JOHANNES 11

Die heerlikheid van God in

Lasarus se opwekking

1 ’n Sekere man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die tuisdorpie van Maria en haar suster Marta.

2 Dit was Maria wat die Here met aromatiese olie gesalf het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Dit is haar broer Lasarus wat siek was.

3 Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.”

4 Jesus het die boodskap gehoor en gesê: “Hierdie siekte gaan nie op die dood uitloop nie, maar vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak sodat die Seun van God daardeur verheerlik word.”

5 Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus.

6 Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was.

7 Eers hierna het Hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons weer ’n keer Judea toe gaan.”

8 Die dissipels sê toe vir Jesus: “Rabbi, laas wou die Jode daar U nog stenig, en U gaan wéér soontoe?”

9 Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf werksure gedurende ’n dag nie? As iemand in die daglig rondloop, struikel hy nie omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.

10 As iemand egter in die nag rondloop, struikel hy maklik omdat hy nie lig het nie.”

11 Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12 Die dissipels het vir Jesus gesê: “Meneer, as hy slaap, sal hy mos gesond word.”

13 Jesus het Lasarus se dood bedoel, maar hulle het gedink Hy praat van die natuurlike slaap.

14 Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood,

15 maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo. Laat ons dan na hom toe gaan.”

16 Tomas, wat ook Didimus genoem is, het vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan sodat ons saam met Jesus kan sterf.”

17 Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18 Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan.

19 Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig.

20 Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit.

21 Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie.

22 Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.”

23 Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.”

24 Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”

25 Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook.

26 Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”

27 Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.”

28 Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster Maria gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29 Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan.

30 Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het.

31 Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur.

32 Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!”

33 Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld.

34 Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.”

35 Jesus begin toe huil.

36 Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!”

37 Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?”

38 Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol.

39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.”

40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?”

41 Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.

42 Ek weet dat U altyd na My luister, tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43 Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!”

44 Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek. Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.”

’n Komplot word gesmee om

Jesus te vermoor

45 Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom begin glo.

46 Sommige van hulle het egter na die Fariseërs toe gegaan en by hulle gaan skinder oor wat Jesus gedoen het.

47 Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Sanhedrin bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man hou aan om baie wondertekens te doen.

48 As ons hom maar net so laat begaan, sal almal in hom glo en dan sal die Romeine kom en die tempel en ons nasie tot niet maak.”

49 Een van hulle, Kajafas, wat hoofpriester was gedurende daardie jaar, het opgemerk: “Julle is baie kortsigtig.

50 Julle besef nie dat dit vir julle voordeliger is dat een mens vir die volk sterf en nie die hele volk tot niet gaan nie.”

51 Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar aangesien hy gedurende daardie jaar hoofpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus ter wille van die nasie sou sterf.

52 En nie net ter wille van die nasie alleen nie, maar ook om die kinders van God wat oor die wêreld verspreid is, tot ’n eenheid bymekaar te bring.

53 Van daardie dag af het hulle planne gesmee om Hom dood te maak.

54 Gevolglik het Jesus nie meer openlik tussen die Jode rondbeweeg nie, maar van daar af vertrek na die gebied wat na aan die woestyn geleë was en Efraim genoem is. Daar het Hy saam met sy dissipels oorgebly.

55 Die Paasfees van die Jode was naby. Baie mense het van die platteland af na Jerusalem toe gegaan met die doel om hulleself voor die begin van die fees ritueel te gaan was.

56 Hulle het toe vir Jesus daar rond gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Wat dink julle, Hy sal tog sekerlik nie Fees toe kom nie?”

57 Die priesterhoofde en die Fariseërs het intussen reeds opdragte uitgevaardig dat as iemand weet waar Jesus Hom bevind, hy die inligting moes deurgee sodat hulle Hom kon arresteer.

JOHANNES 12

’n Halfliter duur aromatiese olie

vir Jesus se begrafnis

1 Ses dae voor die Paasfees sou begin, het Jesus na Betanië toe gekom waar Lasarus, wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het.

2 Daar het hulle vir Jesus ’n aandete voorberei. Marta het dit voorgesit en Lasarus was een van dié wat saam met Hom vir die ete aangelê het.

3 Maria het toe ’n halfliter baie duur aromatiese olie geneem en dit op Jesus se voete uitgegooi en sy voete met haar hare afgedroog. Die huis was gevul met die reuk van die olie.

4 Judas Iskariot, een van sy dissipels, wat Hom nog sou uitlewer, sê toe:

5 “Waarom is hierdie olie nie eerder vir ’n yslike bedrag verkoop en die opbrengs aan die armes gegee nie?”

6 Dit het hy gesê, nie omdat hy so danig besorgd was oor die armes nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die geldbeurs gedra en het van die bates verduister.

7 Toe het Jesus gesê: “Laat haar met rus. Sy het dit gekoop om te bêre vir die geleentheid van my begrafnis.

8 Die armes het julle altyd by julle, maar Mý het julle nie altyd nie.”

9 ’n Groot skare uit die geledere van die Jode het kennis geneem dat Jesus daar is. Hulle het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus self nie, maar ook om vir Lasarus, vir wie Jesus uit die dood opgewek het, te sien.

10 Die priesterhoofde het begin beraadslaag en besluit om ook vir Lasarus dood te maak

11 omdat baie van die Jode as gevolg van Lasarus na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

12 Op die volgende dag het die groot skare wat vir die fees opgedaag het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom.

13 Hulle het die blaartakke van die palmbome geneem en Jesus tegemoetgegaan en dit uitgeskree:

“Prys God!

Geseënd is Hy

wat in die Naam

van die Here kom!”

en:

“Die Koning van Israel!”

14 Jesus het ’n donkievul gekry en daarop gaan sit soos dit geskryf staan:

15 “Hou op om bang te wees,

dogter van Sion!

Kyk, jou Koning kom,

Hy sit op ’n donkievul.”

16 Jesus se dissipels het hierdie dinge aanvanklik nie verstaan nie, maar toe Hy eers verheerlik was, het hulle onthou dat die dinge wat daar oor Hom geskryf is, juis dié dinge is wat met Hom gebeur het.

17 Die skare wat om Jesus saamgedrom het toe Hy vir Lasarus uit die grotgraf geroep en hom uit die dood opgewek het, het aangehou om daaroor te getuig.

18 Daarom het die skare Jesus tegemoetgegaan omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie wonderteken gedoen het.

19 Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Kyk mooi, julle vorder niks nie, die hele mensdom loop agter hom aan!”

Jesus voorspel sy dood

20 Daar was ook ’n klompie Grieke onder dié wat opgetrek het om op die fees te kom aanbid.

21 Dié mense het toe na Filippus, wat vanaf Betsaida in Galilea gekom het, gegaan en vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus ontmoet.”

22 Filippus gaan vertel dit toe vir Andreas. Daarop gaan Andreas en Filippus en vertel dit saam vir Jesus.

23 Jesus reageer toe daarop: “Die uur het aangebreek dat Ek, die Seun van die Mens, verheerlik moet word.

24 Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs.

25 Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou.

26 Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.

27 “Nou is Ek hewig ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: ‘Vader, red My uit hierdie uur’? Tog het Ek juis vir hierdie uur gekom.

28 Vader, verheerlik ú Naam!”

Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit alreeds verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29 Die skare wat daar rondgestaan en dit gehoor het, het beweer dat daar ’n groot donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”

30 Toe reageer Jesus: “Hierdie stem was nie ter wille van My nie, maar ter wille van julle.

31 Nou vind die oordeel oor hierdie wêreld plaas; nou sal die leier van hierdie wêreld na buite toe uitgedryf word.

32 En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.”

33 Dit het Jesus gesê en terselfdertyd aangedui watter soort dood Hy sou sterf.

34 Die skare het reageer: “Ons het volgens die wet gehoor dat die Messias vir altyd gaan bly. Hoe sê u dan nou dat die Seun van die Mens verhoog moet word? Buitendien, wie is hierdie Seun van die Mens?”

35 Jesus het hulle geantwoord: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Rig julle lewe só in terwyl julle nog die lig by julle het, dat die duisternis nie oor julle toeslaan nie. Wie sy lewe in die duisternis inrig, weet mos nie waar hy gaan eindig nie.

36 Terwyl julle nog die lig by julle het, moet julle aanhou glo in die lig sodat julle kinders van die lig kan wees.”

Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy vertrek en vir die mense gaan wegkruip.

Baie hou steeds vas aan die

duisternis

37 Ten spyte van só baie wondertekens wat Jesus voor die mense se oë gedoen het, het hulle volgehou om nie in Hom te glo nie.

38 Sodoende is die boodskap van die profeet Jesaja vervul:

“Here, wie het ons boodskap geglo?

En aan wie is die mag

van die Here bekendgemaak?”

39 Om dié rede kon die mense nie glo nie, soos Jesaja dit verduidelik:

40 “Hy het hulle oë

met blindheid getref

en hulle harte

hardvogtig gemaak,

sodat hulle nie kon sien

met hulle oë

of kon verstaan met hulle harte

om hulle te bekeer

en dat Ek hulle gesond maak nie.”

41 Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van Jesus gesien en oor Hom gepraat het.

42 Nietemin het baie uit die geledere van die leiers in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie in die openbaar bely nie sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie.

43 Hulle het die verering deur mense liewer gehad as die verering deur God.

44 Toe het Jesus uitgeroep: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het.

45 En wie na My kyk, sien ook vir Hom wat My gestuur het.

46 “Ek het as lig na die wêreld toe gekom sodat elkeen wat in My glo, nie langer in die duisternis sou bly nie.

47 As iemand dan ook nog na my woorde luister en dit nie gehoorsaam nie, veroordeel Ek hom nie sommer nie, want Ek het nie gekom om die mensdom te veroordeel nie, maar om die mensdom te verlos.

48 Wie My verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het reeds homself geoordeel; die boodskap wat Ek uitdra, sal hom op die laaste dag veroordeel.

49 Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek sal verkondig.

50 En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe inhou. Dit wat Ek dus sê, verkondig Ek net soos die Vader dit aan My oorgedra het.”

JOHANNES 13

Jesus eis dat sy voorbeeld gevolg

word

1 Voor die viering van die paasmaaltyd het Jesus reeds geweet dat sy tyd aangebreek het om van hierdie wêreld af na die Vader toe oor te gaan. Jesus was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad.

2 Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ’n saadjie in die hart van Judas, die seun van Simon Iskariot, geplant om Jesus uit te lewer.

3 Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na God teruggaan.

4 Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind.

5 Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was.

6 Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: “Here, gaan U mý voete was?”

7 Jesus antwoord hom: “Wat Ek besig is om te doen, verstaan jy nie nou nie, maar wanneer alles verby is, sal jy dit verstaan.”

8 Petrus se onmiddellike reaksie was: “U sal tot in ewigheid nooit mý voete was nie!”

Jesus antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9 Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.”

10 Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.”

11 Jesus het goed geweet wie Hom sou uitlewer; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12 Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13 Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit.

14 As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.

15 Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

16 Hoe waar is dit tog nie: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.

17 As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”

Jesus wys Judas as verraaier uit

18 “Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet goed wie Ek uitgesoek het. Die Skrif moet egter in vervulling gaan: ‘Die een wat van my brood geniet, het teen My gedraai.’

19 Ek maak julle nou al daarop bedag, nog voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit ook al gebeur dat Ek is wat Ek is.

20 Ek verseker julle, wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang ook vir Hom wat My gestuur het.”

21 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy erg ontsteld geword en openlik verklaar: “Ek verseker julle, een van julle wat hier is, gaan My uitlewer.”

22 Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker oor wie Hy bedoel.

23 Een van Jesus se dissipels het langs Hom aan tafel aangelê – die lieflingdissipel.

24 Simon Petrus knik toe vir hom dat hy moet vra wie dit is van wie Jesus praat.

25 Hy het toe agteroor geleun tot na aan Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?”

26 Jesus reageer daarop: “Dit is dié een vir wie Ek ’n stukkie brood in die sous sal doop en vir hom gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, doop dit in die sous en gee dit aan Judas, seun van Simon Iskariot.

27 Ná die stukkie brood het Satan van hom besit geneem. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy doen, moet jy gou afhandel!”

28 Niemand wat aan tafel was, het geweet om watter rede Hy dit vir Judas gesê het nie.

29 Sommige het inderdaad gedink, terwyl Judas die beursie dra, dat Jesus vir hom gesê het: “Gaan koop wat ons nodig het vir die paasete,” of dat hy soos gebruiklik iets aan die armes moes gaan gee.

30 Net nadat Judas die stukkie brood aanvaar het, het hy dadelik vertrek. Dit was nag.

Die haan se kraai word as teken

vir Petrus gegee

31 Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik.

32 As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik.

33 Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.

34 Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê.

35 As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”

36 Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?”

Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.”

37 Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.”

38 “Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.”

JOHANNES 14

Die enigste pad na die Vader toe

1 “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou.

2 In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak.

3 En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.

4 Julle weet mos waarheen Ek gaan, en hoe om daar te kom.”

5 Tomas sê vir Jesus: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die pad daarheen ken?”

6 Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

7 As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.”

8 Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.”

9 Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader?’

10 Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer.

11 Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self.

12 “Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is.

13 Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik word.

14 As julle My enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen.”

Jesus belowe die Heilige Gees

15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam.

16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;

17 dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.

18 “Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe.

19 Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe.

20 Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle.

21 “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

22 Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?”

23 Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.

24 Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25 Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is;

26 en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27 “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

28 Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, en kom weer terug na julle toe. As julle My liefhet, sou julle opgewonde gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Ek.

29 Ek sê dit nou al solank vir julle, nog voordat dit gaan gebeur, sodat julle moet glo wanneer dit ook al gebeur.

30 “Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie.

31 Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!”

JOHANNES 15

Die voorwaarde vir vrug dra

1 “Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier.

2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra.

3 Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het.

4 Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie.

5 “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

6 Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand.

7 As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

8 Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is.

9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly.

10 As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het.

11 Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.

12 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.

13 Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.

14 Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

15 Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.

16 Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

17 Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.”

Die wêreld haat gelowiges

18 “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het.

19 As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.

20 “Onthou wat Ek vir julle gesê het: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Aangesien hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. Aangesien hulle my boodskap ter harte geneem het, sal hulle julle s’n ook ter harte neem.

21 Hulle sal al daardie dinge aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het nie ken nie.

22 As Ek nie gekom het en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuld gehad het nie, maar nou het hulle nie ’n verskoning vir hulle sonde nie.

23 Die een wat My haat, haat ook die Vader.

24 As Ek nie onder hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie. Maar nou het hulle dit reeds gesien en tog het hulle My en my Vader gehaat.

25 “Die uitspraak wat in hulle wet opgeskryf is, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

26 “Wanneer die Raadgewer kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader af uitgaan, sal Hy oor My in die openbaar getuienis aflê.

27 Julle moet ook aanhou getuig omdat julle reg van die begin af saam met My is.”

JOHANNES 16

1 “Ek het hierdie dinge nou vir julle uitgespel sodat julle nie struikel nie.

2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ’n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink hy bewys ’n besondere guns aan God.

3 Hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie My of die Vader geken het nie.

4 Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.”

Jesus se weggaan is tot die

dissipels se voordeel

5 “Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie.

6 Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig.

7 Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur.

8 En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is.

9 Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie;

10 van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie;

11 van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is.

12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie.

13 Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel.

14 Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel.

15 Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”

Blywende blydskap maak die

tydelike hartseer draaglik

16 “Nog net ’n kort tydjie, en julle sien My nie meer nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien.”

17 Sommige van sy dissipels het toe vir mekaar gesê: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog net ’n kort tydjie, dan sien julle My nie meer nie, en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’?

18 Hierdie ‘kort tydjie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit tog? Ons verstaan nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.

19 Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’?

20 Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander.

21 ’n Vrou het pyn wanneer sy geboorte skenk omdat haar tyd gekom het. Wanneer die baba egter gebore is, onthou sy nie meer die swaarkry nie vanweë die groot blydskap dat daar ’n mens in die wêreld gekom het.

22 Julle ondervind ook nou hartseer. As Ek julle egter weer sien, sal julle harte oorloop van blydskap, en niemand sal dié blydskap weer van julle af wegneem nie.

23 En op daardie dag sal julle My niks meer uitvra nie. Ek verseker julle, wat julle ook al van die Vader vra in my Naam, sal Hy aan julle gee.

24 Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Hou aan bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volledig kan wees.

25 “Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig.

26 Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie,

27 want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het.

28 Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.”

29 Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak.

30 Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.”

31 Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou?

32 Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is.

33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

JOHANNES 17

Jesus praat innig met sy Vader

1 Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik.

2 U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee.

3 En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

4 Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen.

5 Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

6 “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer.

7 Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom,

8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het.

9 Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is.

10 Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik.

11 Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees.

12 Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word.

13 “Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind.

14 Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.

15 Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar.

16 Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie.

17 Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid.

18 Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.

19 En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees.

20 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo.

21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

22 En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.

23 Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet.

24 “Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25 “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het.

26 Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”

JOHANNES 18

Jesus word gearresteer

1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en sy dissipels het die tuin toe binnegegaan.

2 Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het.

3 Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die Olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens.

4 Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: “Wie soek julle eintlik?”

5 Hulle het Hom geantwoord: “Jesus van Nasaret.”

“Dit is Ek,” antwoord Jesus.

Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan.

6 En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.

7 Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?”

“Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.

8 Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.”

9 Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.”

10 Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus.

11 Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?”

Jesus verskyn voor Annas

12 Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei.

13 Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was.

14 Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf.

Petrus verloën Jesus die eerste

keer

15 Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan.

16 Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring.

17 Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?”

“Ek is nie!” antwoord Petrus.

18 Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak.

Die hoofpriester ondervra Jesus

19 Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense.

20 Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21 Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22 Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?”

23 Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?”

24 Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur.

Petrus verloën Jesus ’n tweede

en derde keer

25 Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê:

“Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?”

Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26 Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?”

27 Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai.

Jesus verskyn voor Pilatus

28 Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier.

29 Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?”

30 Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31 Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.”

Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.”

32 Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf.

33 Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?”

34 Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?”

35 “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?”

36 Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.”

37 “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.”

38 Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie.

39 Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?”

40 Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.

JOHANNES 19

Jesus word onskuldig bevind, en

tog veroordeel

1 Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel.

2 En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek,

3 op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan.

4 Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.”

5 Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!”

6 Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle.

7 Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.”

8 Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword,

9 sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie.

10 Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?”

11 Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”

12 Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!”

13 Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees ‘Gabbata’.

14 Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle Koning!”

15 Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”

Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?”

Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.”

16 Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.

Jesus word gekruisig

17 Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”.

18 Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel.

19 Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”

20 Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks.

21 Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die Koning van die Jode.’”

22 Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

23 Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef.

24 Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:

“Hulle het my bo-klere

onder mekaar verdeel

en oor my onderkleed

het hulle die lot gewerp.”

Tot sover dan wat die soldate gedoen het.

25 Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.

26 Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.”

27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.

Jesus blaas sy laaste asem uit

28 Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29 ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.

30 Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

31 Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word.

32 Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was.

33 Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie.

34 Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.

35 Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom.

36 Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

37 Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”

Jesus se liggaam in ’n nuwe graf

neergelê

38 Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal.

39 Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring.

40 Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei.

41 Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie.

42 Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.

JOHANNES 20

Jesus het werklik opgestaan!

1 Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is.

2 Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

3 Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop.

4 Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom.

5 Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie.

6 Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê,

7 én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol.

8 Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.

9 Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10 Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.

Jesus verskyn eerste aan Maria

Magdalena

11 Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk.

12 Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant.

13 Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie.

15 Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”

Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”

16 Jesus sê vir haar: “Maria!”

Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken ‘Leermeester’.

17 Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.”

18 Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!”

Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Jesus wys aan sy dissipels sy

hande en sy sy

19 Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20 Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien.

21 “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees!

23 Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”

Tomas wil eers self sien en voel

voordat hy sal glo

24 Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie.

25 Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.”

26 Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!”

27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!”

28 Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!”

29 Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.”

Die doel met die Evangelie

volgens Johannes

30 Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie.

31 Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.