JOB 41

1 “Omdat die krokodil

so wreed is,

sal niemand dit waag

om hom wakker te maak nie.

Wie sal dan teenoor My

kan staan?

2 Wie wil dan aan My eise stel

dat Ek moet betaal?

Alles onder die hemel

behoort immers aan My.

3 “Ek wil nog praat

oor die krokodil se krag

en sy ontsaglike liggaamsbou

en sierlike vorm.

4 Wie kan sy vel aftrek?

Wie kan sy dik pantser

deurboor?

5 Wie waag om sy bek

oop te ruk?

Sy verskriklike tande

maak jou bang!

6 Sy skubbe vorm ’n skild

op sy rug, dig aaneengeskakel.

7 Hulle is so dig opmekaar;

geen lug kom daardeur nie.

8 Hulle sluit so dig opmekaar;

hulle skakel inmekaar

en kan nie geskei word nie.

9 As hy nies, flits daar ligte.

Sy oë

is rooi soos die oggendson.

10 Vuur kom uit sy bek

vonke skiet daaruit.

11 Rook kom uit sy neusgate

soos stoom

uit ’n kokende pot op ’n vuur.

12 Sy asem

steek vure aan die brand.

Vlamme kom uit sy bek.

13 Sy nek is baie sterk.

Almal staan verskrik

as hulle hom sien.

14 Sy vleis is ferm saamgepak.

Dit is hard,

jy kan dit nie beweeg nie.

15 Sy hart is so hard soos klip,

net soos ’n meulsteen.

16 Sterkes vlug as hy opstaan,

vervul met vrees wanneer hy

beweeg.

17 Geen swaard kan hom stop nie,

nóg spies, nóg pyl

of skerp harpoen.

18 Yster is vir hom soos strooi,

en brons

soos hout wat verrot.

19 Hy vlug nie vir ’n pyl nie.

Klippe uit ’n slingervel

is vir hom soos strooi.

20 ’n Knopkierie

doen niks aan hom nie.

Hy lag vir ’n werpspies

wat hom tref.

21 Sy pens is bedek met skubbe

so skerp soos glas.

Dit laat ’n spoor

soos ’n dorsslee

in die grond.

22 Hy laat die diep water kook

soos in ’n pot.

Hy roer die see soos ’n pot salf.

23 Agter hom lê ’n blink streep

op die water.

Die see word wit van die skuim.

24 Daar is geen skepsel

so vreesloos soos hy

op die hele aarde nie.

25 Hy is ’n trotse skepsel,

die koning van die diere.”

JOB 42

Job antwoord die Here

1 Job het die Here

geantwoord:

2 “Ek weet nou

U kan enigiets doen,

en niemand kan U keer nie.

3 U vra:

‘Wie waag dit om in sy onkunde

my wysheid te bevraagteken?’

Dit was ek.

Ek het gepraat oor dinge

sonder begrip,

dinge wat te wonderlik is vir my.

4 “U het gesê:

‘Luister, want Ek wil praat!

Ek sal jou vra,

en jy moet My antwoord.’

5 Tot nou toe

het ek net met my ore

van U gehoor,

maar nou het ek U

met my eie oë gesien.

6 Nou verag ek myself

en het berou in stof en as.”

Gevolgtrekking: Die Here seën

Job

7 Nadat die Here klaar met Job gepraat het, het Hy vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende. Julle het nie wat reg is oor My gepraat soos my dienaar Job nie.

8 “Daarom, vat nou sewe jong bulle en sewe ramme, gaan na my dienaar Job en bring ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid. Ek sal sy gebed vir julle aanvaar. Ek sal julle nie behandel soos julle verdien nie. Julle het nie wat reg is oor My gesê soos my dienaar Job nie.”

9 Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here beveel het, en die Here het Job se gebed verhoor.

10 Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here hom weer voorspoedig gemaak. Trouens, die Here het hom twee keer soveel gegee as wat hy voorheen gehad het.

11 Toe het al sy broers en susters en almal wat hom voorheen geken het, gekom en saam met hom in sy huis feesgevier. Hulle het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Hulle het elkeen vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee.

12 Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste. Hy het 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 spanne osse en 1 000 donkies gekry.

13 Hy het ook vir hom sewe seuns en drie dogters gegee.

14 Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk.

15 In die hele land was daar nêrens vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf.

16 Job het nog 140 jaar gelewe. Hy het sy kinders en kleinkinders gesien, tot in die vierde geslag.

17 Job het ná ’n vol lewe op ’n hoë ouderdom gesterf.