MATTEUS 11

Johannes die Doper se ernstige

vrae oor Jesus

1 Nadat Jesus hierdie instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het Hy daarvandaan vertrek om in die dorpe van Galilea onderrig te gee en te preek.

2 Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra:

3 “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?”

4 Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien –

5 blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus.

6 En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’”

7 Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie?

8 Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie.

9 Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet.

10 Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan:

‘Kyk, Ek stuur my boodskapper

voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou

gereedmaak.’

11 “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy!

12 Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie.

13 Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd.

14 As julle bereid is om te aanvaar wat Ek vir julle sê – hý is die Elia wat sou kom.

15 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê!

16 “Waarmee sal Ek vandag se mense vergelyk? Hulle is soos kinders wat op die dorpsplein speel en mekaar verwyt

17 deur te sê:

‘Ons het vir julle ’n bruilofslied

gespeel,

maar julle wou nie dans nie.

Ons het vir julle ’n begrafnislied

gesing,

maar julle het geweier

om te huil.’

18 “Want Johannes het soos ’n askeet gelewe – hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie. Toe het julle gesê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

19 Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink wyn – en julle sê: ‘Hy’s ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van die slegste soort sondaars.’ Ja, die toets vir die wysheid is die resultate wat dit voortbring.”

Jesus spreek die onboetvaardige

dorpe aan

20 Jesus het die dorpe waar die meeste van sy wonderdade plaasgevind het, ernstig aangespreek omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21 “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! Want as in die nie-Joodse stede Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal sakke aangetrek en as op hulle koppe uitgegooi het om te wys dat hulle tot inkeer gekom het.

22 Ek verseker julle dat dit vir Tirus en Sidon makliker sal wees op die oordeelsdag as vir julle.

23 En jy, Kapernaum,

jy dink tog seker nie

jy sal hemelhoog

verhoog word nie?

Die realiteit is dat jy

in die doderyk sal beland.

“Want as in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit tot vandag toe bly voortbestaan het.

24 Ek verseker jou, dit sal vir die land Sodom makliker wees op die oordeelsdag as vir jou.”

Kom na My toe!

25 Toe het Jesus hierdie gebed gebid:

“Vader, Here van die hemel

en die aarde,

Ek sê vir U dankie

dat U die insig in hierdie dinge

van die slimmes en intelligentes

weerhou het

en dit oopgemaak het vir hulle

wat soos kinders geword het.

26 Ja, Vader, want U verkies

hierdie manier van doen!

27 “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak.

28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.

29 Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.

30 Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

MATTEUS 12

Mense is baie belangriker as

sabbatswette

1 In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet.

2 Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

3 Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie?

4 Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was.

5 Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie?

6 Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle.

7 As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie.

8 Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.”

Jesus genees ’n man met ’n

misvormde hand

9 Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan.

10 Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.)

11 Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie!

12 Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.”

13 Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een.

14 Daarop het die Fariseërs uitgegaan en gaan beplan hoe hulle Jesus uit die weg sou ruim.

God het Jesus spesiaal uitgekies

15 Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak.

16 Hy het hulle ernstig verbied om oral uit te basuin wie Hy is.

17 So het die uitspraak van die profeet in vervulling gegaan:

18 “Hier is my Dienskneg

wat Ek uitgekies het.

Hom het Ek lief.

Hy maak my hart baie bly.

Ek sal my Gees op Hom laat rus

en Hy sal my besluit

aan die nasies bekendmaak.

19 Hy sal nie met mense stry

of ’n groot lawaai maak nie.

Hy sal nie sy stem

in die openbaar verhef nie.

20 Hy sal dié wat reeds geknak is,

nie nog verder verbrysel nie

en die vonkie hoop

wat nog oorgebly het,

sal Hy nie uitblus nie,

totdat Hy my besluit laat seëvier.

21 Ja, op Hom sal die nasies

hulle hoop vestig.”

Jesus word beskuldig dat Hy

met Satan saamwerk

22 Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n duiwelse gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat.

23 Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?”

24 Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat Hy duiwels kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.”

25 Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie.

26 As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly?

27 En as Ek met die krag van Beëlsebul die duiwels uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees.

28 “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die duiwels uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is.

29 Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30 “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

31 “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie.

32 Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.

33 “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.

34 “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35 ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

36 Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

37 Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Jona dien as wonderteken om te

bewys dat Jesus van God af kom

38 Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van U sien om te bewys dat U van God af kom.”

39 Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona.

40 Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees.

41 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie.

42 Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister!

43 “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie.

44 Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.

45 Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”

Jesus se eintlike gesinslede

46 Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat.

47 Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.”

48 Hy antwoord die een wat met Hom praat: “Weet julle wie is my ma en wie is my broers?”

49 Daarop wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my ma en my broers.

50 Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

MATTEUS 13

Die gelykenis van die boer en sy

saad

1 Later daardie dag het Jesus uit die huis gegaan en langs die see gaan sit.

2 ’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister.

3 Hy het vir hulle baie gelykenisse vertel, soos die volgende een:

“’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai.

4 In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik.

5 ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet.

6 Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog.

7 Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik.

8 Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.

9 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

10 Sy dissipels kom toe na Hom toe en sê: “Waarom gebruik U altyd sulke diepsinnige gelykenisse as U met die mense praat?”

11 Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie.

12 Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan.

13 Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie.

14 Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid:

‘Julle sal my woorde hoor

en tog nie verstaan nie.

Julle sal sien wat Ek doen

en dit tog nie werklik begryp

nie.

15 Ja, die hart van hierdie volk

het verhard,

en hulle hoor swaar met hulle ore,

en hulle het hulle oë toegemaak

sodat hulle nie dalk

met hulle oë sien

en met hulle ore hoor

en met hulle hart begryp

en tot bekering kom

en Ek hulle gesond maak nie.’

16 “Maar julle – gelukkig is julle oë omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor.

17 Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie.

18 “Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken:

19 Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is.

20 Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem.

21 Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof.

22 Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug.

23 Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”

Gelykenis van die onkruid

tussen die koring

24 Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai.

25 Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.

26 Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid.

27 Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’

28 “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep.

“‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom.

29 “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek.

30 Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”

Gelykenis van die mosterdsaad

31 Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het.

32 Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.”

Gelykenis van die suurdeeg

33 Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.”

34 Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie.

35 So het die uitspraak van die profeet uitgekom:

“Ek sal deur middel van gelykenisse

met julle praat.

Ek sal bekendmaak

wat geheim gebly het

van die skepping van die

wêreld af.”

Jesus verduidelik die gelykenis

van die onkruid tussen die

36 Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.”

37 “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai.

38 Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort.

39 Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele.

40 “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld.

41 “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder

42 en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.

43 “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

Gelykenis van die weggesteekte

skat

44 “God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n stuk grond weggesteek lê. Iemand kry dit daar, maar steek dit dadelik weer weg. Oorstelp van blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie stuk grond.”

Gelykenis van die baie kosbare

pêrel

45 “God se koninkryk is ook soos ’n pêrelhandelaar op soek na mooi pêrels.

46 As hy een baie kosbare pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie pêrel.”

Gelykenis van die treknet

47 “Verder is God se koninkryk soos ’n treknet wat in die see uitgegooi word en allerhande soorte vis bymekaarbring.

48 Wanneer dit vol is, sleep die vissers dit op die strand uit. Hulle gaan sit, sorteer die goeie vis in kratte en gooi die slegtes weg.

49 So sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Die engele sal kom, die slegte mense wegneem van die goeies

50 en hulle in die brandende oond gooi. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.

51 Verstaan julle dit alles?”

Hulle antwoord Hom: “Ja, ons verstaan.”

52 Hy voeg toe by: “Elke skrifkenner wat ’n ware student in God se koninkryk geword het, is soos ’n huiseienaar wat nuwe sowel as ou dinge uit sy stoorkamer te voorskyn haal.”

Jesus word deur sy eie mense

verwerp

53 Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan vertrek.

54 In Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het, het Hy die mense in hulle sinagoge onderrig. Hulle was verbaas en het gesê: “Waar kry hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan?

55 Is hy dan nie maar net die timmerman se seun nie? En is Maria nie sy ma en Jakobus, Josef, Simon en Judas sy broers nie?

56 En sy susters, hulle woon tog almal hier onder ons. Wat maak hom so danig belangrik?”

57 Hulle was verontwaardig en wou niks van Hom weet nie.

Daarop het Jesus vir hulle gesê: “’n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring.”

58 As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke gedoen.

MATTEUS 14

Johannes die Doper word deur

Herodes vermoor

1 Juis in daardie tyd het Herodes Antipas van Jesus se optrede gehoor.

2 Daarop sê hy vir sy paleispersoneel: “Hierdie man is niemand anders as Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het nie! Daarom kan hy sulke wonderwerke doen.”

3 Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê:

4 “Jy mag dit nie doen nie.”

5 Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet.

6 Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee

7 dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”

8 Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”

9 Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.

10 Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.

11 Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het.

12 Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het.

Jesus gee kos vir meer as

vyfduisend mense

13 Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom.

14 Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak.

15 Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.”

16 Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.”

17 “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.”

18 “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê.

19 Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare.

20 Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel!

21 Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.

Jesus loop op die water

22 Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur.

23 Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar.

24 Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg.

25 Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26 Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.

27 Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”

28 Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.”

29 “Kom dan,” het Jesus gesê.

Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.

30 Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!”

31 Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?”

32 En toe hulle in die skuit terugklim, gaan lê die wind.

33 Daarop het die mense in die skuit Hom aanbid. “U is werklik die Seun van God!” het hulle uitgeroep.

34 Nadat hulle die see oorgesteek het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan.

35 Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle die nuus deur die hele omgewing versprei en al hulle siekes na Hom toe gebring.

36 Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.

MATTEUS 15

God se opdrag is belangriker as

tradisies

1 Daar kom toe Fariseërs en skrifkenners van Jerusalem af na Jesus toe en sê:

2 “Waarom verbreek jou dissipels ons voorouers se tradisies deur nie hulle hande voor ete te was nie?”

3 Jesus se reaksie was: “En waarom verbreek julle, deur julle tradisie, die direkte opdrag van God?

4 God sê byvoorbeeld: ‘Jy moet jou pa en ma eer,’ en: ‘Elkeen wat sy pa of ma slegmaak, moet definitief sterf.’

5-6 Julle sê egter: ‘As jy jou bates as ’n offer aan die Here toewy, hoef jy nie meer jou ouers te eer deur hulle te ondersteun nie.’ So trek julle met julle tradisie ’n streep deur die woord van God.

7 Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het julle raak beskryf:

8 ‘Hierdie volk eer My

met hulle mond,

maar hulle hart

is ver van My af.

9 Hulle godsdiens is blote skyn,

want hulle hou menslike

voorskrifte voor

as wette van God.’”

Onreinheid kom uit ’n mens se

binneste

10 Daarop het Jesus die skare nadergeroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan goed.

11 ’n Mens word nie onrein gemaak deur wat jy eet nie, maar deur wat jy sê.”

12 Toe kom sy dissipels nader en vra Hom: “Besef U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle hoor wat U sê?”

13 Maar Hy het geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word.

14 Ignoreer hulle. Hulle is blinde gidse wat blindes wil lei. As een blinde vir ’n ander blinde as gids wil optree, beland hulle al twee in die sloot.”

15 Petrus vra Hom toe: “Verduidelik vir ons wat U bedoel het toe U gesê het mense word nie onrein deur wat hulle eet nie.”

16 Hy sê vir hulle: “Verstaan selfs julle dit nog steeds nie?

17 Begryp julle dan nie dat alles wat by ’n mens se mond ingaan deur jou maag beweeg en dan uit die liggaam gaan nie?

18 Maar slegte woorde kom uit ’n slegte hart en maak die persoon wat hulle uitspreek, vuil.

19 Wat uit die hart kom, is slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, ontrou te wees in die huwelik, onsedelikheid te bedryf, te steel, leuens te vertel en mense te belaster.

20 Dit is hierdie dinge wat jou onrein maak. Om met ongewaste hande te eet, sal jou nooit onrein en onaanvaarbaar voor God maak nie.”

Die besondere geloof van ’n

nie-Joodse vrou

21 Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die gebied van Tirus en Sidon.

22 ’n Nie-Joodse vrou uit daardie omgewing het na Hom toe gekom en aanhou smeek: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my! My dogter is in die mag van ’n duiwel en hy teister haar verskriklik.”

23 Maar Hy het Hom heeltemal doof gehou vir haar. Sy dissipels kom vra Hom toe: “Stuur haar tog weg. Sy hou nie op met tekere gaan al agter ons aan nie.”

24 Hy antwoord hulle: “Ek is net gestuur na die afgedwaalde skape van die volk van Israel.”

25 Sy kom val toe voor Hom neer en sê: “Here, help my tog, asseblief!”

26 Maar Hy antwoord haar: “Dis glad nie reg om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”

27 Sy het daarop gereageer: “Dit is so, Here, maar selfs die huishondjies eet tog darem van die krummels wat van hulle base se tafel afval.”

28 Daarop antwoord Jesus haar: “Vrou, jou geloof is baie sterk. Jou versoek word toegestaan.”

En haar dogter het dadelik gesond geword.

Jesus maak baie siekes gesond

29 Jesus het daarvandaan vertrek en weer by die See van Galilea aangekom. Hy het toe teen ’n heuwel uitgeklim en daar gaan sit.

30 ’n Groot skare het met hulle verlamdes, blindes, kreupeles, stommes en nog baie ander siekes na Jesus toe gekom en hulle voor Hom neergesit. En Hy het hulle gesond gemaak.

31 Die skare was verbaas toe hulle agterkom dat stommes praat, kreupeles gesond is, verlamdes rondbeweeg en blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geloof.

Jesus gee kos vir meer as

vierduisend mense

32 Jesus het sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek voel baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle ook nie met leë mae wegstuur nie; anders beswyk hulle dalk van honger langs die pad.”

33 Daarop sê sy dissipels vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate wêreld genoeg brood kry om so ’n massa te voed?”

34 Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?”

Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.”

35 Jesus sê toe dat almal op die grond moet gaan sit.

36 Toe neem Hy die sewe brode en die visse, bid om God se seën, breek die brood in stukke, en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels weer aan die skare.

37 Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was! Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel.

38 4 000 mans het van hierdie kos geëet, afgesien van al die vroue en kinders!

39 Daarna het Jesus die skare huis toe gestuur, in die boot geklim en na die omstreke van Magadan vertrek.

MATTEUS 16

Jesus weier weer ’n wonderteken

1 Op ’n dag kom die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus toe om die egtheid van sy aansprake te toets. Hulle vra Hom toe om aan hulle ’n Goddelike wonderteken te gee.

2 Hy antwoord hulle toe: “Julle ken die gesegde: ‘Rooi lug skemeraand beteken mooi weer môre;

3 toegetrekte rooi lug met vroegdag beteken slegte weer deur die dag.’ Julle verstaan die kuns om die weervooruitsig uit die tekens in die lug te lees; hoe kan julle dan nie die duidelike tekens raaksien van die besondere tyd waarin julle julle bevind nie?

4 Dit is net ’n slegte en ontroue geslag mense wat ’n wonderteken wil hê. Die enigste teken wat Ek vir hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.” Hy het hulle toe net daar gelos en weggegaan.

Oppas vir die invloed van die

Fariseërs en die Sadduseërs!

5 Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem.

6 Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7 Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.”

8 Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My?

9 Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie?

10 En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?

11 Hoe kan dit ooit in julle gedagtes opkom dat Ek oor gewone kos praat? Daarom sê Ek nou weer vir julle: ‘Oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs!’”

12 Toe het hulle einde ten laaste ingesien dat Hy hulle nie waarsku teen gewone suurdeeg wat vir brood gebruik word nie, maar teen die beskouings van die Fariseërs en die Sadduseërs.

Petrus bely dat Jesus die

Messias is

13 Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?”

14 “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.”

15 Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”

16 Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”

17 Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie.

18 “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.

19 Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’”

20 Hy gee toe streng opdrag aan sy dissipels om vir niemand te vertel dat Hy die Messias is nie.

Jesus kondig sy komende dood

vir die eerste keer aan

21 Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek.

22 Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!”

23 Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.”

24 Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.

25 As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind.

26 Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.

27 Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade.

28 Dít verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”

MATTEUS 17

Jesus word verheerlik

1 Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was.

2 En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.

3 En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.

4 Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

5 Maar terwyl hy nog praat, oordek ’n helderglansende wolk hulle, en daar kom ’n stem uit die wolk wat sê: “Hý is my geliefde Seun. Hy is ’n Kind so na my hart. Doen wat Hy vir julle sê.”

6 Toe hulle dit hoor, het die dissipels plat op die grond neergeval. Hulle het groot geskrik.

7 Daarop kom Jesus na hulle toe en sit sy hand gerusstellend op hulle: “Staan gerus maar op; moenie bang wees nie.”

8 Toe hulle opkyk, sien hulle niemand anders meer daar nie, net vir Jesus alleen.

9 Terwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het nie, totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgewek word.”

10 Sy dissipels vra Hom toe: “Hoe sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom voordat die Messias kom?”

11 Waarop Jesus antwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles in orde te bring.

12 Maar Ek verseker julle, hy het al klaar gekom; tog het hulle hom nie herken nie, maar baie sleg behandel. Net so moet Ek, die Seun van die Mens, ook onder hulle ly.”

13 Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle oor Johannes die Doper gepraat het.

Jesus maak ’n duiwelbesete

seun gesond

14 Toe hulle by die skare aan die voet van die berg kom, nader iemand vir Jesus en val voor Hom neer.

15 Hy sê: “Here, ontferm U oor my seun! Hy kry epileptiese aanvalle en hy ly verskriklik. Baie maal val hy in die vuur of in die water.

16 Ek het hom na u dissipels toe gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.”

17 Jesus se reaksie was: “O julle ongelowige en ontaarde mense! Hoe lank sal Ek dit nog by julle uithou? Bring die seun hier.”

18 Daarop het Jesus die bose gees in die seun skerp aangespreek en dit het hom verlaat. Onmiddellik was die kind gesond.

19 Agterna het die dissipels Jesus privaat gevra: “Waarom kon ons nie die duiwel uitdryf nie?”

20 “Julle geloof was nie sterk genoeg nie,” was Jesus se antwoord. “Dít verseker Ek julle, as julle geloof selfs so klein soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie berg sê: ‘Skuif soontoe,’ en hy sal dit doen. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Jesus kondig sy komende dood

vir die tweede keer aan

22 Weer terug in Galilea het Jesus vir hulle gesê: “God het bepaal dat die Seun van die Mens oorgegee moet word in die hande van mense.

23 Hulle sal Hom doodmaak, maar God sal Hom op die derde dag weer opwek.” En die dissipels was baie geskok om dit te hoor.

Jesus betaal die tempelbelasting

24 By hulle aankoms in Kapernaum, het die beamptes wat die tempelbelasting invorder vir Petrus genader met die woorde: “Betaal julle leermeester dan nie die tempelbelasting nie?”

25 Hy antwoord toe: “Natuurlik betaal Hy dit!” Toe hy tuiskom om met Jesus daaroor te praat, spring Jesus hom voor en vra: “Petrus, hoe sou jy sê, van wie vorder die konings van hierdie wêreld tolgeld en belastings in – van hulle eie mense of van die buitelanders wat hulle verslaan het?”

26 Toe hy antwoord: “Van die buitelanders,” sê Jesus vir hom: “Dan is hulle eie mense mos vrygestel.

27 Maar om hulle liewer nie aanstoot te gee nie – gaan jy af see toe en gooi jou lyn in. Die eerste vis wat jy uittrek – maak sy bek oop en jy sal ’n muntstuk daarin kry. Vat dit en dan gaan betaal jy ons al twee se belasting daarmee.”

MATTEUS 18

Wie die belangrikste in God se

koninkryk is

1 In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag: “Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?”

2 Jesus roep toe ’n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.

3 Toe sê Hy: “As julle nie met ander oë na die lewe begin kyk en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.

4 “Daarom is elkeen wat so nederig soos hierdie kindjie word die belangrikste in God se koninkryk.

5 En elkeen wat ’n kindjie soos hierdie een ter wille van My verwelkom, verwelkom My.

6 Maar elkeen wat een van hierdie kleinstes wat in My glo, tot ’n val bring – vir hom sal dit beter wees om met ’n meulsteen om sy nek in die see te verdrink.

7 “Dié wat ander tot ’n val bring, bring ellende in die wêreld! Daar sal noodwendig sulke mense wees, maar God sal die mens straf wat iemand anders tot ’n val bring.

8 “Daarom, as jou hand of jou voet jou laat sondig, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel te lewe as om met al twee jou hande en al twee jou voete in die vuur gegooi te word wat nooit geblus sal word nie.

9 En as jou oog jou laat sonde doen, pluk dit uit en gooi dit weg. Dit is vir jou beter om halfblind in die hemel in te gaan as om met twee oë en al in die hel se vuur gegooi te word.

10 “Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien nie. Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van my hemelse Vader verkeer?”

Die gelykenis van die

weggeraakte skaap

12 “As iemand 100 skape het en een van hulle raak weg, wat dink julle sal hy doen? Sal hy nie die 99 net daar tussen die rantjies los en die wegloop-een gaan soek nie?

13 En as hy hom wel kry, wil Ek julle verseker hy sal blyer wees oor daardie een as oor die 99 wat nie weggeraak het nie!

14 “Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.”

Hoe ons medegelowiges moet

reghelp

15 “As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen het, gaan wys hom daarop. Maar hou dit tussen julle twee. As hy sy fout insien en erken, het jy hom teruggewen.

16 Maar as jy nie daarin slaag nie, neem nog een of twee saam met jou. So sal daar twee of drie getuies wees om te bevestig wat gesê word.

17 Maar as hy nog steeds weier om te luister, moet jy dit aan die gemeente gaan meedeel. As hy egter ook weier om na die gemeente te luister, moet hy vir jou wees soos ’n ongelowige of ’n tollenaar.

18 Dít verseker Ek julle: Watter dinge julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees. En watter dinge julle ook op die aarde losmaak, sal in die hemel losgemaak wees.

19 “Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen.

20 Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar.”

Die gelykenis van die

amptenaar met dubbele

21 Daarop kom vra Petrus Hom: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?”

22 “Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!

23 “Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ’n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld.

24 Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld.

25 Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal.

26 Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’

27 Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28 “Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal jou skuld!’

29 Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’

30 Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi, waar hy sou moes bly totdat hy al sy skuld afbetaal het.

31 “Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel.

32 Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf.

33 Moes jy jou nie ook oor jou medeamptenaar ontferm het soos ek my oor jou ontferm het nie?’

34 Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het.

35 “So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

MATTEUS 19

Jesus verduidelik hoe heilig die

huwelik is

1 Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy van Galilea vertrek en in Perea aangekom. Hierdie gebied het aan Judea gegrens, maar was aan die oostekant van die Jordaan geleë.

2 ’n Massa mense het Hom daarheen gevolg, en Hy het hulle siekes gesond gemaak.

3 Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ’n poging om Hom in ’n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?”

4 Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?

5 En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’

6 Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.”

7 Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?”

8 Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.

9 Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”

10 Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!”

11 “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie.

12 Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.”

Jesus seën kindertjies

13 Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek.

14 Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

15 En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek.

’n Ryk jong man

16 Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”

17 Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”

18 Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?”

Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie;

19 respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

20 “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?”

21 Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.”

22 Toe die jong man dít hoor, het hy geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23 Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan.

24 Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.”

25 Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra.

26 Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!”

27 Toe sê Petrus vir Hom: “Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?”

28 Jesus se antwoord was: “Ek verseker julle dat wanneer Ek, die Seun van die Mens, in God se nuwe wêreld op my heerlike troon sal sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en julle sal regspreek oor die twaalf stamme van Israel.

29 En elkeen wat ’n huis om my ontwil opgegee het, of broers of susters of ’n pa of ’n ma of kinders of grond – hy sal honderd maal soveel terugontvang en boonop die ewige lewe verkry.

30 Maar baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

MATTEUS 20

Die gelykenis van die werkers in

die wingerd

1 “Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur.

2 Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.

3 “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie.

4 Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’

5 Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal.

6 “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’

7 Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’

8 “Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal. ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê.

9 Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling.

10 Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon.

11 “Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer

12 en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’

13 “Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie?

14 Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou.

15 Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’

16 “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Jesus kondig sy komende dood

’n derde keer aan

17 Terwyl Jesus na Jerusalem onderweg was, het Hy sy dissipels opsy geneem en vir hulle gesê:

18 “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel.

19 En hulle sal My uitlewer aan die Romeine om gespot en gegésel en gekruisig te word. Maar op die derde dag sal Ek uit die dood opgewek word.”

In God se koninkryk gaan dit

nie om baasspeel nie, maar om

20 Daarop kom die ma van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe met haar twee seuns. Sy kniel toe eerbiedig neer om van Hom ’n guns te vra.

21 “Wat is jou versoek?” het Jesus haar gevra.

Sy het geantwoord: “In u koninkryk, wanneer U op u troon sit, mag my twee seuns op die ereplekke regs en links van U sit?”

22 Daarop het Jesus gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie! Sien julle daarvoor kans om die bitter lydensbeker te drink wat vir My bestem is?”

Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.”

23 “Dis waar,” sê Hy, “julle sal ook daarvan drink. Maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. My Vader hou daardie plekke gereed vir dié wat Hy self uitgekies het.”

24 Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers wou hê, was hulle bitterlik verontwaardig.

25 Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

26 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees.

27 En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees.

28 Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

Jesus maak twee blindes gesond

29 Toe Jesus en die dissipels uit Jerigo gaan, het baie mense agter Hom aangekom.

30 Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

31 Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het net nog harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

32 Jesus het gaan staan en hulle laat roep. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle.

33 Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!”

34 Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan.