LEVITIKUS 11

Rein en onrein diere

1 Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Gee die volgende instruksies vir die Israeliete: Die diere wat julle vir kos mag gebruik,

3 sluit die diere in wat volledig gesplete hoewe het en herkou.

4 Van die volgende diere wat hier genoem word, mag julle nie eet nie omdat hulle óf gesplete hoewe het óf herkou, maar nie albei nie. Die kameel mag nie geëet word nie, want al herkou die dier, het hy nie gesplete hoewe nie.

5 Dit geld ook van die dassie

6 en die haas. Hulle mag nooit geëet word nie.

7 ’n Vark mag ook nie geëet word nie, want al het dit gesplete hoewe, herkou ’n vark nie.

8 Julle mag nie van die vleis van hierdie diere eet of aan hulle karkasse raak nie. Hulle is onrein vir julle.

9 “Wat die seediere betref, mag julle alles eet wat vinne en skubbe het, of dit nou in vars water of in sout water voorkom.

10 Seediere wat nie beide vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Julle moet hulle verafsku.

11 Hulle sal altyd vir julle verbode wees. Julle mag nooit hulle vleis eet of selfs aan hulle dooie liggame raak nie.

12 Ek herhaal, enige seedier wat nie beide vinne en skubbe het nie, is ten strengste verbode vir julle.

13 “Dit is die voëls wat julle nooit mag eet nie omdat hulle afskuwelik is vir julle: die arend, die aasvoël, die visvalk,

14 verskillende valksoorte,

15 al die kraaisoorte,

16 die volstruis, die nagvalk, die seemeeu en roofvoëls van verskillende soorte,

17 die klein uil, die visvanger, die groot uil,

18 die wit uil, die pelikaan, die aasvreter,

19 die ooievaar, verskillende soorte reiers, die hoep-hoep en die vlermuis.

20 “Alle insekte met vlerke wat op die grond kruip, is vir julle verbode.

21 Julle mag wel dié met vlerke eet wat met hulle agterpote spring.

22 Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. Van hulle mag julle eet.

23 Alle ander insekte met vlerke wat loop of kruip, is verbode vir julle.

24 “Sommige diere maak julle onrein. As julle aan hulle karkasse raak, is julle tot die aand toe onrein.

25 As jy die karkas van so ’n onrein dier moet verwyder, moet jy dadelik jou klere was en sal jy tot die aand toe onrein wees.

26 “Die onrein diere is dié met ’n gesplete hoef, maar wat nie volledig gesplete is nie of wat nie herkou nie. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe.

27 Alle viervoetige diere wat pote het, is onrein vir julle. As jy aan die karkas van so ’n dier raak, is jy onrein tot die aand toe.

28 As jy so ’n karkas moet optel om te verwyder, moet jy dadelik jou klere was en is jy onrein tot die aand toe.

29 “Van die klein diertjies wat op die grond skarrel of kruip, is die volgende onrein vir julle: die mol, die muis, al die akkedissoorte,

30 die geitjie, die boomakkedis, die gewone akkedis, die sandakkedis en die verkleurmannetjie.

31 Al hierdie klein diertjies is vir julle onrein. As jy aan so ’n diertjie raak as hy dood is, is jy onrein tot die aand toe.

32 As so ’n dier vrek en op iets val, dan is dit ook onrein, ongeag waarvoor dit gebruik word. Dit geld vir enigiets wat van hout, lap, leer of growwe linne gemaak is. Dit moet in water gedompel word, en sal tot die aand toe onrein bly. Daarna is dit rein en mag dit weer gebruik word.

33 “As so ’n diertjie vrek en in ’n kleipot val, is alles in die pot onrein en moet die pot gebreek word.

34 As die water wat gebruik word om ’n onrein voorwerp skoon te maak, aan enige kos raak, is al daardie kos onrein. Enige vloeistof in so ’n onrein houer is ook onrein.

35 Enigiets waarop so ’n dooie diertjie val, is onrein. As dit ’n kleioond of kookpot is, moet dit stukkend gebreek word. Dit het vir julle onrein geword.

36 “As so ’n dooie diertjie egter in ’n fontein of opgaardam val, is die water nog steeds rein. Maar enige persoon wat die dooie diertjie wegvat, is onrein.

37 As so ’n dooie diertjie op saad val wat geplant gaan word, is die saad nog steeds rein.

38 As die saad egter nat is wanneer ’n dooie diertjie daarop val, is die saad onrein.

39 “As ’n dier wat julle mag eet, vanself vrek en iemand raak aan sy karkas, is so iemand tot die aand toe onrein.

40 As jy van sy vleis eet of die karkas wegdra, moet jy jou klere was. Dan sal jy onrein bly tot die aand toe.

41 “Enige dier wat op die grond kruip, is vir julle verbode en mag nie geëet word nie.

42 Dit sluit alle diere in wat op hulle pens seil, en ook vierpotige diere en ook diere met baie pote. Al hierdie soort diere is verwerplik vir julle.

43 Moenie jouself onrein maak deur aan sulke diere te raak nie.

44 Ek, die Here, is jou God. Julle moet heilig wees omdat Ek heilig is. Moenie jouself onrein maak deur aan enige van die kruipende diere te raak nie.

45 Ek, die Here, is die Een wat jou uit Egipte laat trek het om jou God te wees. Jy moet daarom heilig wees omdat Ek heilig is.

46 “Dit is die instruksies wat geld vir die diere op land, die voëls en al die lewende wesens wat in water lewe of wat op die grond kruip.

47 So kan julle onderskei tussen dit wat onrein is en wat nie geëet mag word nie; en dit wat rein is en geëet mag word.”

LEVITIKUS 12

Reiniging na geboorte

1 Die Here het vir Moses gesê: “Gee hierdie instruksies aan die Israeliete:

2 Wanneer ’n vrou swanger word en geboorte skenk aan ’n seun, sal sy vir sewe dae onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie.

3 Op die agtste dag moet die seuntjie besny word.

4 Daarna moet die vrou vir nog 33 dae wag totdat sy ophou bloei ná die geboorte. Gedurende die tyd van suiwering mag sy aan niks raak wat heilig is nie. Sy mag ook nie na die heiligdom toe gaan totdat die tyd van suiwering verby is nie.

5 As ’n vrou geboorte skenk aan ’n dogter sal sy vir twee weke lank onrein wees, net soos gedurende haar menstruasie. Daarna moet die vrou vir nog 66 dae wag totdat sy na die geboorte opgehou het om te bloei.

6 “As die tyd van reiniging – vir ’n seun of ’n dogter – verby is, moet die vrou ’n jaaroud lam as brandoffer en ’n jong duif of tortelduif as ’n suiweringsoffer bring. Sy moet haar offers na die priester by die ingang van die tent van ontmoeting bring.

7 Die priester sal dit dan vir die Here offer en ook versoening vir haar doen. Dan sal sy weer rein wees ná die bloed wat met die geboorte gevloei het. Dit is die instruksies wat gevolg moet word ná die geboorte van ’n seun of ’n dogter.

8 “As die vrou nie kan bekostig om ’n lam te bring nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring. Een is bedoel vir die brandoffer en die ander een vir die reinigingsoffer. Die priester sal hulle offer en so vir haar versoening doen en sy sal weer rein wees.”

LEVITIKUS 13

Aansteeklike velsiektes

1 Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “As iemand ’n swelsel, ’n uitslag of ’n seer plek op sy vel het wat ontwikkel in ’n aansteeklike velsiekte, moet hy na die priester Aäron of een van sy seuns gebring word.

3 Die priester sal dan die aangetaste deel van die vel van die persoon ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit geword het en dit lyk na iets dieper as die vel, dan is dit ’n aansteeklike velsiekte en moet die priester die persoon onrein verklaar.

4 “As die aangetaste deel van die vel wit is, maar dit lyk nie na iets dieper as die vel nie, en as die hare op die plek nie wit geword het nie, sal die priester die aangetaste persoon vir sewe dae onder kwarantyn plaas.

5 Op die sewende dag sal die priester weer ’n ondersoek doen. As die aangetaste deel nie verander of verder versprei het nie, sal die priester die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas.

6 Die priester sal die vel dan weer op die sewende dag ondersoek. As die aangetaste deel beter geword en nie versprei het nie, sal die priester die persoon rein verklaar. Dit was dan net ’n tydelike uitslag. As die persoon sy klere gewas het, sal hy gereken word as vry van enige siekte.

7 As die uitslag aanhou versprei ná die ondersoek van die priester, moet die besmette persoon terugkeer om weer ondersoek te word.

8 As die priester opmerk dat die uitslag versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte.

9 “Enigiemand wat ’n aansteeklike velsiekte ontwikkel, moet na die priester toe gaan vir ’n ondersoek.

10 As die priester sien dat iemand se hare wit word en ’n rou seer ontwikkel in die aangetaste deel,

11 is dit duidelik ’n aansteeklike velsiekte en moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. In sulke gevalle hoef die persoon nie onder kwarantyn geplaas te word vir verdere observasie nie, want dit is duidelik dat die vel onrein is as gevolg van die siekte.

12 “In gevalle waar die priester, na ’n ondersoek, ontdek dat ’n uitslag oor iemand se hele lyf versprei het en sy liggaam van kop tot tone bedek,

13 moet die priester so iemand rein verklaar omdat die vel heeltemal wit geword het.

14 Wanneer daar rou sere verskyn, moet die besmette persoon onrein verklaar word.

15 Die priester moet die verklaring maak sodra hy ’n rou seer sien, want rou sere is ’n aanduiding van ’n aansteeklike velsiekte.

16 As die rou sere gesond word en wit word soos die res van die vel, moet die persoon teruggaan na die priester toe.

17 As dit na nog ’n ondersoek blyk dat die aangetaste gedeeltes inderdaad heeltemal wit geword het, sal die priester die persoon rein verklaar.

18 “As iemand ’n sweer aan sy vel het wat gesond begin word,

19 maar daar bly ’n wit swelsel of ’n rooierige wit kol oor, moet die persoon na die priester gaan om ondersoek te word.

20 As die priester bevind dat die siekte meer as net veldiep is, en as die hare op die aangetaste deel wit geword het, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte wat ontstaan het uit die sweer.

21 As die priester sien daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, en as dit nie lyk na iets meer as net veldiep nie en dat die ontsteking aan die opklaar is, moet die priester die persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit.

22 As die aangetaste deel gedurende daardie tyd verder op die vel versprei, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte.

23 As die plek nie erger word en nie versprei nie, is dit net die litteken van die sweer en sal die priester die persoon rein verklaar.

24 “As iemand ’n brandwond het en die rou area verander van kleur deur óf rooi-wit óf wit te word,

25 moet die priester dit ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit word en die probleem lyk na meer as net veldiep, het daar ’n aansteeklike velsiekte ontstaan in die brandwond. Die priester moet dan die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte.

26 As die priester ontdek daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, die seer niks meer as net veldiep is nie, en dat dit besig is om op te klaar, moet die priester die besmette persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit.

27 As hy hom na sewe dae weer ondersoek en dit blyk dat die aangetaste deel aan die einde van die periode verder op die vel versprei het, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte.

28 As die aangetaste deel nie verander of verder op die vel versprei het nie en aan die opklaar is, is dit net ’n litteken van die brand. Die priester moet so ’n persoon rein verklaar.

29 “As enigiemand, of dit nou ’n man of vrou is, ’n seerplek aan die kop of ken het,

30 moet die priester die ontsteking ondersoek. As dit lyk na iets meer as net veldiep, en fyn, geel hare word op die aangetaste deel gevind, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Die ontsteking is ’n aansteeklike velsiekte van die kop of ken.

31 As die priester se ondersoek egter wys dat die ontsteking net veldiep is sonder enige swart hare op die aangetaste deel, moet so ’n persoon onder kwarantyn geplaas word vir sewe dae.

32 As die aangetaste deel nie versprei het nie, daar nie geel hare verskyn het nie, en as die infeksie nie lyk na iets meer as net veldiep nie,

33 moet die besmette persoon alle hare afskeer, behalwe die hare op die aangetaste gedeeltes. Die priester moet dan die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas.

34 Hy moet dan die infeksie weer op die sewende dag ondersoek. As dit nie versprei het nie en dit lyk nie na iets meer as net veldiep nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat sy klere gewas is, sal hy rein wees.

35 As die infeksie begin versprei nadat die persoon rein verklaar is,

36 moet die priester nog ’n ondersoek doen. As die infeksie versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, selfs sonder om te kyk of daar geel hare is.

37 As dit lyk of die infeksie nie meer versprei nie en swart hare begin groei op die aangetaste deel, het die infeksie gesond geword. Die priester sal dan die besmette persoon rein verklaar.

38 “As enigiemand, ’n man of vrou, wit vlekke op die vel het,

39 moet die priester die aangetaste deel ondersoek. As die plek net bleek-wit lyk, is dit ’n skadelose veluitslag en is die persoon rein.

40 “As ’n man sy hare verloor en hy word bles, is hy nog steeds rein.

41 As hy sy hare op sy voorkop verloor, het hy net ’n bles voorkop, maar is hy steeds rein.

42 As daar egter ’n rooi-wit ontsteking op die voor- of agterkop ontstaan, is dit ’n aansteeklike velsiekte.

43 Die priester moet hom ondersoek en as hy ’n swelsel ontdek rondom die rooi-wit seer,

44 het die man ’n aansteeklike velsiekte en is hy onrein. Die priester moet hom dan as gevolg van die ontsteking onrein verklaar.

45 “Mense wat aan enige aansteeklike velsiekte ly, moet hulle klere skeur en hulle hare laat los hang. Soos wat hulle van plek tot plek gaan, moet hulle hulle monde bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’

46 So lank as wat die siekte aanhou, is hulle onrein en moet hulle buite die kamp in afsondering leef.”

Die behandeling van besmette

klere

47 “As ’n skimmel op ’n kledingstuk verskyn,

48 of op wol- of linnemateriaal, of op die vel van ’n dier of enigiets wat van leer gemaak is,

49 en die skimmel het ’n groenerige en rooierige kleur aan die klere, of die dierevel, of die materiaal of die leer, is dit besmet met ’n aansteeklike soort skimmel. Dit moet na die priester toe geneem word om ondersoek te word.

50 Ná die ondersoek van die priester moet hy dit vir sewe dae lank eenkant wegbêre.

51 Op die sewende dag moet die priester dit weer ondersoek. As die besmette deel verder versprei het, is die materiaal duidelik besmet met ’n aansteeklike skimmel en is dit onrein.

52 Die priester moet die linne of wolklere of die stuk leer verbrand, want dit is besmet met ’n aansteeklike skimmel. Dit moet heeltemal verbrand word.

53 “As die priester dit egter weer ondersoek en die besmette deel het nie versprei in die klere, die materiaal of die leer nie,

54 sal die priester aanbeveel dat dit gewas moet word en vir nog sewe dae eenkant gehou moet word.

55 Dan moet die priester dit weer ondersoek. As hy sien dat die besmette deel nie verander het nadat dit gewas is nie, selfs al het dit nie verander nie, is dit nog onrein. Dit moet heeltemal verbrand word of dit nou aan die binne- of aan die buitekant besmet is.

56 As die priester sien dat die besmette deel ná die was verbleik het, moet hy die kol van die klere, die materiaal of die leer uitsny.

57 As die kol weer na ’n ruk verskyn, is die skimmel duidelik aan die versprei en moet die besmette artikel verbrand word.

58 As die kol verdwyn nadat dit gewas is, moet dit weer gewas word en dan sal dit rein wees.

59 “Dit is die instruksie wat geld vir wol- of linneklere of materiaal of iets wat met leer gemaak is en wat met aansteeklike skimmel besmet is. Dit is hoe die priester sal bepaal of hierdie dinge rein of onrein is.”

LEVITIKUS 14

Die reiniging van velsiektes

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Die volgende instruksies moet gevolg word deur die mense wat gereinig word ná ’n aansteeklike velsiekte. Die persone wat gesond geword het, moet na die priester gebring word.

3 Hy sal hulle by ’n plek buite die kamp ondersoek. As die priester sien dat iemand gesond geword het van die velsiekte,

4 sal hy ’n reinigingseremonie uitvoer. Die priester moet dit doen met twee eetbare wilde voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie.

5 Die priester sal dan bevel gee dat een van die voëls oor ’n kleipot met vars fonteinwater geslag moet word.

6 Hy sal dan die lewende voël saam met die stukkie sederhout, die rooi-pers lap en die hisoptakkie vat en in die bloed van die voël wat geslag is, dompel.

7 Die priester sal ook van die dooie voël se bloed vat en sewe keer sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word. Die priester sal dan die persoon rein verklaar. Aan die einde van die seremonie sal die priester die lewende voël vrylaat sodat dit in die oop veld kan wegvlieg.

8 “Die persone wat gereinig word, moet die reinigingseremonie voltooi deur hulle klere te was, al hulle hare af te skeer en in water te bad. Dan sal hulle rein wees en mag hulle weer na die kamp terugkeer. Hulle moet egter vir nog sewe dae buite hulle tente bly.

9 Op die sewende dag moet hulle weer al hulle hare afsny, insluitende die baard en wenkbroue. Dan moet hulle hulle klere was en ook in water bad. Dan sal hulle rein verklaar word.

10 “Die volgende dag, die agtste dag, moet elke persoon wat gesond geword het van die velsiekte, twee rammetjies en ’n jaaroud ooilam sonder enige liggaamsgebrek bring, saam met vyf liter uitgesoekte meel, gemeng met olyfolie en 300 milliliter olyfolie.

11 Die diensdoende priester sal die persoon saam met die offers in die teenwoordigheid van die Here bring om by die ingang van die tent van ontmoeting gereinig te word.

12 Die priester sal dan een van die lammers en die olyfolie neem en dit as ’n skuldoffer offer deur die offer in die teenwoordigheid van die Here op te lig.

13 Hy sal dan die lam slag in die heilige gebied waar die skuldoffers en die brandoffers geslag word. Net soos met die sonde-offer, sal die skuldoffer vir die priester gegee word. Dit is ’n baie heilige offer.

14 Die priester sal dan van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die persoon se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer.

15 “Die priester sal van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

16 Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

17 Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer.

18 Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die Here vir die persoon wat gereinig word.

19 “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag

20 en dit op die altaar saam met die graanoffer offer. Op dié manier sal die priester versoening bewerk vir die persoon wat gereinig is en sal die gesonde persoon rein wees.

21 “Enigiemand wat nie twee lammers kan bekostig nie, moet een rammetjie as skuldoffer bring saam met twee liter keurgraad meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer en 300 milliliter olyfolie. Die skuldoffer sal dan gebring word deur dit op te lig en so versoening te bring vir die persoon wat gereinig is.

22 Die persoon wat gereinig is, moet ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring, wat hy ook al kan bekostig. Een paar moet as ’n sonde-offer en die ander paar as ’n hele brandoffer gebruik word.

23 Op die agtste dag moet die persoon wat gereinig is die offers vir die priester bring sodat die reinigingseremonie voltooi kan word in die teenwoordigheid van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting.

24 Die priester sal dan die rammetjie met die olyfolie vir die skuldoffer neem en dit in die teenwoordigheid van die Here oplig as ’n offer vir Hom.

25 Dan sal die priester die rammetjie slag as ’n skuldoffer. Hy sal van die bloed op die persoon se regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon smeer.

26 “Die priester sal ook van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

27 Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

28 Die priester sal dan van die olyfolie in sy hand neem en dit aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon smeer bo en behalwe die bloed van die skuldoffer.

29 Die olie wat in die hand van die priester oor is, sal dan oor die kop van die persoon gegooi word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die persoon wat gereinig is.

30 “Die priester sal dan die twee tortelduiwe of die twee jong duiwe, wat die persoon ook al kan bekostig, offer.

31 Een is ’n sonde-offer en die ander is ’n hele brandoffer wat saam met die graanoffer gebring word. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir die persoon wat gereinig is.

32 Hierdie is die instruksies vir die reiniging van dié wat herstel het van ’n aansteeklike velsiekte, maar wat dit nie kan bekostig om die normale offers wat vereis word vir die reiniging te bring nie.”

Die behandeling van besmette

huise

33 Toe het die Here vir Moses en Aäron gesê:

34 “Wanneer julle aankom in Kanaän, die land wat Ek aan julle as ’n erfdeel gee, kan Ek sommige van julle huise met ’n besmetlike swam besmet.

35 Die eienaar van so ’n huis moet dan na die priester toe gaan en sê: ‘Dit lyk of my huis ’n soort swamsiekte het.’

36 Hy moet die huis leegmaak voordat die priester die huis ondersoek, anders word alles in die huis onrein verklaar. Dan sal die priester ingaan en die huis ondersoek.

37 As hy helder groen of rooierige gate in die mure van die huis vind en dit lyk asof die besmetting dieper is as net die oppervlakte van die muur,

38 moet hy die huis verlaat en dit sewe dae lank toesluit.

39 Op die sewende dag moet die priester vir nog ’n ondersoek terugkeer. As die swamme teen die mure van die huis versprei het,

40 moet die priester bevel gee dat die besmette stene verwyder word. Die besmette materiaal moet dan in ’n gebied buite die stad wat as onrein aangedui is, weggegooi word.

41 Al die binnemure van die huis moet goed afgeskraap word en die afskraapsels moet in die onrein gebied buite die stad gegooi word.

42 Ander stene moet gebring word om die stene wat verwyder is te vervang, en die mure moet oorgepleister word.

43 “As die swamme weer groei ná al die dinge wat gedoen is,

44 moet die priester terugkeer en weer ’n ondersoek doen. As hy sien dat die aangetaste areas weer besmet is en die mure duidelik besmet is met swamme, is die huis onrein.

45 Dit moet afgebreek word en al die stene, houtwerk en pleister moet buitentoe gevat word na ’n plek wat as ’n onrein gebied aangedui is.

46 Enigiemand wat die huis sou binnegaan terwyl dit gesluit is, sal tot die aand toe as onrein beskou word.

47 Almal wat in die huis slaap of eet, moet hulle klere was.

48 “As die priester terugkom om inspeksie te doen en hy vind dat die swamme nie weer gegroei het nadat die nuwe pleister opgesit is nie, sal hy die huis rein verklaar aangesien die swamme duidelik weg is.

49 Om die huis rein te maak, het die priester twee voëls, ’n stukkie sederhout, ’n rooi-pers lap en ’n hisoptakkie nodig.

50 Hy sal een van die voëls slag oor ’n kleipot wat vol vars fonteinwater is.

51 Hy sal dan die sederhout, die hisoptakkie, die rooi-pers lap en die lewende voël in die bloed van die voël wat geslag is, druk en die huis sewe keer besprinkel.

52 Nadat hy die huis op dié manier gereinig het,

53 sal hy die lewende voël in die oop veld buite die stad vrylaat. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die huis en sal dit rein wees.

54 “Dit is die instruksies wat geld vir die verskillende soorte aansteeklike velsiektes en aansteeklike skimmel en swamme,

55 of dit nou vir klere, ’n huis,

56 ’n geswelde deel van die vel, ’n uitslag of ’n seer op die vel is.

57 Hierdie instruksies moet gevolg word in geval van enige aansteeklike velsiekte of besmetlike skimmel om te bepaal wanneer iets rein of onrein is.”

LEVITIKUS 15

Liggaamlike uitskeidings

1 Die Here het vir Moses en Aäron gesê:

2 “Gee hierdie verdere instruksies aan die Israeliete: Enige man met afskeiding uit die geslagsorgaan is onrein as gevolg van die afskeiding.

3 Die onreinheid is van toepassing ongeag of die afskeiding aanhou of ophou. In elke geval is die man onrein.

4 Enige bed waarop so iemand lê of enigiets waarop hy sit, is onrein.

5 “As jy dus met die man se bed in aanraking kom, moet jy jou klere was en gaan bad en sal jy onrein wees tot die aand toe.

6 As jy op dieselfde plek gaan sit waar die man met die afskeiding gesit het, moet jy jou klere was en in water bad.

7 Dieselfde reëling geld as jy aan die man met die afskeiding sou raak. Jy is onrein tot die aand toe.

8 As hy op jou sou spoeg, moet jy dieselfde prosedure volg.

9 Enigiets waarop die man sou sit terwyl hy gery het, is onrein.

10 As jy aan enigiets wat onder hom was, raak of dit dra, moet jy jou klere was en in water bad en sal jy onrein wees tot die aand toe.

11 As die man aan jou raak sonder om eers sy hande te was, moet jy jou klere was en in water bad en sal jy onrein wees tot die aand toe.

12 Enige kleipot waaraan die man met ’n afskeiding geraak het, moet gebreek word en enige houtartikel waaraan hy geraak het, moet met water afgespoel word.

13 “As die man met ’n afskeiding gesond word, moet hy vir sewe dae lank wag. Dan moet hy sy klere was en in vars fonteinwater bad. Dan sal hy rein wees.

14 Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring en voor die Here by die ingang van die tent van ontmoeting kom en sy offers vir die priester bring.

15 Die priester sal dan die offers bring, een as ’n sonde-offer en die ander as hele brandoffer. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir die man met ’n afskeiding.

16 “As ’n man saad stort, moet hy sy hele liggaam was en sal hy onrein bly tot die aand toe.

17 Enige kledingstuk of leer waarop die saad stort, moet gewas word en sal tot die aand toe onrein bly.

18 Na seksuele omgang moet beide die man en vrou bad en sal hulle onrein bly tot die aand toe.

19 “Wanneer ’n vrou menstrueer, is sy vir sewe dae lank onrein. As jy aan haar raak gedurende dié tyd, is jy onrein tot die aand toe.

20 Enigiets waarop sy gedurende dié tyd lê of sit, sal onrein wees.

21 As jy aan haar bed raak, moet jy jou klere was en bad in water en sal jy tot die aand toe onrein bly.

22 Dieselfde reëling geld wanneer jy aan iets raak waarop sy gesit het,

23 of dit nou haar bed is of enige ander meubelstuk.

24 As ’n man gedurende dié tyd seksuele omgang met haar het, word haar menstruele onreinheid op hom oorgedra. Hy is dan onrein vir sewe dae en enige bed waarop hy lê, sal onrein wees.

25 “As die menstruele bloedvloeiing vir baie meer dae aanhou as wat normaalweg die geval is, of as daar ’n afskeiding van bloed buite haar menstruasieperiode is, is so ’n vrou onrein so lank as wat die afskeiding aanhou.

26 Enigiets waarop sy lê of sit gedurende dié tyd, sal onrein wees, net soos in die geval van haar normale menstruasieperiode.

27 As jy raak aan haar bed of enigiets waarop sy sit, sal jy onrein wees. Jy sal jou klere moet was en in water bad en jy sal onrein wees tot die aand toe.

28 “As ’n vrou se menstruele afskeiding ophou, moet sy sewe dae lank wag. Daarna sal sy rein wees.

29 Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring en dit vir die priester by die ingang van die tent van ontmoeting gee.

30 Die priester sal dan een as ’n sonde-offer en die ander een as ’n hele brandoffer bring. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir haar menstruele afskeiding.

31 “Op dié manier sal jy die volk Israel afsonder van dinge wat hulle onrein maak sodat hulle nie sal sterf omdat hulle my tent van ontmoeting hier in hulle midde verontreinig het nie.

32 Dit is die instruksies wat geld vir ’n man met ’n afskeiding uit die geslagsorgaan of ’n saadstorting,

33 vir ’n vrou wat menstrueer, vir enigiemand, man of vrou, wat enige soort liggaamlike afskeiding het en ook vir die man wat seksuele omgang het met ’n vrou wat menstrueer.”

LEVITIKUS 16

Die Dag van Versoening

1 Die Here het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns wat gesterf het toe hulle in die teenwoordigheid van die Here gekom het.

2 Die Here het vir Moses gesê: “Waarsku jou broer Aäron om nie sommer wanneer hy wil by die Allerheiligste plek agter die voorhangsel in te gaan nie. Die straf hiervoor is die dood. Die deksel van die ark wat die plek van versoening is, is daar en Ek is daar in ’n wolk bo die deksel van die ark.

3 “Wanneer Aäron die heiligdom ingaan, moet hy hierdie instruksies volledig nakom. Hy moet eers ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as brandoffer bring.

4 Nadat hy homself van kop tot toon gewas het, moet hy sy linnekleed bo-oor die ander klere teen sy lyf aantrek. Hy moet die linnegordel om sy middel bind en ’n linnetulband op sy kop sit. Dit is sy heilige klere.

5 Die volk Israel moet dan twee bokramme as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer vir hom bring.

6 “Aäron sal dan die bul bring as ’n sonde-offer met die oog op versoening vir homself en sy huis.

7 Dan moet hy die twee bokramme vir die Here na die ingang van die tent van ontmoeting bring.

8 Hy moet die heilige lot werp om te bepaal watter bok vir die Here geoffer gaan word en watter een die sondebok gaan wees.

9 Aäron sal die bok wat as ’n sonde-offer geoffer moet word, vir die Here bring.

10 Die bok wat die sondebok moet wees, moet bly leef. Wanneer die bok die woestyn in gestuur word, sal dit versoening bring vir die volk.

11 “Dan sal Aäron die jong bul as ’n sonde-offer vir homself en sy huis bring. Nadat hy die bul vir die sonde-offer geslag het,

12 moet hy ’n vuurpan vol maak met gloeiende kole van die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan. Dan moet hy twee hande vol welriekende wierook vat en met die vuurpan en wierook agter die voorhangsel ingaan.

13 Daar in die teenwoordigheid van die Here moet hy die wierook op die gloeiende kole neersit sodat ’n wolk van wierook oor die deksel van die ark kan opstyg. Die deksel van die ark is die plek van versoening en dit rus op die ark van die verbond. As hy hierdie instruksies nakom, sal hy nie sterf nie.

14 Dan moet hy sy vinger in die bloed van die bul druk en dit voor die versoeningsdeksel sprinkel en daarna sewe keer teen die voorkant van die ark.

15 “Dan moet Aäron die bok as sonde-offer vir die volk slag en die bloed agter die voorhangsel inbring. Daar moet hy die bloed op die versoendeksel en teen die voorkant van die ark sprinkel, net soos hy met die bloed van die bul gemaak het.

16 Op dié manier sal hy versoening bring vir die Allerheiligste plek, en sal hy ook dieselfde doen vir die tent van ontmoeting as gevolg van die verontreinigende sonde en rebellie van die Israeliete.

17 Niemand word in die tent van ontmoeting toegelaat terwyl Aäron daar besig is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek nie. Niemand mag daar ingaan voordat hy nie daar uitgekom het nadat hy versoening gedoen het vir homself, sy huis en vir al die Israeliete nie.

18 “Dan sal Aäron uitgaan om versoening te doen vir die altaar wat in die teenwoordigheid van die Here staan deur van die bloed van die bul en die bok aan elk van die altaar se horings te smeer.

19 Dan moet hy sy vinger in die bloed druk en dit sewe keer oor die altaar sprinkel. Op dié manier sal hy die altaar reinig van die onreinheid van Israel.

20 “Wanneer Aäron klaar is om versoening te doen vir die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar, moet hy die lewende bok naderbring.

21 Hy moet al twee sy hande op die kop van die bok lê en al die sondes en opstand van die Israeliete daaroor bely. Op dié manier sal hy die volk se sondes op die kop van die bok lê. Dan sal hy die bok die woestyn in jaag, gelei deur iemand wat gekies is vir die taak.

22 Die man moet die bok in die woestyn agterlaat. So sal die bok al die sondes van die volk na ’n afgeleë plek wegdra.

23 “Wanneer Aäron die tent van ontmoeting binnegaan, moet hy al die linneklere uittrek wat hy aangehad het toe hy in die Allerheiligste plek ingegaan het. Hy moet die klere daar laat.

24 Dan moet hy sy hele liggaam op ’n heilige plek met water gaan was, sy gewone priesterklere aantrek, en weer uitgaan om sowel sy eie brandoffer as die brandoffer vir die volk te offer. Op dié manier sal hy versoening doen vir homself en vir die volk.

25 Hy moet ook al die vet van die sonde-offer op die altaar verbrand.

26 “Die man wat gekies is om die bok as sondebok na die woestyn te vat, moet sy klere was en homself in water bad. Dan mag hy terugkeer na die kamp toe.

27 “Die geofferde bul en die bok wat gegee is as sonde-offers, waarvan Aäron die bloed in die Allerheiligste plek ingebring het om versoening vir Israel te doen, moet buite die kamp geneem word om daar verbrand te word. Dit sluit die diere se velle, binnegoed en die mis in.

28 Die man wat dit moet verbrand, moet sy klere was en homself in water was voordat hy na die kamp toe terugkeer.

29 “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon.

30 Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die Here gereinig word.

31 Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle.

32 In die toekoms sal die versoeningshandeling gedoen word deur die gesalfde hoëpriester wat in die plek van Aäron sal dien. Hy sal heilige linneklere aantrek

33 die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele volk.

34 Om een keer elke jaar versoening te doen vir die Israeliete is ’n permanente wet vir julle.”

Moses het al hierdie instruksies wat die Here vir hom gegee het, gevolg.

LEVITIKUS 17

Verbod om bloed te eet

1 Toe het die Here vir Moses gesê:

2 “Gee vir Aäron en sy seuns en vir al die Israeliete hierdie bevele van die Here:

3 As enige Israeliet ’n bees of skaaplam of bok êrens binne of buite die kamp offer

4 en dit is nie ’n offer vir die Here wat hy na die ingang van die tent van ontmoeting bring nie, is hy skuldig aan bloedvergieting. So ’n persoon het bloed vergiet en moet uit die gemeenskap verwyder word.

5 Hierdie reëling sal ’n einde maak aan die Israeliete se gebruik om diere in die oop veld te offer. Dan sal hulle die offers na die priester by die ingang van die tent van ontmoeting toe neem sodat die priester dit as ’n maaltydoffer vir die Here kan bring.

6 Die priester moet dan die bloed teen die altaar sprinkel en die vet op die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting brand. Dit sal vir die Here aangenaam wees.

7 Die volk mag nie langer ontrou aan die Here wees deur offers aan bose geeste in die oop veld te bring nie. Dit is ’n permanente vaste reël wat vir geslag na geslag nagekom moet word.

8 “Gee ook aan hulle hierdie bevel wat sal geld vir sowel die Israeliete as vir die vreemdelinge onder julle: As jy ’n brandoffer of enige ander offer bring,

9 en jy bring dit nie na die ingang van die tent van ontmoeting as ’n offer vir die Here nie, sal jy uit die gemeenskap verwyder word.

10 “Ek sal teen enige Israeliet of vreemdeling wat onder julle woon, draai wat op enige manier bloed eet of drink. Ek sal so ’n persoon uit die gemeenskap verwyder,

11 want die lewe van enige dier is in sy bloed. Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening.

12 Dit is waarom Ek vir die Israeliete gesê het: ‘Julle en die vreemdelinge wat tussen julle woon, mag nooit bloed eet of drink nie.’

13 “’n Israeliet of vreemdeling wat tussen julle woon wat gaan jag en ’n dier of voël doodmaak wat geëet mag word, moet dit eers laat uitbloei en die bloed met grond toemaak.

14 Die lewe van elke dier is in sy bloed. Dit is waarom Ek vir die Israeliete beveel het om nooit bloed te eet of te drink nie, want die lewe van enige voël of dier is in die bloed. Wie dus bloed eet of drink, moet verwyder word.

15 “Hierdie gebod is van toepassing op die Israeliete en op die vreemdelinge wat onder julle woon. As jy eet van die karkas van ’n dier wat gevrek het of deur wilde diere doodgemaak is, moet jy jou klere was en in water bad. Jy sal tot die aand toe onrein wees, maar daarna sal jy rein wees.

16 As jy nie jou klere was of jouself bad nie, word jy verantwoordelik gehou.”

LEVITIKUS 18

Verbode seksuele praktyke

1 Die Here het ook vir Moses gesê:

2 “Sê vir jou volk, die Israeliete: Ek is die Here julle God.

3 Moenie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het of soos die Kanaäniete na wie toe Ek julle neem nie. Moenie hulle manier van lewe navolg nie.

4 Gehoorsaam eerder al my voorskrifte en kom my bepalings noukeurig na, want Ek, die Here, is julle God.

5 As jy my voorskrifte en bepalings gehoorsaam, sal jy deur hulle die lewe vind. Ek is die Here.

6 “Jy mag nie met ’n naby familielid seksuele gemeenskap hê nie, want Ek is die Here.

7 Moenie jou pa oneer aandoen deur gemeenskap te hê met jou ma nie, want Ek is die Here. Sy is tog jou ma, jy mag nooit met haar seksuele gemeenskap hê nie.

8 Jy mag ook nie seksuele gemeenskap hê met enigeen van jou pa se ander vroue nie, want dit sal oneer vir hom beteken.

9 “Jy mag ook nie seksuele gemeenskap met jou suster of jou halfsuster hê nie, of sy nou jou pa se dogter of jou ma se dogter is en of sy aan dieselfde familie behoort nie.

10 “Jy mag nie seksuele gemeenskap met jou kleindogter hê nie, of sy nou jou seun se dogter of jou dogter se dogter is, dit sal vir jou oneer beteken.

11 “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met die dogter van enige van jou pa se vroue nie, want sy is jou halfsuster.

12 “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou tante, jou pa se suster, nie, want sy is ’n naby familielid van jou pa.

13 “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou tante, jou ma se suster, nie, want sy is ’n naby familielid van jou ma.

14 Moenie jou oom, jou pa se broer, oneer aandoen deur seksuele gemeenskap met sy vrou te hê nie, want sy is ook jou tante.

15 Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou skoondogter nie, want sy is die vrou van jou seun.

16 Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met jou broer se vrou nie, want dit sal oneer vir jou broer beteken.

17 “Jy mag nie seksuele gemeenskap hê met ’n vrou en ook haar dogter nie. Jy mag nie met ’n vrou en haar kleindogter trou nie, of dit nou haar seun se dogter of haar dogter se dogter is. Hulle is naby familie en om dit te doen sal ’n afskuwelike daad wees.

18 “Jy mag nie met jou vrou se suster trou terwyl sy nog lewe nie. Dit sal hulle mededingers maak. As jou vrou egter sterf, is dit in orde om met haar suster te trou.

19 “Moenie ’n vrou oneer aandoen deur seksuele gemeenskap met haar te hê terwyl sy menstrueer en dus onrein is nie.

20 “Moenie jouself onrein maak deur met jou buurman se vrou seksuele gemeenskap te hê nie.

21 “Moenie enigeen van jou kinders as ’n offer aan Molek gee en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

22 “Moenie by ’n man slaap soos wat ’n man saam met ’n vrou slaap nie. Dit is ’n afstootlike sonde.

23 “’n Man mag homself nie onrein maak deur geslagsgemeenskap met ’n dier te hê nie. ’n Vrou mag haar ook nie aanbied om met ’n manlike dier geslagsgemeenskap te hê nie. Dit is ’n verskriklike ding.

24 “Moenie julleself onrein maak op enige van hierdie maniere nie, want dit is hoe die mense wat ek uit die Beloofde Land verdryf, hulleself onrein gemaak het.

25 Die hele land is deur hulle verontreinig. Dit is waarom Ek die mense wat daar woon, straf. Binnekort sal die land hulle opgooi.

26 Julle moet al die reëls en regulasies noukeurig gehoorsaam en nie een van hierdie afskuwelike goed doen nie. Dit geld vir julle as gebore Israeliete en vir die vreemdelinge wat onder julle woon.

27 “Al hierdie afskuwelike dinge het die mense gedoen van die land waarheen Ek julle neem, en die land het onrein geword.

28 Moenie die land nou rede gee om julle ook uit te spoeg omdat julle dit ook verontreinig soos die mense wat nou daar leef, uitgespoeg gaan word nie.

29 “Wie ook al enigeen van hierdie afskuwelike goed doen, sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word.

30 “Wees dus versigtig en gehoorsaam my gebooie en moenie een van hierdie afskuwelike dinge doen nie. Moenie jouself onrein maak deur hierdie goed te doen nie, want Ek, die Here, is julle God.”

LEVITIKUS 19

Heiligheid in persoonlike gedrag

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die hele gemeenskap van Israel: Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig.

3 Elkeen van julle moet respek hê vir julle ma en pa. Julle moet ook my Sabbatdae van rus nakom, want Ek, die Here, is julle God.

4 Moenie op afgode vertrou of vir julleself gode van metaal maak nie. Ek, die Here, is julle God.

5 “Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die Here offer, doen dit so dat dit van jou aanvaar sal word.

6 Jy moet dit eet op dieselfde dag waarop dit geoffer is, of op die laatste die volgende dag. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet verbrand word.

7 As enige deel van die offer op die derde dag geëet word, is dit onrein en sal Ek dit nie aanvaar nie.

8 As jy dit eet op die derde dag, is jy verantwoordelik vir die sonde van verontreiniging van wat heilig vir die Here is en moet jy uit die gemeenskap verwyder word.

9 “Wanneer julle julle lande oes, moenie die graan tot teen die kante van die veld oes nie, en moet ook nie dit optel wat val nie.

10 Dieselfde geld vir die druiwe-oes. Moenie elke moontlike druiwetros afoes nie en moet ook nie druiwekorrels wat op die grond geval het, optel nie. Laat dit daar vir die armes en die vreemdelinge wat tussen julle woon, want Ek, die Here, is julle God.

11 “Moenie steel nie. Moenie mekaar kul nie. Moenie lieg nie.

12 “Moenie my Naam gebruik om vals te sweer en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

13 “Moenie iemand bedrieg of beroof nie. Betaal jou gehuurde werkers nog dieselfde dag.

14 “Wys jou eerbied vir God deur dowe mense met respek te behandel en moenie ’n blinde persoon laat struikel nie. Ek is die Here.

15 “Oordeel regverdig oor jou naaste. Moenie arm mense bevoordeel of ryk mense begunstig nie.

16 “Moenie skinderstories onder mense versprei nie. Moenie probeer om jouself te bevoordeel ten koste van jou buurman se lewe nie, want Ek is die Here.

17 “Moenie haat teen enigeen van jou familielede in jou hart vertroetel nie. Wees reguit en wys jou buurman op sy oortreding sodat jy nie ook skuldig is aan wat hy verkeerd doen nie.

18 “Moenie wraak soek of ’n grief teen iemand koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19 “Gehoorsaam al my gebooie. Moenie jou diere kruis met ander soorte diere nie. Moenie twee soorte saad op een land plant nie. Moenie klere dra wat van twee verskillende soorte materiaal gemaak is nie.

20 “Wanneer ’n man seksuele gemeenskap het met sy slavin wat reeds aan iemand anders belowe is, maar die koopsom is nog nie betaal nie, moet die man skadevergoeding betaal. Omdat sy egter nog nie vry was nie, hoef hulle nie doodgemaak te word nie.

21 Die man moet egter ’n ram as skuldoffer vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting.

22 Die priester sal dan versoening vir hom bring in die teenwoordigheid van die Here met die offerram as skuldoffer en die man sal vergewe word.

23 “Wanneer julle julle in die land gevestig het en vrugtebome plant, mag julle die vrugte daarvan vir drie jaar lank nie oes nie en is die vrugte verbode vir julle.

24 In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word as uitdrukking van dank en lof aan Hom.

25 In die vyfde jaar mag julle van die vrugte eet. Op hierdie manier sal die opbrengs van die bome meer word. Ek, die Here, is julle God.

26 “Moet nooit vleis eet wat nie uitgebloei is nie. Moenie julle ophou met waarsêery of towery nie.

27 “Moenie die heidense gebruik volg en die hare langs julle slape afsny of die kante van julle baarde knip nie.

28 “Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. Moenie tatoeëermerke op julle vel maak nie, want Ek is die Here.

29 “Moenie jou dogter onrein maak deur van haar ’n prostituut te maak nie. Die land sal onsedelik word en vol van afskuwelike sondes.

30 “Gehoorsaam my Sabbatdae van rus en bewys eerbied vir my heiligdom, want Ek is die Here.

31 “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak. Ek, die Here, is julle God.

32 “Bewys jou eerbied vir God deur op te staan in die teenwoordigheid van oumense en bewys respek vir bejaardes. Ek is die Here.

33 “Moenie die vreemdelinge wat in jou land bly, uitbuit nie.

34 Hulle moet soos enigiemand anders behandel word en jy moet hulle liefhê soos jouself. Onthou dat julle ook vreemdelinge in Egipte was. Ek, die Here, is julle God.

35 “Moenie oneerlik wees wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.

36 Julle skale en gewigte moet akkuraat wees. Julle houers waarmee julle droë goed of vloeistowwe meet, moet akkuraat wees. Ek, die Here, is julle God. Ek het julle uit Egipte gebring.

37 Julle moet al my gebooie en bepalings noukeurig gehoorsaam, want Ek is die Here.”

LEVITIKUS 20

Straf vir ongehoorsaamheid

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Gee vir die Israeliete hierdie instruksies. Dit is instruksies wat van toepassing is op sowel gebore Israeliete as die vreemdelinge wat tussen julle lewe. As enigiemand onder julle hulle kinders aan Molek as brandoffers wy, moet hulle deur die mense van die gemeenskap gestenig word.

3 Ek sal self teen hulle optree en hulle van die gemeenskap afsny omdat hulle my heiligdom onrein gemaak het en my heilige Naam ontheilig het deur hulle kinders aan Molek te gee.

4 As die mense van die gemeenskap hierdie kinderoffers aan Molek ignoreer en weier om die skuldige ouers dood te maak,

5 sal Ek teen hulle optree en hulle uit die gemeenskap verwyder saam met almal wat prostitusie gepleeg het deur Molek te aanbid.

6 “As iemand onder die volk ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle verwyder van die gemeenskap.

7 Sonder julleself af om heilig te wees, want Ek, die Here, is julle God.

8 Hou my gebooie en wees gehoorsaam, want Ek is die Here wat julle heilig maak.

9 “Elkeen wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word. Hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

10 “As ’n man egbreuk pleeg met ’n ander man se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word.

11 As ’n man gemeenskap het met sy pa se vrou, moet beide die man en vrou doodgemaak word, want hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

12 As ’n man gemeenskap het met sy skoondogter, moet albei doodgemaak word. Wat hulle gedoen het, is heeltemal verkeerd en hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

13 “As ’n man by ’n man slaap soos ’n man by ’n vrou slaap, moet beide doodgemaak word. Dit is ’n afskuwelike ding en hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

14 As ’n man met ’n vrou en ook haar ma trou, is dit verskriklik verkeerd. Al drie moet verbrand word om sulke verkeerde dade onder julle uit te wis.

15 “As ’n man gemeenskap het met ’n dier, moet hy doodgemaak word en die dier ook.

16 As ’n vrou met ’n dier gemeenskap het, moet sy en die dier doodgemaak word. Beide moet doodgemaak word, want hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

17 “As ’n man seksuele gemeenskap het met sy suster, die dogter van sy pa of ma, is dit ’n verskriklike skande. Beide van hulle moet in die openbaar uit die gemeenskap verwyder word. Omdat die man seksuele gemeenskap met sy suster gehad het, moet hy onder die gevolge van sy skuld ly.

18 As ’n man seksuele gemeenskap het met ’n vrou tydens haar menstruasie, moet beide verwyder word uit die gemeenskap. Hy het die bron van haar bloedvloeiing openbaar en sy het hom toegelaat om dit te doen.

19 “As ’n man seksuele gemeenskap het met sy tante, sy ma se suster of sy pa se suster, het hy ’n naby familielid oneer aangedoen. Beide partye is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

20 As ’n man seksuele gemeenskap het met sy oom se vrou, het hy sy oom oneer aangedoen. Beide die man en vrou is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding en sal kinderloos sterf.

21 As ’n man trou met sy broer se vrou, is dit ’n onrein daad. Hy het sy broer oneer aangedoen en die skuldige paar sal kinderloos bly.

22 “Julle moet al my reëls en regulasies noukeurig gehoorsaam, anders sal die land waarheen Ek julle bring, julle uitspoeg.

23 Moenie die gebruike van die volke wat Ek voor julle uitdryf navolg nie. Dit is omdat hulle sulke verskriklike dinge doen dat Ek hulle so verafsku.

24 Ek het jou belowe dat julle hierdie baie vrugbare land sal erf. Ek, die Here, is julle God en Ek het julle afgesonder van al die ander volke.

25 “Daarom moet julle tussen rein en onrein diere, en tussen rein en onrein voëls onderskei. Julle moet julleself nie onrein maak deur ’n dier of voël of iets wat op die aarde kruip te eet wat Ek verbied het nie.

26 Julle moet heilig wees, want Ek, die Here, is heilig. Ek het julle afgesonder van al die ander volke om my eiendom te wees.

27 “Mans en vroue onder julle wat hulle besig hou met geeste of beswerings moet gestenig word. Hulle is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.”