KOLOSSENSE 1

1 Paulus en Timoteus skryf aan

die gelowiges in Kolosse en

Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.

2 Ons skryf aan God se mense in Ko­los­se, gelowi­ge broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die ge­nade en vre­de van God ons Vader met julle wees.

Paulus dank God vir die

Kolossense se getuienis en bid

3 In al ons gebede dank ons God, die Va­der van ons Here Jesus Christus, vir julle,

4 want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense.

5 Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir jul­le gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan jul­le verkondig is.

6 Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die he­le wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by jul­le gebeur het vanaf die dag toe julle die waar­heid oor God se genade gehoor en verstaan het.

7 Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daar­van geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang.

8 Dit is hý wat ons vertel het van die lief­de wat die Gees in julle bewerk het.

9 Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy gees­te­like wysheid en insig aan julle sal gee so­dat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê.

10 Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat jul­le lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken.

11 Ons bid dat Hy deur die krag van sy god­delike heerlikheid julle sal toe­rus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap

12 altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat vol­gens sy wil lewe.

13 Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring on­der die ko­nings­heerskappy van sy gelief­de Seun.

14 Deur die Seun het ons verlos­sing ver­kry, naamlik die verge­wing van son­de.

’n Lied oor die heerlikheid van

die Seun

15 Die Seun is die sigbare uitbeelding

van die onsigbare God.

Hy is die Eerste

van die hele skepping,

16 omdat God alles

deur Hom geskep het.

Ja, alles in die hemel

en op die aarde –

die dinge wat gesien kan word

en die dinge wat nie gesien

kan word nie,

of dit nou konings

of heersers, regeerders

of magshebbers is –

álle dinge is deur Hom

en vir Hom geskep.

17 Hý was daar vóór alles,

en in Hom word alles

saamgebind.

18 Hý is die hoof van die kerk,

sy liggaam.

Die Seun is die begin.

Hy is die Eerste

wat uit die dood opgestaan het

sodat Hy inderdaad eerste

in alle dinge is.

19 God het dit goedgedink

om met sy volle Goddelikheid

in die Seun te woon,

20 en om deur Hom alles

met Homself te versoen.

Deur die bloed van sy Seun

aan die kruis

het Hy vrede gemaak.

Ja, deur Hom het Hy alles

op die aarde

en in die hemel

met Homself versoen.

Ons stukkende verhouding met

God is reggemaak

21 Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde da­de het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is.

22 Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos.

23 Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar ge­word.

God se geheim is bekend:

Christus leef in ons!

24 Ek is nou bly dat ek tot julle voordeel kan swaarkry. Ek is bly dat ek die deel van Christus se vervolging wat nog oor­bly, kan help dra. Ek verduur dit in mý lig­gaam tot voordeel van sý liggaam, die kerk.

25 Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verant­woor­delikheid gegee om aan julle sy volle bood­skap bekend te maak.

26 Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak.

27 God het be­sluit om aan hulle bekend te maak hoe wonder­lik die heer­likheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die ge­heim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heer­lik­heid sal deel.

28 Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig.

So wil ons graag elke mens in ’n vol­maak­te verhou­ding met Christus voor God laat staan.

29 Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat magtig in my aan die werk is.

KOLOSSENSE 2

Paulus se stryd sodat gelowiges

God se geheim kan ken

1 Ek wil hê julle moet weet hoe hard ek stry – vir julle, vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander gelowi­ges wat my nog nie persoonlik ont­moet het nie.

2 Dit is my doel dat hulle moed sal skep en deur liefde aan mekaar verbind sal wees. Ek wil hê dat hulle insig skat­ryk en oor­vloedig sal wees, ja, dat hul­le God se ge­heim heelte­mal moet ken, naamlik: Christus.

3 In die een­heids­band met Christus is al die ge­hei­me skat­te van wysheid en kennis te vind.

4 Ek skryf dit vir julle sodat niemand julle met mooi­praatjies om die bos kan lei nie.

5 Al is ek nie persoonlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle. Ek is bly om te sien hoe ordelik julle is en hoe vas julle geloof in Jesus Christus is.

Julle het saam met Christus

gesterf en opgestaan

6 Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is.

7 Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle ge­leer is, en loop oor van dankbaarheid.

8 Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleep­tou neem met ’n leë, mis­lei­den­de filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie.

9 Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teen­woor­dig.

10 En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.

11 Omdat julle één is met Christus is jul­le ook be­sny, nie met ’n besnydenis deur men­se nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid.

12 Toe julle gedoop is, is julle saam met Chris­tus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!

13 Julle was eintlik dood omdat julle ge­sondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Chris­tus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe.

14 Hy het die do­kument met voorskrifte wat as klag­staat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.

15 So het Hy die re­geer­ders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik ge­maak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.

16 Moet dus nie toelaat dat enigie­mand julle ver­oor­deel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere fees­dae of die Nuwemaanfees of Sabbat­te nie.

17 Al hier­die dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid is Chris­tus!

18 Laat niemand wat aandring op selfver­ne­de­ring en en­gel­verering – en dit met ’n be­roep op visioene! – julle op sleeptou neem nie. Verniet dink hierdie mense, ti­pies van hulle sondige geaardheid, baie van hulleself.

19 Hulle is nie aan die hoof ver­bind uit wie die hele liggaam groei nie. Vanuit die hoof groei die hele liggaam, on­der­steun en saamgebind deur gewrigte en spiere. Gód laat dit groei!

20 Aangesien julle, deur saam met Chris­tus te sterf, die bose wêreldse mag­te af­ge­sterf het, waarom leef julle nog vol­gens wê­reldse voorskrifte soos:

21 “moenie vat nie”, “moenie dit eet nie” en “moe­nie aan­raak nie”?

22 Dit is alles dinge wat ver­bruik word en vergaan – soos dit gaan met mens­ge­maak­te voorskrifte en leringe.

23 Met hul­le self­uitgedinkte godsdienstige toe­wy­ding, self­vernedering en streng liggaam­like dis­si­pline het hierdie voorskrifte nogal die re­putasie dat hulle wysheid bevat. Inderwaar­heid is hulle nutteloos vir die beheer van die sondige geaardheid.

KOLOSSENSE 3

Hoe om die nuwe lewe wat

Christus gee, te leef

1 Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

2 Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie.

3 Jul­le het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God wegge­steek.

4 Wanneer Christus, wat jul­le le­we is, by sy wederkoms verskyn, sal jul­le ook saam met Hom in heerlikheid ver­skyn.

5 Daarom moet julle die volgende wê­reldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wel­lus, sleg­te begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak.

6 Dit is oor sul­ke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref.

7 Vroeër was hier­die dinge ook deel van julle leefstyl.

8 Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie.

9 Moenie vir me­kaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy prakty­ke soos klere uitgetrek

10 en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voort­durend nuwe insig en word só ver­ander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk.

11 In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.

12 Julle is die mense wat God uitge­kies het wat Hy geheilig het en wat Hy lief­het. Daarom moet julle die volgende soos kle­re aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoe­dig­heid, geduld.

13 Verdra mekaar en as enigeen ’n klag­te teen iemand anders het, vergewe me­kaar. Vergewe me­kaar soos die Here julle ver­gewe het.

14 Die heel belangrikste wat jul­le moet aan­trek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam.

15 Verder, laat die vre­­de wat Christus bewerk het, in jul­le le­wens die deurslag gee; want as le­de van een lig­gaam is julle tot vrede ge­roep. En wees dank­baar.

16 Laat die rykdom van alles wat Chris­tus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wys­heid moet julle mekaar on­derrig en me­kaar die regte pad wys. Sing met dank­ba­re harte psalms, lofgesange en geesteli­ke liedere tot eer van God.

17 Verder, doen al­les – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.

Hoe Christenskap verhoudings

bepaal

18 Vroue, wees aan julle mans onderda­nig soos dit pas by mense wat met Chris­tus één is.

19 Mans, julle moet julle vroue liefhê en julle moenie griewe teen­oor hulle opbou nie.

20 Kinders, julle moet in elke opsig aan julle ouers ge­hoorsaam wees, want dan is die Here tevrede.

21 Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders sodat hulle moed verloor nie.

22 Slawe, julle moet julle eienaars hier op aarde in elke opsig gehoorsaam. Jul­le moenie mense pro­beer tevrede stel deur net te werk as iemand kyk nie. Nee, werk met opregtheid van hart om­dat julle eer­bied vir die Here het.

23 Pak alles gemoti­veerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie.

24 Weet dat die Here jul­le met ’n erfdeel sal beloon. Die Eie­naar vir wie julle werk, is Christus!

25 Wie onreg doen, kry hulle onreg terug. God trek nie­mand voor nie.

KOLOSSENSE 4

1 Eienaars, behandel julle slawe reg en billik. Ont­hou dat julle ook ’n Eienaar het – in die he­mel!

Julle moet aanhou bid en met

wysheid optree

2 Volhard in die gebed. Bid terwyl julle gees­telik waaksaam en dankbaar is.

3 Bid ter­selfdertyd ook vir ons, dat God ons ge­leentheid sal gee om oor die geheim van Christus te praat. Dis hoekom ek in die ge­vangenis is!

4 Bid dat wanneer ek daar­oor praat, ek dit so duidelik sal uitlê soos ek dit moet doen.

5 In julle verhouding met buitestan­ders moet julle slim optree deur elke kans te benut.

6 Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle ge­reed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.

Laaste opdragte en groete

7 Tigikus, die geliefde broer en ’n getroue dienaar en me­dedienskneg van die Here, sal julle alles oor my om­stan­dighede vertel.

8 Hiervoor stuur ek hom na julle toe: dat julle kan weet hoe dit met ons gaan, en om julle moed in te praat.

9 Hy kom met Onesimus, die getroue en geliefde broer; hy is een van julle. Hulle sal julle alles vertel wat hier gebeur het.

10 Aristargus, wat saam met my ’n ge­vangene is, stuur groete, en ook Mar­kus, Bar­nabas se neef. Oor hom het jul­le reeds opdragte ontvang. As hy daar kom, moet jul­le hom verwelkom.

11 Die­selfde geld ook vir Jesus wat Justus genoem word. Hulle twee is die enig­ste Jode wat met my saam­werk vir God se koningsheerskappy. Wat ’n troos is hul­le vir my!

12 Epafras stuur vir julle groete. Hy is een van julle en ’n dienskneg van Chris­tus Jesus. Hy bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortui­ging in alles die wil van God sal bly doen.

13 Ek kan regtig daarvan getuig dat hy hom baie oor julle bekommer, en ook oor al die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis.

14 Lukas, ons geliefde dokter, stuur vir jul­le groete, en ook Demas.

15 Groet asse­blief die broers en susters in Laodisea. Groet ook Nimfa en haar huisgemeente.

16 Verder, wanneer hierdie brief klaar by julle voor­gelees is, moet julle sorg dat dit ook in die ge­meente van Laodisea voorge­lees word, en dat die een wat van Laodisea af sal kom, ook by julle voorgelees word.

17 Verder, sê vir Argippus: “Maak seker dat jy die bedie­ning uitvoer wat jy in diens van die Here aanvaar het.”

18 Hier is my groete in my eie handskrif – van Paulus.

Dink aan my hier in die tronk!

Mag die genade van God met jul­le wees.