KLAAGLIEDERE 1

1 Jerusalem treur

Die stad wat vol mense was,

is nou verlate.

Sy sit alleen daar, soos ’n weduwee

wat treur.

Die stad

wat eens die nasies se koningin was,

het nou hulle slaaf geword.

2 Sy sit dwarsdeur die nag

en huil.

Trane loop oor haar wange.

Nie een van haar minnaars

wil haar nou kom troos nie.

Al haar vriende

het haar verraai

en haar vyande geword.

3 Juda is weggevoer

in ballingskap.

Hulle word verdruk

en gedwing om te werk.

Hulle woon

tussen vreemde volke

waar hulle nie tuis is nie.

Hulle agtervolgers

het hulle ingehaal

en in ’n hoek vasgekeer.

4 Die paaie na Jerusalem lê verlate,

want niemand kom meer

na die tempelfeeste toe nie.

By die stad se ingang

is daar niemand nie.

Die priesters staan en sug.

Die jong vroue huil.

Jerusalem kry bitter swaar.

5 Hulle wat Jerusalem onderdruk,

het gewen.

Dit gaan goed met haar vyande.

Die Here het die stad gestraf

oor die baie sondes

wat daar gedoen is.

Hulle het haar kinders gevang

en weggevat na ’n ander land.

6 Al Jerusalem

se skoonheid het verdwyn.

Haar leiers het geword

soos uitgehongerde takbokke,

sonder ’n plek om te wei.

Hulle kan nie wegvlug

van hulle agtervolgers nie.

7 In hierdie tyd van swaarkry

dink Jerusalem terug

aan die tyd toe sy mooi was.

Maar sy het

in haar vyand se hande beland

en niemand kon haar help nie.

Haar vyand het haar verwoes

en gelag

toe sy val.

8 Jerusalem het baie gesondig

soos iemand wat vuil word.

Almal wat haar eers gerespekteer het,

verag haar nou.

Want hulle het haar

kaal en vernederd gesien.

Sy kan maar net sug

en haar gesig

in haar hande wegsteek.

9 Sy het haar skandalig gedra

en nie aan haar straf

gedink nie.

Sy het so diep geval

dat niemand haar kan help nie.

“Here, kyk hoe sleg gaan dit,”

snik sy.

“My vyand het gewen!”

10 Al haar kosbaarhede

het die vyand geplunder.

Sy het gesien hoe vreemde volke

die tempel van die Here ingaan,

dié mense wat die Here verbied het

om daar in te gaan.

11 Haar inwoners sug

terwyl hulle na kos soek.

Hulle het al hulle kosbaarhede

vir kos geruil,

net om aan die lewe te bly.

“Kyk tog, Here,” sug sy.

“Almal verag my!”

12 Is dit nie vreeslik vir julle

wat by die stad

verbyloop nie?

Kyk goed of daar ’n hartseer is

wat pyn soos dié van my!

Die Here het dit oor my gebring

toe Hy woedend was vir my.

13 Hy het vuur van bo gestuur

wat my verteer.

Hy het ’n vangnet vir my gespan

wat my laat terugsteier.

Hy het my verlate gemaak

en ongeneeslik siek

agtergelaat.

14 Die Here het met sy hand

van my oortredings

’n juk gevleg.

Hy het dit op my nek gesit.

Dit het my laat struikel.

Die Here het my uitgelewer

aan hulle

teen wie ek nie kan veg nie.

15 Die Here

het al my sterk manne

met minagting behandel.

Hy het ’n leër laat kom

wat my jong manne verpletter het.

Die Here het Juda

stukkend getrap

soos ’n mens druiwe uittrap.

16 Daarom huil ek so.

Trane loop oor my wange.

Daar is niemand naby

wat my kan troos nie.

Daar is geen toekoms

vir my kinders nie.

Die vyand het ons oorweldig.

17 Jerusalem steek haar hande uit

vir hulp,

maar niemand kom troos nie.

Die Here het beveel

dat Israel se bure

haar vyand moes word,

en dat Jerusalem

soos ’n vuil ding

weggegooi moet word.

18 “Die Here is reg,” sug sy.

“Dit was ek wat teen Hom

in opstand gekom het.

Luister tog, al julle volke,

na wat ek sê.

Kyk na my hartseer.

My dogters en my seuns

is almal weggevoer as ballinge.

19 Ek het my vriende gevra

om my te kom help,

maar hulle het my in die steek gelaat.

My priesters en oumense

in die stad

het van honger doodgegaan.

20 Kyk hoe benoud is ek, Here.

My hart krimp inmekaar

en ek bewe.

Ek was in opstand teen U.

Buite in die strate

maai die swaard alles af.

Binne in die huise

is daar net dood.

21 Ander mense

hoor hoe ek kreun,

maar niemand kom my troos nie.

My vyande het gehoor

wat U met my gemaak het.

Hulle juig omdat U dit

aan my gedoen het.

Laat kom tog die dag

wat U beloof het,

wanneer hulle

soos ek sal word.

22 Kyk na al die kwaad

wat hulle aangerig het.

Straf hulle daarvoor,

soos U vir my gestraf het

vir al my oortredings.

Ek sug baie diep.

My hart is siek.

KLAAGLIEDERE 2

Die Here se woede

1 Soos ’n donker wolk

het die Here se woede

oor Jerusalem gekom.

Hy het van bo uit die hemel

die mooi stad van Israel

in die grond gedruk.

Toe Hy kwaad geword het,

het Hy selfs die tempel

nie gespaar nie.

2 Die Here het sonder genade

elke huis in Israel vernietig.

In sy woede

het Hy die versterkte mure

van Jerusalem

omgestamp.

Hy het hulle koninkryk

met al sy leiers

in die aarde weggetrap.

3 Hy het gekook van woede

toe Hy Israel se krag

gebreek het.

Hy het nie ’n hand gelig

om hulle te help

toe hulle vyand

hulle aangeval het nie.

Hy was soos ’n vuur

wat van alle kante af

teen Israel uitgebreek het.

4 Hy het sy boog gespan

teen sy mense

asof hulle sy vyand is.

Hy het sy krag gebruik

om alles te verwoes

wat kosbaar is.

Hy het sy woede

soos vuur laat uitbreek

teen alles wat kosbaar is in

Jerusalem.

5 Die Here het Israel verwoes

asof dit sy vyand is.

Al hulle blyplekke en vestings

het Hy afgebreek.

Baie hartseer en trane

het Hy in Jerusalem gebring.

6 Hy het sy tempel afgebreek

asof dit ’n afdak in ’n tuin was.

Die Here het ’n einde gemaak

aan feeste en Sabbatte in Sion.

In sy verontwaardiging

het Hy koning en priester

uit die weg geruim.

7 Die Here het sy eie altaar verwerp.

Hy het sy tempel verag.

Hy het die vyand toegelaat

om Jerusalem se vestingmure

af te breek.

Hulle het in die Here se huis

lawaai gemaak

asof hulle daar feesvier.

8 Die Here het besluit:

Sion se mure

moet afgebreek word.

Hy het finaal besluit

om dit te verwoes.

Die versterkings en die mure

het saam ineengestort.

9 Jerusalem se hekke

lê op die grond.

Die Here het hulle

uit hulle skarniere geruk.

Haar koning en haar leiers

het by vreemde volke beland.

Die wet het verdwyn.

Profete kry nie meer visioene

van die Here af nie.

10 Die leiers van Jerusalem

sit stomgeslaan op die grond.

Hulle het begrafnisklere aan

en gooi grond op hulle koppe

soos hulle treur.

Die jongmeisies van Jerusalem

laat uit skaamte

hulle koppe hang.

11 My oë is leeg gehuil.

Ek is bitter ontsteld as ek sien

hoe my volk in duie stort.

Kinders en babatjies val flou

en sterf in die stad se strate.

12 “Ons is honger,”

sê die kinders vir hulle ma’s.

In die strate sak hulle inmekaar

soos iemand wat gewond is.

Hulle sterf in die arms

van hulle ma’s.

13 Met wie kan ek jou vergelyk,

Jerusalem?

Waarmee kan ek jou smarte vergelyk,

Jerusalem?

Hoe kan ek jou troos?

Jou hartseer

is dieper as die see.

Wie sal jou ooit weer

heel kan maak?

14 Jou profete het vir jou

drogbeelde opgetower.

Hulle het nie jou oortredings

sigbaar gemaak nie.

Dit sou verhoed het dat jy

weggevat word uit jou land.

Hulle het nuttelose dinge gesê

wat jou eerder

op ’n verkeerde spoor gelei het.

15 Almal wat by die stad

verbyloop,

slaan hulle hande saam.

Hulle skud hulle kop

en fluit van verbasing

oor Jerusalem.

Hulle spot en sê:

“Is dit die stad wat

die mooiste plek op aarde

genoem is,

die stad wat vreugde

vir die hele wêreld bring?”

16 Al jou vyande spot met jou

en fluit deur hulle tande:

“Die dag het gekom

waarvoor ons gewag het

om hierdie stad te vernietig!”

17 Dit is die Here

wat dit met jou laat gebeur

wat Hy al lankal besluit het.

Hy het Jerusalem genadeloos

vernietig.

Hy het jou vyand laat lekkerkry

toe hulle jou verslaan het.

18 Mure van Jerusalem,

pleit by die Here!

Laat jou trane dag en nag vloei

soos ’n rivier.

Moenie vir ’n oomblik

ophou nie.

19 Staan op,

in die middel van die nag,

om jou hart soos water

voor die Here uit te stort.

Steek jou hande uit na Hom

om te pleit vir jou kinders

wat op straat

flou word van honger.

20 Kyk tog, Here,

wat U maak met ons.

Moet vroue dan die kinders eet

vir wie hulle so lief is?

Moet priesters en profete

dan sterf

in die tempel van die Here?

21 Jongmense en oumense

lê dood buite in die straat.

My jong meisies en jong mans

het U genadeloos

doodgemaak in u woede.

22 U het oraloor mense geroep

asof hulle na ’n feesdag toe kom.

Die dag toe die Here

sy woede losgelaat het,

was daar niemand

wat ontsnap

en bly leef het nie.

My kinders wat ek grootgemaak het

met sorg,

is deur die vyand doodgemaak.

KLAAGLIEDERE 3

Nogtans is daar hoop

1 Ek is die man

wat ellende ervaar het

toe die Here kwaad was.

2 Hy het my na ’n plek gejaag

waar daar geen lig is nie.

3 Hy het teen my gedraai.

Sy hand is dag en nag

teen my.

4 Hy het my laat uitteer.

Ek het net vel en been

geword.

Hy het die gebeente

van my liggaam gebreek.

5 Hy het my omsingel

en my met swaarkry

en lyding omring.

6 In ’n donker plek

het Hy my gaan wegsit

soos iemand wat lankal dood is.

7 Hy het my ingehok

en met swaar kettings geboei

sodat ek nie kon uitkom nie.

8 Wanneer ek bid

en smeek vir hulp,

ignoreer Hy my gebed.

9 Hy pak my pad toe met klippe,

Hy laat my ompaaie loop.

10 Hy is soos ’n beer

wat my voorlê,

soos ’n leeu

wat vir my lê en wag.

11 Hy het my uit die pad gesleep,

my uitmekaargeskeur

en my net so daar laat lê.

12 Hy het ’n pyl

in sy boog gespan

en sekuur na my gekorrel.

13 Hy het sy houer met pyle

op my leeggeskiet.

14 My eie mense lag vir my.

Hulle sing heeldag

spotliedjies oor my.

15 Hy het my vol gemaak

met bitter dinge.

Hy laat my bitterheid drink.

16 Hy laat my klippe kou.

Hy trap my weg in die grond.

17 Ek het al vergeet

hoe dit is om gelukkig

en voorspoedig te wees.

18 Ek roep uit: “Ek beteken niks.

Ek verwag niks meer

van die Here nie.”

19 Wanneer ek aan my pyn

en my hartseer dink,

word ek bitter.

20 Ek sal nooit ooit vergeet

van hierdie slegte tyd nie.

21 Tog is daar een ding

waarop ek kan reken

en waarop ek altyd sal hoop:

22 Deur die Here se troue liefde

is ons nie doodgemaak nie.

Hy hou nooit op

om vir ons om te gee nie.

Sy genade het geen einde nie.

23 Op u ontferming kan ’n mens

altyd vertrou.

Dit is elke oggend nuut.

24 Ek sê vir myself:

“My lewe behoort aan die Here.

Daarom vertrou ek op Hom.”

25 Die Here is goed

vir hulle wat op Hom wag

en Hom soek.

26 Dit is goed

om geduldig te wag

totdat die Here ons red.

27 Dit is goed om van jongs af

te leer om geduldig

vir die Here te wag.

28 Mense moet geduldig sit

en wag totdat die Here

aandag aan hulle gee.

29 Daar is hoop vir jou

as jy stilbly.

30 Draai jou ander wang

wanneer jou vyande jou beledig.

31 Want die Here laat ’n mens

nie vir altyd eenkant nie.

32 Hy bring wel hartseer,

maar Hy het ook medelye

omdat sy troue liefde so groot is.

33 Hy geniet dit nie

wanneer mense seerkry

of hartseer is nie.

34 Die leiers van sy volk

het gevangenes mishandel.

35 Hulle het mense se regte vertrap

in die teenwoordigheid

van die Allerhoogste.

36 Hulle behandel mense in die hof

onbillik.

Hulle dink Hy sien dit nie raak nie.

37 Kan daar iets gebeur

as die Here

dit nie toelaat nie?

38 Is dit nie die Allerhoogste

wat een mens help

en ’n ander vernietig nie?

39 Waaroor sal ons kla

wanneer ons gestraf word

omdat ons oortree het?

40 Laat ons eerder gaan kyk

na wat ons gedoen het

en daaroor nadink

sodat ons kan omdraai

na die Here toe.

41 Laat ons ons harte en hande

uitsteek na God daarbo en sê:

42 “Ons was opstandig teen U

en het nie na U geluister nie.

U het ons nie vergewe nie.

43 “U was so kwaad vir ons

dat U ons agternagesit het

om ons genadeloos uit te roei.

44 U het agter wolke gaan staan

sodat ons gebede

U nie kon bereik nie.

45 Tussen die nasies

het U ons gemors en vullis gemaak.

46 Al ons vyande

rek hulle monde oor ons.

47 Ons is bang.

Ons sit vasgehok.

Ons is verwoes

en eenkant toe gegooi.”

48 Ek huil

omdat my volk vernietig is.

49 Ek huil onophoudelik.

Dit sal nie ophou

50 voordat die Here

my van bo af raaksien nie.

51 Ek is ontsteld

oor die vroue van Jerusalem.

52 My vyande het jag gemaak op my,

sonder rede.

Hulle wou my vang

soos ’n voël.

53 Hulle wou my

in ’n waterput verdrink.

Hulle het klippe

van bo af op my gegooi.

54 Waters het oor my kop gegaan

en ek het gedink:

“Dit is verby met my.”

55 Van onder in die put,

o Here,

het ek na U begin roep.

56 U het my hoor roep:

“Moet asseblief nie

u ore toedruk wanneer ek roep

dat U my moet kom help nie.”

57 Toe ek na U geroep het,

het U nadergekom en gesê:

“Moenie bang wees nie!”

58 U het my saak verdedig

en my lewe gered.

59 U het gesien ek is veronreg.

Gee tog uitspraak in my guns!

60 U het gesien watter planne

hulle teen my smee.

61 U het gehoor

hoe hulle my beledig.

U weet van al die planne

wat hulle teen my gesmee het.

62 Hulle sit heeldag

en sleg praat oor my.

63 Oral waar hulle kom,

sing hulle spotliedjies oor my.

64 Betaal hulle terug in eie munt,

o Here,

vir alles wat aan my gedoen is.

65 Maak hulle hardkoppig

en straf hulle dan daarvoor.

66 Vervolg hulle in u woede.

Roei hulle uit

van die aarde af.

KLAAGLIEDERE 4

Die Here se woede kom tot ’n

einde

1 Hoe dof het die goud geword!

Die fynste goud

het sy glans verloor.

Die uitgesoekte edelstene

lê oor die strate uitgestrooi.

2 Die inwoners van Jerusalem

was hulle gewig

in goud werd.

Nou word hulle minder geag

as potte van klei.

3 Selfs ’n jakkalswyfie

laat haar kleintjies drink,

maar die vroue van my volk

het wreed geword,

soos volstruise in die woestyn

wat hulle kleintjies ignoreer.

4 Babatjies se monde is droog,

maar hulle kry niks om te drink nie.

Kindertjies soebat tevergeefs

vir iets om te eet,

en niemand gee vir hulle iets nie.

5 Die mense wat vroeër

die lekkerste kos geëet het,

loop nou op straat en bedel

vir enigiets om te eet.

Dié wat vroeër

in paleise gebly het,

krap op ashope rond

vir iets om te eet.

6 My volk se skuld

is groter as dié van Sodom,

wat in ’n oomblik vernietig is

sonder dat iemand kon keer.

7 Ons leiers was

blinker as sneeu,

witter as melk

en so mooi soos edelstene.

8 Hulle het nou swarter geword

as roet.

Niemand herken hulle meer

op straat nie.

Hulle vel het gekrimp

tot op die been.

Hulle het uitgedroog soos hout.

9 Hulle wat doodgemaak is

in die oorlog,

is baie beter daaraan toe

as hulle

wat moet doodgaan van honger.

Hulle lewe kwyn weg

omdat daar niks is

om te eet nie.

10 Sagmoedige vroue

moes hulle eie kinders gaarmaak

en hulle eet

om te kan oorleef.

11 Maar nou is die Here se woede

uitgewoed.

Hy het sy ergste woede uitgegiet.

Hy het ’n vuur in Jerusalem losgelaat

wat dit afgebrand het

tot op sy fondamente.

12 Daar was nie ’n koning

op aarde

of ’n mens in die wêreld

wat ooit kon dink

dat ’n vyand

Jerusalem sou binnegaan nie.

13 Tog het dit gebeur

omdat haar profete oortree het

en haar priesters

regverdige mense

doodgemaak het in die stad.

14 Soos blindes

het hulle voel-voel

deur die strate geskuifel.

Hulle klere was so vol bloed,

dat niemand aan hulle

wou raak nie.

15 Mense het vir hulle geskreeu:

“Loop weg! Julle is onrein!

Gee pad!

Moenie aan ons raak nie!”

Hulle het weggevlug,

by heidennasies probeer bly,

maar selfs dié nasies

wou hulle nie daar toelaat nie.

16 Die Here het hulle verjaag.

Hy gee nie om vir hulle nie.

Die priesters en leiers

word nie meer

geëer en gerespekteer nie.

17 Ons het verniet gesit en wag

dat ons vennote ons kom help.

Ons het na nasies gekyk

wat ons nie kon red nie.

18 Ons vyand was op ons spoor.

Ons einde het gekom.

Ons dae was getel.

Dit was verby met ons.

19 Ons vyande het ons agtervolg,

hulle het op ons neergeswiep,

vinniger as arende uit die lug.

Toe ons die berge in gevlug het,

was hulle warm op ons spoor.

In die woestyn

het hulle ons reeds voorgelê.

20 Ons koning, die lewe van ons volk,

die gesalfde van die Here,

is in hulle strikke gevang.

Ons het nogal gedink

ons is veilig onder sy leiding

tussen die ander nasies.

21 Julle Edomiete wat in Us bly,

julle moet maar lag en lekkerkry.

Julle beurt kom

om dronk te word

van God se woede,

en dan kaal uitgetrek te word.

22 Jou straf sal verbygaan, Jerusalem.

Jy sal terugkom uit ballingskap.

Maar Edom,

jou straf het nou eers begin.

Dan gaan Hy jou sondes openbaar.

KLAAGLIEDERE 5

Is dit dan vir altyd?

1 Here, hou ’n bietjie in gedagte

wat met ons gebeur het.

Kyk hoe ons verneder is.

2 Die grond wat ons geërf het,

het in vreemde hande beland.

Uitlanders besit ons eiendom.

3 Ons is weeskinders

wat nie meer ’n pa het nie.

Ons ma’s is weduwees.

4 Ons moet betaal

vir die water wat ons drink.

brandhout moet ons koop.

5 Agtervolgers blaas in ons nek.

Ons is moeg

maar ons durf nie rus nie.

6 By Egipte het ons gevra

vir hulp

en by Assirië vir kos.

7 Ons voorouers

het sonde gedoen,

maar hulle is nou al dood.

En nou moet ons daarvoor betaal.

8 Slawe het nou ons base geword

en niemand kan ons

van hulle bevry nie.

9 Ons loop die risiko

om doodgemaak te word

wanneer ons in die wildernis

kos bymekaarmaak.

10 Ons vel het donker geword

van die hongersnood,

asof dit in ’n oond gebak het.

11 Ons vroue

word in Jerusalem gemolesteer

en ons dogters

in die dorpe van Juda verkrag.

12 Ons leiers word opgehang

aan hulle hande.

Daar is geen respek

vir ons oumense nie.

13 Jong mans moet koring maal

by die meul.

Jong seuntjies steier

onder vragte hout

wat hulle moet dra.

14 Die leiers kan nie meer

by die stad se poort sit

en beraadslaag nie.

Die jongmense maak nie meer

musiek nie.

15 Vreugde het verdwyn

uit ons harte.

Ons vrolike danse

het in treursange

verander.

16 Die kroon

het van ons koppe geval.

Dit gaan sleg met ons,

want ons het sonde gedoen.

17 Dit het ons swak gemaak.

Ons oë het dof geword.

18 Die tempelheuwel is verlate.

Jakkalse sluip daar rond.

19 U bly dieselfde, Here,

vir ewig en altyd.

U regeer

van geslag tot geslag.

20 Hoekom

hou U aan om van ons te vergeet?

Hoekom hou U so lank aan

om ons te vermy?

21 Lei ons terug na U toe,

Here,

sodat ons

by U kan uitkom.

Maak ons lewe weer

soos dit vroeër was.

22 Of het U ons

dan heeltemal verwerp?

Gaan U dan

vir altyd vir ons kwaad bly?