NAHUM 1

1 Die boodskap wat volg, het Nahum in ’n visioen ontvang. Nahum was van Elkos afkomstig.

Die Here se woede teenoor

Nineve

2 Die Here is ’n God

wat absolute lojaliteit vra.

Hy is vol wraak en woede.

Hy wreek Hom op al sy teenstanders

en vernietig sy vyande.

3 Die Here word stadig kwaad,

maar sy krag is groot.

Hy laat skuldiges nie ongestraf nie.

Hy kom in warrelwinde en storms,

wolke is die stof onder sy voete.

4 Hy beveel, en oseane en riviere

droog op,

die groen weivelde van

Basan en Karmel

verdroog,

die botsels van Libanon

verdor.

5 Berge skud in sy teenwoordigheid

en die heuwels smelt weg.

Hy laat die aarde bewe,

so ook die wêreld

en die mense wat dit bewoon.

6 Wie is bestand teen sy woede?

Wie sal die gloed

van sy toorn oorleef?

Sy woede brand soos ’n vuur.

Rotse verkrummel voor Hom tot stof.

7 Die Here is goed.

In tye van nood

is Hy ’n veilige vesting.

Hy beskerm elke mens

wat op Hom vertrou.

8 Maar Hy tref dié

wat teen Hom in opstand kom

soos ’n vloedgolf.

Hy agtervolg sy vyande

die donkerte in.

9 Hoekom beraam julle planne

teen die Here?

Hy sal dit op niks laat uitloop nie.

Daar sal nie weer

so ’n bedreiging kom nie.

10 Sy vyande is soos vervlegte dorings,

soos slingerende dronkaards.

Maar Hy sal hulle soos droë strooi

verbrand.

11 Wie is hierdie koning van julle

wat durf waag

om bose planne

teen die Here te beraam?

12 Die Here sê:

“Selfs al het Assiriërs

baie bondgenote,

hulle sal vernietig word

en van die toneel af verdwyn.

My volk,

Ek het julle alreeds tevore gestraf,

maar Ek sal dit nie weer doen nie.

13 Ek breek nou die juk

wat julle onderdruk

en bevry julle van hulle oorheersing.”

14 Dit sê die Here vir die Assiriërs:

“Julle sal nie kinders hê

wat julle name laat voortleef nie.

Al die beelde in julle afgodstempels

sal Ek vernietig.

Ek berei ’n graf vir julle voor,

want julle is afstootlik

en verdien nie om te leef nie!”

15 Kyk! ’n Boodskapper met goeie nuus

kom oor die berge!

Hy bring ’n boodskap van vrede.

Mense van Juda,

vier julle feeste,

betaal julle geloftes.

Julle vyande is verslaan!

Hulle sal julle land

nooit weer binneval nie.

NAHUM 2

Die ondergang van Nineve

1 Vyandelike leërs omsingel jou,

Nineve!

Beman julle wagposte!

Hou die paaie dop!

Wees slaggereed!

Versterk jou met alle mag!

2 Die land Israel lê kaal geplunder,

verwoes ná julle invalle.

Maar die Here sal weer

die eer en roem van Israel herstel.

3 Die geveg teen Nineve begin.

Die son blits rooi op die skilde.

Helderrooi is hulle uniforms.

Die son blink op die strydwaens

gereed vir die geveg,

en spiese word rondgeswaai.

4 Die strydwaens jaag roekeloos

deur die strate en oor die pleine.

Hulle flikker soos fakkels,

en blits verby soos weerlig.

5 Die koning beveel sy offisiere,

maar hulle struikel in hulle haas.

Hulle jaag na die stadsmure

om verdedigingslinies op te stel.

6 Te laat, die riviersluise is reeds oop!

Die paleis stort weerloos inmekaar!

7 Nineve se ballingskap is seker,

en die diensmeisies treur daaroor.

Hulle kla soos duiwe wat koer,

en gebroke slaan hulle

op hulle bors.

8 Nineve is soos ’n

lekkende opgaardam,

die inwoners verdwyn daaruit!

“Staan stil! Staan stil!”

word hulle beveel,

maar niemand draai om nie.

9 Steel die silwer, buit die goud!

Daar is net nie ’n einde

aan Nineve se skatte nie!

Daar is oneindig baie

kosbare voorwerpe!

10 Die stad is leeggedra,

kaalgestroop en verwoes.

Harte smelt en knieë knak,

hulle bene bewe,

en almal se gesigte is bleek.

11 Waar is die lêplek van die leeus,

die voerplek van die welpies?

Waar is Nineve,

die leeu van die nasies,

wie se wyfie en welpies kon loop

en sonder vrees gelewe het?

12 Jy het jou vyande verskeur

om jou welpies en wyfie te voed.

Jou stede en huise was vol met buit,

jou rusplekke gevul met roof.

13 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek is jou vyand!

Ek sal jou strydwaens

in rook en vlamme laat opgaan.

Die swaard sal jou soldate afmaai,

sonder enige buit op die aarde.

Die stemme van jou boodskappers

sal vir altyd stil wees.”

NAHUM 3

Die Here se oordeel oor Nineve

1 Dit sal sleg gaan met Nineve,

stad van moord en leuens.

Vol met buit, maar roof sonder ophou.

2 Swepe klap, wiele dreun!

Perde jaag, strydwaens bokspring!

3 Ruiters kom aangejaag,

swaarde blink en spiese blits.

Daar is baie dooies, hope liggame,

en mense struikel oor tallose lyke.

4 Nineve, die mooi en sedelose vrou,

is die oorsaak hiervan,

sy wat guns wen

met haar betowering,

wat volke verslaaf

met haar onsedelikheid

en families met haar toorkuns.

5 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek is jou vyand!

Ek sal jou rokke bo-oor jou gesig oplig

sodat die hele wêreld

jou naaktheid en skande kan aanskou.

6 Ek sal jou met mis besmeer

en jou verneder.

Ek sal ’n bespotting van jou maak.

7 Almal wat jou sien,

sal met afgryse wegdraai en sê:

‘Nineve lê heeltemal verwoes,

maar wie gee om?’

Waar kry Ek iemand om jou te troos?”

8 Is jy enigsins beter as Tebes,

gevestig aan die Nyl,

’n stad omring met riviere,

beskut met water aan alle kante?

9 Hulle bron van krag was

Etiopië en Egipte,

wat gelyk het of hulle

geen einde het nie.

Put en Libië was hulle bondgenote.

10 Nogtans is Tebes ingeneem

en sy inwoners weggevoer

as ballinge.

Op die straathoeke

is hulle babas doodgeslaan.

Die lot is gewerp oor belangrike leiers,

vernames is met kettings geboei.

11 Nineve, ook jy sal slinger

soos ’n dronkaard.

Uit vrees vir die vyand

sal jy soek na ’n skuiling,

na ’n beskerming van die vyand.

12 Al jou vestings is soos vyebome

met die eerste ryp vye.

Wanneer ’n mens die boom skud,

val die vye in die mond van die eter.

13 Kyk na jou soldate,

hulle is so swak soos vroue.

Jou landsgrense is wawyd oop

vir jou vyand.

Die sluitbalke van jou poorte

is met vuur verbrand.

14 Maak gereed vir die inval!

Gaar water op,

versterk jou vestings!

Gaan staan in die kleiput,

brei die klei!

Versterk die steenvorms!

15 Daar sal julle deur vuur

verteer word,

of deur die swaard sneuwel,

soos sprinkane wat julle verorber.

Vermeerder soos sprinkane,

word baie soos treksprinkane!

16 Jou stad is vol handelaars,

talryk soos sterre in die hemel.

Soos ’n swerm sprinkane stroop hulle

die land en vlieg weg.

17 Jou wagte is soos sprinkane,

jou beamptes

soos treksprinkane.

Hulle drom saam op die klipmure

om die koue te oorleef.

Maar as die son opkom,

vlieg hulle weg

en niemand weet waarheen nie.

18 Koning van Assirië,

jou leiers sluimer,

jou vername mense slaap.

Jou volk is op die berge versprei,

met niemand

wat hulle versamel nie.

19 Jou wond kan nie meer genees nie,

jou siekte is noodlottig.

Almal wat van jou ondergang hoor,

klap hulle hande van blydskap.

Want wie het nie

onder jou wreedheid gely nie?