JOSUA 21

Blyplekke vir die Leviete

1 Die leiers van die Leviete het die priester Eleasar, Josua die seun van Nun en die hoofde van die Israelitiese stamme ontmoet.

2 Hulle het in Silo in die land van Kanaän met hulle gepraat: “Die Here het vir Moses die opdrag gegee dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

3 Die Israeliete het vervolgens die opdrag van die Here uitgevoer en in hulle gebiede dorpe met weiveld vir die Leviete gegee.

4 Hulle het met die lot beslis om vir die Kehatgroep dertien dorpe te gee. Hulle was uit die nageslag van die priester Aäron. Hierdie dorpe was in die gebiede van Juda, Simeon en Benjamin.

5 Vir die res van die ander lede van die Kehatgroep is tien dorpe geloot in die gebiede van die families van die stamme Efraim, Dan en die een helfte van Manasse.

6 Hulle het deur loting vir die Gersongroep dertien dorpe in die gebiede van die families van die stamme Issaskar, Aser, Naftali en die halwe stam van Manasse in Basan gegee.

7 Die families van die Merarigroep het twaalf dorpe in die gebied van Ruben, Gad en Sebulon gekry.

8 Die Israeliete het gemaak soos die Here vir Moses gesê het en hierdie dorpe met hulle weivelde vir die Leviete gegee volgens loting.

9 In die gebied van Juda en Simeon het hulle dorpe gegee

10 aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat aan die Kehatgroep behoort het. Hulle loting het eerste aan die beurt gekom.

11 Hulle het Kirjat-Arba (dit is Hebron) gekry in die heuwels van Juda, met sy weivelde rondom. Arba was ’n voorsaat van die Enakiete.

12 Die veld en klein dorpies rondom die dorp was egter Kaleb, die seun van Jefunne, se eiendom.

13 Die priester Aäron se nageslag het ontvang: Hebron, waarheen iemand vir beskerming kon vlug, Libna,

14 Jattir, Estemoa,

15 Golon, Debir,

16 Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld. Dit was nege dorpe in die gebied van hierdie twee stamme.

17 In Benjamin se gebied het hulle Gibeon, Geba,

18 Anatot en Almon, elkeen met sy weiveld, gekry.

19 Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien dorpe met hulle weivelde gekry.

20 In die gebied van Efraim is vir die res van die Kehatgroep, wat uit die nageslag van Levi kom, deur die lot toegewys:

21 Sigem in die Efraimsberge waarheen mense kon vlug wat ’n ander per ongeluk doodgemaak het, Geser,

22 Kibsajim en Bet-Goron; dus vier dorpe met hulle weivelde.

23 In die gebied van Dan het hulle die vier dorpe Elteke, Gibbeton,

24 Ajalon en Gat-Rimmon met hulle weivelde gekry.

25 In die gebied van die halwe Manassestam het hulle die twee dorpe Taänak en Gat-Rimmon met hulle weivelde gekry.

26 Die Kehatgroep het altesaam dus tien plekke met hulle weivelde gekry.

27 Die Gersongroep van die Leviete het in die gebied van die ander helfte van die Manassestam die toevlugsoord Golan in Basan en Astarot met hulle weivelde gekry.

28 In die gebied van Issaskar is die vier dorpe Kisjon, Daberat,

29 Jarmut en En-Gannim met hulle weivelde aan hulle toegewys.

30 In die gebied van Aser het hulle die vier plekke Misal, Abdon,

31 Gelkat en Regob met hulle weivelde gekry.

32 In Naftali se gebied is die asielstad Kedes in Galilea, Gammot-Dor en Kartan met hulle weivelde vir hulle gegee.

33 In totaal het die Gersongroep dus dertien dorpe met weivelde gehad.

34 Aan die res van die Levitiese families, dit is die Merarigroep, is in die gebied van Sebulon Jokneam, Karta,

35 Dimna en Nahalal, hierdie vier plekke, elkeen met sy weiveld, gegee.

36 In die gebied van Ruben het hulle die vier plekke Beser, Jahas,

37 Kedemot en Mefaät met hulle weivelde gekry.

38 In Gad se gebied het hulle Ramot in Gilead, waarheen mense kon vlug, Maganajim,

39 Gesbon en Jaser met hulle weivelde gekry.

40 Twaalf plekke is dus vir die oorblywende Merarigroep geloot.

41 In totaal is daar dus 48 dorpe met hulle weivelde in die gebied van die ander Israeliete vir die Leviete geloot.

42 Elkeen van hierdie plekke het weiveld rondom hom gehad.

43 So het die Here vir Israel die hele land gegee wat Hy met ’n eed aan hulle voorouers beloof het. Hulle het die land ingeneem en hulle daar gevestig.

44 Die Here het vir hulle vrede met almal rondom hulle gegee, soos Hy plegtig aan hulle voorouers beloof het. Nie een van al hulle vyande was opgewasse teen hulle nie. Die Here het hulle gesag oor al hulle vyande gegee.

45 Nie een van al die goeie dinge wat die Here vir Israel beloof het, het agterweë gebly nie. Elkeen van hulle het gebeur.

JOSUA 22

Die oostelike stamme gaan huis

toe

1 Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam by hom laat bymekaarkom.

2 Hy het vir hulle gesê: “Julle het pligsgetrou alles nagekom wat Moses, die dienaar van die Here, aan julle opgedra het. Julle het elke opdrag uitgevoer wat ek vir julle gegee het.

3 Al het dit lank geduur, het julle nooit die ander stamme in die steek gelaat nie. Julle het alles gedoen wat die Here julle God julle beveel het.

4 Die Here julle God het soos Hy beloof het, vir julle volksgenote permanente blyplek gegee. Julle kan nou omdraai en teruggaan na julle woonplekke toe, na die grond wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle oorkant die Jordaanrivier gegee het.

5 Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die Here, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die Here julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.”

6 Josua het hulle seën toegewens en hulle weggestuur. Hulle is toe terug na hulle eie woonplek toe.

7 Moses het vir die een helfte van die Manassestam grond in Basan gegee. Josua het vir die ander helfte van die stam grond wes van die Jordaan saam met die ander stamme gegee. Toe Josua hulle nou terugstuur na hulle woonplekke toe, het hy hulle geseën

8 en vir hulle gesê: “Gaan terug en deel alles wat julle by julle vyande afgeneem het met julle families by die huis. Deel julle rykdom met hulle, julle groot troppe vee, die silwer, goud, koper en yster, en die baie klere wat julle gekry het.”

9 Die Rubeniete en Gadiete en die mans van die halwe Manassestam het die ander Israeliete in Silo in Kanaän agtergelaat. Hulle het teruggegaan na Gilead, na hulle grond wat hulle verower het, soos die Here hulle deur Moses beveel het.

Die gedenkteken by Gelilot

10 Hulle het by Gelilot by die Jordaanrivier gekom. Dit is nog aan Kanaän se kant van die rivier. Daar het hulle langs die Jordaan ’n baie groot en mooi altaar gebou.

11 Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het,

12 het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak.

13 Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14 Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel.

15 Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê:

16 “Die volksvergadering van die Here wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die Here gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom!

17 Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die Here die gemeenskap daarvoor gestraf.

18 Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel.

19 As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die Here se gebied waar die Here in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die Here of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die Here ons God.

20 Was die Here nie briesend vir die hele gemeenskap van Israel toe Akan, die seun van Serag, ontrou was en van die goed van die banvloek gevat het nie? Hy was nie die enigste een wat deur sy sonde dood is nie.”

21 Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord:

22 “Die Here alleen is God, net die Here is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die Here gebou het nie.

23 Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die Here te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die Here ons straf.

24 Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen?

25 Die Here het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die Here nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die Here te dien.

26 Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie,

27 maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die Here by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’

28 Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die Here se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’

29 “Dis glad nie in ons gedagte om teen die Here in opstand te kom of die rug op Hom te draai deur ons eie altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diere-offers nie. Daar is nie ’n ander altaar hiervoor as net die een van die Here ons God wat voor sy tabernakel staan nie.”

30 Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die familiehoofde wat by hom was, hoor wat die Rubeniete, Gadiete en mense van Manasse te sê het, was hulle gerusgestel.

31 Pinehas, die seun van die priester Eleasar, het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet vandag dat die Here tussen ons is. Julle was nie ontrou aan die Here soos ons gedink het nie. Julle het die Israeliete uit die hand van die Here gered.”

32 Pinehas, die seun van die priester Eleasar, en die tien leiers het toe teruggekom van die mense van Ruben en Gad in Gilead. Hulle is terug na die ander Israeliete in Kanaän om aan hulle verslag te doen.

33 Die ander Israeliete was tevrede. Hulle het God geloof. Daar was nie langer sprake daarvan om oorlog te gaan maak en die gebied van die Rubeniete en Gadiete te verwoes nie.

34 Die mense van Ruben en Gad het die gedenkaltaar “Getuienis” genoem. Hulle het gesê: “Dit is die getuienis tussen hulle en ons dat die Here ook ons God is.”

JOSUA 23

Josua se afskeidsboodskap

1 Daar het ’n lang tyd verbygegaan sedert die Here vir Israel vrede met al sy bure gegee het. Josua het intussen baie oud geword.

2 Josua het die hele Israel bymekaargeroep, met al hulle leiers, hulle hoofde, hulle regters en hulle ampsdraers. Hy het vir hulle gesê: “Ek het baie oud geword.

3 Julle het gesien wat die Here julle God alles ter wille van julle met hierdie nasies gedoen het. Hy het aan julle kant geveg.

4 Ek het die gebiede van al die nasies wat nog oorgebly het onder julle verdeel, sowel hulle wat nog oorwin moet word as dié van al die nasies wat ek alreeds uitgeroei het. Dit is almal van die Jordaan af tot by die Middellandse See in die weste waar die son ondergaan.

5 Die Here julle God sal dié wat oor is, voor julle uit verjaag. Hy sal hulle verdryf sodat julle ook hulle grond kan oorneem. Dit is wat die Here julle God julle beloof het.

6 “Staan sterk en doen haarfyn alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses.

7 Moenie julle vereenselwig met hierdie nasies wat nog tussen julle oor is nie. Moenie eers hulle gode se name noem nie. Moenie hulle name gebruik wanneer julle ’n belofte maak nie. Julle moenie enigiets vir hulle doen of hulle aanbid nie.

8 Bly getrou aan die Here julle God, soos julle tot nou toe gedoen het.

9 Die Here het groot en magtige nasies voor julle uit verdryf. Tot nou toe was nie een van hulle teen julle opgewasse nie.

10 Een van julle kan selfs duisend van hulle op loop jaag, want die Here julle God veg aan julle kant. Dit is wat Hy julle beloof het.

11 “Konsentreer daarop om die Here julle God lief te hê.

12 As julle die Here laat los en julle vermeng met hierdie ander nasies wat tussen julle oor is en met hulle begin trou en saam met hulle leef,

13 moet julle nou al weet dat die Here julle God hierdie nasies nie verder voor julle uit gaan verdryf nie. Hulle sal ’n lokval vir julle word, ’n pyn in die heup en ’n doring in die oog wat julle sal laat verdwyn uit hierdie mooi land wat die Here julle God vir julle gegee het.

14 “Ek sal binnekort sterf. Julle moet egter in julle diepste binnekant oortuig wees dat al die wonderlike dinge wat die Here julle God vir julle beloof het, alles reeds plaasgevind het. Daar is nie een van hulle nog uitstaande nie.

15 Net so seker soos die Here julle God elke goeie ding wat Hy vir julle beloof het, laat gebeur het, net so seker sal Hy al die teëspoed oor julle bring wat Hy beloof het as julle aan Hom ongehoorsaam is. Hy sal julle uitroei uit hierdie mooi land wat Hy vir julle gegee het.

16 As julle die verbond verbreek wat die Here julle God met julle gemaak het en julle loop agter ander gode aan om hulle te dien en hulle te aanbid, sal die Here se woede teen julle losbreek en julle sal in ’n oogwink verdwyn uit hierdie mooi land wat Hy vir julle gegee het.”

JOSUA 24

Verbondsluiting by Sigem

1 Josua het al die stamme van Israel by Sigem laat bymekaarkom. Hy het al die leiers van Israel, hulle hoofde, hulle regters en hulle ampsdraers opgeroep om voor God te verskyn.

2 Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die Here, die God van Israel: Julle voorouers, Tera, die pa van Abraham, en Nahor, het lank terug anderkant die Eufraatrivier gewoon. Hulle het afgode gedien.

3 Ek het julle vader Abraham van anderkant die Eufraat laat kom en hom deur die hele land Kanaän laat rondtrek. Ek het vir hom ’n groot nageslag gegee. Ek het vir hom Isak gegee.

4 Vir Isak het Ek Jakob en Esau gegee. Vir Esau het Ek die berge in Seïr gegee as sy eiendom. Jakob en sy seuns het afgetrek na Egipte toe.

5 “Ek het Moses en Aäron na julle toe gestuur. Ek het Egipte met groot rampe getref. Daarna het Ek julle daar laat uittrek.

6 Ek het julle voorouers uit Egipte bevry. Toe hulle by die Rietsee aankom, het Egipte hulle agternagesit met oorlogwaens en perde.

7 Julle vaders het na die Here geroep om hulle te help. Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars. Ek het die see oor die Egiptenaars laat spoel en hulle het daarin verdwyn. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek met die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle baie lank in die woestyn vertoef.

8 “Ek het julle toe in die land van die Amoriete laat kom wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak. Ek het julle egter die oorwinning oor hulle gegee. Julle het hulle land ingeneem. Ek het hulle uitgewis om vir julle plek te maak.

9 “Toe het Balak, die seun van Sippor en koning van Moab, begin oorlog maak teen Israel. Hy het Bileam, die seun van Beor, laat kom om julle te vervloek.

10 Ek wou nie na Bileam luister nie. Ek het gesorg dat hy julle eerder seën. Ek het julle uit Balak se mag gered.

11 “Julle het toe deur die Jordaan getrek en by Jerigo uitgekom. Die mense van Jerigo het teen julle geveg. Ook die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete het teen julle oorlog gemaak. Ek het egter almal van hulle in julle mag oorgegee.

12 Ek het die twee Amoritiese konings voor julle uit verdryf. Julle het hulle nie met julle swaarde en julle boë oorwin nie.

13 “Ek het julle ’n land gegee waarvan julle nie die grond bewerk het nie, en ook nie sy stede gebou het nie. Julle bly nou daarin en julle leef van wingerde en olyfboorde wat julle nie self geplant het nie.

14 “Eer nou die Here en aanbid Hom met volle oorgawe en met getrouheid. Laat vaar die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat en in Egipte aanbid het. Dien die Here.

15 As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.”

16 Die volk het daarop reageer. Hulle het verklaar: “Ons sal nooit die Here los om ander gode te dien nie.

17 Dit is die Here ons God wat ons en ons voorouers uit die slaweplek van Egipte bevry het. Dit is Hy wat wonderlike tekens voor ons oë gedoen het. Dit is Hy wat ons langs die pad beskerm het toe ons tussen ander volke deur moes trek.

18 Dit is die Here wat al die volke voor ons uit verdryf het. Dit is Hy wat die Amoriete wat in die land woon voor ons laat padgee het. Ons sal ook die Here aanbid. Hy is ons God.”

19 Josua het egter die volk gewaarsku: “Julle is nie in staat om die Here te aanbid nie. Hy is ’n heilige God. Hy eis onverdeelde getrouheid. Hy sal dit nie verdra as julle opstandig is en teen Hom oortree nie.

20 As julle die Here verlaat en julle begin vreemde gode aanbid, sal Hy teen julle draai. Hy sal julle uitroei en met julle klaarspeel, selfs al het Hy julle voorheen goed behandel.”

21 Die volk het egter vir Josua verseker: “Nee, ons sal beslis die Here aanbid!”

22 “Julle staan self daarvoor in dat julle besluit het om die Here te aanbid,” het Josua vir die volk gesê.

Hulle het geantwoord: “Ons staan daarvoor in.”

23 “Goed,” sê Josua, “vernietig dan al die vreemde gode wat daar tussen julle is en verbind julle aan die Here die God van Israel alleen.”

24 Die volk sê toe vir Josua: “Ons sal net die Here ons God aanbid. Ons sal net na Hom luister.”

25 Josua het daardie dag in Sigem die volk ’n verbond laat sluit. Hy het vir hulle die voorskrifte en die bepalings daarvan uitgespel.

26 Hy het dit alles in die wetboek van God neergeskryf. Hy het ’n groot klip gekry en dit daar onder die groot eikeboom wat naby die heiligdom van die Here was, regop laat staan.

27 Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle hierdie klip? Dit is ’n getuie teen ons. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Dit sal ’n getuie teen julle wees as julle nie julle woord teenoor God hou nie.”

28 Josua het toe die volk laat teruggaan na hulle grond toe.

Josua se dood

29 Kort na hierdie gebeure is Josua, die seun van Nun en dienaar van die Here, dood. Hy was toe 110 jaar oud.

30 Hulle het hom op sy grond begrawe by Timnat-Serag in die heuwels van Efraim, net noord van Gaäsberg.

31 Israel het die Here bly aanbid solank Josua geleef het en ook in die tyd van die leiers wat langer as Josua bly leef het. Hulle het alles ervaar wat die Here vir Israel gedoen het.

32 Josef se beendere wat die Israeliete saamgebring het uit Egipte, is in Sigem begrawe in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, die vader van Sigem, gekoop het vir 100 stukke silwer. Hierdie grond het aan die nakomelinge van Josef behoort.

33 Eleasar, die seun van Aäron, is ook dood. Hy is in Gibea begrawe. Dit is ’n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas behoort het.