JOËL 1

1 Joël was die seun van Petuel. Hy het die volgende boodskap van die Here ontvang.

Treur oor die sprinkaanplaag!

2 Luister, leiers van die volk! Ook al julle inwoners van die land, luister hierna! Het so iets al vantevore in julle geskiedenis gebeur?

3 Vertel dit vir julle kinders en julle kleinkinders en hulle weer vir geslagte wat nog kom.

4 Snysprinkane het die oes kom opvreet. Wat oorgebly het, het die swerm sprinkane verder verorber. Ná hulle het die jong sprinkane gekom, en wat hulle nog oor gelos het, het nog ’n swerm kom opvreet!

5 Word wakker, al julle dronklappe! Huil! Al julle druiwe is tot niet, julle nuwe wyn is vir julle verlore!

6 ’n Verskriklike groot en magtige nasie het my land ingeval. Die nasie se tande is so skerp soos dié van leeus!

7 Hulle het my wingerde en vyebome vernietig. Hulle het die bas afgetrek en die wit, kaalgestroopte takke weggegooi.

8 Treur soos ’n jong meisie wat huil oor die dood van haar bruidegom.

9 Daar is nie graan of wyn om by die tempel van die Here te offer nie. Die priesters wat diens doen vir die Here treur daaroor.

10 Die weiding is verwoes, die aarde in ’n jammerlike toestand. Die koring, die wyn en die olywe is alles tot niet.

11 Gee moed op, julle saaiboere! Kla, wynboere! Die koring en die gars – om die waarheid te sê, die hele oes – is vernietig.

12 Die wingerde en die vyebome het verdroog en verdor. Die granaatbome, palmbome en die appelbome, al die vrugtebome het verdroog. Alle blydskap het daarmee saam verdwyn.

13 Trek rouklere aan en treur, priesters! Huil, julle wat diens doen by die altaar! Julle wat in diens van my God is, kom met julle rouklere aan en bring die nag hier deur! Daar is nie graan of wyn om te offer by die tempel van julle God nie.

14 Kondig ’n vasdag aan. Roep die gemeente saam. Bring die leiers en al die inwoners van die land by die tempel van die Here julle God bymekaar. Roep tot die Here!

15 Die Dag van die Here is naby. Op dié dag sal die Almagtige verwoesting bring. O, wat ’n verskriklike dag!

16 Ons het toegekyk terwyl ons kos voor ons oë verdwyn. Blydskap en vreugde het uit die huis van ons God verdwyn.

17 Niks kom van die saad onder die kluite nie. Die skure en die meule staan leeg en verlate, want die koringoes het misluk.

18 Hoe bulk die beeste nie van die honger nie! Die vee maal verward rond, want daar is geen weiding meer vir hulle nie. Selfs die troppe skape ly onder die straf.

19 Here, ons God, help ons! Vuur het al ons weiding verbrand en die bome in die veld verskroei.

20 Selfs die wilde diere roep na U omdat hulle nie water het om te drink nie. Die stroompies het opgedroog en vuur het die weiding in die woestyn verteer.

JOËL 2

Sprinkane val die land binne

1 Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die Here kom en is naby.

2 Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie.

3 Voor die leër brand vuur en agter volg ’n brandende vlam. Voor hulle lê die land soos die Tuin van Eden, maar agter die leër is ’n verlate verwoesting gelaat. Niks kan hulle ontsnap nie.

4 Hulle lyk soos perde en hulle galop soos oorlogsperde.

5 Hulle klink soos strydwaens wat oor die heuweltoppe voortdreun! Hulle raas soos vuur wat ’n grasveld verteer of soos ’n magtige leër wat gereed is om oorlog te maak.

6 Angs oorweldig die mense; hulle gesigte is bleek van vrees.

7 Die dapper soldate storm vorentoe, soos opgeleide manskappe klim hulle oor die mure. Hulle marsjeer doelgerig vorentoe, niks laat hulle van hulle koers afwyk nie.

8 Hulle stamp nooit teen mekaar nie, elkeen bly op sy regte plek. Hulle bars deur die verdediging, geen wapen kan hulle stop nie.

9 Hulle oorval die stad en hardloop op die mure. Hulle val die huise binne, en klim soos diewe deur vensters.

10 Soos hulle voortbeweeg, skud die aarde en bewe die hemel. Die son en die maan verdonker en die sterre skyn nie meer nie.

11 Die Here roep hard uit terwyl Hy hulle lei. Hulle is sy magtige leër en gehoorsaam sy bevele. Die Dag van die Here is iets angswekkends, iets verskrikliks. Wie kan dit oorleef?

Kom terug na My toe!

12 Maar nou sê die Here: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur!

13 Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die Here julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie.

14 Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die Here julle God kan offer!

15 Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom.

16 Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die Here. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer.

17 Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”

’n Belofte van herstel

18 Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry.

19 Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie.

20 Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.”

Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!

21 Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen!

22 Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra.

23 Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die Here julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen.

24 Daar sal weer hope koring op die dorsvloere wees. Die parskuipe sal oorloop van wyn en olyfolie.

25 Die Here sê: “Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane, die snysprinkane, die swermsprinkane en die jong sprinkane verloor het. Ek het hierdie groot, vernietigende leër teen julle gestuur.

26 “Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.

27 Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die Here julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.”

Die Here beloof sy Gees

28 “Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien.

29 In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort.

30 “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme.

31 Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die Here aanbreek.

32 “Enige persoon wat tot die Here bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die Here gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die Here geroep het.”

JOËL 3

Oordeel oor vyandige nasies

1 Die Here sê: “Wanneer dié tyd aanbreek, sal Ek Juda en Jerusalem weer voorspoedig maak.

2 Ek sal al die nasies van die wêreld in die Josafatvallei bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle oordeel omdat hulle my volk kwaad aangedoen het. Hulle het Israel wat aan My behoort onder die nasies verstrooi en my land verdeel.

3 Hulle werp die lot om te besluit wie van my volk hulle slawe gaan wees. Hulle ruil jong seuns vir prostitute en jong dogters vir genoeg wyn om dronk te word.

4 “Wat het julle teen My, Tirus, Sidon en streke van die Filistyne? Probeer julle wraak neem op My? As dit die geval is, wees versigtig! Ek sal julle baie skielik tref en julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.

5 “Julle het my goud en my silwer gesteel. Julle het my kosbare skatte na julle heidense tempels toe weggedra.

6 Julle het die mense van Juda en Jerusalem aan die Grieke verkoop wat hulle ver van hulle eie land af weggeneem het.

7 “Maar Ek sal hulle terugbring uit al hierdie plekke waarheen julle hulle verkoop het. Dan sal Ek julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.

8 Ek sal julle seuns en julle dogters aan die mense van Juda verkoop, wat hulle weer aan die mense van die veraf land Arabië sal verkoop. Ek, die Here, sê dit!”

9 Sê aan die nasies: “Sonder julle af vir oorlog! Roep julle dapperste soldate op! Laat die krygsmanne uittrek vir die aanval!

10 Maak swaarde van julle ploegimplemente en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakkeling moet sê: ‘Ek is ’n dapper soldaat!’

11 Al julle nasies van die omringende omgewings, kom gou! Kom bymekaar in die Josafatlaagte.”

Here, bring u soldate af daarheen!

12 “Die nasies moet wapens opneem en na die Josafatlaagte toe optrek. Daar sal Ek oor al die nasies van die omgewing oordeel.

13 Steek die sekel in, want die oes is ryp. Kom trap, want die wynpers is vol. Die wynvate loop oor van al die onreg van hierdie mense.”

14 Derduisende mense wag in die laagte in afwagting vir die uitspraak. Dit is hier waar die Dag van die Here binnekort sal aanbreek.

15 Die son en maan sal verdonker. Die sterre sal nie meer skyn nie.

16 Die Here sal brul uit Sion, uit Jerusalem sal Hy bulder. Die hemel en die aarde sal begin skud. Maar vir die mense van Israel is die Here ’n skuilplek en ’n veilige vesting.

Voorspoed vir God se volk

17 “Julle sal dan weet dat Ek, die Here julle God, op Sion, my heilige berg, woon. Jerusalem sal altyd ’n heiligdom wees. Geen vreemdelinge sal meer daar deurtrek nie.

18 “In dié tyd sal soet wyn van die berge afdrup, melk sal teen die heuwels afvloei. Die droë spruite van Juda sal vol water wees. ’n Fontein sal in die tempel van die Here ontspring en die vallei van akasias natlei.

19 Egipte en Edom het die mense van Juda aangeval en onskuldige mense doodgemaak. As gevolg hiervan sal Egipte ’n verlate ruïne word en Edom ’n onbewoonbare woestyn.

20 “Maar Juda sal vir altyd bly voortbestaan. Jerusalem sal vir geslag na geslag daar wees.

21 Die oortredings van my volk wat Ek nog nie vergewe het nie, sal Ek vergewe. Ek, die Here, sal Jerusalem my blyplek maak.”