JOSUA 11

Josua se noordelike veldslae

1 Koning Jabin van Hasor het van Josua se veldslae gehoor. Hy het boodskappe na Jobab, koning van Madon, gestuur en ook na die konings van Simron en Aksaf.

2 Sy boodskappe het ook uitgegaan na die konings in die noordelike heuwelgebied, dié in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea, in die kusvlakte en in die heuwels van Dor by die Middellandse See,

3 die Kanaäniete – oos en wes – die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die heuwelgebied en die Hewiete aan die hange van die Hermonberg in die Mispegebied.

4 Almal het met hulle leërs en perde en strydwaens saamgetrek vir oorlog teen Israel. Hulle was so baie soos die sandkorrels op die strand.

5 Al hierdie konings het ’n bondgenootskap gesluit. Hulle het almal by die Meromwaters bymekaargekom en reggemaak om teen Israel te gaan veg.

6 Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moenie vir hulle bang wees nie. Môre hierdie tyd sal Ek hulle aan Israel oorgee en dan sal hulle almal dood wees. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7 Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval.

8 Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie.

9 Josua het gemaak soos die Here gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10 Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke.

11 Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand.

12 Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

13 Israel het egter nie die plekke wat op ruïneheuwels gebou was, afgebrand nie. Josua het net Hasor afgebrand.

14 Alles wat hulle in hierdie stede kon buit en die vee het Israel vir hulleself gehou. Hulle het die mense uitgeroei tot daar nie een oor was nie.

15 Alles wat die Here sy dienaar Moses beveel het, en wat Moses weer vir Josua opgedra het, het Josua gedoen. Hy het nêrens van enigiets wat die Here Moses beveel het, afgewyk nie.

16 Josua het die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die hele Negevgebied, die hele Gosengebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei en die heuwels van Israel met hulle valleie.

17 Die gebied van Israel het nou geloop van Kaalbergwat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei aan die voet van die Hermonberg. Josua het al die konings van hierdie gebiede verslaan en hulle doodgemaak.

18 Die oorlog wat hy met hulle gemaak het, het lank geduur.

19 Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gewoon het, wou geen stad met die Israeliete vrede sluit nie. Hulle moes almal deur gevegte verower word.

20 Dit was die Here wat hulle oorreed het om eerder oorlog teen Israel te maak sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en hulle geheel en al kon uitwis soos die Here vir Moses gesê het.

21 Dit was in hierdie tyd dat Josua ook die afstammelinge van die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge, uitgewis het. Josua het hulle saam met hulle stede totaal uitgeroei.

22 Daar het in die hele land van Israel nie ’n enkele Enakiet oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod het daar Enakiete oorgebly.

23 Josua het die hele land ingeneem, soos die Here vir Moses beveel het. Josua het toe die land soos dit tussen die stamme verdeel is, aan Israel as hulle erfgrond gegee. Die land kon toe tot rus kom van die oorlog.

JOSUA 12

Verowerde konings oos van die

Jordaan

1 Hier volg nou die name van die konings aan die oorkant van die Jordaan wat die Israeliete verslaan het en van wie die lande verower is. Hulle gebied was vanaf die Arnonvallei tot by Hermonberg. Dit sluit die hele deel oos van die Jordaanvallei in:

2 Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gebly. Hy het geheers van Aroër af aan die kant van die Arnon, deur die middel van die vallei, tot aan die Jabbokspruit waar die Ammoniete se gebied begin. Dit is die helfte van Gilead se gebied aan die noordekant van die Jabbok.

3 Hy was ook in beheer van die oostelike deel van die Jordaanvallei, van die See van Galilea af suid tot by die Soutsee, en verder in die rigting van Bet-Jesimot en suidwaarts van onderkant die Pisgahange af.

4 Koning Og van Basan was een van die laaste Refaïete. Hy het in Astarot en Edreï regeer.

5 Die gebied waaroor hy geheers het, was vanaf Hermonberg na Salka in die noorde en die hele Basan in die ooste. Na die weste was dit tot aan die grens van Gesur en Maäka. Sy deel was die noordelike deel van Gilead tot aan die grens van die gebied van koning Sihon van Gesbon.

6 Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het hierdie twee konings verslaan. Moses het die gebied aan die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam as erfgrond gegee.

Verowerde konings wes van die

Jordaan

7 Die volgende is die konings duskant die Jordaan, die westekant, wat Josua en die Israeliete verslaan het. Dit strek van Baäl-Gad in die Libanonvallei af tot by Kaalberg wat oploop na Seïr toe. Josua het dit onder die ander stamme as hulle erfgrond verdeel:

8 Dit was die heuwelgebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei, die heuwelhange, die woestyngebied en die Negevwoestyn. Die mense wat hier gebly het, was die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

9 Die konings wat hy verslaan het, was: die koning van Jerigo, die koning van Ai naby Bet-El,

10 die koning van Jerusalem, die koning van Hebron,

11 die koning van Jarmut, die koning van Lakis,

12 die koning van Eglon, die koning van Geser,

13 die koning van Debir, die koning van Geder,

14 die koning van Gorma, die koning van Arad,

15 die koning van Libna, die koning van Adullam,

16 die koning van Makkeda, die koning van Bet-El,

17 die koning van Tappuag, die koning van Gefer,

18 die koning van Afek, die koning van Saron,

19 die koning van Madon, die koning van Hasor,

20 die koning van Simron-Meron, die koning van Aksaf,

21 die koning van Taänak, die koning van Megiddo,

22 die koning van Kedes, die koning van Jokneam by Karmelberg,

23 die koning van Dor op die heuwels van Dor, die koning van Gojim by Gilgal,

24 die koning van Tirsa.

Dit was in totaal 31 konings.

JOSUA 13

Land wat nog ingeneem moes

word

1 Josua het oud geword. Die Here het vir hom gesê: “Jy het aangestap in jare en baie van die land is nog oor om in besit geneem te word.

2 Die deel van die land wat oorbly, is al die gebiede van die Filistyne en van Gesur.

3 Die gebied van die spruit van Sigor af teen die grens met Egipte tot by die Ekrongebied in die noor-de is Kanaänitiese gebied. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron. Daar is nog die gebied van die Awwiete in die suide.

4 “In die noorde is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, Meara, wat aan die Sidoniërs behoort, noord tot by Afek aan die Amoritiese grens.

5 Dan is daar die Gebalgebied en die hele Libanongebergte na die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.

6 Al die bewoners van die Libanonberg af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs, sal Ek tussen die Israeliete uit verdryf. Sorg dat hierdie gebiede as erfgrond na Israel toe kom, soos Ek jou beveel het.”

Die dele oos van die Jordaan

7 Verdeel nou hierdie grond tussen die nege stamme en die halwe Manassestam.

8 Ruben en Gad se stamme het reeds saam met die ander helfte van die Manassestam hulle grond gekry. Dit het gebeur toe Moses dit vir hulle gegee het terwyl hulle aan die oorkant, oos van die Jordaan, was. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebiede vir hulle gegee:

9 Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad teen die rivier, die hele vlakte van Madeba tot by Dibon,

10 al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat vanuit Gesbon regeer het, tot teen die Ammonitiese grens,

11 Gilead met die gebiede van Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka

12 en die hele koninkryk van Og in Basan wat vanuit Astarot en Edreï regeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en uitgedryf.

13 Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uitgedryf nie. Hulle bly nou nog saam met die Israeliete.

14 Aan die stam van Levi het Moses nie hulle eie grond gegee nie. Hulle erfenis is die offers wat vir die Here, die God van Israel, gebring word. Dit is soos Hy hulle beloof het.

Ruben se grond

15 Moses het vir die stam van Ruben die volgende gebiede gegee:

16 Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad teen die rivier, die hele vlakte tot by Madeba,

17 en tot by Gesbon met al sy ander stede op die plato: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon,

18 Jahas, Kedemot, Mefaät,

19 Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg bo die plato,

20 Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot,

21 al die stede op die plato, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon regeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook sy bondgenote, die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, wat saam met hom in die land gewoon het.

22 Die Israeliete het ook die waarsêer Bileam, die seun van Beor, doodgemaak.

23 Die grond van die stam Ruben het aan die Jordaan gegrens. Hierdie dorpe en hulle buiteposte is vir die afstammelinge van Ruben gegee as hulle erfgrond.

Gad se grond

24 Vir die afstammelinge van die stam Gad het Moses die volgende gebiede toegeken:

25 Die gebied van Jaser, al die dorpe in Gilead, die helfte van die Ammoniete se gebied tot by Aroër net wes van Rabba,

26 van Gesbon af tot by Ramat-Mispe en Betonim, en van Maganajim af tot by Lo-Dabar,

27 Bet-Haram, Bet-Nimra, Sukkot en Safon in die vallei, die oorblywende deel van die koninkryk van koning Sihon van Gesbon, die Jordaanstreek tot so ver noord as die See van Galilea, oos van die Jordaan.

28 Saam met die stede en hulle dorpies was dit dan die erfgrond van die families van die stam Gad.

Grond van die halwe

Manassestam

29 Aan die nageslag van die halwe Manassestam het Moses die volgende gebiede gegee:

30 Van Maganajim af die hele Basan, die hele koninkryk van koning Og van Basan, al 60 die tentdorpe van Jaïr in Basan,

31 die helfte van Gilead, en Astarot en Edreï, die koningstede van Og in Basan. Dit is die dele wat die nakomelinge van Makir, die een seun van Manasse, ontvang het.

32 Dit is dan die gebiede wat Moses toegeken het toe hulle in die Moabsvlakte aan die oorkant van die Jordaan, oos van Jerigo, was.

Levi se erfenis

33 Aan die stam Levi het Moses nie enige grond toegeken nie. Die Here, die God van Israel, was hulle erfdeel, soos Hy vir hulle beloof het.

JOSUA 14

Die land word verdeel

1 Hier volg nou ’n lys van die grond wat die ander stamme in die land Kanaän gekry het. Die priester Eleasar en Josua, die seun van Nun, het saam met die stamhoofde die grond verdeel.

2 Die deel wat elkeen van die nege en ’n half stamme ontvang het, is deur loting bepaal, soos die Here deur Moses beveel het.

3 Moses het reeds vir die ander twee en ’n half stamme gebied oorkant die Jordaan gegee. Hy het nie vir die Leviete grond saam met die ander gegee nie.

4 Josef se nageslag het uit die twee stamme Manasse en Efraim bestaan. Die Leviete het nie ’n deel gekry nie, maar wel dorpe om in te woon met weidingsgebied vir hulle vee.

5 Die Israeliete het gemaak soos die Here vir Moses beveel het. Hulle het die land onder mekaar verdeel.

Kaleb kry Hebron

6 Mense uit die stam van Juda het onder leiding van Kaleb, die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua gekom by Gilgal. Kaleb het vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, in Kades-Barnea oor my en jou gesê het.

7 Ek was 40 jaar oud toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Ek het na hom teruggekom en verslag gedoen soos ek sake gesien het.

8 Die ander mense wat saam met my gegaan het, het die volk bang gepraat om na die land toe te gaan. Ek het volledig by die Here my God gestaan.

9 Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort. Jy het volledig op God vertrou.’

10 “Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ’n man van 85.

11 Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terugkom.

12 Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat die Enakiete daar in groot, versterkte stede bly. As die Here by my is, sal ek hulle daar kan uitdryf soos die Here beloof het.”

13 Josua het hom geseën. Hy het Hebron vir Kaleb, die seun van Jefunne, gegee.

14 Hebron behoort vandag nog steeds aan die nageslag van Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy volkome op die Here die God van Israel vertrou het.

15 Hebron se naam was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van ’n groot held onder die Enakiete.

Die land het tot rus gekom, want die oorlog was verby.

JOSUA 15

Juda se grond

1 Die lot het vir die stam van Juda op ’n gebied geval wat suidwaarts gestrek het tot aan die verre suidekant van die Sinwoestyn teen die grens van Edom.

2 Juda se suidelike grens het dus by die suidelike punt van die Dooie See begin.

3 Van daar loop dit suid by Skerpioenhoogte verby na die woestyn van Sin toe, dan suid van Kades-Barnea verby, oor na Gesron toe, dan loop dit op na Addar en swaai daarna weg na Karka toe.

4 Daarvandaan loop dit oor na Asmon toe en met die Egiptespruit langs totdat dit in die Middellandse See doodloop. Dit is Juda se suidelike grens.

5 Die oostelike grens loop langs die oewer van die Dooie See tot waar die Jordaan uitmond in die see.

Die noordelike grens begin waar die Jordaan in die see inloop,

6 loop dan op na die gebied van Bet-Gogla, gaan noord van Bet-Araba verby tot by die Klip van Bohan, wat na die seun van Ruben vernoem is.

7 Van daar gaan dit deur die Akorlaagte na Debir, dan swaai dit noord na Gilgal, regoor Adummims-hoogte suid van die spruit. Dan loop die grens verder tot by Semesfontein en Rogelfontein.

8 Dit gaan dan verder met die Ben-Hinnomsdal op teen die suidelike hang van Jebusieteberg, waar Jerusalem vandag is. Dit gaan dan na die kruin van die berg bo die Hinnomsdal en dan na die noordelike punt van Spooklaagte.

9 Van bo van die berg af draai die grens na die Neftoagsfontein toe, en loop dan aan na die dorpe teen Efronberg en draai daarna na Baäla toe, dit is Kirjat-Jearim.

10 Dit loop om Baäla en swaai dan wes na Seïrberg toe, verby die noordelike hang van Jearimsberg, dit is Kesalon, loop dan af na Bet-Semes en na Timna toe.

11 Dit gaan dan met die noordelike skuinste van Ekron langs en draai na Sikaron toe oor die Baälaberg verby Jabne, tot waar dit in die Middellandse See doodloop.

12 Die westelike grens is die kuslyn van die Middellandse See. Dit is die grense rondom die gebied van die nasate van Juda.

Kaleb se grond

13 Soos die Here Josua beveel het, het hy aan Kaleb, die seun van Jefunne, ’n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda. Hy het Kirjat-Arba, dit is Hebron, gekry, wat na een van die voorouers van die Enakiete vernoem is.

14 Kaleb het die drie Enakiet- groepe van Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, almal nasate van Enak.

15 Van daar af het Kaleb die inwoners van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer.

16 Kaleb het gesê: “Ek gee my dogter Aksa as vrou vir die man wat Kirjat-Sefer aanval en verslaan.”

17 Otniël, die seun van Kaleb se broer Kenas, het die stad ingeneem. Kaleb het sy dogter Aksa aan hom as vrou gegee.

18 Sy het Otniël aangepor om by haar pa grond te gaan vra. Toe sy van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat is dit?”

19 Sy het geantwoord: “Seën my tog. U het vir my grond in die droë Negevwoestyn gegee. Gee asseblief vir my ook ’n plek met water.”

Hy het toe vir haar plekke met fonteine in sowel die hoërliggende as die laer dele gegee.

Juda se stede

20 Die dorpe wat die families van die stam Juda gekry het, was:

21 Die dorpe teen die grens van Edom, heel suid, was Kabseël, Eder, Jagur,

22 Kina, Dimona, Adada,

23 Kedes, Gasor, Jitnan,

24 Sif, Telem, Bealot,

25 Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron (dit is Gasor),

26 Amam, Sema, Molada,

27 Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet,

28 Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja,

29 Baäla, Ije-Abarim, Esem,

30 Eltolad, Kesil, Gorma,

31 Siklag, Madmanna, Sansanna,

32 Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon. Dit was in totaal 29 stede met die dorpies rondom hulle.

33 Op die kusvlakte het hulle gekry: Estaol, Sora, Asna,

34 Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim,

35 Jarmut, Adullam, Soko, Aseka,

36 Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim. Dit was veertien stede met hulle omringende dorpies.

37 Daarby ingesluit was ook Senan, Gadasa, Migdol-Gad,

38 Dilan, Mispe, Jokteël,

39 Lakis, Boskat, Eglon,

40 Kabbon, Lagmas, Kitlis,

41 Gederot, Bet-Dagon, Naäma en Makkeda. Dit was sestien stede met hulle dorpies rondom.

42 Libna, Eter, Asan,

43 Jiftag, Asna, Nesib,

44 Keïla, Aksib en Maresa was ook deel daarvan: nege stede met dorpies.

45 Ook nog deel van Juda se gebied was Ekron met sy dorpe en dorpies,

46 al die dorpe in die omgewing van Asdod wes van Ekron met hulle dorpies,

47 Asdod met sy dorpe en klein dorpies, en Gasa met sy dorpe en klein dorpies tot by die Egiptespruit al langs die kus van die Middellandse See.

48 Juda het in die heuwelgebied ontvang: Samir, Jattir, Soko,

49 Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir,

50 Anab, Estemoa, Anim,

51 Gosen, Golon, Gilo. Dit was elf dorpe met hulle dorpies rondom.

52 Daarby ingesluit was Arab, Duma, Esan,

53 Janum, Bet-Tappuag, Afeka,

54 Gumta, Kirjat-Arba (dit is Hebron) en Sior. Dit is nege dorpe met hulle dorpies.

55 Dan was daar ook nog Maon, Karmel, Sif, Jutta,

56 Jisreël, Jokdeam, Sanoag,

57 Kajin, Giba en Timna. Dit was tien dorpe met hulle dorpies rondom.

58 Verder was daar Galgul, Bet-Sur, Gedor,

59 Maärat, Bet-Anot en Eltekon. Dit was ses dorpe met omringende dorpies.

60 Kirjat-Baäl (dit is Kirjat-Jearim) en Rabba was twee verdere dorpe met hulle dorpies.

61 In die woestyn het hulle gekry Bet-Araba, Middin, Sekaka,

62 Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi. Dit is ses dorpe met hulle dorpies.

63 Die mense van Juda het nie daarin geslaag om die Jebusiete wat in Jerusalem gebly het daar uit te verdryf nie. Die Jebusiete woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

JOSUA 16

Die Josefstamme

1 Die grond wat deur loting vir die nageslag van Josef uitgewys is, strek vanaf die Jordaan by Jerigo, oos van die Jerigofonteine, deur die woestyn na die berge by Bet-El.

2 Van Bet-El (dit is Lus) af loop dit na Atarot in die gebied van die Erekiete,

3 dan weswaarts af na die gebied van die Jafletiete tot by die gebied van Bet-Goron-Onder en dan na Geser en dan loop dit dood teen die Middellandse See.

4 Die stamme Manasse en Efraim, die nakomelinge van Josef, het hulle grondgebied in ontvangs geneem.

Efraim se grond

5 Die grond wat vir die families van die stam Efraim gegee is, het van Atrot-Addar in die ooste na Bet-Goron-Bo toe geloop,

6 en dan verder aan tot by die Middellandse See. Van Mikmetat in die noorde swaai die grens ooswaarts verby Taänat-Silo na die gebied oos van Janoag.

7 Van Janoag af loop dit af na Atarot en Naära toe, dan skrams teen Jerigo verby tot by die Jordaanrivier.

8 Van Tappuag af loop die grens wes met die Kanaspruit langs en eindig by die Middellandse See.

Dit is die gebied van die families van die stam Efraim.

9 Efraim het ook dorpe met hulle omringende gehuggies binne die grondgebied van die halwe stam van Manasse gekry.

10 Die Efraimiete het nie die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, uitgedryf nie. Die Kanaäniete woon nou nog tussen die Efraimiete. Hulle word wel gedwing om vir hulle te werk.

JOSUA 17

Grond vir die Manassestam

wes van die Jordaan

1 Daar is ook met die lot vir die stam Manasse ’n gebied toegeken. Manasse was Josef se oudste seun. Makir was weer Manasse se oudste seun. Sy seun was weer Gilead. Makir was ’n goeie soldaat. Hy het Gilead en Basan ontvang.

2 Grond wes van die Jordaan is ook gegee vir die oorblywende families van die stam Manasse. Hulle was Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida. Hulle was die families van die ander manlike afstammelinge van Manasse, die seun van Josef.

3 Selofgad, die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie. Hy het net vyf dogters gehad. Hulle name was: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa.

4 Hulle het na die priester Eleasar en Josua die seun van Nun en na die leiers toe gegaan en vir hulle gesê: “Die Here het vir Moses beveel om vir ons grond tussen die mense van ons stam te gee.”

Josua het toe vir hulle grond tussen hulle pa se broers gegee, soos die Here gesê het.

5 Naas Gilead en Basan oos van die Jordaan, het Manasse dus ook nog tien dele ontvang.

6 Hierdie vroue uit die Manassestam het dus grond saam met die mans gekry. Die Gileadstreek het aan die ander deel van die stam van Manasse behoort.

7 Manasse se gebied was van Aser af tot by Mikmetat oos van Sigem, daarvandaan suid na die mense wat by die fontein van En-Tappuag gewoon het.

8 Die Tappuagstreek het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het aan die mense van Efraim behoort.

9 Van daar af loop die grens noordwaarts langs die Kanaspruit. Suid van die spruit lê dorpe tussen dié van Manasse wat aan Efraim behoort. Manasse se grens is noord van die spruit en dit loop dood teen die Middellandse See.

10 Die deel aan die suidekant van die spruit het dus aan Efraim behoort en dié aan die noordekant aan Manasse. Manasse se gebied loop tot teen die Middellandse See. Die gebied noord van Manasse het aan Aser behoort en die gebied oos van Manasse aan Issaskar.

11 Die volgende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser is vir Manasse gegee: Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle dorpies rondom.

12 Die mense van Manasse kon nooit hierdie dorpe oorneem nie. Die Kanaäniete het altyd daar bly woon.

13 Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk. Hulle kon egter nooit die dorpe inneem nie.

Gebied vir die afstammelinge

van Josef

14 Die afstammelinge van Josef het vir Josua gaan vra: “Waarom loot u vir ons net een stuk grond? Ons is baie mense, want die Here het ons met baie mense geseën.”

15 Josua het vir hulle gesê: “As julle dan te veel is vir die grond in Efraim, gaan op na die gebied van die Feresiete en die Refaïete en gaan kap vir julle daar ’n plek oop in die bosse.”

16 Hulle het vir Josua gesê: “Die heuwels is nie groot genoeg vir ons nie. Al die Kanaäniete wat in die vallei woon en in die gebied rondom Bet-San en op die Jisreëlvlakte is sterker as ons, want hulle het ysterstrydwaens.”

17 Josua het toe vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Omdat julle so baie en so sterk is, sal ons met die lot vir julle meer as een deel aanwys.

18 Julle kan die beboste heuwelgebied ook kry. Maak dit skoon sodat julle daar kan woon. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk. Julle is egter sterk genoeg om hulle uit te dryf.”

JOSUA 18

Die verdeling van die res van die

land

1 Toe die hele land onder Israel se beheer was, het die Israelitiese volksvergadering by Silo bymekaargekom. Hulle het die tabernakel daar opgeslaan.

2 Daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grond gekry het nie.

3 Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank gaan julle nog uitstel voor julle die hele land wat die Here, die God van julle voorouers, aan julle gegee het, in besit neem?

4 Kies drie mans uit elke stam dat ek hulle kan uitstuur om deur die land te gaan. Hulle moet terugkom na my toe met ’n skriftelike beskrywing van die grond wat hulle wil hê.

5 Hulle moet die land in sewe dele verdeel. Juda het reeds sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle gebied in die noorde.

6 Hulle moet met die geskrewe verdeling na my toe kom. Ek sal hier in die teenwoordigheid van die Here ons God met die lot bepaal wie van julle watter deel sal kry.

7 Die Leviete kry nie ’n deel saam met julle nie. Hulle erfporsie is die priesterskap vir die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het reeds hulle deel oos van die Jordaan gekry toe Moses, die dienaar van die Here, dit vir hulle gegee het.”

8 Die mans het toe reggemaak om te vertrek. Josua het vir die mans wat die verdeling van die land moes neerskryf, beveel: “Gaan deur die land, skryf alles neer, en kom terug na my toe dat ek vir julle met die lot hier voor die Here in Silo kan bepaal watter deel elke stam kry.”

9 Die mans het vertrek en deur die land gegaan. Hulle het die dorpe volgens sewe streke in ’n boek opgeskryf. Hulle het toe teruggekom by Josua in die kamp by Silo.

10 Josua het toe die lot voor die Here daar in Silo gewerp en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.

Die gebied van Benjamin

11 Die lot het bepaal dat die families van die stam Benjamin die gebied tussen dié van Juda en Josef moet kry.

12 Aan die noordekant begin hulle grens by die Jordaan, loop dan teen die skuinste noord van Jerigo verby, gaan weswaarts teen die berge uit en loop deur die woestyn van Bet-Awen.

13 Daarvandaan loop die grens suid van die gebied van Lus (dit is Bet-El) verby, en gaan dan af na Atrot-Addar oor die berg suid van Bet-Goron-Onder.

14 Dan swaai die grens wes al langs die suidelike kant van die heuwel regoor Bet-Goron en loop dood by Kirjat-Baäl (dit is Kirjat-Jearim), ’n stad wat aan Juda behoort. Dit is hulle westelike grens.

15 Die suidelike grens begin buite Kirjat-Jearim, loop wes en kom uit by die Neftoagsfontein.

16 Dit gaan dan af na die voet van die berg regoor die Ben-Hinnomdal, noord van Spooklaagte. Van daar loop die grens onder deur die Hinnomdal oor na die skuinste suid van die Jebusietestad en af na die Rogelfontein toe.

17 Van daar draai dit noordoos en loop na Semesfontein, en deur na Gelilot teenoor die skuinste van Adummim en af tot by die Klip van Bohan (hy was die seun van Ruben).

18 Dit loop dan noord van die skuinste bo die Jordaanvallei af na die Jordaanvallei,

19 noord van die skuinste van Bet-Gogla verby en tot by die noordelike punt van die Dooie See waar die Jordaan inloop. Dit is die suidelike grens van hulle gebied.

20 Die oewer van die Jordaan vorm die oostelike grens.

Dit is dan die grense rondom die grond van die families van die stam Benjamin.

21 Die dorpe wat die families van die stam Benjamin gekry het, is Jerigo, Bet-Gogla, Kesisdal,

22 Bet-Araba, Semarajim, Bet-El,

23 Awwim, Para, Ofra,

24 Kefar-Ammoni, Ofni en Geba. Dit is twaalf dorpe met hulle dorpies rondom.

25 Hulle het ook nog gekry: Gibeon, Rama, Beërot,

26 Mispa, Kefira, Mosa,

27 Rekem, Jirpeël, Tarala,

28 Sela, Elef, Jebus (dit is Jerusalem), Gibea en Kirjat. Dit is veertien dorpe met hulle dorpies. Dit is die grond wat die families van die stam Benjamin gekry het.

JOSUA 19

Simeon se gebied

1 Die tweede loting was vir die grond van die families van die stam Simeon. Hulle deel het binne die grond van Juda gelê.

2 Hulle gebied het ingesluit Berseba, Seba, Molada,

3 Gasar-Sual, Baäla, Esem,

4 Eltolad, Betul, Gorma,

5 Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim,

6 Bet-Lebaot en Sarugen. Dit was altesaam dertien dorpe met hulle gehuggies rondom.

7 Ajin, Rimmon, Eter en Asan was ook hulle s’n. Dit was vier dorpe met hulle omringende blyplekke.

8 Hulle het ook die klein dorpies rondom hierdie dorpe gekry, tot so ver suid as Baälat-Beër (Rama in die Negevwoestyn).

Dit is die grond van die families van die stam Simeon.

9 Hulle het ’n deel van Juda se gebied gekry. Juda se grond was te groot vir hulle. So het die stam Simeon grond binne-in Juda se gebied ontvang.

Sebulon se gebied

10 Die derde loting het die grond van die families van die stam Sebulon bepaal.

Hulle grond het tot by Sarid gestrek.

11 Van Sarid loop dit wes by Marala verby, teen Dabbeset af en teen die spruit regoor Jokneam verby.

12 Terug by Sarid loop die grens oos tot by die grens met Kislot-Tabor, van daar na Daberat en dan op na Jafia toe.

13 Van daar gaan dit oos na Gat-Gefer en na Et-Kasin toe en aan tot by Rimmon, waar dit na Nea toe draai.

14 Van daar swaai die grens noord verby Gannaton en eindig in die vallei van Ge-Jiftag-El.

15 Die dorpe wat hulle gekry het, was Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem. Daar was altesaam twaalf dorpe met hulle kleiner dorpies rondom.

16 Hierdie dorpe met hulle omringende blyplekke was die gebied van die families van die stam Sebulon.

Issaskar se gebied

17 Die vierde loting was vir grond vir die families van die stam Issaskar.

18 Hulle dorpe was Jisreël, Kesulot, Sunem,

19 Gafarajim, Sion, Anagarat,

20 Rabbit, Kisjon, Ebes,

21 Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes.

22 Hulle grens is teen Tabor, na Sagasajim en by Bet-Semes verby en loop dood teen die Jordaan. Daar is sestien dorpe met hulle kleiner dorpies rondom.

23 Hierdie dorpe met hulle klein dorpies is die gebied van die families van die stam Issaskar.

Aser se gebied

24 Die vyfde keer toe die lot gewerp is, was dit vir die families van die stam Aser.

25 Hulle gebied het bestaan uit Gelkat, Gali, Beten, Aksaf,

26 Alammelek, Amad en Misal. Aan die westekant loop die grens teen Karmel en Sigor-Libnat verby.

27 Dit swaai dan oos na Bet-Dagon toe, gaan teen Sebulon en Ge-Jiftag-El verby noord na Bet-Emek en Neïel toe en loop dan aan na Kabul in die noorde.

28 Van daar gaan dit na Abdon, Regob, Gammon en Kana tot by Groot-Sidon.

29 Dan draai die grens af na Rama toe en tot by die versterkte stad Tirus, dan verder na Gosa toe en die Middellandse See in die omgewing van Megebel, Aksib,

30 Uma, Afek en Regob. Daar is 22 dorpe met hulle dorpies rondom.

31 Hierdie dorpe met hulle omringende dorpies was die grond van die families van die stam Aser.

Naftali se gebied

32 Die sesde keer se loting was vir die grond van die families van die stam Naftali.

33 Hulle grens begin by Gelef, by die groot boom by Saänannim, en loop dan oor Adami-Nekeb, Jabneël, Lakkum en tot by die Jordaanrivier.

34 Die grens aan die westekant is van Asnot-Tabor dan na Gukok toe, teenaan die grens met Sebulon aan die suidekant verby en teenaan die grens met Aser aan die westekant verby tot teen die Jordaanrivier aan die oostekant.

35 Die versterkte dorpe het ingesluit Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret,

36 Adama, Rama, Hasor,

37 Kedes, Edreï, En-Gasor,

38 Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes. Dit was negentien dorpe met hulle gehuggies rondom.

39 Hierdie dorpe en hulle omringende dorpies het aan die families van die stam Naftali behoort.

Dan se deel

40 Vir die families van die stam Dan is ’n sewende keer geloot.

41 In hulle grondgebied was Sora, Estaol, Ir-Semes,

42 Saälbim, Ajalon, Jitla,

43 Elon, Timna, Ekron,

44 Elteke, Gibbeton, Baälat,

45 Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon,

46 Me-Jarkon en Rakkon saam met die gebied teenoor Joppe.

47 Dan het egter sy gebied verloor. Hulle het toe opgetrek en Lesem aangeval en verower. Hulle het die inwoners doodgemaak, die stad ingeneem en daar gaan woon. Hulle het Lesem se naam verander en dit na hulle voorvader Dan vernoem.

48 Hierdie dorpe met hulle omringende dorpies het vroeër aan die families van die stam Dan behoort.

Josua kry grond

49 Nadat die Israeliete die land onder mekaar verdeel het, het hulle ook vir Josua, die seun van Nun, ’n stuk grond tussen hulle gegee.

50 Die Here het hulle beveel om die stad te gee wat hy gekies het. Hy het Timnat-Serag in die heuwels van Efraim gekies. Josua het die stad herbou en daar gaan woon.

51 Dit was dan die gebiede wat die priester Eleasar en Josua seun van Nun saam met die familiehoofde aan die Israelitiese stamme toegeken het. Hulle het voor die Here by die ingang van die tabernakel in Silo geloot oor die verdeling van die land. So is die verdeling van die land afgehandel.

JOSUA 20

Asielstede

1 Die Here sê toe vir Josua:

2 “Sê vir die Israeliete hulle moet besluit oor die asielstede waaroor Ek met Moses gepraat het.

3 Iemand wat per ongeluk en sonder dat hy dit beplan het, iemand anders doodgemaak het, kan daarnatoe vlug. Dit sal vir hulle beskerming gee teen die wraak van ’n bloedverwant van die persoon wat dood is.

4 “Iemand wat na een van hierdie stede toe vlug, moet by die stadspoort aanmeld om sy saak aan die leiers van die stad te stel. Hulle moet hom in die stad toelaat en hom by hulle laat bly.

5 As die familielid van die een wat doodgemaak is, hom agtervolg, mag die leiers hom nie aan daardie persoon uitlewer nie. Hy het die persoon onopsetlik doodgemaak en nie uit kwaadwilligheid nie.

6 Hy moet in daardie stad bly totdat sy saak verhoor is en hy onskuldig bevind is. Daarna moet hy in die stad aanbly tot die huidige hoëpriester dood is. Die persoon mag dan teruggaan na die stad en sy huis van waar af hy gevlug het.”

7 Die volgende plekke is as toevlugstede aangewys: Kedes in Galilea tussen die heuwels van Naftali, Sigem in die heuwels van Efraim, en Kirjat-Arba (dit is Hebron) tussen die heuwels van Juda.

8 Aan die oorkant van die Jordaan, oos van Jerigo, is Beser in die woestyn op die plato van die stamgebied van Ruben, Ramot in Gilead in die stamgebied van Gad, en Golan in Basan in die stamgebied van Manasse aangewys.

9 Hierdie was die stede waarheen die Israeliete en die vreemdelinge tussen hulle kon vlug. Enigeen wat ’n ander onopsetlik doodgemaak het, kon na een van hierdie stede vlug vir beskerming teen die wraak van ’n familielid. Daar kon hy verhoor word.