MARKUS 11

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

1 Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur

2 met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen.

3 As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’”

4 Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak,

5 het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?”

6 Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan.

7 Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom.

8 Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het.

9 Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep:

“Prys God!

10 Geseënd is die Een wat kom

in die Here se Naam!

Geseënd is die

koningsheerskappy

van ons voorvader Dawid

wat aan die kom is!

Prys God in die hoogste hemel!”

11 So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe.

Jesus vervloek ’n vyeboom wat

nie vrugte het nie

12 Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword.

13 Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

14 Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

Jesus maak die tempel skoon

15 Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi

16 en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra.

17 Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie

‘My tempel sal ’n huis van gebed

wees

vir al die nasies’?

“Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!”

18 Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering.

19 Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat.

20 Toe hulle die volgende oggend by die vyeboom verbygaan wat Jesus vervloek het, sien hulle dat dit tot in sy wortels verskrompel het.

21 Petrus het onthou wat die vorige dag gebeur het, en sê vir Hom: “Leermeester, die vyeboom wat U vervloek het, het werklikwaar verdor!”

22 Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle moet geloof hê in God.

23 Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie.

24 Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.

25 Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teen wie julle ’n grief koester. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”

Jesus se gesag word uitgedaag

27 Teen hierdie tyd het hulle weer in Jerusalem aangekom. Terwyl Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, kom die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom toe

28 met die vraag: “Watter soort gesag het jy om mense uit die tempel te jaag? Of wie het aan jou die volmag gegee om hierdie dinge te doen?”

29 Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê deur watter gesag Ek hier-die dinge doen. Maar dan moet julle eers een vraag beantwoord:

30 Kom Johannes se doop van God af, of was dit maar bloot ’n menslike saak?”

31 Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, sal Hy sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

32 Maar as ons sê dit was bloot ’n menslike saak, is ons ook in die moeilikheid.” Hulle was bang vir die skare, want almal het geglo dat Johannes ’n profeet was.

33 Gevolglik het hulle Jesus toe geantwoord: “Ons weet nie.”

Jesus antwoord toe op sy beurt: “Dan gaan Ek julle ook nie sê waar Ek die gesag vandaan kry om so op te tree nie.”

MARKUS 12

Gelykenis van die slegte

druiweboere

1 Toe het Jesus vir hulle begin gelykenisse vertel: Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het. Hy het ’n klipmuur daar rondom gebou, ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy die wingerd aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.

2 Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om ’n deel van die druiwe-oes te gaan haal.

3 Maar hulle het hom gegryp en geslaan en met leë hande teruggestuur.

4 Die eienaar het toe nog ’n slaaf gestuur, maar hulle het dié oor die kop geslaan en beledig.

5 Die volgende een het hulle doodgemaak. Hy het nog baie ander gestuur – sommige het hulle geslaan en ander vermoor.

6 Uiteindelik was daar nog net een persoon oor – sy seun vir wie hy innig lief was. Einde ten laaste stuur hy hom na hulle toe met die gedagte: “Hulle sal tog sekerlik my seun spaar.”

7 Maar toe sê daardie boere vir mekaar: “Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, dan is die erfdeel ons s’n.”

8 Hulle het hom doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd weggegooi.

9 “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd doen?” vra Jesus. “Ek sal vir julle sê: Hy sal kom en hulle om die lewe bring en die wingerd aan ander mense verhuur.

10 Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees:

‘Juis daardie klip

wat die bouers afgekeur het,

Hý het die hoekklip

van die gebou geword.

11 Dit is die Here wat dit gedoen het

en dit is vir ons wonderlik!’”

12 Die Joodse leiers wou Jesus toe arresteer, want hulle het besef dat Hy hierdie gelykenis op hulle gemik het. Maar hulle was lugtig vir die skare en het Hom toe daar gelaat en weggegaan.

Behoort mense belasting te

betaal?

13 Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap.

14 Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?”

15 Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk dat Ek daarna kan kyk.”

16 Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?”

Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.”

17 “Wel,” het Hy gesê, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.

Daar is beslis ’n opstanding

18 Toe kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende:

19 “Leermeester, Moses het vir ons ’n wet gegee wat bepaal dat as iemand sterf en sy vrou kinderloos agterlaat, sy broer met die weduwee moet trou en so vir hom ’n nageslag verwek.

20 Nou was daar sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf.

21 Die tweede een het toe met haar getrou, maar ook kinderloos gesterf. So ook die derde een.

22 So het dit aangegaan totdat al sewe gesterf het sonder om kinders agter te laat. Laaste van almal is die vrou ook dood.

23 Sê nou vir ons wie se vrou sal sy by die opstanding wees. Al sewe was tog met haar getroud.”

24 Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.

25 Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees.

26 En wat die kwessie van die opstanding van die dooies betref – het julle nie raakgelees wat daar in die boek van Moses staan, by die gedeelte oor die brandende doringbos nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en Isak en Jakob.’

27 Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie. Julle is dus totaal verkeerd.”

Liefde is die heel belangrikste

opdrag

28 Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”

29 Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here.

30 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’

31 Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”

32 Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is.

33 En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”

34 Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.

Jesus stel ook ’n strikvraag

35 Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is?

36 Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

37 “Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”

Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.

Jesus waarsku teen die

skrifkenners

38 In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word.

39 En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie!

40 Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.”

’n Brandarm weduwee se

kosbare gawe

41 Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.

42 Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in.

43 Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander.

44 Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 13

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam

1 Terwyl Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Leermeester, kyk net na hierdie massiewe klippe in die mure! En die ontsaglike geboue!”

2 Daarop het Jesus hom geantwoord: “Hierdie groot geboue wat jy sien, sal so volledig tot op die grond afgebreek word dat daar nie een klip op die ander sal oorbly nie.”

3 Later, toe Jesus teen die hang van die Olyfberg regoor die tempel sit, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom vertroulik:

4 “Wanneer sal hierdie dinge gebeur? En watter teken sal daar wees om vir ons te waarsku dat hierdie dinge vervul sal word?”

5 Jesus het geantwoord: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

6 Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

7 Wanneer julle van oorloë hoor, hier naby en daar ver, moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

8 Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar. Daar sal wydverspreide aardbewings wees; daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9 “Wees op julle hoede! Hulle sal julle aan die howe uitlewer. Julle sal in die sinagoges geslaan word. En julle sal voor goewerneurs en konings verskyn omdat julle my volgelinge is. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle van My te getuig.

10 Ja, die Goeie Nuus moet eers verkondig word aan al die nasies.

11 Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat.

12 “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

13 Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14 “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

15 As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie.

16 As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

17 Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie!

18 En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie.

19 Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur.

20 Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort.

21 “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

22 Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

23 Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku.

24 “In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is,

sal die son donker word

en die maan sal nie meer lig gee nie.

25 Die sterre sal van die hemel val

en die kragte wat die hemelruim

saambind,

sal geskud word.

26 “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom.

27 Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde.

28 “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is.

29 Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur.

30 Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

31 Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.

32 “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

33 Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam.

34 “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou.

35 Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag.

36 Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie.

37 Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!’”

MARKUS 14

’n Vrou vereer Jesus met

aromatiese olie

1 Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterhoofde en die skrifkenners was nog op soek na ’n geleentheid om Jesus in die geheim te vang en dood te maak.

2 Want hulle het saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders ontstaan daar oproer onder die volk.”

3 Intussen was Jesus in Betanië by die huis van Simon, die man wat van ’n ernstige velsiekte genees is. Tydens die ete kom daar ’n vrou in met ’n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit.

4 Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor. “Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?” het hulle gesê.

5 “Ons kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.” En hulle het haar uitgetrap.

6 Jesus het hulle egter geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen.

7 Die armes sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

8 Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis.

9 “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Judas onderneem om Jesus uit

te lewer

10 Daarop het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan om met hulle reëlings te tref oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer.

11 Toe hulle dit hoor, was hulle verheug en het hulle hom ’n bedrag geld beloof. Hy was toe op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

Jesus stel die nagmaal by sy

laaste paasmaaltyd in

12 Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood – die dag waarop hulle die paaslammers geslag het – sê Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U die paasete gaan voorberei?”

13 Hy stuur toe twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan stad toe. Daar sal julle ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan agter hom aan

14 en waar hy indraai, moet julle vir die huiseienaar sê: ‘Die Leermeester vra: Waar is die gastekamer waar Ek die Paasfees saam met my dissipels kan geniet?’

15 Dan sal hy vir julle ’n groot bovertrek wys wat klaar gereed staan. Dáár kan julle vir ons die maaltyd voorberei.”

16 Toe het die twee vooruit gegaan stad toe, en hulle het alles presies gekry soos Jesus vir hulle gesê het. En hulle het die paasmaaltyd voorberei.

17 Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom.

18 Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.”

19 Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?”

20 Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week.

21 Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

22 Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”

23 Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink.

24 Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet.

25 Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.”

26 Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

Jesus voorspel dat Petrus gaan

ontken hy is sy dissipel

27 Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf:

‘Ek sal die skaapwagter doodmaak,

en die skape sal

uitmekaargejaag word.’

28 “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

29 Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!”

30 Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”

31 Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam.

Jesus se gebedsworsteling in

Getsemane

32 Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.”

33 Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom

34 en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”

35 Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan.

36 “Abba”– dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”

37 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie?

38 Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

39 Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid.

40 Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord.

41 Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense.

42 Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.”

Jesus word gearresteer

43 Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde.

44 Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.”

45 Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet.

46 Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer.

47 Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap.

48 Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang?

49 Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.”

50 Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

51 Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang,

52 maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.

Jesus word deur die Joodse Raad

verhoor

53 Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het.

54 Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.

55 Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie.

56 Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek.

57 Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig:

58 “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’”

59 Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie.

60 Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?”

61 Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?”

62 Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is,

en julle sal vir My, die Seun van die

Mens,

sien sit aan die regterhand van

God,

die Magtige,

en hoe Ek terugkom met die

wolke

van die hemel.”

63 Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig?

64 Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?”

Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.”

65 Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus

66 Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan

67 en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.”

68 Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.” Hy staan toe verder weg na die voorportaal se kant toe. Net op daardie oomblik kraai daar toe ’n haan.

69 Die diensmeisie kyk toe na hom en begin weer vir dié wat daar rondstaan, sê: “Hierdie man is ook een van hulle!”

70 Petrus het dit weer ontken. ’n Klein rukkie later sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle. Jy is ook ’n Galileër.”

71 Petrus het hewig begin vloek en sweer: “Die Here weet, ek ken hierdie man van wie julle praat, glad nie!”

72 Direk daarna het die haan vir die tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval dat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Toe het hy in trane uitgebars.

MARKUS 15

Jesus deur Pilatus verhoor

1 Pas vroegoggend het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifkenners – trouens, die volle Sanhedrin – tot ’n besluit gekom. Hulle het Jesus geboei en toe aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

2 Pilatus het Jesus begin ondervra: “Is jy die Koning van die Jode?”

Jesus het hom geantwoord: “Ja, dit is soos u sê.”

3 Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring.

4 Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?”

5 Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.

6 Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het.

7 Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het.

8 Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat.

9 “Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe –

10 hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het.

11 In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat.

12 Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?”

13 Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!”

14 “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”

Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”

15 Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

16 Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en

17 trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop.

18 Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

19 Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.

20 Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

21 ’n Man met die naam Simon, wat van Sirene afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra.

22 Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek.

23 Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie.

24 Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis.

25 Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26 ’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.”

27 Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

29 Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Ha-ha, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou!

30 Red jouself nou, en kom van die kruis af!”

31 Die priesterhoofde en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie.

32 Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Jesus sterf en ’n Romeinse

offisier verklaar dat Hy die Seun

33 Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag.

34 Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het:“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?”As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?”

35 Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia.

36 Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!”

37 Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas.

38 Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder.

39 Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!”

40 Daar was ook vroue wat alles op ’n afstand dopgehou het, onder andere Maria Magdalena, Maria – die ma van Jakobus junior en Joses – en Salome.

41 Hulle was volgelinge van Jesus en het vir Hom gesorg toe Hy in Galilea was. Baie ander vroue wat saam met Jesus Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus se liggaam in ’n geëerde

raadslid se graf

42 Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was,

43 het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry.

44 Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het.

45 Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee.

46 Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol.

47 Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.

MARKUS 16

Jesus word opgewek!

1 Die volgende aand, toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, Jakobus se ma, en Salome aromatiese olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te behandel.

2 Baie vroeg Sondagmôre, net toe die son opkom, kom hulle by die graf aan.

3 Op pad soontoe het hulle nog onder mekaar gewonder wie die klip voor die ingang van die graf vir hulle sou wegrol.

4 Maar toe hulle daar aankom en opkyk, sien hulle dat die klip – dit was ’n baie groot een – reeds weggerol was.

5 Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik.

6 Hy sê toe vir hulle: “Moenie so skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret, die Een wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek uit die dood! Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam neergelê het.

7 Maar gaan sê julle vir sy dissipels, Petrus ingesluit: Hy gaan julle solank vooruit na Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien soos Hy vir julle gesê het.”

8 Die vroue het toe van die graf af weggevlug, want hulle was vol vrees en ontsteltenis. Hulle het egter vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.

[Korter slot]

Maar die vroue het hierdie opdragte kortliks aan Petrus en dié by hom vertel.

Hierna het Jesus hulle self van die ooste tot die weste uitgestuur met die heilige en onfeilbare boodskap wat ewige verlossing skenk. Amen.

[Langer slot]

9 Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe duiwels gedryf het.

10 Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil.

11 Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie.

12 Daarna het Hy in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn wat van Jerusalem op pad was na die platteland.

13 Hulle het toe teruggegaan en dit vir die ander dissipels vertel, maar dié het selfs vir hulle nie geglo nie.

14 Nog later het Hy aan die elftal self verskyn terwyl hulle besig was om saam te eet. Hy het hulle aangespreek oor hulle ongeloof – hulle koppige onwilligheid om dié te glo wat Hom ná sy opstanding gesien het.

15 Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral.

16 Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word.

17 Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal duiwels in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat.

18 Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.”

19 Nadat die Here Jesus klaar met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy op die ereplek aan God se regterhand gaan sit.

20 Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.