MIGA 1

1 Gedurende die bewind van Jotam, Agas en Hiskia het die Here boodskappe vir Miga van Moreset gegee. Hy het visioene gesien wat bestem was vir Samaria en Jerusalem.

Ontsteltenis oor Samaria

en Jerusalem

2 Let op, nasies van die wêreld,

julle wat die aarde bewoon!

Die oppermagtige Here

kla julle aan.

Die Here sal getuig

uit sy heilige tempel.

3 Kyk, die Here is op pad!

Hy verlaat sy troon

en kom af aarde toe.

Hy kom loop hier

op die hoë plekke.

4 Die berge smelt onder Hom.

Soos was wat smelt,

vloei hulle die valleie binne;

soos water

wat afvloei teen die heuwels.

5 Hoekom gebeur dit?

Omdat Israel en Juda

sonde doen en opstandig is.

Wie moet die blaam dra

vir Israel se opstand?

Is dit nie Samaria nie?

Waar in Juda is die offerplekke

vir die afgode?

Is dit nie Jerusalem nie?

6 “Ek gaan Samaria

tot ’n puinhoop maak,

’n plek om wingerde te plant.

Die klippe

waarmee die stad gebou is,

gaan Ek in die vallei laat afrol.

Die fondamente

gaan Ek blootlê.

7 Al die beelde in die stad

sal stukkend geslaan word.

Al die skatte

uit prostitusie verdien,

sal met vuur verbrand word.

Al haar afgodsbeelde

sal Ek vernietig.

Sy het uit prostitusie

haar verdienste bekom.

Vir die doel van prostitusie

sal hulle weer gebruik word.”

8 Daarom sal ek huil en treur,

sal ek kaalvoet rondloop,

sonder klere.

Ek sal tjank soos ’n jakkals

en brom soos ’n volstruis.

9 My volk se wond

is ongeneeslik.

Dit tref die mense van Juda.

Dit reik selfs

tot by die poorte van Jerusalem.

10 Moenie dit in Gat vertel

en daaroor huil nie.

Mense van Bet-Leafra,

rol liewer in die stof

as teken van julle ontsteltenis.

11 Inwoners van Safir,

gaan in ballingskap,

naak en vernederd.

Inwoners van Saänan,

waag dit nie buite nie.

Die mense van Bet-Esel treur,

want hulle stad se fondasie

is weggeruk.

12 Die inwoners van Marot

wag in spanning

dat verligting sal kom,

want die Here se oordeel

het al gekom

tot by die poorte

van Jerusalem.

13 Inwoners van Lakis,

span in die strydwaens!

In Lakis het

die sonde van Juda begin.

Die ontrouheid van Israel

het by julle begin.

14 Stuur ’n afskeidsgeskenk

na Moreset-Gat.

Die dorp Aksib

het die konings van Israel

mislei.

15 Inwoners van Maresa,

Ek stuur ’n oorwinnaar

teen julle.

Die eer van Israel

sal tot by Adullam kom.

16 Skeer van hartseer

’n kaal kol op julle koppe

ter wille van die kinders

wat julle liefhet.

Skeer julle koppe kaal

soos ’n aasvoël.

Want hulle sal

van julle weggevat word

en in ballingskap

geneem word.

MIGA 2

Oordeel oor ryk onderdrukkers

1 Verskriklike dinge

lê in die vooruitsig vir julle

wat snags op julle beddens lê

en bose planne bedink.

Vroegoggend staan julle op

en voer dit uit

omdat julle die mag het

om dit te doen.

2 As julle ’n stuk grond wil hê,

lê julle beslag daarop.

As julle iemand se huis wil hê,

vat julle dit

van hulle af.

Nie eers iemand se familie

of erfgrond

is veilig nie!

3 Maar die Here sê:

“Ek sal kwaad

met kwaad vergeld.

Daar is nie ’n kans

dat julle sal ontsnap nie!

Julle gaan ’n slegte tyd beleef,

niks gaan oorbly

van julle trots nie.”

4 Daardie dag

sal julle vyande

met julle spot.

Hulle sal ’n treurlied sing en sê:

“Dit is verby met ons,

ons is

heeltemal geruïneer!

God het ons land

van ons af weggevat.

Hy het dit verdeel

onder die mense

wat ons verraai het.”

5 Wanneer die land verdeel word,

sal die Here se mense

geen sê hê nie.

Ander mense

sal julle grense vasstel.

Ware en vals profete

6 Die mense sê:

“Moenie sulke dinge kwytraak

of profeteer nie.

So ’n skande

sal nie oor ons kom nie!”

7 Israel, behoort julle so te praat?

Sal die Here geduld hê

met sulke gedrag?

As julle doen wat reg is,

sal my uitsprake

vir julle aanvaarbaar wees.

8 Maar nou is my eie mense

vyandig en opstandig.

Julle gryp mense

en skeur die klere af

van hulle wat rustig verbyloop

soos soldate op pad terug

van ’n veldslag af.

9 Julle verdryf die vroue

van my volk

uit hulle gerieflike huise.

Julle ontneem hulle kinders vir altyd

van die seëninge,

van hulle godgegewe erfdeel.

10 Staan op!

Maak dat julle wegkom!

Hierdie land

sal nie meer vir julle

’n rusplek wees nie.

Dit is besoedel,

in ’n ongeneeslike toestand!

11 Die soort profeet

wat julle sou verkies,

is ’n profeet

wat leuens vertel

en vir julle sê:

“Ek sal julle vertel

van al die voordele

wat wyn en sterk drank

vir julle kan bring.”

Hoop op herstel

12 “Eendag, Israel,

sal Ek julle almal

terugbring.

Die oorblyfsels van Israel

sal Ek sekerlik

weer bymekaarbring.

Ek sal hulle bymekaarbring

soos skape in ’n kraal,

soos ’n trop skape in die veld.

Julle land sal weerklink

van die gedreun van mense.

13 Julle leier

sal deur die linies breek

en julle uit ballingskap lei.

Hy sal julle lei

deur die poorte van die stede,

julle sal deur die poorte breek

op pad na julle eie land toe.

Julle koning

sal voor julle uit gaan.

Die Here self sal julle lei.”

MIGA 3

Oordeel oor Israel se leiers

1 Luister, leiers van Israel!

Is julle nie veronderstel

om te onderskei

tussen reg en verkeerd nie?

2 Julle haat egter wat goed is

en is lief vir wat sleg is.

Julle slag mense lewendig af

en skeur hulle vleis

van hulle bene af.

3 Julle eet my volk se vleis,

sny hulle velle af,

breek hulle bene aan stukke.

Julle kap hulle op

soos vleis vir die kookpot.

4 As julle na die Here roep

vir hulp in nood,

sal Hy Hom nie

aan julle steur nie.

Na al die verkeerde dinge

wat julle gedoen het,

sal Hy julle ignoreer!

5 Die Here sê

vir die vals profete:

“Julle mislei my volk!

Julle beloof vrede vir die mense

wat vir julle kos gee,

maar verklaar oorlog teen hulle

wat weier om te betaal.

6 Dit gaan nag wees vir julle

sonder enige visioene.

Die duisternis sal maak

dat julle niks

oor die toekoms kan sê nie.

Die son gaan sak vir die profete.

Hulle dae is getel.

7 Die sieners

sal in die skande kom,

die waarsêers

sal verleë staan.

Uit skaamte sal hulle almal

hulle gesigte bedek,

want daar is geen antwoord

van God nie.”

8 Wat my lewe betref,

ek is vol van die Geesteskrag

van die Here.

Regverdigheid en sterkte

vul my lewe.

Sonder enige vrees

sal ek

met die mense van Israel praat

oor hulle opstand

en sondes.

9 Luister na my, leiers van Israel!

Julle haat regverdigheid

en verdraai die reg.

10 Julle bou Jerusalem

op ’n fondasie

van moord en bedrog.

11 Julle leiers lewer uitsprake

vir omkoopgeld.

Julle priesters onderrig mense

teen vergoeding.

Julle profete voorspel

teen betaling.

Tog verwag hulle

dat die Here hulle sal help.

Hulle sê:

“Die Here is by ons,

geen kwaad sal ons tref nie.”

12 Julle is die oorsaak

dat die tempel gaan wees

soos ’n omgeploegde land.

Jerusalem

sal soos ’n puinhoop lyk

en die tempelberg

soos ’n toegegroeide heuwel.

MIGA 4

Die Here sal regeer

1 ’n Tyd sal aanbreek

wanneer die Here se tempel

in Jerusalem

die belangrikste plek

op aarde sal wees.

Mense sal van oral af kom

om daar te aanbid.

2 Baie nasies sal kom en sê:

“Kom laat ons opgaan

na die berg van die Here,

na die tempel

van die God van Israel.

Hy sal ons leer hoe om te lewe

sodat ons aan Hom

gehoorsaam kan wees.”

Dan sal die gebooie uitgaan

vanuit die tempel

en die woord van die Here

uit Jerusalem.

3 Geskille tussen baie volke

sal Hy oplos.

Van hulle swaarde sal nasies

ploegskare maak

en van hulle spiese,

snoeiskêre.

Oorloë sal ophou

en ook militêre opleiding.

4 Almal sal rustig woon

terwyl hulle vrede

en voorspoed geniet.

Hulle sal nie enige rede hê

om bang te wees nie.

Dit is ’n belofte van

die Here, die Almagtige!

5 Elke nasie kan sy vertroue stel

in hulle gode,

maar ons sal vir altyd

ons vertroue stel

op die Here ons God.

Terugkeer uit ballingskap

6 Die Here sê:

“In die tye wat kom,

gaan Ek my mense

bymekaarmaak.

Dit sluit in die kreupeles

wat in ballingskap is

en dié wat Ek

met rampe getref het.

7 Hulle is verswak

en ver van hulle huise af,

maar Ek sal hulle weer

’n sterk en magtige nasie maak.

Ek, die Here,

sal hulle Koning wees.

Ek sal vir ewig in Jerusalem

oor hulle regeer.

8 Jerusalem, veilige vesting

vir God se mense,

Ek sal jou mag herstel.

Jerusalem sal weer soos vroeër

die stad wees

waar die koning regeer.”

9 Maar waarom skreeu jy nou

so benoud?

Het jy dan nie ’n koning nie?

Het jou raadgewers verdwyn?

Angs het jou vasgegryp,

soos ’n vrou wat in kraam is.

10 Mense van Jerusalem,

ervaar pyn en benoudheid

soos ’n vrou in kraam!

Julle sal die stad moet verlaat

om op die oop velde te bly.

Julle gaan binnekort

in ballingskap

na Babel toe geneem word.

Maar die Here sal julle daar red.

Hy sal julle verlos

uit die mag van julle vyande.

11 Baie volke het hulle kragte

teen jou saamgespan.

Hulle soek jou bloed

en is gretig om die ondergang

van Jerusalem te aanskou.

12 Maar hulle weet nie

hoe die Here dink nie

en verstaan nie sy planne nie.

Hy gaan hulle bymekaarmaak

soos gerwe

op die dorsvloer.

13 Die Here sê vir Jerusalem:

“Maak jou gereed

en vernietig die nasies!

Ek sal vir jou ysterhorings

en koperhoewe gee

sodat jy baie nasies

kan vertrap.

Gee al die rykdom

wat jy so bekom

as offers aan My.

Ek is die Here

van die hele wêreld.”

’n Regeerder uit Betlehem

14 Kry jou manskappe gereed

vir ’n inval,

want ons is omsingel.

Hulle sal die koning van Israel

met ’n stok in sy gesig slaan.

MIGA 5

1 Betlehem-Efrata,

jy is ’n klein dorpie in Juda.

Tog sal daar uit jou

vir My ’n regeerder kom

wat oor Israel sal heers.

Sy oorsprong is

uit die verre verlede.

2 Hy sal die mense van Israel

uitlewer

totdat die vrou wat verwag,

geboorte gee.

Eers dan sal sy volksgenote

terugkeer

na die land van Israel.

3 Hy sal oor sy kudde regeer

met die krag van die Here

en die magtige Naam

van die Here sy God.

Sy volk sal dan veilig kan woon,

want hy sal deur

die hele wêreld geëer word.

4 Hy sal die bron van vrede wees.

Wanneer Assirië ons land

binneval

en deur ons verdediging bars,

sal ons meer as sewe herders,

selfs agt leiers

teen hulle laat veg.

5 Hulle sal Assirië

met die swaard regeer,

die land Nimrod by sy ingange.

Hy sal ons red van die Assiriërs

as hulle ons grense oorsteek

en ons land binneval.

’n Gesuiwerde oorblyfsel

6 Die mense van Israel

wat oorbly,

sal tussen die talle volke wees

soos dou

wat die Here stuur.

Hulle sal wees soos reën

wat op die gras val.

Geen mens

het beheer daaroor nie.

7 Dié van Israel wat oorbly,

sal soos ’n sterk leeu

tussen die talle volke wees.

Die ander volke sal wees

soos hulpelose skape,

niemand sal hulle kom red nie.

8 Israel sal teen hulle teenstanders

in opstand kom,

hulle sal al hulle vyande uitroei.

9 Die Here sê:

“In dié tyd sal Ek

ook al jou perde

en jou strydwaens vernietig.

10 Ek sal jou mure platslaan

en al jou vestings afbreek.

11 Ek sal jou heksery stopsit

en jou waarsêers uitroei.

12 Ek sal al jou afgode

en jou klippilare vernietig.

Jy sal nooit weer

jou eie handewerk

aanbid nie.

13 Jou gewyde pale

vir die vrugbaarheidsgodin

sal Ek vernietig

en jou stede verwoes.

14 Ek sal in woede wraak neem

op al die nasies

wat weier

om My te gehoorsaam.”

MIGA 6

Klagte teen Israel

1 Luister wat die Here sê:

“Staan op en stel jou saak

terwyl die berge

en die heuwels na jou luister.

2 Berge, vaste fondamente

van die aarde,

luister na die klag van die Here!

Die Here maak ’n regsaak

teen sy volk.

Hy lê ’n klag teen Israel.

3 “My volk,

wat het Ek julle aangedoen?

Waarmee het Ek julle oorlaai?

Antwoord My!

4 Ek het julle tog uit Egipte

gebring,

julle uit slawerny gered.

Ek het Moses, Aäron en Mirjam

gestuur om julle te help.

5 My volk, onthou julle nie

hoe koning Balak van Moab

probeer het

om ’n vloek op julle te plaas nie?

In plaas daarvan het Bileam,

Beor se seun, julle geseën.

Verder, onthou julle julle reis

van Sittim af Gilgal toe?

Ek, die Here, het alles in my

vermoë gedoen

om julle van my getrouheid te leer.”

6 As ’n mens kom om die Here

te aanbid,

wat moet jy saambring?

Moet ons God aanbid deur

jaaroud kalwers te offer?

7 Sal dit vir die Here

aanvaarbaar wees

as ons duisende ramme offer

of tienduisende strome

olyfolie aanbied?

Sal dit Hom bly maak

as ons ons oudste kinders offer

om te vergoed vir ons sonde?

8 Nee, Hy het reeds gesê

wat reg is.

Die Here verwag van julle

om reg te laat geskied,

om liefde en trou te bewys,

en om nederig voor God

te lewe.

Jerusalem se skuld en straf

9 Jerusalem, luister na die Here!

Verstandige mense

respekteer die Here se Naam.

“Neem kennis:

van die straf

en wie dit veroorsaak.

10 Gaan julle ooit ophou

om deur kullery ryk te word?

In die huise

van die oneerlike mense

is vals maatbakke en -bekers.

11 Sal Ek ’n man vryspreek

wat vals mate

en vals gewigte gebruik?

12 Mense in die stad word ryk

deur geweld te gebruik.

Die inwoners is gewoond

om te lieg en te bedrieg.

13 “Om dié rede

gaan Ek julle dodelik tref!

Ek gaan julle vernietig

oor al julle sondes.

14 Julle sal eet,

maar nie versadig word nie.

Julle hongerpyne

sal nie weggaan nie.

Julle sal spaar,

maar niks bymekaarmaak nie.

Die bietjie

wat julle wel oorhou,

sal in gevegte tot niet gaan.

15 Julle sal saai,

maar nie oes nie.

Julle sal olywe pars,

maar nie genoeg kry

om julle te salf nie.

Julle sal druiwe pars,

maar julle sal nie

die wyn drink nie.

16 Julle gehoorsaam

net die wette van Omri

en volg al die gebruike

van Agab se familie na!

Ek sal van julle

’n voorbeeld maak

en julle verwoes.

Hulle sal julle inwoners spot,

ander volke sal julle minag.”

MIGA 7

Ellende verander in hoop

1 Dit gaan ellendig met my!

Ek voel soos iemand

in ’n vrugteboord

nadat die oes al afgepluk is.

Daar het nie ’n trossie druiwe

of ’n enkele vy oorgebly

wat my honger kan stil nie.

2 Al die gelowige mense

het verdwyn.

’n Mens kry nie meer

eerlike mense nie.

Hulle is almal

moordenaars,

hulle stel vernietigende strikke

vir hulle eie mense.

3 Hulle hande

staan vir niks verkeerd

as dit by verkeerd doen kom nie.

Die amptenare

eis omkoopgeld

net soos die regters.

Mense in belangrike posisies

maak hulle wense bekend,

sweer met hulle saam

en verdraai dan die reg.

4 Die bestes onder hulle

is soos ’n gifplant,

die eerlikstes soos ’n bos

met gevaarlike dorings.

Maar die dag van afrekening

is baie naby.

Dit sal ’n tyd

van groot chaos wees.

5 Tel jou woorde!

Moet niemand vertrou nie,

nie eers ’n beste vriend

of selfs jou vrou of man nie.

6 ’n Seun sal sy pa verag.

’n Dogter sal opstandig wees

teen haar ma

en ’n skoondogter

teen haar skoonma.

Jou vyande

sal in jou eie huis wees!

7 Ek, daarenteen,

sien met verwagting uit

na wat die Here gaan doen.

Ek wag in vertroue

dat God my moet red.

My God sal my verseker verhoor!

8 My vyande, julle moenie

julle oor my verlekker nie!

Ek het geval,

maar ek sal weer opstaan.

Al sit ek nou in duisternis,

die Here is ’n lig vir my.

9 Ek sal die straf van die Here verduur,

want ek het teen Hom gesondig.

As dit eers verby is,

sal Hy my saak opneem

teen my vyande.

Hy sal reg aan my laat geskied.

Hy sal weer lig in my lewe bring

en ek sal sy regverdigheid sien.

10 Dan sal my vyande sien

dat Hy aan my kant is.

Hulle sal skaam kry

omdat hulle my gespot het

deur te sê:

“Waar is die Here jou God?”

Ek sal toekyk terwyl hulle

soos modder

op die strate vertrap word.

11 Israel,

daar sal ’n tyd aanbreek

wanneer julle julle stede

sal herbou

en julle grense sal uitbrei.

12 In dié tyd sal mense

van verskillende lande kom

om eer aan julle te bring.

Hulle sal van Assirië af kom

tot by Matsor in Egipte,

van Matsor af tot by die Eufraat,

van see tot see

en van berg tot berg.

13 Maar die aarde sal leeg

en verlate wees

as gevolg van wat die inwoners

gedoen het.

Die Here se medelye met Israel

14 Kom lei u volk soos ’n herder,

die kudde wat aan U behoort!

Hulle wei alleen in ’n bos

in Karmel.

Laat hulle weer

soos vroeër wei

tot in Basan en Gilead.

15 “Ek sal hulle

weer wonders laat sien

soos toe Ek hulle uit Egipte

uitgelei het.”

16 Die nasies van die wêreld

sal verbaas staan

oor wat die Here

vir julle sal doen.

Hulle sal skaam kry

oor hulle kragteloosheid.

Hulle sal stomverbaas staan,

hulle ore sal doof word.

17 Die volke sal dan besef

dat hulle nikswerd is.

Hulle sal soos slange

oor die grond seil,

soos kruipende gediertes

op die aarde.

Hulle sal bewend

uit hulle skuilings

na die Here ons God toe kom,

bevrees en bang

vir sy teenwoordigheid.

18 Wie is ’n God soos U?

U vergewe sonde

en straf nie die sonde

of die oortredings

van hulle wat oorgebly het nie.

U bly nie vir altyd kwaad nie,

maar is liefdevol en getrou.

19 U sal weer medelye hê met ons.

U sal ons sonde onder

u voete vertrap,

dit weggooi in die diepte

van die see!

20 Reeds lank gelede

het U aan ons voorvaders,

Jakob en Abraham,

u trou en liefde

met ’n eed belowe.

Betoon dit nou

ook aan ons.