete vernoem na Pallu.

6 Die Gesroniete en die Karmïete.

7 Die Rubenfamilies was altesaam 43 730 man.

8 Pallu se seun was Eliab,

9 en sy seuns was Nemuel, Datan en Abiram. Datan en Abiram was die leiers wat teen Moses en Aäron in opstand gekom het.

10 Die grond het onder hulle oopgegaan en hulle saam met Korag ingesluk. Die vuur het 250 van sy meelopers verbrand. Dit was ’n waarskuwing vir Israel.

11 Korag se seuns het egter nie gesterf nie.

Stam van Simeon

12 Die groepe wat uit Simeon gebore is, was die groep van Jemuel, Jamin, Jakin,

13 Serag en Saul.

14 Die groep uit Simeon was altesaam 22 200.

Stam van Gad

15 Die Gadfamilies was die Sifjongroep vernoem na Sifjon, die Gaggigroep vernoem na Gaggi, die Sunigroep vernoem na Suni,

16 die Osnigroep vernoem na Osni, die Erigroep vernoem na Eri,

17 die Arodgroep vernoem na Arod en die Areligroep vernoem na Areli.

18 Die Gadgroepe was in totaal 40 500.

Stam van Juda

19 Juda het twee seuns gehad: Er en Onan. Hulle is vroeër reeds in Kanaän dood.

20 Uit die seuns van Juda wat bly leef het, het die volgende groepe gekom, naamlik dié van Sela, Peres en Serag.

21 Die Peresgroep het weer bestaan uit die families Gesron en Gamul.

22 Die Judafamilies was altesaam 76 500 man.

Stam van Issaskar

23 Van Issaskar het die groepe van Tola, Puwwa,

24 Jasub en Simron gekom.

25 Die Issaskargroepe was 64 300.

Stam van Sebulon

26 Sebulon se nasate het bestaan uit die groepe van Sered, Elon en Jagleël.

27 Die Sebulonfamilies was altesaam 60 500 man.

Stam van Manasse

28 Uit Josef het twee groepe gekom, dié van Manasse en dié van Efraim.

29 Uit die Manassegroep het die mense van Makir en die voorvader van Gilead gekom.

30 Die families van Gilead was Iëser, Gelek,

31 Asriël, Sekem,

32 Semida, Gefer

33 en Selofgad. Selofgad, die seun van Gefer, het nie seuns gehad nie. Hy het wel dogters gehad. Hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

34 Die mans van die Manassegroepe was altesaam 52 700.

Stam van Efraim

35 Die Efraimgroepe was dié van Sutelag, Beker en Tagan.

36 Uit die Sutelaggroep het die familie van Eran gekom.

37 Die Efraimgroepe het 32 500 getel. Hierdie groepe van Manasse en Efraim het almal van Josef gekom.

Stam van Benjamin

38 Uit Benjamin het die groepe van Bela, Asbel, Agiram,

39 Sefufam en Gufam afgestam.

40 Van Bela het die families van Ard en Naäman gekom.

41 Hierdie groepe uit Benjamin was 45 600.

Stam van Dan

42 Van Dan se stam het die groep van Sugam gekom.

43 Die Sugamgroep was die enigste nageslag van Dan. Hulle was 64 400.

Stam van Aser

44 Die groepe uit Aser was die families van Jimna, Jiswi en Beria.

45 Die Beriagroep het bestaan uit die families van Geber en Malkiël.

46 Aser het ook ’n dogter gehad met die naam Serag.

47 Die groepe uit Aser was in geheel 53 400.

Stam van Naftali

48 Die groepe uit Naftali was dié van Jagseël, Guni,

49 Jeser en Sillem.

50 Die groepe van Naftali was altesaam 45 400 man.

51 Die totale aantal mans wat getel is in Israel was 601 730.

Verdeling van die land

52 Die Here het toe vir Moses gesê:

53 “Verdeel nou die land tussen die groepe wat julle getel het volgens elkeen se grootte.

54 Gee vir die groter groepe groter eiendom en aan die kleiner groepe kleiner eiendom, elkeen volgens getal.

55 Verdeel die land deur te loot. Elke stam moet eiendom ontvang volgens hulle telling.

56 Bepaal vir elkeen waar sy eiendom is deur tussen die groter en die kleiner stamme te loot.”

Die stam van Levi

57 Die stam van Levi wat getel is, was die groepe van Gerson, Kehat en Merari.

58 Hulle kleiner families was dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die voorvader van Amram.

59 Die naam van Amram se vrou was Jogebed. Sy was ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore. Haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam.

60 Aäron was die pa van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar.

61 Nadab en Abihu is egter dood toe hulle verkeerde vuur na die altaar toe gebring het.

62 Die Leviete ouer as ’n maand was in totaal 23 000. Hulle is nie by die res van die Israeliete getel nie. Hulle het ook nie saam met die ander Israeliete grond gekry nie.

63 Dit is dan die mense wat Moses en die priester Eleasar getel het in die Moabsvlakte by die Jordaan reg teenoor Jerigo.

64 Nie een van hulle was deel van die Israeliete wat Moses en die priester Aäron voorheen in die Sinaiwoestyn getel het nie.

65 Die Here het vir daardie Israeliete toe al gesê dat hulle in die woestyn sal doodgaan. Dit was net Kaleb, die seun van Jefunne, en Josua, die seun van Nun, wat oorgebly het.

NUMERI 27

Bepaling vir die erfreg waar

daar nie seuns is nie

1 Selofgad se dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef.

2 Sy dogters het met ’n saak na Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die gemeenskap van Israel daar by die ingang van die tabernakel gekom.

3 “Ons pa het in die woestyn gesterf. Hy het nie seuns gehad nie,” het hulle gesê. “Hy was nie een van Korag se meelopers wat teen die Here in opstand gekom het nie. Hy is dood oor sy eie sonde.

4 Hoekom moet ons pa se naam uit sy stam verdwyn net oor hy nie seuns gehad het nie? Julle moet vir ons grond tussen ons familie gee.”

5 Moses het die saak voor die Here gaan stel.

6 Die Here het Moses geantwoord:

7 “Wat Selofgad se dogters sê, is reg. Gee vir hulle grond as erfdeel tussen hulle familielede. Hulle moet hulle pa se erflating kry.

8 “Sê ook vir die Israeliete: ‘Iemand wat sonder seuns doodgaan se erflating moet na sy dogters toe gaan.

9 As hy nie dogters gehad het nie, moet sy erflating na sy broers toe gaan.

10 As hy sonder broers doodgaan, moet sy eiendom na sy pa se broers toe gaan.

11 Indien sy pa dan ook nie broers gehad het nie, moet sy eiendom na die naaste familielede in sy stam gaan.’ Dit is hoe die Here die saak deur Moses wetlik vir die Israeliete bepaal het.”

Die Here wys Moses se opvolger

aan

12 Die Here het vir Moses gesê: “Klim op die berg aan die oostekant. Kyk van daar af na die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee.

13 Nadat jy klaar daarna gekyk het, sal jy ook by jou vaders versamel word soos jou broer Aäron.

14 In die Sinwoestyn het julle al twee my bevel verontagsaam. Toe die volk met julle baklei het, het julle nie by die waters van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn, vir hulle gewys hoe heilig Ek is nie.”

15 Moses het vir die Here gesê:

16 “Here, God wat asem gee aan alles wat leef, wys asseblief tog ’n nuwe persoon aan vir die gemeenskap.

17 “Laat dit iemand wees wat hulle kan lei sodat die gemeenskap van die Here nie leierloos word soos skape wat nie ’n herder het nie.”

18 Die Here het vir Moses geantwoord: “Vat Josua, die seun van Nun. God se Gees is in hom. Sit jou hande op hom.

19 Laat hom voor Eleasar die priester en voor die hele gemeenskap gaan staan. Gee hom dan die opdrag om hulle te lei.

20 Dra jou gesag aan hom oor sodat al die Israeliete na hom sal luister.

21 Hy sal saam met die priester Eleasar werk. Wanneer hy oor ’n saak moet beslis, sal Eleasar met die lot die wil van God bepaal. So sal Josua en die gemeenskap van Israel weet wat hulle moet doen.”

22 Moses het gemaak soos die Here vir hom gesê het. Hy het Josua laat kom en hom aan die priester en die volk voorgestel.

23 Hy het sy hande op hom gesit en sy pligte aan hom oorgedra, soos die Here vir Moses gesê het.

NUMERI 28

Die daaglikse offers

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee die volgende opdragte aan die Israeliete: ‘Sorg dat julle my offer op die tyd bring wat daarvoor bepaal is. Die offer wat julle vir My op die vuur bring, is my kos. Ek hou baie daarvan.’

3 “Sê vir hulle: Julle moet gereeld, dag vir dag, vir die Here twee gesonde jaaroud lammers as vuuroffer bring.

4 Een moet in die oggend en die ander een in die aand geoffer word.

5 Saam met elke lam moet julle ’n graanoffer bring van een en ’n half kilogram meel gemeng met een liter olyfolie.

6 “Dit was die gereelde brandoffer wat reeds by die Sinaiberg as vuuroffer gebring is, ’n vreugde vir die Here.

7 Saam met die lam moet julle ’n drankoffer van een liter wyn bring. Julle moet dit by die heiligdom uitgiet as ’n offer vir die Here.

8 Die tweede lam word in die aand gebring saam met ’n maaltydoffer en drankoffer net soos die offer van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde verskaf.”

Offers op die Sabbat

9 “Op die Sabbatdag moet jy twee gesonde jaaroud lammers offer. Dit moet gedoen word saam met ’n graanoffer van drie kilogram meel wat met olie gemeng is en ’n drankoffer.

10 Dit is die brandoffer vir elke Sabbat bo en behalwe die gereelde brandoffer en sy drankoffers.”

Offers elke maand

11 “Op die eerste dag van elke maand moet julle brandoffers vir die Here bring van twee gesonde jong bulle, een ram en sewe jaaroud lammers.

12 Saam met elke bul moet julle ’n maaltydoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met elke ram gaan ’n offer van drie kilogram meel met olie gemeng.

13 Saam met elke lam gaan ’n offer van een en ’n half kilogram meel gemeng met olie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here, ’n brandoffer waarvan Hy baie hou.

14 Die drankoffer saam met elke bul bestaan uit twee liter wyn, saam met elke ram een en ’n derde liter wyn, en saam met die lammers een liter wyn.

15 Hierdie offers moet dwarsdeur die jaar op die eerste dag van elke maand gebring word.”

Paasfeesoffers

16 “Op die veertiende dag van die eerste maand moet die Paasfees tot eer van die Here gevier word.

17 Op die vyftiende dag van die maand begin ’n fees wat sewe dae lank duur. Gedurende hierdie fees mag julle net kos sonder suurdeeg eet.

18 Op die eerste dag van die fees moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Julle mag dan nie met julle gewone werk aangaan nie.

19 Julle moet dan vir die Here ’n vuuroffer bring. Dit is ’n brandoffer van twee gesonde jong bulle, ’n gesonde ram en sewe gesonde lammers van ’n jaar oud.

20 Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie. Saam met die offer van die ram bring julle drie kilogram meel.

21 Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel.

22 Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring om versoening vir julleself te doen.

23 Julle moet hierdie offers bo en behalwe die gereelde brandoffers bring van elke môre.

24 Op elkeen van die sewe dae moet julle die graanoffer bring as ’n vuuroffer wat vir die Here vreugde gee. Die offers moet bo en behalwe die gereelde brandoffer en drankoffer gebring word.

25 Op die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou. Ook op hierdie dag mag julle nie julle gewone werk doen nie.”

Offers by die Fees van die Weke

26 “Op die eerste dag van die Fees van die Weke bring julle ’n offer uit die nuwe graan wat geoes is. Op hierdie dag moet daar ’n gewyde byeenkoms vir die Here wees. Julle mag nie op daardie dag julle gewone werk doen nie.

27 Julle moet op daardie dag ’n buitengewone brandoffer vir die Here bring wat vir Hom vreugde gee. Dit bestaan uit twee jong bulle, ’n ram en sewe lammers wat ’n jaar oud is.

28 Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel wat met olie gemeng is. Saam met die ram bring julle ’n offer van drie kilogram meel.

29 Saam met elkeen van die sewe lammers bring julle een en ’n half kilogram meel.

30 Offer ook nog ’n bokram as sonde-offer om vir julle versoening te bring.

31 Julle moet hierdie buitengewone offers saam met die drankoffers bring. Dit is bo en behalwe die gereelde brandoffer en die graanoffer. Julle moet seker maak dat die offerdiere gesonde diere is.”

NUMERI 29

Fees van die Trompette

1 “Die Fees van die Trompette word in die vroeë herfs gevier. Daardie dag moet julle bymekaarkom vir ’n gewyde byeenkoms. Julle mag nie met julle gewone werk aangaan nie. Op daardie dag moet die trompette geblaas word.

2 Op daardie dag bring julle ’n brandoffer wat vir die Here vreugde gee. Dit bestaan uit ’n gesonde jong bul, ’n gesonde ram en sewe gesonde lammers van ’n jaar oud.

3 Saam met die bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel met olie gemeng, saam met die ram drie kilogram meel,

4 en saam met elkeen van die sewe lammers een en ’n half kilogram meel.

5 Daarmee saam moet julle ook nog ’n bokram as sonde-offer bring om versoening vir julle te bring.

6 Hierdie offers is bo en behalwe die maandelikse en die gereelde brandoffer wat saam met die graanoffer en die drankoffers gebring word. Dit is ’n vuuroffer vir die Here wat vir Hom vreugde gee.”

Offers vir die Dag van

Versoening

7 “Tien dae later gedurende die sewende maand, moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Julle moet dan julle self verootmoedig. Op daardie dag mag julle geen werk doen nie.

8 Julle moet vir die Here ’n brandoffer bring wat vir Hom vreugde gee. Dit moet bestaan uit ’n jong bul, ’n ram en sewe lammers van ’n jaar oud. Hulle moet almal gesond wees.

9 Saam met die bul moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel met olie gemeng, saam met die ram drie kilogram meel,

10 en saam met elkeen van die sewe lammers een en ’n half kilogram meel.

11 Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring bo en behalwe die sonde-offer wat julle vir versoening bring saam met die gereelde brandoffer, die graanoffer en die drankoffer.”

Die Huttefees

12 “Vyf dae later moet julle ’n gewyde byeenkoms hou. Julle mag dan nie met julle gewone werk aangaan nie. Julle moet dan vir sewe dae lank die Huttefees vier tot eer van die Here.

13 Op daardie dag moet julle ’n buitengewone brandoffer tot vreugde van die Here bring. Dit is ’n vuuroffer van dertien jong bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud. Almal moet gesond en sonder tekortkomings wees.

14 Saam met elkeen van die dertien bulle moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel met olie gemeng. Bring saam met elkeen van die twee ramme drie kilogram meel,

15 en saam met elkeen van die veertien lammers een en ’n half kilogram meel.

16 Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring bo en behalwe die gereelde brandoffer saam met die graanoffer en die drankoffer.

17 “Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer. Almal moet sonder tekortkomings wees.

18 Bring daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat voorgeskryf is.

19 Bring ook nog ’n bokram vir ’n sonde-offer bo en behalwe die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffer.

20 “Op die derde dag van die fees moet julle elf bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud offer. Almal moet gesond en sonder gebrek wees.

21 Bring daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat daarvoor neergelê is.

22 Bring ook nog ’n bokram as sonde-offer bo en behalwe die gereelde brandoffer met sy graanoffer en drankoffer.

23 “Op die vierde dag van die fees moet julle tien gesonde bulle offer en twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud.

24 Bring saam met elkeen die graanoffers en die drankoffers, soos dit bepaal is.

25 Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring naas die gereelde brandoffer met sy graanoffer en drankoffer.

26 “Op die vyfde dag moet julle nege bulle, twee ramme en veertien lammers offer. Almal moet gesond wees.

27 Saam met die bulle, ramme en lammers moet die graanoffers en drankoffers gebring word volgens die getalle wat daarvoor bepaal is.

28 Afgesien van die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffers, moet ook nog ’n ram as sonde-offer gebring word.

29 “Op die sesde dag van die fees moet julle agt bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud offer. Almal moet gesond en sonder gebrek wees.

30 Offer daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat daarvoor neergelê is.

31 Offer ook nog ’n bokram as sonde-offer naas die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffer.

32 “Op die sewende dag van die fees moet julle sewe gesonde bulle, twee ramme en veertien eenjarige lammers offer.

33 Offer daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat bepaal is.

34 Bring ook nog ’n bokram as sonde-offer bo en behalwe die gereelde brandoffer saam met die graanoffer en die drankoffer.

35 “Op die agtste dag van die fees moet julle almal laat bymekaarkom. Daardie dag is daar geen werk nie.

36 Bring ’n brandoffer wat vir die Here aangenaam is. Dit moet ’n bul, ’n ram en sewe eenjarige lammers wees wat almal sonder liggaamsgebrek is.

37 Bring daarmee saam die graanoffers en drankoffers wat daarvoor bepaal is.

38 Bring ook nog naas die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffer ’n bokram as sonde-offer.

39 “Dit is die brandoffers, die graanoffers, die drankoffers en die maaltydoffers wat julle gedurende julle feeste vir die Here moet bring. Dit is naas julle gelofte-offers en vrywillige offers.”

40 Moses het al hierdie voorskrifte vir die Israeliete gegee, soos die Here hom beveel het.

NUMERI 30

Die geldigheid van vroue se

geloftes

1 Moses het die stamleiers van Israel bymekaargekry. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die Here se voorskrifte oor geloftes:

2 Iemand wat aan die Here ’n gelofte maak, of hom met ’n eed verbind, mag nooit sy woord verbreek nie. Hy moet presies doen wat hy beloof het.

3 “’n Jong meisie wat nog in haar ouerhuis bly, kan ’n gelofte aan die Here maak, of ’n belofte aflê.

4 As haar pa hoor van die gelofte wat sy afgelê het, of van die belofte wat sy gemaak het, en hy maak nie daarteen beswaar nie, staan die gelofte en die onderneming vas.

5 As haar pa dit egter teenstaan op die dag waarop hy daarvan hoor, is die geloftes of die verpligtings wat sy op haar geneem het, nietig. Die Here sal dit nie teen haar hou nie. Hy sal haar vergeef, want haar pa het dit afgekeur.

6 “’n Vrou kan miskien trou nadat sy aan die Here ’n gelofte afgelê het, of miskien haarself impulsief aan iets verbind.

7 As haar man die dag daarvan hoor en hy het geen beswaar daarteen nie, staan die verpligting wat sy op haar geneem het vas.

8 As haar man dit egter afkeur die dag waarop hy daarvan hoor, maak hy die gelofte of die verpligtings wat sy onnadenkend op haar geneem het, tot niet. Die Here sal haar dit vergeef.

9 “Vir ’n weduwee of ’n vrou wat geskei is, staan alles vas waaraan hulle hulle verbind het.

10 “’n Getroude vrou kan miskien ’n gelofte aflê of onder eed ’n belofte maak.

11 As haar man daarvan hoor en nie ’n stokkie daarvoor steek nie, staan haar geloftes wat sy gemaak het en die beloftes wat sy onderneem het vas.

12 As haar man alles wat sy vrou gesê en beloof het, verwerp wanneer hy daarvan hoor, sal dit alles van nul en gener waarde wees. Die Here sal haar daarvan vrystel.

13 Haar man kan enige gelofte of eed waarmee ’n vrou haarself verbind het, bevestig of tot niet verklaar.

14 As haar man nie beswaar maak die dag waarop hy hoor wat sy op haarself geneem het nie, stem hy daarmee in.

15 As hy eers lank nadat hy van haar geloftes of verpligtings gehoor het, dit tot niet probeer verklaar, moet hy self instaan vir die gevolge daarvan.”

16 Dit is die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het met betrekking tot die verhouding tussen ’n man en sy vrou, en tussen ’n pa en sy dogter wat nog by hom in sy huis is.