MARKUS 1

1 Johannes die Doper maak die

pad vir die Seun van God gereed

Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God.

2 In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper

voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou

regmaak.

3 Hy is ’n stem wat uitroep

in die woestyn:

‘Kry die Here se pad gereed.

Maak vir Hom ’n hoofweg.’”

4 Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het.

5 Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop.

6 Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7 Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie.

8 Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word deur Johannes

gedoop

9 Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

10 Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom.

11 En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”

Jesus word deur Satan versoek

12 Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan.

13 Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg.

Jesus maak vissers sy eerste

dissipels

14 Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig.

15 Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”

16 Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep.

17 Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!”

18 En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan.

19 ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak.

20 Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan.

Jesus genees iemand met ’n

onrein gees

21 Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee.

22 Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners.

23 Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep:

24 “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!”

25 Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!”

26 Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan.

27 Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!”

28 Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.

Jesus maak Petrus se skoonma

en baie ander siekes gesond

29 Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

30 Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel.

31 Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei.

32 Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring.

33 Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien.

34 Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie duiwels uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê.

Jesus preek deur die hele Galilea

35 Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid.

36 Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan

37 en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.”

38 Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”

39 So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.

Jesus maak ’n melaatse man

gesond

40 ’n Man met ’n ernstige velsiekte het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41 Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!”

42 Net daar het die ernstige velsiekte verdwyn – die man was gesond.

43 Jesus het hom toe dadelik weggestuur nadat Hy hom ernstig aangespreek het met die woorde:

44 “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir ernstige velsiektes wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.”

45 Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom.

MARKUS 2

Jesus vergewe en genees ’n

verlamde persoon

1 Toe Jesus ná ’n hele aantal dae na Kapernaum terugkeer, het dit rugbaar geword dat Hy weer by die huis is.

2 Gou-gou was die huis so vol mense dat daar vir niemand meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel.

3 Daar daag toe vier mans by Hom op wat ’n verlamde persoon op ’n mat dra.

4 As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ’n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.

5 Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “My seun, jou sondes word vergewe.”

6 Maar party van die skrifkenners wat daar gesit het, het by hulleself gedink:

7 “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!”

8 Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster?

9 Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’?

10 Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man:

11 “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!”

12 Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!”

Jesus roep vir Levi die tollenaar

om sy dissipel te word

13 Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig.

14 Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.

15 Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.)

16 Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

17 Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Jesus se mense moenie vas nie,

maar feesvier

18 Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”

19 Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie.

20 Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

21 Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

22 Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”

Mense is baie belangriker as

sabbatswette

23 Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet.

24 Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

25 Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie?

26 Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.”

27 Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie.

28 Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”

MARKUS 3

Jesus maak iemand op die

Sabbat gesond

1 Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ’n man met ’n misvormde hand.

2 Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou. Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou hulle Hom kon aankla.

3 Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier in die middel.”

4 Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.

5 Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.”

Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword.

6 Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.

Groot skares kom na Jesus toe

7 Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aangekom – van Galilea, Judea,

8 Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom.

9 Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap.

10 Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.

11 Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!”

12 Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.

Jesus kies twaalf apostels om

koninkrykswerk te doen

13 Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom.

14 Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek,

15 en om met volmag duiwels uit te dryf.

16 Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het:

Simon (Jesus het sy naam verander

na Petrus),

17 Jakobus en Johannes (die seuns

van Sebedeus, maar Jesus het hulle

die bynaam “Seuns van die

Donder” gegee),

18 Andreas,

Filippus,

Bartolomeus,

Matteus,

Tomas,

Jakobus (die seun van Alfeus),

Taddeus, Simon (die Yweraar),

19 Judas Iskariot (wat Hom later

uitgelewer het).

Jesus se vyande beweer Hy is

van die duiwel besete

20 Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie.

21 Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.”

22 Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie baasduiwel dat hy die bose geeste uitdryf.”

23 Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra.

24 “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie!

25 En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie!

26 Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom.

27 Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof.

28 “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word,

29 maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.”

30 Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was.

Jesus se ware gesinslede is hulle

wat aan God gehoorsaam is

31 Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom.

32 Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!”

33 Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?”

34 Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers.

35 Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

MARKUS 4

Gelykenis van die boer en sy

saad

1 Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was.

2 Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis:

3 “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai.

4 In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik.

5 ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet.

6 Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog.

7 Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie.

8 Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is.

9 Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.”

Waarom Jesus gelykenisse

gebruik

10 Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?”

11 Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word:

12 ‘Sodat hulle sien wat Ek doen,

maar nie die bedoeling daarvan

verstaan nie;

sodat hulle my woorde hoor,

en dit tog nie begryp nie;

sodat hulle nie van hulle

sondes wegdraai

en vergewe word nie.’”

Jesus verklaar die gelykenis van

die saaier

13 Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel?

14 Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi.

15 Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg.

16 En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem.

17 Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof.

18 Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor,

19 maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug.

20 Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.”

’n Lamp wat brand, moet gesién

word

21 Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei.

22 “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom.

23 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

24 Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang.

25 Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.”

Die gelykenis van die saad wat

stilweg groei

26 Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai.

27 Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.

28 Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar.

29 En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.”

Die gelykenis van die

mosterdsaad

30 “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig?

31 Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is,

32 maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.”

Jesus se onderrig bestaan uit

gelykenisse

33 Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan.

34 Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

Jesus kalmeer die storm

35 Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36 Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het).

37 Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het.

38 Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?”

39 Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom.

40 Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”

41 Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”

MARKUS 5

Jesus genees iemand met baie

bose geeste

1 Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom.

2 Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop.

3 Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie.

4 Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie.

5 Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap.

6 Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer.

7 Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In Godsnaam, moenie my seermaak nie!”

8 (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”)

9 Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.”

10 Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie.

11 Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei.

12 Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.”

13 Jesus het hulle dit toegelaat. Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in. Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het.

14 Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel. Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het.

15 Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik.

16 Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het.

17 Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.

18 Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.

19 Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”

20 Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

Jesus verwag dat mense Hom

vir genesing sal vertrou

21 Daarna het Jesus weer per skuit die see oorgesteek. Daar het ’n groot skare op die strand om Hom saamgedrom.

22 ’n Leier van die plaaslike sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe na Hom toe. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer

23 en pleit ernstig by Hom: “My dogtertjie is op haar laaste. Kom sit tog u hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe.”

24 Jesus het toe saam met hom gegaan. ’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom en teen Hom saamgedrom.

25 Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het.

26 Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan.

27 Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak.

28 Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

29 Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is.

30 Jesus het dadelik agtergekom dat daar genesingskrag van Hom uitgegaan het. Daarom het Hy so tussen die baie mense omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31 Sy dissipels protesteer toe: “U sien tog hoe die massa U verdring. Hoe kan U vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’”

32 Maar Jesus het bly rondkyk om te sien wie dit gedoen het.

33 Onder die besef van wat met haar gebeur het, het die vrou, bewend van angs, voor Hom kom neerval en vir Hom alles openhartig vertel.

34 Hy het vir haar gesê: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees vir altyd genees van jou kwaal.”

35 Terwyl Hy nog besig was om met haar te praat, kom daar boodskappers van Jaïrus se huis af met die boodskap: “Jou dogter is dood. Dit sal nie help om die leermeester langer lastig te val nie.”

36 Jesus het die boodskap egter gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.”

37 Jesus het die menigte gestop en niemand toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en sy broer Johannes.

38 Toe hulle by die huis van die leier van die sinagoge aankom, sien Jesus die hele gedoente van mense wat huil en klaagkrete laat hoor.

39 Hy gaan toe in die huis in en sê vir die mense: “Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.”

40 Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitentoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê.

41 Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kind: “Dogtertjie, staan op!”

42 Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase.

43 Maar Jesus het hulle opdrag gegee om dit heeltemal stil te hou en vir haar iets te ete te gee.

MARKUS 6

Sy eie dorp se mense wil niks

van Jesus weet nie

1 Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het.

2 Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig?

3 Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede.

4 Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.”

5 Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het.

6 Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof.

Jesus stuur sy twaalf dissipels

op ’n sending uit

Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig.

7 Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf.

8 Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie.

9 Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf.

10 Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek.

11 Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.”

12 Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom.

13 Hulle het ook baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Johannes die Doper word deur

Herodes vermoor

14 Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.”

15 Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree.

16 Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.”

17 Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat.

18 Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.”

19 Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos.

20 Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.

21 Herodias se kans het uiteindelik gekom toe Herodes op sy verjaarsdag ’n geselligheid vir sy amptenare en die weermagoffisiere en die hoëlui van Galilea gereël het.

22 Sy dogter, wie se naam ook Herodias was, het in die feessaal ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en al die gaste gevind. “Vra my enigiets wat jy graag wil hê,” het Herodes vir die meisie gesê, “en ek sal dit vir jou gee.”

23 Hy het herhaaldelik gesweer: “Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee, selfs tot die helfte van my koninkryk!”

24 Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gaan vra: “Waarvoor moet ek vra?” Daarna het haar ma gesê: “Vra vir die kop van Johannes die Doper!”

25 Sy is dadelik na die koning toe en het hom gevra: “Ek wil dadelik die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord hê.”

26 Die koning was baie ontsteld hieroor, maar omdat hy nie sy eed wou verbreek nie – dit boonop nog voor sulke belangrike gaste – wou hy die meisie nie weier nie.

27 Hy het toe maar dadelik ’n soldaat gestuur met die opdrag om Johannes se kop te bring. Dié het Johannes toe in die tronk gaan onthoof

28 en sy kop op ’n skinkbord gebring en vir die meisie kom gee. Sy het dit toe weer vir haar ma gegee.

29 Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle sy liggaam kom haal en dit begrawe.

Jesus gee vir meer as vyfduisend

mense kos

30 Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het.

31 Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: “Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.”

32 Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees.

33 Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag.

34 Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig.

35 Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al.

36 Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”

37 Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.”

Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”

38 Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”

Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”

39 Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit.

40 Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.

41 Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42 Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het.

43 Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel.

44 ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

Jesus loop op die water

45 Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur.

46 Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid.

47 Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land.

48 Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan.

49 Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.

50 Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”

51 Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het.

52 Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte.

53 Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi.

54 Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken.

55 Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was.

56 En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.

MARKUS 7

God se opdrag is belangriker as

enige tradisie

1 Op ’n dag het daar Fariseërs en sekere skrifkenners van Jerusalem af opgedaag om Jesus te konfronteer.

2 Hulle het agtergekom dat party van sy dissipels nie die gebruiklike Joodse ritueel gevolg het om hulle hande voor ete te was nie.

3 (In navolging van hulle voorvaderlike tradisie eet die Jode, en in besonder die Fariseërs, nie voordat hulle hulle hande deeglik gewas het nie.

4 Net so eet hulle niks wat van die mark af kom as hulle nie eers hulle hande gewas het nie. Daar is ook nog baie ander tradisies waaraan hulle vashou – dinge soos die seremoniële reiniging van drinkbekers, kruike, bakke en eetbankies.)

5 Die Fariseërs en skrifkenners vra Jesus toe: “Waarom volg jou dissipels nie die tradisie van ons voorvaders nie? Hulle eet dan sonder om vooraf hulle hande seremonieel te was.”

6 Hy het hulle geantwoord: “Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe hy van julle geskryf het:

‘Hierdie volk eer My

met hulle lippe,

maar hulle hart

is ver van My af.

7 Hulle godsdiens is blote skyn,

want hulle hou menslike dogmas

voor as wette van God.’

8 “Julle ignoreer God se opdrag en hou ten koste daarvan aan menslike tradisies vas.”

9 Hy sê toe weer vir hulle: “Julle verstaan die fyn kuns om God se opdrag opsy te skuif sodat julle julle tradisie kan handhaaf!

10 Moses het byvoorbeeld vir julle hierdie opdrag van God gegee: ‘Behandel jou ouers met respek,’ en: ‘Iemand wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.’

11 Julle sê egter dit is heeltemal in orde as jy vir jou ouers sê: ‘Jammer, ek kan Pa en Ma nie help nie. Ek het alles waarmee ek vir Pa en Ma kon gehelp het, reeds aan die Here toegewy.’

12 “So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos

13 en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”

14 Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê: “Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.

15 Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou uitgaan, dít is wat jou onrein maak.”

17 Toe het Jesus in ’n huis ingegaan om van die skare weg te kom. Daarna vra sy dissipels Hom uit na die bedoeling van sy stelling.

18 “Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie?

19 Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige soort kos mag eet.)

20 En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak.

21 Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord,

22 huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.

23 Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”

Jesus reageer positief op die

besondere geloof van ’n

24 Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik.

25 Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval.

26 Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die duiwel uit haar dogter te dryf.

27 Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”

28 Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel van die kinders se krummels.”

29 “Uitstekend!” het Jesus vir haar gesê. “Omdat jy My so goed geantwoord het, kan jy maar huis toe gaan. Die duiwel het jou dogter verlaat.”

30 Tuisgekom kry sy toe haar kind rustig op die bed lê, heeltemal gesond.

Jesus maak ’n dowe man gesond

31 Op pad terug van die omgewing van Tirus het Jesus oor Sidon en deur die Tien Stede-gebied na die See van Galilea gegaan.

32 Hulle bring toe ’n dowe man met ’n spraakgebrek na Hom toe en soebat Hom om sy hand op die man te sit om hom gesond te maak.

33 Jesus het hom opsy geneem, heeltemal weg van al die mense af. Toe steek Hy sy vingers in die man se ore en smeer spoeg aan sy tong.

34 Terwyl Hy na die hemel toe opkyk, sug Hy swaar en beveel toe: “Gaan oop!”

35 Oombliklik kon die man hoor en normaal praat!

36 Jesus het hulle toe opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie, maar hoe meer Hy by hulle daarop aangedring het, hoe meer het hulle dit oral vertel.

37 Hulle was absoluut oorweldig.

“Hy het alles so wonderlik gedoen,” het hulle gesê. “Hy maak selfs dowe en stom mense gesond!”

MARKUS 8

Jesus gee vir vierduisend mense

kos

1 Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde:

2 “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie.

3 As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.”

4 Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?”

5 “Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord.

6 Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel.

7 Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word.

8 Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel.

9 Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10 Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta.

Jesus weier ’n versoek vir ’n

wonderteken

11 Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer.

Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken.

12 Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.”

13 Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.

Oppas vir die invloed van die

Fariseërs en Herodes!

14 Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad.

15 Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.”

16 Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.”

17 Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte?

18 Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie?

19 Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”

Hulle antwoord Hom: “Twaalf.”

20 “En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”

“Sewe,” het hulle geantwoord.

21 “Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.

Jesus maak ’n blinde man in

Betsaida gesond

22 Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak.

23 Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”

24 Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”

25 Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien.

26 Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”

Petrus bely dat Jesus die

Messias is

27 Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?”

28 “Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”

29 Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”

Petrus antwoord: “U is die Messias.”

30 Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.

Jesus kondig sy komende dood

vir die eerste keer aan

31 Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan.

32 Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.

33 Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”

34 Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom.

35 As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red.

36 Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?

37 Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.

38 As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”

MARKUS 9

1 Jesus gaan toe voort: “Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op ’n magtige manier begin.”

Jesus word verheerlik

2 Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander.

3 Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie.

4 Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat.

5 Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

6 Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik.

7 Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.”

8 Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.

9 Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.”

10 Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.

11 Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”

12 Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word?

13 Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”

’n Seun met ’n bose gees word

genees

14 Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer.

15 Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet.

16 Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?”

17 Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak.

18 Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.”

19 Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”

20 Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.

21 Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”

“Van kleins af,” was sy antwoord.

22 “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”

23 “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”

24 “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

25 Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”

26 Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!”

27 Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.

28 Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”

29 Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

Jesus kondig weer sy komende

dood aan

30 Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie,

31 want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

32 Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie die belangrikste in God se

koninkryk is

33 Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”

34 Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

36 Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde:

37 “As jy een van hierdie kindertjies in my Naam verwelkom, verwelkom jy vir My. En as jy My verwelkom, verwelkom jy nie net vir My nie; jy verwelkom ook my Vader wat My gestuur het.”

Wie nie teen ons is nie, is vir ons

38 Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”

39 “Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.

40 Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

41 Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”

Waarskuwing teen

struikelblokke

42 “Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek.

43 En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met een hand te lewe as om met twee hande en al in die hel te beland waar die vuur nooit geblus word nie.

45 En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met net een voet te lewe as om met twee voete en al in die hel te beland.

47 En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is vir jou beter om met een oog in God se koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al in die hel te beland

48 waar die wurm nooit doodgaan nie en die vuur nooit geblus word nie.

49 “Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.

50 Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.”

MARKUS 10

Jesus verduidelik God se wil oor

die huwelik

1 Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig.

2 ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?”

3 “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie.

4 Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.”

5 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte.

6 God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’

7 En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.

8 So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.

9 Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”

10 Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra.

11 Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou.

12 En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën kindertjies

13 Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.

14 Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.

15 Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

16 Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.

’n Ryke sien nie kans vir die eis

van dissipelskap nie

17 Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18 “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed.

19 Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’”

20 “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.”

21 Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.”

22 Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23 Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!”

24 Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom.

25 Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.”

26 Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?”

27 Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!”

28 Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.”

29 Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het,

30 sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe!

31 Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Vir die derde keer kondig Jesus

sy komende dood aan

32 Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur:

33 “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode.

34 Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”

Wie ’n leier wil wees, moet

ander dien

35 Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”

36 “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.

37 “In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.

38 Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?”

39 Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.”

“Dis waar,” sê Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word,

40 maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.”

41 Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword.

42 Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

43 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien.

44 En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.

45 Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

Jesus maak die blinde

Bartimeus gesond

46 So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit.

47 Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48 Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49 Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en sê vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.”

50 Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.

51 “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”

52 Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.