LEVITIKUS 1

1 Voorskrifte vir die brandoffer

Die Here het na Moses van die tent van ontmoeting af geroep en vir hom gesê:

2 “Gee die volgende opdragte vir die Israeliete: Wanneer julle vir die Here diere offer, moet julle dit uit julle bees- of skaaptroppe vat.

3 “As julle ’n bees as ’n brandoffer bring, bring dan ’n bul sonder enige liggaamsgebrek. Bring die bul na die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanvaarbaar kan wees.

4 Lê jou hand op die kop van die brandoffer sodat die Here dit as plaasvervanger vir jou kan aanvaar en dit so vir jou versoening kan bewerk.

5 Slag die bul in die teenwoordigheid van die Here. Die seuns van Aäron, die priesters, sal die bloed vat en dit teen die kante van die altaar sprinkel wat voor die tent van ontmoeting staan.

6 Wanneer die dier geslag en in stukke gesny is,

7 sal die seuns van Aäron die priester op die altaar ’n houtvuur maak.

8 Aäron se seuns sal dan die stukke van die dier saam met die kop en die vet op die houtvuur neersit.

9 Maar die binnegoed en die pote moet eers met water gewas word. Dan sal die priesters die hele offer op die altaar verbrand. Dit is die brandoffer, met vuur gemaak en aangenaam vir die Here.

10 “As julle ’n skaap of bok bring as ’n brandoffer, bring ’n ram sonder enige liggaamsgebrek.

11 Slag die dier aan die noordekant van die altaar in die teenwoordigheid van die Here. Aäron se seuns, die priesters, sal die bloed langs die kante van die altaar sprinkel.

12 Sny die dier in stukke. Die priesters sal die stukke van die offer saam met die kop en die vet bo-op die altaar met die houtvuur neersit.

13 Die binnegoed en die pote moet eers met water gewas word. Dan sal die priesters die hele offer op die altaar verbrand. Dit is die brandoffer, gemaak met vuur en aangenaam vir die Here.

14 “As julle ’n voël bring as brandoffer vir die Here, kies ’n tortelduif of ’n jong duif.

15 Die priester sal die voël na die altaar toe neem, sy nek omdraai en die kop op die altaar verbrand. Hy moet dan die bloed langs die kante van die altaar laat uitdrup.

16 Die priester moet daarna die krop en die vere verwyder en dit aan die oostekant van die altaar in die as gooi.

17 Die priester moet dan die voël aan sy vlerke uitmekaartrek, maar sonder om dit middeldeur te skeur. Dit is die brandoffer, gemaak met vuur en aangenaam vir die Here.”

LEVITIKUS 2

Die graanoffer

1 “As jy ’n graanoffer vir die Here bring, moet dit van die beste meel wees. Gooi olyfolie daarop en besprinkel dit met wierook.

2 Bring hierdie offer na een van Aäron se seuns. Hy sal ’n hand vol van die meel gemeng met olyfolie neem en dit saam met al die wierook op die altaar verbrand. Dit verteenwoordig al die meel. Dit is ’n offer, met vuur gemaak en aangenaam vir die Here.

3 Die res van die meel moet vir Aäron en sy seuns gegee word. Dit is ’n besonder heilige deel van die vuuroffers wat vir die Here gegee word.

4 “Wanneer jy ’n graanoffer bring wat in ’n oond gebak is, moet dit bestaan uit die beste meel gemeng met olyfolie, maar sonder suurdeeg. Dit mag gebring word in die vorm van koeke gemeng met olyfolie of oliekoeke gesmeer met olyfolie.

5 As jou offer ’n graanoffer is wat op ’n bakplaat gaargemaak is, moet dit van die beste meel en olyfolie wees, maar sonder suurdeeg.

6 Breek dit in stukke en gooi olie daaroor. Dit is ’n graanoffer.

7 Wanneer jou graanoffer in ’n pan voorberei word, moet dit ook van die beste meel en olyfolie gemaak word.

8 “Ongeag hoe jy ’n graanoffer vir die Here voorberei het, bring dit vir die priester. Hy sal dit na die altaar toe bring.

9 Die priesters sal ’n gedeelte van die graanoffer as verteenwoordigend van die res neem en dit op die altaar verbrand as ’n offer wat met vuur gemaak is en wat aangenaam is vir die Here.

10 Die res van die graanoffer sal aan Aäron en sy seuns as kos gegee word. Dit is ’n besonder heilige deel van die vuuroffers wat vir die Here gegee word.

11 “Moenie suurdeeg in enige van die graanoffers wat jy aan die Here bring, gebruik nie, want geen suurdeeg of heuning mag met ’n vuuroffer vir die Here verbrand word nie.

12 Jy mag wel suurdeeg en heuning voeg by die offers wat met oestyd gebring word, maar dit mag nooit op die altaar verbrand word as ’n offer wat vir die Here aanneemlik is nie.

13 Gooi sout op al jou graanoffers. Dit sal aan God se verbond herinner. Moet nooit vergeet om sout by jou graanoffers te gooi nie.

14 “Wanneer jy vir die Here ’n graanoffer uit die eerste deel van jou oes bring, moet jou offer bestaan uit vars graan wat oor vuur gerooster is.

15 Omdat dit ’n graanoffer is, moet jy olyfolie bygooi en wierook daaroor sprinkel.

16 Die priesters sal ’n deel van die geroosterde graankorrels met die olyfolie en wierook neem as verteenwoordiging van die res en dit as ’n vuuroffer vir die Here verbrand.”

LEVITIKUS 3

Die maaltydoffer

1 “As jy ’n maaltydoffer uit jou beestrop wil bring, gebruik ’n bul of ’n koei. Die dier wat jy vir die Here offer, mag nie enige gebreke hê nie.

2 Lê jou hande op die kop van die dier en slag dit by die ingang van die tent van ontmoeting. Aäron se seuns, die priesters, sal dan die bloed van die dier teen die kante van die altaar sprinkel.

3 ’n Deel van die maaltydoffer moet vir die Here gegee word as ’n vuuroffer. Dit sluit in: die vet van die binnegoed,

4 die twee niere met die vet rondom, en ’n deel van die lewer wat saam met die niere verwyder moet word.

5 Die seuns van Aäron verbrand dit op die altaar bo-op die brandoffer op die houtvuur. Dit is ’n vuuroffer wat aangenaam is vir die Here.

6 “As jy ’n maaltydoffer vir die Here uit jou kleinvee bring, kan dit ’n bok of ’n skaap wees. Dit mag ook ’n ram of ooi wees, maar dit mag nie enige foute hê nie.

7 As jy ’n skaap as offer bring, bring dit vir die Here

8 deur jou hand op sy kop te lê en dit by die ingang van die tent van ontmoeting te slag. Die seuns van Aäron sal dan die skaap se bloed teen die kante van die altaar sprinkel.

9 ’n Deel van die maaltydoffer moet vir die Here gegee word as ’n vuuroffer. Dit sluit in: die hele vetstert wat naby die rugstring afgesny is, die vet aan die binnegoed,

10 die twee niere met die vet rondom, en ’n deel van die lewer wat saam met die niere verwyder moet word.

11 Die priester sal dit op die altaar verbrand, as ’n vuuroffer vir die Here.

12 “As jy ’n bok bring om vir die Here te offer,

13 lê jou hand op sy kop en slag dit by die ingang van die tent van ontmoeting. Die seuns van Aäron sal dan die bloed van die bok teen die kante van die altaar sprinkel.

14 ’n Deel van die offer moet vir die Here as ’n vuuroffer gegee word. Dit sluit in die vet aan die binnegoed,

15 die twee niere met die vet rondom en ’n deel van die lewer wat saam met die niere verwyder word.

16 Die priester sal dit op die altaar as voedsel verbrand, as ’n vuuroffer vir die Here. Onthou, al die vet behoort aan die Here.

17 “Jy mag nooit enige vet of bloed eet nie. Dit is ’n vaste voorskrif vir jou en jou nageslag, waar hulle ook al bly.”

LEVITIKUS 4

Die sonde-offer

1 Toe het die Here vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete: Wanneer hulle onopsetlik sondig deur iets te doen wat die Here in sy gebooie verbied het, moet hulle soos volg optree.

3 “As die hoëpriester sondig en so die hele volk skuldig maak, moet hy ’n jong bul sonder liggaamsgebrek vir die Here bring.

4 Hy moet die bul vir die Here by die ingang van die tent van ontmoeting bring, dan moet hy sy hand op die kop van die bul lê en dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag.

5 Die hoëpriester moet van die bloed van die bul in die tent van ontmoeting invat,

6 sy vinger in die bloed steek en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here teen die gordyn van die Allerheiligste sprinkel.

7 Die priester sal dan van die bloed op die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting smeer. Die res van die bul se bloed moet teen die onderkant van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting uitgegooi word.

8 Die priester moet vervolgens alle vet verwyder rondom die binnegoed van die bul,

9 die twee niere met die vet rondom en ’n deel van die lewer.

10 Dit moet hy op die brandofferaltaar verbrand, net soos wat met die bul of koei vir die maaltydoffer gedoen word.

11 Maar die res van die bul – sy vel, vleis, kop, pote, binnegoed en mis –

12 moet weggevat word na ’n afgesonderde plek buite die kamp, die plek waar die as gegooi word. Hy sal dit alles in ’n houtvuur op die ashoop verbrand.

13 “As die hele gemeenskap van Israel iets doen wat deur die Here verbied word en dit ontgaan die gemeenskap, is almal skuldig.

14 Wanneer hulle hulle sonde agterkom, moet die leiers van die gemeenskap ’n jong bul as ’n sonde-offer na die ingang van die tent van ontmoeting bring.

15 Die leiers moet dan hulle hande op die kop van die bul lê en dit daar in die teenwoordigheid van die Here slag.

16 Die hoëpriester sal van die bloed na die tent van ontmoeting toe neem,

17 sy vinger in die bloed steek en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here teen die gordyn sprinkel.

18 Hy sal van die bloed op die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting smeer. Die res van die bloed moet teen die onderkant van die brandofferaltaar by die ingang van die tent van ontmoeting uitgegooi word.

19 Die priester moet al die vet van die dier uitsny en dit op die altaar verbrand,

20 soos met die sonde-offer vir die priester gedoen word. Op dié manier sal die priester versoening doen vir die volk en hulle sal vergewe word.

21 Die priester moet dan dit wat van die bul oor is na die buitekant van die kamp toe vat en dit daar verbrand, net soos gedoen word met die sonde-offer van die hoëpriester. Dit is die sonde-offer vir die hele gemeenskap van Israel.

22 “As een van Israel se leiers iets doen wat deur die Here sy God verbied word, is hy skuldig selfs al het hy dit onopsetlik gedoen.

23 Sodra hy bewus word van sy sonde, moet hy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as offer bring.

24 Hy moet sy hand op die bok se kop lê en dit in die teenwoordigheid van die Here slag by die plek waar brandoffers geslag word. Dit is sy sonde-offer.

25 Die priester sal dan sy vinger in die bloed van die sonde-offer steek, dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res teen die onderkant van die altaar uitgooi.

26 Hy moet al die vet van die bok op die altaar verbrand, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Op dié manier sal die priester vir die sonde van die leier versoening doen en sal hy vergewe word.

27 “As enige burger van Israel iets doen wat deur die Here verbied word, is hy skuldig selfs al sondig hy onopsetlik.

28 As hulle bewus word van hulle sonde, moet hulle ’n bokooi sonder gebrek as ’n offer bring. Die bok sal dan vir hulle sonde geoffer word.

29 Hulle moet hulle hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffer geslag word.

30 Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

31 Hy sal die vet van die bok verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gemaak word. Dan sal hy die vet op die altaar verbrand en dit sal vir die Here aangenaam wees. So sal die priester vir hulle versoening doen en hulle sal vergewe word.

32 “As enigeen van die volk ’n skaap as ’n sonde-offer bring, moet dit ’n skaapooi sonder liggaamsgebrek wees.

33 Hy moet sy hand op die kop van die sonde-offer lê en dit slag op die plek waar die brandoffers geslag word.

34 Die priester sal dan sy vinger in die bloed steek en dit aan die horings van die brandofferaltaar smeer en die res van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgooi.

35 Dan word al die vet van die skaap verwyder, net soos wat met die maaltydoffer gedoen word. Die priester verbrand die vet op die altaar bo-op die vuuroffers vir die Here. Op dié manier sal die priester versoening doen vir hulle en hulle sal vergewe word.”

LEVITIKUS 5

Sonde waarvoor daar ’n

sonde-offer nodig is

1 “As iemand geroep word om te getuig oor iets wat hy gehoor of gesien het en hy doen dit nie, sal hy daarvoor verantwoordelik gehou word. So ’n persoon mag ook gestraf word.

2 “As iemand aan iets raak wat onrein is, soos die karkas van ’n dier wat onrein is, of dit nou ’n wilde of mak dier is of selfs iets wat op die grond kruip, is so iemand onrein en skuldig, selfs al is hy nie bewus van sy onreinheid nie.

3 “As iemand in kontak kom met enige bron van menslike onreinheid, selfs al weet hy nie dat hy onrein gemaak is nie, sal hy as skuldig gereken word sodra hy daarvan bewus word.

4 “As iemand oorhaastig ’n eed van enige soort aflê, of dit nou vir ’n goeie of slegte doel is, sal hy as skuldig gereken word, selfs al was hy nie ten volle bewus van wat hy besig was om te doen nie.

5 “Wanneer enigiemand op dié manier bewus word van sy skuld, moet hy of sy die sonde bely.

6 So iemand moet dan ’n skaap of ’n bokooi as ’n skuldoffer vir die Here bring. Vir so ’n persoon sal die priester versoening doen vir die sonde.

7 “As iemand dit nie kan bekostig om ’n skaap te bring nie, moet hy twee jong tortelduiwe as boete vir sy sonde vir die Here bring. Een van die voëls sal ’n sonde-offer wees en die ander een sal ’n brandoffer wees.

8 Hy moet dit na die priester toe bring wat dan een as ’n sonde-offer sal offer. Die priester sal die voël se nek omdraai, maar sonder om die kop te verwyder.

9 Hy sal dan van die bloed van die sonde-offer teen die kante van die altaar sprinkel. Die res sal teen die fondament van die altaar uitgedruk word. Dit dien as ’n sonde-offer.

10 Die priester sal die ander voël as ’n brandoffer volgens die voorgeskrewe prosedures offer. Op hierdie wyse sal die priester vir die skuldiges versoening bewerk en sal hulle vergewe word.

11 “As iemand dit nie kan bekostig om twee tortelduiwe te bring nie, moet hy of sy twee kilogram meel as ’n sonde-offer bring. Omdat dit ’n sonde-offer is, mag hy dit nie met olyfolie meng of wierook daarop sit nie.

12 Hy moet die meel na die priester toe vat en die priester sal dan ’n hand vol daarvan as verteenwoordiging van die geheel skep. Dan sal hy die meel op die altaar verbrand net soos enige ander vuuroffer wat vir die Here gegee word. Dit sal sy sonde-offer wees.

13 Op hierdie manier sal die priester vir die skuldiges versoening bewerk en sal hulle vergewe word. Wat oorbly van die meel behoort aan die priester, net soos in geval van die graanoffer.”

Die prosedure vir ’n skuldoffer

14 Toe sê die Here vir Moses:

15 “As enigiemand onopsetlik sondig deur die heilige eiendom van die Here te verontreinig, moet hy ’n ram uit sy kleinveetrop as skuldoffer vir die Here bring. Die dier moet sonder enige liggaamsgebrek wees. Die waarde moet in silwer bereken word ooreenkomstig die standaard gewig by die heiligdom.

16 Watter heilige ding hy ook al verontreinig het, moet hy regstel deur vir die verlies te betaal, plus ’n ekstra heffing van twintig persent. Met hierdie betaling aan die priester sal hy met die ram wat as skuldoffer geoffer is, versoening bewerk en sal hy vergewe word.

17 “As enigiemand sondig deur iets te doen wat die Here verbied het, selfs al is dit onopsetlik gedoen, sal hy verantwoordelik gehou word. Wanneer so iemand bewus word van sy skuld,

18 moet hy vir die priester ’n ram uit die trop bring as ’n skuldoffer. Dit moet ’n dier sonder enige liggaamsgebrek wees, volgens die vasgestelde waarde. Op dié manier sal die priester vir die skuldiges versoening bewerk en sal hulle vergewe word.

19 Dit is ’n skuldoffer, want hulle was skuldig aan ’n oortreding teen die Here.”

LEVITIKUS 6

Sonde waarvoor daar ’n

skuldoffer nodig is

1 En die Here het aan Moses gesê:

2 “Sê nou maar iemand sondig teen die Here deur valslik vir sy buurman te vertel dat iets wat aan hom toevertrou is, verlore geraak het of gesteel is. Of sê nou maar iemand was oneerlik met iets wat in veilige bewaring vir hom gegee is, of hy het iets gevat deur dit te steel of af te pers.

3 Of sê nou maar iemand vind ’n verlore item en lieg daaroor, of iemand ontken iets onder eed, of hy sondig deur iets soortgelyks te doen.

4 As iemand op so ’n manier gesondig het en skuldig is, moet hy dit wat hy deur diefstal of afpersing gevat het, teruggee. Dit geld ongeag of dit iets in veilige bewaring was, of eiendom wat aan iemand toevertrou was, of ’n verlore item wat mense as hulle eie sou opeis,

5 of enigiets wat verkry is deur ’n vals eed af te lê. Wanneer hulle besef hulle is skuldig, moet hulle die volle bedrag plus ’n bykomende heffing van twintig persent teruggee aan die persoon wat benadeel is.

6 Hy moet dan ’n skuldoffer vir die priester bring, wat dit dan aan die Here sal gee. Hierdie skuldoffer moet ’n ram sonder enige liggaamsgebrek wees of die dier se waarde in silwer.

7 Die priester sal dan voor die Here versoening bewerk en so sal hy vergewe word.”

Verdere instruksies vir die

brandoffer

8 Toe het die Here vir Moses gesê:

9 “Gee vir Aäron en sy seuns die volgende instruksies oor die brandoffer. Die brandoffer moet op die altaar bly tot die volgende môre. Die altaarvuur moet die hele nag deur bly brand.

10 Die volgende môre moet die priester sy spesiale linneklere aantrek. Die diensdoende priester moet dan die as van die brandoffer wegneem en dit langs die altaar neersit.

11 Dan moet die priester weer sy gewone klere aantrek en die as na die buitekant van die kamp toe dra na ’n plek wat daarvoor afgesonder is.

12 Intussen moet die altaarvuur bly brand; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke oggend hout op die vuur gooi en die daaglikse brandoffer daarop sit. Hy moet dan die vet van die maaltydoffer bo-op die daaglikse brandoffer verbrand.

13 Onthou, die vuur op die altaar moet te alle tye bly brand. Dit mag nooit uitbrand nie.”

Verdere instruksies vir die

graanoffer

14 “Dit is die instruksies vir die graanoffer. Aäron se seuns moet hierdie offer vir die Here voor die altaar bring.

15 Die diensdoende priester sal ’n hand vol meel vat, met olyfolie meng en dit sprinkel met wierook. Hy sal ’n verteenwoordigende deel hiervan op die altaar verbrand. Dit sal baie aangenaam vir die Here wees.

16 Nadat hierdie deel van die meel verbrand is, kan Aäron en sy seuns die res van die meel gebruik. Dit moet egter sonder suurdeeg gebak word en op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting geëet word.

17 “Onthou, die meel mag nie met suurdeeg gaargemaak word nie. Ek gee dit aan die priesters as hulle deel van die vuuroffers wat vir my gebring word. Dit is ’n besonder heilige offer, net soos die sonde-offer en die skuldoffer.

18 Enigeen van Aäron se manlike afstammelinge mag in elke geslag van die graanoffer eet. Dit is ’n vaste instelling. Dit is vir altyd hulle deel van die vuuroffers wat aan die Here gegee word. Wie of wat ook al aan hierdie kos raak moet geheilig wees.”

Prosedure vir die offer by die

salwing van die hoëpriester

19 En die Here het vir Moses gesê:

20 “Op die dag waarop Aäron en sy seuns gesalf word, moet hulle ’n graanoffer vir die Here bring: twee kilogram meel, die een helfte vir die offer in die oggend, die ander helfte vir die offer in die aand.

21 Dit moet met olyfolie op ’n plaat gebraai word en dit moet in stukkies gebreek word. Dit is die graanoffer wat jy moet bring. Dit sal aangenaam vir die Here wees.

22 Soos wat die seuns hulle vaders as hoëpriesters opvolg, moet hulle in hulle amp bevestig word deur hierdie offer te bring op die dag waarop hulle gesalf word. Dit is die Here se deel en moet heeltemal verbrand word.

23 Elke graanoffer van die priester moet heeltemal verbrand word. Niks van die meel mag geëet word nie.”

Verdere instruksies vir die

sonde-offer

24 Toe het die Here vir Moses gesê:

25 “Gee vir Aäron en sy seuns verdere instruksies oor die sonde-offer. Die dier wat as sonde-offer gegee word, is besonder heilig en moet in die teenwoordigheid van die Here geslag word op die plek waar die brandoffers geslag word.

26 Die priester wat die offer bring, mag sy deel op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting eet.

27 Wie of wat ook al aan die offervleis raak, moet geheilig wees. As daar van die offerbloed op iemand se klere spat, moet dit op ’n heilige plek uitgewas word.

28 As ’n kleipot gebruik word om die offervleis in te kook, moet dit daarna gebreek word. As ’n bronspot gebruik word, moet dit weer geskuur en goed met water uitgespoel word.

29 Net mans in die familie van die priester mag van die offervleis eet, want dit is heilig.

30 Wanneer die bloed van die sonde-offer in die tent van ontmoeting ingebring word om daarmee versoening te bewerk in die heiligdom, mag niks van die offerdier se vleis geëet word nie. Dit moet heeltemal verbrand word.”

LEVITIKUS 7

Verdere aanwysings vir die

skuldoffer

1 “Dit is die voorskrifte vir die skuldoffer, wat ’n baie heilige offer is.

2 Die dier wat geoffer word as ’n skuldoffer, moet geslag word waar die brandoffers geslag word. Die bloed moet teen die kante van die altaar gesprinkel word.

3 Die priester sal dan al die vet op die altaar offer, dit beteken die vet van die stert, die vet aan die binnegoed,

4 die twee niere met die vet rondom hulle naby die kruis, en die punt van die lewer, wat saam met die niere verwyder moet word.

5 Die priester sal al sy dele op die altaar verbrand as ’n vuuroffer vir die Here.

6 Alle manlike lede van ’n priester se familie mag van die vleis eet en dit moet op ’n gewyde plek geëet word, want dit is ’n baie heilige offer.

7 “In die geval van beide die sonde-offer en die skuldoffer behoort die vleis van die offerdier aan die priester in beheer van die versoeningseremonie.

8 In geval van die brandoffer behoort die vel van die offerdier ook aan die priester.

9 Enige graanoffer wat in ’n oond gebak is of in ’n pan gaargemaak is of op ’n plaat voorberei is, behoort aan die priester wat die offer aanbied.

10 Alle ander graanoffers, met of sonder olyfolie, moet verdeel word onder al die priesters en hulle seuns.”

Verdere instruksies vir die

maaltydoffer

11 “Hier volg die instruksies vir die verskillende soorte maaltydoffers wat vir die Here gebring mag word.

12 As jy ’n maaltydoffer as ’n dankoffer bring, moet die gebruiklike offerdiere saam met verskillende soorte brood sonder enige suurdeeg gebring word. Dit moet in olyfolie gedoop word. Dit kan ringbrood, of dun broodjies of roosterkoeke wees.

13 By hierdie maaltydoffer wat as danksegging gebring word, moet daar ook brode wees wat met suurdeeg gemaak is.

14 Een van elke soort brood moet as ’n gawe vir die Here gegee word. Hierdie brood sal dan aan die priester behoort wat die altaar met die bloed van die offerdier besprinkel het.

15 Die vleis van die offerdier moet op dieselfde dag as wat dit geslag is, geëet word. Niks mag oorbly tot die volgende oggend toe nie.

16 “As jy egter ’n offer bring om ’n gelofte na te kom, of as jy ’n vrywillige offer bring, moet die vleis op dieselfde dag geëet word. Vleis wat oorbly, mag wel ook op die volgende dag geëet word.

17 Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet heeltemal verbrand word.

18 As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die Here dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde.

19 “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is.

20 Iemand wat onrein is, maar wat vleis van ’n maaltydoffer vir die Here geëet het, moet uit die gemeenskap verwyder word.

21 As iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou iets onreins aan ’n mens of van ’n onrein dier is, en so ’n persoon eet vleis van offers vir die Here, moet so iemand uit die gemeenskap verwyder word.”

Die eet van vet en bloed word

verbied

22 Die Here het vir Moses gesê:

23 “Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie.

24 Die vet van ’n dooie dier of van ’n dier wat deur roofdiere gevang is, mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word.

25 Enigiemand wat vet van ’n dier eet wat as vuuroffer vir die Here gegee word, moet uit die gemeenskap verwyder word.

26 Selfs in julle huise mag julle nooit die bloed van enige voël of dier eet nie.

27 Enigiemand wat bloed eet, moet uit die gemeenskap verwyder word.”

’n Deel vir die priesters

28 Toe het die Here vir Moses gesê:

29 “Gee hierdie verdere instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die Here bring, bring ’n deel daarvan as ’n spesiale gawe vir die Here.

30 Gee dit vir Hom met jou eie hande as ’n vuuroffer vir die Here. Bring die vet van die dier, saam met die bors, en gee dit vir die Here deur dit voor Hom op te lig.

31 Die priester sal dan die vet op die altaar verbrand, maar die bors sal aan Aäron en sy seuns behoort.

32 Jy moet die regterboud van die maaltydoffer as ’n gawe aan die priester gee.

33 Die regterboud moet altyd aan die priester wat die bloed sprinkel en die vet van die maaltydoffer offer, gegee word.

34 Ek het die bors en die regterboud vir die priesters bepaal. Dit is hulle deel van die maaltydoffers wat die Israeliete bring. Dit is ’n vaste instelling.

35 Dit is hulle deel. Van die vuuroffers wat vir die Here gebring word, is dit opsy gesit vir Aäron en sy afstammelinge vanaf die tyd dat hulle aangewys is om die Here as priesters te dien.

36 Die Here het die Israeliete beveel om hierdie dele vir die priesters te gee as hulle regmatige deel. Dit geld van die tyd dat die priesters gesalf is. Hierdie reëling geld ook vir die geslagte wat nog kom.”

37 Dit is die instruksies vir die brandoffer, die graanoffer, die sonde-offer, die skuldoffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer.

38 Die Here het hierdie instruksies vir Moses op die Sinaiberg gegee toe hy die Israeliete beveel het om hulle offers vir die Here in die Sinaiwoestyn te bring.

LEVITIKUS 8

Die wyding van die priesters

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Bring vir Aäron en sy seuns, met die spesiale klere, die salfolie, die bul vir die sonde-offer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood

3 na die ingang van die tent van ontmoeting. Roep dan die hele gemeenskap van Israel bymekaar om jou daar te ontmoet.”

4 Moses het die opdrag van die Here uitgevoer en so het die hele volk by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaargekom.

5 Moses het die volgende aankondiging gemaak: “Die Here het my beveel om te doen wat ek nou gaan doen!”

6 Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom en hulle met water gewas.

7 Hy het toe vir Aäron priesterklere aangetrek en die ampserp om hom gebind. Hy het ook die priestermantel en die priesterlike skouerkleed vir hom aangetrek. Hy het die skouerkleed met die ampserp vasgemaak.

8 Daarna het Moses ook die borssak aan Aäron vasgemaak en die Urim en Tummim daarin gesit.

9 Hy het toe ook die tulband met die goue plaat voor op sy kop gesit, net soos die Here hom beveel het om te doen.

10 Moses het toe die salfolie geneem en die tent van ontmoeting en alles daarin gesalf om dit aan die Here op te dra.

11 Hy het die altaar sewe keer besprinkel en sodoende die altaar, al die gereedskap en die waskom met sy staander gesalf en dit geheilig.

12 Hy het toe ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi en hom gesalf en hom sodoende vir sy werk heilig gemaak.

13 Moses het ook Aäron se seuns laat naderkom en vir hulle priesterklere, ampserpe en tulbande aangetrek, net soos die Here hom beveel het om te doen.

14 Toe het Moses die bul vir die sonde-offer ingebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit.

15 Moses het die bul geslag, van die bloed gevat en met sy vinger van die bloed op die vier horings van die altaar gesmeer om dit te reinig. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi. Op dié manier het hy die altaar geheilig sodat daarop versoening gedoen kan word.

16 Hy het toe al die vet rondom die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere en hulle vet geneem en dit alles op die altaar verbrand.

17 Die res van die bul met sy vel, vleis en mis is aan die buitekant van die kamp verbrand, net soos die Here hom beveel het om te doen.

18 Moses het toe die ram as brandoffer vir die Here gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit.

19 Moses het die ram geslag en van die bloed gevat en dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

20 Daarna het hy die ram in stukke gesny en die kop, sommige van die stukke vleis en die vet op die altaar verbrand.

21 Nadat hy die binnegoed en die pote met water gewas het, het Moses die hele ram op die altaar as ’n brandoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Alles is gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.

22 Moses het toe ’n tweede ram gebring. Dit was die ram vir die wyding van die priesters. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit.

23 Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24 Hy het toe ook Aäron se seuns laat naderkom en van die bloed ook aan hulle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kante van die altaar gesprinkel.

25 Toe het hy die vet geneem, die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere met hulle vet en ook die regterboud.

26 Hy het toe ook ’n ongesuurde brood, ’n roosterkoek van ongesuurde brood wat in olyfolie gedoop is en ’n dun broodjie wat met olyfolie gesmeer was bo-op die vet en die regterboud gesit. Al die brood is geneem uit die mandjie met ongesuurde brood wat in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.

27 Hy het dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit vir die Here aan te bied deur dit na Hom uit te steek.

28 Moses het toe die offers by hulle teruggevat en dit op die altaar bo-op die brandoffer as ’n wydingsoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom.

29 Moses het toe die bors geneem en dit opgelig voor die Here in sy teenwoordigheid. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, net soos die Here hom beveel het.

30 Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere gewy.

31 Toe het Moses vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat vir die wyding van die priesters gebruik is, net soos ek jou beveel.

32 Enige vleis of brood wat oorbly, moet verbrand word.

33 Vir sewe dae lank mag julle nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, want dit is hoe lank dit sal neem om die wydingseremonie te voltooi.

34 Wat vandag gedoen is, is die bevel van die Here sodat daar versoening vir julle kan wees.

35 Onthou, julle moet by die ingang van die tent van ontmoeting bly vir sewe dae en sewe nagte en doen wat die Here vra. As julle dit nie doen nie, sal julle sterf. Dit is wat die Here sê.”

36 Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here deur Moses beveel het.

LEVITIKUS 9

Die priesters begin hulle

bediening

1 Na die wydingseremonie, op die agtste dag, het Moses vir Aäron en sy seuns en die leiers van Israel bymekaargeroep.

2 Hy het vir Aäron gesê: “Neem ’n jong bul as ’n sonde-offer en ’n ram as ’n brandoffer en gee dit vir die Here. Al twee diere moet sonder enige liggaamsgebrek wees.

3 Sê dan vir die Israeliete om ’n bokram as sonde-offer en ’n jaaroud bulkalf en ’n lam as brandoffer te bring, almal sonder liggaamsgebrek.

4 Sê ook vir hulle om ’n bees en ’n ram as ’n maaltydoffer te bring en meel gemeng met olyfolie as ’n graanoffer. Sê vir hulle om al hierdie offers aan die Here te bring omdat Hy vandag aan julle gaan verskyn.”

5 Die volk het toe al hierdie dinge na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring, net soos Moses hulle beveel het. Die hele gemeenskap het gekom en daar in die teenwoordigheid van die Here gestaan.

6 Toe het Moses gesê: “As julle hierdie instruksies van die Here volg, sal die glorieryke teenwoordigheid van die Here sigbaar word voor julle.”

7 Moses sê toe vir Aäron: “Kom na die altaar toe en bring jou sonde-offer en brandoffer om versoening te bewerk vir jouself. Bring dan die offers om ook versoening te bewerk vir die volk, net soos die Here beveel het.”

8 Aäron het na die altaar toe gegaan en ’n kalf geslag as ’n sonde-offer vir homself.

9 Sy seuns het vir hom die bloed gebring, hy het sy vinger in die bloed gedruk en dit aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi.

10 Toe het hy die vet, die niere en die punt van die lewer van die sonde-offer op die altaar verbrand, net soos die Here vir Moses beveel het.

11 Die vleis en die vel is aan die buitekant van die kamp verbrand.

12 Aäron het toe ook die dier vir die brandoffer geslag. Sy seuns het vir hom die bloed gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

13 Hulle het die dier stuk vir stuk saam met die kop vir hom aangegee en hy het elke deel op die altaar verbrand.

14 Hy het toe die binnegoed en die bene gewas en dit ook as ’n brandoffer op die altaar verbrand.

15 Daarna het Aäron die offers vir die volk gebring. Hy het die bokram geslag en as sonde-offer vir die volk gebring net soos hy dit vir homself gedoen het.

16 Hy het toe ook die brandoffer gebring en dit op die voorgeskrewe manier geoffer.

17 Hy het ook ’n graanoffer gebring en ’n hand vol meel op die altaar verbrand, bo en behalwe die gebruiklike oggendbrandoffer.

18 Aäron het toe die bees en die ram as die volk se maaltydoffer geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

19 Toe het hy die vet van die bul en die ram – die vet van die stert, die vet rondom die binnegoed, saam met die niere en die punt van die lewer – gevat en

20 dit bo-op die borsstukke van die diere gepak en dit toe op die altaar verbrand.

21 Aäron het die borsstukke en die regterboud opgelig as ’n offer vir die Here, net soos Moses beveel het.

22 Na al die dinge het Aäron sy hande uitgesteek na die volk toe en hulle geseën. Nadat hy die sonde-offer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring het, het hy van die altaar af geklim.

23 Moses en Aäron het toe in die tent van ontmoeting ingegaan en toe hulle uitkom, het hulle weer die volk geseën. Die glorieryke teenwoordigheid van die Here het toe vir die hele gemeenskap sigbaar geword.

24 Vuur wat van die Here gekom het, het die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die volk al die dinge sien, was daar uitroepe van vreugde en het hulle op die grond neergeval.

LEVITIKUS 10

Die sonde van Nadab en Abihu

1 Aäron se seuns Nadab en Abihu het gloeiende kole in hulle vuurpanne gesit en wierook daaroor gesprinkel. Op dié manier was hulle ongehoorsaam aan die Here omdat hulle ’n ander soort vuur voor Hom gebrand het as wat die Here beveel het.

2 Vuur het van die Here afgekom en hulle verbrand en hulle is daar voor die Here dood.

3 Moses sê toe vir Aäron: “Dit is wat die Here bedoel het toe Hy gesê het:

Wie tot My nader,

moet besef Ek is heilig.

Ek word geëer

voor die hele volk.”

Aäron het net stilgebly.

4 Moses het toe vir Misael en Elisafan, twee neefs van Aäron, die seuns van Aäron se oom Ussiël, geroep en gesê: “Kom en dra die liggame van julle familielede weg van die heiligdom na ’n plek buite die kamp.”

5 Hulle het na vore gekom en hulle in hulle priesterklere weggedra na ’n plek buite die kamp soos Moses beveel het.

6 Moses sê toe vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar: “Moenie rou deur julle hare los te laat hang of deur julle klere te skeur nie. As julle dit doen, sal julle sterf en sal die Here kwaad word vir die hele gemeenskap van Israel. Die res van die Israeliete, julle familielede, mag egter rou oor Nadab en Abihu wat die Here met vuur verteer het.

7 Maar julle mag glad nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie. Julle sal met die dood gestraf word as julle dit doen, want die Here se salfolie is op julle.”

Hulle het gemaak soos Moses gesê het.

Instruksies vir die gedrag van

priesters

8 Die Here het vir Aäron gesê:

9 “Jy en jou seuns mag nooit wyn of enige ander alkoholiese drank drink voordat julle in die tent van ontmoeting ingaan nie. As julle dit doen, sal julle sterf. Hierdie is ’n permanente reëling vir jou en moet ook deur toekomstige geslagte nagekom word.

10 Jy is die een wat moet onderskei tussen dit wat heilig en onheilig is, tussen dit wat rein of onrein is.

11 Jy moet ook al die reëls wat die Here deur Moses aan die Israeliete gegee het, vir hulle leer.”

Aäron en sy ander twee seuns

12 Moses het vir Aäron en sy twee oorblywende seuns, Eleasar en Itamar, gesê: “Neem van die graanoffer wat oor is nadat die hand vol vir die Here gebring is met ’n vuuroffer. Sorg dat daar nie suurdeeg in is nie en eet dit daar langs die altaar, want dit is baie heilig.

13 Dit moet in ’n heilige plek geëet word, want dit is vir julle en julle nageslag gegee as julle regmatige deel van die vuuroffers aan die Here. Dit is die bevele wat aan my gegee is.

14 Maar die borsstuk en die boud wat vir die Here opgelig is, mag op enige plek wat rein is, geëet word. Dit is vir jou en jou seuns en dogters gegee as julle gereelde deel van die maaltydoffers wat die volk Israel vir die Here bring.

15 Die boud en die bors wat opgelig is, moet saam met die vet van die vuuroffer opgelig word vir die Here. Dit sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort, net soos die Here beveel het.”

16 Toe Moses navraag doen om te weet wat met die sonde-offerbok gebeur het, het hy ontdek dat dit verbrand is. Hy het baie kwaad geword vir die twee oorblywende seuns van Aäron, Eleasar en Itamar.

17 “Waarom het julle nie die sonde-offer in die heilige gebied geëet nie?” wou hy weet. “Dit is immers ’n heilige offer! Dit is bedoel om die skuld van die gemeenskap weg te neem en om versoening vir die volk voor die Here te bewerk.

18 Omdat die bloed van die offerdier nie in die heiligdom ingeneem is nie, moes julle die vleis in die heilige gebied geëet het soos ek julle beveel het.”

19 Aäron het toe namens sy seuns vir Moses geantwoord: “Vandag het my seuns beide hulle sonde-offer en brandoffer vir die Here gebring,” het hy gesê. “Hierdie soort ding het ook al met my gebeur. Sou die Here dit goedgekeur het as ek die een was wat vandag die sonde-offer geëet het?”

20 Toe Moses dit hoor, was hy tevrede.