MALEAGI 1

1 Die Here het vir Maleagi ’n boodskap gegee om aan Israel oor te dra.

Die Here se liefde vir Israel

2 Die Here sê: “Ek het julle lief.”

Julle reaksie was: “Hoe het U ons liefgehad?”

Hierop het die Here geantwoord: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob liefgehad,

3 maar Esau verwerp. Ek het sy heuwelagtige grondgebied verlate gemaak en sy erfdeel verander in ’n woestyn, bestem vir jakkalse.”

4 Toe het Esau se afstammelinge, die mense van Edom hierop gereageer en gesê: “Ons is platgeslaan, maar ons sal die bouvalle weer opbou.”

Die Here, die Almagtige, het so daarop geantwoord: “Hulle kan maar probeer om herstelwerk te doen. Ek sal dit net weer vernietig! Hulle land sal bekend staan as ‘Die Land van Boosheid’ en die volk as ‘Die volk vir wie die Here vir altyd kwaad sal wees’.

5 As julle die vernietiging met julle eie oë sien, sal julle sê: ‘Die grootheid van die Here strek baie verder as ons landsgrense!’”

Nuttelose offers

6 Vir die priesters sê die Here, die Almagtige:

“’n Seun eer sy pa

en ’n slaaf sy meester.

Ek is julle Vader en julle Meester,

maar waar is die eer en respek

wat My toekom?

Julle het My geminag!

Maar julle vra:

‘Op watter wyse

het ons U geminag?’

7 Julle bring vir My offers

van voedsel wat besoedeld is.

Dan vra julle:

‘Hoe het ons u offer onrein

gemaak?’

Julle het dit gedoen deur te sê

die Here se altaar

kan maar geminag word.”

8 Die Here, die Almagtige, sê:

“Is dit nie verkeerd

as julle blinde diere bring

om te offer nie?

Is dit nie ook verkeerd

om lam en siek diere

te offer nie?

Bring ’n bietjie sulke geskenke

vir julle goewerneur

en kyk of hy daarmee tevrede sal wees

en julle vriendelik sal ontvang!

9 Roep God aan en smeek Hom

om julle genadig te wees!

Maar as dit die soort offers is

wat julle bring,

hoekom sal Ek

julle goedgesind wees?”

vra die Here, die Almagtige.

10 “Ek wens iemand van julle wil die tempeldeure toesluit sodat julle nie meer nuttelose offers kan bring nie! Ek is glad nie tevrede met julle nie. Ek stel nie in julle offers belang nie,” sê die Here, die Almagtige.

11 “Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die Here, die Almagtige.

12 “Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag.

13 Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die Here, die Almagtige!

“Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die Here.

14 “Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die Here, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”

MALEAGI 2

’n Waarskuwing aan die

priesters

1 “Luister, priesters, hierdie opdrag is vir julle!”

2 Die Here, die Almagtige, sê:

“Luister na My,

maak groot erns daarmee.

Julle moet my Naam eer!

As julle dit nie doen nie,

sal Ek ’n vloek oor julle bring.

Selfs julle voorspoed

sal Ek verander in ’n vloek.

Trouens, Ek het dit alreeds vervloek,

want aan my waarskuwing

steur julle julle nie.

3 Ook julle nageslag sal Ek straf.

Ek gaan die mis

van die offerdiere

by julle feeste

oor julle gesigte smeer.

Julle sal op die mishoop beland.

4 Dan sal julle besef dat dit Ek is

wat hierdie opdrag gestuur het

sodat my verbond met die Leviete

kan voortbestaan,”

sê die Here, die Almagtige.

5 “Die doel van my verbond met die

Leviete was om lewe en vrede

te bring.

Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het.

Hulle moes My eer en respekteer

en dis presies wat hulle gedoen het.

Hulle het My met diep ontsag bejeën,

6 mense in my waarheid onderrig

en nie leuens vertel nie.

In vrede en opregtheid

het hulle saam met My geloop.

Hulle het ook baie mense gehelp

om weg te draai van die sonde.

7 “Die priester moet waak

oor die kennis wat hy meedeel.

Hy moet die volk kan leer

wat my wil is,

want hy is die boodskapper

van die Here, die Almagtige.

8 Maar dit was nie so met julle nie!”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Julle het van my pad afgedwaal.

Julle sogenaamde onderrig

het baie mense laat struikel.

Julle het skade aangerig

aan my verbond met die Leviete.

9 “Julle het nie gelewe soos

Ek vereis nie

en was partydig

in julle toepassing van my voorskrifte.

Daarom het Ek veroorsaak

dat julle by die hele volk

verag en verneder word.”

’n Oproep om getrouheid

10 Is ons nie kinders van dieselfde

Vader nie?

En is ons nie almal deur een God

geskep nie?

Hoekom bedrieg julle mekaar dan,

verbreek julle die verbond

wat God met ons voorouers

gemaak het?

11 In Israel en Jerusalem

het iets afstootliks gebeur:

Juda was ontrou!

Die Here het die tempel baie lief,

maar die mans van Juda

het dit ontheilig

deur te trou met vroue

wat vreemde gode aanbid.

12 Mag die Here alle mense

wat so iets doen

uit die gemeenskap van

Israel verwyder,

selfs al bring hulle gereeld offers

aan die Here, die Almagtige.

13 Daar is nog iets wat julle doen.

Julle stort trane by die Here se altaar.

Julle huil en kerm,

maar Hy aanvaar nie julle offers

met goeie guns nie.

14 Julle roep uit: “Hoekom nie?”

Dis omdat die Here ’n getuie was

toe jy en jou vrou

julle beloftes aan mekaar gemaak het.

Maar jy was ontrou aan haar

ten spyte daarvan dat sy

getrou as jou metgesel gebly het,

die vrou aan wie jy jou

huweliksbeloftes gemaak het.

15 Het die Here dan nie man en vrou

een gemaak nie,

een in liggaam en gees?

Hoekom het Hy hulle een gemaak?

Omdat God wou hê daar moet

kinders vir Hom voortspruit.

Wees op julle hoede.

Moenie ontrou wees

aan die vrou van jou jeug nie.

16 Die Here, die God van Israel, sê:

“Ek haat egskeiding!

Om te skei is net so gewelddadig

soos om ’n slagoffer

se bebloede baadjie aan te trek.”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Wees verantwoordelik

en moenie ontrou wees nie!”

17 Julle het die Here moeg gemaak

met julle baie gepraat

en dan vra julle:

“Hoe het ons Hom moeg gemaak?”

Julle het Hom vermoei

deur te sê

dat almal wat kwaad doen

eintlik vir die Here aanvaarbaar is

en dat Hy met hulle tevrede is.

Julle het Hom vermoei deur te vra:

“Waar is die God

wat reg moet laat geskied?”

MALEAGI 3

Die dag van oordeel is naby

1 Die Here, die Almagtige, sê:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper

wat die pad voor My gereedmaak.

Die Here na wie julle soek,

sal skielik na sy tempel toe kom.

Die boodskapper van die verbond

na wie julle so uitsien, kom beslis.

2 Maar wie sal die dag van sy koms

kan deurstaan?

Wie sal kan standhou

wanneer Hy verskyn?

Hy sal wees soos vuur

wat metaal suiwer

of soos seep wat klere spierwit was.

3 Hy sal gaan sit en oordeel

soos iemand wat silwer smelt

en suiwer maak.

Hy sal die Leviete suiwer

en hulle soos goud en silwer louter.

Dan sal hulle weer

vir die Here aanvaarbare

offers bring.

4 Dan sal die Here

weer offers aanvaar

van Juda en Jerusalem se mense,

soos vroeër.”

5 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek kom om julle te oordeel.

Ek sal dadelik gereed wees

om teen die towenaars,

egbrekers en leuenaars te getuig.

Ek sal getuig teen mense

wat hulle werkers

met lone bedrieg

en weduwees en weeskinders

onderdruk.

Verder sal Ek ook getuig

teen hulle wat vreemdelinge

tussen julle laat swaarkry

en teen hulle

wat My nie respekteer nie.”

Keer terug na die Here

6 “Ek is die Here, Ek verander nie.

Daarom, nageslag van Israel,

is julle nie heeltemal uitgewis nie.

7 Van die tyd van julle voorouers af

het julle afgewyk

van my voorskrifte

en hulle nie gehoorsaam nie.”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Keer terug na My toe

en Ek sal na julle toe terugkeer.

Maar julle vra:

‘Hoe moet ons terugkeer?’

8 “Sal mense God ooit besteel?

Tog het julle My bedrieg!

Julle vra: ‘Wat bedoel U?

Wanneer het ons U ooit bedrieg?’

Julle het die tiendes

en offerandes gesteel!

9 Daar rus ’n vloek op julle,

want julle hele volk besteel My.”

10 Die Here, die Almagtige, sê:

“Bring al die tiendes

na die stoorkamers

sodat daar genoeg kos

in my tempel kan wees.

Toets My hierin of Ek nie vir julle

die vensters van die hemel

sal oopmaak nie.

Ek sal voorspoed op julle laat reën

wat meer as genoeg

vir julle sal wees!”

11 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek sal sorg dat insekte

julle oes nie verwoes nie

en julle wingerde op die landerye

nie misluk nie.

12 Dan sal al die nasies

julle as geseënd beskou

omdat julle land begeerlik is.”

Dit is wat die Here, die Almagtige, sê.

13 Die Here sê:

“Julle sê verskriklike dinge van My.

Maar julle sê:

‘Wat het ons van U gesê?’

14 Julle het gesê:

‘Dis tevergeefs om God te dien.

Wat het ons daarby gebaat

om sy voorskrifte na te kom

of om die Here, die Almagtige, te wys

dat ons berou het oor ons sonde?

15 Kwaaddoeners word ryk,

en mense wat God uitdaag,

kom skotvry daarvan af.

Daarom sal ons voortaan sê:

Verwaande mense is gelukkig.’”

Belofte van genade

16 Die mense wat die Here dien,

het toe met mekaar gepraat.

Die Here het na hulle geluister

en gehoor wat hulle sê.

Hulle het ’n gedenkboek

in sy teenwoordigheid geskryf.

Dit het die name bevat van mense

wat die Here met ontsag dien

en graag aan Hom dink.

17 Die Here, die Almagtige, sê:

“Die dag as Ek ingryp,

sal hulle my kosbare besitting wees.

Ek sal sagkens met hulle werk,

soos ’n pa met sy kind

wat lojaal aan hom is.

18 Dan sal julle weer die verskil sien

tussen mense wat reg doen

en goddelose mense,

die verskil tussen mense wat God dien

en dié wat Hom nie dien nie.”

MALEAGI 4

Naderende oordeel

1 Die Here, die Almagtige, sê:

“Die dag kom

en dit brand soos ’n vuuroond.

Op dié dag sal alle verwaande,

alle goddelose mense

soos kaf deur vuur verteer word.

Niks sal oorbly nie,

nie wortel of tak nie.

2 “Maar die Son van Geregtigheid,

met genesing in sy vlerke,

sal opkom vir julle

wat eerbied en respek

vir My het.

Julle sal uitgaan en vrolik rondspring

soos kalwers

wat uit die kraal kom.”

3 Die Here, die Almagtige, sê:

“Op dié dag sal julle

die goddeloses vertrap

asof hulle stof onder julle voete is.

4 “Moenie vergeet om die voorskrifte

van my dienskneg Moses

te gehoorsaam nie.

Dit behels al die reëls en regulasies

wat Ek hom op Sinai beveel het

om vir die hele Israel te gee.

5 “Kyk, voordat die groot

en angswekkende Dag van die Here

aanbreek,

stuur Ek die profeet Elia na julle toe.

6 Hy sal ouers

met hulle kinders versoen

en kinders met hulle ouers.

As dit nie gebeur nie,

sal Ek die land tref

met vernietiging.”