JOHANNES 1

1 Die Woord … self God!

Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.

Die Woord was by God,

en die Woord was self God.

2 Hy was reeds in die begin

by God.

3 Alles het deur Hom ontstaan,

en sonder Hom het nie een ding

wat bestaan,

ontstaan nie.

4 In Hom was daar lewe,

en dié lewe het gedien as die lig

vir die mense.

5 Die lig skyn in die duisternis,

ja – die duisternis het dit nie

uitgedoof nie!

6 Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes.

7 Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo.

8 Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.

9 Hy wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld.

10 Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie.

11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.

12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

13 Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

15 Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”

16 Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

17 Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18 Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.

Johannes die Doper: ’n stem wat

roep in die woestyn

19 Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”

20 Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”

21 En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”

“Nee, ek is nie,” sê Johannes.

“Is jy dan die profeet?”

“Beslis nie!” het hy geantwoord.

22 Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”

23 Sy reaksie was:

“Ek is ’n stem

wat roep

in die woestyn:

‘Maak die pad van die Here

reguit.’”

Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.

24 Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.

25 Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”

26 Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie.

27 Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

28 Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God uitgewys

29 Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.

30 Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’

31 Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”

32 Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit.

33 Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’

34 Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”

Twee dissipels van Johannes die

Doper word Jesus se eerste

35 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels.

36 Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!”

37 Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg.

38 Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?”

Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit ‘leermeester’ – “waar gaan U tuis?”

39 Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.

40 Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.

41 Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”

42 Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’vertaal word) genoem word.”

43 Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg my!”

44 Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp.

45 Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.”

46 Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi.

47 Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.”

48 Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?”

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.”

49 Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50 Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51 Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”

JOHANNES 2

Jesus verander water in wyn by

’n bruilof

1 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana, in die Galilea-gebied. Jesus se ma het dit bygewoon

2 en Hy en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi.

3 Toe die wyn opraak, sê Jesus se ma vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4 Jesus se reaksie was: “Wat het dit met My en jou te doen, Vrou? My tyd het nog nie gekom nie.”

5 Sy ma sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle gaan doen.”

6 Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het. Elkeen het ongeveer 100 liter gehou.

7 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water!”

Hulle het dit tot heel bo vol gemaak.

8 Toe sê Jesus ook nog vir hulle: “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen.

9 Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het wel geweet.)

10 Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom: “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor, en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte; jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11 Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in Galilea, gedoen. Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ’n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.

12 Hierna het Jesus, sy ma, broers en dissipels na Kapernaum toe vertrek waar hulle vir ’n kort tyd gebly het.

Jesus maak die tempel skoon

13 Dit was naby die tyd van die Paasfees van die Jode, en Jesus het daarvoor Jerusalem toe gegaan.

14 In die tempelgebied het Hy die smouse met hulle beeste, skape en duiwe aangetref, asook die geldwisselaars by hulle tafels.

15 Met toutjies het Jesus toe ’n sweep gevleg en almal uit die tempelgebied verjaag, ook die skape en beeste. Hy het die geldstukke van die geldwisselaars op die grond uitgegooi en hulle tafels omgekeer.

16 En vir die smouse wat die duiwe verkoop het, het Jesus gesê: “Vat hierdie goed dadelik weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie!”

17 Jesus se dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die ywer vir u huis brand in my binneste.”

18 Die Jode het daarop reageer: “Oor watter wonderteken beskik jy om te bewys dat jy hierdie dinge mag doen?”

19 Jesus het hulle geantwoord: “Sloop hierdie tempel en in drie dae sal Ek dit weer oprig.”

20 Die Jode kap toe heftig terug: “Daar is vir 46 jaar lank aan hierdie tempel gebou, en jy sal dit binne drie dae weer oprig?”

21 Hy het egter oor die tempel van sy liggaam gepraat.

22 Toe Hy eers uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het en hulle het die Skrif en die woorde geglo wat Jesus gesê het.

23 Terwyl Jesus tydens die viering van die Paasfees in Jerusalem was, het baie mense in Hom begin glo toe hulle die wondertekens sien wat Hy gedoen het.

24 Jesus self het egter nie op hulle staatgemaak nie omdat Hy alle mense ken.

25 Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom oor die mens sou inlig nie, want Hy het self kennis gedra van wat in ’n mens aangaan.

JOHANNES 3

Nikodemus besoek Jesus in die

nag

1 Daar was ’n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, ’n leier onder die Jode.

2 Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. Niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen as God nie met hom is nie.”

3 Jesus het daarop reageer: “Ek verseker jou, as iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4 Nikodemus vra toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n bejaarde is? Hy kan tog nie vir ’n tweede keer in sy ma se skoot gaan en gebore word nie?”

5 Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.

6 Wat uit ’n menslike liggaam gebore is, is menslik, en wat uit die Gees gebore is, is gees.

7 Moenie verwonderd wees dat Ek vir jou gesê het julle moet van bo gebore word nie.

8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9 Nikodemus reageer toe en vra Hom: “Hoe is dit moontlik dat hierdie dinge gebeur?”

10 Jesus antwoord hom: “Jy is die leermeester van Israel en jy is nie vertroud met hierdie dinge nie?

11 Ek verseker jou, ons praat waaroor ons kennis het, en ons getuig oor wat ons gesien het, en ten spyte daarvan aanvaar julle tog nie ons getuienis nie.

12 As Ek julle oor die alledaagse dinge ingelig het, en julle My nie glo nie, hoe sal julle ooit glo as Ek julle van die hemelse dinge vertel?

13 Niemand het nog na die hemel toe opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, en dit is Ek, die Seun van die Mens.

14 Net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, só moet die Seun van die Mens verhoog word

15 sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê.

16 “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

19 Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.

20 Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.

21 Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”

Johannes die Doper getuig dat

hy nie self die Messias is nie

22 Hierna het Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek. Hy het daar saam met die dissipels oorgebly en mense gedoop.

23 Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop.

24 Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie.

25 Daar het toe ’n meningsverskil oor reinigingsgebruike ontstaan tussen Johannes se dissipels en ’n Joodse man.

26 Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, die man wat aan die oorkant van die Jordaanrivier saam met u was, oor wie u getuig het, Hy doop ook en almal stroom na Hom toe.”

27 Johannes het daarop reageer: “’n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie.

28 Julle self is my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Messias nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’

29 Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap.

30 Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem.

31 “Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit.

32 Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie.

33 Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur verseël dat God regtig God is.

34 Hóm het God gestuur om die woorde van God mee te deel, want God gee Hom sy Gees sonder om dit af te meet.

35 Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee.

36 Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.”

JOHANNES 4

Jesus in gesprek met ’n

Samaritaanse vrou

1 Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes.

2 (Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.)

3 Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek.

4 Hy moes deur Samaria reis.

5 Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het.

6 Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7 ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.”

8 Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop.

9 Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie.

10 Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”

11 Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water?

12 Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.”

13 Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word.

14 Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.”

15 Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.”

16 Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.”

17 Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.”

Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’

18 Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”

19 Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is.

20 Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.”

21 Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

22 Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode.

23 Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid.

24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

25 Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.”

26 Toe sê Jesus vir haar: “Ék is hy – Ek wat nou met jou praat!”

27 Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie.

28 Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê:

29 “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?”

30 Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom.

31 Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.”

32 Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.”

33 Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?”

34 Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.

35 Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.

36 Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.

37 In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’

38 Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”

Baie Samaritane glo in Jesus

39 Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”

40 Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly.

41 Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo.

42 Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”

Jesus maak die seun van ’n

koninklike amptenaar gesond

43 Na twee dae het Jesus daarvandaan na Galilea toe vertrek.

44 Hy het self plegtig verklaar dat ’n profeet nie in sy eie vaderland geëer word nie.

45 Toe Jesus in Galilea aankom, het die Galileërs Hom hartlik ontvang. Hulle het al die dinge gesien wat Hy gedurende die fees in Jerusalem gedoen het, want hulle was self ook by die fees.

46 Jesus het toe weer ’n keer in Kana, in Galilea, aangekom waar Hy vroeër die water in wyn verander het. In Kapernaum was daar ’n sekere koninklike amptenaar wie se seun ernstig siek was.

47 Toe hy hoor dat Jesus uit Judea in Galilea aangekom het, het hy vinnig na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om te kom en die seun te genees, want hy was reeds sterwend.

48 Jesus het toe vir hom gesê: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit tot geloof kom nie.”

49 Die koninklike amptenaar sê toe vir Hom: “Meneer, kom asseblief voordat my seuntjie sterf.”

50 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan terug, jou seun lewe.” Die man het Jesus op sy woord geneem en dadelik vertrek.

51 Sommer nog terwyl hy op pad was, het die slawe hom tegemoetgegaan en gesê dat sy seun leef.

52 Hy vra hulle toe uit na die uur waarop sy seun begin beter word het. En hulle antwoord hom: “Gister, teen eenuur die middag, het die koors hom verlaat.”

53 Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo.

54 Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy uit Judea in Galilea aangekom het.

JOHANNES 5

’n Verlamde man loop weer

1 Hierna het daar ’n groot fees van die Jode plaasgevind. Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan.

2 By Skaappoort in Jerusalem is daar ’n waterbad wat in Hebreeus Betesda genoem word. Dit het vyf onderdakpilaargange gehad

3 waar daar ’n menigte gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.

5 Onder hulle was daar ’n sekere persoon wat al 38 jaar lank siek was.

6 Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd al siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”

7 Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in.”

8 Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop!”

9 Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en begin loop. Op daardie dag was dit die Sabbat.

10 Die Jode sê toe vir die man wat so pas gesond geword het: “Dit is ’n Sabbat; daarom mag jy nie jou slaapmatjie dra nie.”

11 Hy antwoord hulle egter: “Die man wat my gesond gemaak het, dit is hý wat vir my gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop.’”

12 Hulle vra hom: “Wie is die persoon wat vir jou gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop’?”

13 Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit is nie, want Jesus het weggegaan omdat daar ’n groot skare op die plek saamgedrom het.

14 Hierna loop Jesus hom toe in die tempel raak en sê vir hom: “Kyk, jy is genees. Moenie verder sonde gaan doen nie sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

15 Die man het toe vir die Jode gaan vertel dat Jesus die Een is wat hom gesond gemaak het.

Jesus is werklik die Seun van God

16 Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het.

17 Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.”

18 Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel.

19 Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so.

20 Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan.

21 Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil.

22 Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat.

23 Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

25 Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe.

26 Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê.

27 Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is.

28 Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor

29 en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word.

30 Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”

Ook die Vader getuig van Jesus

31 “As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie.

32 Daar is Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, eg is.

33 Julle het mense na Johannes toe gestuur en sy getuienis was die waarheid.

34 Ek hou nie vas aan die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle verlos kan word.

35 “Hý was die lamp wat gebrand en helder geskyn het, en julle was gewillig om julle vir ’n uur in sy lig te verbly.

36 Ek beskik egter oor getuienis wat swaarder weeg as dié van Johannes. Die werk wat die Vader vir My gegee het om klaar te maak, dit is die werk waarmee Ek nou besig is; dit getuig ook oor My dat die Vader My gestuur het.

37 Die Vader wat My gestuur het, dit is Hy wat oor My getuig het. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy persoon het julle ook nog nie gesien nie.

38 En julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.

39 Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig.

40 Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie.

41 “Ek ontvang nie eer van mense af nie,

42 maar Ek ken julle en weet dat julle nie die liefde vir God in julle koester nie.

43 Ek het hiernatoe gekom in die Naam van my Vader, maar julle ontvang My nie. As iemand anders in sy eie naam sou kom, sal julle daardie persoon ontvang.

44 Hoe kan julle in My glo terwyl julle onder mekaar eer ontvang, en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie?

45 Moenie dink dat dit Ek is wat julle aankla by die Vader nie. Dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat die aanklaer is.

46 As julle Moses maar vertrou het, sou julle in My geglo het, want dit is oor Mý dat hy geskryf het.

47 As julle egter nie glo in wat hy geskryf het nie, hoe sal julle ooit in my woorde glo?”

JOHANNES 6

Meer as vyfduisend mense kry

genoeg kos

1 Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word.

2 ’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het.

3 Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit.

4 Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode.

5 Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?”

6 Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen.

7 Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.”

8 Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus:

9 “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?”

10 Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000.

11 Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê.

12 Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.”

13 Hulle het dit toe bymekaargemaak en twaalf mandjies vol gemaak met oorskietstukke van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14 Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hierdie man is regtig die profeet, die Een wat na die wêreld toe sou kom.”

15 Jesus het egter agtergekom dat hulle op die punt staan om Hom te gryp om Hom koning te maak. Hy het toe weer die berg uitgeklim, net Hy alleen.

Jesus loop op die water

16 Toe dit skemeraand geword het, het Jesus se dissipels na die meer toe gegaan,

17 in ’n boot geklim en na die oorkant van die meer, na Kapernaum toe begin vaar. Dit was al goed donker, maar Jesus het nog nie by hulle aangesluit nie.

18 En die meer self het onstuimig gedein as gevolg van ’n sterk wind wat gewaai het.

19 Toe hulle ongeveer vyf of ses kilometer weg geroei het, sien hulle Jesus op die water loop tot baie naby aan die boot, en hulle het vreesbevange geword.

20 Jesus sê egter vir hulle: “Dit is Ek, hou op bang wees.”

21 Hulle was gretig om Hom in die skuit te neem en die boot het onmiddellik by die oewer aangekom waarheen hulle gevaar het.

Jesus is die brood wat lewe gee

22 Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het.

23 Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is.

24 Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus.

25 Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?”

26 Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.

27 Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.”

28 Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?”

29 Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”

30 Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons?

31 Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’”

32 Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee.

33 “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.”

34 Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.”

35 Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie.

36 Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie.

37 Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie.

38 Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

39 Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan.

40 “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”

41 Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.”

42 Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?”

43 Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie.

44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek.

45 In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe.

46 Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien.

47 “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe.

48 Ek is die brood wat lewe gee.

49 Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf.

50 Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie.

51 Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.”

52 Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?”

53 Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie.

54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek.

55 My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank.

56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom.

57 “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe.

58 “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”

59 Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.

Baie van Jesus se dissipels sien

nie meer kans om Hom te volg

60 Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?”

61 Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot?

62 Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was?

63 Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe.

64 En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.)

65 Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.”

66 Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie.

67 Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?”

68 Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.

69 Ons is daarvan oortuig en weet dat U die Heilige van God is.”

70 Jesus het daarop teenoor hulle reageer: “Het Ek dan nie self julle twaalf uitgesoek nie? Maar een van julle is ’n duiwel!”

71 Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.

JOHANNES 7

Jesus se eie broers glo nie in

Hom nie

1 Hierna het Jesus in Galilea rondbeweeg. Hy wou nie in Judea rondgaan nie omdat die Jode Hom daar gesoek het om Hom dood te maak.

2 Die Joodse Huttefees was op hande.

3 Jesus se broers het toe vir Hom gesê: “Gaan tog ’n slag hiervandaan na Judea toe sodat jou dissipels daar ook die wonderdade kan sien wat jy doen.

4 Niemand wat op die voorgrond wil wees, doen enigiets in die geheim nie. As jy dan hierdie dinge doen, gaan maak jou openlik voor al die mense bekend.”

5 Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie.

6 Jesus sê toe vir hulle: “My regte geleentheid het nog nie gekom nie, maar julle geleentheid is altyd voor hande.

7 Die mensdom kan julle nie haat nie, maar hy haat My omdat Ek openlik oor hom getuig het dat sy optredes boos is.

8 Gaan julle gerus fees toe. Ek gaan beslis nog nie na hierdie fees toe nie omdat my regte geleentheid nog nie gekom het nie.”

9 Jesus het hulle hierdie dinge meegedeel en Hy het in Galilea agtergebly.

Jesus eis billike beoordeling

10 Jesus se broers het na die fees toe gegaan. Hy het toe later ook self gegaan, nie openlik nie, maar in die geheim.

11 Die Jode het by die fees na Jesus gesoek en gevra: “Waar is daardie man?”

12 Daar was onder die skare sommer baie bespiegeling oor Jesus. Sommige het gesê dat Hy ’n goeie mens is. Ander het nie saamgestem nie, maar gesê dat Hy die skare mislei.

13 Niemand het egter openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Joodse leiers.

14 Halfpad deur die feesvierings het Jesus na die tempel toe gegaan en mense onderrig.

15 Die Joodse leiers was erg ontsteld en het gesê: “Hoe is dit dat hierdie man soveel geleerdheid het alhoewel hy nie studeer het nie?”

16 As antwoord het Jesus gesê: “My onderrig is nie my eie nie, maar van Hom wat My gestuur het.

17 As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat.

18 Wie uit sy eie praat, strewe na sy eie eerbetoning; maar Hy wat die eerbetoning nastreef van God wat Hom gestuur het, Hy is eg en in Hom is geen valsheid nie.

19 Het Moses dan nie die wet aan julle gegee nie? En tog voer niemand onder julle die wet uit nie. Waarom soek julle ’n geleentheid om My dood te maak?”

20 Die skare het geantwoord: “Jy is in die mag van ’n bose gees! Wie soek ’n geleentheid om jou dood te maak?”

21 Jesus het daarop reageer: “Ek het net een ding gedoen en julle almal is ontsteld.

22 Vanweë die feit dat Moses aan julle die besnydenis gegee het – eintlik is dit nie van Moses afkomstig nie, maar van die voorvaders – besny julle selfs op ’n Sabbat ’n mens.

23 As iemand op ’n Sabbat die besnydenis ontvang met die doel om nie die wet van Moses te verbreek nie, waarom is julle dan oor My ontstoke omdat Ek op ’n Sabbat ’n hele mens gesond gemaak het?

24 Hou op oordeel net op wat julle sien; oordeel billik.”

Jesus doen Messias-

wondertekens

25 Sommige van die inwoners van Jerusalem het opgemerk: “Is hy nie die persoon wat hulle soek om dood te maak nie?

26 Kyk net, hy is besig om in die openbaar te praat en hulle sê niks teen hom nie. Het die leiers nie miskien tereg tot die besef gekom dat hy die Messias is nie?

27 Maar hoe is dit moontlik? Ons weet mos waar hierdie man vandaan kom; wanneer die Messias ook al kom, weet niemand waarvandaan Hy kom nie.”

28 Terwyl Jesus besig was om in die tempel onderrig te gee, het Hy uitgeroep en gesê: “Julle ken My en julle weet waarvandaan Ek kom! Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware Een wat My gestuur het. Hom herken julle nie.

29 Ek ken Hom omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.”

30 Hulle het toe pogings aangewend om Hom te arresteer, maar niemand het ’n hand op Hom gelê nie omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

31 Baie mense uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Messias ook al kom, sal Hy sekerlik nie méér wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie.”

32 Die Fariseërs het gehoor dat die skare so oor Hom bespiegel. Hulle en die priesterhoofde het toe wagte gestuur om Hom te arresteer.

33 Jesus het egter reageer: “Ek is net vir ’n kort tydjie nog by julle; dan gaan Ek terug na Hom wat My gestuur het.

34 Julle sal My soek en My nie kry nie, en waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie.”

35 Toe het die Joodse leiers vir mekaar gesê: “Waarheen beplan hierdie man om te gaan dat ons hom nie sou kry nie? Hy beplan tog nie om na die verstrooide Jode onder die Griekssprekendes te gaan en om daar die Grieke te gaan onderrig nie?

36 Wat beteken die uitdrukking as Hy sê: ‘Julle sal My soek, maar nie kry nie, want waar Ek My dan bevind, kan julle nie kom nie’?”

Die klimaks op die laaste dag

van die fees

37 Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.

38 Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

39 Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Vrae oor wie Jesus is

40 Die mense uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het opgemerk: “Hierdie man is regtig die Profeet.”

41 Ander het gesê: “Hierdie man is die Messias.” En nog ander het gesê: “Die Messias kom tog nie uit Galilea nie?

42 Het die Skrif dan nie gesê dat die Messias uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid, sou kom nie?”

43 Onder die skare het daar toe verdeeldheid oor Jesus gekom.

44 Sommige van die mense het Hom selfs probeer arresteer, maar niemand het aan Hom geraak nie.

45 Gevolglik het die wagte na die priesterhoofde en die Fariseërs toe teruggegaan en dié het vir hulle gesê: “Waarom het julle Hom nie saamgebring nie?”

46 Die wagte het geantwoord: “Nog nooit het ’n mens só gepraat soos hierdie man nie.”

47 Die Fariseërs antwoord hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie?

48 Het iemand uit die geledere van die leiers of uit die Fariseërs miskien tot geloof in Hom gekom?

49 Nee, dit is net hierdie skare mense wat nie vertroud is met die wet nie; vervloek is hulle!”

50 Nikodemus, wat Jesus vroeër opgesoek het, een uit hulle kring, sê toe vir hulle:

51 “Ons wet veroordeel nie ’n mens as ons nie eers na hom geluister het en agtergekom wat hy doen nie.”

52 Hulle het dadelik reageer: “Jy kom tog nie ook uit Galilea nie? Gaan doen navorsing en jy sal sien dat daar nog geen profeet uit Galilea na vore tree nie.”

53 Elkeen het toe na sy huis toe gegaan.

JOHANNES 8

Die vrou wat op heterdaad

betrap is

1 Jesus het egter na die Olyfberg toe gegaan.

2 Teen dagbreek die volgende oggend het Jesus weer na die tempel toe gekom en die hele volk het na Hom toe gestroom. Hy het toe gaan sit en hulle onderrig.

3 Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op die daad van owerspel betrap is, en laat haar tussen hulle staan.

4 Hulle sê vir Hom: “Leermeester, hierdie vrou is betrap terwyl sy besig was met ’n daad van owerspel.

5 Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?”

6 Dit het hulle net gesê om Hom te toets sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla. Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf.

7 Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.”

8 Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf.

9 Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde. Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in hulle midde staan.

10 Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?”

11 Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Jesus is die lig vir ’n mensdom

in duisternis

12 Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

13 Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.”

14 Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie.

15 Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie.

16 As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.

17 In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is.

18 Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.”

19 Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou Vader?”

Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.”

20 Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie.

Ongelowiges sterf in hulle sonde

21 Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde doodgaan. Waarheen Ek gaan, kan julle nie nou kom nie.”

22 Die Jode het reageer: “Hy gaan tog nie Homself om die lewe bring nie – omdat Hy sê: ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie’?”

23 Toe het Hy vir hulle gesê: “Julle is van hieronder. Ek is van daarbo. Julle het julle oorsprong uit hierdie wêreld; Ek het my oorsprong nie uit hierdie wêreld nie.

24 Daarom het Ek vir julle gesê dat julle sal sterf in julle sondes, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes doodgaan.”

25 Hulle vra Hom: “Wie is jy nou eintlik?”

Jesus se antwoord was: “Wat het Ek vir julle gesê van die heel begin af?

26 Ek het baie oor julle te sê, en ’n oordeel oor julle uit te spreek, maar Hy wat My gestuur het, is eg en wat Ek by Hom gehoor het, dit deel Ek aan die wêreld mee.”

27 Hulle het nie verstaan dat Hy besig was om die Vader met hulle te bespreek nie.

28 Jesus het daarop vir hulle gesê: “Eers as julle My, die Seun van die Mens, verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is; en dat Ek uit my eie niks doen nie, maar net praat soos die Vader My onderrig het.

29 Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie verlaat nie omdat Ek altyd die dinge doen waarvan Hy hou.”

30 Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het daar baie mense in Hom begin glo.

Ware afstamming van Abraham

31 Toe het Jesus vir die Jode wat tot geloof in Hom gekom het, gesê: “As julle in ’n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers;

32 en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

33 Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die afstammelinge van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe sê jy dan: ‘Julle sal bevry word’?”

34 Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat aanhou sonde doen, is ’n slaaf van die sonde.

35 Die slaaf bly tog nie vir altyd in die huis nie; die seun bly wel vir altyd.

36 As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.

37 Ek is daarvan bewus dat julle die afstammelinge van Abraham is. En tog beywer julle julle om My dood te maak omdat julle nie my boodskap wil aanvaar nie.

38 Ek praat oor wat Ek by mý Vader gesien het; en julle doen wat julle by júlle pa gehoor het.”

39 Hulle het daarop reageer: “Abraham is ons pa.”

Jesus antwoord hulle: “As julle ware kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het.

40 En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.

41 Julle doen net wat júlle pa gedoen het.”

Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net een Vader, en dit is God.”

42 Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur.

43 Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie.

44 Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is.

45 Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie.

46 Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie?

47 Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.”

48 Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is nie?”

49 Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie, en Ek eer my Vader, maar julle onteer My.

50 Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis.

51 Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.”

52 Die Jode se reaksie was: “Nou weet ons verseker dat jy in die mag van ’n bose gees is. Abraham en die profete het reeds gesterf; nietemin sê jy: ‘As iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.’

53 Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat reeds gesterf het nie? En die profete is ook reeds dood. As wie bied jy jouself aan?”

54 Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, oor Wie julle sê: ‘Hy is ons God,’

55 maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom. As Ek sê: ‘Ek ken Hom nie,’ sal Ek net soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en Ek gehoorsaam sy woorde.

56 Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag; en hy het dit gesien en was verheug.”

57 Die Jode het toe reageer: “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”

58 Jesus het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.”

59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee dood te gooi. Jesus het hulle egter ontwyk en uit die tempelgebied padgegee.

JOHANNES 9

Jesus maak ’n man wat blind

gebore is, gesond

1 Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was.

2 Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

3 Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.

4 Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie.

5 Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

6 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak

7 en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!

8 Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?”

9 Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.”

Die man het toe self reageer: “Dit is ék!”

10 Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?”

11 Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!”

12 “Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra.

“Ek weet nie,” het hy geantwoord.

13 Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem.

14 Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het.

15 Die Fariseërs het hom weer ’n keer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.”

16 Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan.

17 Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?”

Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.”

18 Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep

19 en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?”

20 “Ons bevestig dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord.

21 “Hoe hy egter nou sien, weet ons nie. Wie sy oë oopgemaak het, weet ons ook nie. Vra hom liewer self; hy is oud genoeg; hy kan namens homself praat.”

22 Sy ouers het hierdie dinge gesê omdat hulle bang was vir die Joodse leiers. Die Joodse leiers het toe reeds onder mekaar beraadslaag en besluit dat iemand wat bely dat Jesus die Messias is, uit die sinagoge geban moes word.

23 Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”

24 Die Jode het die man wat blind was, vir ’n tweede keer nadergeroep en vir hom gesê: “Gee erkenning aan God; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.”

25 Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!”

26 Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?”

27 Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?”

28 Hulle het hom uitgeskel en gesê: “Jý is ’n dissipel van daardie man. Óns is dissipels van Moses.

29 Ons weet definitief dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons het geen idee waarvandaan hy kom nie.”

30 Die man wat blind was, sê toe vir hulle: “Dis tog merkwaardig. Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, maar hy het my oë oopgemaak.

31 Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon.

32 Van ewigheid af is nog nooit gehoor dat enigiemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie.

33 As hierdie man nie van God af was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34 Hulle het daarop reageer: “Jy is geheel en al in sonde gebore, en wil jý ons nou kom onderrig?” Hulle het hom toe uit die sinagoge geban.

Geestelike blindheid erger as

liggaamlike blindheid

35 Jesus het gehoor dat hulle die geneesde blinde uit die sinagoge geban het, en toe Hy hom raakloop, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die Mens?”

36 Die man het geantwoord: “Wie is hy, Meneer, sodat ek in hom kan glo?”

37 Jesus het vir hom gesê: “Jy staan en kyk na Hom; die Een wat met jou praat, dis Hy!”

38 Die man het gesê: “Ek glo, Here!” En hy het in aanbidding voor Jesus neergeval.

39 Toe het Jesus gesê: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om te oordeel, sodat dié mense wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, hulle blindheid kan ontdek.”

40 Van die Fariseërs wat by Jesus was, het vir Hom gesê: “Ons is tog nie blindes nie!”

41 Jesus het hulle geantwoord: “As julle blindes was, sou julle nie sonde gehad het nie; maar nou beweer julle julle kan sien. Daarom bly julle sonde staan.”

JOHANNES 10

Skape wat die stem van die

Goeie Herder ken, volg Hom

1 “Ek verseker julle, iemand wat nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie, maar van die ander kant af oorklim, is ’n dief en ’n rower.

2 Iemand wat egter deur die hek toegang verkry, is die herder van die skape.

3 Vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle name en lei hulle uit.

4 Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit, en die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken.

5 ’n Vreemdeling sal hulle glad nie volg nie, maar van hom af wegvlug omdat hulle nie die vreemdeling se stem herken nie.”

6 Hierdie beeld het Jesus vir hulle vertel. Hulle kon egter nie insien wat Hy vir hulle wou sê nie.

7 Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape.

8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie.

9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.

10 Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.

11 “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape.

12 ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle.

13 Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie.

14 Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My,

15 net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape.

16 Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.

17 “Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem.

18 Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”

19 Daar het toe nog meer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde van Jesus.

20 Baie uit hulle geledere het gesê: “Hy is in die mag van ’n bose gees en hy is mal. Waarom luister julle nog na hom?”

21 Ander het gesê: “Hierdie woorde is nie dié van iemand wat in die mag van ’n bose gees is nie. ’n Bose gees kan tog nie blindes se oë oopmaak nie?”

Jesus verduidelik dat Hy en sy

Vader één is

22 Op daardie tydstip was dit die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter.

23 Jesus het rondgestap in die tempelgebied, in die pilaargang van Salomo.

24 Die Joodse leiers het toe ’n kring om Jesus gevorm en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan jy ons nog aan ’n lyntjie hou? As jy die Messias is, sê dit vir ons padlangs.”

25 Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie

26 omdat julle nie van my skape is nie.

27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.

28 Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.

29 My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.

30 Ek en die Vader is één.”

31 Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig.

32 Jesus het hulle geantwoord: “Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?”

33 Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.”

34 Jesus het hulle nog ’n keer geantwoord: “Is dit nie in julle wet opgeteken dat God gesê het: ‘Julle is gode’ nie?

35 As daardie mense wat God se boodskap ontvang het, gode genoem word – en die Skrif kan nie verbreek word nie –

36 hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?

37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo.

38 Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

39 Hulle het weer ’n nuwe poging aangewend om Jesus te arresteer, maar Hy het hulle ontduik.

40 Hy het weer teruggegaan na die omgewing oorkant die Jordaan waar Johannes aanvanklik gedoop het, en daar oorgebly.

41 Baie mense het na Jesus toe gekom en gesê: “Johannes het geen wonderteken gedoen nie, maar al die dinge wat Johannes oor hierdie man gesê het, was die waarheid.”

42 En baie mense het op daardie plek in Jesus begin glo.