LEVITIKUS 21

Voorskrifte vir die priesters

1 Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die priesters om hulleself nie onrein te maak deur aan die lyk van ’n familielid te raak nie,

2 behalwe in die geval van ’n naby familielid – ma of pa, seun of dogter, broer

3 of ongetroude suster wat afhanklik was omdat hy of sy geen man gehad het nie.

4 Hy mag hom nie ongeskik maak vir sy werk deur naby die lyk van ’n skoonfamilielid te kom nie.

5 “Die priesters mag nooit hulle hare of die baard aan die kant van hulle gesig afskeer nie. Hulle mag ook nie snye op hulle liggame maak nie.

6 Hulle is afgesonder vir God as heilig en mag nooit sy Naam oneer aandoen nie. Hulle is tog die mense wat die vuuroffer vir die Here bring en so aan God voedsel verskaf. Daarom moet hulle heilig bly.

7 “Die priesters mag nie met vroue trou wat onrein is as gevolg van prostitusie nie. Die priesters mag ook nie trou met vroue wat geskei is nie, want priesters is vir God afgesonder as heilig.

8 Julle moet hulle as heiliges behandel omdat hulle offers vir julle God bring. Ag die priesters as heilig, want Ek, die Here, is heilig en Ek maak julle heilig.

9 As ’n priester se dogter ’n prostituut word en so haar pa se heiligheid onrein maak, moet sy verbrand word.

10 “Die hoëpriester, oor wie se kop salfolie uitgegiet is en wat georden is om spesiale priesterklere te dra, mag nooit sy hare laat los hang of sy klere skeur om te rou nie.

11 Hy mag homself nooit verontreinig deur naby ’n lyk te kom nie, selfs al is dit sy pa of ma.

12 Hy mag nie die heiligdom van sy God ontheilig deur dit te verlaat om ’n begrafnis by te woon nie. Hy is immers deur die salfolie van sy God heilig gemaak. Ek is die Here.

13 “Die hoëpriester mag net met ’n maagd trou.

14 Hy mag nie met ’n weduwee, ’n geskeide vrou of met ’n vrou wat onrein is deur prostitusie trou nie. Sy moet ’n maagd uit sy eie stam wees

15 sodat hy nie sy afstammelinge oneer aandoen tussen die lede van die stam nie, want Ek, die Here, het hom heilig gemaak.”

16 Toe het die Here vir Moses gesê:

17 “Vertel vir Aäron dat wat toekomstige geslagte betref, afstammelinge wat ’n liggaamsgebrek het, nie kwalifiseer om aan hulle God te offer nie.

18 Niemand met ’n liggaamsgebrek mag My nader nie, of hy nou blind of lam of misvormd of gebreklik is,

19 en of hy ’n gebreekte voet of hand het,

20 of ’n boggelrug het of ’n dwerg is, of ’n oogdefek het of wat ’n etterende seer of skurfte aan sy vel het of wat beskadigde testikels het.

21 Selfs al is hy ’n afstammeling van Aäron, diskwalifiseer sy fisiese gestremdheid hom om offers vir die Here te bring. Omdat hy ’n tekortkoming het, mag hy nie offer vir God nie.

22 Hy mag egter van die kos eet wat aan God geoffer word, insluitende die heilige offers en die allerheiligste offers.

23 As gevolg van sy fisiese gebrek mag hy nooit agter die voorhangsel ingaan of na die altaar kom nie omdat dit my heilige plekke sal verontreinig. Ek is die Here wat dit heilig gemaak het.”

24 Moses het hierdie instruksies vir Aäron en sy seuns en vir al die Israeliete gegee.

LEVITIKUS 22

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir Aäron en sy seuns om die heilige gawes wat die Israeliete vir My eenkant afsonder, met sorg te hanteer sodat hulle nie my Naam ontheilig nie. Ek is die Here.

3 “Herinner hulle daaraan dat nie een van hulle afstammelinge die offer wat die Israeliete aan My opgedra het, mag bring terwyl hulle self onrein is nie. So ’n persoon mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die Here.

4 “As enige priester uit die nageslag van Aäron ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding wat hom onrein maak, mag hulle nie van die heilige offers eet voordat hulle rein verklaar is nie. As enige priester onrein sou raak deur aan ’n lyk te raak of deur ’n saadstorting,

5 of deur ’n kruipende dier aan te raak wat onrein is, of deur aan iemand te raak wat onrein is vir watter rede ook al,

6 sal hy onrein bly tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige offers eet voordat hy sy liggaam met water gereinig het nie.

7 As die son ondergaan, sal hy weer rein wees en mag hy van die heilige offers eet. Dit is immers hulle enigste kos.

8 “Die priesters mag nooit vleis eet van ’n dier wat aan natuurlike oorsake gevrek het of wat deur wilde diere verskeur is nie, want dit sal hulle onrein maak. Ek is die Here.

9 “Waarsku alle priesters om hierdie reëls noukeurig na te kom, anders sal hulle gestraf word en sterf omdat hulle oortree het. Ek is die Here wat hulle heilig maak.

10 “Iemand wat nie aan die familie van ’n priester behoort nie, mag nooit van die heilige offers eet nie, selfs nie eers as die persoon in ’n priester se huis woon of een van sy gehuurde slawe is nie.

11 As die priester egter self die slaaf gekoop het, mag hy van die offers eet. As die slaaf kinders het, mag hulle ook deel in die kos.

12 As die dogter van ’n priester sou trou met iemand buite die priesterlike familie, mag sy nie langer van die heilige offers eet nie.

13 As sy egter ’n weduwee word of geskei en nie enige kinders het nie, en sy kom bly weer in haar pa se huis, mag sy weer van haar pa se kos eet. Behalwe vir hierdie uitsonderings, word net die priesters se families toegelaat om van die heilige offers te eet.

14 “Iemand wat van die heilige offers eet sonder om dit te besef, moet die priester daarvoor betaal plus ’n addisionele heffing van twintig persent.

15 Niemand mag die heilige offers wat deur die Israeliete vir die Here gebring word, onrein maak

16 deur toe te laat dat onbevoegde persone daarvan eet nie. So ’n nalatige priester bring skuld op die volk wat weer betaal moet word. Ek is die Here wat hulle heilig maak.”

Aanvaarbare en onaanvaarbare

offers

17 Die Here het vir Moses gesê:

18 “Gee vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete hierdie instruksies. Dit is van toepassing op gebore Israeliete en op vreemdelinge wat tussen julle woon. As jy ’n brandoffer vir die Here offer, of dit nou is om ’n gelofte na te kom en of dit ’n vrywillige offer is,

19 sal dit net aanvaar word as dit ’n manlike dier sonder enige liggaamsgebrek is. Dit mag ’n bul, ’n skaapram of ’n bokram wees.

20 Moenie ’n dier met ’n liggaamsgebrek bring nie, want dit sal nie ter wille van jou aanvaar word nie.

21 “As jy een van jou diere as ’n maaltydoffer vir die Here bring, of dit nou is om ’n gelofte na te kom en of dit ’n vrywillige offer is, moet jy ’n dier sonder enige liggaamsgebrek offer.

22 ’n Blinde, beseerde, verminkte dier of een met ’n vergroeisel, ’n oop seer of ’n velkwaal mag nooit ’n vuuroffer op die altaar vir die Here wees nie.

23 As ’n bul of ’n lam misvormd of klein is, mag dit as ’n vrywillige offer dien, maar dit mag nie geoffer word om ’n gelofte na te kom nie.

24 ’n Dier met beseerde testikels of wat gekastreer is, mag nooit vir die Here geoffer word nie.

25 Verminkte of gebreklike diere van vreemdelinge mag ook nie as ’n offer aan julle God geoffer word nie. Sulke diere is onaanvaarbaar omdat hulle gebreklik is.”

26 Die Here het ook vir Moses gesê:

27 “Wanneer ’n bul of ’n skaapram of bokram gebore word, moet dit sewe dae lank by sy ma bly. Vanaf die agtste dag is dit aanvaarbaar as ’n vuuroffer vir die Here.

28 Jy mag nie ’n vroulike dier en haar kalf of lam saam op dieselfde dag slag nie.

29 Wanneer jy ’n dankoffer vir die Here bring, doen dit só dat dit ter wille van jou aanvaar sal word.

30 Eet die hele offerdier op die dag waarop dit gebring is. Jy mag niks laat oorbly tot die volgende dag toe nie. Ek is die Here.

31 “Julle moet al my gebooie getrou nakom en gehoorsaam daaraan wees, want Ek is die Here.

32 Moenie my heilige Naam ontheilig nie. Die volk Israel moet My as die Heilige erken. Dit is Ek, die Here, wat julle heilig maak.

33 Dit was Ek wat julle uit Egipte gered het sodat Ek julle God kan wees. Ek is die Here.”

LEVITIKUS 23

Die feeste

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee vir die Israeliete instruksies oor die feeste wat die Here aangewys het, feeste waarheen julle almal opgeroep word om My te kom aanbid.

3 Jy mag elke week vir ses dae lank werk, maar op die sewende dag moet alle werk tot stilstand kom. Dit is die Here se Sabbatdag van algehele rus. Dit is ’n heilige dag om bymekaar te kom vir aanbidding. Dit moet nagekom word waar julle ook al woon.

4 Behalwe die Sabbatdag, het die Here ook feeste ingestel, heilige byeenkomste wat op spesifieke tye gedurende die jaar gehou moet word.”

Paasfees en die Fees van die

Ongesuurde Brood

5 “Die Paasfees van die Here begin teen skemer op die veertiende dag van die eerste maand.

6 Die dag na die Paasfees begin die Fees van die Ongesuurde Brood. Die fees vir die Here hou vir sewe dae lank aan en gedurende dié tyd mag julle net brood eet wat gemaak is sonder suurdeeg.

7 Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom.

8 Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die Here bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”

Die Fees van die Eerste

Opbrengs

9 Toe het die Here vir Moses beveel

10 om die volgende instruksies vir die Israeliete te gee: “Wanneer julle in die land bly wat Ek aan julle gee, en julle samel die eerste oes in, bring vir die priester die eerste gerf van die graanoes.

11 Die priester sal dit op die dag ná die Sabbat in die teenwoordigheid van die Here oplig sodat dit ter wille van julle aanvaar kan word.

12 Dieselfde dag moet julle ’n jaaroud skaapram sonder enige liggaamsgebrek as ’n brandoffer vir die Here bring.

13 Dit moet saam met ’n graanoffer gebring word. Dit sal bestaan uit drie kilogram meel gemeng met olyfolie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Saam met die offer moet julle ook een liter wyn as ’n drankoffer offer.

14 Op dié dag mag julle nie brood of geroosterde of rou graan eet voordat julle eers die offer vir julle God gebring het nie. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.”

Die Oesfees

15 “Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel.

16 Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here.

17 Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die Here opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die Here wees uit die eerste opbrengs van julle oes.

18 Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die Here bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die Here gebring word en sal aangenaam vir Hom wees.

19 Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring.

20 “Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die Here oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die Here en behoort aan die priesters.

21 Daardie selfde dag moet julle ophou met werk en vir ’n heilige byeenkoms vergader. Dit is ’n permanente reël vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.

22 “Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die lande afoes nie. Moet ook nie alles optel wat die mense wat oes, laat val het nie. Los dit vir die armes en vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”

Die Fees van die Trompette

23 Die Here het vir Moses beveel

24 om hierdie instruksies vir die Israeliete te gee: “Op die eerste dag van die sewende maand in die vroegherfs moet julle ’n dag van rus vier. Alle werk moet op dié dag tot stilstand kom. Die volk word met die harde geblaas van ’n trompet opgeroep tot ’n heilige byeenkoms, die Fees van die Trompette.

25 Julle mag geen werk doen op dié dag nie. Julle moet eerder vuuroffers vir die Here bring.”

Die Versoendag

26 Toe het die Here vir Moses gesê:

27 “Onthou om die Dag van Versoening te vier op die negende dag ná die Fees van die Trompette. Op dié dag moet julle julleself verootmoedig, ’n heilige byeenkoms hou en vuuroffers vir die Here bring.

28 Julle mag die hele dag lank nie werk nie, want dit is die Dag van Versoening wanneer daar vir julle voor die Here julle God versoening gedoen word.

29 Enige persoon wat homself nie op die dag verootmoedig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word.

30 Ek sal ook enige persoon wat op dié dag werk, om die lewe bring.

31 Julle mag hoegenaamd geen werk doen nie. Dit is ’n permanente reël en moet nagekom word waar julle ook al woon.

32 Dit sal ’n Sabbat van rus vir julle wees, ’n dag waarop julle julleself moet verneder. Die tyd van rus en vas sal die aand voor die Dag van Versoening begin en dit sal duur tot die aand van daardie dag.”

Die Huttefees

33 Die Here het vir Moses gesê:

34 “Die Israeliete moet op die vyfde dag ná die Dag van Versoening begin met die Huttefees. Hierdie fees vir die Here duur sewe dae.

35 Dit begin met ’n heilige byeenkoms en al julle werk moet tot stilstand kom.

36 Op elk van die sewe feesdae moet julle vuuroffers vir die Here bring. Op die agtste dag moet julle weer bymekaarkom vir ’n heilige byeenkoms en nog ’n vuuroffer vir die Here bring. Dit moet ’n plegtige byeenkoms wees en geen werk mag op dié dag gedoen word nie.

37 “Dit is al die Here se jaarlikse feeste, die feeste met heilige byeenkomste, en bring al die verskillende vuuroffers vir die Here: brandoffers, graanoffers, offermaaltye, drankoffers, elkeen op die gepaste dag.

38 Hierdie feeste moet gehou word bo en behalwe die Sabbatdae van die Here. Die offers wat gebring word, word gegee naas julle persoonlike gawes en die offers wat julle maak om ’n gelofte na te kom of enige vrywillige offer wat julle vir die Here bring.

39 “Die Huttefees val op die vyftiende dag van die sewende maand nadat julle die opbrengs van die land geoes het. Dit duur sewe dae lank. Onthou dat die eerste en die agtste dag van die fees rusdae sal wees.

40 Op die eerste dag moet julle sitrusvrugte neem en ook palmblare en ander takke waaraan daar blare is en ook wilgers wat by riviere groei, bymekaarmaak. Vier dan sewe dae lank met blydskap fees in die teenwoordigheid van die Here.

41 Julle moet hierdie fees van sewe dae vir die Here elke jaar vier. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word.

42 Vir sewe dae lank moet alle gebore Israeliete in hutte woon wat van hierdie takke gemaak is.

43 Dit sal elke nuwe geslag Israeliete herinner aan hulle voorouers wat so in hutte moes leef toe Ek hulle uit Egipte gered het. Ek, die Here, is julle God.”

44 So het Moses dan hierdie instruksies oor die jaarlikse feeste van die Here vir die Israeliete gegee.

LEVITIKUS 24

Suiwer olie en heilige brood

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Beveel die Israeliete om vir jou suiwer olyfolie vir die lamp in die heiligdom te gee sodat dit kan bly brand.

3 Aäron moet sorg dat die lamp bly brand van die aand tot die volgende oggend voor die voorhangsel van die Allerheiligste plek in die teenwoordigheid van die Here. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet deur alle toekomstige geslagte nagekom word.

4 Die lampe op die goue lampstaander in die teenwoordigheid van die Here moet gereeld versorg word.

5 “Julle moet twaalf brode met meel bak. Gebruik drie kilogram meel vir elke brood.

6 Pak die brood op die goue tafel in die teenwoordigheid van die Here in twee rye, ses brode in elke ry.

7 Sprinkel suiwer wierook in elke ry. Dit sal dien as ’n gedenkoffer wat in die plek van die brood gebrand moet word as ’n vuuroffer wat vir die Here gegee word.

8 “Elke Sabbatdag moet hierdie brood in die teenwoordigheid van die Here vervang word ter wille van die Israeliete as ’n voortdurende verbond.

9 “Die brode wat vervang word, behoort aan Aäron en sy manlike nakomelinge. Hulle moet dit op ’n heilige plek eet, want dit verteenwoordig ’n besonder heilige gawe wat as vuuroffer vir die Here gegee word.”

’n Voorbeeld van regverdige straf

10 Op ’n dag het ’n man met ’n Israelitiese ma en ’n Egiptiese pa in ’n geveg betrokke geraak met een van die Israelitiese mans.

11 Midde-in die geveg het die seun van ’n Israelitiese vrou die Naam van die Here lasterlik gebruik. Die man is toe na Moses toe gebring om uitspraak te gee. Sy ma se naam was Selomit. Sy was die dogter van Dibri uit die stam van Dan.

12 Hulle het die man in aanhouding geplaas totdat die wil van die Here in dié verband duidelik sou word.

13 Toe het die Here vir Moses gesê:

14 “Neem hierdie lasteraar uit die kamp uit. Sê vir almal wat hom hoor laster het om hulle hande op sy kop te lê. Laat die hele gemeenskap hom dan stenig.

15 “Sê dan vir die volk Israel: Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, sal die gevolge van sy skuld dra en sal gestraf word.

16 “Hy wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet deur die hele gemeenskap van Israel gestenig word. Enige Israeliet of vreemdeling wat die Naam van die Here lasterlik gebruik, moet doodgemaak word.

17 “Enigeen wat die lewe van ’n ander persoon neem, moet doodgemaak word.

18 “Enigeen wat ’n ander persoon se dier doodmaak, moet die persoon ten volle vergoed. Hy moet die dier wat doodgemaak is, vervang met ’n lewende dier.

19 “Enigeen wat ’n ander persoon beseer, moet behandel word ooreenkomstig die besering wat hy veroorsaak het –

20 ’n beenbreuk vir ’n beenbreuk, ’n oog vir ’n beseerde oog, ’n tand vir ’n gebreekte tand. Presies wat iemand gedoen het toe hy ’n ander persoon seer gemaak het, moet nou met hom gemaak word.

21 “Wie ’n dier doodmaak, moet dit ten volle vergoed, maar wie ’n ander persoon se lewe neem, moet doodgemaak word.

22 “Hierdie bepalings is van toepassing op gebore Israeliete en op die vreemdelinge wat tussen julle woon. Ek, die Here, is julle God.”

23 Nadat Moses al hierdie instruksies vir die Israeliete gegee het, het hulle die godslasteraar uit die kamp gevat en hom gestenig, net soos die Here vir Moses beveel het.

LEVITIKUS 25

Die Sabbatsjaar

1 Terwyl Moses op die Sinaiberg was, het die Here vir hom gesê:

2 “Gee hierdie instruksies vir die Israeliete: Wanneer julle die land binnetrek wat Ek as ’n erfdeel vir julle gee, moet die land self elke sewe jaar ’n Sabbat vir die Here hou.

3 Vir ses jaar mag julle julle landerye beplant, julle wingerde snoei en julle lande oes,

4 maar die sewende jaar sal vir die Here ’n Sabbatsjaar van rus vir die land wees. Moenie plant nie en moet ook nie julle wingerde snoei gedurende die hele jaar nie.

5 Julle mag ook nie oes wat natuurlik groei of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie. Die land moet vir ’n jaar lank heeltemal rus.

6 Julle, julle slawe en slavinne en enige vreemdelinge wat tussen julle woon, mag egter van die produkte eet wat natuurlik groei gedurende die Sabbatsjaar.

7 Julle diere en die wilde diere mag ook eet van wat die land oplewer.”

Die Jubeljaar

8 “Tel sewe Sabbatsjare af, sewe maal sewe, ’n totaal van 49 jaar.

9 Op die Versoendag in die 50ste jaar moet die trompette hard en lank oor die hele land geblaas word.

10 Die jaar sal dan afgesonder word as heilig, dit is ’n tyd wanneer al die bewoners van die land vrygelaat moet word. Dit sal ’n Jubeljaar wees, ’n jaar wanneer elkeen van julle mag terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het, ’n jaar wanneer elkeen met sy familiegroep herenig word.

11 Die 50ste jaar sal ’n Jubeljaar vir julle wees. Gedurende dié jaar mag julle nie saad plant of afoes wat natuurlik groei, of die druiwe gebruik van julle ongesnoeide wingerde nie.

12 Dit sal ’n Jubeljaar wees vir julle en julle moet dit as ’n spesiale en heilige tyd nakom. Julle mag gedurende die jaar van die opbrengs eet wat die veld vanself oplewer.

13 Gedurende die Jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na die land wat aan julle voorouers behoort het.

14 “Wanneer julle ’n ooreenkoms met ’n buurman aangaan om grond te koop of te verkoop, mag julle mekaar nooit uitbuit nie.

15 Wanneer julle grond van ’n buurman koop, moet die prys van die grond gebaseer word op die aantal jare sedert die laaste Jubeljaar. Die verkoper sal ’n prys vra op grond van die aantal oesjare wat nog oor is tot die volgende Jubeljaar.

16 Hoe groter die aantal jare voor die hersteljaar, hoe hoër die prys. Hoe minder die aantal jare, hoe laer die prys. Die verkoper van die grond verkoop mos eintlik ’n sekere aantal oeste.

17 Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die Here, is julle God.

18 “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings.

19 Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef.

20 Julle kan miskien vra: ‘Wat sal ons gedurende die sewende jaar eet, aangesien ons in daardie jaar niks mag plant of oes nie?’

21 Die antwoord is: ‘Ek sal my seën oor julle gebied stuur in die sesde jaar sodat die land ’n baie goeie oes oplewer, genoeg om julle vir drie jaar lank te onderhou.

22 Wanneer julle weer saad plant in die agtste jaar, sal julle nog steeds van die opbrengs van die vorige jaar eet. Julle sal nog steeds van die ou oes kan eet totdat die nuwe oes eers in die negende jaar kom.’

23 “Onthou dat die land nooit op ’n permanente basis verkoop mag word nie, want eintlik behoort die land aan My. Julle is eintlik net vreemdelinge en huurders wat by My bly.”

Die terugkoop van eiendom

24 “Met elke grondtransaksie moet dit gestipuleer word dat die grond weer te eniger tyd teruggekoop mag word.

25 As enige van julle Israelitiese familielede bankrot speel en so gedwing word om van die geërfde grond te verkoop, mag ’n naby familielid – ’n losser – die grond vir hom terugkoop.

26 As daar niemand van sy familie is om die grond terug te koop nie, maar die persoon wat dit verkoop het, slaag daarin om genoeg geld in die hande te kry om die grond terug te koop,

27 het die persoon die reg om die grond terug te koop van die persoon wat dit aanvanklik gekoop het. Die prys van die grond sal baseer word op die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Nadat die grond teruggekoop is, mag die oorspronklike eienaar terugkeer na sy grond toe.

28 As die oorspronklike eienaar egter nie kan bekostig om die grond terug te koop nie, sal dit tot die volgende Jubeljaar aan die nuwe eienaar behoort. In die Jubeljaar sal die grond dan teruggegee word aan die oorspronklike eienaar.

29 “As iemand ’n huis binne ’n ommuurde stad verkoop, het hy nog vir ’n jaar lank die reg om dit terug te koop. Gedurende dié tyd het die verkoper die reg om dit terug te koop.

30 As die huis nie binne ’n jaar teruggekoop word nie, word die huis binne ’n ommuurde stad die permanente eiendom van die koper. Dit word dan nie in die Jubeljaar aan die oorspronklike eienaar terugbesorg nie.

31 ’n Huis in ’n dorp – dit beteken ’n nedersetting sonder versterkte mure – word op dieselfde manier as eiendom in die oop veld beskou. So ’n huis mag te eniger tyd teruggekoop word en moet dan aan die oorspronklike eienaar terugbesorg word in die Jubeljaar.

32 “Die Leviete behou altyd die reg om ’n huis wat hulle in die stad verkoop het, weer terug te koop.

33 Enige eiendom wat deur die Leviete teruggekoop kan word – dit wil sê alle huise in Levitiese stede – moet aan hulle terugbesorg word in die Jubeljaar. Die Levitiese stede is tog die enigste eiendom wat hulle in Israel mag besit.

34 Die strook weiveld om elk van die Levitiese stede mag nooit verkoop word nie. Dit is hulle permanente eiendom.”

Die behandeling van armes en

slawe

35 “Wanneer enigeen van julle mede-Israeliete in armoede verval en van jou afhanklik raak, sorg vir hulle soos wat julle vir ’n vreemdeling sou sorg en laat hulle toe om by julle te bly.

36 Moenie wins uit hom maak of rente hef op die geld wat julle vir hulle leen nie. Wys julle vrees vir God deur hulle by julle te laat bly as julle bloedverwante.

37 Onthou, julle mag nie julle bloedverwante rente vra op enigiets wat julle aan hulle leen nie, of dit nou kos of geld is.

38 Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het om aan julle hierdie land te gee en om julle God te wees.

39 “As enigeen van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself as slawe aan julle moet verkoop, moet hulle nie as slawe behandel nie.

40 Behandel hulle eerder soos gehuurde werkers of soos vreemdelinge wat by julle bly. Hulle sal in julle diens wees tot die Jubeljaar toe.

41 Hulle en hulle kinders het dan geen verpligting teenoor julle nie en kan terugkeer na hulle familiegroep en eiendom toe.

42 Die volk Israel is in my diens, dit is vir hulle wat Ek uit die land Egipte gebring het. Hulle mag dus nooit weer as slawe verkoop word nie.

43 Wys julle respek vir God deur hulle goed te behandel. Moenie julle gesag oor hulle op ’n harde manier uitoefen nie.

44 “Julle mag slawe of slavinne koop van die nasies wat rondom julle bly.

45 Julle mag ook die kinders koop van die mense wat tydelik tussen julle bly, ook dié wat in julle land gebore is. Julle mag hulle as julle eiendom behandel

46 en hulle selfs aan julle kinders bemaak as ’n wettige erfporsie. Julle mag julle slawe so behandel, maar die volk Israel, julle bloedverwante, mag nooit so behandel word nie.

47 “As ’n vreemdeling wat onder julle woon sou ryk word, en as een van julle mede-Israeliete bankrot speel en hulleself verkoop aan so ’n vreemdeling,

48 behou hulle nog steeds die reg om teruggekoop te word. Hulle mag deur ’n naby familielid –

49 ’n oom, ’n neef of enige ander naby familielid – teruggekoop word. Hulle mag hulleself ook vrykoop as hulle die geld het.

50 “Die prys vir hulle vryheid sal bepaal word deur die aantal jare wat oor is tot by die volgende Jubeljaar – dit wil sê, hoeveel dit sal kos om vir daardie bepaalde tydsduur ’n slaaf te huur.

51 As daar nog baie jare oor is, sal die verkoopprys ’n groot deel van die oorspronklike koopprys wees.

52 As daar nie baie jare oor is nie, sal hulle ’n kleiner bedrag vir hulle vryheid moet betaal.

53 “Die vreemdeling moet hulle as werkers wat volgens ’n jaarkontrak werk, behandel. Julle mag nie toelaat dat ’n vreemdeling julle mede-Israeliete hard behandel nie.

54 As enige van die Israeliete nog nie teruggekoop is teen die tyd van die Jubeljaar nie, moet hulle en hulle kinders in die Jubeljaar vrygelaat word.

55 Die volk Israel is my dienaars wat Ek uit die land Egipte gebring het. Ek, die Here, is julle God.”

LEVITIKUS 26

Seën vir gehoorsaamheid

1 “Julle mag nie afgode of gesnede beelde maak, of heilige pilare of gekapte klippe oprig om in julle land te aanbid nie. Ek, die Here, is julle God.

2 Julle moet my Sabbatdae onderhou en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here.

3 “As julle my reëls nakom en my gebooie noukeurig gehoorsaam,

4 sal Ek dit laat reën op die regte tyd. Die land sal dan sy opbrengs lewer en die bome sal vrugte dra.

5 Julle sal graan oes totdat dit tyd is vir die druiwe-oes. Julle druiwe-oes sal weer duur totdat dit tyd is om graan te plant. Julle sal genoeg hê om te eet en in veiligheid in die land woon.

6 “Ek sal vir julle vrede gee in die land en julle sal gaan slaap sonder om bang te wees. Ek sal die wilde diere uit julle land wegneem en julle van julle vyande bewaar.

7 Om die waarheid te sê, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle swaarde vernietig.

8 Net vyf van julle sal 100 agtervolg en 100 van julle sal 10 000 agtervolg. Al julle vyande sal onder julle wapens tot ’n val kom.

9 “Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom.

10 Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes.

11 Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie.

12 Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13 “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”

Straf vir ongehoorsaamheid

14 “As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie,

15 en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag,

16 sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet.

17 Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!

18 “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf.

19 Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons.

20 Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie.

21 “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe.

22 Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is.

23 “As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen my voortsit,

24 sal Ek vyandig word teenoor julle. Ek sal julle persoonlik tref met nog sewe rampe vir julle sonde.

25 Ek sal leërs teen julle uitstuur om hierdie verbondsdreigemente uit te voer. As julle na julle stede toe vlug, sal Ek ’n plaag daar laat uitbreek om julle te vernietig en julle vyande sal julle oorwin.

26 Ek sal julle kosvoorrade so uitdun dat tien vroue net genoeg het vir een baksel. Julle kos sal volgens gewig gerantsoeneer word. Al is daar kos om te eet, sal dit nie genoeg wees om julle te versadig nie.

27 “As julle ná al hierdie dinge nog steeds weier om te luister en vyandig bly teen My,

28 sal my vyandigheid teenoor julle nog erger word. Ek sal julle sewevoudig straf vir julle sondes.

29 Julle sal die vleis van julle eie seuns en dogters eet.

30 Ek sal julle heidense heiligdomme vernietig en julle wierookaltare afbreek. Ek sal julle lyke laat ophoop langs julle lewelose afgode. Ek sal julle verafsku.

31 Ek sal julle stede verlate maak en julle aanbiddingsplekke verwoes. Julle offers sal vir My glad nie aangenaam wees nie.

32 Ek sal self julle land so verwoes dat die vyand wat dit in besit neem geskok sal staan oor die verwoesting daarvan.

33 Ek sal julle verstrooi onder die nasies en julle met my eie wapens aanval. Julle land sal verlate wees en julle stede sal blote ruïnes wees.

34 Wanneer die land so verlate lê gedurende die jare van julle ballingskap in die land van julle vyandskap, sal dit sy verlore Sabbatsjare inhaal. Dan sal die land uiteindelik kan rus en sy Sabbatte geniet.

35 Wanneer die land in puin lê, sal dit die rus neem wat julle dit nooit elke sewe jaar gegee het toe julle nog daar gewoon het nie.

36 “Vir dié van julle wat oorleef, sal Ek so bang maak in die land van julle vyande dat julle in voortdurende vrees sal lewe. Selfs die geluid van ’n blaar in die wind sal julle op die vlug laat slaan. Julle sal hardloop asof ’n soldaat agter julle aan is met ’n swaard en julle sal val al agtervolg niemand julle nie.

37 Selfs al is daar niemand wat julle jaag nie, sal julle oor mekaar val terwyl julle vlug, asof julle in ’n oorlog wegvlug van julle vyand. Julle sal geen krag hê teen julle vyande nie.

38 Julle sal tussen vreemde nasies tot sterwe kom en die land van julle vyande sal julle vernietig.

39 Dié wat oorbly, sal in die land van julle vyande wegkwyn as gevolg van hulle sonde en die sonde van hulle voorouers.

40 “Maar my volk sal hulle sondes en die sondes van hulle voorouers bely. Hulle het My verraai en het my vyand geword.

41 Daarom het Ek ook hulle vyand geword en hulle in die land van hulle vyande gebring. Uiteindelik sal hulle ongehoorsame harte nederig word en sal hulle betaal vir hulle sondes.

42 Dan sal Ek my verbond met Jakob, Isak en Abraham onthou. Ek sal ook die land onthou.

43 Die land moet egter eers sy jare van Sabbatsrus geniet soos wat dit nou verlate lê. Die volk sal hulle volle straf vir hulle sondes moet kry. Hulle het immers my reëls verwerp en my regulasies geminag.

44 “Maar ten spyte van al hierdie dinge sal Ek hulle nie heeltemal verwerp of verag terwyl hulle in ballingskap in die land van hulle vyande is nie. Ek sal my verbond met hulle nie tot niet maak deur hulle uit te wis nie. Ek, die Here, is hulle God.

45 Ek sal die verbond met hulle voorouers wat Ek uit Egipte gebring het ten aanskoue van al die nasies om hulle God te wees in herinnering roep. Ek is die Here.

46 Dit is die voorskrifte, die reëls en regulasies wat die Here aan die Israeliete deur Moses op die Sinaiberg gegee het.”

LEVITIKUS 27

Waardes wanneer losgekoop

word

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee die volgende instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy met ’n spesiale gelofte iemand aan die Here gewy het en sy loskoopwaarde wil bepaal,

3 moet die volgende skaal van waardes gebruik word. ’n Man tussen twintig en 60 jaar is 50 stukke silwer werd,

4 ’n vrou van daardie selfde ouderdom is 30 stukke silwer werd.

5 Iemand tussen vyf en twintig jaar oud is twintig stukke silwer werd en ’n dogter van daardie selfde ouderdom is tien stukke silwer werd.

6 ’n Seun tussen die ouderdom van een maand en vyf jaar is vyf stukke silwer werd en ’n dogter van daardie ouderdom is drie stukke silwer werd.

7 ’n Man ouer as 60 is vyftien stukke silwer werd en ’n vrou ouer as 60 is tien stukke silwer werd.

8 As iemand so ’n gelofte gemaak, maar nie kan bekostig om die afkoopsom te betaal nie, moet hy die persoon saamvat na die priester toe. Hy sal dan die bedrag bepaal. Hy sal dan die bedrag wat die priester bepaal het, betaal.

9 “As jou gelofte gaan oor ’n rein dier, een wat aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here, dan word dit die Here se eiendom.

10 Die dier mag nooit geruil of vervang word met ’n ander een nie, nie ’n goeie vir ’n slegte dier nie en ook nie ’n slegte vir ’n goeie dier nie. As so ’n ruil wel gemaak word, word beide die oorspronklike en die dier wat geruil is, albei die Here se eiendom.

11 As jou gelofte gaan oor ’n onrein dier, een wat nie aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here nie, moet jy die dier na die priester toe bring.

12 Hy sal die waarde van die dier bepaal en sy beslissing is finaal.

13 As jy die dier wil loskoop, moet jy sy waarde soos deur die priester bepaal, plus twintig persent betaal.

14 “As jy ’n huis aan die Here wil wy, moet die priester kom om die waarde van die huis te bepaal. Die priester se beslissing sal finaal wees.

15 As jy die huis wil loskoop, moet jy die waarde soos bepaal deur die priester betaal plus twintig persent. Dan sal die huis weer aan jou behoort.

16 “As jy ’n stuk familiegrond aan die Here wil wy, word die waarde daarvan bepaal deur die hoeveelheid saad wat nodig is om dit te beplant. Vir elke 100 kilogram gars moet 50 stukke silwer gegee word.

17 As die grond aan die Here gewy word tydens die Jubeljaar, is die volledige loskoopwaarde van toepassing.

18 As die grond aan die Here gewy word in die jaar ná die Jubeljaar, moet die priester die waarde van die grond bepaal in verhouding tot die aantal jare tot die volgende Jubeljaar.

19 As jy besluit om die gewyde grond los te koop, moet jy die waarde van die grond soos bepaal deur die priester betaal, plus twintig persent.

20 As jy besluit om die grond nie los te koop nie, of die priesters het die grond reeds aan iemand anders verkoop, kan dit nie meer losgekoop word nie.

21 As die grond gedurende die Jubeljaar losgekoop is, is dit heilige grond wat spesiaal vir die Here afgesonder is. Dit word dan die eiendom van die priesters.

22 “As jy ’n stuk grond aan die Here wy wat nie deel is van jou familiegrond nie,

23 moet die priester die waarde daarvan bepaal op grond van die aantal jare tot die volgende Jubeljaar. Jy moet dan die waarde van die grond nog daardie dag betaal. Dit word die eiendom van die Here.

24 In die Jubeljaar sal die grond dan teruggaan na die oorspronklike eienaar toe van wie jy dit gekoop het.

25 “Al die waardebepalings moet gedoen word volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26 “Julle mag nie die eersteling van ’n koei of skaap aan die Here wy nie omdat die eersteling al klaar aan die Here behoort.

27 As dit egter die eersteling van ’n onrein dier is, mag julle dit loskoop deur aan die priester die waarde daarvan te betaal, plus twintig persent. As julle dit nie loskoop nie, mag die priester dit verkoop aan iemand anders teen sy vasgestelde waarde.

28 Enigiets wat spesiaal afgesonder is aan die Here, of dit nou ’n persoon, ’n dier of ’n stuk grond is, mag nooit verkoop of losgekoop word nie. Enigiets wat op dié manier vir die Here afgesonder is, behoort aan Hom.

29 ’n Persoon wat spesiaal afgesonder is vir die Here om geban te word, mag nie losgekoop word nie. So ’n persoon moet doodgemaak word.

30 “’n Tiende van die opbrengs van die land, of dit graan of vrugte is, behoort aan die Here en moet vir Hom as heilig afgesonder word.

31 As jy die Here se tiende van die graan of vrugte wil loskoop, moet jy die waarde daarvan betaal, plus twintig persent.

32 Elke tiende dier van jou beeste en skape behoort aan die Here.

33 Daar mag nie vir die tiende dier onderskeid gemaak word tussen goeie of slegte diere nie. Hulle mag ook nie uitgeruil word nie. As hulle wel omgeruil word, sal albei diere as die Here se eiendom beskou word en kan hulle nie losgekoop word nie.”

34 Dit is die bevele wat die Here vir Moses op die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.