NUMERI 11

Tabera

1 Die volk het by die Here begin kla oor hulle swaarkry. Toe Hy dit hoor, het die Here kwaad geword. Vuur wat van die Here af kom, het onder hulle uitgebreek. Dit het tot op die kant van die kamp gebrand.

2 Hulle het na Moses geroep om hulle te help. Hy het tot die Here gebid en die vuur het bedaar.

3 Die plek is toe Tabera genoem, want vuur wat van die Here af kom, het daar onder hulle gebrand.

Die volk wil vleis hê

4 ’n Spul skobbejakke wat saamgetrek het, het ’n onbedaarlike lus vir vleis gekry. Die Israeliete het toe ook begin kerm: “Waar kan ons tog vleis kry?

5 Ons onthou nog hoe ons net soveel vis kon eet soos ons wou in Egipte. Daar was komkommers en waatlemoene en prei en uie en knoffel.

6 Maar nou stik ons aan die manna waarteen ons elke dag moet vaskyk!”

7 Die manna was soos koljandersaad. Dit het ’n vaal kleur gehad.

8 Die volk het uitgegaan en dit van die grond af opgetel. Hulle het dit dan tussen klippe gemaal of in ’n vysel stukkend gestamp. Daarna het hulle dit in ’n pot gekook en dan daarvan plaatkoeke gemaak. Dit het soos oliekoeke gesmaak.

9 Die manna het saam met die dou gedurende die nag geval.

10 Moses het gehoor hoe die stamme van die volk by hulle tente se openinge staan en mor. Die Here het baie kwaad geword. Dit was vir Moses ’n baie verkeerde ding.

11 Moses vra toe vir die Here: “Waarom het U hierdie moeilikheid oor u dienaar, gebring? Waarom het U my met hierdie volk opgesaal?

12 Is ek hierdie volk se pa? Het ek hulle gemaak dat U vir my sê: ‘Dra hulle in jou arms soos ’n oppasser ’n suigeling ronddra. Vat hulle na die land wat Ek vir hulle voorsate beloof het.’

13 Waar gaan ek vleis kry vir hierdie hele volk? Hulle kerm by my en hulle vra: ‘Gee vir ons vleis om te eet.’

14 “Ek kan nie alleen hierdie hele volk versorg nie. Hulle is te veel vir my.

15 As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk.”

Die Here gee vir hulle vleis

16 Die Here sê toe vir Moses: “Maak uit die ouer mans van Israel vir my 70 mans bymekaar van wie jy weet dat hulle die oudstes en die leiers is. Vat hulle saam na die tabernakel toe en wag daar saam met hulle.

17 Ek sal afkom en met jou kom praat. Ek sal my Gees wat in jou woon ook in hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou verantwoordelik wees vir die volk. Jy sal dit nie meer alleen hoef te dra nie.

18 “Sê vir die volk: Heilig julleself vir môre. Julle sal dan vleis kry om te eet. Die Here het gehoor hoe julle kerm: Waar sal ons vleis kry om te eet? Ons was beter af in Egipte! Die Here sal dan vir julle vleis gee om te eet.

19 Julle sal nie net vir een dag vleis hê om te eet nie, ook nie net vir twee of vir vyf of vir tien of vir selfs twintig dae nie.

20 Julle sal elke dag vir ’n hele maand lank vleis eet totdat dit by julle ore uitkom en julle daarvan begin naar word. Julle het die Here, wat tussen julle woon, verwerp, want julle het by Hom gekla: ‘Waarom moes ons uit Egipte weggaan?’”

21 Moses het die Here geantwoord: “Hier onder ons is daar 600 000 mans wat kan veg. En dan sê U nog: ‘Ek sal vir hulle vir ’n maand lank vleis gee om te eet.’

22 Sou dit genoeg wees as ons al die skape en die beeste vir hulle slag? Sou dit genoeg wees as ons al die visse van die see vir hulle bymekaarmaak?”

23 Die Here het vir Moses gesê: “Dink jy die Here kan nie? Jy sal nou sien of Ek kan doen wat Ek sê of nie.”

24 Moses is toe uit na die volk toe om vir hulle te sê wat die Here gesê het. Hy het 70 leiers bymekaargemaak en hulle reg rondom die tabernakel laat staan.

25 Die Here het in ’n wolk afgekom en met Moses gepraat. Hy het sy Gees wat in Moses was ook oor die 70 mans laat kom. Toe die Gees oor hulle gekom het, het hulle begin profeteer. Dit het net hierdie een keer met hulle gebeur.

26 Twee mans, Eldad en Medad, was deel van die 70 mans. Hulle het in die kamp agtergebly. Hulle het nie saamgegaan na die tabernakel toe nie. Toe die Gees oor die mans gekom het, het hulle ook begin profeteer daar waar hulle in die kamp was.

27 ’n Jong seun het gehardloop en vir Moses kom sê: “Eldad en Medad is besig om in die kamp te profeteer!”

28 Josua, die seun van Nun, was van jongs af Moses se assistent. Hy het vir Moses gesê: “Meneer moet hulle stop!”

29 Moses het hom geantwoord: “Is jy ter wille van my jaloers op hulle? Het die Here tog maar van die hele volk profete gemaak! Het sy Gees maar oor hulle almal gekom!”

30 Moses en die leiers is toe weer terug na die kamp toe.

31 Die Here het toe ’n wind laat waai. Dit het kwartels van die see af oor die kamp gewaai. Hulle het reg rondom die kamp geval, omtrent ’n dagreis ver in alle rigtings en omtrent ’n meter diep.

32 Die volk het uitgegaan en daardie hele dag en nag en ook nog die volgende dag kwartels bymekaargemaak. Die minste wat enigeen bymekaargemaak het, was 50 houers. Hulle het die voëls reg rondom die kamp oopgesprei.

33 Nog voor hulle die vleis klaar geëet het, het die Here se woede teen die volk losgebars. Die Here het ’n baie groot siekte onder hulle laat uitbreek.

34 Daardie plek se naam het “Kibrot-Taäwa” geword. Daar is die mense begrawe wat so lus vir vleis geword het.

35 Van daar af is die volk na Gaserot toe. Hulle het ’n tyd lank daar gebly.

NUMERI 12

Mirjam en Aäron kom in

opstand

1 Mirjam en Aäron het begin om van Moses sleg te praat omdat hy met ’n Kussitiese vrou getrou het.

2 Hulle het gesê: “Die Here praat beslis nie net deur Moses nie. Hy praat ook deur ons.” Die Here het gehoor wat hulle sê.

3 Moses was buitengewoon nederig, meer as enige ander mens op aarde.

4 Die Here het dringend met Moses, Aäron en Mirjam gepraat: “Julle drie moet na die tabernakel toe gaan.” Die drie is toe soontoe.

5 Die Here het in ’n wolkmassa daarnatoe afgekom en by die ingang van die tabernakel gaan staan. Hy het Aäron en Mirjam nadergeroep. Die twee het nadergekom.

6 Die Here het gesê: “Luister wat Ek sê! As daar ’n profeet onder julle is, maak Ek, die Here, My aan hom bekend deur gesigte en praat Ek met hom deur drome.

7 Ek maak nie so met Moses my dienaar nie. Hy is die betroubaarste van al my mense.

8 Ek praat direk met hom, van aangesig tot aangesig. Ek praat nie met hom op ’n raaiselagtige manier nie. Hy weet hoe die Here lyk. Moet julle dan nie baie versigtig oor my dienaar Moses praat nie?”

9 Die Here was kwaad vir hulle en Hy het weggegaan.

10 Toe die wolk weg van die tabernakel af beweeg het, was Mirjam skielik so wit soos sneeu oor haar hele lyf. Toe Aäron sien hoe wit Mirjam van die melaatsheid is,

11 het hy vir Moses gesê: “Meneer, moet ons asseblief nie straf vir die dom ding wat ons gedoen het nie.

12 Moenie toelaat dat sy soos een is wat doodgebore word en waarvan die liggaam alreeds ontbind is by geboorte nie.”

13 Moses het hardop na die Here geroep: “O God, laat sy asseblief tog gesond word!”

14 Die Here sê toe vir Moses: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou sy sewe dae lank die vernedering daarvan moes dra. Verban haar nou vir sewe dae lank uit die kamp uit. Eers daarna mag sy terugkom.”

15 Mirjam moes toe sewe dae lank buite die kamp bly. Die volk het nie verder getrek voordat Mirjam weer terug was by hulle nie.

16 Die volk is daarna weg van Gaserot af. Hulle het in die Paranwoestyn gaan kamp opslaan.

NUMERI 13

Moses stuur verkenners uit

1 Die Here het toe vir Moses gesê:

2 “Stuur mans uit om die land Kanaän te gaan verken wat Ek aan die Israeliete gaan gee. Stuur van elke stam een van hulle leiers uit.”

3 Moses het gemaak soos die Here gesê het. Hy het daar van die Paranwoestyn af mans na Kanaän toe uitgestuur. Elkeen van hulle was ’n leier in Israel.

4 Hulle was: Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben,

5 Safat, seun van Gori uit die stam van Simeon,

6 Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda,

7 Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar,

8 Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim,

9 Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin,

10 Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon,

11 Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse,

12 Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan,

13 Setur, seun van Migael uit die stam Aser,

14 Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali,

15 Geüel, seun van Maki uit die stam Gad.

16 Dit is die name van die mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken. Moses het Hosea, die seun van Nun, se naam verander na Josua.

17 Toe hy hulle uitstuur om die land Kanaän te gaan verken, het Moses vir hulle gesê: “Gaan van hier af reg deur die Negevwoestyn noord na die heuwelgebied.

18 Kyk hoe die land is. Kyk of die inwoners sterk of swak is, of hulle min of baie is.

19 Kyk of die land waarin hulle woon goed of sleg is. Kyk of die dorpe waarin hulle woon oop is en of dit met mure versterk is.

20 Let op of die grond ryk of arm is, boomryk is of nie. Wees dapper en bring van die vrugte van die land saam terug.” Dit was juis in die tyd toe die eerste druiwe geoes is.

21 Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af deur tot by Regob by Lebo-Hamat.

22 Die mans het deur die suidelike woestyn gegaan en by Hebron aangekom. Enak se nasate, Agiman, Sesai en Talmai, het daar gewoon. Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.

23 Hulle het daarna by die Eskolspruit aangekom. Daar het hulle ’n tros druiwe gepluk. Hulle moes dit aan ’n stok tussen twee van hulle dra. Hulle het daar ook granate en vye gepluk.

24 Die naam van die plek is toe na Eskol herdoop, na aanleiding van die tros druiwe wat die Israeliete daar gepluk het.

Die verkenners doen verslag

25 Aan die einde van die 40 dae het die mans van die verkenningstog af teruggekom.

26 Hulle het by Moses, Aäron en die Israeliete aangekom waar hulle by Kades in die Paranwoestyn staan. Hulle het aan die Israeliete verslag gedoen en vir hulle die vrugte gewys wat hulle saamgebring het.

27 Die mans het aan Moses rapporteer: “Ons het na die land gaan kyk waarheen jy ons gestuur het. Dit is ’n baie vrugbare land. Hier is van sy vrugte.

28 Die mense wat in die land woon, is egter baie sterk. Hulle het groot stede met verdedigingsmure om. Ons het ook Enak se nageslag daar gesien.

29 Die Amalekiete bly in die Negevwoestyn. Die Hetiete, Jebusiete en Amoriete bly in die heuwelgebied. Die Kanaäniete woon langs die Middellandse See en in die Jordaanvallei.

30 Kaleb het egter die volk probeer gerusstel. Hy het gesê: “Laat ons optrek en die land gaan oorneem. Ons is daartoe in staat.”

31 Die ander mans wat saam met hom gegaan het, het egter gesê: “Ons durf nie teen hulle optrek nie. Hulle is sterker as ons.”

32 Hulle het toe ’n gerug begin versprei oor die land wat hulle gaan verken het: “Die land waarna ons gaan kyk het, is ’n land wat sy inwoners opeis. Al die volke wat ons daarin gesien het, is besonder groot mense.

33 Ons het Enak se nageslag daar gesien. Hulle is reuse. Ons het voor hulle soos sprinkane gelyk.”

NUMERI 14

Die volk kom in opstand

1 Die gemeenskap het toe begin kla. Die volk het deur die nag gesit en huil.

2 Al die Israeliete het by Moses en Aäron kom kla. Hulle het gesê: “As ons tog maar liewer in Egipte gesterf het, of selfs hier in die woestyn!

3 Hoekom het die Here ons na hierdie land toe laat kom om hier met die swaard doodgemaak te word? Ons vroue en ons dogters gaan nog oorlogsbuit word. Is dit nie beter dat ons maar liewer na Egipte toe teruggaan nie?”

4 Hulle het toe onder mekaar gekonkel: “Kom ons kies ’n leier en ons gaan terug na Egipte toe.”

5 Moses en Aäron het voor die gemeenskap van die Israeliete neergeval.

6 Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, wat saam die land gaan verken het, het hulle klere geskeur.

7 Hulle het vir die gemeenskap van die Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n besondere mooi land.

8 As die Here ons liefhet, sal Hy ons in die land laat kom en dit vir ons gee. Dit is ’n baie vrugbare land.

9 Moenie teen die Here in opstand kom nie! Moenie bang wees vir die mense van die land nie. Hulle is ons slagoffers. Hulle het geen beskerming nie. Die Here is met ons. Moenie bang wees nie!”

10 Die gemeenskap het egter gedreig om hulle met klippe dood te gooi. Die Israeliete het toe bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid by die tabernakel.

11 Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk nog aanhou om My te minag? Hoe lank gaan hulle bly weier om op My te vertrou, selfs al het Ek al die wonders tussen hulle laat gebeur?

12 Ek gaan ’n pessiekte onder hulle laat uitbreek. Ek gaan hulle uitroei. Ek gaan jou egter ’n groot nasie maak wat baie sterker is as hulle!”

13 Moses het toe vir die Here gesê: “U het met u krag hierdie volk uit Egipte weggevat. Die Egiptenaars sal hoor wat U doen.

14 Hulle sal dit vir die inwoners van hierdie land oorvertel. Hulle het alreeds gehoor dat U tussen die mense van hierdie volk bly. Here, hulle weet dat U sigbaar is vir u volk in die wolk wat bo hulle hang. Hulle weet dat U die volk lei met ’n wolkmassa wat bedags voor hulle uitgaan en ’n vuurbondel wat snags voor hulle is.

15 As U nou meteens hierdie volk man en muis uitwis, gaan die nasies wat van u beroemdheid gehoor het, sê:

16 ‘Omdat die Here nie die volk na die land toe kon bring wat Hy vir hulle belowe het nie, het Hy hulle sommer daar in die woestyn doodgemaak.’

17 Wys tog nou dat U so sterk is soos wat U gesê het. U het mos gesê:

18 ‘Die Here word nie gou kwaad nie. Sy liefde kan sonde en oortreding verdra. Hy laat sonde egter nie ongestraf bly nie. Hy hou dit wat die ouers verkeerd gedoen het nog teen die derde en vierde geslag daarna.’

19 “Vergeef tog nou hierdie volk se sonde soos U in u groot liefde hulle verdra het vandat hulle uit Egipte uit weg is tot nou toe.”

Veertig jaar in die woestyn

20 Die Here sê toe: “Ek sal hulle vergeef soos jy gevra het.

21 Maar so seker as wat Ek leef en die aarde vol is van die Here se groot mag,

22 nie een van hierdie mans wat gesien het hoe groot Ek is en watter wondertekens Ek in Egipte en die woestyn gedoen het en wat My herhaaldelik getoets het deur nie na My te luister nie,

23 nie een van hulle wat My verag het, sal in die land kom wat Ek aan hulle voorouers beloof het nie.

24 My dienaar Kaleb het egter ’n ander gesindheid teenoor My gewys. Hy het by My bly staan. Ek sal hom in die land laat kom wat hy gaan verken het. Sy nageslag sal die land besit.

25 Draai weg van die vlakte waar die Amalekiete en Kanaäniete bly. Gaan terug op die pad wat na die Rietsee toe loop.”

26 Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

27 “Hoe lank gaan hierdie slegte gemeenskap bly kla oor My? Ek het gehoor wat die Israeliete oor My sê.

28 Sê vir hulle: ‘So waar as Ek leef, sê die Here, Ek gaan met julle alles laat gebeur waarvan julle My verdink het.

29 Julle lyke sal hier in die woestyn lê. Nie een van julle bo twintig jaar oud wat in die sensus getel is en wat oor my gekla het,

30 sal in die land kom wat Ek beloof het dat julle daarin sal woon nie. Net Kaleb, seun van Jefunne, en Josua, seun van Nun, sal ingaan.

31 “Julle het gesê dat julle kinders oorlogsbuit sal word. Ek sal húlle egter in die land laat kom en hulle sal die land beleef wat julle versmaai het.

32 Maar julle lyke sal hierdie hele woestyn vol lê.

33 Julle kinders sal die prys betaal vir julle ontrouheid. Hulle sal soos herders 40 jaar lank in die woestyn rondswerf totdat julle almal dood in die woestyn lê.

34 Vir elkeen van die 40 dae wat julle die land verken het, sal julle vir julle oortreding betaal. Julle sal 40 jaar in die woestyn bly. Julle sal leer wat dit is om My as vyand te hê.

35 Ek, die Here, het dit gesê! Ek sal dit met elkeen laat gebeur wat teen my saamgesweer het. In hierdie selfde woestyn sal elkeen van hulle doodgaan!”

36 Die tien mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken en wat teruggekom het en die gemeenskap teen God opgemaak het met die slegte gerug wat hulle oor die land versprei het,

37 het gesterf vanweë ’n plaag wat die Here gestuur het.

38 Van die mans wat gegaan het om die land te verken, het net Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, oorleef.

Die volk trek uit sonder Moses

en die ark

39 Toe Moses vir die Israeliete vertel wat die Here alles gesê het, was die volk baie hartseer.

40 Hulle het die volgende oggend vroeg opgestaan en begin optrek na die heuwelgebied toe. Hulle het gesê: “Laat ons optrek na die land wat die Here vir ons beloof het. Ons het ’n fout gemaak.”

41 Moses het toe vir hulle gevra: “Waarom gaan julle nou teen die Here se besluit in? Dit sal nie werk nie.

42 Moenie nou optrek nie. Die Here is nie saam met julle nie. Julle vyande sal julle nou afmaai.

43 As die Amalekiete en Kanaäniete julle daar konfronteer, gaan julle met die swaard afgemaai word. Omdat julle julle rug op die Here gedraai het, is Hy nie meer saam met julle nie.”

44 Hulle het nogtans voortgestorm na die heuwelgebied toe. Die ark van die Here se verbond en Moses het egter in die kamp agtergebly.

45 Die Amalekiete en die Kanaäniete wat daar in die heuwelgebiede gebly het, het van bo af gekom, hulle aangeval en tot by Horma verjaag.

NUMERI 15

Offers wanneer hulle in die land

gevestig is

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee en julle daar gevestig is,

3 kan iemand vir die Here ’n offer bring. Dit kan ’n brandoffer of enige ander offer wees. Dit kan bedoel wees om ’n belofte na te kom, as ’n vrywillige offer, of ’n offer gedurende ’n fees. Dit moet dan uit die beeste of die vee kom.

4 Die persoon wat dit vir die Here offer, moet dan ook ’n graanoffer van een en ’n half kilogram meel, gemeng met een liter olie vir die Here bring.

5 Saam met ’n lam wat as brandoffer of gewone offer aangebied word, moet ook ’n liter wyn as drankoffer gebring word.

6 Saam met ’n ram moet jy ’n graanoffer bring van drie kilogram meel, gemeng met een en ’n derde liter olie.

7 Daarby saam gaan ’n drankoffer van een en ’n derde liter wyn. Bring dit vir die vreugde van die Here.

8 Wanneer jy ’n jong bul as ’n brandoffer bring of gewone offer om ’n belofte na te kom of as ’n vrede-offer vir die Here,

9 moet jy ook ’n graanoffer van vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olie daarmee saam bring.

10 Ook hier moet jy ’n drankoffer bysit van twee liter wyn. Dit sal ’n offer wees wat vir die Here vreugde verskaf.

11 So moet jy maak met elke bul, of ram, of lam, of bok wat jy offer.

12 Jy moet so maak met elke offer wat jy bring.

13 Elke permanente inwoner moet so maak wanneer hy ’n vuuroffer bring om vir die Here vreugde te bring.

14 Iemand wat tydelik by julle bly of ’n buitelander is wat permanent tussen julle woon, moet presies dieselfde doen wanneer hy ’n offer wil bring wat vir die Here aangenaam sal wees.

15 In die gemeenskap geld een en dieselfde reël vir jou en vir die vreemdeling. Dit is dieselfde reël vir alle geslagte. Voor die Here is jy en die vreemdeling dieselfde.

16 Dieselfde voorskrifte en dieselfde bepalings geld vir jou en die vreemdeling wat by jou oorbly.

17 Die Here het ook vir Moses gesê:

18 “Gee vir die Israeliete die volgende voorskrifte: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee,

19 en julle van die opbrengs van die land eet, moet julle daarvan vir die Here offer.

20 Van die eerste growwe meel wat julle maal, moet julle ’n ringbrood bak wat julle kan offer aan God as ’n geskenk wat van die dorsvloer af kom.

21 Elke geslag moet hierdie offer uit die eerste growwe meel vir die Here bring.

Iemand wat sonder opset

oortree

22 “Iemand kan miskien vergeet om die voorskrifte na te kom wat die Here vir Moses gegee het.

23 Dit kan in die toekoms gebeur dat julle nageslag nalaat om alles te doen wat die Here vir julle deur Moses beveel het.

24 As dit nie doelbewus gebeur het nie en die gemeenskap het nie daarvan geweet nie, moet die hele gemeenskap ’n jong bul as brandoffer bring om vir die Here vreugde te gee. ’n Graanoffer soos dit voorgeskryf is, ’n drankoffer en ’n bokram as sonde-offer moet saamgebring word.

25 Die priester moet versoening bring vir die hele gemeenskap van die Israeliete. Dit sal hulle vergewe word. Dit was nie ’n doelbewuste oortreding nie. Hulle het tog ’n vuuroffer en ’n sonde-offer vir die Here gebring vir hulle oortreding.

26 Al die Israeliete sal vergewe word, ook die vreemdeling en die hele gemeenskap, want dit was ’n onbedoelde oortreding.

27 “As ’n individu onopsetlik sondig, moet hy ’n bokooitjie van ’n jaar oud bring as ’n sonde-offer.

28 Die priester sal die persoon se oortreding met die Here versoen. Die persoon sal vergeef word.

29 As iemand onopsetlik oortree, geld presies dieselfde reël vir sowel die vaste inwoner as die vreemdeling wat by julle bly.

30 “Die persoon wat egter opsetlik oortree, inwoner of vreemdeling, beledig die Here. Daardie persoon moet uit die volk verwyder word.

31 Daardie persoon het die woord van die Here met veragting behandel en sy wette verbreek. Hy moet heeltemal afgesny word. Hy dra self die skuld vir sy oortreding.”

’n Oortreding van die Sabbat

32 Terwyl hulle in die woestyn was, het hulle op ’n man afgekom wat besig was om op die Sabbat hout op te tel.

33 Die mense wat hom gevang het, het hom toe voor Moses, Aäron en die res van die gemeenskap gebring.

34 Hulle het hom aangehou omdat hulle nie geweet het wat om met hom te maak nie.

35 Die Here sê toe vir Moses: “Die man moet tereggestel word! Die hele gemeenskap moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.”

36 Hulle het hom toe buite die kamp gevat en hom daar met klippe doodgegooi, soos die Here vir Moses gesê het.

Herinneringstekens aan hulle

klere

37 Die Here het vir Moses gesê:

38 “Sê vir die Israeliete: Julle moet vir julle klossies maak om aan die soom van julle klere vas te werk. Elke geslag moet dit doen. Werk dit met blou gare aan julle klere vas.

39 Wanneer julle dit sien, sal julle aan al die gebooie van die Here dink sodat julle dit kan nakom. Moenie agter julle eie begeertes en wense aanhardloop soos julle geneig is om te doen nie.

40 Die klossies sal julle daaraan herinner om alles te doen wat die Here gesê het. Julle moet toegewyd wees aan julle God.

41 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here julle God.”

NUMERI 16

Korag, Datan en Abiram se

opstand

1 Korag, die seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saamgesweer met Datan en Abiram, die seuns van Eliab en met On, die seun van Pelet. Hulle was van Ruben se stam.

2 Hulle het saam met 250 mans uit die Israeliete teen Moses in opstand gekom. Hulle was almal bekende leiers wat deur die gemeenskap aangewys is.

3 Hulle het by Moses en Aäron bymekaargekom en vir hulle gesê: “Julle dink te veel van julleself. Almal van die gemeenskap is tog vir God afgesonder. Die Here is onder ons almal. Waarom beskou julle julleself belangriker as die res van die Here se volk?”

4 Toe Moses hoor wat hulle sê, het hy op die grond neergeval.

5 Hy het vir Korag en almal wat met hom saamgespan het, gesê: “Môre-oggend sal die Here wys wie aan Hom behoort en wie vir Hom afgesonder is. Hy sal dié vir wie Hy verkies het, toelaat om naby Hom te kom.

6 Korag, jy en jou meelopers moet vir julle vuurpanne kry.

7 Môre moet julle dan vuurkole daarin sit en voor die Here kom en wierook daaroor sprinkel. Die een vir wie die Here kies, sal die een wees wat vir Hom afgesonder is. Dit is eerder julle Leviete wat te veel van julleself dink!”

8 Moses praat toe weer met Korag: “Luister tog, julle Leviete!

9 Beteken dit dan niks vir julle dat die God van Israel julle vir Hom uit die gemeenskap van Israel eenkant gesit het nie? Hy het dit gedoen sodat julle naby Hom kan wees om Hom namens die gemeenskap by sy tabernakel te dien!

10 Hy het vir jou en jou Levietebroers by jou, naby Hom laat kom. Wil julle dan nou vir julle ook die priesterdiens inpalm?

11 Wat het julle teen Aäron? Dis teen die Here wat jy en jou trawante saamsweer.”

12 Moses het toe Datan en Abiram, die seuns van Eliab, na hom toe laat roep. Hulle het laat weet: “Ons sal nie kom nie!

13 Is dit nie alreeds erg genoeg dat jy ons uit die vrugbare land weggevat het om hier in die woestyn dood te gaan nie? Nou wil jy jouself nog as baas oor ons aanstel!

14 Jy het ons glad nie na ’n vrugbare land toe laat kom nie. Jy het ons nie landerye en wingerde gegee om te besit nie. Probeer jy hierdie mense ’n rat voor die oë draai? Ons sal nie kom nie!”

15 Moses het toe baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “Moenie hulle graanoffers aanvaar nie. Ek het nie eers ’n donkie by een van hulle gevat nie. Ek het nooit enigeen van hulle benadeel nie.”

16 Moses het vir Korag gesê: “Jy en al jou kamerade moet môre hier voor die Here kom. Aäron moet by wees.

17 Laat jy en Aäron en elkeen van jou 250 handlangers ’n vuurpan dra en wierook om daaroor te gooi en kom dan na die Here toe.”

18 Elkeen het toe ’n vuurpan gevat, vuur daarin gesit, wierook daaroor gestrooi en by Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan.

19 Korag het die volk teen hulle opgesweep. Hulle het by die ingang van die tabernakel kom staan. Toe het die hele gemeenskap bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid.

20 Die Here het vir Moses gesê:

21 “Staan weg van hierdie mense af dat Ek hulle met een slag kan vernietig!”

22 Moses en Aäron het toe op die grond neergeval. Hulle het gesmeek: “O God, die God wat asem gee vir alles wat lewe. Moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word net oor een mens wat oortree het?”

23 Die Here het vir Moses gesê:

24 “Sê vir die mense dat hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

25 Moses het toe opgestaan en na Datan en Abiram toe gegaan. Die leiers het agter hom aan getou.

26 Hy het met die mense gepraat en vir hulle gesê: “Staan terug van hierdie slegte mans se tente af! Moet aan niks vat wat aan hulle behoort nie sodat julle nie ook saam vernietig word deur al hulle oortredings nie.”

27 Hulle het toe van die tente van Korag, Datan en Abiram padgegee. Datan en Abiram het uitgekom en saam met hulle vroue, seuns en kindertjies by die ingang van hulle tente gaan staan.

28 Toe het Moses gesê: “Julle sal hieraan weet dat ek nie uit my eie optree nie, maar dat die Here my gestuur het om hierdie dinge te doen.

29 As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, dan het die Here my nie gestuur nie.

30 As die Here egter iets eienaardigs laat gebeur en die grond skeur oop en sluk hulle met al hulle besittings in en hulle sink lewendig in die grond weg, dan sal julle weet dat hierdie mans die Here getart het.”

31 Hy het dit skaars gesê of die aarde het onder hulle oopgeskeur.

32 Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle huisgesinne ingesluk. Dit het ook Korag en sy trawante en alles wat hulle besit het, ingesluk.

33 Hulle het met alles wat hulle besit net so lewendig in die grond verdwyn. Die grond het bo hulle toegegaan. Hulle het heeltemal uit die gemeenskap verdwyn.

34 Toe hulle hoor hoe hierdie mense gil, het al die Israeliete wat rondom hulle gestaan het, op die vlug geslaan. Hulle was bang die grond gaan hulle ook insluk.

35 Vuur het toe van die Here af gekom en dit het die 250 mans verteer wat nadergekom het om die wierook te brand.

36 Die Here sê toe vir Moses:

37 “Sê vir die priester Eleasar, Aäron se seun, dat hy die vuurpanne met wierook uit die brand moet herwin, want hulle behoort aan God. Hy moet die kole gaan weggooi.

38 Hy moet die vuurpanne van die mans wat met hulle lewens vir hulle oortredings betaal het, uitrol om daarvan ’n deksel vir die altaar te maak. Die vuurpanne is in die teenwoordigheid van die Here gebruik en behoort dus nou aan Hom. Hierdie deksel sal vir die Israeliete ’n waarskuwingsteken wees.”

39 Eleasar, die priester, het toe die bronsvuurpanne wat die mans gebruik het toe hulle in die vuur dood is, bymekaargemaak. Hy het daaruit ’n deksel vir die altaar gemaak.

40 Dit sou vir die Israeliete ’n waarskuwing wees dat niemand wat nie uit die nageslag van Aäron kom, sommer mag naderkom om wierook voor die Here te brand nie. Anders sal so ’n persoon soos Korag en sy meelopers word waarteen die Here deur Moses gewaarsku het.

Die Israeliete kom weer in

opstand

41 Net die volgende dag het die Israeliete weer teenoor Moses en Aäron begin kla. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here vermoor!”

42 Toe die Israeliete om hulle begin saamdrom, het Moses en Aäron omgedraai na die tabernakel toe. Die wolk het oor die tabernakel kom hang. Die magtige teenwoordigheid van die Here het verskyn.

43 Moses en Aäron het toe by die ingang van die tabernakel gaan staan.

44 Die Here het vir Moses gesê:

45 “Staan weg van hierdie mense. Ek wil hulle in ’n oogwink vernietig.” Moses het op die grond neergeval.

46 Hy het vir Aäron geskreeu: “Vat gou ’n vuurpan en sit vuur daarop van die altaar af. Strooi wierook daaroor en beweeg vinnig tussen die mense in. Doen versoening vir hulle. Die Here se woede het onder hulle losgebreek. Die plaag het al klaar begin.”

47 Aäron het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het tussen die mense in gehardloop. Die plaag het toe reeds onder hulle losgebreek. Aäron het egter die wierook laat brand en versoening begin doen vir die volk.

48 Hy het tussen dié wat reeds dood was en dié wat nog gelewe het, gaan staan. Die plaag het toe opgehou.

49 In die plaag is daar egter 14 700 mense dood. Dit is nou bo en behalwe dié wat in die Koraggebeure dood is.

50 Toe die plaag ophou, het Aäron teruggegaan na Moses by die ingang van die tabernakel.

NUMERI 17

Bloeisels kom uit Aäron se stok

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Vat twaalf stokke, een vir die leier van elke stam van Israel. Skryf die naam van die leier van elkeen van die stamme daarop.

3 Skryf Aäron se naam op die stok van die Levistam. Daar moet ’n stok wees vir elkeen van die leiers van die stamme.

4 Gaan sit hierdie stokke in die tabernakel daar voor die ark van die verbond neer waar Ek julle ontmoet.

5 Daar sal bloeisels uitkom uit die stok van die leier wat Ek verkies. Ek sal ’n einde maak aan die Israeliete se opstand teen julle.”

6 Moses het toe aan die Israeliete die opdrag gegee dat elkeen van die leiers van die twaalf stamme vir hom ’n stok moes bring met hulle naam daarop. Aäron se stok was ook tussen hulle.

7 Moses het die stokke in die tabernakel voor die Here gaan neersit.

8 Toe Moses die volgende dag in die tabernakel ingaan, kry hy Aäron se stok, wat die stam Levi verteenwoordig, vol bloeisels; dit het gebot en uitgeloop en amandeltjies aangehad.

9 Moses het al die stokke wat voor die Here was, uitgebring na die Israeliete toe. Elke leier het na sy stok kom kyk en dit gevat.

10 Die Here het vir Moses gesê: “Sit Aäron se stok weer terug voor die ark. Laat dit ’n teken wees vir dié wat in opstand kom. Mag dit ’n einde bring aan die geklaery teen My anders sal dit nog hulle dood veroorsaak.”

11 Moses het gemaak soos die Here vir hom gesê het.

12 Die Israeliete het toe vir Moses gesê: “Dit is verby met ons! Ons is almal daarmee heen!

13 Elkeen wat maar net naby die tabernakel van die Here kom, sal doodgaan. Ons is verdoem om dood te gaan!”

NUMERI 18

Die Levistam staan die priesters

by

1 Die Here het met Aäron gepraat: “Jy en jou seuns en jou stam sal verantwoordelik gehou word vir oortredings teen die heiligdom. Jy en jou seuns dra ook verantwoordelikheid vir die priesterwerk.

2 Bring die ander lede van die Levistam en laat hulle by jou aansluit om jou te help. Jy en jou seuns kan dan konsentreer op die tabernakel.

3 Pas op dat hulle nie aan die ark of enigiets daar by die tabernakel vat wanneer hulle hulle werk daar doen nie. Nóg julle nóg hulle sal dan bly lewe.

4 Hulle moet die diens by die tabernakel verrig en hulle pligte uitvoer. Iemand wat nie ’n Leviet is nie, mag egter nie daar naby kom nie.

5 Julle moet self die dienswerk in die heiligdom en by die altaar doen. As julle aan hierdie reël hou, sal die Here nie weer in woede uitbars teen die Israeliete nie.

6 Ek het self die Levistam uit al die Israeliete gekies om julle te help. Hulle is aan die Here afgestaan om die werk by die tabernakel te doen.

7 Jy, saam met jou seuns, moet egter die priesterwerk doen. Julle doen alles wat by die altaar en binne die tabernakel agter die skeidingsgordyn gebeur. Ek het die priesterwerk spesiaal net vir julle gegee. As enigiemand anders dit doen, sal hy nie bly leef nie.”

Die priester se deel van die

offers

8 Die Here het verder ook nog vir Aäron gesê: “Ek het jou aangestel om al die dinge wat die Israeliete vir My bring, te ontvang. Ek het bepaal dat dit aan jou en jou seuns behoort. Dit sal altyd so wees.

9 Die dele van die heel heiligste offers wat nie in die vuur geoffer word nie, is joune. Daardie gedeeltes van die maaltydoffer, sonde-offer en skuldoffer wat die volk vir My bring, kom jou en jou seuns toe.

10 Julle kan dit eet. Julle moet dit egter sien as iets wat besonder heilig is. Al die mans mag daarvan eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees.

11 “Die offers wat die Israeliete vir My bring wat na My uitgehou word by die altaar, behoort ook aan jou. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters. Dit is ’n vaste instelling. Almal in jou huis wat rein is, mag daarvan eet.

12 “Al die beste olyfolie, wyn en graan wat vir die Here gebring word, gee Ek ook vir jou.

13 Die eerste oes van die land wat hulle vir die Here bring, is ook joune. Almal in jou huis wat rein is, mag dit eet.

14 Enigiets of iemand wat spesiaal aan die Here afgestaan is, word ook joune.

15 Elkeen, mens of bees, wat eerste gebore word en wat aan die Here afgestaan word, is ook joune. Onthou dat elke mens wat eerste gebore word, losgekoop moet word. Onrein diere se eersteling moet ook losgekoop word.

16 Koop hulle los wanneer hulle ’n maand oud is. Die loskoopprys is 50 gram silwer. Dit is volgens die standaardgewig van die heiligdom.

17 Jy mag nie die eersgeborene van ’n bees, ’n skaap of ’n bok loskoop nie. Hulle behoort aan die Here. Hulle bloed moet teen die altaar gesprinkel word en hulle vet as ’n vuuroffer gebring word. Dit is aangenaam vir die Here.

18 Jy kan egter hulle vleis vat. Dit is joune, net soos die borsstuk en die regterboud van die offer wat na die Here toe uitgehou word, ook aan jou behoort.

19 Al hierdie heilige offers wat die Israeliete vir die Here bring, gee Ek vir jou en jou kinders. Dit sal altyd julle deel wees. Dit is ’n onverbreekbare ooreenkoms tussen die Here en jou en jou nageslag.”

Die Leviete se erfdeel

20 Die Here het vir Aäron gesê: “Jy sal nie grond kry in julle land nie. Jy sal nie saam met jou volk eiendom besit nie. Ek is jou erfporsie en jou aandeel in Israel.

21 Vir die werk wat hulle by die tabernakel doen, vergoed Ek die stam van Levi met al die tiendes wat Israel bring.

22 “Die Israeliete mag van nou af nie meer by die tabernakel kom nie. Dit sal as ’n oortreding beskou word wat lei tot die dood.

23 Die Leviete moet by die tabernakel werk. Hulle dra die verantwoordelikheid daarvoor. Dit is ’n onveranderlike wet. Hulle sal egter nooit enige grond tussen die Israeliete besit nie.

24 Ek gee die tiendes wat die Israeliete vir die Here offer aan die Leviete as hulle deel. Dit is waarom Ek gesê het dat die Leviete nie ’n erfporsie onder die Israeliete kry nie.”

25 Die Here het vir Moses gesê:

26 “Sê vir die Leviete: Wanneer Ek vir julle die tiendes wat die Israeliete vir My offer, as erfdeel vir julle gee, moet hulle weer ’n tiende daarvan vir die Here gee. Dit is dus ’n tiende van ’n tiende.

27 Dit sal beskou word asof dit julle graan van die dorsvloer af en julle eerste wyn van die wynpers af is.

28 So sal julle van die tiendes wat julle van die Israeliete kry, ook julle offer vir die Here bring. Oorhandig julle tiende daarvan aan die priester Aäron.

29 Sorg dat julle die heel beste daarvan vir die Here gee.

30 “Sê vir hulle: Wanneer julle die beste dele daarvan gee, word dit beskou as die Leviete se offer uit die oes en die druiwevat.

31 Jy en jou huis mag op enige plek daarvan eet. Dit is jou vergoeding vir die werk wat jy by die tabernakel doen.

32 Solank jy die beste deel daarvan gee, sal niks teen jou gehou kan word nie. Jy moet nooit die heilige dinge van die Israeliete minag nie, want dan sal jy sterf.”

NUMERI 19

Die rooi koei

1 Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Hier is nog ’n opdrag wat die Here bepaal het: Sê vir die Israeliete hulle moet ’n gesonde rooi koei vat wat geen foute het nie. Sy moes ook nog nooit onder ’n juk ingespan gewees het nie.

3 Gee haar vir die priester Eleasar. Hy sal haar buite die kamp vat waar sy voor hom geslag sal word.

4 Eleasar sal dan van die bloed vat en dit met sy vinger sewe keer voor die tabernakel gaan sprinkel.

5 Terwyl hy toekyk, moet die vel, die karkas, die bloed en die binnegoed verbrand word.

6 Hy moet sederhout, ’n hisoptakkie en rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word.

7 “Die priester moet dan sy klere en homself met water was. Daarna kan hy na die kamp toe teruggaan. Die priester is egter onrein tot die aand toe.

8 Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere en homself met water was. Hy is ook onrein tot die aand toe.

9 Iemand wat rein is, moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n plek gaan uitgooi wat daarvoor eenkant gesit is. Dit sal daar gehou word vir die gemeenskap van Israel om in die water van die reinigingseremonie te gebruik.

10 Die man wat die as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was. Hy is ook onrein tot die aand toe. Dit is ’n onveranderbare voorskrif vir sowel die Israeliete as die vreemdelinge wat tydelik by hulle bly.

Iemand wat aan ’n lyk vat

11 “Iemand wat aan ’n lyk vat, is sewe dae lank onrein.

12 Hy moet homself op die derde en op die sewende dag reinig. As hy dit nie op die derde en sewende dag doen nie, sal hy onrein bly.

13 Iemand wat aan ’n lyk vat en homself nie reinig nie, maak die Here se tabernakel onrein. Hy sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word. Omdat daar nie reinigingswater oor hom gesprinkel is nie, sal hy onrein bly.

14 “Die reël vir iemand wat in ’n tent doodgaan, is dat almal wat in daardie tent ingaan en almal wat reeds in die tent was toe hy dood is, onrein is vir sewe dae.

15 Enige leë houer waarop daar nie ’n deksel was nie, is ook onrein.

16 Iemand wat buite in die veld aan ’n lyk vat van iemand wat met ’n swaard doodgemaak is of vanself doodgegaan het, en iemand wat aan ’n mens se beendere of ’n graf vat, is vir sewe dae onrein.

17 “Vat van die as van die offer wat buite die kamp verbrand is, sit dit in ’n houer en gooi vars water daaroor uit om daarmee die onreinheid weg te vat.

18 Iemand wat rein is, moet ’n hisoptakkie vat en dit in die water doop. Hy moet daarvan teen die tent sprinkel en oor alles wat daarin is en oor enige mens wat daarbinne was. Hy moet dit ook sprinkel oor iemand wat aan doodsbeendere gevat het, of verontreinig is deur iemand wat vanself dood is of aan ’n graf gevat het.

19 Die rein persoon moet op die derde dag en die sewende dag water sprinkel oor dié wat onrein is. Op die sewende dag moet dié wat onrein was, hulle klere en hulleself was. Daardie aand sal hulle weer rein wees.

20 “Iemand wat onrein geword het en nie hulleself reinig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. Hulle het die Here se tabernakel onrein gemaak. Daar is nie reinigingswater oor hulle gesprinkel nie. Hulle bly onrein.

21 Dit is vir julle ’n reël wat onveranderlik vas staan. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet ook sy klere was. Enigeen wat aan die reinigingswater vat, sal onrein wees tot in die aand.

22 Enigeen aan wie die persoon wat onrein is vat, sal ook onrein wees tot die aand toe.”

NUMERI 20

Water uit die rots by Meriba

1 Die Israeliete het in die vroeë lente in die Sinwoestyn aangekom. Hulle het by Kades kamp opgeslaan. Mirjam is daar dood en begrawe.

2 Daar was nie genoeg water vir die mense om te drink nie. Hulle het toe op Moses en Aäron toegesak.

3 Hulle het in opstand gekom teen Moses en vir hom gesê: “Ons moes maar liewer saam met die ander voor die Here doodgegaan het!

4 Hoekom het julle die Here se mense na hierdie woestyn toe gelei sodat ons hier saam met ons vee kan doodgaan?

5 Waarom het julle ons uit Egipte weggevat en ons na hierdie onleefbare plek gebring? Hier is nie landerye of vyebome of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie!”

6 Moses en Aäron is van die mense af weg na die ingang van die tabernakel toe. Daar het hulle vooroor gekniel. Die magtige teenwoordigheid van die Here het na hulle gekom.

7 Die Here het vir Moses gesê:

8 “Gaan vat die stok voor die altaar. Jy en Aäron moet al die mense bymekaarkry. Terwyl hulle kyk, moet jy die rots beveel om water te gee. Daar sal genoeg water uit die rots kom sodat die mense en hulle diere hulle versadig kan drink.”

9 Moses het gemaak soos die Here gesê het en die stok by die ark gaan haal.

10 Moses en Aäron het die mense by die rots bymekaargekry. “Luister, julle opstandige mense,” het hy vir hulle gesê. “Moet daar vir julle water uit die rots kom?”

11 Moses het sy hand opgelig en twee keer met die stok teen die rots geslaan. Daar het toe water uitgeborrel. Al die mense en hulle vee het gedrink totdat hulle versadig was.

12 Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle het my nie genoeg vertrou om vir die Israeliete te wys hoe heilig Ek is nie. Jy sal daarom nie hierdie mense inlei in die land wat Ek vir julle sal gee nie.”

13 Vandaar die naam “Waters van Meriba”, want die Israeliete het daar met die Here getwis. Daar het Hy vir hulle gewys hoe heilig Hy is.

Edom weier Israel toegang

14 Moses het van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur: “Jou broersvolk Israel sê: Jy weet watter ontberings ons gely het.

15 Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel.

16 Ons het die Here om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land.

17 “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.”

18 Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!”

19 Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.”

20 Hy het teruggeantwoord: “Julle trek nie hier deur nie!” Edom het toe met ’n groot en goed gewapende weermag uitgetrek om teen hulle te veg.

21 Omdat Edom geweier het om Israel toestemming te gee om deur sy gebied te trek, het Israel van hom af weggeswenk.

22 Hulle is toe weg van Kades af en die groep Israeliete het by die Horberg aangekom.

Aäron se dood

23 By die Horberg, op die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

24 “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie na my luister by die water van Meriba nie.

25 Vat nou vir Aäron en sy seun Eleasar saam met jou en klim uit teen die berg Hor.

26 Trek Aäron se ampsklere uit. Trek dit dan vir sy seun Eleasar aan. Aäron sal daar sterf en met sy vaders verenig word.”

27 Moses het gemaak soos die Here gesê het. Terwyl die volk staan en kyk, het hulle teen die Horberg uitgeklim.

28 Moses het Aäron se klere uitgetrek en sy seun Eleasar dit laat aantrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf. Moses en Eleasar het toe van die berg afgeklim.

29 Toe die mense sien dat Aäron dood is, het die hele Israel 30 dae lank oor hom gerou.