MATTEUS 21

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

1 Toe Jerusalem begin naderkom, het Jesus en sy dissipels die dorpie Betfage, geleë teen die Olyfberg, bereik. Hy het twee dissipels vooruit gestuur

2 met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle, en julle sal ’n donkie daar vasgemaak sien staan met ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle hier vir My.

3 As iemand protesteer, sê dan: ‘Die Here het hulle nodig. Hy sal hulle nou-nou terugstuur.’”

4 Dit het gebeur om die profesie te laat vervul:

5 “Sê vir die volk van Israel:

‘Kyk, julle Koning

kom na julle toe.

Hy is saggeaard

en Hy ry op ’n donkie,

ja, op die vul

van ’n pakdier.’”

6 Die twee dissipels het toe gegaan en gemaak soos Jesus hulle beveel het.

7 Hulle het die donkie en haar vul gebring, hulle bo-klere op hulle gesit en Jesus het op die donkie gaan sit.

8 Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei.

9 Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep:

“Prys God vir die Seun

van Dawid!

Geseënd is die Een wat kom

in die Here se Naam!

Prys God in die hoogste hemel!”

10 Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?”

11 Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”

Jesus maak die tempel skoon

12 Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi

13 en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf:

‘My huis is bedoel

om ’n huis van gebed te wees,

maar julle het daarvan

’n rowersnes gemaak.’”

14 Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak.

15 Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld

16 en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?”

“Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?”

17 Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het.

Jesus vervloek die vyeboom

18 Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword

19 en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel.

20 Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?”

21 Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur.

22 Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”

Jesus se bevoegdheid word

bevraagteken

23 Weer terug by die tempel was Jesus besig om onderrig te gee toe die priesterhoofde en familiehoofde na Hom toe kom en vra: “Watter soort volmag het jy om mense uit die tempel te jaag? Wie het jou hierdie volmag gegee?”

24 Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê watter soort volmag Ek het om hierdie dinge te doen. Maar dan moet julle eers vir My hierdie vraag beantwoord:

25 ‘Kom die doop wat Johannes beoefen het, van God af, of was dit maar ’n bloot menslike saak?’”

Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, gaan hy vir ons sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

26 “Maar as ons sê dit was maar net ’n bloot menslike saak, sal ons vir die volk moet oppas, want vir hulle is Johannes ’n profeet.”

27 Gevolglik het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.”

Daarop was Jesus se reaksie: “Dan gaan Ek ook nie julle vraag beantwoord nie.”

Die twee seuns wat in die

wingerd moes gaan werk

28 “Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’

29 ‘Ek is nie lus nie,’ was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk.

30 Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag. Dié antwoord toe: ‘Ek maak so, Pa,’ maar hy het tog nie gaan werk nie.

31 Wie van die twee was die gehoorsame een?”

Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.”

Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan.

32 Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie. Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar. En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”

Die gelykenis van die slegte

druiweboere

33 “Luister na nog ’n gelykenis. Die eienaar van ’n landgoed het ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het ook ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.

34 Teen die tyd van die druiwe-oes stuur hy toe van sy slawe om sy deel van die oes te gaan haal.

35 Die boere het sy slawe egter gegryp; hulle het die een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n derde een met klippe doodgegooi.

36 Vervolgens het die eienaar nog ’n groter groep slawe gestuur en die boere het dieselfde met hulle gedoen.

37 “Einde ten laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink: ‘Hulle sal my seun tog sekerlik ontsien.’

38 Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood en dan vat ons sy erfenis!’

39 Toe gryp hulle hom, smyt hom uit die wingerd en vermoor hom.

40 “Wat dink julle,” het Jesus gevra, “sal die eienaar van die wingerd met hierdie boere doen wanneer hy terugkom?”

41 Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie skurke ’n verskriklike dood laat sterf en die wingerd aan ander mense verhuur wat gereeld sy billike deel van die oes aan hom sal gee.”

42 Jesus sê toe vir hulle: “Julle het tog seker al in die Skrif die volgende gelees:

‘Juis daardie klip

wat die bouers afgekeur het,

het die hoekklip van die gebou

geword.

Dit is die Here wat dit gedoen het

en dit is vir ons wonderlik!’

43 “Daarom verseker Ek julle: God se koninkryk sal van julle af weggeneem word en aan ’n volk gegee word wie se lewe by koninkryksmense pas.

44 Elkeen wat teen hierdie klip val, sal verpletter word en die een op wie hý val, sal vergruis word.”

45 Toe die priesterhoofde en die skrifkenners hierdie gelykenisse hoor, het hulle besef dat Jesus op hulle sinspeel.

46 Daarom wou hulle Hom arresteer, maar hulle was bang om dit te doen omdat die skare geglo het dat Hy ’n profeet was.

MATTEUS 22

Die gelykenis van die groot

bruilofsfees

1 Jesus het vir hulle ook nog ander gelykenisse vertel om God se koningsheerskappy uit te beeld. So het Hy byvoorbeeld gesê:

2 “God se koningsheerskappy is soos ’n koning wat ’n bruilofsfees vir sy seun voorberei het.

3 Toe die fees gereed was, het hy sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet dat dit tyd was om te kom, maar hulle wou nie kom nie.

4 Daarop het hy weer ander slawe gestuur met die opdrag: ‘Sê vir die gaste: My feesmaal staan gereed. My beeste en vetmaakvee is klaar geslag. Alles is reg om te begin. Kom na die bruilof!’

5 “Die genooides het egter net hulle skouers opgetrek en elders heen gegaan, die een na sy boerdery en die ander een na sy besigheid.

6 Die res het die slawe gegryp en mishandel en selfs doodgemaak.

7 “Daarop het die koning woedend geword. Hy het sy weermag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand.

8 Hy sê toe vir sy slawe: ‘Die bruilof is gereed, maar die gaste wat ek genooi het, is hierdie eer onwaardig.

9 Gaan staan nou op die straathoeke en nooi almal wat julle raakloop om die bruilof by te woon.’

10 “Toe het daardie slawe op die strate uitgegaan en elkeen saamgebring wat hulle kon kry, slegtes sowel as goeies. So het die bruilofsaal vol gaste geword.

11 Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het.

12 Daarop sê hy vir die persoon: ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’ Maar hy kon geen verskoning aanbied nie.

13 “Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.’

14 Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.”

Die vraag oor belasting

15 Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik.

16 Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie.

17 Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”

18 Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang!

19 Wys vir My die Romeinse belastingmunt.”

Hulle bring toe vir Hom die muntstuk. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle.

20 Hulle antwoord: “Die keiser s’n.”

21 “Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.”

22 Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas.

Daar gáán ’n opstanding wees

23 Daardie selfde dag kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende:

24 “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man kinderloos sterf, moet sy broer met die weduwee trou en so vir hom ’n nageslag verwek.’

25 Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste een het getrou en omdat hy kinderloos gesterf het, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.

26 Dieselfde ding het gebeur met al die broers tot die sewende een toe.

27 Laaste van almal is die vrou ook dood.

28 “Sê nou vir ons – wie van hierdie sewe se vrou sal sy by die opstanding wees? Hulle was tog almal met haar getroud.”

29 Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.

30 Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees.

31 Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê:

32 ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.”

33 Toe die skare hiervan hoor, was hulle diep beïndruk deur Jesus se onderrig.

Liefde is die belangrikste opdrag

34 Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink.

35 Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek:

36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37 Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Jesus stel ook ’n strikvraag

41 Omring van Fariseërs het Jesus die volgende vraag aan hulle gestel:

42 “Wat is julle standpunt oor die Messias? Wie se seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s’n.”

43 Waarop Jesus vra: “Hoe noem Dawid Hom dan ‘Here’, terwyl hy tog onder die inspirasie van die Gees praat? Hy sê:

44 ‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

45 “As Dawid Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”

46 Niemand kon Hom hierop antwoord nie. En daarna het niemand dit meer gewaag om nog verdere strikvrae aan Hom te stel nie.

MATTEUS 23

Jesus waarsku teen die

godsdienstige leiers

1 Daarop het Jesus die menigte en sy dissipels soos volg toegespreek:

2 “Die skrifkenners en die Fariseërs is die amptelike vertolkers van die wet van Moses.

3 Doen en gehoorsaam dus alles wat hulle julle beveel, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie. Hulle preek, maar leef nie self daarvolgens nie.

4 Hulle oorlaai die mense met absoluut onmoontlike godsdienstige verpligtings, maar verroer nie ’n vinger om dit self uit te voer nie.

5 “Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels aan hulle klere opvallend groot.

6 En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie!

7 Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8 Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters.

9 En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is.

10 En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self.

11 Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien.

12 Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

Jesus stel die skynheiligheid van

die Joodse godsdienstige leiers

13 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle blokkeer die koninkryk van God vir die mense. Julle gaan self nie daar in nie en boonop verhinder julle dié wat wel probeer ingaan.

15 Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle trek rond oor see en land om één proseliet te werf en dan maak julle van hom iemand wat op pad is hel toe, twee maal erger as julleself.

16 “Ellende wag vir julle, julle blinde gidse wat beweer: ‘As iemand by die heiligdom sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die goud van die tempel sweer, dan is dit bindend.’

17 Julle blinde dwase! Wat is die belangrikste, die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18 Verder sê julle: ‘As iemand by die altaar sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die offer bo-op die altaar sweer, is dit bindend.’

19 Hoe blind kan julle tog wees! Wat is immers belangriker, die offer of die altaar waardeur die offer geheilig word?

20 Wanneer jy by die altaar sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by alles wat daarop is.

21 En wanneer jy by die tempel sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by Hom wat daarin woon.

22 Net so, wanneer jy sweer by die hemel, sweer jy ook by die troon van God en boonop by Hom wat op die troon sit.

23 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie.

24 Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af!

25 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug.

26 Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word.

27 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid.

28 So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.

29 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes.

30 “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’

31 Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het.

32 En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol!

33 Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug?

34 Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg.

35 “So sal julle skuldig word aan die moord op al die vromes, van die regverdige Abel af tot by Sagaria, die seun van Berekja, wat julle by die tempel, tussen die heiligdom en die altaar vermoor het.

36 “Ek verseker julle, al die opgehoopte oordeel sal losbars oor hierdie generasie.”

Jesus treur oor Jerusalem

37 “O Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoeveel maal wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jy wou My dit nie toelaat nie!

38 “Julle moet besef, julle woning word vir julle verlate agtergelaat.

39 Ek verseker julle, julle sal My van nou af nooit weer sien nie tot op die dag wanneer julle sal sê: ‘Geseënd is die Een wat kom in die Naam van die Here!’”

MATTEUS 24

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam

1 Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys.

2 Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.”

Jesus se profesie-preek: Rampe

en vervolging

3 Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

4 Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

5 Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

6 Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

7 Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees.

8 Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9 “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is.

10 “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat.

11 Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring.

12 Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel.

13 Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14 “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”

Jesus se profesie-preek: Die

groot verdrukking

15 “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! –

16 “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

17 As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie.

18 As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

19 Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie!

20 En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie.

21 Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef.

22 Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.”

Jesus se profesie-preek: die vals

messiasse

23 “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

24 Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

25 Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

26 As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie.

27 Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom.

28 Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.”

Jesus se profesie-preek: die

koms van die Seun van die

29 “Onmiddellik na hierdie tyd van swaarkry

‘sal die son donker word,

en die maan nie meer lig gee nie.

Die sterre sal van die hemel val

en die kragte

wat die hemelruim saambind,

sal geskud word.’

30 “Dan uiteindelik sal daar ’n teken teen die hemel verskyn om aan te dui dat Ek, die Seun van die Mens, aan die kom is. Daarop sal al die nasies van die aarde geskok en ontsteld wees. Hulle sal My, die Seun van die Mens, met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.

31 Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.”

Jesus se profesie-preek: die

voorbeeld van die vyeboom

32 “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is.

33 Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is.

34 Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

35 Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.”

Jesus se profesie-preek: die

presiese tyd van die einde van

36 “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

37 “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.

38 Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.

39 Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.

40 “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.

41 Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.

42 Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

43 “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie.

44 Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

Jesus se profesie-preek: die

verstandige en slegte slaaf

45 “Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee?

46 As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon.

47 Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.

48 Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’

49 en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou,

50 sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie.

51 Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”

MATTEUS 25

Die gelykenis van die tien

meisies

1 “In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het.

2 Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig.

3 Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie.

4 Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat.

5 Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6 Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’

7 “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry.

8 Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’

9 Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’

10 “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

11 Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’

12 Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’

13 “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”

Die gelykenis van die drie slawe

en die goue muntstukke

14 “Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is.

15 Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik

16 het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel.

17 Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel.

18 Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19 “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het.

20 Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

21 Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’

22 “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

23 Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’

24 “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie.

25 Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’

26 “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie?

27 Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’

28 “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.

29 Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.

30 En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”

Die gelykenis van die bokke en

skape by die eindoordeel

31 “Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.

32 “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei.

33 Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant.

34 Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het.

35 Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang;

36 toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’

37 “Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink?

38 En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee?

39 En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’

40 En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’

41 “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele!

42 Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie;

43 toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’

44 “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’

45 Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’

46 “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

MATTEUS 26

Die volksleiers sweer saam om

Jesus dood te maak

1 Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê:

2 “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.”

3 Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader

4 en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim.

5 Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.”

’n Vrou vereer Jesus met duur

olie

6 Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse.

7 Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit.

8 Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê,

9 “sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!”

10 Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen.

11 Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

12 Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei.

13 Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Judas onderneem om Jesus aan

die volksleiers uit te lewer

14 Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan

15 en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied.

16 Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

Jesus stel die nagmaal by sy

laaste paasmaaltyd in

17 Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?”

18 Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’”

19 Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.

20 Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel.

21 Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.”

22 Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?”

23 Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer.

24 Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

25 Judas, die een wat Hom sou uitlewer, reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.”

26 Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”

27 En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit,

28 want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word.

29 Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.”

30 Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

Jesus voorspel dat Petrus gaan

ontken dat hy sy dissipel is

31 Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf:

‘Ek sal die skaapwagter doodmaak

en die skape van die trop

sal uitmekaargejaag word.’

32 “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

33 Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.”

34 Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.”

35 Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.

Jesus se gebedsworsteling in

Getsemane

36 Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.”

37 Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom.

38 Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.”

39 Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.”

40 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie?

41 Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

42 Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.”

43 Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie.

44 Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid.

45 Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense.

46 Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”

Jesus word gearresteer

47 Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk.

48 Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!”

49 Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom.

50 Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer.

51 Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap.

52 “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word.

53 Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?

54 Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?”

55 Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie?

56 Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.”

Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

Jesus word deur die Joodse Raad

verhoor

57 Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was.

58 Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur.

59 Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei.

60 En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom

61 en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’”

62 Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?”

63 Maar Jesus het bly swyg.

Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.”

64 Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle:

Julle sal My, die Seun van die

Mens,

sien sit aan die regterhand

van God, die Magtige,

en hoe Hy terugkom

op die wolke van die hemel.”

65 Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor.

66 Wat is julle bevinding?”

“Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.”

67 Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en

68 gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?”

Petrus ontken dat hy Jesus se

dissipel is

69 Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?”

70 Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar.

71 Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.”

72 Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!”

73 Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.”

74 Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai.

75 Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: “Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.

MATTEUS 27

Judas pleeg selfmoord

1 Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk.

2 Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

3 Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat

4 met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!”

Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.”

5 Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op.

6 Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.”

7 Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8 Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word.

9 Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is –

10 en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.”

Jesus deur Pilatus verhoor

11 Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”

Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12 Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie.

13 “Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra.

14 Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie.

15 Dit was gebruiklik dat die goewerneur tydens elke Paasfees een gevangene vir die skare vrylaat. Hulle kon self kies wie dit moes wees.

16 Juis in hierdie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17 Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom, vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: Jesus Barabbas of Jesus, die sogenaamde Messias?”

18 Hy het goed besef dat die Joodse leiers Jesus uit naywer aan hom uitgelewer het.

19 Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: “Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ’n aaklige nagmerrie oor hom gehad.”

20 Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die skare oorreed om te vra dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus die doodstraf kry.

21 Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!”

22 “Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!”

23 “Hoekom?” vra Pilatus. “Watter misdaad het hy dan begaan?”

Maar hulle het al hoe harder begin skree: “Hy moet gekruisig word!”

24 Pilatus het gemerk dat dit hopeloos was, en dat daar ’n oproer aan die kom was. Gevolglik het hy ’n skottel water laat kom en sy hande ten aanskoue van die skare gewas met die woorde: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.”

25 Die hele volk het teruggeskree: “Ons neem verantwoordelikheid vir sy dood – ons en ons nageslag.”

26 Toe het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar hy het Jesus aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

27 Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak.

28 Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om.

29 Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

30 Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan.

31 Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

32 Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra.

33 Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie.

34 Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35 Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies.

36 Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak.

37 Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.”

38 Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

39 Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou:

40 “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!”

41 Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê:

42 “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo!

43 Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’”

44 In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

Jesus sterf

45 Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag.

46 Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

47 Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia.

48 Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink.

49 Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.”

50 Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51 Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

52 Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak.

53 Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.

54 Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”

55 Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou.

56 Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.

Jesus word in ’n rykmansgraf

begrawe

57 Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58 Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word.

59 Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai.

60 Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan.

61 Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit.

Jesus se graf word bewaak

62 Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat.

63 Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’

64 Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.”

65 Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.”

66 Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.

MATTEUS 28

Jesus het opgestaan!

1 Vroeg Sondagmôre, terwyl dit begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2 Skielik was daar ’n geweldige aardbewing omdat daar ’n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het.

3 Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit.

4 Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.

5 Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

6 Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê.

7 En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”

8 Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan. Oorstelp van skok, maar nog meer van ’n ontsaglike blydskap, het hulle gehardloop om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee.

9 En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom.

10 Daarop sê Jesus vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet Galilea toe gaan en hulle sal My daar sien.”

Die wagte versprei die storie dat

Jesus se liggaam gesteel is

11 Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het.

12 Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag.

13 Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’

14 As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.”

15 Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.

Jesus gee sy finale opdrag aan

sy dissipels

16 Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het.

17 Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het.

18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.

19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”