JOB 21

Job praat ’n sewende keer

wanneer hy Sofar antwoord

1 Job het weer gepraat:

2 “Luister goed na wat ek sê.

Julle vertroos my al klaar

as julle dit doen.

3 Verdra my en laat my praat.

As ek klaar is,

kan julle my spot!

4 “Ek kla God aan, nie mense nie.

Daarom is ek so ongeduldig!

5 Kyk na my en staan verstom.

Hou jou hand

oor jou mond van skok.

6 As ek dink aan wat ek kwytraak,

bewe ek.

My hele lyf bewe.

7 Die waarheid is:

goddeloses word stokoud!

Hulle word ryk en beroemd.

8 Hulle sien hoe hulle kinders

volwassenheid bereik,

en geniet hulle kleinkinders.

9 Hulle huise is veilig;

daar is niks wat hulle vrees nie.

God straf hulle ook nie.

10 Hulle bulle dek al die koeie.

Hulle koeie kalf

en het geen misgeboorte nie.

11 Hulle kinders

spring vrolik rond

soos lammetjies,

hulle dans oral rond.

12 Hulle sing saam

met tamboeryn en lier.

Hulle is vrolik

terwyl die fluit speel.

13 Hulle leef in voorspoed

en gaan na die graf in vrede

14 en dit terwyl hulle vir God sê:

‘Gaan weg!

Ons wil niks met U

te doen hê nie.

15 Wie is die Almagtige

dat ons Hom sou

gehoorsaam?

Watter nut is daarin

om tot Hom te bid?’

16 Maar hulle voorspoed

hang nie af van hulleself nie.

Daarom kan ek nie saamstem

met hoe hulle dink

oor die lewe nie.

17 “Die lewenslig van die goddelose

word egter nooit gedoof nie.

Hulle kry selde swaar.

As God oordeel uitdeel,

gaan Hy by hulle verby.

18 Die wind jaag hulle nie

soos strooi rond nie.

En die stormwind doen niks

aan hulle nie.

19 ‘Ja,’ sê jy, ‘God sal dan

hulle kinders straf!’

Ek meen God behoort

dié wat sondig, te straf,

en nie hulle kinders nie.

Laat húlle self die straf uitdien!

20 Laat hulle self sien

hoe hulle vernietig word.

Laat hulle diep drink

van die woede

van die Almagtige!

21 Na hulle dood

skeel dit hulle min

wat met hulle families gebeur,

wanneer hulle eers dood is.

22 “Maar wie is daar wat vir God

kan onderrig?

Hy is immers die Regter

oor al die belangrike mense.

23 Een mens sterf in die fleur

van sy lewe

in voorspoed

en veiligheid,

24 die prentjie van blakende

gesondheid,

sterk en fris.

25 ’n Ander mens sterf

in uiterste armoede.

Hy het nooit iets goeds

in die lewe beleef nie.

26 Albei word begrawe

in dieselfde grond,

albei word deur wurms

opgevreet.

27 “Kyk, ek weet wat julle dink.

Ek weet van die planne

wat julle teen my smee.

28 Julle wil my vertel

van ryk en bose mense

wie se huise verdwyn het

as gevolg van hulle sondes.

29 Vra vir die mense

wat baie reis.

Hulle sal julle

die waarheid vertel:

30 Bose mense kom nie

in moeilikheid nie.

Hulle word toegelaat

om aan rampe te ontsnap.

31 Niemand wys hulle

openlik tereg nie.

Niemand vergeld hulle

vir hulle wandade nie.

32 Op pad na hulle graf

staan ’n lang erewag.

33 Al wat leef,

kom na hulle begrafnis

om respek te betoon

terwyl hulle rustig lê

onder die grond.

34 “Hoe kan julle my vertroos met

leë woorde?

Al julle redenasies is vals!”

JOB 22

Elifas reageer ’n derde keer

op Job

1 Elifas die Temaniet

het geantwoord:

2 “Kan ’n mens se dade

enige voordeel inhou

vir God?

Kan selfs ’n baie wyse mens

Hom help?

3 Watter plesier

het die Almagtige daarin

dat jy regverdig is?

Baat Hy daarby as jy volmaak is?

4 “Is dit oor jou eerbied vir Hom

dat Hy jou aankla

en veroordeel?

5 Hoegenaamd nie!

Dis oor jou boosheid!

Jou skuld ken geen perke nie!

6 Dalk het jy

geld aan jou vriend geleen,

en sy klere gehou as borg.

Hy moes rondloop sonder klere.

7 Miskien wou jy nie water gee

vir die dorstige,

en kos vir die hongerige nie.

8 Jy, ’n ryk man,

het grond besit.

Mense het jou geëer.

9 Tog het jy weduwees

sonder hulp weggestuur.

Of jy het weeskinders

dakloos gelaat.

10 Dit is waarom jy omring is

met strikke

en jy ’n skielike ramp vrees.

11 Daarom kan jy nie

in die donker sien nie

en vloedwaters stroom oor jou.

12 God is so groot,

hoër as die hoogste hemel,

verder as die verste ster.

13 Maar jy sê:

‘Dis hoekom God nie kan sien

wat ek doen nie!

Hoe kan Hy oordeel

deur so ’n diep duisternis?

14 Want dik wolke omhul Hom.

Hy kan ons nie sien nie.

Hy loop daar bo in die hemel rond.’

15 Wil jy aanhou loop

op die ou paaie

van goddelose mense?

16 Hulle is weggeruk

in die fleur van hulle lewe,

en die dinge

waarop hulle

hulle lewe gebou het,

het weggespoel.

17 Hulle het mos vir God gesê:

‘Los ons alleen!

Wat kan die Almagtige

aan ons doen?’

18 Want hulle het vergeet

dat Hy vir hulle

huise gegee het

vol goeie dinge.

Ek wil niks te doen hê

met hulle lewenswyse nie.

19 “Die regverdige sal bly wees

om te sien

hoe goddeloses ondergaan.

Die onskuldiges lag

en spot met hulle.

20 Hulle sê:

‘Ons vyande is vernietig!

Alles wat hulle gehad het,

het verbrand!’

21 “Onderwerp jou aan God,

dan sal jy vrede hê

en sal alles met jou

goed gaan.

22 Luister na sy voorskrifte

en bêre hulle in jou hart.

23 As jy terugkeer

na die Almagtige

en jou lewe skoonmaak,

sal jy herstel word.

24 Los jou sug na geld,

en gooi jou kosbare skatte

in die rivier.

25 Dan sal die Almagtige self

jou rykdom wees.

Hy sal vir jou wees

soos kosbare silwer.

26 Dan sal jy bly wees

oor die Almagtige

en sal jy opkyk na God.

27 Jy sal tot Hom bid,

en Hy sal jou hoor.

Jy sal doen

wat jy Hom belowe het.

28 Wat jy besluit om te doen,

sal gebeur.

Dit sal lig wees

op die pad voor jou.

29 As iemand val

en jy vra

dat God hulle optel,

sal Hy hulle red.

30 Hy sal selfs sondaars red,

hulle sal verlos word

omdat jy onskuldig is.”

JOB 23

Job praat ’n agtste keer in

antwoord op Elifas

1 Job het weer gepraat:

2 “Ek kla vandag nog steeds bitterlik.

Ek probeer om

nie hard te kreun nie.

3 As ek maar net geweet het

waar om God te vind,

sou ek na sy troon gaan.

4 Ek sou my saak voor Hom stel,

en my argumente

voor Hom noem.

5 Ek sal luister na sy antwoord

en begryp wat Hy vir my sê.

6 Sou Hy in sy groot krag

met my redeneer?

Nee, Hy sal sekerlik

na my luister.

7 Opregte mense

kan by Hom pleit

en ek sal vir altyd deur my Regter

vrygespreek word.

8 “Maar soek ek in die ooste,

kry ek Hom nie.

In die weste

kan ek Hom ook nie vind nie.

9 Ek sien Hom nie

in die noorde nie,

want Hy is onsigbaar.

In die suide soek ek Hom,

maar ek vind Hom nie.

10 Maar Hy weet

waarheen ek gaan!

Wanneer Hy my toets,

sal ek na vore tree suiwer

soos goud uit ’n vuur.

11 Want ek het op sy paaie gebly

en Hom gevolg

sonder om weg te draai.

12 Ek het alles gedoen

wat Hy my beveel het.

Wat Hy sê,

het ek in my hart bewaar.

13 En tog bly sy gedagte oor my

onveranderd.

Wie kan Hom teenstaan?

Hy doen wat Hy wil.

14 Hy doen met my

wat Hy beplan het.

Hy bepaal my bestemming.

15 G’n wonder ek is so verskrik

voor Hom nie!

As ek daaraan dink,

is ek bevrees vir Hom.

16 God het my moed gebreek.

Die Almagtige

het my verskrik.

17 Donkerheid is rondom my.

Tog bly ek nie stil nie

al het die duisternis my oorval.”

JOB 24

1 “Waarom het die Almagtige

nie ’n dag van afrekening

vir die kwaaddoener nie?

Waarom wag die regverdige

tevergeefs op Hom?

2 Bose mense steel grond

deur grenslyne te verskuif.

Hulle steel skape

en laat hulle wei op hulle eie weiveld.

3 Hulle vat selfs donkies

van die weeskind.

Hulle vat die weduwee se bees

as borg.

4 Hulle druk die armes

uit die pad.

Die behoeftiges in die land

moet vir hulle wegkruip.

5 Die armes

moet soos wildedonkies

in die woestyn

sukkel om liggaam en siel

aan mekaar te hou.

Hulle soek kos in die woestyn

vir hulle en hulle kinders.

6 Hulle versamel veevoer

op ’n ander se landerye

en oes oorskiettrossies

in die wingerde

van die kwaaddoener.

7 Snags lê hulle sonder klere

in die koue,

sonder iets om hulle toe te maak.

8 Hulle is deurweek deur reën uit die

berge

en bondel almal saam

teen die rotse vir skuiling.

9 Weeskinders word weggeruk

van die bors

waaraan hulle drink.

Die baba van die arme

word as borg vir skuld geneem.

10 Armes loop kaal,

sonder klere.

Hulle dra kos aan vir ander,

terwyl hulle self honger ly.

11 Hulle pars olyfolie,

sonder om self

daarvan te proe,

hulle trap die wynpers,

terwyl hulle self dors is.

12 “Die gekerm van sterwendes

klink op uit die stad,

en die gewondes roep om hulp,

maar God steur Hom nie

aan die skreiende onreg nie.

13 “Kwaaddoeners kom in opstand

teen die lig.

Hulle wil niks te doen hê

met wat in die lig

gebeur nie.

Hulle loop nie op sy pad nie.

14 Moordenaars staan op

voor dagbreek

om die arme en behoeftige

dood te maak.

In die nag is hy ’n dief.

15 Die egbreker wag

tot dit skemer is,

want hy sê:

‘Niemand sal my nou sien nie.’

Hy dra ’n masker

sodat niemand hom herken nie.

16 In die nag breek hulle in

by huise;

in die dag slaap hulle.

Hulle wil niks weet

van die lig nie.

17 Vir hulle is die donker

soos die oggend.

Hulle is bondgenote

met die verskrikking

van die duisternis.

18 “Maar hulle sal van die aarde

verdwyn,

so vinnig soos skuim

wat deur ’n rivier

weggevoer word.

Alles wat hulle besit,

is vervloek

sodat niemand meer

in hulle wingerde kom nie.

19 Soos droogte en hitte

sneeu laat smelt,

so word sondaars

deur die dood verteer.

20 Selfs hulle ma’s vergeet van hulle.

Hulle is kos vir die wurms.

Niemand wil hulle onthou nie.

Bose mense breek in stukke

soos ’n boom in ’n storm.

21 Hulle het die kinderlose vrou

uitgebuit.

Hulle weier

om weduwees te help.

22 God sleep die sterkes weg

deur sy mag.

Al is hulle gevestig,

hulle het geen sekerheid

in die lewe nie.

23 God laat hulle miskien veilig woon,

maar Hy hou hulle altyd goed dop.

24 Al word hulle vir ’n tydjie

baie belangrik,

hulle sal almal vergaan.

Soos al die ander mense

word hulle bymekaargemaak en

soos koring afgesny.

25 “Is dit nie so nie?

Wie kan my verkeerd bewys

en my woorde ignoreer?”

JOB 25

Bildad antwoord Job ’n derde

keer

1 Bildad die Suagiet

het Job geantwoord:

2 “God is magtig

en ontsagwekkend.

Hy vestig vrede in die hemele.

3 Wie kan sy hemelse leër tel?

Verlig Hy nie die aarde nie?

4 Hoe kan ’n sterfling

voor God kom

en eis dat hy regverdig is?

Wie op aarde is rein?

5 God is so heerlik

dat selfs die maan en sterre

nie met Hom

vergelyk kan word nie.

6 Hoeveel minder

is gewone mense

wat maar soos wurms en brommers

voor Hom is?”

JOB 26

Job praat ’n negende keer in

antwoord op Bildad

1 Job het weer gepraat:

2 “Hoe het julle nou

die swakke gehelp?

Hoe het julle

die kragtelose gered?

3 Hoe het julle my onnoselheid

verlig!

Hoeveel wyshede het julle

kwytgeraak!

4 Vir wie het julle

al hierdie dinge gesê?

Wie se gees praat deur julle?

5 Die dooies bewe,

hulle wat onder die water woon.

6 God weet wat daar

in die onderwêreld gebeur.

Hy kyk tot in die plek

van verwoesting.

7 God strek die noordelike

lugruim

oor leë ruimtes

en hang die aarde op

aan niks.

8 Hy rol die reën op

in dik wolke,

maar as hulle swaar is,

skeur hulle nie.

9 Hy bedek die gesig

van die volmaan

en sprei wolke daaroor.

10 Hy het die horison geskep

deur die waters te skei.

Hy stel grense

vir die dag en die nag.

11 Die fondamente

van die hemel bewe,

hulle is verstom as Hy hulle bestraf.

12 Sy krag kalmeer die see.

Hy verslaan die seemonster.

13 Sy wind waai die lug skoon

en Hy vernietig

die vlugtende slang.

14 Dit is maar die kleinste

van sy werke,

’n fluistering van sy krag

wat ons hoor!

Wie kan dan die grootheid

van sy mag begryp?”

JOB 27

Job: Ek is onskuldig

1 Job het die gesprek voortgesit:

2 “So seker as wat God leef,

Hy wat my regte

van my weggeneem het,

die Almagtige

wat my verbitter het,

3 solank ek leef,

solank God my laat asemhaal,

4 sal ek niks verkeerds sê nie.

Ek sal nie leuens

vertel nie.

5 Daarom kan ek nooit erken

dat julle reg is nie.

Tot ek sterf,

sal ek my onskuld verdedig.

6 Ek hou vol dat ek onskuldig is.

My gewete is skoon

solank ek leef.

7 “Mag my vyande gestraf word

soos die kwaaddoeners,

my teenstander

soos bose mense.

8 Want watter hoop

het die goddelose mens

wanneer God hom afsny

en sy lewe wegneem?

9 Sal God luister na hom

wanneer ’n ramp hom tref?

10 Kan hy hom verlustig

in die Almagtige?

Kan hy enige tyd na God roep?

11 “Laat ek julle iets vertel

oor God se mag.

Ek sal niks verswyg

oor die Almagtige nie.

12 Maar dis ook nie nodig nie,

want julle het alles self gesien.

Tog hou julle aan

om hierdie nuttelose goed

vir my te sê.

13 “Dit is wat die kwaaddoeners

van God gaan ontvang,

dit is hulle erfdeel

van die Almagtige.

14 Al hulle baie kinders

sal sterf in die oorlog

of doodgaan van honger.

15 Dié wat oorleef,

sal deur die pes

na hulle graf toe gaan.

Niemand sal oor hulle treur nie,

nie eens hulle vroue nie.

16 Bose mense

besit dalk al die geld

in die wêreld

en kan berge van klere opgaar,

17 maar die regverdige

sal die klere dra,

en die onskuldiges

sal die geld

tussen hulle verdeel.

18 Die huise van bose mense

is broos soos ’n spinnerak,

so wankelrig

soos ’n skuiling van takke.

19 Die kwaaddoener gaan slaap

in rykdom,

maar sal dit nie behou nie.

Hy ontwaak in armoede.

20 Angs oorweldig hulle

soos ’n vloed

en die storm waai hulle weg

in die nag.

21 Die oostewind

waai hulle ver weg,

en hulle is nie meer nie.

22 Sonder genade

kom die wind op hulle af.

Hulle probeer wegkom

van die storm se geweld.

23 Almal is bly

oor hulle ondergang

en spot met hulle.”

JOB 28

Mense weet so baie

1 “Mense weet

hoe om silwer te myn

en goud te suiwer.

2 Hulle weet hoe om yster

uit die grond te haal

en koper te smelt uit klip.

3 Hulle weet hoe om lig te maak

in die donker

en verken

die verste, donkerste dele

van die aarde

op soek na erts.

4 Hulle sink ’n mynskag

diep in die aarde,

ver van waar mense woon.

Dan swaai hulle heen en weer

aan toue.

5 Die aarde waaruit brood voortkom,

word diep onder oopgebreek

met vuur.

6 Mense kan saffiere uit die rots

en goudstof

uit die stof haal.

7 Dit is skatte wat geen roofvoël

kan sien nie,

en geen arendsoog

kan bespeur nie.

8 In diep myne het

geen wilde dier nog gekom,

geen leeu

het daar geloop nie.

9 Mense weet

hoe om rotse te breek

en die wortels van berge

om te keer.

10 Hulle maak tonnels

in die rotse

en kry daar kosbare skatte.

11 Hulle dam strome op

en bring verborge skatte

na die lig.

12 “Maar weet mense

waar om wysheid te vind?

Waar sal hulle soek vir begrip?

13 Niemand weet

waar om dit te vind nie.

Nêrens tussen die lewendes

is dit te vind nie.

14 ‘Dis nie hier nie,’

sê die oseaan.

‘Dis ook nie by my nie!’

sê die see.

15 Jy kan dit nie

met goud koop nie,

jy kan nie silwer

daarvoor afweeg nie.

16 Die waarde daarvan

is meer

as al die goud van Ofir,

en groter as die kosbare stene

van oniks of saffiere.

17 Wysheid is meer kosbaar

as goud en kristal.

Jy kan dit nie koop

met goud-gemonteerde

juwele nie.

18 Koraal en kosbare kristal

kan dit nie betaal nie.

Wysheid het meer waarde

as pêrels.

19 Topaas uit Etiopië*

kan nie daarvoor

ingeruil word nie,

want die waarde daarvan

is meer

as die suiwerste goud.

20 Maar weet mense

waar om wysheid te vind?

Waar kan hulle insig kry?

21 Dit is weggesteek.

Geen lewende wese

kan dit sien nie.

Selfs die voëls in die lug

kan dit nie bespeur nie.

22 Maar Verwoesting en Dood sê:

‘Ons het ’n gerug gehoor

waar jy wysheid kan kry.’

23 God ken die weg daarheen,

Hy alleen weet

waar dit te vind is,

24 want Hy kyk oor die hele aarde

en sien alles

onder die ganse hemel.

25 Hy laat die winde waai

en Hy bepaal hoeveel reën

moet val.

26 Hy maak die wette

van die reën,

en berei ’n pad vir die weerlig.

27 Nadat Hy dit alles gedoen het,

het Hy wysheid gesien

en dit afgemeet.

Hy het dit gevestig

en deeglik getoets.

28 Dit is wat Hy

vir die mensdom sê:

‘Om die Here te dien

is ware wysheid.

Om die kwaad te vermy

is ware insig.’”

JOB 29

Job: Ek verlang na wat verby is

1 Job het die gesprek voortgesit:

2 “Ek verlang na die ou jare,

na die tyd toe God

vir my gesorg het,

3 toe Hy die pad

voor my oë verlig het

sodat ek veilig

in die donkerte kon loop.

4 In my vroegste jare

was God ’n vriend

in my huis.

5 Die Almagtige was nog by my

en my kinders was om my.

6 In daardie dae het my koeie

oorvloedig melk gegee

en daar het strome olie

uit my olyfboorde gevloei.

7 “Ek het na die stadspoort toe

gegaan

om tussen die geëerde leiers

te gaan sit.

8 Jongmense het padgegee

as ek aankom.

Selfs bejaardes het opgestaan

uit respek vir my.

9 Die leiers het stilgebly

en in stilte bly staan

met die hand op die mond.

10 Die belangrikste amptenare

van die stad

het eenkant stil gestaan

en uit respek vir my

stilgebly.

11 Almal wat van my gehoor het,

het my geprys.

Dié wat my gesien het,

het goed

van my gepraat.

12 Want ek het die armes gehelp

in hulle nood,

en die weeskind

wat niemand gehad het

om hom te help nie.

13 Ek het mense gehelp

wat alle hoop verloor het,

en hulle het my geseën.

Ek het ’n lied gebring

in die harte van weduwees.

14 Wat ek ook al gedoen het,

was regverdig en opreg.

Regverdigheid was oor my

soos ’n kleed

en reg het my hoof bedek.

15 Ek was soos oë vir die blindes

en voete vir dié

wat verlam is.

16 Ek was ’n vader vir die armes

en het gesorg

dat die vreemdeling

regverdig verhoor word.

17 Ek het die greep

van wettelose verdrukkers

verbreek

en hulle gevangenes

uit hulle mag vrygestel.

18 “Ek het gedink:

‘Ek sal tog sekerlik sterf,

deur my familie omring,

na ’n lang en goeie lewe.

19 Want ek is soos ’n boom

wat by waters staan,

en wat elke môre

met dou verfris word.

20 Ek ontvang gedurig

eerbewyse,

en my krag word elke dag

vernuwe.’

21 “Elkeen luister na my

en waardeer my raad.

Hulle wag in stilte vir my

om te praat.

22 Wanneer ek gepraat het,

kon hulle niks byvoeg nie,

want hulle was tevrede

met my raad.

23 Hulle het gewag vir my

om te praat,

soos ’n mens wag op reën.

My woorde was vir hulle

soos ’n fris lentereën.

24 Wanneer hulle moedeloos

was,

het ek hulle met ’n glimlag

bemoedig.

Wanneer ek met goedkeuring

na hulle kyk,

was dit vir hulle kosbaar.

25 Ek was soos hulle leier

wat hulle op die regte pad lei.

Ek was soos ’n koning

tussen sy manskappe,

en soos iemand wat die treurendes

vertroos.”

JOB 30

Job: Ek ervaar net ellende

1 “Maar nou word ek bespot

deur jong manne

wie se pa’s te sleg was

om saam met honde

my skape op te pas.

2 Hulle was in elk geval

vir my niks werd nie –

’n klomp nuttelose skurke!

3 Uitgeteer van honger

dwaal hulle verlate

in die woestyn en die wildernis.

4 Hulle maak blare bymekaar

by die bosse

en eet die wortels van besembosse.

5 Hulle is weggejaag

uit die samelewing.

Mense skree op hulle

soos op diewe.

6 Daarom leef hulle nou

in skrikwekkende klowe,

in rotsskeure en grotte.

7 Hulle klink soos diere

waar hulle

tussen die wilde struike lewe

en saam skuiling soek

tussen die bossies.

8 Hulle is naamlose dwase,

uitgeworpenes van die samelewing.

9 “Dit is nou hulle

wat my spot

met hulle walglike liedjies!

Hulle tart my!

10 Hulle kyk op my neer.

Hulle kom nie naby my nie,

behalwe om in my gesig te spoeg.

11 God het my platgeslaan.

Hy het my verneder.

En nou doen mense dieselfde

met my.

12 Die spul val my aan.

Hulle loop my voete

onder my uit.

Hulle lê strikke in my pad.

13 Hulle versper my pad

en doen alles

om my ellende te vererger

terwyl hulle weet

dat ek niemand het

om my te help nie.

14 Hulle storm uit alle rigtings

op my af,

waar ek geval het, storm hulle oor my.

15 Ek lewe in angs

en het geen selfrespek oor nie.

My hoop dat ek gered kan word,

het soos mis voor die son

verdwyn.

16 “Dit voel of die lewe

uit my loop.

Hartseer oorweldig my elke dag.

17 In die nag hou die pyn

my wakker

soos dit vreet aan my bene.

18 God het my met geweld

aan my klere gegryp.

Hy gryp my aan my jas se kraag.

19 Hy gooi my in die modder.

Ek het soos stof en as

geword.

20 “Ek roep na U, o God,

maar U antwoord nie.

Ek staan voor U,

maar U sien my

nie raak nie.

21 U was genadeloos teenoor my.

U vervolg my

met u groot krag.

22 U tel my op

en laat die wind

my wegwaai.

U gooi my rond in die storm.

23 Ek weet U stuur my

na die dood,

die bestemming

van alles wat leef.

24 “Sekerlik sal niemand

die hand lê

op ’n stukkende mens

wat in sy ellende

om hulp roep nie!

25 Het ek nie gehuil

oor mense

wat swaarkry nie?

Was ek nie hartseer

oor arm mense

se lyding nie?

26 Daarom het ek medelye

verwag.

Maar in plaas van goed,

het kwaad my getref.

Ek het gewag vir die lig,

maar dit het donker gebly.

27 Ek is ontsteld en rusteloos.

My lewe bestaan

uit swaarkry.

28 Ek leef in somberheid

waar die son nie meer

vir my skyn nie.

Ek staan op die plein

en roep om hulp.

29 Die jakkalse is my broers

en ek lewe saam met

volstruise.

30 My vel het swart geword,

ek brand van die koors.

31 My harp speel ’n treurlied.

My fluit begelei mense

wat huil.”