JONA 1

1 Opdrag aan Jona

Die Here het die volgende boodskap vir Jona, die seun van Amittai, gegee:

2 “Maak klaar en gaan na die groot stad Nineve toe! Praat ernstig met hulle, want Ek het hulle slegte lewenswyse raakgesien.”

3 Maar Jona het in die teenoorgestelde rigting gegaan om van die Here af weg te kom. Hy het afgegaan na die kus toe, na die hawe Joppe. Daar het hy ’n skip gekry wat Tarsis toe sou vaar. Hy het ’n kaartjie gekoop en aan boord gegaan. Jona het gehoop dat as hy in ’n westelike rigting gaan, hy van die Here af sou wegkom.

Jona veroorsaak ’n seestorm

4 Tydens die vaart het die Here skielik ’n sterk wind oor die see laat opkom. Daar het ’n hewige storm ontstaan en gedreig om die skip te laat sink.

5 Uit vrees vir hulle lewens het die matrose tot hulle gode om hulp geroep. Hulle het van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak. Terwyl dit alles gebeur het, het Jona afgegaan na die vragruim van die skip en daar gelê en geslaap.

6 Die kaptein van die skip het afgegaan na Jona toe en vir hom geskreeu: “Hoe kan jy in sulke omstandighede slaap? Staan op en bid tot jou god! Miskien sal hy ons genadig wees en ons lewens spaar.”

7 Die matrose sê toe vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan vasstel wie hierdie krisis veroorsaak het.” Hulle het dit gedoen en Jona is uitgewys.

8 Toe vra hulle hom: “Wat het jy gedoen om hierdie storm oor ons te laat losbars? Wie is jy en wat is jou beroep? Waar kom jy vandaan? Wat is jou nasionaliteit?”

9 Jona het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel wat die see en die land gemaak het.

10 Ek is besig om van die Here af weg te vlug.”

Toe het groot vrees die matrose beetgepak. Hulle het uitgeroep: “Hoekom doen jy dit?”

11 Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?”

12 Jona het hulle geantwoord: “Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.”

13 Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword.

14 Hulle het die Here aangeroep en gesê: “Ag, Here, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. Here, U het gedoen soos U wou.”

15 Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword.

16 Groot vrees vir die Here het die matrose aangegryp. Hulle het ’n offer vir die Here gebring en ’n belofte gemaak om Hom te dien.

17 Toe stuur die Here ’n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis.

JONA 2

Jona se gebed

1 Jona het uit die ingewande van die vis tot die Here sy God gebid.

2 Hy het gesê:

“In my groot nood

het ek die Here aangeroep

en Hy het my geantwoord.

Ek het uit die doderyk geroep

en U het my gehoor!

3 In die diepte van die oseaan

het U my gegooi.

Ek het tot in die hart

van die see gesink.

Strome het rondom my gekolk.

U het golf na golf oor my laat spoel.

4 Ek het gesê:

‘Uit u teenwoordigheid

het U my verdryf.

Hoe sal ek ooit weer

u heilige tempel sien?’

5 “Water het my verswelg,

die diepwaters het my omring.

Seegras was om my kop gedraai.

6 Ek het afgesak tot waar

die berge begin.

Ek was afgesluit van die lewe,

vasgevang in die land van die dooies.

Maar U, Here my God, het my gered

uit die oop kake van die dood!

7 “Toe ek alle hoop verloor het,

het ek weer aan die Here gedink.

In u heilige tempel

het U my gebed gehoor.

8 Wie vals gode aanbid,

minag God se goedheid.

9 Ek sal met lofliedere

vir U ’n offer bring.

Ek sal doen

wat ek beloof het.

Net die Here bring verlossing!”

10 Toe het die Here die vis beveel en hy het Jona op die strand uitgespoeg.

JONA 3

Jona gaan na Nineve toe

1 Die Here het ’n tweede keer met Jona gepraat:

2 “Maak jou gereed en gaan na die groot stad Nineve. Dra die oordeelsboodskap wat Ek jou gegee het aan hulle oor.”

3 Jona het gereedgemaak en na Nineve toe gegaan soos die Here hom beveel het. Nineve was so groot dat dit drie dae vat om alles te sien.

4 Die eerste dag toe Jona in die stad ingegaan het, het hy uitgeroep: “Oor 40 dae sal Nineve vernietig word!”

5 Die mense van Nineve het God se boodskap geglo. Almal, van groot tot klein, het besluit om te vas en om rouklere aan te trek.

6 Toe die koning van Nineve hoor wat Jona sê, het hy van sy troon af opgestaan en sy koninklike klere uitgetrek. Hy het rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit.

7 Die koning en sy amptenare het toe die volgende bevel deur die stad gestuur: “Niemand nie, nie eers die diere, mag enigsins iets eet of drink nie.

8 Almal moet rouklere aantrek en ernstig tot God bid. Almal moet ophou om kwaad te doen en geweld te pleeg.

9 Wie weet, miskien sal God ons genadig wees en ons nie in sy woede vernietig nie.”

10 Toe God sien dat hulle opgehou het om verkeerd te doen, was Hy hulle genadig. Hy het daarvan afgesien om hulle te vernietig soos Hy gedreig het om te doen.

JONA 4

Jona se woede en God se genade

1 Hierdie verandering het Jona ontstel. Hy het baie kwaad geword.

2 Hy het by die Here daaroor gekla: “Het ek nie voor ek by die huis weg is, gesê dit is wat U sou doen nie, Here? Dit is die rede hoekom ek na Tarsis gevlug het! Ek het geweet U is ’n genadige God, ’n God van medelye. U word stadig kwaad en is liefdevol en getrou. Ek het geweet U kry maklik berou en dat U van plan sou verander en hulle nie straf nie.

3 Here, vat nou maar my lewe! Ek wil liewer dood wees as om te lewe.”

4 Die Here het geantwoord: “Is dit reg van jou om hieroor kwaad te wees?”

5 Jona is toe uit die stad uit. Hy het aan die oostekant van die stad gaan sit en vir hom ’n skuiling gemaak. Hy het onder die skuiling gesit terwyl hy gewag het om te sien of iets met die stad sou gebeur.

6 Die Here God het toe ’n plant laat groei wat skaduwee oor Jona se kop gemaak het. Dit het hom beter laat voel. Jona was baie bly oor die plant.

7 Maar God stuur toe ’n wurm. Met dagbreek die volgende môre het die wurm die stam van die plant afgevreet. Die plant het verdroog.

8 Toe die son opkom, het God ’n skroeiende oostewind laat opsteek. Die son het so op Jona se kop neergebrand dat hy swak begin voel het en gewens het om dood te gaan. Hy het gesê: “Dit is beter om dood te gaan as om te lewe!”

9 God sê toe vir Jona: “Is dit reg van jou om kwaad te wees omdat die plant dood is?”

Jona het geantwoord:

10 “Ja, ek is so kwaad dat ek kan sterf!” Toe sê die Here: “Jy is ontsteld oor die plant en dit terwyl jy niks gedoen het om die plant te versorg of te laat groei nie. Die plant het oornag opgekom en is weer oornag vernietig.

11 Nineve het meer as 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie en ook baie diere. Sal Ek dan nie medelye hê oor die groot stad Nineve nie?”